1 Korintiërs 15:35-50 (Ian Nell)

18 Februarie 2001

Sewende Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: Genesis 45:3-11,15; Psalm 37:1-11, 39-40; Lukas 6:27-38

 

Teks

Verlede week en voorverlede week het ons reeds gekyk na die konteks waarin Paulus in 1 Korintiërs 15 die onderwerp van die opstanding hanteer het. Die vorige studies kan in die verband geraadpleeg word vir vollediger informasie. In die verse vir hierdie Sondag volg ons verder die spoor van Paulus se argument oor die opstanding. Die perspektief skuif egter, so ook die retoriek en styl van die argument. Vroeër het Paulus die Korintiërs se posisie met betrekking tot die opstanding verduidelik en daarop gewys dat dit  verkeerd was. In vers 35 stel Paulus ons nou voor aan 'n ‘denkbeeldige retoriese opponent’ wie se vrae 'n poging is om Paulus se argument te ondermyn. In die verse wat volg argumenteer Paulus nou met hierdie opponent en gaan ook voort met verdere instruksies.

Daar is drie hoofdele in sy argument, elk met sekere onderafdelings.

Deel 1, begin in vers 35 met die denkbeeldige retoriese vrae in reaksie op Paulus se vorige onderrig. In 36-38 vind ons Paulus se antwoord op sy ‘opponent’, gegrond op 'n argument met die landbou as agtergrond. Verse 39-41 gaan voort op dié lyn maar maak van ander beelde gebruik. 

Deel 2, begin met die kommentaar in vers 42 wat aanhaak by verse 37-39. Hierdie deel gaan voort deur 'n verskeidenheid van kontraste uit te lig wat lei tot 'n argument oor die realiteit en noodsaak van 'n nuwe opstandingsliggaam wat verskil van die een wat ons gedurende ons aardse lewe ken.

Deel 3, vers 50, open die finale refleksie van hierdie hoofstuk, wat ons in verse 50-58 aantref. As deel van ons perikoop is vers 50 'n goeie opsomming van Paulus se argument in die vorige twee dele. Paulus se retoriek en die inhoud van sy onderrig bied waardevolle riglyne vir die prediking oor die realiteit van die opstanding.

Konteks

Paulus se denkbeeldige opponent opper 'n interessante paar vrae in verband met Paulus se beklemtoning van die realiteit van die opstanding. "Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?", vra die opponent. Paulus antwoord deur 'n analogie te gee van die saad en die groei van plante om daarmee te sê dat die aardse liggaam met die opstanding in 'n totaal ander vorm verrys – maar as 'n Godgegewe realiteit. Die analogie speel in op die aardse liggaam, dood, begrafnis, opstanding en opstandingsliggaam.

Twee sake staan uit in Paulus se argument:

Eerstens is die opstanding nie maar bloot 'n metafoor vir of 'n vergeesteliking van die idee van die rooskleurige nagevolge van 'n vergange menslike lewe nie. Die opstanding word nie maar bloot onthou deur familie, vriende en die gemeenskap met betrekking tot al die goeie (of slegte) wat 'n mens in dié lewe gedoen het nie. Paulus leer vir ons dat die opstanding 'n werklike, maar dramaties verskillende, bestaan is in verhouding tot God en andere agter die parameters van hierdie wêreld.

Tweedens, en nog belangriker, die opstanding is 'n Godgegewe realiteit. Die mens bestaan nie verder na die dood nie. Daar is nie 'n onblusbare vlammetjie wat voortleef noudat die liggaam weg is nie. Nog minder kan ons die opstanding verwerf. 'n Dooie koringkorrel is presies dit, dood. Maar deur die wil en werk van God, kom daar nuwe lewe na vore en vorm dit 'n nuwe plant as ons die saad in die grond sit. God gee die opstandingslewe en liggaam soos wat Hy bepaal.

In die volgende deel van sy argument stel Paulus kontraste op tussen die aardse en opstandingsliggame wat ons soos volg sou kon lys:

                        Aardse liggaam                                          Opstandingsliggaam

                        Verganklik                                                                Onverganklik

                        Sonder eer en aansien                                  Verheerlik

                        Swak                                                                          Vol krag

                        Fisies                                                                         Geestelik

 

Hierdie teenstellings is nie 'n terugval op 'n vorm van Platoniese dualisme nie, dit is eerder 'n bewys van Paulus se oortuiging van die voortreflikheid van die opstandingsliggaam wat van God af kom as 'n gawe vir die wat God opwek. Paulus kontrasteer dus die realiteit van die teenswoordige aardse bestaan wat fisies is en deur sonde geaffekteer word, met die toekomstige opstandingsliggaam wat geestelik is en deur die genade van God verander word.

Die tipologiese argument met betrekking tot die eerste Adam (van Genesis) en die laaste Adam (Christus) is kompleks. Paulus se basiese punt is die volgende: as mense deel ons tans die fisiese natuur en lot van die eerste Adam. Ons is sondaars wat sterf. Maar deur die genade van God in Jesus Christus, word ons die geestelike natuur en lot van die gekruisigde en opgewekte Here Jesus gegee. Met die gevolg dat ons teenswoordige situasie nie ons toekomstige situasie bepaal nie, dit is eerder God se genade wat bepalend is. Paulus beklemtoon dat die transformasie van wat ons is tot wat ons sal wees, is noodsaaklik en gebeur as God se genadewerk in en deur ons lewens.

Preekvoorstel

In die prediking kan jy maklik aansluit by die vrae van Paulus se denkbeeldige opponent. "Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?" (1 Kor 15:35).

Dit bly maar vrae wat ook in ons gemoed leef. Dikwels vra jy hierdie vrae die eerste keer op die ouderdom van sestig wanneer jy jou lewensmaat verloor. Soms vra jy dit veel vroeër in jou lewe. Dit kom dikwels onverwags uit die mond van 'n kind.

Die oggendkoerant bevat die grillerige foto van iemand wie se lyk twee weke na sy sterwe gevind is. 'n Grillerige geraamte. "Pa, gaan dié geraamte nou uit die dood opstaan? Is dit hoe ons almal na ons dood lyk? Gaan ons plooie en sproete hê, min of baie hare? Gaan ek littekens hê? En hoe gaan mense lyk wat in 'n gruwelike ongeluk was? Wat gebeur met mense wie se liggame deur haaie opgevreet is of wat veras is toe hulle gesterf het?", wil jou kind van jou weet. En kom ons wees nou maar eerlik, ons is maar baie huiwerig om sommer 'n antwoord te gee. Daarom is dit dalk 'n goeie begin om by Paulus aan te klop vir raad.

Maar hoor net wat sê Paulus (lees vers 36). Hy sê dis 'n dom vraag. "Nee wat, Paulus, jy is maar baie ondiplomaties in jou antwoord. Dit help ons ook nie veel as jy so op ons vraag reageer nie – trouens, jy ontneem as 't ware ons vrymoedigheid om verdere vrae te vra as jy ons so kortaf antwoord."

Is dit wat Paulus in gedagte gehad het met sy antwoord? Dit lyk nie so, as ons verder lees nie. Hy het 'n goeie rede waarom hy sê dat dit 'n dom vraag is. Hy sê dit vir mense wat gedink het as jy dood is, is dit die einde. Mense wat waarskynlik agter hulle hand gelag het vir geraamtes wat kwansuis gaan opstaan, of mense wat met af arms, bene en koppe rondloop.

Dit is hoekom Paulus dink dat dit 'n dom vraag is. Hierdie denkbeeldige opponente van Paulus het gedink dat hulle baie slim is. Hulle het nie geglo dat dit vir God moontlik is om iets nuuts te maak nie!  Die mens wat so ’n vraag stel, bewys daardeur dat hy eintlik volkome onkundig is in die dinge van die Here. As hy maar gelet het op wat in die natuur gebeur, sou hy so ’n vraag nie gestel het nie. Hy weet tog self wat gebeur met iets wat gesaai word. Die korrel sterf weg in die aarde om dan in ’n ander gedaante, as halm en aar, te voorskyn te kom (Joh. 12:24). Wat gesaai word, is ’n ander ‘liggaam’ as die ‘liggaam’ van die toekoms. Die saadkorrel ondergaan ’n gedaanteverandering en kom te voorskyn as halm en aar. Maar dit ondergaan nie ’n wesensverandering nie; koring bly koring; dit behou sy identiteit en daar is ook kontinuïteit tussen die korrel en die halm. Die saadkorrel dra die lewe wat voortgesit word in ’n nuwe gestalte van groeiende graan.

Hierdie bekende natuurproses is in werklikheid ’n wonder van God. Die gestalte waarin die saad uitspruit, is nie aan die willekeur oorgelaat nie, en dit is ook nie ’n natuurfrats nie. Dit is deur God bepaal, vir elke saadsoort volgens sy eie aard (Gen. 1:11). Daarom kan die saad aan sy eie aard nie ontrou wees nie. Koring word gesaai en koring spruit uit die aarde. Die ‘liggaam’ het verander en tog is dit nog dieselfde koring.

Om te bevestig dat God aan elke saadsoort sy eie gestalte gegee het, verwys die apostel na die verskeidenheid onder die diere, voëls en visse. Ten opsigte van hul uiterlike vorme is hulle verskillend, maar vir elke vorm is daar ook ’n eie soort vleis. Dus, wanneer ’n mens die lewende gestalte sien, weet jy hoedanig die vleis sal wees: dier of voël of vis. En omgekeerd, wanneer jy die vleis sien, weet jy hoedanig die lewende gestalte was. Ook hier bly die identiteit behoue en die kontinuïteit gehandhaaf tussen die ‘liggaam’ voor en ná die dood.

Dieselfde is die geval ten opsigte van die hemelliggame in vergelyking met aardse liggame. Elkeen straal sy eie lig uit, die een sterker as die ander, maar elkeen bly getrou aan sy eie aard. Die uitstraling of heerlikheid van elkeen is in ooreenstemming met sy uiterlike vorm of grootte, sodat ’n mens aan die glans kan sê of dit ’n hemelse of ’n aardse liggaam is, en voorts of dit die son, maan of sterre is. Elke ligglans kom van ’n bepaalde hemelliggaam, en omgekeerd het elke hemelliggaam sy eie uitkenbare ligglans. Ook hier is identiteit en kontinuïteit, net soos by die aardse liggame (v.39).

Die voorbeelde uit die natuur gebruik Paulus om die opstanding uit die dode vir sy lesers te verduidelik. Die punt van ooreenkoms is dat elke ‘aardse liggaam’ ’n ooreenstemmende ‘hemelse ‘liggaam’ van God ontvang het. Die saadkorrel het sy eie halm; die dier, voël of vis het elk sy eie soort vleis; die son, maan of ster het elk sy eie soort ligglans. So het die liggaam van die mens wat in die graf weggelê word ook sy eie opstandingsliggaam. Wat uit die graf opstaan, is nog dieselfde mens wat daarin weggelê is, maar sy ‘liggaam’ het ’n radikale verandering ondergaan. God wat in die natuur ’n vaste orde bepaal het (v.38), het ook ten opsigte van die mens dieselfde gedoen.

Volgens sy wese as mens het die Here vir Hom ’n opstandingsliggaam bepaal wat aan die mens alleen eie is. Maar hierdie opstandingsliggaam verskil ingrypend van die liggaam van vlees en bloed wat in die graf neerdaal. Die een word gekenmerk deur verganklikheid, oneer en swakheid; die ander deur onverganklikheid, eer en krag.

Met hierdie stelling het die apostel voortgegaan van die vraag omtrent die hoe van die opstanding na die tweede vraag in verband met die hoedanigheid van die opstandingsliggaam. Daarop gaan hy nader in        (v. 44b–49). Voorop stel hy die aankondiging van ’n waarheid waaraan daar nie te twyfel is nie: "Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam." In die grondteks staan daar eintlik: "Is daar ’n natuurlike liggaam, dan is daar ook ’n geestelike liggaam." Dus, uit die feit dat ’n natuurlike liggaam bestaan, is met sekerheid af te lei dat daar ook ’n geestelike liggaam bestaan.

Die kontraste wat Paulus nou bespreek sou ons soos volg kon uiteensit:

                        Aardse liggaam                                          Opstandingsliggaam

                        Verganklik                                                                Onverganklik

                        Sonder eer en aansien                                  Verheerlik

                        Swak                                                                          Vol krag

                        Fisies                                                                         Geestelik

 

‘Verganklikheid’ is ’n kenmerk van die lewe in die vlees. Eintlik is dit ’n proses wat aan die gang is en meebring dat "alle vlees is soos die gras: in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ’n mens dit af, en dit verdor" (Ps 90:5 ev.).

Gering’, ons sou dit ook kon vertaal met ‘oneer’ was in die Griekse regspraak ’n bekende term. Wanneer iemand in die geregshof skuldig bevind word aan ’n wandaad, kon sy regte en voorregte as landsburger Hom ontneem word. Dan was hy eerloos. Dit is die staat waarin die mens in die aardse lewe verkeer: in oneer weens sy sonde, maar ook omdat hy uitgesluit is uit die burgerskap van die hemelse ryk (vgl. Ef. 2:12). Daarteenoor is die opstandingsliggaam een van eer: opgeneem in die volle burgerskap van die hemel.

‘Swakheid’ is die normale kenmerk van die liggaam wat nie bestand is teen die veelvuldige magte wat die liggaam afbreek nie: siekte, ontbering, ooreising, verminking, sedelike ondergrawing, en dan die dood. Die opstandingsliggaam is egter dié van oorwinning deur die krag van die Gees.

Ons kan aanneem dat Paulus hier aan die Here Jesus gedink het wat Homself oorgegee het aan verganklikheid, oneer en swakheid aan die kruis, maar wat opgewek is in onverganklikheid, eer (heerlikheid) en krag.

Soos reeds onder konteks bespreek, is dit belangrik om hier te verduidelik dat dié teenstellings nie 'n terugval op 'n vorm van Platoniese dualisme is nie, dit is eerder 'n bewys van Paulus se oortuiging van die voortreflikheid van die opstandingsliggaam wat van God af kom as 'n gawe vir die wat God opwek. Paulus kontrasteer dus die werklikheid van die teenswoordige aardse bestaan wat fisies is en deur sonde geaffekteer word, met die toekomstige opstandingsliggaam wat geestelik is en deur die genade van God verander word.

Die tipologiese argument met betrekking tot die eerste Adam (van Genesis) en die laaste Adam (Christus) is soos reeds genoem redelik kompleks. As prediker moet jy maar mooi dink of dit deel van die preek moet uitmaak al dan nie. Paulus se basiese punt is dat ons tans die fisiese natuur en lot van die eerste Adam deel. Ons is sondaars wat sterf. Maar deur die genade van God in Jesus Christus, word ons die geestelike natuur en lot van die gekruisigde en opgewekte Here Jesus gegee. Met die gevolg dat ons teenswoordige situasie nie ons toekomstige situasie bepaal nie, dit is eerder God se genade wat bepalend is. Paulus beklemtoon dat die transformasie van wat ons is tot wat ons sal wees, is noodsaaklik en gebeur as God se genadewerk in en deur ons lewens.

Eenvoudiger gestel, ons nuwe liggame gaan heeltemal anders wees as dié wat ons nou het. Al word ons oud of is ons gebreklik of stokblind of veras of deur haaie opgevreet, God gaan ons heeltemal nuut maak. God gaan nie net ons uiterlike mooi maak nie. Hy gaan ook ons harte verander. Dit is wat God ons gee as Hy ons eendag gaan opwek. Ons huidige liggame en persoonlikhede sal vergaan – dink net hoe baie behoort hieroor opgewonde te wees!

Paulus se afsluitingswoorde in vers 58 kan ook as 'n goeie samevatting en afsluiting gebruik word: "Wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie." Smit (1983:126) verwys na Van Ruler wat dié vers as uitgangspunt gebruik met die opskrif: "Die verwagting bevry tot die daad."

 

Bibliografie

Kommentare – sien verlede week se bibliografie.

Homileties    Van Wyk, W 1995. Nuwe liggame. Lewende Woorde 3/2; Stedman, R C 1979. The New Body: What is it Like? Studies in First Corinthians. Smit, D J 1983. Tweede Sondag ná Pase: 1 Korintërs 15:50-58. Woord teen die lig I/3.