22 September 2002
Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Filippense 1:21-30.
Ander tekste: Psalm 105:1-6, 37-45; Eksodus 16:2-15; Matteus 20:1-16.
INLEIDING
Die fokusteks as sodanig staan redelik los van die ander tekste. Indien Psalm 105 en Eksodus 16 (kos uit die hemel)
as nagmaaltekste verstaan word, sluit dit meer geredelik aan by die fokus van die week, naamlik: Om
onvoorwaardelik vir Christus te lewe en te sterwe.
Psalm 105:1-4 verwoord verder die blydskap en dankbaarheid wat die hoofgedagte van die hele Filippensebrief is.
In aansluiting by die geldelike en ander ondersteuning wat Paulus van die Filippense geniet het, kan ’n gemeente
se ondersteuning van ’n sendeling ’n plek in die erediens kry. Daar kan voorbidding gedoen word vir spesifieke
behoeftes van ’n sendeling. Sommige gemeentes reël vooraf vir ’n telefoniese gesprek met ’n sendeling tydens die
erediens. Reg aan die begin van die diens sal ’n telefoongesprek beter werk.
Kindertyd kan sinvol deel wees van die voorbidding en/of telefoongesprek met die sendeling, veral as daar vooraf
met die Kinderkransleier gereël word.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Ná die inleidingsfrase wat in die volledige liturgie vir Koninkrykstyd voorgestel word, kan Psalm 105:1-4 gelees
word, waarop die votum volg.
Antwoord op groet
Ná Gesang 5:3/NSG 10:3 word Psalm 105:1, 2 gesing.
DIENS VAN DIE TAFEL
Oorgang en epiklese
Gesang 280:1-5/NSG 146:1-5 is ’n toonsetting van Filippense 1:21-24 en geskik vir sowel ’n respons op die preek
as ’n nagmaalepiklese. Vir hierdie geleentheid sou Gesang 40:4/NSG 43:4 ná die preek weggelaat kon word.
Berig en kindertyd (wanneer kinders saam die nagmaal gebruik)
Aan die hand van Eksodus 16:9-18 en Psalm 105:40-41 (gebruik ook Joh 6:32-35) kan die nagmaal as geloofsversterkende
kos uit die hemel verduidelik word. In aansluiting by die preek moet die sentrale plek van Christus as die
brood en die water van die ewige lewe beklemtoon word.
Instelling en kommunie
Wanneer 1 Korintiërs 11:23 en 25 as instellingswoorde gebruik word, kan die gedeelte in die klassieke
nagmaalformulier wat daarop volg, gebruik word om die "voedingswaarde" van die nagmaal verder te verduidelik.
Die sentraliteit van Christus moet weer eens beklemtoon word. Ook hier moet verstaanbaar met die kinders gepraat
word.
UITSENDING
Bulletin (en voorbidding)
Kindertyd: Vergelyk die inleidende opmerking oor die betrokkenheid van kinders by die voorbidding vir ’n sendeling
wat deur die gemeente ondersteun word.
Sang
Gesang 222:4/NSG 186:4.
Seën
Jesus het gesê: "En onthou: Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld."
Gesang 298:1, 2/NSG 349:1, 2.
(Die koor, ’n groep, die kerkraad of die liturg, as hy die gawe daarvoor het, kan Gesang 298:1, 2 as ’n seënbede
sing. Die liturg hou sy hande uitgesprei terwyl daar gesing word, of slegs met die laaste strofe.)
Tema
Om onvoorwaardelik vir Christus te lewe en te sterwe.
Oor die Filippensebrief in die algemeen
Die brief is gerig aan "almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort" (1:1). Filippi was die eerste stad
op Europese bodem waar Paulus op sy tweede sendingreis, vergesel deur Timoteus, Silas en Lukas, ’n Christelike
gemeente gestig het. Lukas verhaal die merkwaardige bekering van Lidia en die tronkbewaarder wat daar
plaasgevind het, sowel as die mishandeling en gevangeneming van Paulus en Silas (Hand 16). Dit is byna seker
dat Paulus die gemeente weer op sy derde sendingreis besoek het (Hand 20; vgl 2 Kor 2:16; 7:5) aangesien Filippi
op die hoofweg tussen Klein Asië, Griekeland en Rome gelê het.
Daar het ’n baie innige verhouding tussen Paulus en die gemeente bestaan. Hulle was immers die eerstelinge van
die oes wat sy arbeid in Masedonië opgelewer het. Die gemeente het hoofsaaklik uit nie-Joodse Christene bestaan.
Hulle was min en arm, maar behulpsaam en vrygewig. By verskeie vorige geleenthede het hulle geldelike bydraes
aan Paulus gestuur (4:15; 2 Kor 11:9) en nou weer gedurende sy gevangenskap (4:10). Die aanleiding tot die skryf
van hierdie brief was ’n geskenk van die gemeente wat deur Epafroditus na Paulus in die gevangenis gebring is
(4:14, 18; 2:25). Hy wil sy dank en vreugde vir hierdie liefdegawe oordra. Epafroditus se terugkeer na die gemeente,
nadat hy van ’n ernstige siekte herstel het (2:26-28), was die geleentheid om nie slegs die gemeente vir die
liefdegawe te bedank nie, maar hulle ook in te lig oor sy omstandighede in die gevangenis en sy hofsaak wat op
die punt was om afgehandel te word (1:12-26). Hy kon hulle ook sekere pastorale vermanings gee en hulle
aanspoor tot eenheid, nederigheid en volharding (1:27-30; 2:3-5; 3:2, 3; 4:1, 2).
Daar was van die vroegste tye af (Clemens Romanus, Ignatius, Polikarpos, Irenaeus, Clemens Alexandrinus,
Tertullianus, ook Marcion) geen twyfel oor die egtheid van hierdie brief en dat dit van Paulus is nie. Die brief, een
van Paulus se sogenaamde gevangenisbriewe, noem egter nie die stad of gevangenis waarin die apostel hom
bevind het nie. Volgens Handelinge was Paulus ’n gevangene in Filippi (16:23), Jerusalem (21:33 ev), Sesarea
(23:25) en Rome (28:16). Van 2 Korintiërs 6:5 en 11:23-24 kan afgelei word dat hy moontlik ook in Efese in die
gevangenis was. Sy verblyf in die gevangenisse van Filippi en Jerusalem was te kort om tyd toe te laat vir die skryf
van briewe. Sekere teoloë (vanaf die 18de eeu) argumenteer sterk ten gunste van Sesarea en ander ten gunste
van Efese as skryfplekke van die briewe, maar die tradisie van die kerk en die konsensus van die meerderheid
Skrifverklaarders identifiseer steeds die gevangenis in Rome as die plek waar die apostel hom bevind het. Volgens
Handelinge 28:16, 30 en 31 was Paulus twee jaar lank in Rome in huisarres, tot met sy appèlverhoor voor die keiser.
Die uitdrukkings "keiserlike wag" (1:13) en "die huis van die keiser" (4:22) bevestig sy verblyf in dié stad, want dit is
hier waar die keiserlike wag van 9 000 man gevestig was en waar hulle en die lede van die keiserlike huishouding
terdeë bewus geword het van Paulus en sy gevangenskap "ter wille van Christus".
Die inhoud van die brief dui daarop dat Paulus waarskynlik nie meer in relatiewe vryheid in huisarres verkeer het
nie, maar in die gevangenis self aangehou is. Van 1:7-12 kan afgelei word dat sy verhoor na die einde se kant toe
gestaan het en dat hy gewag het op die uitspraak, wat vryspraak (1:19, 20) of die doodvonnis (2:17) kon beteken.
Hy het reeds voor die tribunaal verskyn en dit was bekend by baie dat die gevangene in aanhouding was as "gesant
PREEKSTUDIE - FILIPPENSE 1:21-30
van die evangelie" (Ef 6:20). Die brief is in ’n streng persoonlike trant geskryf sonder leerstellige opset of polemiese
benadering. Dit het ’n openhartige en hartlike toon, ’n ongekunstelde vorm, ’n opgeruimde stemming in
verdrukkende omstandighede en ’n praktiese inslag – in só ’n mate dat dit alle ander briewe van die apostel oortref.
Dit is ’n brief waarin hy sy hart uitstort teenoor die gemeente wat hy liefhet. Die hoofgedagte van die brief is blydskap
en dankbaarheid. Woorde wat hierdie emosies beskryf, kom sestien maal voor. Selfs gevangenskap en
kwaadwilligheid deur teenstanders kon nie sy blydskap in die Here demp nie (vgl 1:18; 2:2; 3:1; 4:1; 4:4). Sy groot
strewe was om Christus te ken in lewe en in sterwe (3:10-14). Die brief aan die Filippense is ’n verslag van Paulus
se ervarings in hierdie proses en ’n aansporing aan die gemeente om ook dié kennis na te strewe en daarvolgens
te leef. Die hoogtepunt van hierdie kennis is opgevang in die "Christuslied" (2:5-11) wat die gemeente in aanbidding
voor die Here, Christus Jesus, moet laat kniel.
Teks en konteks
Dit maak nie heeltemal sin om die tekskeuse van die Leesrooster in beskouing te neem sonder om verse 12-20,
wat dit voorafgaan en in perspektief stel, daarby te reken nie. Want verse 21-26 is eintlik die slotsom waartoe Paulus
kom ná ’n geestelike beoordeling van sy ervarings van verdrukking en teenstand.
Epafroditus het Paulus blykbaar meegedeel dat die gemeente in Filippi bekommerd was daaroor dat sy
gevangenskap sy verkondiging van die evangelie sou belemmer. Hy verseker hulle dus van die teendeel (v 12). Wat
met hom gebeur het (letterlik: "die dinge omtrent my") het juis die evangelieverkondiging bevorder. Hy noem twee
opvallende resultate. Die eerste is dat die hele keiserlike wag (wat uit 9 000 soldate bestaan het) en al die ander
(waarskynlik die lede van die keiserlike huishouding met wie Paulus in aanraking gekom het) tot die besef gekom
het dat hy nie weens die pleeg van ’n misdaad in die gevangenis is nie, maar ter wille van Christus (v 13). Hulle kyk
dus met ander oë na hom en die suggestie is daar dat hulle nie afwysend teenoor sy boodskap staan nie. Die
tweede resultaat is dat Paulus se optrede en vrymoedigheid vir Christus terwyl hy in boeie is, die ander gelowiges
tot groter Godsvertroue en onbevreesde verkondiging van die evangelie aanspoor (v 14). In die skeptiese Romeinse
hoofstad was dít geen maklike taak nie.
Hierdie nuwe vrymoedigheid was vir Paulus nie ’n ongemengde vreugde nie. Alhoewel baie gelowiges uit liefde vir
hom ingeskakel het by sy entoesiastiese verdediging van die evangelie (v 16), was daar ander wat op hom jaloers
was (waarskynlik weens sy toenemende invloed) en iets teen hom gehad het (v 15). Paulus was beslis nie gewild
by die Judaïserende Christene nie, want hy het hulle standpunt dat gelowiges verplig is om die wet van Moses (met
klem op die besnydenis) te onderhou, sterk teengestaan – soos sy brief aan die Romeine, waarmee hulle
ongetwyfeld bekend was, getuig. Daarom sou hulle Christus (saam met wetsonderhouding) met groter ywer
verkondig om Paulus se invloed te neutraliseer en sy gemoed in gevangenskap te besweer (v 17). As dit hulle doel
was, het hulle nie daarin geslaag nie, want vir die apostel gaan dit nie om homself nie, maar om Christus en sy
verkondiging op allerhande maniere – en dit vervul hom met blydskap (v 18a; vgl 2 Kor 4:5). ’n Verdere rede tot
blydskap is die wete (oortuiging) dat alles wat hy hier beskryf tot sy vrylating (redding) sal lei, veral ook omdat die
Filippense vir hom bid en die Heilige Gees hom onderskraag in antwoord op hulle gebede (vv 18b, 19). Hy het ’n
vurige verlange (’n uitgestrekte nek in afwagting) om in die omstandighede waarin hy verkeer niks te doen waaroor
hy hom hoef te skaam nie (deur bv toe te gee aan neerslagtigheid en moedeloosheid of om op te hou getuig). Sy
wilsbesluit is om, soos in die verlede, sonder enige inhibisies of terughouding en deur sy hele wese (liggaam, siel
en gees) Christus te verheerlik deur lewe (die manier waarop hy lewe) en dood (die manier waarop hy sterwe) (v
20).
Dit bring ons by die tekskeuse van die Leesrooster. Filippense 1:21-30 val uiteen in twee perikope. Die eerste
perikoop (vv 21-26) begin met die sleutelteks (v 21) wat ook gesien kan word as die grondstelling waarop die hele
brief rus en die apostel se getuienis van hoe dit hom persoonlik raak. Die tweede perikoop (vv 27-30) is ’n beroep
op die Filippense om ook hulle lewe in ooreenstemming met die evangelie van Christus te bring volgens die
voorbeeld wat Paulus vir hulle gestel het.
Die sleutelteks – vers 21
Paulus is gedetermineerd dat Christus deur sy hele lewe uitgestraal sal word. Daarom sê hy: "om te lewe is vir my
Christus" (vgl Gal 2:20; Kol 3:4). Kenneth Wuest stel dit só: "Christ is Paul’s life in that He is that eternal life which
Paul received in salvation, a life which is ethical in its content and which operates in Paul as a motivating, energizing,
pulsating principle of existence that transforms Paul’s life, a divine Person living His life in and through the apostle.
All of Paul’s activities, all of his interests, the entire round of his existence is ensphered within that circumference
which is Christ." Die woorde "om te sterwe" (meer korrek – "om te gesterf het") verwys nie na die dood as
gebeurtenis nie, maar na die konsekwensies van die dood. Die wins bestaan nie in die dood self nie, maar in wat
dit teweegbring, naamlik om in die onmiddellike teenwoordigheid van Christus in heerlikheid te wees. In lewe en
dood is Christus dus die voorwerp op wie Paulus se bestaan gefokus is.
Die konsekwensies vir Paulus
Vers 22: Paulus het dus geen vrees vir die doodsvonnis nie, want dit sal vir hom bevryding bring van die laste van
die deur sonde gebroke aardse bestaan (vgl 2 Kor 5:2-5). Tog verseker hy die Filippense dat hierdie
"doodsverlange" nie ontvlugting van sy roeping is nie. Want as hy vrygelaat sou word, sou hy kon voortgaan om sy
apostoliese taak te vervul en die vrug daarvan te geniet (vgl Hand 20:24). Dit is eintlik vir hom om ‘t ewe wat die
uitspraak van die keiserlike hof sal wees: vryspraak of die dood. Hy het geen ervaringskennis om ’n keuse te kan
maak nie.
Vers 23: In sy gemoed is daar egter twee ewe sterk drangredes in stryd met mekaar, naamlik sy verlange om voort
te leef met vrugbare arbeid, en sy verlange om te sterf en met Christus te wees. Laasgenoemde is ’n baie sterk
verlange, want die heengaan is ’n losmaak van alles wat gebroke, onvolmaak en sondig is en die onmiddellike
toetrede tot die liggaamlike teenwoordigheid van Christus in heerlikheid en volmaaktheid. Vir Paulus is hierdie opsie
verreweg die beste en as hy net aan sy eie belange gedink het, sou hy dit sekerlik uitgeoefen het.
Vers 24: Maar hy kan hom nie los maak van die belange van sy gemeentes en spesifiek van die Filippense nie.
Daarom word hy as ‘t ware teruggeruk uit sy doodsverlange deur die besef dat dit in hulle belang noodsaaklik is dat
hy sal bly lewe. Hulle het hom nog baie nodig, soos klaarblyklik deur Epafroditus aan hom oorgedra is. "Bly lewe"
(letterlik – "in die vlees") dra die gedagte om aan die teenswoordige lewe met al sy gebreke vas te hou en ’n
verganklike liggaam te aanvaar (Wuest).
Vers 25: Paulus is oortuig van die behoefte van die gemeente aan sy verdere bediening nadat hy dit in sy gemoed
uitgemaak het. Hy het tot sekerheid gekom dat hulle hom meer nodig gehad het as wat hy dit nodig gehad het om
in daardie stadium hemel toe te gaan. Die wete het dus by hom posgevat dat as die Filippense sy bediening so
nodig gehad het, dit ’n teken was dat hy nie sou sterf deur die uitspraak van die keiser nie, maar dat hy vrygelaat
sou word. Die uitwerking van dié vrylating op hulle geestelike lewe sou wees dat hulle geloof sou groei en dat hulle
hulle geloof met blydskap sou beoefen.
Vers 26: Hierdie keuse van Paulus is uiteindelik weer ’n keuse vir Christus om wie die lewe en sterwe vir hom gaan.
Die apostel het ’n positiewe verwagting dat hy weer by die Filippense gaan uitkom. By daardie geleentheid sal "wat
hom oorgekom het" (v 1) en sy vrylating in antwoord op hulle gebede (v 19) die onderwerp van hulle gesprekke
wees en dit sal aan hulle oorvloedige rede gee om Christus Jesus oor Paulus te prys. Prof Jac J Müller stel dit só:
"Not Paul nor the church would receive praise for it, but ground and reason for praise would be in Christ, because
His cause would once more be advanced, and His Gospel again be proclaimed among them by the apostle."
Beroep op die Filippense
Vers 27: Die woorde "hoofsaak is" (OAV – "alleenlik") verbind Paulus se stelling dat hy oortuig is dat hy vrygelaat
sal word omdat die Filippense sy bediening nodig het met sy beroep op hulle dat hulle lewenswandel in
ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. Die woord "lewenswandel", wat letterlik "politieke lewe"
beteken, hou verband met hulle burgerskap as inwoners van Filippi. Dié stad was ’n Romeinse kolonie en in daardie
hoedanigheid ’n Rome in die kleine. Romeinse burgerskap met sy voorregte en verpligtinge was ’n trotse besit wat
gestalte gekry het in die openbare lewe en lojaliteit van die burgers. Paulus skryf nou uit die Romeinse hoofstad na
’n Romeinse kolonie, as ’n Romeinse burger aan Romeinse burgers, en gebruik hulle politieke burgerskap as ’n
treffende metafoor vir die voorregte en verpligtinge van hulle hemelse burgerskap (vgl 3:20). Die gelowiges word
daaraan herinner dat hulle ’n kolonie van die hemel is en word vermaan om soos hemelburgers op aarde te lewe.
Hulle burgerskapkode is die evangelie van Christus en hulle moet hulle Koning verteenwoordig deur sy lewe in hulle
lewenswandel te reflekteer en hulle aan sy saak toe te wy. Die woorde "in ooreenstemming met" beteken letterlik
"om dieselfde te weeg". Die "burgerlewe" van die gelowiges in Filippi moet dus ewe swaar weeg as die eise wat die
evangelie daaraan stel; woord en lewe moet ooreenstem.
Paulus se fisieke teenwoordigheid of afwesigheid moenie hierop ’n invloed hê nie. Indien die gelowiges se lewenswandel
in ooreenstemming met die evangelie is, sal hy wel die vrug daarvan sien of hoor. Hulle sal in
eensgesindheid (in een gees, soos bewerk deur die Heilige Gees) vas staan (dws eenparig in hulle verankerdheid
in die evangelie en in hulle onwankelbaarheid in die handhawing daarvan) en eenstemmig (een van siel) saam stry
(soos ’n span Griekse atlete) vir die geloof van die evangelie, dit is die geloof in Christus en sy verlossingswerk wat
deur die evangelie verkondig word.
Vers 28: In die stryd of wedloop van die geloof in die evangelie het die gelowiges in Filippi gedugte teenstanders
wat hulle kan laat terugdeins soos ’n verskrikte perd. Daar was heidense Grieke in Filippi wat toegewyde
afgodedienaars was. Hulle sou ’n geloof wat afgodediens verbied sterk teenstaan (vgl die oproer in Efese, Hand
19:21-40). Die gelowiges laat hulle egter geensins deur hierdie teenstanders afskrik nie en hierdie feit is vir die
teenstanders ’n teken van hulle ondergang (die stryd verloor) en van die redding van die gelowiges. Dit is God wat
hierdie moed as teken gee en die redding bewerk, en nie die meriete van die gelowiges nie.
Vers 29: Die oorsprong hiervan is die genadegawe van God aan die gelowiges ter wille van Christus. Die genadegawe
is tweeledig, naamlik die vermoë om in Christus te glo, en die vermoë om vir Hom te ly. Geloof is nie eie aan
die natuurlike mens nie, maar word deur God in hom bewerk. So ook die vermoë om vir (ook ter wille van) Christus
te ly. Dit moet duidelik wees dat gelowiges nie kan deel in Christus se plaasvervangende lyding aan die kruis nie.
Wat Paulus hier bedoel, is Christus se lyding vir geregtigheid tydens sy aardse omwandeling in vernedering. Hy sê
in Kolossense 1:24: "Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van
Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk." Die prediking van
die evangelie wek die vyandskap van die wêreld. As die gelowiges dus ly ter wille van die geregtigheid, sit hulle die
werk van hulle "afwesige" Here voort, nie slegs deur die evangelie wat Hy aan hulle toevertrou het te verkondig nie,
maar ook deur vir en ter wille van Hom te ly. Die vooruitsig om te ly kon die Filippense met vrees vervul, maar as
hulle lyding in die regte perspektief kon sien, sou hulle agterkom dat dit ’n genadegawe van God is in plaas van ’n
euwel.
Vers 30: In hierdie vers bring Paulus die twee perikope bymekaar. Die gelowiges in Filippi se stryd is soortgelyk aan
die stryd wat hy saam met hulle in Filippi gestry het en waarvan hulle nou uit sy brief en van Epafroditus verneem.
Die woord "stryd" is ’n vertaling van die Griekse woord vir ’n atletiekbyeenkoms soos die Olimpiese spele. "Life is
in reality an Olympic festival. We are God’s athletes to whom He has given an opportunity of showing what stuff we
are made of" (aangehaal deur K S Wuest). In latere Grieks is dié woord gebruik vir ’n innerlike stryd. Paulus gebruik
dit om sy eie lewe en dié van die Filippense, te midde van hulle onvermoeide arbeid vir die Here Jesus, te beskryf
.
Preekvoorstel
Geen ander geskrif deur of oor Paulus gee so ’n helder beskrywing van die apostel se verhouding tot die Here Jesus
as die Filippensebrief nie. Jesus se woorde aan sy dissipels in Johannes 15:1-5 het in Paulus se lewe ’n werklikheid
geword. Hy gebruik die woorde "in Christus" keer op keer om aan te dui dat hy soos die wingerdloot in sy Here
gewortel is, en in Galasiërs 2:20 getuig hy dat Christus in hom leef. Dit is dieselfde verhouding wat hy anders
formuleer wanneer hy aan die Filippense sê dat om te lewe vir hom Christus is en om te sterwe vir hom wins is
(1:21). Hy is ook nie tevrede met wat hy reeds bereik het nie. Hy is bereid om alles prys te gee wat eers vir hom ’n
bate was om Christus as enigste bate te verkry (3:8, 9). Sy lewenstrewe is om Christus te ken as opgewekte
lewende Here en om aan sy lyding en sterwe deel te hê deur die aflegging van die self (3:10). Vir Paulus is die
opstanding uit die dood die kern van die evangelie (Hand 17:31; 24:21). Jesus se sterwe bewerk die opstanding tot
die lewe en wie deur selfaflegging met Christus sterwe, word deur Hom opgewek tot ’n nuwe lewe in hierdie lewe
en ná die dood. Daarom het Paulus geen doodsvrees nie, want hy lewe in eenheid met Christus in lewe, lyding en
dood, in die lewende ervaring van die geestelike opstanding uit die sondelewe en die seker verwagting van die
liggaamlike opstanding uit die dood. In alles is hy met Christus wat sy lewe vir hom afgelê het (Gal 2:20). Soos
Christus vir hom bestaan, bestaan Paulus vir Christus.
Paulus bekommer hom glad nie oor die uitspraak van die keiser in sy saak nie. ’n Vryspraak of ’n doodvonnis sal
geen verskil maak aan sy verhouding met Christus nie. Hy bestaan in en vir Hom, of hy nou lewe en of hy sterf. Wat
verskil, is die manier van sy bestaan: Terwyl hy lewe, bestaan hy in swakheid vir Christus deur die geloof te midde
van die wêreld wat in sonde geval het; en wanneer hy gesterf het, bestaan hy in die opstandingskrag van Christus
deur die aanskouing van en deelname aan sy heerlikheid. Om hierdie twee bestaanswyses teen mekaar op te weeg
om ’n keuse te maak, is nie vir Paulus maklik nie. As hy net aan homself en die vervulling van sy eie hartsbegeerte
sou dink, is die keuse voor die hand liggend. Hy begeer die bestaanswyse met Christus ná die dood, want daar is
niks beters as dít nie – ’n ewige lewe sonder sondekorrupsie, vervolging, onreg en lyding. Maar dan dink hy aan die
belange van die gelowiges in Filippi wat deur sy vrugbare arbeid na die Here Jesus gelei is. Hulle het hom en sy
voortgesette bediening nog baie nodig. Om hulle te bedien is nie in stryd met sy toewyding aan Christus nie.
Inteendeel, om hulle te bly bedien, is juis inniger toewyding in gehoorsaamheid aan die roeping wat hy van die Here
Jesus ontvang het. Daarom kies hy om te bly lewe met al die offers daaraan verbonde.
Paulus het ernstige oorweging geskenk aan die gelowiges in Filippi se behoefte aan sy bediening en hy het tot die
vaste oortuiging gekom dat hulle nood die seker rede is waarom hy in die lewe sal bly. Dit was tipies van die apostel.
Hy het, in navolging van sy Meester, ’n gekruisigde lewe gelei, met die self op die altaar, terwyl hy altyd sy regmatige
begeertes eenkant toe geskuif het sodat hy ander kon dien. Hy verseker dus die Filippense dat hy op aarde by hulle
sal bly omdat sy werk nog nie klaar is nie. Sy werk is deur Christus aan hom opgedra en die dienskneg van die Here
is "onsterflik" totdat sy werk voltooi is. Omdat sy bediening daaruit bestaan dat hy, soos met die Korintiërs, met hulle
oor niks anders sal praat nie as oor Jesus as die Christus en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:2), sal die
Filippense oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor Paulus se bediening te prys. So is om te lewe vir hom
Christus.
Die rykste vrug wat hierdie bediening van Paulus kan oplewer, is dat die lewenswandel van die Filippense in ooreenstemming
sal wees met die evangelie van Christus wat hy met woord en daad aan hulle verkondig het. Hy het
hulle baie lief, maar hy bind hulle nie aan homself nie maar aan Christus. In ooreenstemming met die gebed van sy
Meester (Joh 17:20-23) vermaan hy hulle om in eenheid en eensgesindheid vas te staan op die waarheid van die
evangelie en om te stry vir die geloof in Christus waartoe die evangelie hulle en alle mense oproep. Hulle moet hulle
nie deur die teenstanders laat afskrik nie, of dit nou die heidense afgodedienaars is wat vyandig gesind is teenoor
die geloof wat alle afgodediens veroordeel en of dit die "mense van die besnydenis" is wat die redding deur Christus
afhanklik wil maak van die beoefening van die besnydenis en die handhawing van die wet van Moses. Hulle
standvastigheid sal God se teken wees dat die teenstanders sal ondergaan en dat die gelowiges gered sal word.
Maar dit is nie vry van geloofsbeproewing en lyding vir die geregtigheid nie. Daarom is dit God se genadegawe dat
hulle bevoorreg is om in Christus te glo en vir Hom te ly. So kom hulle en Paulus by mekaar uit in hulle strewe om
Christus in lewe en sterwe te verheerlik.
Die teksgedeelte van die Leesrooster rig op ’n aangrypende manier ’n uitdaging aan die Paulusse en Filippense van
ons dag, dit wil sê die bedienaars en gemeentelede van die kerk. Dat Christus, wie se liggaam die kerk geroep is
om te wees, nie altyd deur die liggaam as Hoof en Heer gehandhaaf word nie, is ’n tragiese feit. Stagnasie en
doodsvrees, kleingeloof en wankelmoedigheid, onvrymoedigheid en terugdeinsing van lyding vir die geregtigheid
het groot dele van die kerk in hulle greep. Daar sal egter skouspelagtige verandering kom as die gees van Paulus
en die gelowiges in Filippi deur die Heilige Gees in die harte van bedienaars en lidmate bewerk word. As almal met
oortuiging kan bely: "Om te lewe is vir my Christus en om te sterwe is vir my wins," en die konsekwensies van hierdie
belydenis in hulle daaglikse lewe kan verwerklik in ooreenstemming met die woorde van die teksgedeelte, sal
bedienaars en lidmate die Here Jesus Christus prys oor die werk wat Hy in die lewe van elkeen gedoen het. As
Paulus vandag in ons midde sou verkeer en ’n woord tot die kerk moes rig, sou hy in alle waarskynlikheid die woorde
van Galasiërs 4:19 gebruik het: "My kinders, ek verkeer van voor af in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle
gestalte kry." Laat ons by hom aansluit vir mekaar.
Bibliografie
Barnes, Albert. Epistle to the Philippians (deel van kommentarereeks). Müller, Jac J 1955. The Epistles of Paul to
the Philippians and to Philemon. Wuest, Kenneth S 1945. Philippians in the Greek New Testament.