2 MAART 2003

sondag van verheerliking feesdiens

liturgiese voorstel

Fokusteks: 2 Korintiërs 4: 3-6

Ander tekste: 2 Konings 2: 1-12; Psalm 50: 1-6; Markus 9: 2-9

Inleiding

Sondag van verheerliking is die afsluiting van Kersfees/Epifanietyd en tegelyk ook die oorgang na lydenstyd. Op hierdie Sondag word daar gefokus op Jesus se verheerliking op die berg een van die geleenthede in sy lewe waar die heerlikheid van God sigbaar geword het en wat aanleiding gegee het tot die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God is. Die verhaal van die verheerliking word in die evangelielesing vir hierdie Sondag (Mk 9:2-9) weergegee. Dit is belangrik om dit saam met die fokusteks in die liturgie te gebruik. Die fokusteks (2 Kor 4:3-6) bied n interessante invalshoek vir die nadenke oor die verheerliking/heerlikheid van Jesus, naamlik die lig van die evangelie wat sigbaar word in Christus en wat die gelowige verlig tot kennis van die heerlikheid van God. Die Ou-Testamentieseteks (2 Kon 2:1-12) vertel van Elia se opname in heerlikheid in die hemel, terwyl die psalm (Ps 50: 1-6) n beskrywing gee van die glansryke verskyning van die Here. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit en die binneruim van die kerk kan ryklik versier word om uitdrukking te gee aan die glansryke gebeure op die berg. Die voorgestelde liturgie vir hierdie feesdag is gebaseer op die Lima-liturgie van die Wêreldraad van Kerke se Faith & Order-kommissie.

Indien die responsoriese gedeeltes in die liturgie om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in n gemeente is, kan n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

GOD VERgader ONS VOOR HOM

Aanvangslied

n Lied waarin die heerlikheid van Jesus besing word, soos Lied 152, 153, 159 (NSG 343), 168 (NSG 160), 171, 175, 176 of 177 (NSG 165). Een van die volgende Taizé-liedere kan ook oorweeg word: Lied 224, 225, 226 of 227.

Aanvangswoord/votum

2 Korintiërs 4:6 kan as votum gebruik word.

Seëngroet

Voorganger: In die Naam van die verheerlikte Here: genade en vrede vir julle almal.

Gemeente: En ook vir jou.

Skuldbelydenis

Die gemeente bely hulle skuld saam hardop soos volg:

Genadige God,

ons bely dat ons in gedagtes, woorde en dade

teen U gesondig het;

deur dit wat gedoen het

en dit wat ons nagelaat het om te doen.

Ons het U nie lief gehad met ons hele hart,

en ons naaste nie liefgehad soos onsself nie.

Wees ons genadig, ter wille van u Seun, Jesus Christus.

Vergewe ons, vernuwe ons en lei ons

sodat ons vreugde kan vind in u wil

en kan wandel op u weg,

tot eer van u heilige Naam.

Amen.

(Of die voorganger doen die skuldbelydenis namens die gemeente en hulle bevestig dit met die "Amen").

Verootmoediging

Die gemeente sing een van die Kyries in die nuwe Liedboek, byvoorbeeld Lied 242, 247 of 248.

Vryspraak

Voorganger: Die Almagtige God

het sy Seun, Jesus Christus, gegee om vir ons te sterf

en Hy vergewe ons sonde op grond van die verdienste van Christus.

Daarom verkondig ek aan julle

volkome vergifnis van julle sonde,

in die Naam van die Vader,

en van die Seun

en van die Heilige Gees.

Gemeente: Amen.

Kyrie-litanie

Voorganger: Sodat ons in staat kan wees om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het,

te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe en sodat om saam kan bely dat daar net een liggaam en een Gees is, net een Here, een geloof, een doop, een God en Vader

van almal laat ons tot die Here bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger: Sodat ons saam een liggaam kan wees in gemeenskap met die liggaam van Christus

wanneer ons die een brood breek en uit die een beker drink laat ons tot die Here

bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Voorganger: Sodat ons wat almal deur Christus met God versoen is, verenig kan wees in die

bediening van die versoening wat aan ons toevertrou is laat ons tot die Here bid.

Gemeente: Heer, wees ons genadig (of: Kyrie eleison).

Aanbidding en lof

Gepaste lofliedere kan nou gesing word, byvoorbeeld Lied 367,199, 201, 215 (NSG 130), 216 (NSG 156) of 223.

Kindertyd

Verduidelik vir die kinders dat verheerlikingsondag omtrent halfpad tussen Kersfees en Paasfees gevier word. Met Kersfees (toe Jesus gebore is) en by Paasfees (toe Jesus opgestaan het uit die dood) was daar verskillende dinge wat vir mense gewys het dat Jesus meer as n gewone mens was en dat Hy spesiaal van God af gekom het. Maar tussen Kersfees en Paasfees het Jesus as mens hier op aarde gelewe en die grootste deel van sy lewe was swaarkry. Dit kon maak dat mense vergeet het dat Jesus n spesiale mens was wat van God af gekom het. Daarom het God n paar keer in Jesus se lewe vir mense so ietsie gewys van wie Jesus regtig was. Een so n keer was toe Jesus en drie van sy dissipels op n hoë berg was. Vertel kortliks wat daar met Jesus op die berg gebeur het en verduidelik dat die verhaal ook vir ons help om te onthou dat Hy nie sommer n gewone mens was nie, maar dat Hy die Seun van God is.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament

2 Konings 2: 1-12

Skriflesing uit die Psalm:

Psalm 50: 1-6. Die Psalm kan soos volg responsories gelees word:

Gemeente: Die Here is God, Hy alleen is God.

Voorleser: Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,

van waar die son opkom tot waar hy ondergaan.

Gemeente: Die Here is God, Hy alleen is God.

Voorleser: Uit Sion, stad van volmaakte prag,

verskyn God in glans.

Ons God kom, Hy bly nie stil nie.

Voor Hom uit brand n vuur,

rondom Hom woed n storm.

Gemeente: Die Here is God, Hy alleen is God.

Voorleser: Hy roep die hemel en die aarde op:

"Maak bymekaar dié wat aan My getrou is

en n verbond met My gesluit het."

Gemeente: Die Here is God, Hy alleen is God.

Voorleser: Die hemel getuig: "God is regverdig,

en Hy is die regter."

Gemeente: Die Here is God, Hy alleen is God.

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

2 Korintiërs 4: 3-6

Sang

Een van die Hallelujas uit die Liedboek/Sionsgesange kan deur die gemeente of n koor gesing word, byvoorbeeld Lied 189, 206, 204, 218 of 228; NSG 19, 21, 118 of 327.

Skriflesing uit die evangelie

Markus 9: 2-9

Prediking

Stille nadenke

Geloofsbelydenis

Die gedeelte uit die geloofsbelydenis van Nicéa wat oor Christus handel, word deur die voorganger voorgehou, terwyl die gemeente na elke frase reageer met: " God het gesê: Dit is my geliefde Seun./ Ons sal na Hom luister".

Voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Eucharistiegebed

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die brood,

die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.

U gee die wyn,

die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.

Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Gemeente: Ons verheerlik U, nou en vir ewig!

Voorganger: Soos die koring wat oor die velde gestrooi was

en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,

op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,

mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af

saamgebring word in u koninkryk.

Gemeente: Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Mag die Here met julle wees!

Gemeente: En ook met jou!

Voorganger: Hef op julle harte.

Gemeente: Ons hef dit op tot die Here.

Voorganger: Kom ons bring dank aan die Here ons God.

Gemeente: Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger: Here, ons God, dit kom U toe dat ons dank en eer aan U bring -

oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

Deur u lewende Woord het U alle dinge geskape en verklaar dat dit goed is.

U het die mense na u beeld gemaak, om te deel in u lewe en u heerlikheid te weerspieël.

In die volheid van die tyd het U Christus vir ons gegee as die weg, die waarheid en die lewe.

Hy is deur die Heilige Gees aangewys as u dienaar om die evangelie aan armes te verkondig.

By die laaste maaltyd het Hy die nagmaal ingestel,

sodat ons sy dood en opstanding kan gedenk

en sy teenwoordigheid in die brood en die wyn kan ontvang.

Daarom prys ons u Naam saam met die hemelwesens,

saam met die profete en apostels,

saam met alles wat asem het.

Gemeente: Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hosanna vir die Seun van Dawid!

Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger: Here God, Skepper van die hemel en die aarde,

U is heilig en u heerlikheid is sonder maat of perk.

Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom

sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Gemeente: Kom, Skepper-Gees!

Voorganger: Mag die Skepper-Gees die woorde van u geliefde Seun n werklikheid laat word.

Want in die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy die brood geneem,

en nadat Hy U daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:

"Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis."

Ná die maaltyd het Hy die beker geneem en gesê:

"Hierdie is die nuwe verbond in my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis."

Gemeente: Ons verkondig u dood, Here Jesus!

Ons vier u opstanding uit die dood!

Ons wag op u koms in heerlikheid!

Voorganger: Here ons God,

ons roep vandag in herinnering die lewe van u Seun Jesus Christus,

die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het,

van wie U gesê het: "Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom."

Laat die heerlikheid wat van Hom uitstraal,

ook in ons harte n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God.

Gemeente: Maranata! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

Gemeente: Kom, Skepper-Gees!

Voorganger: Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

en die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente: Amen.

Voorganger: As gedoopte kinders van God bid ons nou saam:

Gemeente: Die "Ons Vader"-gebed (kan ook in die vorm van Lied 266 of NSG 325 gesing word)

 

Vredesgroet

Die gemeentelede groet mekaar met n handdruk of omhelsing met die woorde: "Mag die vrede van die Here met jou wees."

Nagmaal

Die instellingswoorde van die, uitgespreek deur die voorganger word gevolg deur die Agnus Dei:

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem

Gemeente: Here, gee ons u vrede.

Uitdeling van die tekens en kommunie

Lofprysing

Psalm 103: 8-13 kan deur die voorganger of n gemeentelid voorgelees word.

Dankgebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 195:2, 197, 470 of 472 (of een van die ander liedere hierbo genoem)

Seën

Mag God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis,"

ook in julle harte n lig laat skyn om julle te verlig met die kennis van die heerlikheid van God,

wat van Jesus Christus uitstraal.

Amen (deur die gemeente gesing in een van die weergawes in die Liedboek, Lied 312-316).

As alternatief vir die seën kan NSG 355 of 356 gesing word.

 

PREEKSTUDIE 2 KORINTIëRS 4:3-6

Teks en konteks

Om meer as een rede wil ek graag die fokusteks vir vandag uit 2 Korintiërs teen die agtergrond van die brief se unieke kenmerke lees. Behalwe dat dit eksegeties verantwoordelik is, kom n teks uit 2 Korintiërs slegs een keer in die loop van die huidige jaarsiklus aan die woord. Enige preek oor die fokusteks sal dus goed doen deur duidelik aan te sluit by die agtergrond en hooftrekke van die brief. Ek probeer dit kortliks op te som, maar dit sou soveel deegliker en avontuurliker nagegaan kon word in enige goeie kommentaar oor die brief.

Met die wegtrekslag behoort enige prediker weer seker te maak dat sy of hy op hoogte is met die status en posisie van die brief as "tweede" geskrif aan die betrokke gemeente. Dit is na alle waarskynlikheid geen "tweede" brief nie. Navorsers (o.a. Ralph Martin) skryf interessant en helder hieroor, maar net so sou die Bybellennium se vereenvoudigde weergawe die prediker gou kon help. Die spekulasie oor die volgorde van waarskynlike briewe en moontlike datums van ontstaan, is myns insiens belangrike agtergrond inligting, maar vir hierdie betrokke preekstudie laat ek dit eers daar.

Een van die sentrale temas in hierdie betrokke brief aan die gemeente in Korinte is Paulus se verduideliking van sy gesag om as apostel op te tree. Paulus is hier in n soort strydgesprek gewikkel met sekere onopregte "apostels" en reageer op hulle aantygings ten opsigte van sy persoon en werk as apostel. n Mens sou dit ook anders kon stel: Paulus druk in hierdie brief sy verstaan van n outentieke Christelike spiritualiteit uit. Dit verklaar dan ook die baie persoonlike karakter van 2 Korintiërs. n Bespreking van teologiese leerstukke is byna geheel en al afwesig en verklaar waarom 2 Korintiërs in die ontwikkeling van die Christelike teologie, nooit dieselfde prominensie gekry het as byvoorbeeld Romeine, Galasiërs of 1 Korintiërs nie. Waar 1 Korintiërs n brief is met duidelike afgebakende temas in antwoord op sake wat die gemeente na aan die hart lê en waarop advies gevra is, is Paulus se gedagtelyne in 2 Korintiërs veel minder samehangend en georden, veral in die eerste sewe hoofstukke.

Tog meen iemand soos Dawid Bosch dat n groot deel van die kerk, veral die voorgangers in die kerk, in meer as een opsig "nader" aan hierdie brief van Paulus mag voel as van sy ander geskrifte. In sy mees outobiografiese styl skryf Paulus van homself en sy ervarings as apostel. Paulus kom nie geloofsreus voor nie, inteendeel, volgens sy teenstanders ontbreek dit hom aan sukses en word hy misverstaan selfs deur hulle vir wie hy na Christus gelei het.

"Die swakke charismaat" (Der schwache Charismatiker) noem Jervell vir Paulus as hy die teenstanders se ideaal van n super-apostel (Überapostel) simpatiek beskryf. Sy teenstanders verwag iemand wat sterk is in die Gees, heilig en vroom voorkom en die nodige getuigskrifte kan lewer. Holmberg met sy werk, Paul and Power, wys hoedat Paulus, alhoewel n merkwaardige leier in die vroeë fase van die kerk (12:12), tog fisies swak was (10:10), en homself nie kon genees nie (12:7; vgl Gal 4:13). Die teenstanders was dus reg in hulle beskuldigings dat Paulus se persoon min weerspieël het van die krag van God, aangesien sy aanspraak op apostelskap en sy ervarings van menslike swakhede mekaar weerspreek.

Dit is egter vir Paulus duidelik dat dit hier om iets anders gaan as sy persoonlike ervarings van mislukking. Die verskil is teologies. Die evangelie soos Paulus dit verkondig, val vreemd op die ore van die dwaalleraars, deels as gevolg van die Christologie, en deels as gevolg van die pneumatologie wat uniek is aan die evangelie. In die hart van die misverstande staan die eksegese van die Ou Testament en spesifiek n verstaan van die rol van Moses. In vergelyking met die Moses-tradisie vertoon die Christologie wat Paulus verkondig minderwaardig. Paulus weet dit, maar staan juis op hierdie punt vas: "Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here" (4:5).

Om te kom by die fokusteks self: Paulus begin hierdie brief aan die gemeente in Korinte met n verduideliking van die wysigings wat hy noodgedwonge moes aanbring in sy reisplanne, n ruk tevore (1:12-2:13). Hierna volg n lang gedeelte (tot in hoofstuk 7) waar hy sy bediening as apostel verdedig. Vir die onmiddellike konteks van die fokusteks, is dit verhelderend om die argumentasielyn te volg:

Die uniekheid van die evangelie en die apostel wat bekwaam is om dit oor te dra (2:14-3:6).

Die (nuwe) inhoud van die evangelie en verantwoordelikheid van die apostel (3:7-4:6).

Die implikasies van evangelie verkondiging: gebreke en lyding van die apostel (4:7-5:10).

Die werk van die apostel: om die evangelie te kommunikeer (5:11-6:10).

Samevatting en uitreik na die gemeente (6:11-7:4).

Nadat Paulus weereens oor sy reis en persoonlike indrukke ten opsigte van die gemeente in Korinte skryf, reël hy die dankoffer en hulpverlening vir die gemeente in Jerusalem (8:1-9:15). Hierna kom hy terug met n polemiese argument in die lig van die aantygings teen hom as persoon (10:1-13:10).

Vers 3: Paulus se teenstanders het hom waarskynlik daarvan beskuldig dat die inhoud wat hy aan die evangelie gee, asook die manier waarop hy daaroor praat, gebrekkig gaan aan sigbare tekens van krag. Dit kan wees dat sy teenstanders Paulus verwyt het dat sy prediking van die evangelie vir baie eerder in die duisternis laat, as die lig laat sien. Dit kan ook wees dat Paulus n teologiese standpunt inneem, naamlik dat die evangelie nie vir almal n lig is wat tot die lewe lei nie (Groenewald). Al is dit tog so (ei dé kai) dat die evangelie wat Paulus verkondig wel versluier, geld dit slegs vir hulle wat op die weg is om verlore te gaan, die wat hardkoppig vashou aan die ou bedeling. Die sluier is immers in Christus vernietig (3:14), maar bly nog lê oor die hart van baie van die hoorders (vgl. 3:15): "Hulle teenstand teen die evangelie is nie n bewys van die vrugteloosheid van die prediking nie, maar veeleer van die feit dat hulle op weg is na die verderf" (Groenewald).

Vers 4: Die lig wat vir sommige helder is en vir ander duister bly, is die evangelie van die heerlikheid van Christus (tou euaggeliou theou doxa tou Christou). Paulus beskryf die heerlikheid, die inhoud van die evangelie as niks en niemand anders nie as Christus self. Dit is in teenstelling met die heerlikheid van die vorige bedeling, wat na n tyd van Moses se gesig verdwyn het (2 Kor 3). Nog meer egter, sê Paulus, is hierdie Christus wat die heerlikheid uitstraal, ook die ikoon, die verteenwoordigende beeld van God. Dit beteken dat Christus "the coming-to-expression of the nature of God, the making visible of who God is in himself" is (Martin).

Vers 5: As Paulus die stelling maak: "(O)ns verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here", maak hy n dubbele punt. Die unieke inhoud van die evangelie soos Paulus dit verkondig, het die persoon en werk van Jesus Christus in die oog. Hierdie Christus is immers die Here. Teenoor leraars wat ander vorme van die evangelie verkondig, sê dit alles. Om te noem dat hulle nie hulleself verkondig nie, wys Paulus natuurlik heelwat van die aantygings af, as dat hy vir homself n koninkryk sou wou opbou. Logies beteken dit ook dat sy persoon wat onder bespreking is, van minder belang raak as dit kom by die geloofwaardigheid van die boodskap. Deur te verwys na homself en die ander by hom as slawe van die gemeente ter wille van Jesus, mag dui op Paulus se verstaan van sy bediening as n diens, sowel as n voorreg (vgl Jesaja se dienskneg-beeld). Die roeping tot n bediening waarvan lyding n sentrale rol speel, is vir Paulus n gegewe en daarom steek hy dit nie weg vir die gemeente of sy teenstanders nie.

Vers 6: Die fondament van Paulus se bediening as apostel word in n enkele sin saamgevat. God wat die lig uit die duisternis laat skyn het en orde uit die chaos te voorskyn geroep het (vgl Gen. 1:23), is ook die Herskepper wat in die duisternis van die harte van mense n lig laat deurbreek en die chaotiese lewenspartone sinvol tot orde bring (vgl ook Jes 9:1ev). As dit so is dat hy van min ander dinge kennis dra, dan dra Paulus wel van hierdie betrokkenheid van God by die mens kennis en preek hy derhalwe daaroor. Dit geskied "in die aangesig van Jesus Christus".

Die uitdrukking "heerlikheid van God in die gesig/persoon van Jesus Christus" (doxés tou Theou en prosópoo) verwys na die vorige gedeelte waar Paulus dit het oor Moses se gesig wat nie langer die heerlikheid kon uitstraal nie (3:7-13). Waar Moses en ander voorgangers soos hy, nie die volle heerlikheid van God kon verteenwoordig nie, het God wel in Jesus se lewe en sterwe Homself ten volle aan die mensdom bekend gestel.

Preekvoorstel

Predikers van die week se fokusteks sal een of twee bewuste keuses moet maak. Die feit dat Paulus eintlik in hierdie brief besig is om die integriteit van sy bediening te verdedig, maak enige direkte toepassing van die teks in n hedendaagse gemeentekonteks onmoontlik. Dit sou in n sin makliker gewees het indien die prediker n geregverdigde behoefte het om haar- of homself te verdedig teen aantygings van dieselfde aard. Die gevaar van misplaaste assosiasie is egter baie groot.

Om die teenstanders van Paulus as brug te gebruik en persone of groepe buite die bepaalde gemeente te identifiseer en hulle teologiese posisies as verdag af te maak, sou myns insiens net so problematies, indien nie oneerlik wees nie.

n Derde opsie is om slegs die begrippe in die fokusteks op die klank af te neem en konteksloos te preek oor temas soos suiwer prediking, mense wat lig sien en mense wat nie lig sien nie, predestinasie, of die probleem van ongeloof.

Met die uitwerk van hierdie studie het ekself gekies om die outobiografiese konteks van die teks ernstig te neem, en in te gaan op die vraag na n outentieke spiritualiteit. Ek dink dat Dawid Bosch se bondige bespreking van onder andere 2 Korintiërs in Spirituality of the Road, genoeg prikkelende gedagtes vir preekstof oor hierdie teks bied.

Gegee die oorgang tussen epifanie en lydenstyd, is die week se fokusteks n uiters geskikte preekteks. In lydenstyd wil ons juis geleentheid gee om na te dink oor wat dit werklik beteken om hierdie Jesus te volg van wie ons in epifanie op talle maniere bewus geraak het.

Dawid Bosch begin sy reeks lesings oor 2 Korintiërs wat hy lewer voor n groep sendelinge met n verwysing na n vraelys oor die hindernisse wat sendelinge in hulle bediening ondervind. Wat opvallend van hierdie vraelys is, sowel as ander soortgelyke ondersoeke, is die feit dat uit n lang lys van moontlike struikelblokke, byna 100% van die persone erken dat hulle meer toegewyd en geestelik sou wou wees. Dit sou n rede vir dankbaarheid kon wees, behalwe as n mens in ag neem dat enige ervare lidmaat weet dat dit die enigste swakheid is wat jy mag bely en dat dit derhalwe in jou guns mag tel. Van die ander items in die vraelys kan jy nie dieselfde sê nie. Gelowiges wat die heerlikheid van God wil verkondig, is nie veronderstel om enige swakplek te bely ten opsigte van n onsekerheid oor bepaalde teologiese kwessies, tye van depressie, alkoholafhanklikheid, seksuele versoekings of twyfel oor roeping nie.

Hier sou verder uitgebrei kan word op die valse keuses waarvoor gelowiges gestel word. Aan die eenkant kies baie vir n "geestelike" ideaal waar die kontak so min as moontlik met die gewone alledaagse begeertes behoort te wees. Leslie Newbegin het hierdie soort verstaan van geloof beskryf as die "Pilgrims Progress" model: Vlug uit die bose stad en spandeer soveel as moontlik van die dag aan innerlike reiniging. Verlossing beteken in hierdie model n loskom uit die wêreldse, die mundane, die gewone. Hierteenoor is daar ook die Jona model: Om deur God na die bose stad gestuur te word met n boodskap van verlossing. Verlossing sou in hierdie model beteken om nood te herken, n hart te ontwikkel, hulp te verleen ter wille van die bevryding van ander.

Tog help die manier waarop Paulus omgaan met die swakhede in sy eie lewe van geloof ons om nie te dink dat die oplossing vir hierdie spanning in n eenvoudige én-én model saam te vat is nie. Dit gaan nie in die geloof om die een én die ander te doen nie, om oorwinnings te behaal in n stryd met jou innerlike, sowel as relevant n impak te maak op jou omgewing nie.

As Paulus se teenstanders hom beskuldig van geestelike mislukkings, of aan die anderkant van n gebrek aan dinamiese relevansie, kies Paulus om vir Korinte sekere dinge omtrent n lewe van geloof in perspektief te stel. Die manier waarop Paulus met sy menslikheid omgaan, word die sleutel tot n lewe van getuienis. Op n vreemde manier word die krag en heerlikheid van die evangelie duidelik in persone se lewens wat hulle swakhede erken.

Nêrens in die Skrif word die swakheid en gebrokenheid van die gelowige so eerlik beskryf as in hierdie brief van Paulus nie. Nêrens word die kloof tussen die omvang van die evangelieboodskap en broosheid van die draer daarvan duideliker onderstreep as juis hier nie. Om met die evangelie te lewe, beteken vir Paulus allermins n lewe van glorie of aansien. Veel eerder beteken dit om dikwels jou swakheid en gebrek aan vaardigheid te bely.

Paulus onderstreep dit keer op keer. God het sy heerlikheid juis in die lewe en sterwe van iemand soos Jesus geopenbaar. Christus Jesus wat sterf aan die kruis, is by uitstek die ikoon van God se heerlikheid (4:4). Dit straal van sy gesig af (4:6), die gesig wat lyding op aarde eerlik en ernstig opgeneem het. Dit is immers waarom hy verwerp is. Hy was geen goeie Messias in die populêre sin van die woord nie. Hy is immers beskuldig van swakheid, van te veel menslikheid, en is op die ou end doodgemaak vir sy gebrek aan "goddelike magsvertoon".

In 4:7-10 spel Paulus die implikasies uit vir n gelowige wat met die evangelie boodskap eerlik wil omgaan. Om iets te verstaan van die heerlikheid van Jesus impliseer n aanvaarding van sy sterwe in jou lewe. Die kerk word gedien nie deur geloofsreuse nie, maar deur mense wat gebrokenheid aanvaar en ander na die kruis bring waar hulleself die redding beleef het. Eerder soos kleipotte wat maklik breek, is enige aanspraak op oorwinnings en suksesse onvanpas. Die krag van die evangelie het met God te doen, nie met ons pogings nie.

As ons besef dat n lewe in geloof eintlik gekenmerk word deur n eerlike aanvaarding van swakhede en teleurstellings, reageer ons gewoonlik op een van twee maniere. Of ek gebruik my swakheid as n verskoning, of ek verwerp die gedagte en eis krag en oorwinning. Om dit as verskoning te gebruik sou beteken dat Paulus sy bediening kon afskaal en die verantwoordelikheid daarvoor op God afskuif.

Die ander opsie sou wees om die swakheid nie te aanvaar nie en eerder van God die krag en mag af te bid wat nodig is vir n bediening van oorwinning en glorie. Paulus verwys na hierdie worsteling aan die einde van die brief (12:7-9).

Tog het Paulus in sy bediening geleer om nie vir een van die twee oënskynlik logiese opsies te kies nie. Paulus het geleer om die hele aangeleentheid omtrent sy swakhede met rus te laat en nie langer in n stryd met homself te wees nie. In plaas daarvan om sy swakheid as verskoning te gebruik vir n halfhartige bediening of aan die anderkant as n rede om te vra vir groter geestelike sukses, aanvaar hy die gegewe swakhede in die wete dat die kleipot se krag buite homself lê. Soos God sy heerlikheid in n kruisdood openbaar, in die aardse lewe en sterwe van Jesus Christus, net so weet Paulus, sal lewe en dood, krag en swakheid kenmerkend wees van n apostel se lewe (vgl 4:5 en 13:3-4).

Alhoewel n lewe van geloof vir Paulus beteken het om eerlik met sy swakhede en beskeie met die resultate van sy bediening, om te gaan, laat hy geen twyfel nie oor sy oortuiging dat die evangelie van heerlikheid n helder lig is in n wêreld wat deur versluiering geteister word. Dit wat sy teenstanders verwerp, is presies wat Paulus beklemtoon as die kernpunt van die evangelie en gevolglik sy bediening; swakheid, lyding, verwerping en selfverloëning. Paulus verkondig immers vir Christus, en nie homself nie (4:5).

Dawid Bosch waarsku ons gelowiges teen die soort versoeking wat wag wanneer ons posisie of geloofwaardigheid in twyfel getrek word deur n mede-gelowige. Dikwels ontaard die gesprek in kragte meet met mekaar oor wie se Christus die sterkste en oortuigendste voorkom. Ons verdediging van onsself verraai dikwels ons begeerte om n "gespierde" Christus te volg. Dit terwyl die kruis die kenmerk is van die kerk. Wanneer die opgestane Christus aan die dissipels verskyn, is dit die wonde aan sy hande wat die bewys van sy identiteit word. Omrede die wonde, glo die dissipels. Sal dit anders wees in ons geval? Sal die wêreld glo sonder dat die wonde van Christus ook sigbaar is in ons lewens?

(As illustrasie sou die verhaal van Biskop Martinus vertel kon word. CW Burger haal dit aan in Woord teen die Lig 1/3:58.)

 

Bibliografie

Bosch, D.J. A Spirituality of the Road; Groenwald, E.P. Die Tweede Brief aan die Korinthiërs (SBG); Holmberg, B. Paul and Power. The Structure of Authority in the Primitive Church as Reflected in the Pauline Epistles; Jervell, J. in E Käsemann, Rechtfertigung; Martin, R.P. Word Biblical Commentary - 2 Corinthians; Thiessen, G. The Social Setting of Pauline Christianity. Essays on Corinth.