2 Korintiërs 8:7-15 (Jaco Boonzaaier)

2 Julie 2000

Tweede week in Koninkrykstyd

 

Ander tekste:  2 Samuel 1:1; 17-27; Psalm 130; Markus 5:21-43

Gelowiges is rentmeesters van soveel gawes uit die hand van God en daarom is dit ‘n logiese gevolg dat hulle vrygewig sal uitdeel aan mekaar en ook ‘n verarmde węreld.

Teks en konteks

Daar is in die moderne Bybelliteratuur ‘n voortgaande poging om die samestelling van die tweede Korintiërbrief te ontleed. Veral in die literęre kritiek is daar talle pogings om die samestelling van die brief aan te toon. Sonder om in die detail van die literęre kritiek vas te val, kan ons voorlopig aanvaar dat die brief uit drie dele bestaan. In die literatuur is daar redelike eenstemmigheid dat hoofstukke 8 en 9 saamgelees moet word met 1:1-2:13; 7:5-16; 8-9 (Becker 1993:258). Die sentrale tema handel oor die insameling van bydraes vir die arm gelowiges in Judea. Ook in talle ander briewe van Paulus kom hierdie tema na vore.

Oor die begin van die insamelingspoging kan ons Galasiërs 2:10 lees. Hier sien ons hoe Paulus en Barnabas na die apostelkonvent dit as ‘n persoonlike opdrag sien om fondse in die tipies heidense area in te samel en aan die ‘moedergemeente’ in Jerusalem te stuur. Nęrens word gewag gemaak van die rede waarom die Jerusalem gemeenskap verarm was en hulp nodig gehad het nie. Die feit word bloot genoem en dan word aan die hand van die beginsel in Galasiërs 6:2, 10 hulp gevra vir medegelowiges in nood. Dit is belangrik om daarop te let dat die bydrae ‘n vrywillige bydrae was en kan nie in verband met die Tempelbelasting gesien kan word nie (Becker 1993:259).

Romeine 15:27b wys hoe Paulus, met alles in en aan hom, by hierdie ooreenkoms wou hou. Paulus se situasie rondom die insameling het drasties verander sedert sy eerste besoek aan Korinte. Afgelei uit die sogenaamde tranebrief (2 Kor 2:1-4) en die beplande verdere besoek (2 Kor 2:3, 4, 9, 7:8-12) sien ons dat die kollekte in Korinte nie so glad verloop het nie. Daar was bepaalde redes waarom die bydraes vertraag of dalk heeltemal gestop is. Moontlike redes is nie direk uit die teks te sien nie, maar na alle waarskynlikheid het die insamelingspogings onder druk verkeer as gevolg van die krisis in Korinte oor apostelskap en die veronderstelde opmerkings wat die ‘superapostels’ (vergelyk 2 Kor 10-13) gemaak het. Dit, saam met die feit dat Masedonië besluit om ‘n spontane bydrae saam met Agaje te maak (Rom 15:26, 27), noop Paulus om ‘n spesiale aansporing in 2 Korintiërs 8-9 te skryf.

Dunn (1998:706) wys op die feit dat die insameling een van die sentrale gebeure in die apostel se lewe was. Die hele poging word op ‘n spits gedryf soos sy sending einde se kant toe staan. Hy verwys meer daarna as na enige ander goeie werk of persoonlike bydrae. Dit was selfs hierdie insameling wat hom teruggeneem het Rome toe en waarskynlik ingespeel het in die laaste hoofstuk van sy lewe daar. Paulus sluit selfs die hoofgedeelte van Romeine (sy geestelike testament) af met ‘n gedeelte oor die insameling. Die insameling bied ten diepste die knooppunt vir Paulus se teologie, sendingaktiwiteite en pastorale bewussyn. 

Wat die fisiese insameling betref, het dit waarskynlik so gewerk dat Paulus net die aanvoorwerk gedoen het, waarna die gemeentes self die insameling behartig en die insamelings na Jerusalem gestuur het. Wanneer Titus en twee broers vanaf Masedonië na Korinte gestuur word (2 Kor 8:8-9) is dit net om die insameling wat sowat ‘n jaar vroeër begin het, af te rond en af te sluit. Onsuksesvolle afsluiting sou lei tot ‘n persoonlike verknorsing vir Paulus aangesien hy die voorbeeld van Korinte as motivering elders gebruik het (Becker 1993:25)

In 2 Korintiërs 8-9 sien ons dat Paulus die kwessie van bydraes nie uit die lug gegryp het nie. Bo-aan staan die gebruik van die term ‘genade’.  Nie minder nie as 10 keer word ‘genade’ in 2 Korintiërs 8-9 gebruik. Christus se genadedaad as ‘n daad van ‘oorvloedige self-opoffering’ (2 Kor 8:9) staan voorop. Die hele insameling word verder in 2 Korintiërs 8:6-7 as ‘n stuk genade-werksaamheid gesien. Tereg kan ‘n mens ‘n beeld vorm van gelowiges wat soos die bestuurders in die gelykenis in Matteus 25:14vv opgeroep word om die onverdiende geskenke met sorg te bestuur. Uit genade ontvang die gelowige ‘n klomp geskenke: geloof, die gawe om die woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en die liefde van medegelowiges (2 Kor 8:7). Die minste wat hulle kan doen, is om dit – as bestuurders / rentmeesters – met verantwoordelikheid uit te deel en so in hulle liefdeswerk oorvloedig te wees.

Daar is uit die teksgedeelte veral twee teologiese motiewe wat aangesny word: (1) die feit dat gelowiges saam onder die wet van Christus staan en gevolglik ‘n verpligting teenoor mekaar het (Gal 2:10) en (2) dat Christene ‘n plig van onderlinge mededeelsaamheid het – hierdie tema word in 9:13 weer opgeneem. Soos wat die res van die węreld in die rykdom van die evangelie wat vanuit Jerusalem uitgegaan het, deel gekry het, moet die res van die węreld Jerusalem in hulle materiële welvaart laat deel aangesien laasgenoemde ‘n tekort het.

Gevolglik kan ons aflei dat vrygewigheid vir Paulus ‘n noodsaaklike uitdrukking / gevolg van die genade wat ontvang is van Christus uitgemaak het. Genade het eers tot wasdom gekom wanneer vrygewige mense op die voorgrond verskyn het (Dunn 1998:707). Die sirkel van genade word voltooi wanneer mense uit dankbaarheid aan God teruggee, deur hulle vrygewige bydraes wat hulle aan ander gelowiges gee. Hierdie beginsel word as die beginsel van resiprositeit aangedui: die wat in oorvloed het (2 Kor 8:7) gee uit dankbaarheid aan dié wat tekort het en hierdeur verrig hulle ‘n oorvloedige liefdeswerk.

‘n Belangrike perspektief op die vrygewigheid vind ons in 2 Korintiërs 8:12. Hier is daar eerstens die beginsel van vrywilligheid (“as die goeie wil daar is…”) en tweedens die beginsel van “…volgens wat hy het…” Daar is in die moderne literatuur talle pogings om die Ou-Testamentiese beginsel van ‘n tiende in die Nuwe Testament in te lees. Dit is egter ‘n futiele oefening aangesien die tiende as (verpligte) bydrae vir ‘n paar redes nie in die Nuwe Testament tuis hoort nie. Die mees voor die handliggende is die blote feit dat die tiende in die Ou Testament alles behalwe ‘n vrywillige bydrae was. Marcus Borg (1991:84) het in sy opspraakwekkende Jesus – A new vision reeds breedvoerig aangetoon hoe die verpligting telkens op die Israeliete geplaas is om tiendes te gee as ‘n soort “tempelbelasting” volgens die instruksie van die Tora. Hiervolgens was alles behalwe ‘n vrywilligheid ter sprake. Die beginsel van vrywilligheid in 2 Korintiërs 8:12 staan gevolglik as deel van die ‘nuwe verbond’ nader aan gemeente-wees as die Ou-Testamentiese tiende. Borg (1991:84) het interessant genoeg aangedui hoe die sogenaamde tiende in werklikheid nie 10% nie, maar ‘n bietjie meer as 20% van die inkomste veronderstel het.

Die beginsel van “…volgens wat hy het…” (2 Kor 8:12), word in ‘n aantal Nuwe-Testamentiese gedeeltes met voorbeelde toegelig. So byvoorbeeld kan die verhaal van die weduwee in Markus 12:41-44, die sondige vrou (Luk 7:36-50), en Saggeus (Luk 19:1-10) gebruik word om aan te toon dat die ‘klimaat’ van die Nuwe Testament  anders is as dié van die Ou Testament.  Romeine 12:1vv bied seker een van die kragtigste tekste om aan te toon hoe die Ou-Testamentiese konsep van die tiende in die Nuwe Testament intensiveer word om uiteindelik ‘n bydrae van tien tiendes en nie net ‘n enkele een te beteken. Paulus noem dit selfs in Romeine 12:1 die logiese van die geloof wat ons bely. Die rede is verder in 2 Korintiërs 8:7 duidelik te sien: “Aangesien julle alles in oorvloed het…” Ten diepste is gelowiges immers mense wat deur God se genade meer ontvang as wat hulle verdien of alleen kan gebruik sodat hulle hulle goeie werke voor ander kan doen en God sodoende die eer ontvang (vergelyk Matt 5:16).

Preekskets

Daar is sekerlik ‘n klomp redes waarom gelowiges vrygewig kan wees. Party gee uit edelheid (“Wys hoe sagmoedig en goed jy is…”), ander gee uit ‘n gevoel van skuld (“Haai kyk net hoe sukkel die arme bloedjies…”), party gee omdat daar ‘n appčl gemaak word (“Kom ons verlig die nood van die węreld!”), nog ander omdat hulle ‘n innerlike vrede soek (“Jy sal so bly wees as jy bydra…”), terwyl sommige gee vir ‘n valse gerustheid (“Die Here seën jou…”). So sal elke prediker in sy eie situasie ‘n veeltal van motiverings kan aandui. Paulus se vertrekpunt is egter ‘n ander motivering. Sy motivering is in God se genade te sien. As predikers is die appčl op ons om gelowiges te help om God se genade te ervaar, te identifiseer en daarop te reageer. Daarom begin hierdie preekskets op geen ander plek nie as in die lig van God se genade. Daar, by die kruis van Golgota word die perkeloosheid van sy liefde en genade se gesien en beleef. Gedeeltes soos Filippense 2:6-11 kan gebruik word om die genade net weer te onderstreep. In ‘n tweede beweging word die genade tuisgebring deur die aandag te vestig op elkeen se ontvangs daarvan. Genade is nie iets wat buite-om beskryf word nie, maar iets waar vanuit getuig word. ‘n Gedeelte soos Romeine 8:18-30 help elkeen om net weer die persoonlike ontvangs en aandeel in God se genade raak te sien. In ‘n derde beweging word rentmeesterskap en veral dan die aangee van dit wat ontvang is, beklemtoon. Die vrywilligheid (bydraes is nie Ou-Testamentiese tiendes nie!) moet beklemtoon word. ‘n Mens behoort 2 Korintiërs 9:7 se bedekte waarskuwing nie links te laat lę nie! Vervolgens ‘n voorbeeld van preekgedagtes wat ontgin kan word:

‘n Mens kan die konsep van rentmeesterskap baie goed in die gedagtes aan die orde stel deur die gelykenis van Matteus 25: 14vv op ‘n narratiewe manier oor te vertel. Iets soos byvoorbeeld die volgende:  Op ‘n dag het Jesus ‘n gelykenis vertel wat min of meer as volg geloop het…  ‘n belangrike man moet op reis gaan. Hy roep sy bestuurders in en gee vir elkeen ‘n hoeveelheid geld om kundig te belę. Terwyl twee met die geld woel en werk, begrawe een van die ekonome die geld en gaan sit op sy kampstoeltjie bo-op dit. Wanneer die eienaar van die geld terugkom, moet die ekonome verslag lewer. Die eerste twee bring die aanvanklike belegging en nog soveel rente terug. Die derde staan verleë omdat hy niks meer as die aanvanklike belegging kan wys nie. Die het hy vir veilige bewaring begrawe in die agtertuin en die heel tyd daaroor waggehou deur op ‘n kampstoeltjie bo-op dit te sit. Die gevolg was dat hy die belegging moet afstaan, in die pad gesteek word en selfs verdoem word tot ‘n ewige armoede… In die eerste beweging is dit belangrik om eienaarskap van God se belegging van genade te neem. In ander woorde: elke lidmaat moet besef (al is dit vir ‘n eerste keer!) hoeveel God al in sy en haar lewe uit genade in vrygewigheid gegee het. Iets soos die volgende:

Wanneer Paulus in 2 Kor 8 en 9 aan die woord is, is dit ‘n gewigtige woord wat hy op die hart het… Wanneer laas het jy ‘n bietjie gedink aan die hoeveelheid dinge wat die Here aan jou gegee het om vir Hom te belę? ‘n Moeilike vraag? Wel, kom ons dink ‘n bietjie saam… Daar was ‘n dag toe die Here my gemaak het. Op enkele plekke in die Ou Testament lees ons dat Hy my voor my geboorte al geken het en met my bemoeienis gemaak het. In die gemeente het die Here sy liefde en trou bewys toe ek gedoop is en deel van die gemeente gemaak is. Deur sy genade het ek die genade ontvang om tot geloof te kom. Ek het van kleins af die geleentheid om Sondae saam met medegelowiges eredienste by te woon. Ek kry tot vandag toe nog elke dag genoeg genade om te leef. Ek het ‘n inkomste, dalk ‘n huis, motor, kos op die tafel, ag soveel dinge – ek sal nie kan ophou om dit op te noem as ek eers begin nie!

Ag, kom ons dink net ‘n oomblik aan ons lewens as gelowiges terug… Daar was ‘n dag – byna 2000 jaar gelede toe Jesus Christus aan die kruis van Kopbeenkoppie (Golgota) die rekening vir my sonde afgelos het. ‘n Dag toe Hy in my plek soos ‘n misdadiger behandel is sodat ek vandag kan vrygemaak kan lewe. Wanneer Paulus in 2 Korintiërs 8 oor daardie dag nadink, noem hy dit die dag toe Jesus sy rykdom prysgegee het sodat ek – wat bankrot arm was – deur sy genade deel kan kry aan sy rykdom. Meer nog lewe God deur sy Gees in my om my daagliks te lei en te ondersteun. Hy het my van kleins af ingenooi in sy gemeente ensovoorts.  In kort: God se liefde vir ons is so groot dat ons hande nie eers naastenby al sy geskenke van genade kan vashou nie. Dit is eenvoudig net te veel om te verstaan of vas te hou.

‘n Mens kan natuurlik so oorbluf wees wanneer jy God se grootheid en die omvang van sy liefde besef dat dit jou totaal en al verlam laat. ‘n Mens kan so oorbluf wees dat dit jou laat stilstaan soos wanneer jy groot geskrik het. Paulus wil egter ‘n goeie stukkie raad vir ons aangee om te help om die verlamming teen te werk:  Die genade wat ons ontvang het en nog steeds ontvang as teken van God se liefde is iets wat ‘n mens se hande brand. Soos wat die gemeente in Masedonië beleef het (2 Kor 8:1), is dit iets wat aangegee moet word. Om dit in verband met die voorbeeld aan die begin te bring: dit moet belę word. Nie begrawe nie – dit is eenvoudig te kosbaar – maar belę. Deur dit te aan te gee / belę, word dit al hoe meer en groei dit. Meer nog is dit nie net die woorde van genade wat ter sprake is nie, maar ook fisiese tekens van genade. Die aardse skatte wat ons het – ‘n huis, motor, kontant, ensovoorts is alles geskenke wat die Here aan ons leen om vir Hom te belę. Daar is ‘n baie mooi Afrikaanse liedjie van Koos Du Plessis (Koos se ‘Gebed’) wat sę: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen…”

Die uitdeel en vrygewigheid van gelowiges is ‘n dankbare aangee van die dinge wat die Here in soveel oorvloed eerste aangegee het. Ons ken almal voorbeelde van mense wat vrygewig aangee wat die Here vir hulle gegee het. Die teks wil ons egter laat onthou dat ons elkeen in soveel oorvloed lewe dat ons kan aangee en vrywillig uitdeel aan ander wat nie genoeg het nie. Wanneer die gemeenteleierskap bydraes vra, is dit amper ‘n aanklag teen ons wat soveel het, maar krampagtig dit nie wil uitdeel nie! In ‘n ekonomiese studie wat gedoen is, is daar bevind dat mense wat twee motors het, deel uitmaak van die 5% rykste mense in die węreld. Meer nog: in ‘n studie wat deur die Financial Times in 1997 gedoen is, is daar gevind dat daar 1,3 biljoene mense is wat jaarliks minder as 1 $ (VSA) verdien. Daar is 80 lande waar mense minder verdien as 10 jaar gelede. Terwyl daar meer en meer mense daagliks van honger sterf, was daar in die afgelope 10 jaar 61 groot gewapende konflikte waartydens baie mense gesterf het en nog meer haweloos gelaat is. Ons dink dikwels dat dit met ons swaar gaan, maar hierdie tipe syfers en die beelde op die TV en dagblaaie se voorblaaie help ons onthou hoeveel ons in werklikheid wel besit. Sonder om in syfers en statistiek te verdrink, kan ons nie anders as om aan mekaar te erken dat ons besondere genade ontvang – meer nog dat ons in oorvloed lewe!

As gelowiges durf ons ons nie verlekker in die nood van ander nie. Ons durf nie liefdeloos ons skouers optrek en met ‘n skud van die kop anderpad kyk nie. Trouens die teks in 2 Korintiërs 8:13 herinner ons daaraan dat daar ewewig behoort te wees. Nou is die gevaar natuurlik dat ‘n mens dit verkeerd kan verstaan. Verkeerdelik kan ‘n mens voel dat jy met die pistool teen die kop forseer word om te gee – dalk selfs te gee wat jy nie het nie. Onthou dan dat vers 12 eindig met die woorde: “Hy (God) verwag nie van hom (gelowige) wat hy nie het nie.” Die Here verwag nie van ons om te gee wat ons nie kan gee nie. Trouens volg Paulus in Hoofstuk 9 sy oproep tot vrygewigheid op met ‘n herinnering aan die volgende: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hę en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor 9:7, 8). Daar is geen dwang nie – trouens bydraes wat onder dwang gegee word, moet liefs nie gegee word nie.

‘n Belangrike saak wat ook in die gedeelte ter sprake kom, is die adres vir die bydraes. ‘n Mens kan vrygewigheid verkeerdelik verstaan as ‘n algemene bydrae tot enige adres. Galasiërs 6:2 en 10 help egter om die adres te beklemtoon: Ons is primęr vir mekaar as gelowiges verantwoordelik. Eers op ‘n sekondęre vlak word ander mense genoem. Dit maak daarom sin dat ons die beginsel leef wat sę dat ons ons bydraes by die plaaslike gemeente ingee. Op hulle skouers rus die onus om as rentmeesters daarvan op te tree en dit met wysheid te versprei. ‘n Mens sou moedswillig kon wees en daarop wys dat die gemeentes in Korinte, Agaje en selfs Masedonië sekerlik in hulle eie omgewing van nood bewus kon wees, maar dat hulle eerder op aanvraag van Paulus tot ‘n gemeenskaplike behoefte – die armes in Judea – bygedra het. Hulle het ook nie gefladder tussen ‘n klomp verdienstelike sake nie, maar aan een aandag gegee volgens hulle voorneme van vroeër.

‘n Baie persoonlike nota van die medewerker

Geld is in baie gemeentes een van die taboes. Ons praat nie daaroor nie, want ons leer van kleins af dat ons kerk net gaan oor (e)N G(ee), (e)N G(ee),….. Aan die ander kant is dit dikwels tragies dat gelowiges so ‘n lakse houding teenoor hulle bydraes inneem. Baie is meer besorg oor die feit of bydraes voor of na belasting bereken moet word, dat die Nuwe-Testamentiese verstaan van vrygewigheid uit oorvloed maar net weer tot ‘n dwingende Ou-Testamentiese tiende of Tempelbelasting afgeswak word. 2 Korintiërs 8 (en 9) bied ‘n wonderlike teks om vrygewigheid en offervaardigheid mee in te lei en toe te lig. Literatuur van gemeentes waar hierdie saak al hoog op die agenda was, beklemtoon die belangrikheid daarvan dat ‘n mens nie tydens ‘n finansiële krisis oor bydraes preek nie. Offervaardigheid en vrygewigheid moet eerder beklemtoon word tydens tye van relatiewe voorspoed.

 

Bibliografie

Becker, J.  1993.  Paul: Apostle to the Gentiles.  Westminster / John Knox Press. Kentucky: Louisville. Borg, MJ.  1991.  Jesus : A new vision.  Harper & Row. San Francisco.  Dunn, JDG.  1998.  The Theology of Paul the Apostle.  William B Eerdmans Publishing Company.  Michigan: Grand Rapids. Martin, RP.  1986.  2 Corinthians.  Word Biblical Commentary.  Word Books, Publisher. Texas: Waco.