Sien raak
wanneer ander mense swaarkry en help hulle. Tel hulle kruis op jou skouers en
dra dit vir hulle. Moenie dat hulle alleen met hulle probleme, verpligtinge,
skulde en ladings worstel nie. So doen ‘n mens presies wat Christus van jou
verwag.
Teks en
konteks
Paulus het
geleef in ‘n wêreld wat gedomineer is deur ‘n orale kultuur. Dit was ‘n
pre-industriële, pre-drukkuns en pre-tegnologiese wêreld waar teologiese dogmas
nie eintlik ‘n rol in godsdienssake gespeel het nie.
Godsdiens
het nie (soseer) te doen gehad met sekere innerlike oortuigings of ‘n sisteem
van betekenis oor God nie, maar is veel eerder gemotiveer deur ander behoeftes
as suiwer godsdiensbehoeftes, soos die voorsiening in sosiale en persoonlike
behoeftes van vrees, nood, tekorte en bedreigings deur allerhande magte. Vir
funksionering en voortbestaan was godsdiens afhanklik van hierdie sosiale
verbande.
Die vraag
ontstaan nou: Hoe het die gemeente van Galasië binne so ‘n vreemde wêreld met
sy eiesoortige sosiale strukture en kulturele patrone daaruit gesien? En
waaroor gaan dit regtig in hierdie brief?
Sedert die
Reformasie is Paulus se brief aan die Galasiërs gebruik om te sê dat ‘n mens
nie op grond van die wet of werke gered word nie, maar slegs deur die geloof.
Alhoewel dit ‘n belangrike geloofsbeginsel, ook vir Paulus is, wil dit lyk of
dit nie regtig die probleem is wat hy in sy brief aan hierdie gemeente wou
aanspreek nie.
Hierdie
brief het eintlik nooit oor enige (swaar) teologiese kwessies gegaan nie, maar
oor die feit dat sy gesag as apostel onder verdenking was. Paulus was in
konflik met opponente hieroor. Die aard van die konflik was nie suiwer
teologies of dogmaties van aard nie, maar eerder ingebed in die
sosiaal-religieuse.
Om
Galasiërs reg te lees, moet ‘n mens bewus wees van die feit dat daar heelwat
huiskerke in daardie gemeente was. Dit het bestaan uit die hoof van die
spesifieke huishouding, sy vrou, kinders en slawe, selfs sy sakekollegas en
ander mense wat op die een of ander wyse afhanklik van so ‘n huishouding was.
Die status van die hoof van so ‘n huiskerk het afgehang van hoeveel mense hy
onder sy sorg kon neem.
Verder was
die hoof van so ‘n huiskerk baie outoritêr. Hy het sy keuse van sekere
godsdienstige tradisies afgedwing op al die lede van daardie huiskerk. Briewe
is byvoorbeeld geadresseer aan die hoofde van sulke huiskerke en hulle was ook
in die meeste gevalle welgesteld.
Bekering
het in daardie tyd nie eintlik beteken dat ‘n individu sy hart verander het
nie, maar eerder dat hy deel van ‘n sekere sosiale struktuur geword het. Eers
dan kon hy deelneem aan die aktiwiteite van die huiskerk. So is die boodskap
van die evangelie van Christus versprei deur huishoudings wat tot bekering
gekom het.
Jy kon ook
nie jou lidmaatskap van die een kerk na die ander oordra soos ons dit vandag
ken nie. Wanneer jy vertrek het uit ‘n sekere area, moes jy eers weer toegang
tot ‘n sosiale struktuur kry en dan is jy op grond daarvan toegelaat tot ‘n
huiskerk.
‘n Individu
het dus eintlik net in groepsverband tot sy reg gekom. Hy het sy identiteit,
selfwaarde en posisie gekry van die groep waarvan hy deel geword het en nie
eintlik op grond van sy eie oortuiging of bekering nie. Daarom was bekering
eintlik ‘n skaars ding, en as dit gebeur het, was dit eerder deur die
inkorporering in ‘n groep.
Paulus het
selde op die markpleine en straathoeke bekeringspreke gelewer. Hy moes kontak
maak met die hoofde van die verskillende huishoudings om toegang tot daardie
inwoners te verkry. En dikwels moes hy wondertekens verrig sodat hulle in hom
as Godsman kon glo.
Hy was
verder ook ondergeskik aan die hoof van die huiskerk wanneer hy toegang verkry
het. Die feit dat hy soms wonders gedoen het, het tog eer en status aan hom
verleen. Maar hy moes sodanig optree dat die mense sy boodskap glo sonder dat
hy by die hoof van die huiskerk probleme optel. Hy moes deurgaans die hoof
respekteer en volgens sekere huisreëls optree.
Paulus se
gesag as apostel het onder verdenking gekom omdat daar ander mense toegang tot
die huiskerke verkry het wat ‘n evangelie in stryd met syne uitgedra het.
Hierdie mense het van die Jode wat ‘n Christelike lewenstyl verkies het omdat
hulle deel van ‘n Christelike huiskerk geword het, verwag om steeds ‘n lewe
volgens die Joodse identiteitsmerkers in te rig. Paulus het dit natuurlik ten
sterkste afgekeur.
Hy het in
sy brief aan die Galasiërs alles gedoen om mense te oortuig dat hy ‘n man van
God was, dat hulle sy boodskap moes glo en mense wat enigiets anders verkondig,
moes ignoreer.
Hierom is
hierdie brief eintlik baie tydsgebonde. Dit was bedoel vir spesifieke mense
binne ‘n spesifieke situasie. Natuurlik het dit vandag nog steeds waarde vir
ons (soos hieronder sal blyk), maar dis belangrik dat ons hierdie brief binne
die regte sosio-kulturele raamwerk plaas om dit korrek te verstaan.
In hierdie
laaste hoofstuk van Paulus aan die Galasiërs tree hy enersyds baie tipies op en
andersyds onortodoks. In tipiese Pauliniese trant kry ons hier te doen met
evangeliese lering en wyshede en konkrete morele vermaning (Gal 6:1-10;
vergelyk ook 1 Tes 5:12-22). Die onortodokse rakende Paulus in hierdie gedeelte
lê daarin dat hy terugkeer na temas wat hy vroeër in die brief reeds
aangespreek het en dan op grond daarvan polemies en selfs bytend sarkasties
raak om vir eens en altyd sy posisie en status as apostel te verdedig (Gal
6:11-17).
In die
eerste ses verse van hierdie hoofstuk fokus Paulus op die gelowige se
verantwoordelikheid teenoor sy medemens – ons moet mekaar se laste dra. Om
getrou aan onsself en die evangelie te wees, moet ons bereid wees om goed te
doen aan ander mense. Dit mag nie net vir die gelowige oor vormgodsdsiens gaan
nie, maar dit moet oor daadwerklike toewyding aan God en ons medemens gaan. Ook
hulle wat in die een of ander sonde verval het, moet in ‘n gees van
sagmoedigheid reggehelp word. Die manier waarop ons dit doen, is belangrik.
Doen dit op so ‘n manier soos jy graag sou wou hê iemand jou met jou las moet
help!
Baie keer
dink ‘n mens jy kan nie iemand anders se las dra nie, want jy self gaan gebuk
onder ‘n swaar las. Werk dit regtig so? Maak jou las dit vir jou onmoontlik om
iemand anders te help?
In hierdie
opsig dink ek altyd terug aan my kinderdae toe ek ‘n swaar emmer water vir my
pa moes aandra. Ek het skeef-skeef aangesukkel. Die emmer het kort-kort teen my
knie gekap en ek het water gemors. Ek was ongebalanseerd. Ek het soms van die
water uitgegooi om die emmer ligter te maak, maar dit het ook nie juis gehelp
nie.
Al wat
regtig gehelp het, was om nog ‘n emmer water op te tel en die twee emmers op
een slag te dra. Op dié manier was jy meer gebalanseerd, het jy baie makliker
geloop en niks water gemors nie.
In elkeen
se lewe gebeur dit soms dat die laste van die lewe net aan die een kant van die
weegskaal ophoop. Dit trek ‘n mens van balans af. Maar net soos die emmer
water, help dit nie om die oortollige gewig aan die een kant weg te neem nie.
Baie keer kan jy nie. Dit is beter om nog laste op die ander kant van die
weegskaal te plaas. Dan raak jou lewe weer gebalanseerd. Deur met ander woorde
die gewig te verdubbel, het jy jou las ‘ligter’ gemaak.
Hoe dikwels
dra ek en jy ons nie dood aan ons eie laste nie? Loop ons nie soms skeef onder
ons kruis, ons verdriet, ons teleurstellings en krisisse nie? En dit maak dat
ons soms balans verloor. Hoe kan ons hierdie laste ligter maak of balanseer?
Deur die laste van ons vriende of die mense rondom ons te dra. Deur iets vir
iemand rondom jou te beteken. As jou kruis jou begin skeef trek, tel jou
medemens se kruis ook op en so sal jy perspektief kry en verligting ervaar.
Baie keer
wil ons ook nie iemand se las dra nie, want ons sê so gou die spesifieke
persoon het self die probleem oor hom
of haar gebring. Ons moet versigtig wees om so te redeneer. In die storie van
die barmhartige Samaritaan vertel Jesus van ‘n man wat daardie uiters
gevaarlike pad tussen Jerusalem en Jerigo gestap het. As daar een man was wat
moes geweet het hy gaan aangeval word, is dit hy. Die priester en Leviet het
verbygestap, maar ‘n Samaritaan het hom jammer gekry en gehelp. Hy het nie die
man verwyt vir die dom ding wat hy gedoen het en hom daarom aan sy ellende
oorgelaat nie, maar, so vertel Jesus self, hy het hom onvoorwaardelik gehelp en
so sy las op hom geneem.
In verse
sewe tot tien vermaan Paulus die gelowiges om goed te doen aan mede-gelowiges
maar ook aan nie-gelowiges (vergelyk ook 1 Tes 5:15). Daar is soveel bewyse van
hoe die vroeë Christene verantwoordelikheid geneem het vir die fisiese nood en
behoeftes van mekaar (Hand 2:44-45; 4:32-35; 1 Tim 5:8; Jak 1:27). Belangrik om
te onthou, is dat hierdie verantwoordelikheid teenoor alle mense, dus ook
teenoor nie-gelowiges geld (Rom 12:20; Gal 5:14).
Moderne
navorsers soos Meeks, Malherbe en Theissen het antwoorde gesoek op die vraag
waarom die vroeë Christendom so geweldig vinnig en ver versprei het. Hulle het
uitgevind dat kwessies soos armoede aangespreek is. Die vroeë Christene het ook
uitnodigings gerig aan mense op die buiterand van die samelewing, vervreemdes
het aandag ontvang en klasse ongelykheid is sover as moontlik uit die weg
geruim. Uit die navorsing van hierdie geleerdes is dit duidelik dat die vroeë
Christendom die mees dinamiese alternatief op ‘n sisteem van ekonomiese onreg
was!
Waar staan
ons in terme van Paulus se vermaning om goed te doen en ander se laste te dra?
Ek lees onlangs hoedat mense uit ‘n bepaalde gebied in een van ons groot stede
weggetrek het. ‘n Nuwe bevolking het daar ingetrek. Drie tradisioneel Afrikaanse
gemeentes het toegemaak. Van die kerkgeboue is verkoop en as Moslem tempels
ingerig. Daar is agteruitgang. Sypaadjies lyk onversorg, daar is gate in die
pad, straatkinders is oral te sien, daar is volop bedelaars, misdaad het
toegeneem, ensovoorts.
Die
interessante is dat te midde van hierdie negatiewe situasie daar ‘n bloeiende
Baptiste gemeentetjie is. Hulle het aangepas by die veranderende omstandighede.
Op hulle gronde is daar ‘n bouery. ‘n Splinternuwe saal waar straatkinders
skoolonderrig ontvang, het tot stand gekom. Vrydagaande word daar byeenkomste
gehou vir jongmense waar hulle kos vir hulle mae en siele kry. Besighede se
beursies het begin oopgaan, want hierdie gelowiges het werklik ander mense se
laste begin dra. Hulle het iets gesnap van die feit dat hulle nie onder die wet
van Moses staan nie, maar onder die wet van Christus. En dit beteken om Hom te
vergestalt en gevolglik deernis aan ander mense te betoon!
Paulus
herinner ons dan ook daaraan dat ons sal oes dit wat ons saai. Ons kan God nie
mislei nie. Hy sal ons volgens ons dade oordeel. As ons saai in die land van
selfsug, sal ons die dood oes (Rom 8:6,13; Ef 4:22-24; 2 Pet 2:12). As ons saai
op die land van Gods Gees, sal ons die lewe oes. Ons moet aan onsself en ons
belange sterf sodat Christus in ons gestalte kan kry. Soos Christus sy lewe vir
die mens afgelê het, so moet ons ook vir ons medemens leef.
Paulus
moedig ons ook aan om nie moeg te word om goed te doen nie (sien ook 2 Tes
3:13; 2 Kor 4:1,16). Dit herinner sterk aan Jesus se storie in verband met die
laaste oordeel (Mat 25:31-46). Hierin gaan dit oor eenvoudige alledaagse dade
van goedhartigheid wat ons moet doen, soos byvoorbeeld om kos, water, klere en
huisvesting te gee aan dié wat dit nodig het. Maar dit wil lyk of dit juis
hierdie ooglopende dinge is waarmee ons soms so sukkel. Miskien is dit die rede
waarom Christus daarna verwys het.
In die
slotverse van hierdie hoofstuk (11-16) maak Paulus ‘n paar polemiese opmerkings
in groot skrif, waarskynlik om die belangrikheid daarvan te onderstreep
(alhoewel daar ook ander verklarings vir die gebruik van die groot letters is).
Eerstens
vat hy sy opponente aan wat daarop aandring dat die Joodse Christene hulle moes
laat besny. Dit was volgens hom maar net om uiterlik ‘n goeie indruk te maak.
Dit was die gewilde standpunt van die tyd met die minste opoffering. Wat nog
erger was in Paulus se oë is dat hulle (dis nou die opponente) die minder
belangrike rituele wou afdwing terwyl hulle self nie die wet van Moses onderhou
het nie. Dit was inkonsekwent. Vir Paulus het sy opponente geroem oor uiterlike
dinge in plaas van die noodsaaklike geestelike dinge.
Tweedens
verdedig Paulus die evangelie van Christus en sy eie gedrag. In verse veertien
tot sestien kry ons ‘n merkwaardige samevatting van sy teologie. Die kruis
staan sentraal (14a) en hy self is
verander deur die kruisdood van Christus sodat die wêreld vir hom dood is en hy
vir die wêreld (14b; Gal 2:20). Uiterlike godsdienstige optrede beteken nie
veel nie, maar innerlike verandering en vernuwing (met gepaardgaande dade)
staan sentraal (15; 1 Kor 7:19; Gal 5:6; Rom 2:25-26). Om ‘n nuwe mens te wees
bepaal ‘n mens se identiteit voor God (16) en diesulkes sal geseën word met
vrede en barmhartigheid.
Kom ons hou
gevolglik aan om goed te doen. Dit is nie altyd maklik om ander se laste saam
met jou eie te dra nie. Dit vra opoffering en is dikwels baie dreinerend, maar
dit is wat Christus van ons vra. Terwyl ons nog tyd oor het, moet ons elke
geleentheid aangryp om goed te doen aan almal wat ons pad kruis. Ons moet ons
hart en ons hande vir diesulkes oopmaak.
Bibliografie
Craddock, F.B. (et al). Preaching through the Christian year: year C: a comprehensive commentary on the lectionary, pp. 321-328. Craffert, P.F. ‘n Herdefiniëring van Paulus se konflik in Galasië: Die brief aan die Galasiërs deur die bril van die sosiale wetenskappe in: Hervormde Teologiese Studies, pp. 859- 876. Craffert, P.F. Conflict in the congregations of Galatia: Paul’s authority under fire in: Faith, Grace, etcetera, pp. 35-43. Lowry, E.L. Living with the lectionary: preaching through the Revised common lectionary, pp. 43-51. Malherbe, A. Social aspects of early Christianity. Meeks, W. The first urban Christians. Theissen, G. Sociology of early Palestinian Christianity. Van Stempvoort, P.A. De brief van Paulus aan de Galaten, pp. 181-195. Wolmarans, H. Lewende Woorde, pp. 50-51.