2 Korintiërs 3:12-4:2 (Danie van Zyl)

25 Februarie 2001

Agste sondag na Epifanie / eerste sondag in lydenstyd

 

Teks

Die eksegetiese knoop van die gedeelte is om Paulus se gedagtegang te volg, want hoe jy dit verstaan bepaal wat as die speerpunt van die teks verstaan word.

Ná pastorale opmerkings oor vergifnis aan iemand wat probleme in die gemeente veroorsaak het (2 Kor 2:5v) kom Paulus met 'n lofrede aan God (2:14-17) vir die uitkoms van sy bediening, die hooftema van         2 Korintiërs 1-7. 

Hoofstuk 3 handel oor die uitkoms van sy bediening.  In 3:1-3 voer hy 'n argument, moontlik teenoor aansprake van teenstanders, dat die gemeente self aanbevelingsbriewe vir sy bediening is, nie fisiese briewe nie, maar briewe wat bestaan uit mense wat innerlik deur die Gees vernuwe is (met sinspeling op Jer 31:33).  Laasgenoemde punt word dan uitgewerk in 'n uitspraak van vertroue dat sy bediening van 'n ander orde as die van sy teenstanders is, naamlik die van die lewendmakende Gees is (3:4-6).  Hierop (3:7-8) argumenteer Paulus dat as die ou bedeling wat dood gebring het (d.i. veroordeling :9, vgl Rom 6:16, 8:3), reeds heerlikheid beteken het, hoeveel te meer nie die nuwe verbond nie, die era van die Gees wat hy verkondig.  Dit is moontlik dat sy teenstanders in hulle aanspraak op gesag op een of ander wyse 'n beroep op Moses gedoen het, en dat dit Paulus hierdie spesifieke redenasie-lyn laat volg.  In 3:9-11 bou hy die kontras uit deur veroordeling teenoor regverdigmaking, mindere teenoor meerdere heerlikheid en verbygaande teenoor blywende heerlikheid te stel. 

3:12 vorm 'n oorgang (WBC p65-66): Op grond van wat die Gees doen het, sê Paulus, het hy vrymoedigheid om sy bediening in Korinte voort te sit.  In 3:13-16 bou hy die teenstelling, waarmee hy reeds in vers 3 begin het, met 'n midrash-agtige redenasie verder uit om in vers18 met die slotsom te kom, deur te sê waarin die heerlikheid van sy Gees-bediening bestaan.

Hy stel dat hy nie sy gesig hoef te verberg soos Moses nie (v. 12).  Al was die Moses-heerlikheid van verbygaande (vgl :7d) en mindere (vgl :10a) aard, moes hy steeds sy gesig bedek weens die hardheid van Israel se harte.  Met 'n klaag-agtige toon stel Paulus dat Israel steeds dieselfde is (vgl. Rom 9:1vv.):  wanneer hulle die ou verbond (3:6b-7a) lees, verstaan hulle nie die betekenis daarvan nie.  Die sluier is nie meer oor Moses nie, maar oor hulle harte en verstand, sê vers 14-15.  Die probleem lê nie by die openbaring nie, maar by die mens se hart! (vgl. Rom 8:3).  Die bedekking word eers weggeneem, die lig gaan op wanneer 'n mens se hart Christus ontdek, of beter, deur Hom ont-dek word (3:14d).  Wat nodig is, is epistrephó (letterlik om/terug draai, 3:16), wat semanties verwant is aan metanoeó (bv. Hand 3:19).  In die Ou Testament beteken die uitdrukking ‘tot die Here keer’, dikwels terugkeer, herontdek dat die Here (Jaweh) hulle God is (vgl. ook Luk 1:16).  In ons teksverband beteken dit om te ontdek dat Christus inderdaad die Here van die ou verbond is (vgl. Luk 24:25-27,44-45).  Soos Moses se sluier weggeneem word wanneer hy tot gemeenskap met die Here kom (Eks 34:34), gebeur dit dat die sluier weggeneem word vir elkeen wat Jesus as Christus aanvaar (Joh 20:31). 

3:17 is 'n bondige stelling wat 'n sleutel-funksie vervul, dit ontsluit die hele saak: Die Here (3:16) is die Gees, wat volgens die vroeëre deel van sy argument die verandering bring (3:3b,6cd,8a).  Dit is nie 'n dogmatiese stelling oor die Drie-eenheid nie, maar 'n midrash-tipe ‘interpretive comment’ (WBC) op vers 16.  Wat die Gees bewerk word hier as ‘vryheid’ aangedui.  In hierdie verband word  die nuwe werklikheid, teenoor die oue gestel. Die nuwe werklikheid, wat die Gees bewerk, is lewe (3:6d), regverdigmaking (:9) en groter en blywende heerlikheid (:10-11).  Uit die direkte verband (:13-16) beteken dit bevryding van die bedekking om Christus nie te ken nie, eerder as vryheid in die sin van Galasiërs 5:1,13.

3:18 het 'n besliste doksologiese tinteling en vorm die hoogtepunt en samevatting van Paulus se betoog wat by 3:1 begin.  Hy maak aanspraak dat ‘ons’ (insluitend die gemeente, maar teenoor Israel) gesigte ont-dek is.  Dus kan ons die heerlikheid aanskou – maar soos in 'n spieël.  Spieël het hier twee betekenisse: dit is waar die blinkste blink gesien word (is daar iets blinker as 'n spieël?), maar ook iets van onvolkome sien     (1 Kor 13:12; onthou spieëls was destyds nou nie juis wat dit vandag is nie!).  Die verrassende is dat ons nie onsself in die spieël sien nie, maar die beeld (ikon ook 4:4) van Christus.  En deur aan te hou kyk word ons al hoe meer verander om te deel in sy heerlikheid (metamorfoumetha; van heerlikheid tot heerlikheid).  Soos Moses van ouds se gesig begin deel het in die heerlikheid deur sy direkte ontmoetings met God, begin dit nou ook met ons gebeur.  Ons s'n is egter nie 'n glans op die gesig nie, maar om verander te word tot gelykvormigheid aan die beeld van die Seun van God (Rom 8:29-30, 1 Joh 3:2).  Hoe gebeur dit?  Inderdaad: "Dit doen die Here wat die Gees is" (3:18c).

In 4:1 en die volgende verse neem Paulus weer die argument oor sy apostoliese bediening op (vgl. 3:1 en 4:16) en bou van die motiewe van hoofstuk 3 uit.  Hoofstuk 3 vorm nie eksplisiet deel van die argument teen die teenstanders nie.  Oor wie hulle in die verband was loop menings uiteen.  Dit is ook nie vir ons verstaan van die teks noodsaaklik om dit presies te weet nie.  In watter mate dit wat hy veralgemenend van ‘Israel’ sê teen hulle gemik is, is nie duidelik nie.

Hoofstuk 3 is dus 'n soort tussen-argument, maar kardinaal vir sy groter betoog (vgl. dia touto 4:1).  Paulus sê hier nie net dat die gemeente self sy aanbevelingsbriewe is nie (3:1-2), maar ook waaruit die briewe bestaan: mènse wat verander is en blywend verander word deur die werk van die Heilige Gees. 

Speerpunt van die teks:  Die duidelikste bewys van die waarheid van die evangelie soos Paulus dit verkondig en van effektiewe bediening, is

mense wat verander is en

in gemeenskap met Christus deur die Gees voortdurend verander word

tot beelddraers van Christus en só sy heerlikheid vertoon.

Konteks

Hierdie Sondag is die einde van Epifanie en die begin van Lydenstyd.  Tradisioneel is dit die Sondag wanneer die verheerliking op die berg (Matt 17:1-13 en parallelle) gevier word.  Die ander belangrike teks vir die datum is die episode wat vertel van die glans op Moses se gesig nadat hy vir veertig dae in die teenwoordigheid van die Here deurgebring het by die ontvangs van die wet (Eksodus 34:28-35).  Dit vorm 'n vooraf-spieëling van die verheerliking van Christus op die berg, waar sy gesig ook so geblink het.  Binne dieselfde tradisie word ons teks dan ook met hierdie Sondag geassosieer;  hierin word immers eksplisiet terugverwys na die genoemde Eksodus-episode.

In preke en sketse oor die teks buite die leesrooster-tradisie kry die verbintenis met Epifanie nie aandag nie (K Barth en E Thurneysen: Come Holy Spirit, 1933; AJ Bronkhorst, Postille 1971-1972).  In albei gevalle word op 2 Korintiërs 3:17 gefokus. 

In die Proclamation Series behandel EW Saunders en ander (2/B 1981), WE Rast (4/C 1988), TE Ridenhour en ander (4/B 1990) en DM Rhoads (5/B 1993) die teks.  Saunders laat die klem val op die nuwe heerlikheid wat in Christus vir ons 'n werklikheid geword het wat ‘superior’ is bó diè van die ou bedeling van wetsgehoorsaamheid.  Rast sê dat die ‘divine presence’ van die epifanie in ons as gelowiges konkrete gestalte vind en moet vind.  Maar dìt bied nie aanleiding tot 'n ‘theology of glory’ nie.  Evangelies gesien is dit heerlikheid wat gestalte vind in die kruis en in kruisdra.  Laasgenoemde is presies die tekstuele konteks waarbinne die verheerliking op die berg in die Evangelies staan!  Verskeie skrywers wys dan ook in die verband die glans en vertoon van die ‘prosperity Gospel’ en van tipiese Amerikaanse televisiepredikers af.

Om ons teks binne die verband van die Epifanie-tradisie meer betekenisvol te maak kan nog op die volgende elemente gewys word:  Die glans op die gesig van Moses (Eks 34) vorm duidelik die basis van die tradisie en wys vanuit Nuwe-Testamentiese perspektief vooruit op die gebeure van Matteus 17 en parallelle.  Die element van ontmoeting met God in die woestyn in eersgenoemde teks lê ook verbande met Elia se ontmoeting met God (1 Kon 19), wat weer verbande het met Jesus se veertig dae in die woestyn (Luk 4, volgende week se preek). 

Die verband tussen die verheerliking op die berg en die hemelvaart-episode (Hand 1:9-11) moet egter ook nie misgekyk word nie.  Dit is hier waar Jesus in-der-daad die heerlikheid ingaan.  Dit is egter die teks wat ook die perspektief vórentoe open, naamlik op die wederkoms van Christus, wannneer Hy in sy volle heerlikheid sal verskyn (Matt 25:31). 

En tussenin lê ons teks.  Tussen hemelvaart en wederkoms moet God se heerlikheid óók gestalte vind, naamlik in ons as gelowiges.  Die klimaks van ons perikoop (2 Kor 3:18) sê waar en hoe dit gebeur: waar mense bevry en nuutgemaak deur die Gees al meer en meer verander word na die beeld van Christus.  Daarvoor moet 'n mens in die spieël, in die ligglans van ontmoeting met God bly kyk.

Preekvoorstelle

Kinderpreek

Ons weet almal presies hoe ons lyk want ons word groot met spieëls en ons sien foto's en video's van onsself.  Maar in die tyd van Jesus het mense nie sulke dinge gehad nie.  Om hulself dan vir die eerste keer te sien mag 'n baie groot verrassing gewees het.  Ek het soms die ervaring wanneer ek na 'n klankopname van myself luister.  Ek klink dan vir myself baie anders as wat ek myself normaalweg hoor.  Die punt is: in 'n spieël sien ek myself soos ander mense my sien en nie soos ek dink ek is nie of soos ek voorgee om te wees nie. 

Deur in 'n spieël te kyk kan ek oefen om anders te lyk en op te tree as wat ek van nature doen: ek kan werk aan die prentjie van myself wat ek graag wil hê ander van my moet hê.  Ons teks sê die prentjie wat ander van ons moet hê en waaraan ons moet ‘werk’ is die prentjie van Christus self.  Nie die kuif van een of ander popster of die glimlag van my ideaal-model moet ek inoefen nie, maar die karakter van Christus.  Maar ons teks sê ook die spieël waarin ons kyk is 'n ‘toorspieël’, dit verander ons!  Deur sy Gees wil God ons verander, maar daarvoor moet ons, soos Moses, tyd in sy teenwoordigheid deurbring.  Hoeveel tyd sit jy voor die spieël?!  Ons word nie vanself óf deur eie pogings soos Jesus nie, ons moet met Hom, die Here wat die Gees is, lewe.

Deur spieëls en grimering ensovoorts slim te gebruik kan die betekenis van die teks vasgelê word.  'n Vervormende spieël kan 'n onvergeetlike indruk op kleintjies maak.

Preektema

Wat met ons gebeur bewys die kruis

In ons gedeelte antwoord Paulus die vraag waarin die bewyse (aanbevelingsbriewe) van die evangelie soos hy dit verkondig het, en van sy bediening lê.  Mense soek dit in uiterlike dinge.  Waarskynlik het mense in sy tyd geredineer: die Moses-bedeling het tog uiterlike glorie gehad, maar sy boodskap is dwaasheid (vgl 1 Kor 1).  Ons lewe in 'n tyd waar glorie, glans, aansien en noem maar op, van die hoogste waardes geword het.  Kyk maar na ons winkelsentrums, ons huise en ons motors: dit moet steeds beter en blinker!

Kerke en ook ons kerk ontsnap nie hieraan nie: tegnologie, klank en ritme en ‘die dinge waarna (veral ons jong-) mense vra’.  Hieroor kan elkeen in eie situasie baie konkreet wees, as ons bereid is om diep en selfkrities te kyk.  Onthou net: verkramptheid (wat alles wil hou ‘soos dit was’) is van die selfde stof gemaak as ‘gloriesoekers’.  Albei fokus op die uiterlike.  Dit is gebou op wat die mens vermag.

En dit is presies wat deur ons teks aangespreek word.  Die ‘oplossing’ vir baie van ons gemeentes se ‘probleme’ lê in die teks opgesluit:  Wat nodig is. is mense wat weer in gemeenskap met God lewe en so van binne uit bevry en nuutgemaak word.  Ons het soos Moses tyd met God nodig, ons het woestyne en bergtoppe van ontmoeting met God nodig.  Maar ons teks sê dit is nie sporadiese ontmoetings, lydenstyd en Pinkstertyd-ontmoetings nie.  Dit beteken bly kyk in die spieël. 

Tog is dit ook weer nie iets wat ons kan lààt gebeur nie: dit is die werk van die Gees.  Die ellende is dat ons Christus herken en erken as Saligmaker.  Dié sluier is opgelig.  En tog breek die heerlikheid, die heerlikheid van die kruis so selde deur. 

Die heerlikheid kan 'n besondere punt in die prediking vorm: dit is immers heerlikheid in gebrokenheid.  Dit gaan nie oor opwinding en belewing, en ekstase en glorie, soos wat sommige dink nie.  Dit is die vertoning van die beeld van die lewende Here wat die Gees is.  Die glorie-draers, diegene wat verander is na die beeld van Christus is dikwels nie eers daarvan bewus nie (Eks 34:29c, Matt 25:34-40).  Ons moet vir andere 'n spieël, 'n afskynsel van Christus self word.  Dàn het die Evangelie betekenis.  Dàn is ons briewe van Christus (1 Kor 3:3).

 

Bibliografie

Naas voorafgaande eksegetiese bespreking van die teks bied Ridderbos se Paulus (bl. 238v.v.) heelwat stof waarmee die prediking ,vleis’ gegee kan word.  Vergelyk ander materiaal waarna in die bespreking verwys is. 

Beste kommentare: L Kreitzer, 1996: Second Corinthians, Sheffield Academic press; RP Martin, 1986: Second Corinthians, (WBC