1 Korintiërs 15:12-20 (Ian Nell)

11 Februarie 2001

Sesde Sondag na Epifanie

 

Ander tekste:            Jeremia17:5-10; Psalm 1; Lukas 6:17-26

Teks

Vir die agtergrond van dié studie kan verlede week se studie geraadpleeg word.  Smit het in Woord teen die Lig I/3:103-113 ook dié perikoop volledig bespreek. Wat ons hier vind is die manier waarop Paulus nou die probleem wat in Korinte in verband met die opstanding ondervind word, tromp op loop. Hy bou dus op die fondament wat hy in 15:1-11 gelê het.  In dié studie se teksgedeelte, soos in die res van hoofstuk 15, bespreek hy die betekenis van die opstanding vir die lewe van die gemeente in Korinte. Smit verduidelik dit soos volg: "'n Mens kan sê dat hy in 1-11 die werklikheid van die opstanding opnuut geponeer het, in 12-34 die noodsaaklikheid van die opstanding op drieërlei manier aangetoon het en nou in 35-49 die moontlikheid van die opstanding probeer beredeneer"   (p. 104-105). Vers 12-19 vorm dus 'n samehangende gedagte-eenheid, met vers 20 wat die openingssin is van die volgende perikoop. Vir die doel van die prediking is dit goed om vers 20 by ons perikoop in te sluit, aangesien dit die feite stel teenoor die probleem wat in vers 12 geïdentifiseer is. Vir 'n bespreking van die afbakening van die perikoop rondom verse 19 of 20, vergelyk Smit (p.105).

Wat die struktuur van ons perikoop betref, maak Paulus van 'n interessante spiraalpatroon gebruik. In vers 12 stel hy die probleem – sommige Korintiërs sê dat daar nie 'n opstanding uit die dode is nie – en hy wys op die basis van sy eie argument teenoor dié posisie, naamlik die prediking van Christus as die opgestane Here. Smit (p.105) wys daarop dat die presiese standpunt van diegene teenoor wie Paulus standpunt inneem, al baie bespreking ontlok het. So byvoorbeeld kom ons agter dat hulle die opstanding ontken het, maar uit die argument is dit duidelik dat hulle nie Christus se opstanding geloën het nie. Dit is die moeite werd om te kyk na die verskillende opinies wat navorsers in dié verband huldig. 'n Finale oplossing van die vraagstuk is volgens Smit onmoontlik, maar wat van meer belang is, is om te besef dat Paulus besig is met die uitleg van die credo of geloofsbelydenis.

Verse 13-18 verduidelik die gevolge as die Korintiërs se verkeerde verstaan aanvaar word. Sommige uitleggers praat selfs van die nihilistiese gevolgtrekkings van hulle standpunt: (1) Christus is dan nie opgewek nie, (2) daarmee saam was die prediking van Paulus sonder inhoud, (3) en die geloof van die Korintiërs ook sonder inhoud, nog meer (4) Paulus en sy medewerkers is dan skuldig daaraan dat hulle vals getuienis oor God afgelê het, en (5) sou dit beteken dat hulle geloof waardeloos is en hulle nog gevangenes van die sonde, en (6) dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. Dit is duidelik dat Paulus hulle op grond van dié argumentvoering daartoe wil lei om die implikasies van hulle eie belydenis te deurdink sodat hulle nie in 'n sinlose illusie en hopelose teenstrydigheid bly steek nie. Hy ontvou dus reeds hierdie implikasies van die Christus-gebeure om duidelik te maak dat gelowiges dit ten volle moet deurdink en aanvaar, anders word hulle eie belydenis sinloos en dwaas.

In vers 19 som Paulus die situasie soos volg op: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense." In vers 20 onderbreek hy nou sy nihilistiese betoog en word die waarheid van die evangelie nou weer 'n keer teenoor die vals posisie van die mense in Korinte gestel: "Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het." In die eerstelinge is die hele oes reeds verteenwoordig en sigbaar. Dié beeld van die eersteling ontleen Paulus aan die Mosaïese erediens waar die aanbieding van die eerste ryp vrugte staan as aanbieding van die hele oes. "Met hierdie beeld gryp Paulus dus reeds vooruit op die gedagte van die onlosmaaklike verbondenheid tussen Christus se opstanding en dié van die gelowiges."

Konteks

Op 'n indirekte maar kragtige wyse vertel Paulus vir die Korintiërs dat indien hulle die realiteit van die opstanding ontken, ontken hulle die fondament van die evangelie – naamlik dat Jesus Christus uit die dood opgewek is. En indien hulle dit sou doen, dan moet hulle goed besef dat die geloof wat hulle dan omarm nie die naam van geloof werd is nie. Paulus kan dit sê en sê dit ook in geen onduidelike taal nie, omdat hy nie die geldigheid van die Korintiërs se argument aanvaar nie. Vir 'n detail-bespreking van die saak kan Smit se studie geraadpleeg word (p.108-111).

Die krag van God wat tot openbaring kom in die opstanding van Christus gee ook vir Christene die hoop met die oog op hul eie bestemming voor God en dit is dieselfde krag wat mense se lewens in die teenwoordige tyd verander. Volgens Smit rus die Christelike hoop dus nie op een of ander vanselfsprekende kontinuïteit in die mens, soos die sogenaamde onsterflikheid van die siel nie. Die Christelike hoop hang volgens hom geheel en al af van die vreemde en verrassende werklikheid van Christus se opstanding. Hierdie twee maniere van kyk na hoop, moet ons goed deurdink: dié van die evangelie … en dié van die religieusiteit en die moraal. Volgens Smit is die een gebou op die lewende Werklikheid en op vaste beloftes… die ander is van onder opgebou uit oortuigings, lewensbeskouings, waardes, denksisteme en is ten diepste illusie en projeksie. Dit moet ons goed begryp.

Wat ook belangrik is met die oog op die prediking, is om 'n oog te hê vir die skaduwee wat die mag van die sonde en die dood oor die lewe werp en die gevolglike hopeloosheid van 'n lewe sonder vergiffenis en toekoms (vgl. Smit p. 110). Dit beteken dat indien God nie deur Christus se opstanding die finale werk van die sonde, naamlik die dood, ongedaan maak nie, dan kan God ons ook nie bevry van die mag van die sonde in hierdie lewe nie. Die Korintiërs se ontkenning van die opstanding was dus in wese 'n ontkenning van God se bemoeienis met die realiteit van die lewe self. Terwyl hulle aandag geskenk het aan die sogenaamde verhewe geestelike dimensies van die lewe en in die proses die mense se fisiese bestaan uitgesluit het, het die Korintiërs die waarheid van die evangelie verdraai – naamlik dat God waarlik geïnteresseerd is in en betrokke is by die mens se alledaagse lewe. Die weiering om die transformerende krag van God te assosieer met die alledaagse dimensie van ons bestaan en bestemming, is 'n misverstaan van God se doel met ons lewens.

Paulus se argument sny diep deurdat dit die arrogansie van die Korintiërs ontbloot soveel so dat hulle situasie gelyk gestel word aan die posisie van die mense wat buite die kerk is, vasgevang in hulle sonde. Paulus erken die feit dat die Korintiërs daarop aanspraak maak dat hulle goed met God oor die weg kom. Maar hy ken geen spiritualiteit wat geskei is van die realiteit van menslike lewe nie en daarom skroom hy nie om die Korintiërs te vertel dat hulle persepsies verkeerd is nie. Daarom wys hy onomwonde dat Christus opgewek is en dat dit die duidelikste bewys is van hulle denkfout in verband met die waarheid van die krag en werking van God.

In die verband is dit belangrik om te verstaan dat die Paasevangelie juis is dat Christus se opstanding ons opstanding insluit en daarom ons lewens vul met toekoms, hoop en sin. Hy het opgestaan nie ter wille van Homself nie, maar ter wille van ons. "Die belangrike van sy opstanding is nie die dát of die hoé daarvan nie, maar dat dit vir ons was (Luther)" (Smit p.111).

Wat ons prediking oor hierdie perikoop betref, moet ons let op Smit se opmerkings (p.110): "Die prediker sal allereers absolute duidelikheid moet verkry oor die presiese aard van die soortgelyke keuse (immanente burgerlike religie teenoor eskatologiese Paasgeloof) waarvoor sy eie hoorders hulleself bevind. Vervolgens sal hy dan duidelikheid moet kry oor die modus of toonaard (verwytend-krities; pastoraal, apologeties) waarvolgens hy die boodskap wil instem en oor watter effek hy presies wil probeer bereik (verandering van standpunt; blydskap; hoop)."

Preekvoorstel

Het jy ook al die ‘wat as-ervarings’ in jou geloofslewe beleef? ‘Wat as’ die Christelike godsdiens 'n foutiewe verhaal beet het? ‘Wat as’ geloof in God maar 'n blote projeksie van die verbeelding is, 'n sielkundige truuk wat jy met jouself gespeel het, 'n emosionele ervaring wat jy op een of ander Christelike kamp gehad het? ‘Wat as’ die Skrif bloot 'n versameling van legendes, mites, stories is? ‘Wat as daar nie so iets soos lewe na die dood is nie, selfs geen God nie?

Ek is oortuig daarvan jy het ook al dié tipe ‘wat as’ vrae gevra. Tye van ‘the dark night of the soul’ wat jou in diepe geloofsworstelinge dompel. Die sogenaamde toenemede sekulêre wêreld waarin ons leef, maak dit ook nie makliker wanneer ons deur hierdie twyfelfases van ons geloof worstel nie. In gesprekke oor die radio en TV is daar al meer mense wat openlik vertel waarom hulle afstand gedoen het van die Christelike geloof en waarom hulle kerk toe gaan as oudmodies afskryf. Die gedagte van Marx dat ‘godsdiens opium vir die volk is’ het diep in Westerse samelewings ingedring.

Dit is geen wonder nie dat al hoe meer mense begin vra: "Wat as die Christelike godsdiens 'n misleiding van die werklikheid is?" "Wat as ons geloof gebou is op die onbetroubare verhale van 'n klompie mense gedurende die eerste eeu  n.C.?" "A pie in the sky till you die"? "n Boek soos dié van Karen Armstrong "A History of God" wat in 1993 verskyn het, gee mense genoeg skietgoed om dié soort argumente met groot oortuiging te verdedig.

En wanneer dié twyfelprosesse 'n mens begin beetpak, dan begin daar 'n interessante denkproses by jou posvat. Dit is dan wanneer jy vir jouself sê "As dit die geval is, dan beter ek alles uit die lewe haal wat ek kan."Carpe diem – gryp die dag –  laat ons maar voluit lewe as daar nie veel vir ons wag nie." Dit is natuurlik die onuitgesproke vertrekpunt waarmee daar in die advertensiewêreld gewerk word: "Jy het net een lewe, so lewe dit nou. Jy gaan net een geleentheid kry om jouself te geniet,  so  'go' daarvoor!" Daar is selfs mense wat sê: "As ons dan passasiers op die Titanic is, kan ons net sowel eersteklas reis."

Dit was hierdie selfde soort gevoelens wat die rondte gedoen het in die tyd toe Paulus vir die gelowiges in Korinte geskryf het. Die Korintiërs was daarop uit om die meeste uit die lewe te haal, vir die oomblik. Dit was nie soseer 'n geval dat hulle die opstanding ontken het nie, daar was genoeg bewyse daarvoor – trouens Paulus praat van oor die 500 mense wat getuies was daarvan en waarvan die meeste nog leef. Maar wat hulle wel ontken het, was die implikasies wat die opstanding vir hulle lewens van elke dag gehad het.

Dit kom daarop neer dat hulle eenvoudig aansluit by die Griekse filosofie van hul dag, naamlik dat die siel gered word maar dat die liggaam begrawe word. Hierdie filosowe was oortuig dat die liggaam boos was, dat dit 'n soort van tronk was waarin ons tydelik moet leef en wanneer die dag uiteindelik aanbreek wat ons daaruit bevry word, dan het die liggaam sy doel gedien en sal dit die einde daarvan wees.

Ons hoor nogal dikwels daarvan in ons eie dag. Meeste van die nuwe kultusse wat opspring, veral dié met Oosterse oorsprong, word op dié filosofie gebaseer. Die resultaat daarvan is dat, indien jy enigsins die genot van die liggaam wil ervaar, is dit nou die tyd om dit te doen. So het daar eeue gelede reeds in Korinte, soos in die res van die Griekssprekende wêreld, die filosofie beslag gekry wat bekendheid verwerf het met die woorde: "Laat ons eet, drink en vrolik wees, want môre sterf ons."

En dan noem Paulus ten minste ses ingrypende gevolge van dié siening van: "Wat as daar geen opstanding van die dooies is nie?"

In die eerste plek sê hy sou alle prediking 'n mors van tyd wees, sonder geloof in die opstanding. Alle eredienste wat jy al bygewoon het, alle Christelike boeke wat jy al gelees het, alle gesprekke oor die betekenis van geloof – alles sou van nul en gener waarde gewees het as Christus nie opgestaan het nie. "Wel," sou jy kon sê, "daar is darem steeds heelwat oor van die Christelike godsdiens as jy die opstanding sou wegneem. Daar is al daardie wonderlike leerstellings van Jesus saamgevat in die Bergrede. Ons sou dit darem nog gehad het." Baie waar, maar die punt wat Paulus maak, dit sou nie veel van 'n verskil aan ons situasie gemaak het nie. Die leerstellings van Jesus sou ons net nog meer bewus gemaak het van hoever ons tekort skiet. Dit is juis die opstanding wat die ‘onmoontlike moontlik maak’, wat dit vir jou en my moontlik maak om die etiese imperatiewe van die Bergrede 'n werklikheid te maak in die lewe van elke dag.

Tweedens, sou ons geloof sonder inhoud gewees het. Waarom die moeite doen om Bybel te lees, kerk toe te gaan, die Bybel te bestudeer, of poog om te glo dat God daar is om jou te help in nood? Ook dit is sonder waarde, 'n godsdiensspel. Die bekende filosoof Bertrand Russel, wat self nie in die opstanding geglo het nie, beskryf vir ons hoe die lewe lyk sonder geloof in die opstanding:

"The life of Man is a long march through the night, surrounded by invisible foes, tortured by weariness and pain, towards a goal that few can hope to reach and where none can tarry long. One by one, as they march, our comrades vanish form sight, seized by the silent orderd of omnipotent Death. Brief and powerless is Man's life; on him and all his race the slow, sure doom falls, pitiless and dark. Blind to good and evil, reckless of destruction, omnipotent matter rolls on its relentless way. For Man, condemned today to loose his dearest, tomorrow himself to pass through the gates of darkness, it remains only to cherish, ere yet the blow falls, the loflty thoughts that ennoble his little day."

 

Die pessimisme, die wanhoop, die donkerte spreek vanself. Dit is wat oorbly as ons die opstanding van Christus wegneem. Want dan het die dood nog steeds die laaste sê. "Die dood trek 'n streep deur al hierdie vorme van troos. Die dood werp sy somber skaduwee oor elke oomblik van geluk – en ons weet dit almal diep binne-in ons… Die dood relativeer alles, maak van die lewe 'n bittere grap, 'n stuk dwaasheid en absurditeit. Wie die sin soek in iets wonderbaar onder die son – sê die Prediker – sal moet erken dat dit alles tevergeefs is. Ons is onderworpe aan die verganklikheid, slawe van nietigheid. Ons het 'n laaste vyand." (Smit p.112).

Derdens, sou die apostels die grootste leuenaars in die wêreld gewees het. Want dan het hulle valse getuienis afgelê. Dan sou ons hulle met van die groot bedrieërs van die wêreld kon vergelyk, met Hitler en Stalin, aardsverraaiers eerder as mense van integriteit en waarheid. Dan het hulle mense verlei tot die grootste skandaal in die wêreld.

Vierdens, en nog erger, sou ons nog gevange in ons sonde gewees het. Dit beteken dat ons self verantwoording sal moet doen oor ons doen en late wanneer ons eendag voor Hom verskyn. Dan is daar geen manier waarop ons die geregtigheid van God kan ontsnap nie. Geen wegkruipplek, geen hoop op genade nie, geen liefdevolle Christus wat ons verseker: "Ek het die prys vir jóú betaal, Ek het in jóú plek gaan staan, Ek het jou lief en het myself vir jóú gegee."

Vyfdens, sê Paulus, "dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore". Al ons geliefdes wat ons glo wat reeds by die Here is, wat ons gehoop het om weer te sien, sal ons nooit weer sien nie. Ons kinders, ons ouers, ons vriende, hulle wat so skielik van ons weggeneem is, van wie ons so swaar afskeid geneem het, sal ons nooit weer sien nie..

Laastens, en die belangrikste: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense." Die onmiddellike gevolg van so 'n lewenshouding is volgens Dirkie Smit (p.111) dat ons godsdiens in diens gestel word van ons aardse drome en verwagtings. "Ons vind ons diepste troos in ons eie koninkrykies, iets van hierdie verganklike lewe wat ons verabsoluteer en heel dikwels nog op vrome wyse met Christelikheid self identifiseer. Ons gebede word versoeklysies. Ons kry die gawes van die lewe lief bo die Gewer en die Gewer ter wille van sy gawes. Ons vind ons sekuriteite, ons ekstase, ons sin, ons rus… in iets van die aarde. Dit mag wonderskone en edele ideale wees: ons kinders, ons werk, ons ontspanning, ons gesondheid, ons skatte, ons politieke planne, ons morele aktivisme… Christus word die groot Garant, die een wat moet waarborg dat al hierdie drome met sukses bekroon word."

Paulus se logika is baie duidelik. Hy wys daarop dat dié twee feite onlosmaaklik aan mekaar verbind is: As die menslike liggaam nie die dood kan oorleef nie, dan het Christus se liggaam ook nie die dood oorleef nie. En die rede wat hy regdeur aanvoer, is dat Christus 'n menslike liggaam soos ek en jy gehad het. Daarom kan jy nie argumenteer: "Wel Christus het opgestaan, maar ons kan nie!" As Christus nie opgewek is nie, dan is daar geen hoop vir ons eie opstanding nie. Maar indien Christus wel opgestaan het, dan is daar die moontlikheid dat ons ook kan opstaan. Dit is die hart van Paulus se argument.

Maar nou weet ons dat alles wat hierbo gesê is, gelukkig in die irrealis gesê is – op die trant van "as dit so was dat die dood die laaste sê sou hê". Want die dood het natuurlik nie! En dit is hier waar die Paasevangelie in vers 20 so duidelik weerklink: "Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het." Die laaste vyand ís vernietig. "Die juk van die slawerny van verganklikheid is van ons skouers weggeneem. Ons het grond vir hoop. Dit is 'n praktiese alledaagse boodskap. Die lewe is nie sinloos nie. Selfs ons krisisse, wat lyk asof dit met soveel willekeur ons bestaanssekerhede afmaai en ons van ons troos beroof, het nooit die laaste woord nie. Ons hoef nie ligsinnig òf swaarmoedig, sinies òf beangs te wees nie. Selfs wanneer ons voor die laaste vyand te staan kom, kan ons dit steeds doen met opgehefde hoof en hart" (Smit p.112).

 

Bibliografie

Kommentare – sien verlede week se bibliografie.

Homileties

Stedman, R C 1979. What if…?. Studies in First Corinthians. Smit, D J 1983. Woord teen die Lig I/3. Paassondag: 1 Korintiërs 15:12-20, 103-113.