7 Desember 2003

Tweede Sondag van Advent

Liturgiese Voorstel

Fokusteks: Filippense 1:3-11

Ander tekste: Maleagi 3:1-4; Lukas 1:68-79; Psalm 126; Lukas 3:1-6

Storielyn en Adventstoeligting

Op hierdie Adventsondag roep die gemeente in die liturgie na die God wat die lot van Sion verander het, en dit nou weer moet doen, hier en nou (vgl. Ps. 126). Hierin smag die gemeente na God wat in sy advent ons telkens in "genade soek" (Luk. 1:68). Hierdie geroep hoor ons in al die tekste vir hierdie Sondag. Dit is roepstemme wat uitmond in die Doper se bevel: maak die pad vir die komende koning gereed en oop, ook deur bekering heen. Die doop kan hierdie roepstemme weer vaste sekerheid gee in die wete dat dit die Here is wat ’n goeie werk in ons begin het dit enduit sal voer op sy tyd, op sy dag (Filip. 1:6). Hier vind ons die hart van ons Christelike geloof en die vastigheid van ons doopbelydenis.

God versamel ons voor Hom

Votum

Na die Adventstoeligting en die aansteek van die Adventskers (deur ’n doopouer of iemand wat vandag sy/haar doop herdenk) word die votum geneem uit Lukas 1:68, 69, 78b, 79

Voorganger: Lofwaardig is die Here, die God van Israel

want Hy het sy volk in genade opgesoek

en vir hulle verlossing bewerk.

’n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan.

Gemeente: Soos die môreson sal Hy opgaan

en uit die hoogte op ons afstraal

om lig te bring aan dié wat in duisternis

en in die skaduwee van die dood lewe,

om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.

Seëngroet

Voorganger: Die Here verander ons lot

soos Hy droë spruite uit die Suidland in waterstrome verander.

Gemeente: Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly (Ps. 126:4, 3).

Gemeente respons

Lied 42:1, 2/NSG 343:1, 2; Lied 190:1, 2/NSG 347:1, 3

Die diens van die word

Gebed om die opening van die Woord

Die gemeente sing Lied 306:3/NSG 334:3 as epiklese.

Skriflesing

Lukas 1:69-75 (ouderling of ouer persoon)

Filippense 1:3-11

Prediking

Antwoord

Lied 290:2,3/NSG 361:2, 3

 

Diens van die water

Oorgang

Die Skrifwoorde vir hierdie Sondag bevestig dat God self die goeie werk wat Hy in ou Israel en daarna in die kerk en in die lewe van gelowiges begin het, end-uit sal voer tot met sy wederkoms. Die doop onderstreep hierdie belofte op ’n besondere wyse – ook in die lewe van hierdie kinders wat vandag gedoop word.

Geloofsbelydenis

Afgesluit met Lied 188:3/NSG 10:3

Formulier

Bediening van die doop

Hernuwing van doop belofte

Liturg: Ons dink hier daaraan dat ons saam met Christus gesterf het en begrawe is deur ons doop. Ons weet egter dat ons ook saam met Hom opgewek is tot ’n nuwe lewe. Daarom bevestig ons opnuut die belofte wat gemaak is by ons doop. Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus. Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewens voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Voorganger: Bely u u sonde met berou?

Gemeente: Ons bely ons sonde met berou.

Voorganger: Draai u om na Christus toe?

Gemeente: Ons draai om na Christus toe.

Voorganger: Het u saam met Hom gesterf?

Gemeente: Ons het saam met Hom gesterf.

Voorganger: Het u saam met Hom opgestaan?

Gemeente: Ons het saam met Hom opgestaan.

Voorganger: Bely dan met saam:

Gemeente: Ons glo in God die Vader, ons Skepper; ons glo in die Heilige Gees wat in ons leef

en wat God se goeie werk in ons tot sy volheid bring.

Dankoffers

(Sien voorbeelde vir liturgiese gebruik op p. 392 van 2002-handleiding)

Uitsending

Wet

Wie kan die koms van die Engel verdra,

wie kan standhou wanneer Hy verskyn?

soos iemand wat silwer smelt en suiwer,

so sal Hy as Regter gaan om ons te suiwer,

om ons te louter soos goud en silwer,

wat bestaan uit reg doen (vgl. Mal. 3:2, 3).

Slotsang

Lied 290:4/NSG 361:4

Seën

Ek bid dat julle liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling

sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Dan sal julle op die dag waarop Christus kom onberispelik en sonder blaam kan wees.

Deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof eer (Fil. 1:9-11).

Gevolg deur Lied 315 Amen

 

INLEIDING tot DIE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE

Inleidende opmerkings oor Filippense

David Botha sr. het deeglike agtergrond en inligting oor Paulus se brief aan die Fillipense in die Preekstudies (Jaar A, Advent 2001 tot Koninkrykstyd 2002) geskryf. Aangesien sommige gebruikers van dié uitgawe van die Preekstudies dalk nie genoemde uitgawe ontvang het nie, word Botha se inleidende opmerkings hier herhaal. Die brief is gerig aan "almal wat deur Christus Jesus aan God behoort" (1:1). Filippi was die eerste stad op Europese bodem waar Paulus op sy tweede sendingreis, vergesel deur Timoteus, Silas en Lukas, `n Christelike gemeente gestig het. Lukas verhaal die merkwaardige bekering van Lidia en die tronkbewaarder wat daar plaasgevind het, asook die mishandeling en gevangeneming van Paulus en Silas (Hand. 16). Paulus het waarskynlik die gemeente weer op sy derde sendingreis besoek (Hand. 20; vgl. 2 Kor. 2:16; 7:5), aangesien Filippi op die hoofweg tussen Klein-Asië, Griekeland en Rome gelê het.

Daar het `n innige verhouding tussen Paulus en die gemeente bestaan. Hulle was immers die eerstelinge van die oes wat sy arbeid in Masedonië opgelewer het. Die gemeente het hoofsaaklik uit nie-Joodse Christene bestaan. Hulle was min en arm, maar behulpsaam en vrygewig. By verskeie vorige geleenthede het hulle geldelike bydraes aan Paulus gestuur (4:15; 2 Kor. 11:9) en nou weer gedurende sy gevangenskap (4:10). Die aanleiding tot hierdie brief was `n geskenk van die gemeente wat deur Epafroditus na Paulus in die gevangenis gebring is (4:14, 18; 2:25). Hy wil sy dank en vreugde vir hierdie liefdesgawe oordra. Epafroditus se terugkeer na die gemeente, nadat hy van `n ernstige siekte herstel het (2:26-28), was die geleentheid om nie slegs die gemeente vir die liefdegawe te bedank nie, maar hulle ook in te lig oor sy omstandighede in die gevangenis en sy hofsaak wat afgehandel sou word (1:12-26). Hy kon ook sekere pastorale vermanings tot hulle rig en hulle aanspoor tot eenheid, nederigheid en volharding (1:27-30; 2:3-5; 3:2, 3; 4:1-2).

Daar was van die vroegste tye af (Clemens Romanus, Ignatius, Polikarpus, Irenaeus, Clemens Alexandruinus, Tertullianus, ook Marcion) geen twyfel oor die egtheid van hierdie brief en dat dit van Paulus is nie. Die brief, een van Paulus se sogenaamde gevangenis-briewe, noem egter nie die stad of die gevangenis waarin die apostel hom bevind het nie. Volgens Handelinge was Paulus `n gevangene in Filippi (16:23), Jerusalem (21:33 e.v.), Sesarea (23:25) en Rome (28:16). Van 2 Korintiërs 6:5 en 11:23-24 kan afgelei word dat hy moontlik ook in Efese in die gevangenis was. Sy verblyf in die gevangenisse van Filippi en Jerusalem was te kort vir die skryf van briewe. Sekere teoloë (vanaf die 18de eeu ) argumenteer ten gunste van Sesarea en ander ten gunste van Efese as skryfplek van die briewe, maar die tradisie van die kerk en die konsensus van die meerderheid Skrifverklaarders identifiseer steeds die gevangenis in Rome as die plek waar die apostel hom bevind het.

Volgens Handelinge 28:16, 30 31 was Paulus twee jaar lank in Rome in huisarres, tot met sy appèlverhoor voor die keiser. Die uitdrukkings "keiserlike wag" (1:13) en "die huis van die keiser" (4:22) bevestig sy verblyf in die stad, want dit is hier waar die keiserlike wag van 9 000 man gevestig was en waar hulle, en die lede van die keiserlike huishouding, terdeë bewus geword het van Paulus en sy gevangenskap "ter wille van Christus".

Die inhoud van die brief dui daarop dat Paulus waarskynlik nie meer in relatiewe vryheid in huisarres verkeer het nie, maar in die gevangenis self aangehou is. Uit 1:7-12 kan afgelei word dat sy verhoor besig was om ten einde te loop en dat hy gewag het op die uitspraak, wat vryspraak (1:19-20) of die doodsvonnis (2:17) kon beteken. Hy het reeds voor die tribunaal verskyn en dit was by baie bekend dat die gevangene as "gesant van die evangelie", in aanhouding was (Ef. 6:20).

Die brief is op streng persoonlike trant geskryf, sonder leerstellige opset of polemiese benadering. Dit het `n openhartige en hartlike toon, ongekunstelde vorm, opgeruimde stemming in neerdrukkende omstandighede en `n praktiese inslag – sodanig dat dit alle briewe van die apostel oortref. Net in vier van Paulus se dertien briewe gebruik hy nie sy ampstitel "apostel" in die aanhef van die brief nie: Filippense, twee briewe aan Tessalonika en die persoonlike briefie aan Filemon. Dit dui verder op sy innige verhouding met die gemeente. Die enigste titel waarop hy en Timoteus aanspraak maak, is die van "dienaars". Die woord beteken eintlik slaaf (vgl. 1 Kor. 7:22-23).

In die brief stort Paulus sy hart uit, teenoor die gemeente wat hy liefhet. Die hoofgedagte van die brief is blydskap en dankbaarheid. Woorde wat hierdie emosie beskryf, kom sestien maal voor. Selfs gevangenskap en kwaadwilligheid deur teenstanders kon nie sy blydskap in die Here demp nie (vgl. 1:18; 2:2; 3:1; 4:1, 4). Sy groot strewe was om Christus te ken in lewe en in sterwe (3:10-14). Die brief aan die Filippense gee verslag van Paulus se ervarings in dié proses en ter aansporing van die gemeente om ook kennis na te strewe en daarvolgens te leef. Die hoogtepunt hiervan is opgevang in die "Christuslied" (2:5-11) wat die gemeente in aanbidding voor die Here, Christus Jesus, laat kniel.

Paulus

Naas Jesus het niemand so `n geweldige invloed op die geskiedenis van die Christendom as Paulus gehad nie. Sy optrede was selfs voor sy bekering op negatiewe wyse betekenisvol. Die fanatieke manier waarop hy die Christene vervolg het, het bygedra tot die vinnige verspreiding van die kerk. Hy was dus medeverantwoordelik daarvoor dat die apostels Jesus se laaste opdrag aan hulle gehoorsaam en die verspreiding van die evangelieboodskap dwarsdeur die wêreld versprei het. Paulus se persoonlike ontmoeting met Jesus het sy lewe verander. Hy was steeds `n vurige en ywerige mens, maar van daardie oomblik af het hy al sy krag ingespan om die evangelie uit te dra. God het nie `n greintjie van Paulus verlore laat gaan nie. Hy het sy agtergrond, burgerskap, verstand en selfs sy swakhede, gebruik.

Paulus se Joodse naam was Saulus ("van God gevra"). Hy was uit die stam van Benjamin, net soos sy beroemde naamgenoot, die eerste koning van Israel. Daardie koning, Saul, het egter kop en skouers met sy indrukwekkende gestalte oor almal om hom heen getroon. Die Bybel vertel dat hy sterk en mooi was. Daar was niemand mooier as hy nie en hy was `n kop langer as enige van sy volksgenote (1 Sam. 9:2).

Anders as die koning, was die apostel nie van forse liggaamsbou nie. As gebore Romeinse burger van die stad Tarsus, kry hy die Griekse naam Paulus ("klein"). Chrisostomus praat van hom as die man wat net drie el lank was (omtrent `n anderhalwe meter). `n Ou apokriewe geskrif teken die apostel so: "Hy het Paulus sien aankom, `n man met min hare, die bene bietjie krom, sy liggaam fiks, met wenkbroue wat ineengroei en `n effe krom neus, maar vriendelik – want soms was sy voorkoms soos die van `n mens, dan weer soos die van `n engel" (Die Handelinge van Paulus en Tekla, in "The New Bible Dictionary", p.943). Al was hy klein van gestalte was Paulus `n geestelike reus wat oorvloediger in die koninkryk van God gearbei het as enigiemand anders.

Koning Saul seun van Benjamin, in die Ou Testament, was na uiterlike `n reus, maar geestelik `n dwergie. Die Benjaminiet, Saul van Tarsus, die apostel, was klein van gestalte, maar `n reus in die koninkryk van God.

PREEKSTUDIE – FILIPPENSE 1:3-11

Teks en konteks

Filippense 1:3-11 kan soos volg verdeel word:

Verse 3-6: danksegging vir hulle steun (in die verlede);

Verse 7-8: die apostel se dankbaarheid (in die hede) teenoor die lesers vir hulle sorg;

Verse 9-11: Paulus se voorbidding (vir die toekoms).

Dié voorbidding vorm die klimaks van die gebed en sluit nou aan by 3-6.

Combrink (WtL III/4) gee `n goeie hermeneutiese uiteensetting van die perikoop. Sonder om te herhaal wat hy reeds geskryf het, is daar tog enkele dinge wat dringend en gedurig ons aandag opeis. Die posisie waarin die meeste mense hulle noodgedwonge bevind, is dat daar weinig tyd is vir belangrike dinge, wat skynbaar op die oomblik nie so dringend is nie. So bly werklik belangrike aspekte van die lewe dikwels in die slag. Daar is natuurlik ook die dinge in die lewe wat wel dringend is, maar nie eers werklik belangrik is nie. Wat nog te sê van dinge wat onbelangrik en selfs ook nie eens dringend is nie.

Ons lewe word soms in beslag geneem deur groot dinge wat ons najaag, sodat ons nie tyd het vir die eenvoudige, maar wesenlike dinge van elke dag nie. In oomblikke van krisis besef `n mens – soms te laat – dat dit wesenlik is. Soos die jong vrou van 23 wat in die hospitaal die berig kry dat sy aan `n ongeneeslike kanker ly. Haar eerste reaksie was: "Ek sou enige iets wou gee om net huis toe te kon gaan en my baba se vuil doek om te ruil." Dit plaas weer wesenlike en minder wesenlike dinge vir ‘n mens in perspektief. Hieraan herinner die vraag waarmee Covey en Merill se eerste hoofstuk van hul boek "First things first" begin: "How many people on their deathbed wish they’d spend more time at the office?"

Met dit in gedagte leen die perikoop hom goed tot `n Adventteks. In Advent word ons herinner aan dit waaroor die lewe wesenlik gaan; oor ons verhouding met Jesus Christus. Neem Hy die eerste posisie in ons lewe in? In Kerstyd word die vraag weer voor ons geplaas: Waarmee is ons besig? Die ou geykte uitdrukking: Die dinge van die Here of die Here van die dinge? Spandeer ons nog tyd in gebed om te onderskei waarop dit regtig aankom? In `n sogenaamde postmoderne tyd waar toleransie en pluralisme die modewoorde is, is die vraag soveel te meer op ons tafels: Is almal reg? Is alles maar aanvaarbaar, of moet ons onderskei waarop die werklik aankom?

 

Preekvoorstel

Kyk gerus na Combrink se voorstel (WtL III/4). `n Tyd gelede het ek oor die perikoop gepreek. Hier is `n voorstel met enkele aanpassings aan bogenoemde preek.

Dit word vertel dat Nero viool gespeel het terwyl Rome aan die brand was. Is dit werklik waar? Dit is wat die oorleweringe vir ons sê. In die geskiedenis van die kerk is daar heelwat voorbeelde van hoe die kerk figuurlik viool gespeel het terwyl die wêreld (Rome) aan die brand was. Dit is bekend dat die sinode van die Russies-Ortodokse kerk besig was om `n hewige debat te voer oor die kleur van die kardinaal se kleed, terwyl die Bolsjewiste, met die rewolusie van 1917, besig was om hulle kommunistiese bewind in Rusland te vestig.

Dié volgende ware verhaal word ook vertel. Gedurende die sewentiende en agtiende eeu was daar dramatiese veranderinge in Europa. Dink maar net aan bewegings soos die Renaissance, Humanisme, Aufklärung, en jy besef jy hoe radikaal die veranderinge was. Die nuwe denkrigtings het die kerk voor geweldige uitdagings gestel. Die hele omgewing waarin die kerk moes leef, het verander. Daar sou drastiese aanpassings in die kerklike praktyk en denke gemaak moes word as die kerk hoegenaamd relevant wou bly. In sommige kringe is wel hard gewerk aan die nuwe kleed van die evangelie, maar nie orals nie.

`n Sekere dominee Gotfried Udeman lewer in dié tyd `n preek na aanleiding van 1 Korintiërs 11:14: "Leer die natuur julle nie dat dit `n oneer vir `n man is om lang hare te dra nie?" In die preek kritiseer die dominee die jeug se langhaar-modes. Dominee Buxhorn, self iemand met `n oog vir die jongste modes, het nie op hom laat wag nie. In 1644 publiseer hy twee werkies. In die eerste boekie sê hy dat die korthaar-mode van elders af in Nederland aangekom het en dat kort hare nie eie is aan die Nederlandse volk nie. Wat die regte Hollandse gebruik is, spel hy in sy tweede werkie uit: Mense in Holland en Nederland moet weer, soos hulle voorouers, lang hare begin dra. Die jeug tree dus, volgens die dominee, heeltemal reg op as hulle lang hare dra, want dit is presies hoe die Nederlandse gebruik nog altyd was.

Ds. Buxhorn het hom egter `n bietjie vergis, want twee jaar tevore het die sinode van Gouda reeds – volgens artikel 55 van die Handelinge van die Sinode – bevind dat "wilde hare" tugwaardig is. Artikel 51 van die Sinode van Brielle (1643) het ook bevind dat daar gelet moet word op die gedrag en "lang hare" van studente en proponente. Ook die Sinode van Gelder (1643) het al `n beroep gedoen op die ringe van die sinodale gebied om tog "in die eerste plek" daarop te let dat predikante en teologiestudente nie moet aanstoot gee deur hul lang hare nie. Let op die taalgebruik. Mens wil onmiddellik vra: "Maar is dit wat dominees in die eerste plek moet wees?" Wat van die suiwere verkondiging van God se Woord?

Buxhorn het egter nie net `n paar sinodale besluite teen hom gehad nie. Medepredikante het ook nie op hulle laat wag nie. In 1645 lewer ds. Jacobus Borstius `n preek wat later gepubliseer word onder die titel: "Predikasie van lange hare oor 1 Korintiërs 11:14 deur Jacobus Borstius. Bedienaar des Goddelike Woord binne Dordrecht". In hierdie preek beweer die dominee dat die langhaar-mode van die jeug "gans oneerlyk, onbetaamlik en onstigtelik" is, soos blyk uit vele Sinodale besluite. En oor hierdie vele Sinodes skryf Gert Grote dat die verskillende sinodes met mekaar gewedywer het om met die swaarste kerklike straf denkbaar proponente, predikante en teologiestudente van die "hemeltergende en die gewyde orde onterende lang hare" af te skrik.

Intussen het die wind egter heel anders begin waai. Vyf, ses jaar was genoeg om die nuwe mode te laat inslaan. In 1645 veroordeel die Sinode van Worden die feit dat ds. Borstius sy preek oor lang hare uitgegee het, en beveel hulle aan dat die ring van Dordrecht die bepaling waarkragtens ongewenste boeke geban word, op die dominee se preek toegepas word. `n Mens moet die mode van "wilde haar" bestraf, maar jy moet jou weerhou om oor die onderwerp te skryf. Die volgende jaar weier die Sinode van Buren om korrespondensie wat hulle oor die langhaar-kwessie ontvang het, ter tafel te neem. Daar word van die onderwerp afgestap. Toe kom die negentiende eeu, die eeu van die modieuse pruike. Hieroor skryf Gert Grote dat die mode so gewild was dat elke student wat proponent geword het, byna net so vanselfsprekend soos die speaker van die Britse laerhuis "elkeen so `n wolbaal op sy kop gedra het". Maar, sê hy, toe dit hoogmode was, was daar `n klomp mense wat vreeslik daarteen gekant was. Op die ou end het die pruike weer uit die mode geraak. Toe pruike verdwyn, was die kort hare onder die pruike weer totaal onaanvaarbaar. Hoe lank moes die hare eintlik wees? So het die sage voortgeduur.

Dit is nou nogal prettig om die verhaal te lees. Maar dis `n lag met `n traan, want `n mens dink aan wat Paulus by geleentheid gesê het oor die vermyding van onnodige twisvrae, of wat Jesus omtrent die Fariseërs gesê het. Hulle, sê Jesus, suig die muggie uit en sluk die kameel in. Hulle speel viool terwyl Rome band. Die kerk – en dit is beslis nie net die dominees nie – het telkens in dieselfde slaggat geval. Ek dink ons sal vandag moet erken dat ons nie te hard teenoor die ouens moet oordeel nie. Hoe lank is daar nou nie al in ons kerk gedebatteer oor die swart pak en die wit das nie, of oor die kitaar in die kerk hoort of nie, of mens jou hand mag ophef as jy sing en of mens Engels in `n Afrikaanse kerk mag sing nie, ensovoorts. Ons praat baie en dikwels, selfs meestal, oor onbenullige dinge. Ons stry en ons verketter, veroordeel en hou predikasies, ons tier en ons ywer, maar waarvoor en waaroor? Ons maak somtyds die kerk belaglik en die evangelie `n grap. Intussen meen ons dat ons God se saak dien in die brandende Rome.

Paulus het dieselfde vrees vir die gemeente van Filippi, naamlik dat hulle so besig kan raak met "nitty gritty" goed, dat hulle nie meer onderskei waarop dit werklik aankom nie. Hy skryf: "ek bid dat julle liefde nog meer moet word in insig en ervaring, sodat julle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom."

Nou waarop kom dit werklik aan? Wat is dit wat die kerk vandag moet doen? Jesus Christus self som die kern van ons geloof op wanneer `n man vir Hom vra: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? (Luk. 10). Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hart en siel en verstand en jou naaste soos jouself. Dit mag `n oorvereenvoudiging van die saak wees, maar dit is en bly die wesenlike. Elke kerklike en gemeentelike besluit moet deur die saak gedien en voorafgegaan word met die vraag: Hoe kan ons deur dit wat ons nou gaan besluit, God liefhê en ons naaste soos onsself? Dit is interessant dat selfs hierdie basiese kernaspekte ons daartoe bring om nog te vra: Maar wie is nou eintlik my naaste? Watter kleur moet die ou se vel nou eintlik wees? Sommer net so, dan stry ons al weer oor die kleur van die kardinaal se kleed, of oor die lengte van die hare, terwyl Rome brand?

Wat is dit wat God op ons harte en agendas kom plaas hier in ons eie dorp? (Hier moet elke leraar die dinge wat kardinaal is, dit waarop dit werklik aankom in hulle gemeentes, op die tafel plaas. `n Preekwerkgroep sal mens hier geweldig help, veral as mense vanuit die sakesektor en jong mense ook op so ‘n byeenkoms kan insit.)

Professor Willie Esterhuyse het die sinode van die Wes-Kaap toegespreek en drie kardinale sake op die kerk se agenda geplaas: armoede; pessimisme; morele waardes. Belangrik, ek wil tog waarsku teen `n veralgemening. Die "sukses" van die preek sal juis in die kontekstualisering van die teks in die plaaslike opset lê. Aangesien dit ook Advent is, sou mens ook die Kersversierings en dinge ter sprake kon bring. Vermy `n algemene verklaring teen alle geskenke en versierings, sodat mense skoon bang is om ook vreugde in die Kerstyd te beleef.

Die volgende twee verhale sou hier gebruik kon word. (a) Die vrou het by `n juwelier ingeloop tydens die Kerstyd en gesê sy soek `n hangertjie van `n kruis wat sy graag vir `n vriendin as geskenk wil gee. Die juwelier vra haar toe: "Mevrou, soek jy een met `n mannetjie op, of een sonder `n mannetjie?" (b) Die kunswerk van die biddende hande. Daar is `n ware verhaal van twee vriende Albrecht Durer en Frans Kingstein. Hulle het sowat vyf eeue gelede in die stad Neurenberg in Beiere, Duitsland, gewoon. Hulle was twee geweldig behoeftige jong manne wat met moeite die pot aan die kook gehou het, deur bedags te werk en saans in die skilderkuns te studeer. Maar toe kom hulle ooreen dat een van hulle liewer sou werk terwyl die ander een voltyds kunsklasse sal neem.

Later kon hulle dan die rolle omruil sodat albei `n kans sou kry om as skilder te presteer. Hulle het die lot gewerp en Albrecht was die gelukkige een wat eerste voltyds sou kon studeer, terwyl Frans die gewone arbeid sou doen. Albrecht se kunswerke hang vandag in die grootste kunssale van die wêreld en word deur sy volk die "prins van die kunstenaars" genoem. Hy het ongeveer 1254 beroemde kunswerke gemaak.

Nadat hy sukses behaal het, het hy teruggekeer na Neurenberg om sy vriend Frans die kans te gee om te gaan studeer. Maar toe was dit reeds te laat. Die veeleisende handearbeid het Frans se hande geruïneer. Sy vingers het stram en styf geword en dit het hom verhinder om `n kwas vas te hou. Op `n dag het Durer op sy vriend afgekom waar hy gesit en bid het, met sy hande gevou. Hy het God gedank dat hy kon help dat Albrecht sukses kon bereik. Durer het onmiddellik begin werk aan nog een van sy beroemde kunswerke – die biddende hande.

Paulus teken in Filippense 1:9 twee besonderse kenmerke van die liefde, naamlik begrip en fyn aanvoeling. Egte liefde is daarom nie net `n sentimentele gewaarwording van emosies nie. Dit lê beslag op `n mens se hele persoonlikheid; verstand, wil en gevoel. Hierdie onderskeiding is baie belangrik want die Bybel waarsku ons: kennis sonder liefde loop op verwaandheid uit (1 Kor. 8:1), ook dat kennis plus liefde tot die regte begrip en aanvoeling lei.

Met `n klein bietjie moeite en vindingrykheid kan mens die kategese betrek deur sulke prentjies van die biddende hande te druk en die kleiner klasse kan dit inkleur of mens kan sulke hande op die aankondigings afdruk.

Bibliografie

Du Toit, A B (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Die Pauliniese Briewe; Bybelkrag vir elke dag, 1998; Voetpad deur Filippense. 1983, Trio-Rand; Muller, J J 1992. Die brief aan die Filippense; Woord teen die Lig I; Woord teen die Lig III/4; Botha, W 2002. Leef as mense van die Lig. Christen wees met blydskap. 1991. Bybelkor; Van Schalkwyk, J 1995. Hoe om `n Christen te wees met blydskap; Bybel in Praktyk 1993.