26 Mei 2002
Triniteitsondag
PREEKSTUDIE - 2 KORINTIËRS 13:11-13
Teks en konteks
Daar het minstens drie ander briewe aan die tweede brief aan die Korintiërs voorafgegaan – die eerste brief aan
die Korintiërs sowel as twee ander – afgelei uit vermeldings in 1 Korintiërs 5:9 en die sogenaamde "tranebrief" van
2 Korintiërs 2:4 en 2 Korintiërs 2:8. Wat aanleiding gegee het hiertoe kan nie presies vasgestel word nie, maar na
alle waarskynlikheid het daar ’n stuk vervreemding tussen Paulus en die gemeente gekom. Dit lyk asof ’n kort
besoek van Paulus die sake nog verder benadeel het. Daar was ook teenstanders (binne die gemeente) wat Paulus
en sy bediening verdag gemaak het. In die eerste sewe hoofstukke skryf Paulus met die doel om die verhoudings
te suiwer en te herstel, daarna volg ’n gedeelte (hfst 8 en 9) oor die insameling van die sogenaamde liefdegawes
vir die Jerusalemgemeente. Die laaste vier hoofstukke word – nie heeltemal verstaanbaar nie – in ’n ander toonaard
geskryf. Nadat hy aan die verhoudings gebou het, kan ’n mens verstaan dat Paulus bewustelik sê dat hy nie
afbrekend wil wees nie, maar opbouend. Dit is egter nie heeltemal verstaanbaar dat hy ook dreigend en kwaai (selfs
sarkasties) teenoor die gemeente is nie. Dié gedeelte word oorheers deur die bekende Pauliniese paradoks van
skynbaar swak, maar in werklikheid sterk.
Binne die konteks van gespanne verhoudings (agv verdagmakery, wantroue, partyskappe en tweespalt) voeg
Paulus vir oulaas ’n paar sleutelriglyne en goeie wense by. Dit is 2 Korintiërs 13:11-13 (die preekperikoop):
• Die bekende wees bly, streef na volwassenheid, leef eensgesind en in vrede word gekoppel aan die belofte
dat die God van vrede en liefde by hulle sal wees (v 11).
• Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap – in die OAV: "’n heilige kus" (v 12).
• Die bekende trinitariese seëngroet (v 13).
Moontlike toegangsweë tot ’n preek lê in die feit dat die hele perikoop ’n "ten slotte"-groetewoord is. Die prediker
kan nadink oor die funksie en waarde van groete oordra en die uitspreek van goeie wense – veral teen die
agtergrond van die slegte verhoudings in die gemeente.
’n Tweede moontlikheid tot ’n preek word gebied in die feit dat die teks volgens die preekrooster op Triniteitsondag
gelees word. Dit beteken dat die trinitariese seëngroet in 13:13 die skopus van die preek kan wees. Dit is verreweg
die rykste geformuleerde trinitariese seëngroet. Dit is interessant dat Christus se genade voorop staan. Genade wys
op die volle omvang van Christus se reddende werk. Dit is omvattend gesien
• ’n historiese gebeure, maar ook
• ’n voortgaande guns en gesindheid.
Enersyds kan die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees gelees word as omskrywings en
uitbreidings van die genade in Christus. Andersyds kan die liefde van God en die gemeenskap van die Gees as
selfstandige uitdrukkings verstaan word.
Die liefde van God verwys dan
• spesifiek na die liefde wat ons in Christus leer ken het, of ook
• na die algemene sorg van ’n Skepper-Vader.
Die gemeenskap van die Heilige Gees kan ook op twee maniere verstaan word. Dit kan verwys na
• die gemeenskap of broederskap tussen Christene waarin die Heilige Gees se gemeenskap blyk, of na
• die intieme verhouding wat die Gees tussen God en mens skep.
Tien teen een was hierdie groet al destyds ’n vaste formule – of dalk het Paulus se gebruik dit juis ’n vaste formule
gemaak. Liturgies het dié vers in elk geval so ’n sterk Wirkungsgeschichte dat dit feitlik vanselfsprekend is dat die
erediens – en nie die Korintiërbrief of die leerstellige besinnings oor die triniteitsleer nie – die konteks vorm. Indien
die prediker oor die Triniteit, as leerstuk van die kerk, wil preek, moet materiaal uit die sistematiese teologie
ingewerk word. Die motivering vir so ’n lerende preek lê in die feit dat – van Advent, deur Kersfees, Epifanie, die
Lydenstyd, Paasfees en daarna Pinkster – Koninkrykstyd ingelei word met die herinnering dat die Christelike geloof
nie in die Christologie of pneumatologie opgaan nie, maar dat God Hom as die Drie-enige openbaar en so geken,
geëer en gedien word. Literatuur daaroor is uiteraard oewerloos in omvang en kan nie hier bespreek word nie. Die
prediker moet oorweeg of hy of sy reken ’n lerende preek is nou goed en nuttig.
Miskien kan die interessante verwysing na ’n soenery in die kerk ’n invalshoek wees. Wat word bedoel met ’n soen
van Christelike broederskap? Waar het dit vandaan gekom? Hoe het dit gewerk? Hoe sou ’n mens dit vandag doen?
Sommige reken dat dit ’n gebruik uit die sinagoge was – en dus het teenoorgestelde geslagte mekaar nie gesoen
nie omdat mans en vroue apart gesit het. Sommige kerke het nog die liturgiese gebruik om voor die gebruik van die
nagmaal (eucharistie) mekaar te groet. In die ekumeniese beweging het ’n soort bear hug gewild geword as ’n
sjibbolet van mense wat hulle beywer vir die ekumene. Baie Christelike jongmensbewegings het "’n drukkie" laat
opleef. Dink net hoeveel kommunikasie sit in ’n soen. Wat van Judas se soen? Dink na oor hoe verskillend daar
gesoen word deur verskillende mense in die verskillende kulture. Wat sou spesifiek Christelik wees? Hoekom dring
Paulus daarop aan – juis in hierdie gemeente – dat hulle mekaar moet soengroet?
Dit lyk verantwoordelik – en ’n uitdaging – om ’n preek te maak waarin drie aspekte ingewerk word, naamlik die
verhoudings tussen gelowiges, die seëngroetery en die Triniteit.
Preekvoorstel
Inleiding
Daar word maandeliks amptelik verwys na die inflasiekoers. Ons monitor voortdurend hoe ons geld sy waarde, sy
koopkrag verloor en ons kan maar net sug. ’n Ander soort inflasie wat ons gerus kan monitor – en waaroor ons nog
dieper sal sug – is woordinflasie. Woorde wat eens op ’n tyd baie seggingskrag gehad het, verloor gewoon hulle
waarde. Daar is baie sulke woorde, maar die bekendste is seker die mees algemene groet van Afrikaanse mense.
Luister na Niekie se Sê wie? en hoor hoe almal groet met: "OK, bye." (Wat is ’n bye as dit nie krieket is nie? Kom
dit dalk van die oorspronklike God bless you? Inflasie is hier al so erg dat die oorsprong vermink is!)
Maar in die tyd van Paulus was ’n groet blykbaar nog ’n groet. Buiten dat hy sy brief afsluit met ’n netjiese, uiters
betekenisvolle seëngroet, dring hy by die gemeente daarop aan dat hulle moeite moet doen met ’n groetery –
spesifiek ’n soengroetery. Daar moet tog baie sit in ’n seëngroet.
Die mag van uitgespreekte woorde
As ons iets van ’n seëngroet wil begryp, moet ons mekaar weer bewus maak van die mag van ’n woord. Miskien
sal dit die maklikste verstaanbaar word as ons die teenoorgestelde van ’n seëngroet neem – ’n "vloek"-woord.
Watter emosies en gedrag word by jou losgemaak as iemand (dit sou waag om) jou te vloek? Hoe voel jy as iemand
jou skerp kritiseer – veral as dit ten onregte is? Of, ’n bietjie erger, wat doen ’n erg beledigende woord aan jou? Die
effek van woorde sien ons nog ’n graad erger wanneer ons uitvind dat iemand ons te na gekom het met (valse)
geskinder en naamskending. Mense raak betrokke in duur hofsake en eis soms miljoene oor die (beweerde) skade
wat woorde aan hulle doen. Blykbaar het woorde nog geweldige mag. Dink ’n oomblik aan hoeveel slegte gevoelens,
slegte denke, slegte gedrag van wraak, vergelding en verkleinering ’n vloek en ’n beledigende woord na
vore bring.
’n Seëngroet en uitspraak van goeie wense moet – ten minste in beginsel – dieselfde mag en waarde na die
positiewe kant toe kan hê.
Ek dink dit is hoekom Paulus ’n gemeente waarin die verhouding tussen hom en die lidmate suur geword het,
pertinent groet met ’n seën. Dit is woorde wat by magte is
• om brûe oor diep klowe van verskille te bou;
• om die wonde van kwetsende opmerkings te genees;
• om nuwe lewe te laat spruit uit ou dooie stompe (vriendskappe), en
• om geloofwaardigheid te kweek in die akker van agterdog.
Dit is dalk nie verniet nie dat die gemeente in Korinte die één gemeente is waarin Paulus hulle herinner dat hulle
mekaar met ’n soen van Christelike broederskap moet groet. In ’n omgewing van onversoendheid kan seënwoorde
en ’n seëngroet die mag hê om ou etikette en vooroordele te vervang met welwillendheid en samewerking.
Die inhoud van die seëngroet: God Drie-enig
’n Mens sou hierdie seëngroet uitmekaar kon haal en oor elkeen van die onderdele ’n selfstandige boodskap bring.
Vandag wys ons egter, teen bogenoemde agtergrond, net op die groter prentjie. Paulus betrek die Vader, Seun en
Heilige Gees in sy seëngroet. ’n Mens sou kon sê dat hy wens op die volheid van God (wat daar in Jesus Christus
is) vir sy lesers.
Die volheid van God! Sy volle rykdom! Paulus het nie net drie goeie wense vir die gemeente nie, maar wens dat
God Drie-enig in hulle woon.
Baie van ons gelowiges – en gemeentes – het ’n gereduseerde belewenis van God, omdat ons net gedeeltelik na
God verlang en Hom net gedeeltelik (wil) ken. Dit is asof ons spiritualiteit nie die volle omvang van die genade, liefde
en gemeenskap met God kan insluit nie.
In hulle vroom verlange is sommige tevrede net met God as Skepper-Vader. Hulle soek hoofsaaklik materiële
seëninge en voorspoed by God – soos hulle Hom ken as die Vader en die Voorsienige.
Ander se geloof draai meesal net om ’n Verlosser … wanneer hulle in die moeilikheid is en verlang na bevryding en
’n nuwe lewe. Bewus van hulle (en ander se sondigheid) roep hulle die Naam van Jesus aan om vry te raak van
booshede, bedreigings, skuld en skaamte.
Sommige se godsdiens funksioneer weer primêr rondom die krag van God en sy inspirasie en ywer wanneer hulle
energievlakke laag is. Die innerlike belewenis van en intiemheid met God oorheers in dié geval.
Paulus seën die gemeente met die volle rykdom van God: die Vader, Seun en Gees. Vir ons is dit ook ’n uitnodiging
om dieper en breër te lewe. Dit is die sin van ’n Triniteitsondag. Om ons te herinner
• om God te ken soos Hy Hom in sy volheid geopenbaar het.
• om God lief te hê soos Hy in sy volheid na ons toe uitreik.
• om God te aanbid soos Hy ten volle en in werklikheid is.
• om God te volg as kind (Vader), sondaar (Seun) en heilige (Gees).
Ons word getroos deur hierdie seëngroet waarmee ons week ná week vanuit die erediens die wêreld ingestuur
word.
Ons word ook uitgedaag om ander mense betekenisvol in die Naam van die Drie-enige te groet. Miskien kan ons
op kreatiewe maniere weer die Volheid van God oor ander uitspreek, soos die ma wat met ’n wiegeliedjie vir haar
baba neurie:
Rus, my kindjie, in die liefde van die Vader.
Rus, my kindjie, in die liefde van die Seun.
Rus, my kindjie, in die liefde van die Gees.
Laat die liefde van God Drie-enig jou rusplek wees.
(Ann Lewin)
Of vir die skolier/student:
Mag God, die Skepper, jou denke verruim.
Mag God, die Seun, jou verlig in jou soeke na waarheid.
Mag God, die Gees, jou die begeerte gee om meer te ontdek.
Mag God, Drie-enig, jou nuuskierigheid en konsentrasie seën,
vandag en vir altyd.
(Michael Turnbull)
Of vir almal op pad:
Mag God, die Skepper, jou seën
en jou goeie idees bevrug.
Mag Christus, die verwonde Geneser, jou aanraak
en jou heel maak.
Mag die winde van die Gees
jou oplig in ’n vlug
vry soos ’n voël
swewend soos ’n vlieër
(Jean Mortimer)
’n (Verwerkte) Keltiese seën:
Mag God die beeldmaker jou seën (image maker)
Mag God die beelddraer jou seën (image bearer)
Mag God die beeldbouer jou seën (image grower)
Mag die Drie-enige ons nou en vir altyd seën.