4 April 2004

SESDE SONDAG IN LYDENSTYD PALMSONDAG feesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Filippense 2:5-11

Ander tekste: Psalm 31:10-17; Jesaja 50:4-9a; Lukas 19:28-44; Lukas 22:4-23: 56

Inleiding

Saam met Paassondag is Palmsondag sekerlik een van die heel belangrikste Sondae in die kerklike jaar: dit is die laaste (en daarom die hoogtepunt) van die ses Lydensondae. Dit is ook die begin van die Groot Lydensweek en in die evangelielesing vir dié Sondag (Luk. 22: 14-23: 56) word die gebeure van die res van die week reeds in vooruitskouing geneem. Op hierdie Sondag word die intog van Jesus in Jerusalem gevier. Omdat dit ook die begin van die Groot Lydensweek is, moet dit egter nie uitsluitlik as n triomfantelike geleentheid gevier word nie. Die intog wat herdenk word, is dié van die Koning wat gekom het om te ly en te sterwe. In die liturgiese voorstel wat hier aangebied word, word daar in die eerste deel van die diens op die intog gefokus, terwyl die prosessie van die gemeente die oorgang bewerkstellig na die tweede deel van die diens waar daar op die lydensverhaal gefokus word.

Die liturgiese kleur vir Palmsondag is dieselfde pers as vir die res van Lydenstyd, of n dieprooi wat dui op die bloed van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. By baie kerke is dit die gebruik om kruisies wat van palmblare gevleg is aan lidmate uit te deel (vind by die plaaslike Anglikaanse of Roomse Kerk uit hoe die kruisies gevleg word). Die palmtakke en palmkruisies kan gehou word en volgende jaar net voor Lydenstyd verbrand word en die as kan dan op Aswoensdag gebruik word om kruistekens op die voorkoppe van gemeentelede te maak. Die binnekant van die kerk moet so min as moontlik versier word: konsentreer op simbole van Christus se lyding, soos die kruis en die doringkroon. Verkieslik geen blomme nie.

In sommige gemeenskappe is dit die gebruik om op Palmsondag n optog met palmtakke deur die strate te hou. Dit kan n goeie geleentheid wees vir ekumeniese samewerking tussen nabygeleë gemeentes van verskillende denominasies.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in n gemeente is, kan n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Indien dit prakties moontlik is, kom die gemeente voor die aanvang van die erediens buite die kerkgebou byeen waar daar palmtakke aan almal of aan n gedeelte van die gemeente (byvoorbeeld die kinders) uitgedeel word. Die voorganger verduidelik kortliks die doel van die dag se feesviering deur byvoorbeeld te sê: "God het ons vandag bymekaar gebring om die begin van Jesus se Groot Lydensweek te gedenk. Ons dink vandag in besonder aan sy intog in Jerusalem toe hy die stad binnegekom het om sy verlossingswerk te voltooi: om te ly, te sterwe en op te staan uit die dood."

Aanvangswoord/Votum

Voorganger: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

Voorganger: Mag die Here met julle wees.

Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Laat ons saam bid:

Here God van ons verlossing,

verleen in genade aan ons u bystand

terwyl ons naderkom om u groot dade te oordink,

die groot dade waarmee U vir ons die ewige lewe bewerk het;

deur u Seun, Jesus Christus, ons Here.

Gemeente: Amen.

Skriflesing

Lukas 19:28-44

Drumpelgebed

Voorganger: Mag die Here met julle wees.

Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Kom ons dank die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Ons loof en dank U, o God,

Vir die groot liefdesdade waarmee U ons verlos het

deur u Seun Jesus Christus, ons Here.

Op hierdie dag het Hy die heilige stad Jerusalem triomfantelik binnegegaan

en is Hy deur die skares as Seun van Dawid en Koning van die konings verwelkom.

Help ons dat ons Hom altyd sal eer as ons Here en Koning

en Hom sal volg met volkome vertroue.

Ons vra dit in sy Naam,

Hy wat saam met U en die Heilige Gees leef en regeer,

en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: Laat ons nou verder gaan.

Gemeente: In die Naam van die Here.

Die gemeente beweeg hierna die kerkgebou binne terwyl n lied, byvoorbeeld Psalm 100:1-3 en/of Lied 326:1-4), gesing word. Die palmtakke kan voor in die liturgiese ruimte en/of in die paadjies neergelê word. Op dié punt in die diens kan gevlegte palmkruisies deur die kinders aan die gemeente uitgedeel word.

Voorganger: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Skriflesing uit die Ou Testament

Jesaja 50:4-9a

Skriflesing uit die Psalms

Psalm 31: 10-17

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

Filippense 5:2-11

Sang

n Geskikte lydenslied, byvoorbeeld Lied 390: 1-3.

Skriflesing uit die evangelies

Lukas 22:14-23:56 (of Luk 23: 1 e.v.) Die Skriflesing kan in kleiner eenhede verdeel en afgewissel word met gemeente- en/of koorsang. Dit word aanbeveel dat daar van verskillende stemme gebruik gemaak word vir die voorlesing.

Sang

Indien Lied 390:1-3 voor die evangelielesing gesing is, kan vers 4 van dieselfde lied nou gesing word.

Prediking

Dit kan kort gehou word om nie afbreuk te doen aan die krag van die lydensverhaal self nie.

Tyd van stilte (Indien die gevlegte palmkruisies nie vroeër in die diens uitgedeel is nie, kan dit nou gedoen word.)

Litanie

Die volgende litanie gebaseer op die sogenaamde "Stasies van die kruis", kan oorweeg word vir gebruik na die prediking :

Voorganger: Here, U het vir u dissipels gesê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg." In u Naam bid ons:

Gemeente: Here, help ons om ons kruis op te neem en U te volg.

Voorganger: U het voor Pilatus gestaan, ter dood veroordeel, terwyl u Woord verwerp en u onskuld verag is.

Gemeente: Bewaar ons daarvan om u Woord wat vol waarheid en heil is, te verwerp.

Voorganger: U het u kruis gedra, uit liefde vir ons en vir die ganse mensdom.

Gemeente: Help ons om ons kruis te dra, uit liefde vir U en vir ons medemens.

Voorganger: Die gewig van u kruis was die las van ons sonde wat ons laat struikel en val.

Gemeente: In ons swakheid kom ons na U toe vir krag.

Voorganger: Al het U gely, het U steeds uitgereik en u moeder versorg.

Gemeente: Gee dat die kruis wat ons dra, ons nie sal verhinder om na die mense rondom ons om te sien nie.

Voorganger: Toe U geworstel het om u kruis te dra, het hulle n verbyganger gedwing om dit te dra.

Gemeente: Maak ons gewillig om soos Simon die laste van hulle wat swaar kry, te dra.

Voorganger: Ander het dit ook gewaag om U by te staan.

Gemeente: Versterk ons geloof sodat ons dit ook sal waag om na ons broers en susters om te sien.

Voorganger: Die las van sonde het swaar op U gerus terwyl U op die kruisweg voortgestrompel het.

Gemeente: Vergewe, Here, die sonde wat ons laat struikel en val.

Voorganger: U lyding op pad na Golgota het die vroue van Jerusalem laat huil.

Gemeente: Gee dat ons lyding in hierdie lewe opgeneem sal word in u lyding op pad na die kruis.

Voorganger: Die volle las van ons sonde het U verbrysel.

Gemeente: Laat ons nie in ons sonde aan onsself oor nie, maar bewerk in ons berou en geloof.

Voorganger: Ontbloot en bespot, het U die vernedering verduur sonder om daaroor te kla.

Gemeente: Maak ons nederig in dit wat ons doen en daagliks ervaar.

Voorganger: Vasgespyker aan die kruis, het U u plek ingeneem tussen die veroordeeldes.

Gemeente: Wees so ook tussen ons as sondaars en bring ons deur geloof saam met U in die paradys.

Voorganger: Toe u offer volbring is, het U u lewe in die hande van die Vader oorgegee.

Gemeente: Hou ons naby aan u kruis en aan u dood, nou en in die uur van ons dood.

Voorganger: Troue vriende en toegewyde vroue het u liggaam versorg.

Gemeente: Maak ons troue en toegewyd in die versorging van u liggaam, die kerk hier op aarde.

Voorganger: In die graf is U neergelê, maar uit die graf het U opgestaan.

Gemeente: Wees die Heer van die opstanding vir ons en vir almal wat aan U behoort.

Voorganger: Here Jesus, ter wille van u kruis en lyding, is ons vrygespreek deur geloof,

skoongewas van ons sonde, en herstel in ons verhouding met God.

Ons dank U vir u kruis en vir die diepte van u liefde vir ons.

Help ons om ons kruis in die wêreld te dra en om U te volg totdat U ons saam met U in die koninkryk van God laat ingaan,

waar U saam met die Vader en die Heilige Gees regeer, een God, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Geloofsbelydenis

Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader

Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word

Gemeente: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.

Voorganger: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Gemeente: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

Gemeente: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel/ en op die aarde/ en onder die aarde is,/ die knie buig,/ en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!

Voorganger: Tot eer van God die Vader.

Gemeente: Amen

Offergawes

UITSENDING

In sommige kerke is dit gebruiklik om nie n slotsang te sing aan die einde van die erediens op Palmsondag nie, omdat die gemeente daarvandaan die Groot Lydensweek binnegaan.

Seën

Voorganger: Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.

Gemeente: Amen

 

PREEKSTUDIE FILIPPENSE 2:5-11

Teks en Konteks

Dié perikoop is reeds in verskeie studies in dié reeks, asook in Woord teen die Lig breedvoerig bespreek (vgl. Meyer: Preekstudies 1999; Smit: WtL I/2; Botha: WtL III/2). Uit dié en ander studies is 'n paar dinge duidelik. Daar bestaan min twyfel dat die paar verse die belangrikste deel van die brief vorm, maar daarom ook die moeilikste is om te verstaan. Publikasies oor die gedeelte is geweldig omvangryk en laat 'n mens wonder waar om te begin. Ten spyte van die uiteenlopende interpretasies is daar oor een ding min of meer algemene konsensus, naamlik dat die verse deel vorm van 'n vroeg-Christelike himne, wat gelowiges heel moontlik in die vroegste Christelike gemeentes gesing het.

Die vorm asook die inhoud van die himne wek die indruk dat dit die resultaat was van diepe nadenke aan die kant van die skrywer oor een spesifieke gebeurtenis in die lewe van Jesus Christus, soos wat dit in die evangelie van Johannes opgeteken is (Joh. 13:3-17). In die gedeelte gaan dit natuurlik oor die episode waarin Jesus sy dissipels se voete gewas het. Alhoewel daar min woordelikse ooreenstemming is tussen Filippense 2 en Johannes 13, is die parallelle gedagtegang en progressie van aksie besonder insiggewend. Die ooreenkomste is van so 'n aard dat 'n mens dit moeilik aan toeval kan toeskryf. Die volgende diagram kan ons help om van dié ooreenstemmings raak te sien:

Johannes 13:3-17

Filippense 2:6-11

1. Jesus het van die tafel af opgestaan en sy bokleed uitgetrek (4).

1. Jesus het Homself ontledig (εκένωσεν εαυτόν). Hy het sy bestaan op Godgelyke wyse neergelκ (6).

2. Jesus het 'n handdoek gevat en dit om sy lyf vasgemaak. Hy het water in 'n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was ('n nederige taak wat net vir slawe bedoel was) (5).

2. Jesus het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Hy het Homself verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te bly (8).

3. Nadat Jesus klaar hulle voete gewas het, het Hy weer sy bokleed aangetrek en aan die tafel aangesit (12).

3. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke Naam is (9).

4. Dan sê Jesus: "Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit" (13).

4. Sodat elke tong sou erken "Jesus Christus is Here!" (11).

Dit was dié optrede en woorde van Jesus wat vir Johannes en Paulus die basis geword het vir 'n diepe insig in die aard van Christus. Dit is vanselfsprekend dat daar een of ander vorm van afhanklikheid tussen die twee was, heel moontlik het hulle dieselfde tradisie gedeel. Daarom is dit so insiggewend om te sien hoe beide hul vertellings begin. Die evangelis van die vierde evangelie begin deur te verwys na Jesus wat die dissipels se voete was, omdat Hy geweet het dat die Vader alles in sy hande oorgegee en dat Hyself van God uitgegaan het en oppad terug na God was. So plaas die skrywer die klem op Jesus se nederigheid. Paulus begin sy himne met die opmerking dat Jesus, omdat sy bestaan Godgelykvorming was, nie dié posisie beskou het as iets waaraan Hy as 't ware met geweld (αρπαγμος) moes vasklou nie, maar dit juis prys gegee het om andere te dien. Die opmerking bevestig ook die nederige optrede van Jesus.

Dit is verder ook interessant dat die doel van beide hierdie perikope dieselfde was. Die Johannese weergawe is as 't ware 'n geïllustreerde gelykenis, wat die essensie van Jesus se onderrig opsom: "Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees" (Mark. 10:43-44), terwyl die Filippense-himne 'n samevatting is van Paulus se onderrig. Volgens hom is nederigheid, self-prysgawe en diens aan ander in liefde, 'n moet vir 'n Christen-dissipel wat in die voetspore van Jesus wil volg.

Preekvoorstel

Op die pragtige Bolandse dorpie Tulbagh staan die Oude Kerk Volksmuseum, wat die oudste Protestantse kerkgebou in die Suidelike Halfrond is. In dié gebou, wat reeds in 1743 opgerig is, vind 'n mens verskeie interessante verhale uit die verlede. Een van die opvallendste dinge van die gebou is dat daar in die vroegste jare geen kerkbanke was nie. Die gebruik was dat elke gesin hulle eie kerkbank of stoele kerk toe gebring het. Wat nou veral interessant is, is dat die banke streng volgens status in die kerk geplaas was. Met ander woorde, die mense met die hoogste sosiale aansien en status in die gemeenskap (burgemeester, skoolhoof, landdros, ens.) se gesinne se stoele het in die voorste ry gestaan. So het die mense in die agterste gestoeltes die minste sosiale status gehad.

Dit kan dalk vir ons belaglik klink, en genadiglik het die gebruik intussen verander, maar iets daarvan is tog nog deel van elkeen van ons lewens. Status vorm deel van ons aansien in die gemeenskap. Op grond van jou status word ook 'n sekere waarde aan jou opinie geheg. Die statusrolle het dalk met verloop van jare verander, maar die onderliggende beginsel van status is nog "well and alive".

Wanneer 'n mens, met dit in gedagte, Filippense 2 lees, spring die kontras duidelik na vore. Luister net weer wat Filippense 2:6 sê: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word." Sommige vertalings praat van sy status wat Hy afgelê het. Jesus was bereid om sy status as God se Seun af te lê om deel van ons te word. Sien jy die wêreld van verskil tussen ons lewensbenadering en die manier waarop Paulus hierdie gesindheid van Jesus Christus beskryf? Ons is betrokke by een groot geveg om 'n greep op die lewe te kry. Om die statusleer te probeer uitklim. Om dit wat ons het, te behou. Jesus, aan die ander kant, lê sy lewe af. Hy gee vrywillig sy status as Seun van God prys.

Ons werk soos slawe om iets van 'n statusvolle lewe te proe, terwyl Jesus sy status aflê om die gestalte van 'n slaaf aan te neem. Hy verneder Homself om aan die mense gelyk te word, terwyl ons woel en werskaf om bo die mense uit te styg. Hy is tot die dood gehoorsaam aan God, maar ons wil om die dood net na onsself luister. Die beskrywing van die verskil tussen ons en Jesus Christus is natuurlik 'n oorvereenvoudiging van die situasie. Maar dit het reeds groot waarde as dit ons laat besef dat daar 'n groot kloof tussen die voorbeeld en die gesindheid van Christus en ons sn is.

Hierdie woorde wat Paulus in Filippense 2 skryf, is nie sonder rede van die mees bekende en van die mooiste gedeeltes in die Bybel nie. Ons word hier met die daad van God gekonfronteer, wat soveel anders as ons eie dade is. Die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel sê in vers 7 dat Jesus Homself ontledig het deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. Die Good News New Testament stel dit só: "... of his own free will he gave up all he had ..." Beide vertalings maak dit duidelik dat God nie net as 't ware 'n treetjie af na ons toe gegee het nie. God het Homself in Jesus Christus nie net 'n bietjie minder gemaak nie. Hy het in Jesus Christus sy hele wese uitgestort. Hy het Homself reserweloos en sonder voorbehoud, sonder om te vra na die koste, aan hierdie wêreld en aan ons gegee. Paulus vervolg dat die ontlediging van Christus in sy menslike gestalte nie hier gestop het nie. As mens het die vernedering voortgegaan toe Jesus in gehoorsaamheid en getrouheid aan sy goddelike voorneme die pad van lyding tot by die uiterste offer, die dood aan die kruis, gestap het. Juis omdat dit bekende Bybelse taal is, is dit vir ons soms baie moeilik om te verstaan wat ten diepste agter die bekende godsdienstige taal lê. Anders gestel: Ons sien en herken die woorde van Filippense 2, maar die groter prentjie is vir ons maar net so duister. Daarom is dit dalk nodig om allereers te vra: Waarom het God dit gedoen? Waarom het Jesus hierdie pad geloop? Waarom het die koning in die gestalte van 'n slaaf Homself openbaar? In kort: Waarom was Jesus bereid om van sy Goddelike status afstand te doen?

Die verhaal van die mense in die film Chocolat, kan ons dalk hiermee help. Die fliek speel gedurende 1960 in 'n klein dorpie in Frankryk af. Dit gaan oor Vianne Roscher en haar dogter, Anouk, wat in die dorpie kom woon en 'n sjokolade-winkel oopmaak. Hulle tydsberekening is egter nie baie goed nie, want dit was aan die begin van Lydenstyd. Dit was 'n tyd waarin daar van al die inwoners verwag is om te vas. Vir die dorpie se nougesette en rigiede burgemeester, Comte de Reynaud, was dit 'n groot krisis. Daarom doen hy ook sy bes om die winkel te laat sluit. Met Vianne se warm persoonlikheid, haar gasvryheid en heerlike sjokolade slaag sy egter daarin om die guns van die dorpie se inwoners te wen.

Dit is interessant om te sien hoeveel mag die burgemeester vir homself toe-eien. Hy skryf selfs die jong (en nuwe) plaaslike priester se preke. In die proses misbruik hy ook die jong man om Sondae sy rigiede moraliteit van die preekstoel af op die mense af te forseer. Sy siening van God as Iemand wat straf en oordeel, ons met arendsoë dophou en elke oortreding raaksien, bepaal ook die manier waarop hy oor mense dink en reken wat vir hulle goed is. Daarom is daar geen plek vir enige persoon wat van sy en 'n klompie navolgers se siening van sake afwyk nie.

Uiteindelik swig hyself voor die hoë morele standaarde wat hy aan die inwoners stel, deur hom in die vertoonvenster van Vianne se winkel oor te gee aan die heerlike sjokolade. Dit was die oggend van Paassondag. Dit gee aan die jong priester die eerste keer die geleentheid om sy preek te lewer sonder inmenging van die burgemeester. Sonder om te aarsel, beklemtoon die jong man hoe belangrik dit is om te verstaan dat Jesus se sterwe en opstanding direk verband hou met sy menswording. Sy teks die oggend kon netsowel Filippense 2:6 gewees het: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word."

Dit is so belangrik dat ons mekaar moet bly herinner aan "Hom wat aan mense gelyk geword het". Die rede, daar is by ons almal maar die ingebore neiging om aan God se kant te wil staan, soos wat met die burgemeester in Chocolat gebeur het. En wanneer ons so saam met God van "bo af" kyk, dan is dit maklik om ander se sonde en verkeerdhede raak te sien. Wanneer ons dan duidelikheid het oor wat ander alles verkeerd doen, maak ons maklik reëls om hierdie verkeerdhede reg te stel. Trouens, ons gaan ook verder. Ons begin om mense te manipuleer om in te pas en te gehoorsaam wat ons reken hulle nodig het, en wat ons dink vir hulle belangrik is. In dié verband help die feit dat Jesus mens geword het, ons op 'n besondere wyse. Ons kry die versekering dat Jesus God se gedagtes baie goed verstaan het. Ons het dus nie nodig om aan God se kant te gaan staan wanneer ons met mekaar besig is nie. God het aan ons kant kom staan deur volledig mens te word.

Die ironie in die optrede van die burgemeester in Chocolat is dat hy dit juis vir ander duister gemaak het in die kerk, deur sy voorskriftelike invloed op die priester. Die kerk, as die plek waar die mense die boodskap van verlossing moes hoor, het 'n donker plek van morele swaarmoedigheid geword. Daarenteen het Vianne die lig van lewe, van medelye, van blydskap en vreugde, vir mense in haar sjokolade-winkel gebring. Dit was in die besonder dié wat swaar gekry het, eensaam was en deur die samelewing uitgestoot is, wat daar 'n heenkome gevind het.

Interessant dat Paulus vir ons sê dat toe Jesus in die wêreld gekom het, Hy juis in die gestalte van 'n slaaf gekom het. Terwyl Hy na sy eie mense toe gekom het, het hulle Hom nie aangeneem nie, nie herken nie. Dit herinner 'n mens nogal aan die swanger Maria en Josef se gesukkel om 'n plekkie te vind waar hulle kon tuis gaan in die donkerte van 'n afgeleë dorpie. Maar dan word die Jesuskind in 'n stal gebore en bring die lig van 'n ster die skaapwagters (uitgestotenes) en besoekers (vreemdelinge) vanuit die Ooste om "sy heerlikheid te sien".

Die verhaal van Chocolat eindig waar al die karakters aan die einde hulle foute ontdek en kortsigtigheid erken. Die oomblik toe dit begin gebeur, raak dit moontlik om al die inwoners by die feesvieringe van die dorpie te betrek. Waar daar lig deurbreek en deelname kom, is dit nie meer nodig vir suspisie en agterdog, vir verdagmakery en moddergooi nie. Dan ontstaan spontaneïteit en kan verskille gevier word.

Miskien help die verhaal ons om opnuut die wonder van God se menswording in 'n nuwe lig te sien. Om te begryp hoekom Jesus bereid was om van sy status afstand te doen. In die ontlediging van Christus aan die kruis, neem Hy die mense en hulle nood doodernstig, maar meer as dit, word Hy deel van ons wêreld en ons "taal". In die man van Nasaret kommunikeer God met 'n bang en 'n verwilderde mensdom, nie in 'n hemeltaal nie, maar in mensetaal; in menslike dade. In Jesus Christus kom God nie om die mens met brutaliteit "in te breek" en tot oorgawe te dwing nie. Hy kom forseer nie sy status en mag op ons af nie, maar gee Homself aan ons wêreld oor en breek so die skeidsmuur wat "ons wêreld" van "God se wêreld" skei.

In Jesus Christus oorweldig God ons nie met sy liefde nie, maar fluister Hy as 't ware sy ontferming. In hierdie fluistering lê die krag van God se teenwoordigheid, soos wat Elia eeue tevore reeds beleef het. In die sagte stem van God, is iets veel meer kragtig en verowerend as wat in al die luide aansprake van die wêreld kan wees. In Jesus Christus oorbrug God die mens se vrees vir die "onbekende" en veraf God. In Jesus Christus herken ons naamlik nie alleen vir God nie, maar in Hom herken ons ook onsself. Want die taal wat Hy praat, is ook ons taal, die vrees wat Hy het, is ook ons vrees. En omdat Hy ons taal praat, omdat Hy ons nood ernstig opneem en Hom so volledig aan ons kant geskaar het, kan ons Hom vertrou, kan ons sy juk opneem en dit waag op die pad waarlangs Hy ons lei, wetende dat sy juk sag en sy las lig is (Matt. 11:29). Wetende veral dat Hy reeds die pad voor ons geloop het, dat Hy die pad gelyk gemaak het. Ja, dat die pad waarop ons onsself bevind, hoe ontoeganklik, steil en nou dit ook al soms mag lyk, sy pad is.

Miskien is dit daarom ook gepas dat ons as navolgers mekaar hieraan moet herinner. Navolging van Jesus kan na 'n benydenswaardige roeping lyk, maar dit bly altyd 'n onbenydenswaardige offer. Dit vra dat ons maar ontslae moet raak van ons statusbewustheid, van ons ewigdurende gewoel om bo ander uit styg. Ons moet bereid wees om in die lig van Johannes 13 die handdoek van diens om ons lywe vas te maak. Maar oor beide die roeping tot navolging en die offer wat dit van ons vra, is dit dieselfde God en Here Jesus Christus wat in die fluistering in die windstilte (1 Kon. 19:12) en in die stormwind en tonge van vuur (Hand. 2:3,4), ons roep en offervaardig maak.

Miskien is dit veral nodig dat ons mekaar daaraan herinner dat die Koning-God wat in die gestalte van 'n dienskneg ons kom ontmoet, ook van slawe koningskinders maak. Dat ons krag nie in selfhandhawing lê nie, in die plek wat ons stoel in die kerk staan nie, maar in ons swakheid en ons bereidheid om die tweede myl te loop. En dat dit juis hierdie dinge is waarin die volheid van God en die krag van die Heilige Gees aan die mense duidelik word.

Bibliografie

Hawthorne, G F 1983. Philippians: Word Biblical Commentary; Soards, M et al. 1992. Preaching the Revised Common Lectionary. Year C, Lent/Easter; Meyer, O Preekstudies met liturgiese voorstelle 1999; Smit, D Woord teen die Lig I/2; Botha Woord teen die Lig III/2.