Ander
tekste: Psalm 5, Rigters 1:1-36, Lukas
7:36-8:3
Met
Pinkster sluit die groot kerklike feeste af. Hierna volg die tyd wat strek van
ongeveer die middel van die gewone kalenderjaar tot einde November waarin daar
geen groot feeste voorkom nie. Dié tyd staan soms bekend as die Tyd van die kerk of as Sondae in die gewone tyd. Ons noem dit koninkrykstyd alhoewel dit nie algemeen
so bekendstaan nie. In hierdie tweede deel van die kerklike jaar,
koninkrykstyd, dink ons aan die rol en werk van die Heilige Gees in die koms
van die koninkryk in die wêreld. Die gemeente deurdink en vier die volle
implikasies van haar verlossing en lewe onder heerskappy van die drie-enige God.
Koninkrykstyd word voorafgegaan of ingelui deur Triniteitsondag op die Sondag
na Pinkstersondag.
Groen is
die hoofkleur in koninkrykstyd — dit is die kleur van lewe. Besondere Sondae is goud en wit, en gemeentes kan in
hierdie tyd, op verskillende maniere met kreatiwiteit en verbeelding, die
rykdom van God se heerlikheid en werk in en deur sy gemeente vier. Koninkrykstyd is veral geskik om etiese temas vanuit die Skrif te
ondersoek. In die eerste vier Sondae van Koninkrykstyd hierdie jaar word daar juis
gefokus op vier tekste uit Galasiërs. Die eerste drie tekste werk met die wet
en die vierde teks sny die moraliteit in ons samelewing aan.
Die fokus
van die eerste teks uit Galasiërs is: Wat
die wet nie kan gee nie: geregtigheid aan sondaars.
Die fokus
van die tweede teks is: Wat die wet nie
kan gee nie: toegang tot die gemeenskap van die gelowiges. Sien die twee
weke se preekstudies.
In die
storielyn van die liturgie kan daar gefokus word op die gelowige se gevoel oor
die wet as sodanig. Hoe laat wette ‘n mens voel? Hoe laat die wet ‘n gelowige voel? Die rol van die
wet in die lewe van gelowiges behoort, aan die hand van hierdie teks, in die
liturgie aangesny te word. In die woorde van Paulus: “En tog weet ons dat ‘n
mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie,
maar alleen deur in Jesus Christus te glo...en dit is hoe ons vrygespreek is:
deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens
word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.” Mens sou seker
rustig net maar die lesing van die wet op hierdie Sondag kon laat, maar ek dink
dit sou oneerlik wees. Die liturg behoort veral op hierdie paar Sondae
verantwoordelik, deur die liturgie, die rol van die wet in die lewe van
gelowiges in die regte perspektief te plaas.
By die lees
van gedeeltes uit die Brief aan die Galasiërs moet ons onthou dat dié brief
deel is van ‘n gesprek tussen Paulus en die Galasiërs. Ons kan die boodskap van die brief maklik
misverstaan as ons dit in isolasie lees, los van die gesprek waarvan dit deel
is. Ons sou die brief die beste
verstaan het as ons die hele gesprek kon gehoor het, maar dit is natuurlik nie
moontlik nie. Ons posisie is min of meer dié van iemand wat ‘n telefoongesprek
aanhoor. Ons kan net hoor wat die een gespreksgenoot sê (Paulus in ons geval),
en daarby het ons nie die gesprek van die begin af gehoor nie. Om die gesprek
so goed as moontlik te verstaan, moet ons dit so goed as wat ons kan
rekonstrueer.
Wat weet
ons van die Galasiërs? Ons weet hulle was gelowiges – hulle het immers die
Heilige Gees ontvang (3:2). Paulus het
aanvanklik goeie verhoudings met hulle gehad – ‘Julle het my nooit sleg
behandel nie’, sê hy in 4:12. Nou het
hulle hom egter teleurgestel deur ‘afvallig te word en 'n ander evangelie’ aan
te neem (1:6). Die meeste van hulle was
waarskynlik Christene van nie-Joodse afkoms. In 2:15 verwys Paulus uitdruklik
na homself en Petrus as ‘Jode van geboorte’.
Hy beklemtoon dat hulle nie ‘mense wat nooit Jode was nie’ (vers 14)
moet dwing om ‘te lewe asof hulle Jode is’ nie – daaruit lyk dit asof Paulus
aanneem dat sy lesers hoofsaaklik nie-Jode is.
Dié punt word bevestig as ons dit vergelyk met wat ons uit die
geskiedenis van die Galasiërs weet. Hulle was die inwoners van Galatia - die Griekse naam van 'n
Romeinse provinsie in Kleinasië, maar ook van 'n streek. Die grense van
provinsie en streek het nie presies saamgeval nie, en geleerdes verskil
daaroor of met Galatia die streek of
die provinsie bedoel word. Vir ons maak dit egter nie soveel saak of Galasië 'n
streek in die sentrale of in die noordelike deel van Kleinasië was nie. Paulus
skryf in elk geval aan 'n paar gemeentes in stede wat na aan mekaar geleë was.
Elkeen van
daardie gemeentes het waarskynlik bestaan uit 'n paar huiskerke. Waarskynlik
was die nie-Joodse Christene in die meeste gemeentes in die meerderheid, maar
die Joodse Christene was dikwels die leiers. Die rede hiervoor was dat die
Joodse Christene die natuurlike senior vennote in gemeentes was. Jesus was immers die Messias wat die Jode so
lank verwag het, en die heilige geskrif wat as riglyn gebruik is, was die
Joodse Bybel (die Ou Testament). Die
meeste van die leiers in die vroeë kerk was in elk geval Joods. 'n Mens kan jou
voorstel dat wanneer daar een of ander verskil of argument in die gemeente
was, die Joodse Christene die natuurlike voordeel gehad het. 'n Nie-Joodse Christen sou nie maklik waag
om die Skrifinterpretasie van 'n Joodse Christen in twyfel te trek nie. Die
Joodse Christene het immers in die godsdiens grootgeword waarvan Jesus die
vervulling was. Hulle behoort die beste
te geweet het wat reg was. Dit is dus waarskynlik dat die Joodse Christene in
'n dominante posisie in die Galasiese gemeentes was – selfs al was hulle nie
noodwendig die formele leiers nie (daar was in daardie vroeë dae toe Galasiërs
geskryf is, nog nie vaste leraars, ouderlinge of diakens nie). Die Joodse
Christene was eerder informele leiers. Die situasie was dus een met potensiaal
vir magsmisbruik en spanning. Hoewel die Joodse Christene in die minderheid
was, was hulle in 'n gunstige posisie om hulle wil op die res van die gemeente
af te dwing. Die nie-Joodse Christene (as nuwelinge in die
Jesus-geloofsgemeenskap) sou geneig wees om die Joodse wil te aanvaar, komende
van die mense wat behoort te weet.
Uit die
Galasiërbrief is dit duidelik dat die Galasiërs onder druk was om ‘die wet van
Moses te onderhou’ (Gal 3:2). Wat het Paulus hiermee bedoel? Het hy bedoel dat
die Galasiërs onder druk was om elke onderdeel van die Ou-Testamentiese wet te
onderhou sodat hulle op grond van hulle wetsonderhouding deur God aanvaar sou
word? Sedert die Hervorming - en veral Martin Luther se uitleg van die
Galasiërbrief – is die onderhouding van die wet so verstaan. ‘n Mens kan
verstaan waarom Luther die Galasiërbrief so verstaan het. Hy was midde in ‘n
kerklike stryd waar die destydse Rooms-Katolieke Kerk presies so ‘n opvatting
van God se versoening gehad het – deur die doen van goeie werke is ‘n sondaar
geregverdig en deur die betaal van aflate kon jy vergifnis van sonde koop.
Maar was
dit regtig die probleem waarmee Paulus en die Galasiërs te kampe gehad het?
Onder Nuwe-Testamentici is daar ‘n konsensus (nog nie eenstemmigheid nie) aan
die ontwikkel dat werkgeregtigheid nie die enigste of selfs die belangrikste
probleem vir die Galasiërs was nie. Hoewel die vraag wat vir Luther sentraal
was, naamlik “Kan ’n individuele gelowige haar saligheid deur goeie werke
verdien?” ook vir die Galasiërs relevant was, het die genade-vraag vir hulle
konkrete en sosiale dimensies gehad. Vir die Galasiërs was die hoofkwessie
waarskynlik eerder: “Hoe word ek deel van God se volk? Hoe word ‘n mens deel van die nuwe
‘Christelike’ geloofsgemeenskap? Anders gestel: die hoofdebat in die
Galasiërbrief het gegaan oor wie die ware ‘kinders van Abraham’ (Gal 3:7) was.
Vir Jode van dié tyd was die antwoord voor die hand liggend: diegene wat wet
van Moses onderhou. Daarmee het hulle nie bedoel: net dié Jode wat daarin slaag
om al die 613 Ou-Testamentiese wette te hou nie, maar elke Israeliet – elkeen
wat besny was en die kashrut-dieëtreels
gehou het. Vir nie-Jode wat deel van Israel wou word, is nie ‘n toets aangelê
om te sien of hulle die hele wet onderhou het nie. Vir hulle was die vereiste
duidelik: die besnydenis en ‘n onderneming of die kashrut-reëls te hou het
lidmaatskap aan die volk van God verleen.
Teen
hierdie agtergrond was die dringendste vraag vir Paulus en die Galasiërs dus
nie: Kom ek in die hemel deur goeie werke te doen nie, maar wel: Hoe kon ek lid
van dié groep wat geglo het dat Jesus van Nasaret die Messias en Here is? Die
vraag na individuele geregtigheid (deur die werke van die wet of deur genade)
was ook wel ter sprake (bv. Gal 2:16), maar dit was nie die enigste of selfs
die vernaamste probleem in die Galasiese gemeentes nie.
In dié
gemeentes was die vraag: Wie is die ‘ware kinders van Abraham ‘n heel praktiese
vraag. Hoe (sou ‘n Galasiese gelowige kon wonder) kry ek toegang tot die groep
mense wat een keer per week in (sê maar Rufus) se huis bymekaar kom om in Jesus
se naam te aanbid? In die verlede, toe ons nog in die sinagoge bymekaar gekom
het, is net Joodse mans toegelaat om aan die diens deel te neem (en natuurlik
nie-Jode wat hulle laat besny het en onderneem het om die Joodse dieëtreëls na
te kom, maar daardeur was hulle alreeds tegnies Jode). Ons ander, vrouens en
nie-Joodse ‘Godvresendes’ moes van agter ‘n afskorting na die diens luister.
Noudat ons gehoor het dat die Messias gekom het en dat sy naam Jesus die
Verlosser is, geld die ou reëls nog? Die hoofvraag waarop die Galasiërbrief ‘n
antwoord wil gee, is: Hoe kry ons toegang tot God, en veral in sy konkrete
vorm: hoe kry ons toegang tot die volk van God?
‘n Heel
praktiese vraag, maar die antwoord daarop sou fundamentele gevolge hê. As die jong Christelike kerk (wat toe nog
nie so genoem is nie, en eerder na hulleself verwys het as ‘mense van hierdie
weg’, Hand 9:2) sou besluit het dat toegang slegs kon kom deur 1) geloof in die
verwagte Messias en 2) die hou van die wet en die besnydenis, sou die
volgelinge van Jesus net ‘n Joodse sekte gebly het. As ‘n nie-Joodse heiden ‘n
volgeling van Jesus wou word, sou hy eers ‘n Jood moes word (deur die wet en
besnydenis te onderhou) en sou dan eers ‘n Christen kon word. Die weg tot volle
gemeenskap met God se volk en met God self sou dan deur twee deure moes gaan:
1) geloof en Jesus en 2) aanvaarding van die Judaïsme.
Paulus se
boodskap aan die Galasiërs van nie-Joodse afkoms was duidelik: noudat Jesus,
die Messias, gekom het, het sake fundamenteel verander. Nou was toegang tot God
en tot God se volk nie meer deur twee deure nie, maar net deur een: Jesus
Christus. Wie dit wou ontken, het nie die blye boodskap by plaaslike
omstandighede effens aangepas nie, maar ‘n ander evangelie’ (Gal 1:6) verkondig
– terwyl daar ‘geen ander evangelie’ is nie (v. 7).
As ‘n mens
verstaan wat die hoofkwessie in Galasië was, verstaan jy ook waarom Paulus hom
so heftig daarteen verset het, en waarom hy vroeër, in Antiochië, Petrus so
heftig teengestaan het. Dit was nie maar net ‘n praktiese reëling wat Petrus
wou tref nie, maar het die hart van die evangelie aangetas.
Die
prediker sal self moet besluit hoe die sake in haar preke aan die orde moet
kom, maar dit is duidelik dat dit noodsaaklik is dat die lidmate moet verstaan
dat dit in Galasiërs nie in die eerste plek gaan om werkgeregtigheid versus
geloof in Christus gaan nie, maar oor lidmaatskap tot die Godsvolk. As die
preek in die NG Kerk gelewer word, sal nodig wees om iets daaroor te sê, om
twee redes: 1) Verreweg die meeste lidmate lees Galasiërs asof
individualistiese werkgeregtigheid die ‘ander evangelie’ is. 2) Juis omdat dié
Lutherse lesing so gekanoniseer is, kon baie NG lidmate (en evangeliese
Christene) so moeilik verstaan dat aparte kerke op grond van ras juis die hart
van die evangelie aantas.
Is dié
teologiese verskille te subtiel om in ‘n preek te probeer verduidelik? Miskien
– as ‘n mens terme soos ‘indivualistiese werkgeregtigheid’ gebruik. Maar nie as
‘n mens dit deur ‘n storie doen nie. En waar kry jy ‘n meer dramatiese storie
as die Paulus/Petrus-konfrontasie in Galasiërs 2? Om daardie rede behoort
Galasiërs 2:11-14 as ‘n sleutel tot die reeks van drie preke Galasiërs gebruik
te word.
Die
volgende drie preeksketse uit Galasiërs 2, 3 en 5 gaan uit van bogenoemde
interpretasie van die Galasiërbrief. Soos gesê, daar is nie volkome
eenstemmigheid oor die uitleg nie, maar dit is ‘n interpretasie wat al hoe
sterker veld wen. Indien die leser verder oor dié ‘sosiale’ interpretasie wil
lees, beveel ek die geskrifte van Dunn, Sanders en Stendahl aan. John Stott se
kommentaar volg die tradisioneel ‘Lutherse’ uitleg, so ook Ridderbos wat wel ‘n
bepaalde sensitiwiteit het vir die sosiale interaksie en dus ook vir die sleutelrol
van die aanhaal van die Antogië-insident.
preekstudie –
Galasiërs 2:11-21
Die
voorgeskrewe gedeelte is Galasiërs 2:15-21, maar dit sou baie onwys wees om
iets oor verse 15-21 te sê sonder verwysing na die konfrontasie tussen Paulus
en Petrus in die voorafgaande verse. Daarom word verse 11-14 nie net saamgelees
nie, maar as sleutel gebruik om dié gedeelte te verstaan.
Die konfrontasie tussen Paulus en Petrus:
Op hierdie
punt vertel Paulus van sy konfrontasie met Petrus in Antiogië. Hy noem dit hier
om aan te toon dat daar wel teenstand teen sy (Paulus) verstaan van die evangelie was, maar dat
dit gou en beslissend verwerp is. Nie eers die feit dat so 'n vername leier
soos Petrus die teenstander was, kon iets aan die saak doen nie. Paulus het
Petrus in die openbaar (2:14) tereggewys, en skynbaar het die meerderheid met
Paulus saamgestem. Waarskynlik het Petrus self die verkeerdheid van sy optrede
besef, want ons verneem nie uit die Galasiërbrief of enige ander brief dat
Petrus sy standpunt verder gevoer het nie.
Paulus
vertel van hierdie episode, want dit is 'n verdere bewys dat die ander
Christene oor die algemeen met sy evangelie saamgestem het. Wie tussen die lyne
lees, hoor wat Paulus sê: Diegene wat (soos Petrus) daarteen is, is eintlik
onkundig of dwaas.
In die
vroeg-Christelike kerk was hierdie ‘n opspraakwekkende gebeurtenis. Niemand
het, menslik gesproke, 'n groter reputasie as Petrus gehad nie: Leierapostel
van die Twaalf, deur die Messias self uitgekies. Metgesel en vertroueling van
die Meester vir drie jaar. Ooggetuie van talle van Jesus se wonderwerke. Iemand
wat die Bergrede en talle gelykenisse in Jesus se eie woorde gehoor het. Na
Jesus se broer, Jakobus van Jerusalem, die leier van die belangrikste gemeente,
was Petrus sonder twyfel die belangrikste leier in die kerk as geheel. Jy het
nie maklik van hom verskil nie. Behalwe dat hy ‘n gesagsfiguur was, was hy
iemand met 'n impulsiewe geaardheid en 'n vinnige humeur. As 'n junior leier
wel van Petrus verskil het, was die aangewese weg om dit privaat uit te praat,
met die nodige gesprek vir die eerbiedwaardige leier. Dit is in ons tyd nog
steeds die geval, maar in die kultuur waarin Petrus en Paulus geleef het, het
etiketreëls oor senioriteit nog veel sterker gegeld.
Paulus sou
wel verkies het om so te doen. Hy doen dit egter nie, maar konfronteer Petrus
sonder enige waarskuwing en sommer
‘openlik’ (11) en ‘voor almal’ (14), dit wil sê in die teenwoordigheid
van die ander gelowiges. In 'n kultuur waarin groot waarde geheg is aan
respekvolle optrede teenoor senior persone, was Paulus se optrede hoogs
buitengewoon. Dit is 'n aanduiding van hoe 'n belangrike kwessie dit was, en
hoe belangrik dit vir Paulus was om die saak onmiddellik reg te stel, al moes
hy ook die gebruiklike hoflikheidskodes verbreek.
Wat was dit
waaroor Paulus so sterk gevoel het? Wat het Petrus dan gedoen wat so
verskriklik verkeerd was?
Op die oog
af iets heel onskadelik. Petrus, Paulus en ander leiers van die kerk was in
Antiogië bymekaar, 'n stad in Sirië. Daar was 'n sterk Christelike gemeente,
met mense wat van beide Joodse en nie-Joodse afkoms was. Hulle het geglo dat
hulle geloof in die Messias Jesus hulle met God versoen het, en ook met mekaar.
Die mure van vyandskap is oorkom. Die Joodse en nie-Joodse Christene was nie
net 'n godsdienstige eenheid nie, maar ook 'n sosiale een. Hulle het saam
aanbid, maar ook saam geëet.
Totdat daar
gelowiges uit Jerusalem aangekom het – ‘Jakobus se mense’ (12). Hulle was
Joods, soos omtrent al die ander gelowiges in Jerusalem op daardie stadium. In
Jerusalem het hulle nog net gehoor daarvan dat ook nie-Jode tot die geloof
toegelaat is. Hoewel hulle leiers – Jakobus, Petrus en andere (9) – alreeds met
Paulus ooreengekom het dat hy 'n apostel vir die nie-Jode sou wees, het nie
almal op grondvlak daarmee saamgesten nie. Vir baie Joodse gelowiges in Jerusalem
was dit totaal onaanvaarbaar dat die sosiale skeiding tussen Jode en nie-Jode
nou volledig sou wegval. Tot op daardie stadium het hulle nie aan hulle geloofsgemeenskap
as iets anders as 'n Joodse groep gedink nie. Hulle was Jode wat van die Joodse
gemeenskap verskil het oor die kwessie of Jesus die Messias was of nie, maar
hulle was tog almal Jode, dan nie?
Sommige van
die Joodse Christene wat daarteen was dat die sosiale grens uitgewis word, het
later in Antiogië beland, waar daar tussen die gelowiges geen onderskeid gemaak
is nie. Of hulle toevallig daar beland het en toe tot hulle ontsteltenis gesien
het dat Jode en nie-Jode saam eet, en of hulle in Jerusalem daarvan gehoor het
en na Antiogië gegaan het om sake te gaan regstel, weet ons nie. Wat ons wel
weet, is dat hulle aankoms in Antiogië en hulle afkeur aan die saam-eet en
sosiale vermenging in die gemeente repurkussies in Antiogië veroorsaak het.
Petrus, vroeër een van die leiers van die Jerusalem-gemeente wat hulle steun
vir Paulus se bediening onder nie-Jode uitgespreek het (2:7), en wat voor die
koms van die Jerusalem-mense ‘saam met nie-Joodse gelowiges geet’ het, het hom
meteens skaars gehou as daar geëet moet word. Ons lees nie dat hy hom daarteen
uitgespreek het nie. Hoe kon hy, want hy het dit mos vroeër goedgekeur - deur
sy toestemming in Jerusalem en deur sy voorbeeld in Antiogië? Hy het niks daarteen
gesê nie. Dit was maar net dat as daar geëet moes word, was Petrus soek.
Skielik het hy iets anders te doen gehad. Die afwesigheid van die prominente
leier het egter boekdele gespreek.
Paulus het
onmiddellik besef waarom Petrus wegbly. Hy het voor 'n keuse gestaan: hy kon
dit ignoreer en hom beperk tot 'n saaklike debat met die Jerusalem-mense, of hy
kon Petrus se afwesigheid aanspreek (wat ongetwyfeld vir albei baie pynlik en
onaangenaam sou wees, en miskien selfs destruktief vir die gemeente). Paulus het
besef dat die jong Christelike kerk hier by 'n kruispad gekom het. As Petrus en
die Jerusalem-mense se pad gevolg sou word, sou die Christelike
geloofsgemeenskap 'n sekte binne die Jodedom bly. Dan sou dit beteken dat,
voordat 'n nie-Jood 'n Christen kon word, hy eers 'n Jood moes word. Dit sou
beteken dat iemand eers volkome binne die nuwe geloofsgemeenskap aanvaar sou
word nadat hy die besnydenis ondergaan het en die Joodse wet (insluitende die
seremoniële wette) as sy eie wet aanvaar het. Geloof in Christus sou nie die
enigste deur gewees het waardeur iemand deel van die volk van God kon word nie.
Daar sou twee deure wees–- 1) Jood-wees en 2) geloof in Christus.
Dit kon
natuurlik nie. Want dit sou beteken dat Christus se dood nie genoegsaam
versoening kon bring nie. Daarom het Paulus hom so heftig teen Petrus wegbly
verset.
Die Heilige
Gees moes Paulus die insig gegee het, want Petrus se daad (of liewer dit wat hy
nagelaat het om te doen) het so onskuldig gelyk. Dit moes vir Paulus 'n groot
versoeking gewees het om liewers anderpad te kyk en te maak of hy Petrus se
wegbly nie raaksien nie. Tog het hy ingesien dat nie alleen Petrus se wegbly 'n
antwoord was nie, maar dat sy eie stilbly daaroor ook 'n antwoord sou wees. Hy
het meteens besef dat die waarheid hier belangriker as respek was. Hy het
Petrus voor almal gekonfronteer, en sommer baie reguit ook (lees vers 13-14).
In verse
15-16 som Paulus die redes op vir sy sterk en kompromislose optrede in
Antiogië:
Selfs hulle
wat Jode is, weet dat die vryspraak van sonde gegee word nie deur die wet van
Moses te onderhou nie (uit die werke van die wet nie), maar ‘alleen deur in
Jesus Christus te glo’.
Let daarop
hoe nou die twee sake met mekaar verweef is: die versoening tussen mens en God
(die vryspraak van sonde) en die versoening tussen mede-gelowiges.
Verse 17-21
Verse
15-16: Deur die vertel van die Antiogië-insident het Paulus eintlik al klaar
gesê wat hy oortuig die waarheid is. In verse 15-16 trek hy die gevolgtrekking:
Selfs hulle wat van gebore Jode is, weet hulle dat 'n mens nie op grond van jou
onderhouding van die Wet, met God (of met jou naaste) versoen kan word nie,
maar net deur die genade van Christus.
In verse
17-21 beantwoord Paulus 'n vraag wat miskien by sy leser sou opkom by die
aanhoor dat alles uit genade is: Beteken dit dan dat Christus in diens van die
sonde staan? Met ander woorde, beteken die feit dat ons met God en ons naaste
versoen word, met ander woorde dat ons sonde afgeskryf word, dat Christus dit
vir ons makliker maak om sonde te doen? Dit is dieselfde vraag wat by die leser
van Romeine opkom, waar Paulus ook die genade sterk beklemtoon. En net soos
daar (Rom 6:1) is Paulus se antwoord hier: Beslis nie! (In beide gevalle is die
Grieks mé genoito - 'n baie sterk
uitdrukking.)
Paulus gaan
nie verder op dié argument in nie, maar keer terug na diegene wat glo of beweer
dat 'n mens deur die wet te onderhou jouself by God kan regverdig. God (skryf
Paulus) gee ons versoening uit genade omdat ons dit nooit self kan
bewerkstellig deur die wet te hou nie. Kyk wat sou gebeur as ons op grond van
ons onderhouding van die wet met God versoening sou probeer verdien – ek sou
van myself 'n oortreder van die wet maak, omdat dit eenvoudig onmoontlik is om
al die wette te onderhou. As ek deur wetsonderhouding God se vryspraak wil
verdien, moet ek al God se wette onderhou, en dit is onmoontlik. Al sou ek hoe
baie wette hou, sal daar wel een of ander wet wees wat ek oortree. As ek deur
strenge wetsonderhouding God se vryspraak probeer verdien, moet ek noodwendig
faal – wat beteken dat ek skuldig bevind sal word en dus met die dood strafbaar
is.
Diegene wat
in Christus – dit wil sê in sy dood en opstanding glo – spring egter die
doodstraf vry. Christus se dood sluit my dood as 't ware in; ek is saam met Christus
gekruisig – maar dit beteken ook: sy opstanding sluit my opstanding in! Al het
ek nog nie gesterf (en dus ook nog nie opgestaan nie), beteken Jesus se dood
dat ek alreeds deur die dood en opstanding gegaan het. Jesus het dit vir my
gedoen. Die straf vir my sonde is dus in Jesus se dood reeds vir my gedra en ek
is reeds verseker van my opstanding. Christus leef reeds nou in my.
Dit is die
geskenk wat Christus se dood vir ons gebring het. As ek sou probeer om God se
vryspraak van sonde deur wetsonderhouding te verdien, sou ek by implikasie sê
dat Jesus verniet gesterf het.
Aangesien
daar drie opeenvolgende preke uit Galasiërs gehou word, stel ons voor dat ‘n
mens dit as ‘n eenheid aanbied. Die eerste twee preke handel oor dit wat die
wet nie kan doen nie en die laaste
wat dit wel behoort te doen: 1. Die wet gee nie geregtigheid aan sondaars nie
(Gal 2:11-21), 2. Die wet gee nie toegang tot die gemeenskap van gelowiges nie
(Gal 3:21-29), 3. Die wet gee ‘n riglyn oor hoe om te leef (Gal 5:13-22).
Galasiërs
2:11-21 val in twee gedeeltes uiteen: die Antiogië-voorval in verse 11—14 en
Paulus se algemene gevolgtrekking daaruit in verse 15-21. Die tweede deel word
hier as teks vir die preek gekies. Die Antiogië-voorval word gebêre om die
volgende week saam met Galasiërs 3:21-29 gebruik te word.
Galasiërs
2:15-21 behandel stof wat vir die gemeente bekend behoort te wees. Ons sou
voorstel dat dit so behandel moet word, en dat die prediker nie moet probeer om
ter wille van effek, iets ongewoons uit die stuk moet probeer forseer nie.
Geregtigheid
is 'n outydse begrip. 'n Begrip wat in ons 21ste eeu nie sonder meer begryp
word nie. Sommige mense meen dit is 'n uitgediende begrip. "Ek verkies om
van regverdigheid te praat" sê 'n Afrikaanse joernalis onlangs oor die
radio. "Geregtigheid is 'n outydse, godsdienstige begrip." Miskien het die vertalers van die
1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel ook so gevoel. Die woord ‘geregtigheid’
of ‘geregverdig’ kom nie een keer daarin voor nie. Die vertalers het verkies om
ander uitdrukkings te gebruik soos ‘van sonde vrygespreek’ (16). 'n Mens het
begrip daarvoor. Geregtigheid en geregverdig is nie begrippe wat ons elke dag
gebruik nie. Iemand wat vrygespreek is – ja, dit verstaan ons. Tog is dit goed
om 'n bietjie vas te hou aan die ou woorde. Dit help ons om te verstaan dat
waaroor Paulus hier skryf, en waaroor die probleem gegaan het. Die Galasiërs se probleem – en
ons probleem – is nie net hoe word 'n mens van jou sonde vrygespreek nie. Die
dieper vraag is: hoe word ek geregverdig geag?
Daar is 'n
verskil tussen vryspraak en geregverdig. In Suid-Afrika het baie mense na 1994
amnestie gekry. Dit beteken hulle is vrygespreek van misdade wat hulle wel
gedoen het, maar op grond van 'n ooreenkoms is hulle van enige vervolging of
straf kwytgeskeld. Iemand mag miskien vrygespreek wees, maar hy is nie
geregverdig nie. Hy voel dalk allermins soos 'n regverdige mens; sy gewete kla
hom aan – maar hy het vryspraak gekry.
Dit is oor
hierdie saak dat Paulus aan die Galasiërs skryf. Hoe hulle van hulle sondes
vrygespreek kon word, maar meer as dit: hoe hulle as ‘regverdig’ geag kon
word. Koning Dawid het dit goed
verstaan. Na hy 'n ander man se vrou gevat het, en dié man, Uria, laat ombring
het, skryf hy Psalm 51. In vers 3 smeek hy om God se genade: "Wees my
genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredinge uit in u groot
barmhartigheid". Maar hy verlang meer. "Neem my sonde weg dat ek rein
kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Laat my weer blydskap en
vreugde belewe" (verse 9-10).
Dit is oor
geregtigheid dat Paulus aan die Galasiërs skryf. Oor hoe hulle van hul sondes
vrygespreek kon word, maar ook hoe hulle in God se oë weer geregverdig kon
wees. Dit is moontlik, sê Paulus. Nie deur die werke van die wet nougeset te
doen nie, maar deur geloof in Jesus Christus (Gal 2:16). As hulle hulle
vertroue in sy dood en opstanding stel, skenk God aan hulle sy geregtigheid.
Luther het van hierdie geregtigheid gepraat as die ‘vreemde geregtigheid’.
Daarmee het hy bedoel dat dié geregtigheid wat God aan gelowiges gee, eintlik
nie by hulle pas nie. Dit is 'n ‘vreemde’ geregtigheid. Dit is soos 'n nuwe jas
vir 'n boemelaar. Maar die wonder is dat hoewel dit eintlik nie by ons pas nie
en ook in geen opsig die gevolg van ons goedheid is nie, God dit tog vir ons
gee. As ons dié kleed van geregtigheid aan het, kyk God na ons en sien nie meer
'n vuil boemelaar nie, maar 'n splinternuwe mens. Jesus se dood en opstanding
neem nie net die straf vir ons sonde en ons sonde weg nie. 2 Korintiërs 5:17
sê: "Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens." Daarom huiwer
Paulus nie om die gelowiges in Rome, Korinte, Efese ens aan te spreek as
‘heiliges’ nie. Jesus het nie net aan die kruis vir ons sonde gesterf nie. Hy het
ook die wet in ons plek volmaak gehou. Wat God betref, is ons dus nie net
sondaars wie se sonde vergewe is nie, maar inderdaad regverdiges, heliges –
asof ons die wet volmaak nagekom het. Die geregtigheid waarvan die Bybel hier
praat is nie amnestie, kwytskelding nie. Amnestie kom van die Grieks, wat
letterlik beteken “sonder geheue”. Amnestie sê (dikwels skoorvoetend): Kom ons
vergeet dit maar. Los dit maar. God se
geregtigheid beteken meer: nie alleen word my sonde my nie toegereken nie, maar
ek word deur God as regverdig verklaar.
Soms word
gesê dat Luther se vraag: Waar vind ek ‘n genadige God? nie meer ter sake is
vir die mens van die 21ste eeu nie, maar dat ander vrae belangriker deesdae
belangriker is. Vrae soos: Waar vind ek ‘n genadige naaste? Of: Wat is die sin
van die lewe? Tereg merk Jonker en Theron (Vreemde
Geregtigheid, 9) op dat sulke vrae eers beantwoord sal word as die eerste
fundamentele vraag bevredigend beantwoord is. God weet dit is die fundamentele vraag. Daarom is dit so
oorweldigend in Jesus beantwoord, en daarom doen Paulus soveel moeite om seker
te maak dat ons die antwoord hoor. Juis in Suid-Afrika aan die begin van die
21ste eeu, na ‘n bevrydingstryd wat aan beide kante letsels van wrok en skuld
gelaat het, is dit die relevante beginpunt – om te hoor dat, al sou daar ook
nêrens geen genadige naaste te vind wees nie, die Bybel se goeie boodskap is
dat daar wel ‘n genadige God is. ‘n God wat in Jesus nie net aan ons vryspraak
en amnestie gee nie, maar ons regverdig.
Hoe verkry
ons hierdie geregtigheid? Alleen deur die geloof in Jesus Christus (v. 16).
Paulus wil seker maak dat die Galasiërs dié punt snap, daarom herhaal hy dit
drie maal. In vers 16 sê in die algemeen dat
“die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur
die geloof in Jesus Christus”. Dan herhaal hy dit in persoonlike terme – hy en ander is hierby ingesluit: “ons het in
Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus
en nie uit die werke van die wet nie” Ten slotte herhaal dan weer die algemene
stelling: “Omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie”
(1933-vertaling).
Ten slotte
kan die punt gemaak word dat met geloof hier nie bedoel word volharding (soos
in Heb 11-12) nie. Geloof is hier in geen opsig ‘n geestelike prestasie nie,
maar net die leë hand wat God se genade ontvang. Tog is dit belangrik dat God
se genade wel ontvang moet word – deur dit in die geloof toe te eien.
Bibliografie
Dunn, JDG: Jesus, Paul and the law, Louisville: Wetsminster/John Knox. Jonker, WD en Theron, PF: Vreemde geregtigheid, Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers. Ridderbos, HN: The Epistle of Paul to the churches of Galatia, Grand Rapids: Eerdmans. Sanders, EP: Paul, the law and the Jewish people, Philadelphia: Fortress. Stendahl, K: Paul among Jews and Gentiles, Philadelphia: Fortress. Stott, JRW: The message of Galatians, London:Inter-Varsity Press.