Ander
tekste: Jesaja 6:1-8 (9-13); Psalm 138;
Lukas 5:1-11
Algemene
Inleiding tot die drie tekste oor 1 Korintiërs 15:
Die eerste
brief van Paulus aan die gemeente in Korinte is redelik los gestruktureer.
Paulus skenk aandag aan spesifieke
probleme wat verband hou met die lewe van die gemeente. Dit is duidelik dat
hy op 'n hele aantal vrae in die brief reageer, sonder dat dit 'n spesifieke
tematiese orde volg. In die verskillende teologiese posisies wat Paulus inneem
met betrekking tot die situasie in Korinte, is daar wel 'n eenvormige teologiese argument wat hy duidelik kommunikeer: die teologie van die kruis. Die bestaan van
Christene word bepaal deur die feit dat die Here Homself aan die kruis openbaar
het, in nederigheid eerder as in heerlikheid.
Wat 1
Korintiërs 15 betref, is dit die moeite werd om vooraf duidelikheid te probeer
kry oor wat die basiese posisie was
van die mense wat 'n verkeerde siening van die opstanding gehad het. Navorsing
wys dat dit 'n groepe entoesiastiese
gelowiges was wat gereken het dat die hemelse heerlikheid reeds 'n
teenswoordige realiteit was. Hulle het dus aanspraak gemaak op die opstanding
van Jesus, maar dit op 'n spesifieke manier geïnterpreteer, naamlik op 'n
entoesiastiese manier. Christus is verhoog in die hemel en op grond hiervan het
hulle die antropologiese afleiding gemaak dat hulle ook, as gelowiges wat deel
in dié heerlikheid, reeds verby hierdie wêreld beweeg het. In die Gees, so het
hulle geglo, het hulle reeds die aardse bestaan agter gelaat en in ekstase die
‘rykdom’ van die hiernamaals geniet. Die lering wat ons in Korinte aantref sou
ons dus soos volg kon opsom: Die kennis wat ons as gelowiges het maak ons in
alle opsigte vry (bv. op die seksuele gebied), maar sluit ook godsdienstige
vryheid in (bv. met verwysing na afgode).
Paulus se argument is dan 'n anti-entoesiastiese argument waarin hy waarsku
dat die kruis nie verontagsaam moet word ter wille van verheerliking nie.
Wysheid word volgens hom nie deur 'n entoesiastiese oplewing verkry nie, maar
in die erkenning van die dwaasheid van die kruis. Teen die theologia gloriae van die Korintiërs, pleit Paulus vir die
Christelike theologia crucis, wat sy
sentrale argument vorm.
In verse
1-2 gee Paulus 'n inleiding tot sy aanbieding van die basiese tradisie in verband met Christus se dood en opstanding. In
'n tipe liturgiese taal verduidelik hy die basiese tradisie in verse 3-8. Nadat
hy dié tradisie verduidelik het, pas hy in verse 9-11die betekenis daarvan op
homself en die gemeente toe. Ons vind dus (1) inleiding, (2) tradisie, en (3)
toepassing of interpretasie – 'n logiese struktuur vir 'n logiese aanbieding.
In verse 3-8 vind ons ook 'n goed gestruktureerde uiteensetting van sy gedagtes:
(a) dood, (b) begrafnis, (c) opstanding, en (d) verskyninge. Die begrafnis
bevestig dus die realiteit van die opstanding, en die kernelemente van dood en
opstanding, sê hy het plaasgevind ooreenkomstig die skrifte.
Dit gebeur
herhaaldelik in 1 Korintiërs dat Paulus 'n sekere tema aanraak en dan daaroor
reflekteer tot voordeel van die Korintiërs. So vind ons byvoorbeeld in 1
Korintiërs 1 dat Paulus verwys na die verslag wat hy ontvang het in verband met
die verskille tussen die gemeentelede, en gaan dan voort om die probleem te
bespreek. In 15:1-11, gaan hy anders te werk. Hier begin hy met die bespreking van 'n probleem, maar noem die
probleem eers in 15:12. En dit is naamlik dat daar sommige van die gemeentelede
in die gemeente van Korinte is wat die opstanding uit die dood ontken. Die
probleem is vir hom van so 'n ernstige omvang dat hy as 't ware in 1 Korintiërs
15:1-11 ‘terugval’ om eers weer die fondamente te lê wat hy reeds vantevore
daar gelê het. Dan, nadat hy seker gemaak het dat hulle dit verstaan, werk hy
vanaf hierdie fondasie aan die probleem in die res van hoofstuk 15.
Wie hierdie
gedeelte bestudeer, kom gou agter dat dit 'n ryk maar moeilike gedeelte is. Die sleutel tot die verstaan van Paulus
in dié gedeelte is om te begryp dat sy doel is om oor die realiteit van die
opstanding te argumenteer. In sy argument is hy dus nie soseer geïnteresseerd
in Christus se dood en die betekenis daarvan nie. Daarom moet die prediker in
gedagte hou dat, alhoewel Christus se dood belangrik is, dit nié die
teksgedeelte is om die betekenis daarvan te probeer uitspel nie. Instede
daarvan moet Paulus se argumentslyn gevolg word, wat ons bring by Christus se
opstanding.
Die
Christus wat gesterf en begrawe is, het waarlik
opgestaan uit die dode. Paulus weet dit omdat die opgestane Jesus aan Sefas
verskyn het, aan die twaalf en aan meer as vyfhonderd broers, aan Jakobus, aan
al die apostels, en toe aan Paulus self. Paulus illustreer dat die realiteit
van die opstanding niks te make het met wensdenkery, fantasie of hallusinasies
nie. Die presiese aard van die verskyninge is nie Paulus se eerste bekommernis
nie. Hy argumenteer eerder vir die realiteit van die opstanding deur sy
verwysing na die verskillende verskyninge van die opgestane Christus.
Met die
belydenis ‘volgens die Skrifte’
bevestig Paulus die vroeë Christene se evaluering van Christus se dood en
opstanding. Hierdie verstaan van die
dood en opstanding van Christus, is die geloofsperspektief. Inherent aan
hierdie verstaan is die oortuiging dat Christus se dood en opstanding
plaasgevind het volgens die wil van God. Paulus se onderrig oor die realiteit
van die opstanding verklaar dat die krag van God wat Jesus uit die dood opgewek
het op 'n misterieuse en genadevolle wyse van sy dood 'n verlossende gebeure
gemaak het, wat finaal met die sondige toestand van die mens afgereken het.
Meer as
dit, die krag wat vir Jesus opgewek het,
het ook vir Paulus verander en dat dit dieselfde krag is wat ook nou besig is
om die Korintiërs te verander terwyl hulle die prediking hoor en dit glo. Soos
wat die opstanding die dood van Jesus ongedaan maak, demonstreer dit die krag
van God. 'n Krag wat Christus se dood in redding verander net soos wat dit
sondige mense red deur geloof in Christus se dood en opstanding. Die realiteit
van die opstanding wys vir ons op die krag van God, wat die realiteit self
verander – die opwekking van die dooie Jesus, die verandering van die ywerige
vervolger tot 'n energieke apostel en die verandering van die Korintiese
gemeente van mense wat gebuk gaan onder die sonde tot mense wat gered is.
Voorwaar genoeg stof tot nadenke vir 'n preek oor dié perikoop.
Varsgebakte
brood, ruik mos heerlik! Veral as dit so pas uit die oond kom. Maar as dit vir 'n dag of twee in die
broodblik bly, dan raak dit nie alleen hard nie, maar verloor dit ook smaak en
vermuf. Die grootste vyand van die bakker is dié vermuftingsproses. Daarom bak
hy met die hoop dat die brood vinnig sal verkoop en dat mense dit spoedig
daarna sal eet.
In die
eerste brief van Paulus aan die gemeente in Korinte is hy besig om teen 'n
soortgelyke vermufting te waarsku. 'n Vermufting wat nie alleen die evangelie
'n groen skynsel gee nie, maar dit sommer maklik ook uitdroog. En wanneer dit
gebeur verloor die evangelie sy smaak en sy krag. Kom ons kyk 'n bietjie wat
aanleiding gee tot dié gevaar. Wat die situasie van die gemeente in Korinte
betref, kan ons die afleiding maak dat dit moontlik met roetine te make het.
Roetine dra maklik daartoe by dat iets wat aanvanklik vars, oorspronklik en
spontaan was, uitdroog en sonder smaak raak. Selfs met die opstandingsverhaal
kan dit gebeur. En wanneer dié verhaal vermuf, verloor die Christelike lewe die
avontuur wat dit behoort te kenmerk. Dan raak die geloofslewe sonder visie en
vervelig.
Nou is dit
interessant om te sien op watter manier die gemeente in Korinte probeer het om
laasgenoemde teen te werk. Hulle het die opwinding gaan soek deur terug te keer
na die ou heidense feeste, of deur agter entoesiastiese groepe aan te loop wat
oorgeloop het van geestelike hoogmoed. Hulle het begin om intellektuele
speletjies met die geloof te speel en gepoog om dit in die heersende
filosofiese en kulturele strominge in te pas. Hulle het God en godsdiens die
instrumente van hulle begeertes gemaak. En sonder dat hulle dit agter gekom
het, was hulle terug op die pad na afgodery waarvan God hulle so pas verlos
het.
Gebeur dit
nie maklik met ons ook nie? Ons val so vinnig in roetine vas dat die varsheid
wat die evangelie moet kenmerk, gewoon nie meer sigbaar is nie. Dikwels dra ons
hierdie vermuftingsproses aan ons kinders oor, modelleer ons dit vir hulle
sonder dat ons dit agterkom. In die proses misgun ons hulle dikwels die
geleentheid om die smaak van die evangelie soos varsgebakte brood te ontdek.
Hier en daar leer hulle nog 'n Bybelse storie, maar die wonder en krag daarvan
is verlore omdat ons nie meer saam met hulle opgewonde raak oor die rol wat God
daarin speel nie.
Die vraag
is: Hoe kan ons dié proses van uitdroog en vermufting teenwerk? Een moontlike
manier is om wetties te raak. Ons maak 'n paar selfgekose wette en dwing mekaar
om daaraan gehoorsaam te wees. Trek die kerkorde nader en pas die tug weer 'n
slag toe. Oefen weer 'n bietjie ordentlike beheer uit en dreig die
belydenisklas katkisante as hulle nie kerk toe kom nie. Kontrole is die
slagspreuk! 'n Tweede moontlikheid, begin 'n alles omvattende vernuwingsproses.
Verander die liturgie, breek die kansel af, bring kitare in en gooi die
skuldbelydenis uit. Maak die diens mensvriendelik en let op elke behoefte wat
elke lidmaat het. Demokrasie is die slagspreuk!
Maar nou
lyk dit of Paulus 'n eie voorstel het. Wat doen hy om die verdroging en
vermufting onder die Korintiërs teen te werk? Hy vat sy eerste lesers, maar by
implikasie ook vir jou en vir my, terug na die eerste Paasfees. "Ek
herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat
julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan" (1 Kor 15:1).
"Wil
julle dit nou sommer laat vaar?", wil Paulus weet. "Dink 'n bietjie
terug aan die eerste keer wat ek daar by julle was. Onthou julle nie wat die
evangeliewoord aan julle gedoen het nie? Hoe opgewonde julle was? Hoe die
skeidingsmure tussen die verskillende groepe afgebreek is en hoedat God ons as
sy volk vergader het? Onthou julle nie hoe Hy vir julle 'n naam gegee het, 'n
plek onder die son, 'n aandeel in die erfenis van die geloofshelde van ouds?
Onthou julle nog hoe Hy vir julle oorwinning in die aangesig van die dood
beloof het, en 'n heerlikheid en koningskap wat niemand van julle kan wegvat
nie? Onthou julle hoe Hy julle harte gevul het met dankbaarheid oor die
wonderlike gawes van liefde, gehoorsaamheid en diens? Dink bietjie terug
aan wat die Woord en die Gees aan julle
gedoen het. Hoe die Gees julle opgelig het, bevry het, verander het en alles
nuut gemaak het? Wil julle dit nou alles gaan staan en vergeet?"
En dan neem
Paulus hulle na die draaipunt van die storie, na dié man met die naam Christus
wat al die verskil gemaak het, in Paulus se eie lewe en in die lewens van die
gemeente in Korinte – ook in jou en my lewe! Maar wat 'n vreemde en onverwagte
Christus! Die entoesiaste was op soek na 'n Christus wat 'n gesalfde koning
moes wees, besig om mense aan te spoor om teen mense te veg. Iemand wat die
heerskappy van Jerusalem oor die omringende volkere moes bevestig. Niemand het
kon dink dat dié Christus die Persoon is van wie Paulus hier kernagtig bely
nie. 'n Belydenis wat tot vandag toe die hart van ons eie belydenis uitmaak.
Maar kom ons kyk weer 'n slag met nuwe oë na dié belydenis. Kom ons ruik die
reuk daarvan soos vars brood. Want dit is gewis nie droë woorde wat lewe
verloor het en vermuf het. Nie as die Gees van God dit weer vir ons nuut maak
nie. Dit is die vars belydenis wat die verhaal vertel van lewe en vryheid.
"Christus het vir ons sondes
gesterf".
Hierdie Christus het gesterf! Hy het nie ander dood gemaak nie, Hy is self dood
gemaak. En waarvoor? Vir Godslastering! Hy het in die hof van Kajafas daarop
aanspraak gemaak dat Hy die Seun van God is. In die hof van Pontius Pilatus was
die aanklag dat Hy 'n oproermaker was wat Homself tot koning van die Jode
verklaar het, dus 'n gevaar vir die keiser. Maar waarvoor het Hy regtig
gesterf? Vir ons sondes! Staan in die hof van God, dan sal jy verstaan. Dit is die
oordeelsdag. Die dag van God se wraak teen 'n verrotte en rebelerende wêreld
van sondaars. Die dood en die vuur moes vir Kajafas, Pontius Pilatus, die
keiser, die Jode en die heidene, selfs die twaalf wat hulle Here verlaat het, verteer het. Dit moes die wêreld gewees het
wat onder die oordeel van God moes kom. En juis hier vind ons die grootste
wonderwerk denkbaar – dat Christus tussen God en mens kom staan het. Gewillig
en in liefde om ter wille van ons trots en arrogansie te sterf. Onskuldig, sonder
om te kla in gehoorsaamheid aan die Vader het Hy gesterf.
En dit
alles, sê Paulus, het plaasgevind ‘volgens
die Skrifte’. Dié Skrifte wat die mense van Jesus se tyd gereken het hulle
uit hulle koppe geken het. Hulle was op grond van dié Skrifte heeltemal oortuig
van die tipe Messias wat oppad was – Iemand wat aan die wet gehoorsaam sou wees
en wat die Jood bo die heiden sou verhef. Min het hulle verstaan dat dié
Skrifte eintlik van Iemand gepraat het wat met liefde en vergiffenis sou werk.
Van 'n God wat genade betoon aan sondaars deur sy Seun soos 'n skaap ter
slagting laat lei het en sy bloed aan 'n kruis ter wille van ons geoffer het.
"Hy is begrawe" Daar was daardie middeldag wat Hy
in die graf deur gebring het. Die mense het hulle gewone gang gegaan. Nog 'n
man het buite die stad gesterf, waarskynlik sy verdiende loon. Vir die
priesters en die mense in Jerusalem was dit deel van godsdienstige roetine van
Paasfees. Godsdiens het getriomfeer. Die moeilikheidmaker is uit die weg en
alles was weer onder beheer. Vir die dissipels het die prentjie maar bleek
gelyk. Die onmoontlike het toe wel gebeur. Die lewende God kon nie sy eie Seun
red nie! Al hulle planne, al hulle drome, al hulle hoop het dramatiese tot 'n
einde gekom. Hulle het verloor, en dit wat hulle as die waarheid beskou het, is
verwerp. Die enigste troos was dat Hy gelukkig nie so lank aan die kruis hoef
te gehang het nie. Hy is gelukkig gou dood.
Maar dan
kom daardie ongelooflike Paasklimaks. "Hy is op die derde dag opgwek, volgens
die Skrifte." En dit het alles verander. "Wie sy lewe verloor,
sal dit behou." Jesus het vasgehou aan sy Vader se beloftes, liefde betoon
aan sy naaste, volgehou in die aangesig van die dood en die lyding verduur.
Jesus het sy Vader vertrou en gebly op die weg wat Hy aanbeveel het. Dit is
waarom Hy Jerusalem toe gegaan het en gaan sterf het. Niemand het sy lewe van
Hom weggeneem nie. Hy het dit uit sy eie uit afgelê. En die beloftes van God
het nie teleurgestel nie. Op die derde dag het Hy opgestaan! Dit is hoe ons Hom
ken, en deur Hom vir God ken. Hy lewe, en deur sy dood en opstanding lewe ons
ook! En dié lewe is die ewige lewe. Dit is 'n lewe wat nooit kan vermuf, nooit
kan oud raak nie, nooit kan uitdroog nie, nooit kan sterf nie!
"Luister
julle, Korintiërs", sê Paulus. "Maar as dié belydenis, hierdie
herinnering aan die geskiedenis, nie vir julle genoeg is nie, luister dan 'n
bietjie na hulle wat getuies was van dié gebeure. Hulle wat vir Jesus lewend
gesien het agterna. Vra bietjie vir hulle om die vir julle die storie te
vertel!"
"Daar
was Sefas, julle ken hom goed, hy was mos in Korinte by julle. Julle was so
beïndruk met hom dat sommige van julle sommer 'n groep om hom wou begin. Vra
maar vir hom, hy sal julle kan vertel. Anders, vra vir Jakobus, hy het dié
gebeure ook eerstehands ervaar. Of vra enige van die ander twaalf. Julle kan
selfs vir enige van die byna 500 mense aan wie Hy verskyn het, vra. Baie van
hulle leef nog, hulle sal julle kan vertel. Maar as dit nog steeds nie genoeg
is nie, vra dan vir my: 'Heel laaste het Hy ook aan my verskyn!' Ek was nie
eers deel van dié ander van wie ek julle vertel het nie. Ek was mos 'n
buitestaander, 'n vyand, 'n vervolger van die kerk. Ek was 'n voorvegter vir my
tradisie teen die Woord van God. Jesus het opgestaan en ek het my bes probeer
om hom terug te dwing in die graf. Maar toe verskyn Hy mos aan my. En die beste
van alles, Hy het my nie gehaat nie! Hy het my lief gehad en wou my nie laat
gaan nie. Hy het letterlik my oë geopen vir Wie Hy werklik was. In Hom het ek God
leer ken, meer as dit, die skrifte, die lewe en ware vryheid. Dit is wat sy
liefde gedoen het aan hierdie trotse en fanatiese Fariseër. En hierdie genade
was nie verniet nie, dit het my ganse lewe verander. Trouens dit het my ook
laat werk. Ek het begin om harder te werk as wat ek ooit as Fariseër gewerk
het. Dit is hoekom ek in die eerste plek na julle toe gekom het. Om vir julle
te vertel dat die skeidingsmure afgebreek is. Daar is niks wat ons Jode en
julle heidene meer skei nie. Daarom roep sy Gees ons beide om as een familie
saam te leef. Om mekaar lief te hê en mekaar te dien! Dit is waaroor dit alles
gaan. Dit is wat die apostels verkondig het. Dit is waarin julle oorspronklik
geglo het!"
"Hoor
julle, liewe vriende in Korinte! Is julle harte oop, sodat julle julle kan
verheug oor die genade wat die bande van die dood gebreek het? Is julle oë oop
sodat julle ook vir Jesus Christus as die opgestane Here kan sien? Ruik julle
die vars reuk van dié lewensbrood. Ervaar julle hoedat die Gees in julle werksaam
is en die vreugde van nuwe lewe in julle inblaas? Beleef julle hoedat Hy vir
julle die moed, die hoop en die krag gee om aan te gaan op die
geloofspad?"
Geliefdes,
die Here vra dit ook vanoggend van ons? Hoor julle dit? Verstaan julle dit?
Indien wel, laat ons sing en juig tot sy eer want Hy het die dood oorwin. Die
Here is my sterkte en my lied, Hy het my verlos. Lewe dit! Sing dit! Getuig
dit! Daar is geen skyn van vermufting nie! God maak dit elke dag nuut en vars!
So vars soos vanoggend se brood. Amen.
Bibliografie
Kommentare:
C K Barett
(BNTC); H Conzelmann (Meyers); E Fascher (THzNT); G D Fee (NIC);E P Groenewald
(SBG); H Krimmer (BKNT); L Morris (Tyndale); J Murphy-O'Connor (NTM); F J Pop
(PNT); W Schrage (EKK); A Strobel (TVZ).
Homileties:
Bretscher, P
G 1976.The Freshness of Easter. 1 Cor
15:1-11. Augsburg Sermons, Epistels,
Series C. Stedman, R C 1979. Of First Importance. Studies in First Corinthians.