2 Korintiërs 12: 2-10 (Jaco Boonzaaier)

9 Julie 2000

Derde sondag in koninkrykstyd

 

Ander tekste:            2 Samuel 5:1-5;9-10; Psalm 48; Markus 6:1-13

Daar is nie voorvereistes of voorwaardes aan God se krag nie – Hy deel dit uit genade vrylik uit aan swak en magtelose mense.

Teks en konteks

2 Korintiërs 12 is ‘n teks met talle fasette.  Die ‘versoeking’ in die teks is om sake wat op die periferie lę, in te trek en die fokus van die gedeelte te maak. So is daar veral in die literatuur ‘n aantal preke wat fokus op die inhoud van Paulus se visioen of selfs die betekenis van die doring in die vlees of die feit dat die doring beskryf word as ‘n gestuurde agent van die Satan. Volgens my lę die kern van die perikoop anders.

Enkele eksegetiese opmerkinge:

Die literęre kritiek het aangetoon dat ons in 2 Korintiërs nie ‘n enkele aaneenlopende boek / brief het nie. Die samestelling moet eerder as ‘n versameling van korrespondensie gelees word. So vorm Hoofstukke 10 tot 13 ‘n eenheid en kan as ‘n versameling rakende apostelskap tipeer word. Wanneer Hoofstuk 12 aan die orde kom, is die kleiner konteks die vier hoofstukke 10 - 13. In dié vier hoofstukke word daar teen die valse en vreemde apostels reageer.

Becker (1993:216 vv) toon aan hoe Paulus in sy reaksie teen die valse apostels die hele situasie intens beleef, nie omdat dit ‘n persoonlike aanval op hom is nie, maar omdat die evangelie (as gevolg van die werking van die valse apostels) verwring word. Paulus is so diep geraak dat hy in 12:2-10 bereid is om ‘n dwase toespraak – na analogie van sy interpretasie van die valse apostels se toesprake – te maak. Die feit dat die evangelie onder skoot kom, bring mee dat hy sy opponente as dienaars van die Satan brandmerk (11:13-15). Die gevolg van die verdraaide opvattinge van die valse apostels is ‘n krisis in die kerk / gemeente. Die kerk se identiteit is verwring. Die gevolg is ‘n konflik gelade situasie waarbinne Paulus sy toespraak aan mede-gelowiges moet maak om die evangelie se sentrale waarhede te onderstreep.

Die inhoud van Paulus se ‘toespraak van ‘n dwaas’ moet teen die agtergrond van die situasie waarbinne dit plaasvind, verklaar word. Wanneer ‘n mens ‘mirror reading’ doen, is dit duidelik dat die inhoud aan twee groot temas gekoppel kan word. Die een synde visies en visioene en die ander genesing / heling. Uit die eerste Korintiërbrief  is dit reeds duidelik dat die gemeente(s) in Korinte ‘n sekere vorm van ‘charismatiese afhanklikheid’ gehad het. Paulus se uitvoerige bespreking oor die werking van die Gees en die veral die gedeelte oor die gawes van die Gees lei ‘n mens tot die besef van die omvang van die gemeente se klem op die werking van die Gees. Aangesien partyskappe ook in dié gemeente aan die orde van die dag was, is dit heel logies dat sekere geestelike leiers meer byval as ander sou vind.

Paulus se verstaan van die evangelie is van kardinale belang in die interpretasie van hoofstuk 12. Soos te sien is in Romeine 6 en 8 en 1 Korintiërs het Paulus die kruis van Jesus Christus as vertrekpunt van sy teologiese denke gebruik. Om ‘n navolger van Christus te wees, het beteken om gelykvormig aan Jesus Christus in sy lyding, sterwe en opstanding te wees. Lyding is daarom vir Paulus integraal deel van sy eskatologiese spanning tussen die ‘alreeds’ en die ‘nog nie’ van die gelowige se lewe. Dunn (1998:483) toon aan hoe dit juis gesigte en visioene is wat die huidige lewe van lyding negeer deur eensydig te fokus op die ontsnapping uit die lewe. Alhoewel so ‘n ontsnapping skynbaar vertroos, lei dit tot ‘n ontkenning van die identiteit van die gelowige en veral God in die hede. Die rede is voor die handliggend: terwyl God se krag juis in die swakheid van die mens (as kleipotte – 2 Kor 4:6, 7) tot uitdrukking kom, lei allerlei gesigte en visioene tot ‘n situasie waar God se gesig verberg word en sy krag afgeswak word.

Verdere agtergrond  perspektiewe

Die skopus van die gedeelte moet op God se krag te midde van ons swakheid en lyding val. In dié verband is dit interessant dat Paulus juis van die destydse węreldbeeld gebruik maak om die inhoud van sy visioen te onderstreep. Die derde hemel is verstaan as die woonplek van God self. Terwyl die eerste hemel die area net onder die hemelkoepel aangedui het en die tweede hemel die area bo die hemelkoepel – sterre, son en maan – het die derde hemel die woonplek van God self verteenwoordig. Die hoogste vorm van kontak tussen skepsel en Skepper kon alleen plaasvind wanneer kontak tussen die aarde en die derde hemel plaasgevind het. Om deur die Gees weggevoer te word tot by die woonplek van God was die hoogste vorm van kontak. (Vergelyk Johannes se Patmoservaring in Openbaring 1). Paulus het juis so ‘n ervaring gehad, maar selfs dit is nie rede om aan visioene en gesigte vas te hou nie. Die kruis – God se wysheid – bly die kern.

Genesing het in die eerste eeu gedien as ‘n baie sterk bewys van God se teenwoordigheid. Jesus se bediening asook die bediening van die dissipels het baie sterk gefokus op genesing as ‘bewys’ van God se goedkeuring op ‘n bediening. Maar ook dit, word in 2 Korintiërs 12 in perspektief geplaas wanneer Paulus – die groot apostel – sonder genesing in swakheid sy bediening van verlossing bekendmaak.

Anders as wat ‘n mens sou verwag, maak Paulus juis nie gewag van die sogenaamde sterk kenmerke van ‘n geseënde bediening nie. Hy fokus juis op die swakheid en broosheid as teelaarde vir ‘n geseënde bediening. Binne ons moderne raamwerk waarin pragmatiese (dinge wat werk en opspraak wek) groot aandag kry, word die evangelie se opspraakwekkende aard juis onderstreep: God werk nie deur opspraakwekkende gebeure nie, maar juis op plekke en tye wat oninteressant en byna onbelangrik skyn te wees.

2 Korintiërs 12 herinner ons in koninkrykstyd juis aan dat God se koninkryk – waarvoor ons telkens bid (vergelyk Mt 6) – totaal anders lyk as die suksesvolle aardse koninkryke. In God se koninkryk is daar nie die oorvloed van trompetgeskal en blink linte waarmee aardse sukses dikwels aangedui word nie. Nee, in God se koninkryk is dit juis op die vaal plekke tussen vaal en swak mense waar God se evangelie-lig deurbreek en waar God se krag gesien word.

Hermeneutiese punte:

Die tye waarin ons leef, word in ‘n sekere sin gekenmerk deur ‘n voortgaande soeke na sukses en geslaagdheid. Die maatstawwe van sukses word dikwels deur ‘n pragmatiese (dinge wat werk) of hedonistiese (dinge wat lekker is) uitkyk bepaal. In die advertensiewese is dit treffend hoe dikwels ‘n produk juis bemark word deur te wys op die verbetering in die koper se situasie wat moontlik word. Die vaal mannetjie van die Ego-advertensie van ‘n paar jaar terug kan sy situasie verbeter deur die produk te gebruik. Deur eerste klas te vlieg met ‘n lugredery wat meer beenspasie en beter diens waarborg (en dit deur ‘n goeie fee se inspraak!) is beter as ‘n ander opsie waar ekonomie dalk ter sprake kom. Ook word die kerk van Jesus Christus – die sigbare gestalte van God se koninkryk op aarde – nie gespaar van suksesdenke nie. In die beplanning en bestuur van gemeentes word węreldse suksesresepte op wenstrategieë dikwels as maatstaf gebruik. Sukses word inderdaad ‘n baie belangrike saak!

Dit is heel moontlik dat Paulus in sy kontak met gemeentelede van Korinte ook moes hoor hoe suksesvol dié en dié geestelike leier se bediening is. ‘n Bediening wat natuurlik voortdurend rugbaar word vanweë die sigbare bewyse van aktiwiteit: die leiers kry die wonderlikste visioene en spesiale openbarings. Hulle hou uiters suksesvolle eredienste – dienste waar wonders van genesing op ‘n gereelde basis plaasvind. Voorwaar die plek om te wees: dit lewe en bruis daar. Daar is geensins sprake van ‘n geestelike doodsheid nie. Dinge gebeur nie net nie, maar die hand van God word sigbaar en veral dit oortuig mense daarvan dat hulle reg is en reg doen. Ag, hoe dikwels hoor ons nie van ander gemeentes en kerke waar wonderlike dinge gebeur en ervaar hoe hierdie wonderlike dinge die maatstaf van ‘n geslaagde geloofsgemeenskap word! Miskien het jy ook al beleef hoe so iets uitmond in ‘n totale gevoel van mislukking met jou eie bediening! Indien wel, gedenk Paulus.

Paulus vertel in sy ‘toespraak van dwaasheid’ (2 Kor 12:2-10) van ‘n visioen waarop hy sou kon staatmaak as hy homself ook soos die valse apostels wou ophemel. Maar heelaas gebruik hy juis die voorbeeld van die doring in die vlees om die perspektief op God en die wonderlikheid van die apostel se ervaringe te vestig. In omstandighede wat soos vandag juis op die opspraakwekkende gefokus was, kies hy om die evangeliese fokus op God se krag te vestig. Die dwaasheid van die mens sou juis duidelik wees wanneer God se krag op die agtergrond geskuif word. ‘n Mens sou die geykte cliché kon gebruik deur daarop te wys dat die evangelie fokus op die God agter die wonderwerke eerder as op die wonderwerke van God.

Hierdie fokus bring wonderlike perspektiewe van hoop. Dit is in hopelose tye nodig om juis die klem op God se werksaamheid te midde van hopeloosheid en troosteloosheid te laat val. In tye wanneer dit lyk asof die mens sonder uitsig en ‘n toekoms moet voortgaan, wil die teks ons juis daaraan herinner dat God in sulke tye kragtig werk. Mense wat met ‘n doring in die vlees leef, kan hoor en weet dat God se genade genoeg is en genesing juis nie as ‘n suksesmaatstaf gesin moet word nie. Soveel mense hoor in ons dag dat genesing as ‘n uiteinde van ‘n groot genoeg geloof, aan die mens kan gesien moet word. Om siek te bly en aan ‘n kroniese siekte te ly is vir talle juis ‘n ‘teken’ van ‘n gebrek aan geloof of dalk selfs ‘n probleem van onbekeerdheid. Dit het vandag so tipies geword om siekte en lyding as tekens van God-de-loosheid te sien. 2 Korintiërs 12 wil ‘n streep deur sulke suksesdenke trek. Meer nog wil dit die sogenaamde voorspoedteologie nek omdraai.

Predikers sal opnuut sensitief moet word vir die boodskap van die kruis. ‘n Boodskap wat in terme van moderne denke totale dwaasheid is – vergelyk 1 Korintiërs 1. Hiermee saam sal God se bemoeienis met die lydendes en sosiale uitgeworpenes beklemtoon moet word. ‘n Bemoeienis wat nie geskoei moet word op ‘n bevrydingsteologie wat God die Vryheidsvegter van die onderdrukte maak nie, maar God uitwys as die Regverdige wat omsien na die swakheid van die mens. Soos wat Jesus Christus byna 2000 jaar gelede God se koninkryk as die nuwe węreld kom aanwys het, sal ons as predikers God se nuwe węreld – wat totaal anders as die moderne sukseswęreld is – moet aandui. God se nuwe węreld waar die paradoks geld dat God se krag in die mens se onmag en swakheid tot uitdrukking kom.

Op ‘n uiters verantwoordelike manier sal die valse apostels van die dag uitgewys moet word. Die verwringing van die evangelie as gevolg van ‘n suksesgeoriënteerdheid moet omgekeer word. Die praktyk van gelowige-wees in troostelose tye, waar die mens se lewe telkens aan skerwe gebreek word, bied ‘n uitstekende ‘back drop’ vir ‘n preek uit 2 Korintiërs 12.

Preekvoorstel

In ‘n eerste beweging kan daar in die prediking gewys word op die suksesmentaliteit van ons gemeenskap. In die kerk neem ons dikwels kennis van opspraakwekkende dinge wat in ander kerk plaasvind en wat ‘n mens as gelowige tweede beste laat voel. As voorbeeld kan ‘n oorsese vliegtuigreis gebruik word. Baie van ons kan net ekonomiese klas bekostig. In ekonomiese klas sit ons ingedruk met jou knieë wat dikwels tot langs jou ore opgetrek is. Mense wat besigheidsklas vlieg het dikwels baie beenruimte en lyk asof hulle totaal uitgerus anderkant aankom. Wat eerste klas betref: wel, jy mag nie eers gaan kyk nie. Ek het al gewonder of elkeen in eerste klas nie ‘n kamer vir hulleself het nie!

Wel, in gesprekke met ander gelowiges lei hulle opmerkings oor opspraakwekkende en suksesvolle bedienings dikwels daartoe dat ‘n mens nie net minderwaardig voel nie, maar selfs wonder of jy dan totaal onbekeerd en ongered in jou eie gemeente is. Die opspraakwekkende gesigte en visioene of selfs genesings wat elders plaasvind laat jou dikwels voel asof jy jouself in die doodste gemeente aan dié kant van die graf bevind.

Met goeie reg sou Paulus ook iets van hierdie tweede klas gevoel kon ervaar. Hy het immers geworstel met ‘n persoonlike probleem waarvan hy self sę dat dit soos ‘n spies deur sy hart gevoel het. Ten spyte daarvan dat Paulus ook in sy lewe ‘n wonderlike visioen gehad het, was dit eerder die bewustheid van sy swakheid wat hom voor ‘n geloofskrisis gebring het. Om siek te wees, sou immers vertolk kon word as ‘n gebrek aan geloof of dalk ‘n fout in sy bediening waarvoor hy straf verduur!

Helaas, te midde van sy eie tekortkominge word Paulus meer en meer bewus van die oorvloed en krag by God. In sy geloofsvertwyfeling val hy nie terug op sy eie ervaring van Goddelike gesigte nie, maar op die woorde in 12:9: “My genade is vir jou genoeg…My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is…” Dit lei uiteindelik tot die belydenis: “Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”

In ons gelykvormigheid aan Christus durf ons nie in die denkslagyster trap om te dink dat God gelyk is aan gesondheid nie. Ons mag nie genesing as ‘n vereiste vir die lewe sien nie. Ons mag nie verkondig dat God soos die goeie fee in Aspoestertjie aan elkeen drie wense gee om ‘n beter lewe te lei nie. Nee, ons moet eerder daarop fokus dat God gister, vandag en more dieselfde is. Dat Hy die gans andere is wat juis op ander maniere en plekke sy krag tot uitvoering bring. Dit bring ‘n mens juis tot die besef dat dit ‘n moelike saak is om die toewydingslied; “U die Pottebakker…ek die klei…vorm my en maak my soos U wil…”, te sing.

Wat ons verstaan van kerkwees en gemeentewees betref: hoe wonderlik om te weet dat selfs te midde van ons swakheid en broosheid God se krag juis in ons onmag deurskemer. Ons het dus nie rede om krampagtig sukses na te jaag asof die voortbestaan van God se koninkryk van ons afhang nie. Ons kan ons rustig op Hom verlaat. Ons kan steun op sy krag. Ons kan voluit leef in die kragveld van sy onvoorwaardelike liefde, want ons wat maar kleipotte is wat maklik breek word gedra deur die krag wat alles oortref – die krag wat van God af kom (2 Kor 4:7).

Na alles word ons gelei om net weer te besef dat daar nie iets soos ‘n eie bydrae tot die geloof te maak is nie. Gestroop van alle eie ervarings en geloofsbelewinge, wat dien as basis van sekerheid, staan elkeen in sy swakheid in die kragveld van God. Ten spyte van elke visioen of gesig staan ons in wese telkens met ons doring in die vlees voor God. Wanneer ek wil roem, dan nie in my eie grootheid nie, maar met die besef van my eie swakheid. Na alles kan ons nie anders as om saam met Paulus te jubel: “Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid” (2 Kor 11:31).

 

Bibliografie

Becker, J.  1993.  Paul: Apostle to the Gentiles.  Westminster / John Knox Press. Kentucky: Louisville.  Dunn, JDG.  1998.  The Theology of Paul the Apostle.  William B Eerdmans Publishing Company.  Michigan: Grand Rapids.  Martin, RP.  1986.  2 Corinthians.  Word Biblical Commentary.  Word Books, Publisher. Texas: Waco.