Galasiërs  5:1, 13-26 (Francois Wessels)

1 Julie 2001

Derde Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste:            2 Konings 2:1-18; Psalm 16 en Lukas  9:51-62

Die wet gee die gelowiges riglyne vir die lewe

Teks

'n Mens sou kon sê dat die vryheid van gelowiges die tema is wat Paulus in Galasiërs 2-4 behandel. As die Galasiërs hulle sou laat ompraat om die wet die reg te gee om hulle toegang tot die Here of tot die kinders van die Here te laat bepaal, sou hulle juis die vryheid wat die evangelie aan hulle gee, weggee. Daarom doen Paulus alles wat hy kan om dit te verhoed. Die Galasiërs mag nie hulle vryheid weggee nie, betoog Paulus in hoofstukke 2-4.

In Galasiërs 5 gaan Paulus voort om oor vryheid te praat. Sy eerste vermaning is dat die Galasiërs nie moet toelaat dat iemand of iets hulle van hulle kosbare vryheid beroof nie. Vers 1: Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid… Ter wille van kontinuïteit sal dit nodig wees om die gemeente te herinner aan Paulus se argument in Galasiërs 2-4. Verduidelik wat dié vryheid beteken, en hoekom dit vir Paulus so belangrik was.

Paulus se tweede vermaning is dat die Galasiërs nie hulle vryheid moet misbruik nie (vers 13).

Met die eerste oogopslag lyk dit vreemd dat Paulus hier so positief oor die wet praat. Het hy dan nie juis die grootste deel van die brief tot dusver gebruik om duidelik te maak dat ons nie meer onder die toesig van die wet (staan) nie (3:25)? Is Paulus se punt dan nie juis dat Christus ons van die wet vrygemaak het nie? Weerspreek Paulus homself nie hier nie?

Tog nie. In die voorafgaande vier en 'n half hoofstukke maak Paulus duidelik dat ons nie met God versoen word deur die wet getrou na te kom nie, maar deur in Christus te glo. Ons verkry ook nie lidmaatskap van God se volk deur die wet te onderhou nie. Versoening met God en lidmaatskap van God se volk kom slegs deur ons geloof in Christus die Middelaar. Maar – en dit is die belangrike punt – die beteken nie dat die wet geen doel meer het nie.

Alreeds in 3:19 het Paulus een belangrike funksie van die wet genoem. In vers 24 (1953-vertaling) beskryf Paulus dié belangrike funksie van wet kort en kragtig: die wet was ons tugmeester na Christus toe. Deur die wet leer ons ons eie sondigheid ken. Maar behalwe hier­die ontblotende funksie het die wet ook 'n opbouende funk­sie. Dit wys ons hoe ons behoort te lewe – nie sodat ons gered kan word nie, maar omdat ons uit genade gered is en die Here graag deur ons lewe wil vereer. Dit is die twee hooffunksies van die wet – soos ons in katkisasie geleer het: 1) deur die wet is die kennis van die sonde en 2) die wet is ons reël van dankbaarheid.

Maar waarom was dit nodig om die Galasiërs hieraan te herinner? 'n Mens kan verstaan dat hulle, wat so begaan was om die wet en die besnydenis te onderhou, geneig sou wees om wetties en rigoristies te wees. Maar hoekom was dit nodig om hulle te waarsku om nie van die wet te vergeet nie?  Was hulle  probleem dan nie juis dat hulle te veel van die wet gemaak het nie?

Die antwoord hier is: die menslike natuur. Ons neig mos altyd om óf altyd na links óf na regs van die Here se pad af te wyk. As ons nie te wetties is nie, neig ons om hande uit te ruk. As ons nie swaarwigtig en hovaardig oor ons eie vroomheid is nie, is ons swaarmoedig oor ons sonde. Die Here ken ons egter deur en deur. Daarom lei sy Gees Paulus ons om teen beide sondes te waarsku: om nie op die wet in plaas van God se genade te hoop nie maar ook om nie die wet te vergeet nie.

Die gelowiges moet dus die wet hou. En as hulle bang is dat hulle nie al die punte van die Tien Gebooie sou onthou nie, moet hulle net Jesus se opsomming van die wet onthou en uitvoer: Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet die Here jou God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself."

Dit lyk nogal asof die Galasiërs dit nodig gehad het. 'n Mens is nie seker om watter rede nie, maar dit is duidelik dat, ten spyte van die beheptheid om die uiterlike rituele van die wet na te kom, daar 'n groot gebrek aan onderlinge liefde was: Galasiërs 3:15 waarsku: “Julle byt en verskeur mekaar...”

Wat ons moet verstaan, sê Paulus, is dat ons lewens deur een van twee magte beheer word – ons sondige natuur (die woord wat hier gebruik word is die Griekse woord sarx, vlees) of die (Heilige) Gees. Die 1983-vertaling het afgesien van die ou vertaling van sarx as ‘vlees’ omdat mense daardeur geneig was om sonde slegs in terme van fisiese, ‘vleeslike’ drange te definieer – byvoorbeeld vraatsug, wellus of luiheid. Sarx sluit sekerlik dié sondes in (vergelyk vers 19: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap ens), maar gaan verder. Dit sluit sondes in wat nie hulle oorsprong in my liggaam het nie, maar in my gees – byvoorbeeld afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns (vers 19) ensovoorts.

As die Galasiërs 'n heilige en aan God toegewyde lewe wil ly, het Paulus raad: hulle moet hulle lewens nie onder die beheer van die vlees (ons sondige natuur) plaas nie, maar onder die beheer van die Gees (met 'n hoofletter) – God se Heilige Gees. Die 1953-vertaling sê: "Laat ons wat deur die Gees lewe, nou deur die Gees wandel".

Konteks

In hierdie gedeelte is genoeg stof om oor die vrug van die Gees te preek. Ten einde ‘n eenheid met die vorige preke (oor dit wat die wet nie kan doen nie) te behou, stel ons egter voor om nie die fokus op die gawes van die Gees te laat val nie, maar op dit wat die wet wel en behoort te doen, naamlik om vir gelowiges ‘n riglyn vir hulle lewe te gee.

Dat die wet nie net ‘n negatiewe funksie (die ontbloting van die sonde) het nie, maar ook ‘n positiewe opbouende funksie, is deel van die Gereformeerde tradisie. Deur die wet kom nie net die kennis van sonde nie. Dit is ook ‘n riglyn vir hoe ons ons dankbaarheid aan God kan toon. Dat die wet so positiewe funksie het, word egter vandag in die teologiese debat – ook in die konteks van die NGK-familie – nie meer vanselfsprekend aanvaar nie.

In die hedendaagse debat oor Christelike etiek word die rol van die wet en van vaste voorskrifte sterk bevraagteken. In dié debat word dikwels onderskei tussen drie tipes argumente:   deontologiese argumente, wat uitgaan vanuit vaste reëls, beginsels, wette, teleologiese argumente, wat uitgaan van doelwitte, ideale, waardes, deugde en verantwoordelikheidsargumente, wat vra: wat is in ‘n bepaalde situasie die verantwoordelike keuse. Diegene wat vir ‘n teleologiese en veral vir ‘n verantwoordelikheidsetiek kies, het nie veel ruimte vir ‘n etiek waarin die wet ‘n belangrike rol speel nie.

Daar is goeie redes waarom teoloë krities is teenoor ‘n etiek van reëls en voorskrifte. Een probleem by so ‘n benadering is dat ‘n reël wat in ‘n Bybelse situasie gegeld het, dikwels uit sy konteks gelig word en as ‘n abstrakte, tydlose reël gebruik word. Die tweede rede het te doen met plaaslike omstandighede. Die NG Kerk-kultuur van die onlangse verlede was geneig tot ‘n wettiese voorskriftelikheid – en dikwels oor nietige sake soos dans, dobbel, rook, drink terwyl dit min verkeerds gevind het in ‘n politieke stelsel wat groot sosiale onreg tot gevolg gehad het. ‘n Derde minder goeie rede vir die kritiek op deontologiese etiek is dat dit onuitgesproke oortuiging dat die hedendaagse tydgees nie van voorskrifte hou nie. Verwant hieraan is ‘n vierde rede:  ‘voorskriftelik’ word dikwels verkeerdelik verstaan as ‘n sinoniem vir ‘veroordelend’. Niemand wil veroordeel nie, gevolglik is daar sterk teenkanting teenoor voorskrifte of riglyne gee.

‘n Reaksie teen alle vorme van etiese voorskrifte bring egter sy eie probleme. Een probleem is dat ‘n verantwoordelikheidsetiek en ‘n teleologiese etiek veronderstel dat mense weet wat die regte Bybelse keuse is. Dit is ‘n fout. ‘n Ma wat vir haar kind sê, “Ons kry gaste, gedra jou aan tafel”, hoef gewoonlik nie verdere voorskrifte (“Sê asseblief en dankie”, “Hou jou voete van die koffietafel af”) te gee nie. Maar dit gebeur net omdat die seun vooraf reeds baie keer voorgeskryf is om asseblief en dankie ensovoorts te sê. Natuurlik leer ‘n kind om hom te gedra nie net deur na sy ouers te luister nie, maar ook (sommige sê veral) deur ander mense dop te hou en soos hulle te maak. In hulle beskrywing van hoe kennis in gemeenskappe oorgedra word, sê die sogenaamde kennissosioloë, struktureer elke mens vir homself ‘n simboliese wêreld wat uit sy eie persepsies bestaan. Dit is ‘n simboliese wêreld (ons sou sê ‘n lewens-en wêreldbeskouing) wat hy deel met ander wat sy ervaring en kulturele omgewing deel – sy ouers, vriende, geloofsgenote ensovoorts.  (Peter Berger praat van ‘n ‘sacred canopy’.) Die persepsies is gevorm deur dit wat die mens van sy onmiddellike omgewing geleer het, bloot deurdat hy aanvaar het dat dit die vanselfsprekende reëls en reëlings is wat almal aanvaar. Selfs al het niemand ooit vir Jan gesê “Haal jou voete van die tafel af nie”, weet Jan dit is verkeerd – gewoon omdat hy grootgeword het in ‘n kultuur waar niemand hulle voete op die koffietafel gesit het nie.

Heelwat Afrikaners kan met reg sê hulle ouers het hulle nooit aangesê om rassiste te wees nie – en tog het hulle met rassevooroordele grootgeword. Hoe gebeur dit? Deurdat hulle waarneem wat rondom hulle gebeur, en hulle ouers se stilswye as bevestiging daarvan ervaar. So word kennis oorgedra, so word ons kulturele raamwerk gevorm deur dit wat so skynbaar ongesiens by ons verbygaan (witmense wat nie dieselfde toilette en kafees as swartes gebruik nie, swartes wat nie die voordeur gebruik nie ens.) – sonder dat iemand noodwendig ‘n slegte woord oor ‘n swartmens sê. Natuurlik word so ‘n proses versnel en versterk as my ouers en ander maatgewende persone sleg oor swartes praat. Vir ons diskussie is die punt egter: Selfs al word geen woord gespreek nie, word ons kennis en oordele deurentyd gevorm deur die skynbaar vanselfsprekende wat rondom ons gebeur en die stiltes wat dit bevestig. Uiteindelik is ek ‘n rassis, sonder dat Pa ooit gesê het ek moet een wees.

Wat het dit met ons morele vorming te doen? Baie. Eerstens – dit help ons verstaan dat ons morele oordele en waardes voortdurend gevorm word – selfs al word geen woord gesê nie. Dit maak ons daarop attent dat ons ons gewete en menslike natuur, ons instink, ons ‘gut feeling’, ons hart, nie te veel moet vertrou nie. Ons hart en gewete is deur ons kulturele omgewing gekondisioneer. Een van die aksiomas van die westerse kultuur wat die Bybel ernstig bevraagteken is Follow your heart. Die hart is bedriegliker as enigiets anders sê Jeremia 17:9. Vir morele leiding het ons iets buite onsself nodig. Daardie riglyn van buite onsself is die wet van die Here. Dit is ‘n ander vorm van die genade wat extra nos, van God na ons toe kom.  Daarom is Karl Barth reg as hy (teenoor die Lutherse wet/evanglie-skeiding) sê dat die evangelie soms in die vorm van die wet kom.

Die tweede ding waar dit ons help, is dat dit ons waarsku dat daar omstandighede is wanneer dit nie genoeg is om te sê 'gedra jouself’ nie. Dit mag dalk wees dat Jan so lank tussen maats gekuier het vir wie dit tweede natuur is om hulle voete op die koffietafel te sit, dat hy glad nie eers dink dat ‘gedra jou’ beteken dat hy dit nie moet doen nie. In sulke omstandighede is dit nodig om so helder en ondubbelsinnig as moontlik vir Jan te sê wat hy met sy voete moet doen. Daarom kan morele vorming nie net maar bly om te praat oor karakter en waardes nie. Daar is omstandighede dat die omringende kultuur gelowiges so beïnvloed het, dat hulle nie meer in staat is om reg van verkeerd kan onderskei nie, en waar ‘n mens nie kan aanvaar dat almal in hulle harte saamstem oor wat die waardes in praktyk beteken nie.

In so ‘n geval is dit nie genoeg om oor eerlikheid, respek vir ander, onselfsugtigheid ensovoorts te praat nie. Dan moet daar aan sulke waardes  konkrete inhoud gegee word. Dan is dit nodig dat die kerk duidelik rigting sal gee oor hoe ‘n mens eerlik is en hoe ‘n mens respek vir ander betoon. Tegnies uitgedruk: ‘n verantwoordelikheidsetiek veronderstel ‘n deontologiese etiek. Die probleem met baie NG predikante in die apartheidstyd was nie dat ons nie geweet het dat apartheid verkeerd was nie, maar dat ons verkies het om te vaag teen ‘rasse­diskrimi­nasie' en ‘rassevooroordele’ te preek, sonder om die woord apartheid te gebruik. In sulke omstandighede moet prediking eerder  konkreet, duidelik en ondubbelsinnig wees. En dis hier waar die wet en voorskrifte help, want ‘n goeie wet is konkreet, duidelik en ondubbelsinnig.

Preekstudie

Noem, voor die Skriflesing gedoen word, dat die gemeente die vorige twee weke uit Galasiërs gelees het. Herinner die gemeente dat die wet behandel is, en dat daar gewys is op twee dinge wat die wet nie kan doen nie. Die wet kan ons nie met God versoen nie.  Deur die nakom van die wet word ons nie deel van die gemeenskap van gelowiges nie. Dit behoort die gemeente te help fokus op Galasiërs 5, waar daar geskryf word oor dit wat die wet wel kan doen. Sê vooraf: “Vandag hoor ons van dit wat die wet wel vir gelowiges kan en wil doen” en lees dan Galasiërs 5.

Paulus praat in Galasiërs 5 oor die vryheid. Dit is die groot tema van die Galasiërbrief.

Die eerste ding wat Paulus in hoofstuk 5 oor vryheid sê, is dat gelowiges nie moet toelaat dat iemand hulle van hulle vryheid in Christus mag beroof nie. Dit herinner ons daaraan dat vryheid 'n kosbare saak is wat ons as Christene kan verloor. Die Bybel leer nie dat ons ons saligheid kan verloor nie. As ons in die Vader se hand is, sal niemand ons daaruit ruk nie. Ons kan egter die vreugde en vrede wat ons geloof vir ons bring, verloor. Die tragiese werklikheid is dat Christene wel hulle vryheid kan verloor. Hulle verloor nie hulle vryheid omdat die Bose dit van hulle wegvat nie (die Bose kan nie, dank die Here!) maar omdat hulle hulleself van hul vryheid ontneem. ‘n Veldwagter het eenkeer ‘n jong, beseerde wildsbok in ‘n kamp laat gesond word. Die mense het die bok so bederf dat toe die hek oopgemaak word en die bok sy vryheid teruggegee is, het die bok dit nie aanvaar nie. Hy het steeds in die kamp gebly. Nou was hy vry, maar omdat hy homself aan bande gelê het, was hy nie vry nie, maar nog net so in gevangenisskap soos toe hy ingehok was. So is dit ongelukkig dikwels met Christene. Christus het ons deur sy lewe, dood en opstanding vrygemaak van die sonde en dood. Maar dan gee ons ons vryheid weg deur nie ons vryheid te gebruik nie. Met die Galasiërs het dit gebeur. Daarom is dit die eerste ding wat Paulus aan hulle sê: Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie. Ek laat my onder ‘n slawejuk indwing as ek nie wil glo nie dat die Here my wéér – nadat ek al weer my belofte nie gehou het nie sal vergewe. Ek gee my vryheid weg as ek bly glo ander mense is nader aan die Here omdat hulle so toegewyd is. As ek vergeet dat die Here nader aan my is as wat ek ooit aan Hom kan kom, en dat dit is wat tel.

Paulus sê egter ‘n tweede ding oor die wet, wat net so belangrik is. Die gelowiges mag hulle vryheid van die wet nie misbruik nie. Die wet kan ons nie met God versoen nie. Dit kan ons nie in die hemel bring nie.  Maar dit kan ons leer om op aarde te leef – en dit is vir die Here net so belangrik. Daarom gee Hy vir ons sy wet. Wanneer Nuwe-Testamentiese gelowiges oor die wet praat, is dit egter om te belangrik om te onthou wat die wet kan doen en wat dit nie kan doen nie. In die afgelope twee Sondae het ons gesien wat die wet nie kan doen nie. Vandag kyk ons na wat dit kan en behoort te doen.

Wat behoort die wet te doen? Wat is sy werk, sy funksie? Die wet het twee hooffunksies – dit ontbloot die sonde (Rom 7:7) en dit gee vir ons ‘n riglyn om te leef. Vandag praat ons oor die laaste funksie. Die wet kan ons help. Dit help ons om te leef. In die katkisasie het ons geleer dat die wet die reël van dankbaarheid is. Wat bedoel ons daarby? Dat die wet vir ons wys hoe ons ons dankbaarheid teenoor God kan betoon vir sy genade.

In dié sin is die wet soos ‘n melodie.  Sê maar iemand het op ‘n eiland grootgeword, en het nooit geleer sing nie. Dié persoon leer God se genade ken. Hy is oorstelp van geluk, maar hy weet nie hoe om sy geluk en dankbaarheid uit te druk nie. Hy weet nie hoe om te sing nie. Hy ken geen wysie nie. As hy ‘n wysie kan aanleer, kan hy sy geluk uitjubel. Die wet is soos ‘n wysie. Ons is verskriklik dankbaar vir God se genade, maar ons weet nie mooi hoe om aan ons dankbaarheid uiting te gee nie. Daarom is die wet aan ons gegee. Dit is soos ‘n wysie – dit help ons om ons om op die regte manier vir die Here dankie te sê.

Die wet is nie ‘n slegte ding nie. Om die waarheid te sê, Paulus sê in Romeine 7:12 dat die wet heilig is, “en sy voorskrifte heilig en reg en goed”. Die wet wys ons hoe om te leef. Is dit moeilik om al die wette te onthou?  Daar help Jesus ons. Ons moet net die basiese onthou: om die Here met ons hele hart lief te hê, en ons naaste soos onsself.  Paulus stem saam, in Galasiërs 5: 14: “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat”.

Die wet gee vryheid. Op ‘n platboomskuit op die Ryn woon ‘n pa, ma en kleuter. Die pa het die woelige kleuter met ‘n tou aan ‘n middelpaal vasgemaak. Hy kan op die dek rondloop – net ver genoeg om nie in die water te val nie. Dit is waar: die tou perk hom in. Maar die groter waarheid is dat die tou hom vryheid gee. Dit wil God se wet vir gelowiges doen. Daarom dat ‘n psalm wat die bevrydende beskerming en voorligting van die wet besing uiteindelik die langste psalm in die Bybel geword het. Daar was so baie om te Here te loof vir hoe sy wet ons wil leer lewe. Ons stem saam met die digter: “Hoe lief het ek u wet!/ Dit bly my elke oomblik by./ U gebooie gee my meer insig/ as wat my vyande het… U bevele gee my insig/ daarom haat ek elke verkeerde pad./ U woord is die lamp/ wat my die weg wys/ die lig op my pad” (Ps 119:97,104-105).

Hoe sal ons die wet hou? Daarvoor sorg die Here. Gelukkig het Hy eens belowe: “Ek sal vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom” (Eseg 36:26). Daardie belofte het Hy nagekom.