2 Korintiërs 1:18-22 (Lambert Jacobs)

20 Februarie 2000

Sewende Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: Jesaja 43:18-25; Psalm 41; Markus 2:1-12

Ons is as God se eiendom gebou op die vaste grond, Jesus Christus, met die Heilige Gees as ons waarborg.  Christus is God se ‘Ja’ vir die wêreld.

Teks

Die brief wat ons ken as 2 Korintiërs is een van die Bybelboeke wat sekerlik die meeste moes deurloop onder versnippering deur die literêre kritiek.  So skryf Walter Schmithals onder andere in sy invloedryke werk (1971:87): ‘The arrangement of the letters itself forces us to recognize that Paul cannot possibly have written them thus’.  Hy deel dan die briewe heeltemal anders in en laat ons met heelwat meer as twee briewe.

Die debat oor die eenheid van 2 Korintiërs is nie so deurslaggewend vir die prediker nie. Ons werk immers met die teks soos ons dit voorhande het.  Vir interessantheid kan Lategan (1984:88-92) se kernagtige samevatting van die belangrikste aspekte egter tog nagegaan word (vgl. ook Pelser 1991:219-220).

Ons kan ook werk met Lategan (1984:93-94) se indeling van die brief, om ons twee perikope te kan plaas.  Die inhoud van 2 Korintiërs val soos volg uiteen:

1:1-2              Briefaanhef: Afsenders, ontvangers en seëngroet

1:3-7              Danksegging

1:8-11  Aanloop tot hoofbetoog: Paulus se wedervarings

 

1:12-2:13  Eerste hoofdeel

1:12-2:4    Paulus se veranderde reisplanne en die tranebrief

2:5-11       Vergifnis vir ‘n oortreder

2:12-13     Begin van beskrywing van Titus se koms

 

2:14-7:16  Tweede hoofdeel

2:14-17      Lofprysing

3:1-6:13     Die aard van die bediening

6:14-7:1     Waarskuwing teen heidense invloed

7:2-16        Voortsetting van beskrywing van Titus se koms en sy verslag oor die gemeente

 

8:1-9:15              Derde hoofdeel

8:1-15              Oproep tot Christelike vrygewigheid

8:16-24              Die sending van Titus

9:1-15              Opdragte in verband met die insameling vir die gemeentes in Judea

 

10:1-13:13              Vierde hoofdeel

10:1-18              Verdediging van Paulus se apostoliese gesag

11:1-15              Die valse apostels

11:16-12:21              Paulus se optrede as apostel

13:1-11              Afloop van hoofbetoog: laaste vermanings

13:12-13              Briefafsluiting: Groete, broederlike soen, seëngroet.

 

Die perikoop 2 Korintiërs 1:18-22 val binne die gedeelte waar Paulus sy veranderde reisplanne verduidelik en sy trane en besorgdheid oor die Korintiërs uitstort.  Paulus is hier besig om sy integriteit as apostel te verdedig.  Tasker (1963:46) se opskrif by ons perikoop is heel gepas: ‘Paul not guilty of fickleness’.

Die perikoop begin in vers 18 met ‘n eedsweringsformule (Schwurformel): ‘So seker as God getrou is’.  God word as getuie ingeroep dat Paulus se bona fides deurgaans goed was in sy optrede teenoor die Korintiese gemeente.  Daarom begin hy nie sommer met ‘n verduideliking van hoekom sy reisplanne verander het nie, maar dui hy aan hoekom daar geen twyfel aan sy woorde en optrede behoort te wees nie.  Paulus se optrede is gegrond in die betroubare optrede van God in Jesus Christus (Dantine 1981:22).

Paulus het immers al vantevore aangedui dat hy niks anders wil doen in Korinte as net om Jesus as die Christus te verkondig nie, en dan wel as die Gekruisigde (1 Kor 2:2).

Die begronding van sy betroubaarheid in Christus werk Paulus dan in verse 19-22 uit.  Die feit dat die Korintiërs twyfel aan sy geloofwaardigheid as apostel, hou ook in dat hulle twyfel aan die inhoud van dit wat hy oordra, en dit is Christus.  En dit hou in dat hulle eintlik aan Christus self twyfel.

Jesus is egter die fisiese beliggaming van God se ‘Ja!’ vir die wêreld.  In vers 20 word die redenasie herhaal, maar nou met ‘die evangelie/beloftes van God’ as subjek.  Daarop sê die gemeente ‘Amen’ as bevestiging.  Hierdie ‘Amen’ van die gemeente geskied ook deur die genadige werking van Christus (vgl. Hughes 1962:37).

Verse 21-22 ontplooi die volheid van die Drie-eenheid en ryg vier sterk begrippe as participia in om Paulus se saak finaal vas te knoop: ‘bebaioun’ en ‘arrabon’ is regsterme, terwyl ‘chriein’ en ‘sphrangizein’ aan die doop verbind is (vgl. Dantine 1981:22).

Die perikoop is ook ‘n sleutelteks vir die verstaan van die werk van die Heilige Gees, waar die Gees in vers 22 (soos ook in 2 Kor 5:5 en Efes 1:14) ‘arrabon’ genoem word.  Coetzee (1984:238) vergelyk hierdie begrip soos volg: ‘Arrabon is tegelyk ‘n geborgde belofte (“ek sal alles betaal”), én ‘n reeds teenwoordige werklikheid (“hier gee ek al die eerste deel”).  So moet ons ook die gawe van die Heilige Gees aan die kerk van Christus met Pinkster verstaan’.

Die ander begrippe van 21-22, salwing, beseëling en ontvangs, word almal geknoop aan die werk van die Heilige Gees.  Die eerste dui op eenkant sit en taak vir diens, die tweede op erkenning en veilige bewaring, en die derde op die vaste waarborg van die volle erfenis wat nog ontvang sal word (vgl. Hughes 1962:42-43).

Hughes (1962:36) vat die essensie van die perikoop mooi saam as hy skryf: ‘In Christ is the yes, the grand consummating affirmative, to all God’s promises’.

Konteks

Gepubliseerde preke oor die perikoop is nie volop nie.  Trouens, 2 Korintiërs 1:18-22 is maar eers redelik onlangs tot die Duitse perikoopreeks toegevoeg.  Johannes Dantine, die Oostenrykse teoloog wat die opdrag gekry het om ‘n preekstudie oor die gedeelte vir die vierde Adventsondag voor te berei, betreur die plasing in advent.  Hy dui dan ook aan dat hy by die teks gaan hou en dit nie by die spesifieke geleentheid sal laat maak pas nie (1981:24).

Paulus se aanslag in ons teksgedeelte word uitstekend deur Hughes (1962:38-39) weergegee: ‘The question of Paul’s sincerity and reliability might so easily have degenerated into an unprofitable wrangle with an exchange of accusations and recriminations, but the Apostle approaches it in such a manner as to place it on a level far above that of any mere personal grievance’.

‘n Mens sou enkele opmerkings oor die kinderdoop kon maak aan die hand van hierdie gedeelte.  Dantine (1981:25) gee toe dat kinders gedoop word somtyds net omdat die ouma daarop aangedring het.  Tog sê hy gaan dit in die doop oor God se ‘Ja’, oor God se oorspronklike handeling, nié oor ons reaksie nie.  God se ja is nie afhanklik van ons positiewe antwoord nie.  Ons besluit is nie voorwaarde van God se Ja in Christus en deur sy Gees nie.

Preekvoorstel

In die meeste gemeentes word die doop bedien op die eerste Sondag van die maand.  Hierdie perikoop leen hom egter uitstekend tot ‘n dooppreek en as dit in die gemeente gereël kan word, sou dit met vrug so gebruik kon word.  Verse 21-22 is gelaai met regsterme (bebaioun en arrabon) en doopterminologie (chriein en sphrangízein) (vgl. Dantine 1981:22).

2 Korintiërs 1:21-22 is van daardie klassieke verse in die Nuwe Testament waar die werking van die Goddelike Drie-eenheid so ongelooflik mooi beskryf word: ‘God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus.  God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang’.  Die prediker sou amper genoeg gedoen het as hierdie twee verse net uitmekaargehaal en vir die gemeente uitgepak word.

Vir Paulus is dit belangrik om die jong gelowiges in Korinte te oortuig van die egtheid en betroubaarheid van sy boodskap as apostel, maar daarmee ook van Jesus Christus as die inhoud van sy prediking.  Daarom stapel hy woorde soos ‘seker’, ‘getrou’, ‘beloftes’, ‘Amen’, ‘vaste grond’, ‘gevestig’, ‘eiendom’, ‘beseël’, ‘waarborg’ en ‘ontvang’ in hierdie paar verse op.  Dit is almal begrippe wat ‘n mens laat dink aan sekuriteit, sekerheid, vastigheid, betroubaarheid.

Dít, sê Paulus, is God.  Hý is ons sekerheid, ons vastigheid.  God is getrou.  Dantine (1981:24) sê: ‘Gott redet eindeutig’.  God praat uit een mond uit, sou ons kon sê.  Sy aand- en môrepraatjies stem ooreen.  In sy kommentaar gee Hughes (1962:35) ‘n oulike beskrywing: ‘When God speaks His positive does not carry a hidden negative.  And so it is also with His chosen Apostle: his word to the Corinthians is not a mixture of yea and nay at the same time, but a faithful yea – sincere, honest, unambiguous’.

En hoe weet ons dit?  Twee redes: God het vir ons Christus gegee, en Hy het vir ons sy Heilige Gees gegee.  Jesus Christus is die ‘Ja!’ van God vir die wêreld.  Ons is in die tyd van Epifanie in die kerk.  Jesus Christus se verskyning, God se verbintenis tot ons wêreld.  Ons staan op die drumpel van die lydensweke wat sal uitmond in Goeie Vrydag en Paassondag.  God se Ja het Hom tot aan die kruis op Golgota geneem.  Sy Ja het in ‘n graf gedraai.  God se Ja het vereis dat sy Seun ‘n baie bitter beker heeltemal leeg moes drink.

Maar God het ook Ja gesê in Jesus se opstanding.  Hy het Christus lewend gemaak sodat ons ook kan leef.  Sy hemelvaart is in ons belang, is tekenend van God se betroubaarheid.  En dan los God ons ook nie alleen nie, los Hy nie maar die wêreld om vorentoe self op te snork nie.  Nee, Hy stuur sy Gees, as Trooster, as Voorspraak, as Waarborg.

Die prediker kan op hierdie punt gerus aanhaak by ‘n aanhaling uit Coetzee (1984:239): ‘Terwyl Jesus Christus vir ons alles verdien en verwerf het van die heil van die toekomende, ewige lewe, maar ons in hierdie lewe nog so weinig daarvan sien, dien die Gees as bewys, is Hy die waarborg en werk Hy die tekens in ons lewe van die nuwe skepping wat sal word wanneer die Here Jesus weer kom’.  Kyk maar weer na die betekenis van die Gees as ‘arrabon’.

Al hierdie dinge word saamgevat, bevestig in die doop.  Daarom is dieselfde verse wat so gelaai is met die Drie-eenheid (verse 21-22) ook vol tipiese doopterminologie: ‘chriein’ en ‘sphrangizein’.  Dantine (1981:23) skryf hieroor: ‘Paulus verwys terug na die doop, wat die vaste toesegging is, die herhaalde getuienis van God se betroubaarheid’.  In die sakrament van die doop sê ons dat God sy beloftes nakom, dat Hy doen wat Hy sê.  Ons lees in Rom 6:4: ‘Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei’.

Ja, God knik instemmend vir nuwe lewe.  Hy wil dat ons lewens voortaan anders sal lyk. Sy betroubare woord roep ons betroubare reaksie op.  Dit is waartoe God ‘ons vir Hom afgesonder’ het (vers 21), ‘ons as sy eiendom beseël’ het (vers 22).  Die gelowige is beseël, gemerk met doop en Gees (vgl. Groenewald 1973:29 op hierdie punt).  Die Heilige Gees is reeds ons deposito, ons pand wat vir ons waarborg dat die volheid van God aan ons behoort!

Nou moet my lewe van hierdie volheid getuig.  Ek moet sing en juig en positief lewe omdat God my lewe verander het, my op ‘n nuwe koers geplaas het.  Daarvoor kan ek God net dank.  Die hele proses van my redding getuig van suiwer genade van God se kant af, selfs my positiewe antwoord, my ‘Amen’ daarop.

Hoe nou gemaak as God wel ‘Nee’ sê?  ‘n Persoon in die erediens ervaar miskien dat God al soveel deure in sy of haar gesig toegeslaan het, dat dit wel ‘n paar kere gevoel het of God se ‘Ja’ ‘n ‘Nee’ geword het.  Is dit nie somtyds tog die ‘Regtergod’ wat praat en ‘Nee’ sê nie?  ‘n Mens sou nie lank op al die moontlikhede kon ingaan nie.  Dit voel weliswaar soms asof ‘n mens alleen staan, asof die kanale na God toe afgesny is.

God antwoord natuurlik nie altyd hoe ek gedink het nie.  Soms werk Hy te stadig of te vinnig na my sin.  Veral wanneer ons met die dood of ernstige siekte gekonfronteer word, is daar baie selde antwoorde op al ons vrae.  Wanneer ‘n belowende jong kind sterf, of kort na mekaar twee mense uit een gesin weggeneem word, of ‘n uitmergelende siekte ‘n eens sterk persoon stukkie vir stukkie aftakel.  Dan kom die ja’s en die nee’s nie altyd mooi bymekaar uit in ons koppe nie.  Wat ons egter wel duidelik kan stel – en ook uit ander teksgedeeltes motiveer – is dat God se ‘Ja’ nooit verander nie.  Dantine (1981:25) stel dit so goed:  ‘Gott teilt sich dem Menschen als Ja mit, eindeutig, unkonditioniert, endgültig’.  Wanneer ons deur die diepste water moet gaan, is God juis daar vir ons.

God hét wel een keer in die geskiedenis ‘Nee’ gesê.  Hy het ‘Nee’ gesê toe Jesus in Getsemane gebid het dat die beker by Hom moet verbygaan.  Hy het ‘Nee’ gesê om ‘n legioen van engele te stuur om sy Seun met mag van die kruis af te haal.  Toe het Hy Nee gesê ter wille van ‘n ganse mensdom se sonde.  Nou is God se Ja! een wonderlike ervaring van God se genade, hoe Hy met ons elkeen in ‘n verhouding tree en sonder voorwaardes met ons werk, vir ons oorlaai met sy goedheid!  Ons kan ook bly uitsien na die volheid van God se seën wat vir ons wag.  Daaraan herinner die Heilige Gees ons voortdurend, dra ons die vaste waarborg daarvan in ons rond.

 

Bibliografie

Coetzee, J C 1984. Die Heilige Gees in die prediking van Paulus, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 234-255. Pretoria: NGKB; Dantine, J 1981. 4. Advent: 2. Kor 1, 18-22. GPM 36, 21-27;  Dunn, J D G 1998. The theology of Paul the apostle. Grand Rapids: Eerdmans; Groenewald, E P 1973. Die tweede brief aan die Korinthiërs. Kaapstad: NGKU; Hughes, P E 1962. Paul’s second epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Lategan, B C 1984. 2 Korintiërs, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 80-94. Pretoria: NGKB; Pelser, G M M 1991. Die tweede Korintiërbrief as getuienis van apostel en evangelie in krisis en versoening, in Roberts, J H (et al), Teologie in konteks, 219-247. Halfweghuis: Orion; Schmithals, W 1971. Gnosticism in Corinth: An investigation of the letters to the Corinthians. Nashville: Abingdon; Tasker, R V G 1963. 2 Corinthians. Leicester: IVP.