2 Korintiërs 3:1-6 (Lambert Jacobs)

27 Februarie 2000

Agste Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: Hosea 2:14-20; Psalm 103:1-13,22; Markus 2:13-22

Die gemeente is ‘n brief van Jesus Christus, geskryf deur die Gees van God.  Ons is deur die genade van God geroep om bedienaars te wees van die nuwe verbond, daar vir die wêreld om te ‘lees’.

Teks

2 Korintiërs 3:1-18 het al in die Woord teen die lig-reeks aan die orde gekom.  Adonis (1996:191-196) het ‘n preekvoorstel geskryf in die bundel met Riglyne vir Sendingprediking tussen Pinkster en Advent.  Alhoewel die fokus in dié bespreking op die hele hoofstuk val en die tema op ‘n bepaalde saak fokus (sending), bied dit tog waardevolle riglyne vir ons perikoop.

In die makrostruktuur van 2 Korintiërs (vgl. Lategan 1984:93-94 se indeling by die vorige preekstudie) vorm 3:1-6 deel van die tweede hoofdeel, onder die opskrif: ‘Die aard van die bediening’.  Die perikoop word op verskillende maniere afgebaken, met 3:1-3 wat soms alleen staan, of 1-11 as eenheid, of 1-6 en 7-18 as tweedeling van die hoofstuk.

Paulus werk in ons gekose perikoop met twee beelde.  In 1-3 gebruik hy die beeld van die aanbevelingsbrief, terwyl die fokus in 4-6 verskuif na die nuwe verbond.

In vers 1 reageer Paulus teen twee beskuldigings wat waarskynlik deur teenstanders in Korinte teen hom gerig is.  Die eerste was dat hy homself aanprys en dan ook dat hy nie in die gemeente aangekom het met aanbevelingsbriewe soos wat dit met die meeste van die rondreisende predikers die geval was nie (later meer hieroor).

In die voorafgaande perikoop, 2 Korintiërs 2:14-17, het Paulus al beklemtoon dat hy al die eer aan God wil laat toekom en nie eie eer en geldelike gewin uit die evangelie probeer maak nie.

Paulus stel dit in vers 2 dat hy nie eintlik ‘n aanbevelingsbrief nodig het nie.  Sy aanbevelingsbriewe is oral op die punte waar sy sendingreise hom geneem het.  Mense het tot bekering gekom en gemeentes is gestig, en dit is meer as genoeg aanbeveling as wat Paulus nodig het.  Die vrug van sy sendingwerk gee geloofwaardigheid aan sy optrede in ‘n stad soos Korinte.

Hierdie briewe is nie op klip geskryf nie, maar op die harte van mense.  Hughes (1962:86) beskryf hierdie briewe soos volg: ‘Paul indeed has a letter of commendation the validity of which is beyond dispute, but it is a human letter: none other than the Corinthian believers themselves’.  Vir Paulus is dit eintlik ironies dat die Korintiërs geskrewe briewe soek, terwyl hulle self daar is vir die hele wêreld om te lees.  Vir die gemeente in Tessalonika het Paulus ook geprys met: ‘So het julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje.  Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie’ (1 Tess 1:7-8).

Let op hoe volledig die goddelike Drie-eenheid aan die orde kom in vers 3: ‘Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God’.  Die Korintiese gelowiges is dus deur hulle positiewe reaksie op die prediking nie net bevestiging van die sukses van Paulus se bediening nie, maar ook en veral agente van die Drie-enige God, sy werktuie in die wêreld.

In vers 4-6 verskuif die beeld van die brief na die nuwe verbond.  Tog sien Adonis (1996: 191-192) raak dat die beelde nie heeltemal niks met mekaar te doen het nie.  Hy verwys na Jeremia 31:33 waar ons lees: ‘Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê‘.  God roep ons en maak ons bekwaam om bedienaars van die nuwe verbond te wees.  Hierdie nuwe verbond is een wat in die harte van mense geskryf word en nie op kliptafels soos die wet destyds nie.  Daar is ‘n skerp kontras tussen die twee – wat meer uitgewerk word in die perikoop hierna: Die letter van die wet maak dood, die Gees van God maak mense lewend!

Konteks

‘n Paar opmerkings behoort dalk gemaak te word oor die hele kwessie van aanbevelings-briewe soos wat dit in ons perikoop aan die orde kom.

Dit was skynbaar die gebruik dat besoekende predikers by ‘n gemeente waar hulle opgetree het, ‘n soort getuigskrif gekry het wat hulle dan by hulle aankoms in ‘n nuwe stad, oorhandig het.  Paulus word nou in Korinte aangevat omdat hy nie sulke briewe met hom saamdra nie.  Gerhard Barth (1974:378-379) praat van die mense wat so rondgegaan het en wat waarskynlik dan ook Paulus se belangrikste opponente in Korinte was as ‘judenchristlich-hellenistische Missionare und Wanderpropheten, die mit ihren Wundertaten und pneumatischen Demonstrationen der Gemeinde imponieren und deren Verkündigung Paulus nur als ein “anderes Evangelium” verstehen kann’.

Ons moet dus glad nie dink dat Paulus die enigste sodanige persoon sou wees wat by stede soos Korinte en Efese opdaag en preek nie.  Nee, hy het inderdaad strawwe kompetisie gehad.  Dit was dikwels ook indrukwekkende ouens wat die omstanders na hulle asems laat snak het met geestesvervoerings, visioene en magsdemonstrasies.  Hughes (1962:85) praat van dié mense as ‘gospel-hawkers who were troubling the Church’.

Dit laat ‘n mens beter verstaan hoekom Paulus in 1 Kor 2:3 gesê het: ‘Bewus van my eie swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom’.  Dit was vir Paulus belangrik om nie soos die normale ‘Wanderpropheten’ op te tree en aandag te trek nie.  Vandaar ook sy ontbrekende aanbevelingsbriewe, en vandaar sy besluit om self in sy eie lewensonderhoud te voorsien, ‘n kwessie wat weer op ‘n ander punt teen hom gehou sou word.

Ons moet net onthou dat Paulus nie noodwendig gekant was teen aanbevelingsbriewe as sodanig nie.  Trouens, in omtrent elkeen van sy briewe maak hy voorbrand vir iemand wat na ‘n gemeente toe kom, soos Timoteus, Titus, Phoebe en Barnabas.  Dink ook net aan die Filemonbrief, wat feitlik uitsluitlik ‘n aanbevelingsbrief is.  Die belangrike verskil is dat die persone wat hulle as apostels voorgedoen het in Korinte, fortuinsoekers was teen wie Paulus moes standpunt inneem.

Rondom die kontras tussen die letter en die Gees het Hughes (1962:96-102) in sy kommentaar ‘n hele uitgewerkte stuk.  Ek volstaan hier met ‘n paar kort opmerkings.

Die versoeking is daar om ‘letter’ en ‘wet’ as identies voor te stel.  Fürst (1984:416) onderskei egter tussen die twee begrippe en meld dat die wet deur Paulus deurgaans positief voorgestel word.  Vergelyk Romeine 7:6 waar Paulus die wet ‘heilig en reg en goed’ noem.  Die ‘letter’ word egter deur Paulus voorgestel as dat dit dood maak, verdoem.  Fürst (1984:416) haal Ernst Käsemann soos volg aan: ‘Der Buchstabe tötet, weil er den Menschen in den Dienst der eigenen Gerechtigkeit zwingt, selbst wenn er es imNamen Gottes tut ... Alles, was auf eigene Kraft, Tauglichkeit und Frömmigkeit verweist, tötet’.

Dit word ook as ‘n moontlikheid genoem deur Hughes (1962:96) dat die valse apostels in Korinte juis judaïseerders was, dat Paulus homself voorstel as bedienaar van die nuwe verbond teenoor sy teenstanders wat bedienaars van die ou verbond is. Moontlik daarom dat hy so volledig ingaan op die verskille tussen die era van Moses en van Christus in 2 Korintiërs 3:7-18.

Sodra die mens op sy eie houtjie probeer regkom, klim hy letterlik uit die sfeer van goddelike genade uit, en dít maak dood.

Preekvoorstel

Die teks bied goeie moontlikhede om hulpmiddels by die prediking te betrek.  Bring byvoorbeeld verskillende soorte ‘briewe’ saam na die kansel: ‘n telegram, ‘n vensterkoevert vir ‘n rekening, ‘n amptelike koevert, ‘n mooi liefdesbrief, ‘n faks en ‘n e-pos wat uitgedruk is.  Die kinders kan dan elke keer sê vir watter soort brief die verskillende koeverte gebruik word.

Uiteindelik kan die prediker die brug slaan na die teks met iets soos: Maar in ons teksgedeelte van vanoggend hoor ons van ‘n heel ander soort ‘brief’.  Ons lees in 2 Korintiërs 3:3 hoe daar gesê word dat óns ‘n brief van Christus is.

Saam met al die moontlikhede wat so ‘n aanpak bied, moet die waarskuwing wat Gerhard Barth rig, met groot erns bejeën word.  Barth stel die gevaar ‘dass die Predigt gesetzlich moralisch wird’ (1974:381).  Onthou gerus ook maar Johan Cilliers se opmerkings oor moralistiese en wettiese prediking, soos die volgende: ‘In wettiese preke maak ons self die wêreld reg.  Of altans, leef ons onder die illusie dat ons kan’ (1996:111).

Dus, as die prediker kies om met die beeldmateriaal in die teks te werk – wat ‘n uitstekende invalshoek voorsien – onthou net om te beklemtoon wie dit is wat die werk doen.  As ons briewe van Christus is, het ons onsself geskryf?  Bepaal ons self die inhoud van die brief?  Nee, ons is geskryf ‘met die Gees van die lewende God’ (vers 3).  Verse 5-6 onderstreep hierdie feit: ‘Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie.  Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees’.

Hughes (1962:88) sluit hierby aan: ‘They are manifest, open for all to read, as a letter possessing no less an author than Christ Himself.  The character imprinted upon them is that of Christ’ (my beklemtoning).  Daar is dus hoegenaamd nie plek vir eie vermoëns en moralistiese oproepe in prediking oor hierdie perikoop nie.

Die vraag is in elk geval: Kan die gemeente werklik briewe van Christus wees?  Walther Fürst vra amper moedeloos: ‘Die Gemeinde - Christi Brief?  Lebendige Urkunde göttlichen Liebeswillens?  Ist sie das wirklich? (1984:415)’.  Dink maar aan die klomp daar in Korinte.  ‘n Mens hoef net die bladsye so een vir een terug te blaai van die twee Korintiërbriewe en jy kan maklik jou vinger druk op ‘n hele paar probleme.

Daar was sprake van interne spanning en groepvorming; lidmate het mekaar sommer vir geringe verskille hof toe gesleep; seksuele vergrype het voorgekom en is ook nie ordentlik gestraf nie; rondom die viering van die nagmaal was daar wanpraktyke; baie vrae het nog geleef in die harte van die mense rondom sake soos of ‘n mens die vleis mag eet wat aan afgode geoffer is en oor die huwelik; die opstanding van Jesus en van die gelowiges het ook verskillende interpretasies uitgelok, ensovoorts.

Die gemeente van Korinte was in ‘n groot mate wat ons sou kon noem Paulus se ‘probleemkinders’.  Lategan (1984:57) skryf oor die situasie in die gemeente wat in 1 Korintiërs hanteer word: ‘Die situasie verander so vinnig dat Paulus as ’t ware die gate moet toestop waar dit ontstaan, ad hoc-beslissings moet gee telkens wanneer nuwe probleme opduik’.

Dit was nou ‘n gemeente waar die evangelie sy staal moes wys.  Beslis nie ‘n rustige ‘aftree-joppie’ vir ‘n dominee wat emeritaat nader nie.  As ons vandag dié boodskap hoor en sou voel dat die beskrywing ‘briewe van Christus’ nie gemaklik in óns beskrywing pas nie, is ons daarom in goeie geselskap.  Die Korintiese hoorders het seker die oggend wat die brief voorgelees is, gewonder of daar regtig met hulle en veral óór hulle gepraat word.

En tog word daar vir daardie ‘probleemgemeente’ én vir ons met ons foute gesê: ‘Julle is baie spesiaal!  Julle is briewe geskryf deur Jesus Christus self!’  Dit is baie belangrik dat ons dit moet besef.  Juis ‘n gemeente wat gesukkel het om die geloofspunte bymekaar te bring, hoor dat hulle briewe is wat die wêreld ingestuur word.

Dit hou natuurlik vir ons ‘n geweldige gerusstelling in.  Ons redding, ons voortbestaan as gemeente, selfs nie eens ons positiewe reaksie op God se genade kom uit ons eie krag nie.  Die Here roep ons én Hy help ons daarop antwoord.

Daarby hou hierdie teksgedeelte met albei beelde vir ons ook ‘n besondere roeping in. Die Korintiërs moes besef dat hulle wel ‘gelees’ word, dat wat hulle daar in hulle huisbyeenkomste in Korinte doen en sê, hulle deur mense raakgesien word.  Hulle is geroep om bedienaars te wees, bedienaars van ‘n nuwe verbond wat mense vry maak.  God sal hulle self bekwaam maak en toerus vir hierdie bediening, maar hulle moet sekerlik beskikbaar wees.

Adonis (1996:193-194) noem dat hierdie nuwe verbond oproep tot bekering.  (Dit kom weliswaar meer na vore waar hy verse 7-18 bespreek, maar is tog belangrik en sou geïnkorporeer kon word in die preek.)  Hy skryf: ‘Die nuwe verbond (v 4-6) met sy heerlikheid (v 7-11) vra ook ‘n nuwe gehoorsaamheid wat in die woord bekering saamgevat kan word’.

Die evangelie roep altyd om verandering.  Mense wat deur die genadige werking van die Drie-enige God aangeraak is, kan nie dieselfde bly nie.  Daarom kan die probleme wat in Korinte geheers het, nie maar onaangespreek bly nie.  Nee, deur die genade en krag van die Here, sal hulle nuwe gehoorsaamheid in die praktyk sigbaar moet begin word.  Juis omdat hulle briewe is wat op elke plek gelees word!

‘n Laaste aanhaling van Soards et al (1993:171) kan dalk ook verhelderend wees: ‘God has not merely authorized us and sent us off to live independently in confidence and competence; rather, God has grasped our lives through the Spirit and we have a new relationship that establishes and energizes a new way of living in relationship to God and, in turn, in relationship to others’.

 

Bibliografie

Adonis, J C 1996. 2 Korintiërs 3:1-18, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig I/10: Riglyne vir sendingprediking tussen Pinkster en Advent, 191-196. Kaapstad: Lux Verbi; Barth, G 1974. 12. Sonntag nach Trinitatis: 2. Kor 3, 1-3. GPM 28, 378-384; Cilliers, J H 1996. Die uitwissing van God op die kansel: Ontstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi;  Fürst, W 1984. 20. Sonntag nach Trinitatis: 2. Kor 3, (1-)3-9 (10-11). GPM 38, 413-417;  Groenewald, E P 1973. Die tweede brief aan die Korinthiërs. Kaapstad: NGKU; Hughes, P E 1962. Paul’s second epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Lategan, B C 1984. 1 Korintiërs, en 2 Korintiërs, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 57-79 en 80-94. Pretoria: NGKB; Soards, M, Dozeman, T & McCabe, K 1993. Preaching the Revised Common Lectionary: Year B. Advent/Christmas/Epiphany. Nashville: Abingdon; Tasker, R V G 1963. 2 Corinthians. Leicester: IVP.