28 MAART 2004

VYFDE SONDAG IN LYDENSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Lydenstyd gebruik te word

Fokusteks: Filippense 3:4-14

Ander tekste: Jesaja 43:16-21; Psalm 126; Johannes 12:1-8

Inleiding

Die liturgie vir hierdie erediens word gerig deur die imperatief van die fokusteks: Wees bly! Dit moet tuis kom in 地 milieu waar mense hulle blydskap (indien enige) soek in dinge soos besittings, geld (let op Judas Iskariot in Joh. 12), status, ensovoorts en dan telkens ontdek dat hulle net met 地 klomp hartseer en onvrede sit. Soos 地 goue draad loop dit deur die tekste vir hierdie Sondag dat God ons dors les, dat Hy naby ons is, dat Hy groot dinge aan ons doen en daarom lag en sing ons en is ons bly. Om nou met behulp van die liturgie hierdie blydskap in te dra in 地 gemeente wat tam en teleurgesteld is en dikwels so min van die lewe en van God verwag, sal ons uitdaging wees. Hierdie Sondag staan bekend as Judica. (Sien basisliturgie vir Sondae in Lydenstyd.)

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 160 "Inkoms en uitgang"

Aanvangswoord

Ons harte loop oor van blydskap omdat ons aan die Here behoort. Dis vir ons soos 地 droom wat waar geword het. Ons wil nie oor dinge sit en tob en ons bekommer nie. Ons wil met U daaroor praat, want Here, U weet die beste. Amen ( "Die Boodskap" n.a.v. Fil. 4 en Ps. 126).

Seëngroet

Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Die Wet

Levitikus 19:1-4; 9-18; 32-37

Lied van skuldbelydenis en verootmoediging

Lied 232:1 en 2 "Diep, o God, diep neergeboë"/NSG 60

Vryspraak

Dat die Here vir ons sonde gesterf het, is vir ons soos 地 droom wat waar geword het. Daarom kan ons lag en sing, want Hy het groot dinge aan ons gedoen. Laat ons ons geloof in Hom bely (n.a.v. Ps. 126).

Geloofsbelydenis

Voorganger lees: Die Geloofsbelydenis van Nicéa.

Lofprysing en aanbidding

Lied 167:1 en 2 "Jesus, bron van al my vreugde"

Lied 202:1-3 "Prys Hom, die Hemelvors"

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Vader in die hemel, U kan ons bly maak. By U is die vermoë om in ons lewens dieselfde te doen as wat water in die droë woestyn doen. Dit bring lewe en blydskap. Maak ons ontvanklik vir die Woord wat U vir ons wil gee en skep in ons daardeur 地 lewensvrede en volheid. Amen.

Skriflesing en Woordbediening

Jesaja 43; Psalm 126; Filippense 3; Johannes 12

Lees gerus al die tekste.

 

Dankgebed en voorbidding

Gaan voor in vrye gebed. Dink vooraf oor die dinge wat lidmate in jou gemeente keer om die vrede waarvan Filippense 4 praat, te beleef en bid pertinent in jou voorbidding daarvoor dat die Here dit sal verwyder.

DIENS VAN DIE TAFEL

Gebruik die voorstelle in die basisliturgie vir Sondae in Lydenstyd.

UITSENDING

Offergawes

Antwoordlied

Psalm 126:1 en 2 "Verander tog, o Heer, ons lot"

Seën

Julle is die volk wat die Here vir Hom geskep het, julle wat sy lof sal verkondig (Jesaja 43:21).

Slotlied

Lied 314 "Amen"

PREEKSTUDIE FILIPPENSE 3:4-11

Teks en konteks

Dié perikoop word in Woord teen die Lig I/2 deur Smit bespreek. Vir detail-eksegese kan sy studie geraadpleeg word. Enkele sake wat aandag verdien, word hieronder bespreek.

In hierdie treffende paar verse vind ons gedagtes wat ons kan help om misverstande oor die vroegste Christelike lewe en geloof reg te stel. In die eerste plek is dit duidelik dat nie alle gelowiges saamgestem het oor wat dit beteken om 'n Christen te wees en hoe gelowiges behoort te leef nie. Die vroegste gelowiges het, net soos met ons vandag die geval is, geworstel met die vraag oor wat dit vir hulle dag sou beteken om waarlik navolgers van Christus te wees. Dit sê reeds vir ons dat gelowig-wees gepaardgaan met stryd en worsteling, die antwoorde is nie altyd voor die hand liggend nie. Dit vra 'n leergierige en ondersoekende ingesteldheid.

Uit dié gedeelte is dit verder duidelik dat Paulus, asook van die ander gelowiges in die geloofsgemeenskap, skerp verskille gehad het oor wat dit beteken om in Christus te glo. Dit lyk asof Paulus se opponente hul argumente probeer wen het deur die klem op hul Joodse wortels te laat val, en dit as gesagsbron vir hul argumente aan te voer. In reaksie hierop sit Paulus sy eie kwalifikasies op die tafel. In dié verband is dit belangrik om raak te sien dat Paulus nie met misnoeë na sy vroeëre "prestasies" verwys nie; sy eie lewe as Jood. Hy verwys selfs daarna as "bates". Maar sedert sy radikale bekering het dinge verander. Dit wat vir hom vroeër bates was, is nou waardeloos as gevolg van die ingrype van Jesus in sy lewe.

Ons sou kon sê die verblindende lig van sy ontmoeting met Christus (Hand. 9:3-5) het op 'n paradoksale manier sy oë geopen om alles in 'n nuwe lig, asook vanuit 'n nuwe perspektief te sien. Die gevolg was dat hy besef het, dat om Christus as Here te ken, die een ding in die lewe was wat ewigheidswaarde het. Daar is gewoon niks anders in die lewe wat hiermee vergelyk kan word nie. En die werklike verlies van dié dinge wat vroeër alles vir hom van waarde was, het op geen manier sy denke daaroor verander nie.

Paulus praat dus hier as 't ware vanuit 'n retrospektiewe uitkyk op die Christelike geloof. In Christus, deur Christus en as gevolg van Christus, het Paulus se hele uitkyk op die lewe asook sy waardesisteem, radikaal verander. Paulus begryp nou dat geregtigheid deel is van God se werk. Dit kom ook na die mens as gawe uit God se hand. Geregtigheid is dus nie 'n status van die mens wat deur die mens in verhouding tot God onderhou word nie. Nee, God skenk geregtigheid. Die mens besit dit van begin tot einde, as 'n genadegawe. Paulus se opponente sluk nie lekker aan die gedagte nie. Dit is moontlik die rede waarom hulle melding maak van die Joodse praktyke. Hulle kan eenvoudig nie glo dat hulle nie op een of ander manier hulle menslike gewig by God se werk van verlossing moet ingooi nie.

Paulus, daarenteen, praat vanuit die nuwe Christelike perspektief, vanuit die hoop wat gedra word deur geloof. Op grond van sy bestaan in Christus en sy kennis van Christus is Paulus nie alleen in staat om sy lyding ter wille van Christus te verdra nie, maar vind hy selfs sy lyding sinvol. Meer as dit. In Christus kyk hy ook verder as die teenswoordige na die toekomstige glorie wat hy op grond van die Christus se opstanding antisipeer. Hy is egter bang vir misverstand en verklaar daarom dat hy dit nie alles al het, of die doel al bereik het nie, maar dat hy homself inspan om dit alles syne te maak, omdat Christus hom reeds syne gemaak het.

Indien ons Paulus hier reg hoor, dan moet ons begryp dat die oproep om Christus te volg nie 'n oproep tot "gemaksug" is nie. Ons word eerder geroep tot 'n bepaalde soort "onsrustigheid", 'n oproep om voort te gaan op die geloofspad. Paulus is redelik oortuig van sy hoorders se vermoë om dit te begryp en verwag dit ook van elkeen wat aanspraak maak op geestelike volwassenheid (15).

Preekvoorstel

Wat soek jy in die lewe? Wat is vir jou belangrik, bo alle ander dinge? Wat geniet die hoogste prioriteit in jou lewe? Anders gestel: Waaraan meet jy die sin en geluk in jou lewe? Wat gee vir jou ware blydskap?

Ek is seker daarvan dat die antwoorde op hierdie vrae ons 'n hele ruk kan besig hou, en dat jy dalk meer tyd nodig het om daaroor na te dink. Daar is egter 'n pragtige verhaaltjie wat ons kan help in ons nadenke. Dit is 'n Duitse kortverhaal met die titel: "Der reichste Mann des Dorfes", in Afrikaans vertaal: "die rykste man in die dorp". Dit gaan oor 'n besondere ryk en selfgenoegsame man, verreweg die rykste man in die dorp. Een oggend ry hy deur die woud wat naby die dorp was en skielik hoor hy `n geluid. Toe hy fyner luister, blyk dit dat dit 'n ou en baie arm man van die dorpie was, besig met 'n eenvoudige gebed. Hy was besig om vir God te dank vir 'n stuk brood en 'n beker water. Dit was vir die ryk man so vreemd, dat dit hom onrustig gestem het. Met al sy skatte het dit nooit by hom opgekom om God te dank nie. Nadat hy weggery het, wou die beeld van die ou man hom nie los nie.

Intussen het 'n storm opgesteek, die lug verdonker en die woud verkoel. 'n Neerdrukkende gevoel, soos van naderende onheil, het oor die ryk man gekom. Skielik was dit asof hy 'n stem gehoor het wat vir hom sê: "Vannag gaan die rykste man in die dorp sterf." Verskrik en ontsteld het hy huis toe gejaag en die dokter ontbied. Dit was vir hom 'n nag van doodsangs en ellende. Met die eerste strale van die oggendson in sy kamer, het hy weer kleur in sy gesig gekry en meer gerus begin voel. In die dorp hoor hy toe later die dag, dat die dood wel die nag toegeslaan het. Die ou man wat hy die vorige dag sien bid het, het die nag gesterf.

By sy terugkeer vanuit die dorp, het sy vrou hom laggend gespot en gesê dat die geheimsinnige stem slegs sy verbeelding was. Die nag was immers lank reeds verby en hy leef nog. "Sekerlik", het hy vir haar gesê, "maar die stem was tog reg. Vannag het die rykste man in die dorp wel gesterwe." "Hoe kan dit tog wees?" het sy vrou gevra. "Wie is hier wat ryker is as ons?" Daarop het hy haar geantwoord: "Dié man wat vir God kan sê: `Buiten U begeer ek niks in die hemel en op die aarde nie Hy was die rykste man in ons dorp."

In `n sin is dit ook wat Paulus vanuit die gevangenis vir die gemeente in Filippi probeer sê. In vers 7 sê hy: "om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde." En dan herhaal hy dit (10), waar hy skryf: "Al wat ek wens, is om Christus te ken " Dit is duidelik dat daar in Paulus se lewe 'n omkering gekom het, 'n herwaardering van alle waardes plaasgevind. Soos die ryk man in die verhaal, het dit op `n dag tot hom deurgedring wie in God se oë ryk is. Daarom skryf hy met soveel oortuiging. Wat vroeër vir my belangrik was, dra nou geen gewig meer nie. Wat vroeër getel het, ag ek nie meer nie. Wat tevore my roem was, beskou ek nou as skadelik. Wat vroeër vir my sin gegee het, het nou in onsin verander. En die rede daarvoor is glashelder. Dit is Christus wat die verskil gemaak het. Omdat Christus 'n nuwe sin, 'n nuwe waardestelsel, 'n nuwe koers in my lewe gebring het, vervaag alles wat voorheen geglinster het, skryf Paulus. En dan vertel hy vir hulle wat hy bedoel.

Hy sê vir hulle, as die Jode dink dat hulle op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog veel meer. Hy vertel hulle dat hy nie alleen 'n vroom Jood was nie, maar ook 'n hooggeleerde en goed opgeleide teoloog met 'n skitterende loopbaan voor hom: "Bes moontlik sou ek ook 'n geëerde leermeester kon word en deel van die Hoë Raad, in elk geval 'n gerespekteerde volksfiguur en leier van my mense. Ek het immers vir myself naam gemaak as getroue Fariseër. Ek het selfs erkenning gekry vir die feit dat ek die Christene met ywer vervolg het," hoor ons vir Paulus sê. Nog meer as dit, skryf hy aan die gemeente: "ek was in die onderhouding van die wet onberispelik. Volgens menslike, uiterlike standaarde, was ek beslis iemand, iemand met wie gereken moes word." Maar, sê Paulus: "in die lig van Christus word dit eintlik duidelik wie en wat ek was. Ek was drek, ek was 'n niksnuts, ek was waardeloos. Met die lig van Christus op my lewe, was ek iets wat mense normaalweg wegwerp, iets waarvan hulle omdraai en wegstap om nooit weer terug te keer nie."

Na sy ervaring met Christus erken Paulus dat sy roemryke loopbaan drek was, dat alles wat voorheen sy lewe gevul het, skadelik was en hom juis van die ware sin en vreugde van sy bestaan weerhou het. Sy blikrigting was vals, sy waardeskaal onderstebo. Maar in Christus, in daardie ontmoeting op die Damaskuspad, het God hom 'n nuwe naam gegee en daarmee saam 'n nuwe lewe. In 'n baie persoonlike en intense beskrywing gaan Paulus voort om te vertel van hierdie nuutgevonde sin in sy lewe. Hy sê dat alles voortaan vir hom ondergeskik staan aan die een hartstog, naamlik om Christus beter te leer ken. Behalwe om Christus te ken, is niks meer regtig belangrik nie. Daaraan word alles ondergeskik gestel, ja meer nog; as verwerplik beskou.

Die "kennis van Christus" is die nuwe sin en doel van sy lewe. Dit is waarom dit gaan. En die diepste grond vir hierdie omkering in sy lewe was die ervaring wat hy gehad het dat dit nie in sy hande was nie, dat hy dit nie self bewerk het of verwerf het nie, maar dat dit Christus se groot genade was wat op die pad na Damaskus ingegryp het. Soos die ryk man in die verhaal, het hy ontdek wat ware rykdom was. En daarom bestaan die sin van sy lewe van nou af in die soeke om Christus nog beter te leer ken.

Wat beteken hierdie uitdrukking vir Paulus? Twee dinge: Om in die eerste plek die krag van sy opstanding te ken, wat beteken dat dit nie bestaan uit 'n klomp kop-kennis nie. Dit is nie intellektuele insig of teoretiese kennis nie. Dit is die lewende ervaring van 'n ontmoeting met die lewende God. Maar om Christus te ken, beteken in die tweede plek vir hom ook om kennis van Christus se lyding te dra. Paulus druk dit só uit: Dit is om deel te hê aan sy lyding, soveel so dat dit beteken om aan Hom gelyk te word in sy dood. Presies dit wat Christus vir sy dissipels geleer het, dat wie Hom wil volg, bereid moet wees om sy kruis op te neem, sy lewe as 稚 ware te verloor, en die lydensweg te stap. Om soos die arm man in die verhaal jou totale afhanklikheid van God te besef vir die allernoodsaaklike brood en water vir elke dag.

Daarna verduidelik Paulus hoedat hierdie groeiproses in die kennis van Christus eintlik werk. Hy wys daarop dat hy dit self nog nie alles verwesentlik het nie. Met ander woorde, sê hy vir die gemeente in Filippi, om Christus te ken, is nie 'n eenmalige en afgehandelde saak nie. Dit is 'n pad waarop 'n mens geplaas word, wel nie 'n pad waarop 'n mens jouself kan plaas nie, maar waarop God jou plaas. 'n Pad waarop daar voortdurend gesoek word na nog groter betrokkenheid by Christus. `n Pad waar daar in afwagting daagliks gesoek word na die manier waarop God jou vandag gaan lei. Hierna verduidelik Paulus dit in sy persoonlike lewe soos volg: "Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus."

Is dit ook jou behoefte? Is dit ook jou hoogste prioriteit in die lewe? Dan kan die onderskeiding wat die groot Deense teoloog Kierkegaard gemaak het, ons help. Hy onderskei tussen bewonderaars, leerlinge en dissipels van Jesus. Bewonderaars dink baie van Hom en sy leer, stem op punte saam met Hom, haal Hom graag aan en beskou Hom as 'n besondere mens. Leerlinge staan veel nader aan Hom. Hulle wil van Hom leer. Hulle neem in wat Hy gesê het, bestudeer dit, bespreek dit en kan dit later selfs op hulle beurt vir ander leer. Dissipels egter, is nie net verbonde aan sy leer nie, maar aan Homself. Hulle lot is by sy lot ingewerp. Hulle lewens, en daarom hulle sterwe, is in sy hande. Wat met Hom gebeur, kan ook oor hulle kom. Hulle volg Hom na. Hulle ken Hom, in Bybelse sin.

Maar wat beteken dit nou vir jou en vir my om in die praktiese alledaagse lewe saam met Paulus uit te roep?: "Al wat ek wens, is om Christus te ken al wat ek wil wees, is 'n dissipel van Jesus." Ek dink Paulus help ons juis hiermee. Hy help ons om die omgekeerde waardes van die evangelie te verstaan. Die paradokse, die teenstellings, die ambivalensie. Dat dit wat oënskynlik waardevol is, die uiterlike dinge, drek kan wees. Dat dit nie my volksverband, of my taal, of my status, of my besittings, of my opvoeding is wat belangrik is wanneer ek Christus wil ken nie, maar of ek iets verstaan van die gekruisigde Christus. En laat ons nou maar baie eerlik met mekaar wees, ons gaan nie verder hiermee vorder voordat ons besef, dat die waardes van die lydende Messias, van die gekruisigde Christus, dikwels lynreg sal bots met die waardes van die samelewing waarin ons grootgeword het nie.

Wat is hierdie waardes waarin ons samelewing glo? Die samelewing sê: Jy moet onafhanklik wees, dan het jy dit gemaak in die lewe. Die gekruisigde Christus sê: Jy moet swak en afhanklik wees, sodat jy My kan verstaan. Die samelewing sê: Jy moet suksesvol wees, dan gaan die mense jou eer. Christus sê: Dit is in jou lyding wat die lewe van Jesus sigbaar word. Die samelewing sê: Jy moet soos die ryk man in die verhaal wees, vol vertroue op die self en die uiterlike. Christus wil hê dat ons soos die arm man in die verhaal moet wees, afhanklik en vol vertroue op die lewende God.

Sien jy wat is ons probleem? Die waardes van die samelewing pas ons soos 'n handskoen. Met daardie handskoene wil ons die waardes van die evangelie van Christus vang, soos 'n mens met jou kaal hande 'n vis in die water probeer vang. Jy gryp, en gryp, en gryp ..., maar jou hande bly leeg. Jy vat niks raak nie. Die vis ontglip jou elke keer. Dit is nie vir ons maklik om hierdie waardes te begryp nie. Paulus self erken dit wanneer hy skryf: "Ek sê nie ek het dit alles nie of dat ek al my doel bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak, omdat Christus Jesus my reeds syne gemaak het."

Ek moet eerlik wees en sê dit is ook nie vir my maklik om hierdie boodskap te verkondig nie. Ek is so bewus daarvan dat ek ook in my lewe ten diepste deur die wêreldse waardes gevorm is, dat ek ook deur die waardes van onafhanklikheid, van sukses, van materiële sekuriteite, en noem maar op, gejaag word. Nog groter is die gevaar van 'n "prosperity gospel", waar ons Christus wil inspan om in lyn te kom met hierdie waardes wat vir ons so belangrik geword het.

As ons so na die saak kyk, lyk dit amper onmoontlik om hierdie omgekeerde waardesisteem deel van ons lewens te maak. Dit is in dié verband wat Paulus tog vir ons bemoedig met wat hy sê: "om Christus te ken, is ook om die krag van sy opstanding te ken, om te weet dat Hy my reeds Syne gemaak het." Is dit nie wonderlike woorde van bemoediging en troos nie? Dat wanneer ons die kuns aanleer om naby God te leef, om Hom te ken, om aan Jesus te behoort, om jouself weg te gee, om sy dissipel te wees, die krag van Jesus se opstanding daardeur in jou lewe sigbaar raak. Dat ons, in die uitleef van hierdie omgekeerde waardesisteem, juis die lewe van Jesus sigbaar maak.

Maar dalk die grootste troos vind ons in die feit dat die voortdurende aanleer van dié lewenstyl, nie geleë is in jou en my inherente vermoë nie. Om so omgekeerd te leer leef, is by uitstek die werk van God se Gees.

Bibliografie

Hawthorne, G F 1983. Philippians: Word Biblical Commentary; Soards, M et al 1992. Preaching the Revised Common Lectionary. Year A, after Pentecost 2 en Year C, Lent/Easter; Smit, D 1983. Woord teen die Lig I/2.