Die
eksegetiese knoop van die gedeelte is om Paulus se gedagtegang te volg, want
hoe jy dit verstaan bepaal wat as die speerpunt van die teks verstaan word.
Ná
pastorale opmerkings oor vergifnis aan iemand wat probleme in die gemeente
veroorsaak het (2 Kor 2:5v) kom Paulus met 'n lofrede aan God (2:14-17) vir die
uitkoms van sy bediening, die hooftema van 2 Korintiërs 1-7.
Hoofstuk 3
handel oor die uitkoms van sy bediening.
In 3:1-3 voer hy 'n argument, moontlik teenoor aansprake van
teenstanders, dat die gemeente self aanbevelingsbriewe vir sy bediening is, nie
fisiese briewe nie, maar briewe wat bestaan uit mense wat innerlik deur die
Gees vernuwe is (met sinspeling op Jer 31:33).
Laasgenoemde punt word dan uitgewerk in 'n uitspraak van vertroue dat sy
bediening van 'n ander orde as die van sy teenstanders is, naamlik die van die
lewendmakende Gees is (3:4-6). Hierop
(3:7-8) argumenteer Paulus dat as die ou bedeling wat dood gebring het (d.i.
veroordeling :9, vgl Rom 6:16, 8:3), reeds heerlikheid beteken het, hoeveel te
meer nie die nuwe verbond nie, die era van die Gees wat hy verkondig. Dit is moontlik dat sy teenstanders in hulle
aanspraak op gesag op een of ander wyse 'n beroep op Moses gedoen het, en dat
dit Paulus hierdie spesifieke redenasie-lyn laat volg. In 3:9-11 bou hy die kontras uit deur
veroordeling teenoor regverdigmaking, mindere teenoor meerdere heerlikheid en
verbygaande teenoor blywende heerlikheid te stel.
3:12 vorm 'n oorgang (WBC p65-66): Op grond van
wat die Gees doen het, sê Paulus, het hy vrymoedigheid om sy bediening in
Korinte voort te sit. In 3:13-16 bou hy
die teenstelling, waarmee hy reeds in vers 3 begin het, met 'n midrash-agtige
redenasie verder uit om in vers18 met die slotsom te kom, deur te sê waarin die
heerlikheid van sy Gees-bediening bestaan.
Hy stel dat
hy nie sy gesig hoef te verberg soos Moses nie (v. 12). Al was die Moses-heerlikheid van verbygaande
(vgl :7d) en mindere (vgl :10a) aard, moes hy steeds sy gesig bedek weens die
hardheid van Israel se harte. Met 'n
klaag-agtige toon stel Paulus dat Israel steeds dieselfde is (vgl. Rom 9:1vv.): wanneer hulle die ou verbond (3:6b-7a) lees,
verstaan hulle nie die betekenis daarvan nie.
Die sluier is nie meer oor Moses nie, maar oor hulle harte en verstand,
sê vers 14-15. Die probleem lê nie by
die openbaring nie, maar by die mens se hart! (vgl. Rom 8:3). Die bedekking word eers weggeneem, die lig
gaan op wanneer 'n mens se hart Christus ontdek, of beter, deur Hom ont-dek
word (3:14d). Wat nodig is, is epistrephó (letterlik om/terug draai,
3:16), wat semanties verwant is aan metanoeó
(bv. Hand 3:19). In die Ou Testament
beteken die uitdrukking ‘tot die Here keer’, dikwels terugkeer, herontdek dat
die Here (Jaweh) hulle God is (vgl. ook Luk 1:16). In ons teksverband beteken dit om te ontdek dat Christus
inderdaad die Here van die ou verbond is (vgl. Luk 24:25-27,44-45). Soos Moses se sluier weggeneem word wanneer
hy tot gemeenskap met die Here kom (Eks 34:34), gebeur dit dat die sluier
weggeneem word vir elkeen wat Jesus as Christus aanvaar (Joh 20:31).
3:17 is 'n bondige stelling wat 'n
sleutel-funksie vervul, dit ontsluit die hele saak: Die Here (3:16) is die
Gees, wat volgens die vroeëre deel van sy argument die verandering bring
(3:3b,6cd,8a). Dit is nie 'n dogmatiese
stelling oor die Drie-eenheid nie, maar 'n midrash-tipe ‘interpretive comment’
(WBC) op vers 16. Wat die Gees bewerk
word hier as ‘vryheid’ aangedui. In
hierdie verband word die nuwe
werklikheid, teenoor die oue gestel. Die nuwe werklikheid, wat die Gees bewerk,
is lewe (3:6d), regverdigmaking (:9) en groter en blywende heerlikheid
(:10-11). Uit die direkte verband (:13-16)
beteken dit bevryding van die bedekking om Christus nie te ken nie, eerder as
vryheid in die sin van Galasiërs 5:1,13.
3:18 het 'n besliste doksologiese tinteling en
vorm die hoogtepunt en samevatting van Paulus se betoog wat by 3:1 begin. Hy maak aanspraak dat ‘ons’ (insluitend die
gemeente, maar teenoor Israel) gesigte ont-dek is. Dus kan ons die heerlikheid aanskou – maar soos in 'n
spieël. Spieël het hier twee betekenisse: dit is waar die blinkste blink
gesien word (is daar iets blinker as 'n spieël?), maar ook iets van onvolkome
sien (1 Kor 13:12; onthou spieëls
was destyds nou nie juis wat dit vandag is nie!). Die verrassende is dat ons nie onsself in die spieël sien nie,
maar die beeld (ikon ook 4:4) van Christus.
En deur aan te hou kyk word ons al hoe meer verander om te deel in sy
heerlikheid (metamorfoumetha; van
heerlikheid tot heerlikheid). Soos
Moses van ouds se gesig begin deel het in die heerlikheid deur sy direkte
ontmoetings met God, begin dit nou ook met ons gebeur. Ons s'n is egter nie 'n glans op die gesig
nie, maar om verander te word tot gelykvormigheid aan die beeld van die Seun
van God (Rom 8:29-30, 1 Joh 3:2). Hoe
gebeur dit? Inderdaad: "Dit doen
die Here wat die Gees is" (3:18c).
In 4:1 en die volgende verse neem Paulus
weer die argument oor sy apostoliese bediening op (vgl. 3:1 en 4:16) en bou van
die motiewe van hoofstuk 3 uit.
Hoofstuk 3 vorm nie eksplisiet deel van die argument teen die
teenstanders nie. Oor wie hulle in die
verband was loop menings uiteen. Dit is
ook nie vir ons verstaan van die teks noodsaaklik om dit presies te weet
nie. In watter mate dit wat hy
veralgemenend van ‘Israel’ sê teen hulle gemik is, is nie duidelik nie.
Hoofstuk 3
is dus 'n soort tussen-argument, maar kardinaal vir sy groter betoog (vgl. dia touto 4:1). Paulus sê hier nie net dat die gemeente self
sy aanbevelingsbriewe is nie (3:1-2), maar ook waaruit die briewe bestaan:
mènse wat verander is en blywend verander word deur die werk van die Heilige
Gees.
Speerpunt
van die teks: Die duidelikste bewys van
die waarheid van die evangelie soos Paulus dit verkondig en van effektiewe
bediening, is
mense wat
verander is en
in
gemeenskap met Christus deur die Gees voortdurend verander word
tot
beelddraers van Christus en só sy heerlikheid vertoon.
Hierdie
Sondag is die einde van Epifanie en die begin van Lydenstyd. Tradisioneel is dit die Sondag wanneer die
verheerliking op die berg (Matt 17:1-13 en parallelle) gevier word. Die ander belangrike teks vir die datum is
die episode wat vertel van die glans op Moses se gesig nadat hy vir veertig dae
in die teenwoordigheid van die Here deurgebring het by die ontvangs van die wet
(Eksodus 34:28-35). Dit vorm 'n
vooraf-spieëling van die verheerliking van Christus op die berg, waar sy gesig
ook so geblink het. Binne dieselfde
tradisie word ons teks dan ook met hierdie Sondag geassosieer; hierin word immers eksplisiet terugverwys na
die genoemde Eksodus-episode.
In preke en
sketse oor die teks buite die leesrooster-tradisie kry die verbintenis met
Epifanie nie aandag nie (K Barth en E Thurneysen: Come Holy Spirit, 1933; AJ
Bronkhorst, Postille 1971-1972). In
albei gevalle word op 2 Korintiërs 3:17 gefokus.
In die Proclamation Series behandel EW Saunders
en ander (2/B 1981), WE Rast (4/C 1988), TE Ridenhour en ander (4/B 1990) en DM
Rhoads (5/B 1993) die teks. Saunders
laat die klem val op die nuwe heerlikheid wat in Christus vir ons 'n
werklikheid geword het wat ‘superior’ is bó diè van die ou bedeling van
wetsgehoorsaamheid. Rast sê dat die
‘divine presence’ van die epifanie in ons as gelowiges konkrete gestalte vind
en moet vind. Maar dìt bied nie
aanleiding tot 'n ‘theology of glory’ nie.
Evangelies gesien is dit heerlikheid wat gestalte vind in die kruis en
in kruisdra. Laasgenoemde is presies
die tekstuele konteks waarbinne die verheerliking op die berg in die Evangelies
staan! Verskeie skrywers wys dan ook in
die verband die glans en vertoon van die ‘prosperity Gospel’ en van tipiese
Amerikaanse televisiepredikers af.
Om ons teks
binne die verband van die Epifanie-tradisie meer betekenisvol te maak kan nog
op die volgende elemente gewys word:
Die glans op die gesig van Moses (Eks 34) vorm duidelik die basis van
die tradisie en wys vanuit Nuwe-Testamentiese perspektief vooruit op die
gebeure van Matteus 17 en parallelle.
Die element van ontmoeting met God in die woestyn in eersgenoemde teks
lê ook verbande met Elia se ontmoeting met God (1 Kon 19), wat weer verbande
het met Jesus se veertig dae in die woestyn (Luk 4, volgende week se
preek).
Die verband
tussen die verheerliking op die berg en die hemelvaart-episode (Hand 1:9-11)
moet egter ook nie misgekyk word nie.
Dit is hier waar Jesus in-der-daad die heerlikheid ingaan. Dit is egter die teks wat ook die perspektief
vórentoe open, naamlik op die wederkoms van Christus, wannneer Hy in sy volle
heerlikheid sal verskyn (Matt 25:31).
En tussenin
lê ons teks. Tussen hemelvaart en
wederkoms moet God se heerlikheid óók gestalte vind, naamlik in ons as
gelowiges. Die klimaks van ons perikoop
(2 Kor 3:18) sê waar en hoe dit gebeur: waar mense bevry en nuutgemaak deur die
Gees al meer en meer verander word na die beeld van Christus. Daarvoor moet 'n mens in die spieël, in die
ligglans van ontmoeting met God bly kyk.
Ons weet
almal presies hoe ons lyk want ons word groot met spieëls en ons sien foto's en
video's van onsself. Maar in die tyd
van Jesus het mense nie sulke dinge gehad nie.
Om hulself dan vir die eerste keer te sien mag 'n baie groot verrassing
gewees het. Ek het soms die ervaring
wanneer ek na 'n klankopname van myself luister. Ek klink dan vir myself baie anders as wat ek myself normaalweg
hoor. Die punt is: in 'n spieël sien ek
myself soos ander mense my sien en nie soos ek dink ek is nie of soos ek
voorgee om te wees nie.
Deur in 'n
spieël te kyk kan ek oefen om anders te lyk en op te tree as wat ek van nature
doen: ek kan werk aan die prentjie van myself wat ek graag wil hê ander van my
moet hê. Ons teks sê die prentjie wat
ander van ons moet hê en waaraan ons moet ‘werk’ is die prentjie van Christus
self. Nie die kuif van een of ander
popster of die glimlag van my ideaal-model moet ek inoefen nie, maar die
karakter van Christus. Maar ons teks sê
ook die spieël waarin ons kyk is 'n ‘toorspieël’, dit verander ons! Deur sy Gees wil God ons verander, maar
daarvoor moet ons, soos Moses, tyd in sy teenwoordigheid deurbring. Hoeveel tyd sit jy voor die spieël?! Ons word nie vanself óf deur eie pogings
soos Jesus nie, ons moet met Hom, die Here wat die Gees is, lewe.
Deur
spieëls en grimering ensovoorts slim te gebruik kan die betekenis van die teks
vasgelê word. 'n Vervormende spieël kan
'n onvergeetlike indruk op kleintjies maak.
In ons
gedeelte antwoord Paulus die vraag waarin die bewyse (aanbevelingsbriewe) van
die evangelie soos hy dit verkondig het, en van sy bediening lê. Mense soek dit in uiterlike dinge. Waarskynlik het mense in sy tyd geredineer:
die Moses-bedeling het tog uiterlike glorie gehad, maar sy boodskap is
dwaasheid (vgl 1 Kor 1). Ons lewe in 'n
tyd waar glorie, glans, aansien en noem maar op, van die hoogste waardes geword
het. Kyk maar na ons winkelsentrums,
ons huise en ons motors: dit moet steeds beter en blinker!
Kerke en
ook ons kerk ontsnap nie hieraan nie: tegnologie, klank en ritme en ‘die dinge
waarna (veral ons jong-) mense vra’.
Hieroor kan elkeen in eie situasie baie konkreet wees, as ons bereid is
om diep en selfkrities te kyk. Onthou
net: verkramptheid (wat alles wil hou ‘soos dit was’) is van die selfde stof
gemaak as ‘gloriesoekers’. Albei fokus
op die uiterlike. Dit is gebou op wat
die mens vermag.
En dit is
presies wat deur ons teks aangespreek word.
Die ‘oplossing’ vir baie van ons gemeentes se ‘probleme’ lê in die teks
opgesluit: Wat nodig is. is mense wat
weer in gemeenskap met God lewe en so van binne uit bevry en nuutgemaak
word. Ons het soos Moses tyd met God
nodig, ons het woestyne en bergtoppe van ontmoeting met God nodig. Maar ons teks sê dit is nie sporadiese
ontmoetings, lydenstyd en Pinkstertyd-ontmoetings nie. Dit beteken bly kyk in die spieël.
Tog is dit
ook weer nie iets wat ons kan lààt gebeur nie: dit is die werk van die
Gees. Die ellende is dat ons Christus
herken en erken as Saligmaker. Dié
sluier is opgelig. En tog breek die
heerlikheid, die heerlikheid van die kruis so selde deur.
Die
heerlikheid kan 'n besondere punt in die prediking vorm: dit is immers
heerlikheid in gebrokenheid. Dit gaan
nie oor opwinding en belewing, en ekstase en glorie, soos wat sommige dink
nie. Dit is die vertoning van die beeld
van die lewende Here wat die Gees is.
Die glorie-draers, diegene wat verander is na die beeld van Christus is
dikwels nie eers daarvan bewus nie (Eks 34:29c, Matt 25:34-40). Ons moet vir andere 'n spieël, 'n afskynsel
van Christus self word. Dàn het die
Evangelie betekenis. Dàn is ons briewe
van Christus (1 Kor 3:3).
Bibliografie
Naas
voorafgaande eksegetiese bespreking van die teks bied Ridderbos se Paulus (bl. 238v.v.) heelwat stof
waarmee die prediking ,vleis’ gegee kan word.
Vergelyk ander materiaal waarna in die bespreking verwys is.
Beste kommentare: L Kreitzer, 1996: Second Corinthians, Sheffield Academic press; RP Martin, 1986: Second Corinthians, (WBC