1 Korintiërs 15:1-11 (Willie Cilliers)

23 April 2000

PAASSONDAG

 

Ander tekste:            Psalm 118:1-2, 14-24; Jesaja 25:6-9; Johannes 20:1-18; Handelinge 10:34-24

 

Geloof in die opstanding van Christus of anders geen geloof nie. 

Teks en konteks

Paulus skryf hierdie brief aan die gemeente in Korinte aangaande sekere misstande in die gemeente.  Hy het verneem van die partyskappe en dreigende skeuring (1 Kor 1:10-12).  Hy het ook te hore gekom van ‘n geval van ontug waarteen die gemeente versuim het om op te tree en van hofsake voor heidense regters.  In Hoofstuk 15 handel hy oor die opstanding van die dode .  Moontlik het hy ook gehoor van sommige wat die opstanding van die dode verwerp het.  Dit gaan vir Paulus in hierdie dinge om die welsyn van die gemeente en daarom is dit belangrik dat dit reggestel word. 

Die jong gemeente was natuurlik binne ‘n heidense omgewing geplaas.  Hulle het dus baie kontak met die heidendom, waaruit hulle self afkomstig was, gehad.  Telkens moes hulle optree volgens hul Christelike oortuigings.  Paulus moes hulle raad gee ten opsigte van onder andere sake rakende die huwelikslewe; die eet van vleis wat aan afgode geoffer is en die besondere genadegawes van die Gees.  Deur die hele brief is dit duidelik dat die apostel die eenheid van die gemeente ongeskonde bewaar wil sien.  Daarom is die liefde so belangrik om die opgeblasenheid of hoogmoed wat die verhoudinge in die gemeente kan bederf, teen te werk. 

Groenewald wys op die buitengewone aktualiteit van die brief.  Dit is ‘n stuk worstelstryd van ‘n gemeente om in sy heidense omgewing ‘n Christelike patroon te vestig.  ‘n Gemeente kan nie sy daaglikse kontak met die lewenspatroon van die wêreld ontwyk nie, maar moet daarteenoor die Christelike beginsels toepas en uitlewe.  Hier is 1 Korintiërs 15 van besondere belang deurdat die opstanding van Christus, wat aan ons wat dit glo ‘n totale ander lewenskoers gegee het, bevestig word deur ons getuienis en oortuigings.  Ons tree anders op omdat Christus opgewek is uit die dood.  Barth sien Hoofstuk 15 as die sleutel tot die hele brief.  Dit handel nie maar oor een van die probleme in Korinte naas ander nie. 

In verse 1-11 gaan dit om die werklikheid van die opstandingsgebeure as kerndeel van die apostoliese tradisie waaruit die gemeente self ontstaan het en wat berus op ‘n groot aantal geloofwaardige getuies.  Paulus beroep hom in hierdie aanhef dus op gemeenskaplike oortuigings wat sowel hy as sy sogenaamde teëstanders deel.  Die ontkenning van die opstanding sou strydig wees met hulle eie belydenis. 

Daar is groot verskil van mening oor die vraag na die presiese standpunt van diegene teenoor wie Paulus hier skryf.  Dit is egter van meer belang om te besef dat dit by Paulus nie soseer om apologetiek, wat gerig is teen een spesifieke standpunt, gaan nie, maar om positiewe teologie wat geldig bly ook in ánder situasies en ten opsigte van ánder vorme van twyfel en ontkenning.  Dit is die punt waarom dit eintlik gaan.  Die gelowiges kan seker wees van hul eie liggaamlike opstanding, want Christus het ook die dood, die laaste vyand, oorwin. 

Sonder enige logiese verband met die sake wat hy tot dusver behandel het, bring die apostel die opstanding van die dode ter sprake.  Hy stel die opstanding van Jesus Christus as onbetwisbare, historiese heilsfeit. 

Sy uitgangspunt by die teregwysing van dwaalleraars wat die opstanding loën (vers 12), is die evangelie van Jesus Christus as sodanig.  Daarom bring Paulus kortliks die hoofsom van die evangelie weer onder die aandag.  Hy “herinner” hulle daaraan.  Dit beteken egter nie dat hy net hulle gedagtes verfris nie, maar dit plegtig aan hulle bekend maak.  Dit is die evangelie wat hulle “ontvang het” (vers 1) deurdat hulle dit gelowig aangeneem het.  Dit is ook die evangelie waarin hulle “gevestig staan” (vers 1).  Hulle lewe as Christene is daarop gevestig.  Dié evangelie is die krag van God tot hul redding (vers 2).  Aan hierdie evangelie moet egter vasgehou word sonder om iets daaraan toe te voeg of daarvan weg te neem. 

In vers 3 vat Paulus die hoofsom van die evangelie saam.  Een van die grondpilare van die evangelie is dat Christus op die derde dag opgewek is (vers 4).  Die woord “opgewek” wys heen op ‘n daad van God.  God self was hier werksaam en het die groot vyand, die dood, oorwin.  Die perfektum-vorm van “opgewek” in die grondteks dui op ‘n gebeurtenis in die verlede wat sy nawerking in die hede het.  Jesus het opgestaan en bly voortaan die opgestane Here, die oorwinnaar oor die dood. 

Preekvoorstel

Daar is baie dinge in die Christelike geloof wat mense sonder teenstand kan aanvaar, omdat dit binne ‘n mens se logika val.  Wat die evangelie byvoorbeeld vir ons te sê het oor naasteliefde is nie te vergesog nie.  As iemand – soos Jesus ook gedoen het – aan sy opdrag getrou bly selfs tot in die dood, sal ons dit nie sommer verwerp nie, maar eerder groot eerbied daarvoor hê.

Om egter vir mense te sê dat ‘n dooie persoon weer lewendig geword het, en uit sy graf  uitgegaan het, sal hulle onmiddellik laat teenstribbel.  Dít kan hulle darem nie sommer aanvaar nie. 

Ook ons as Christene sal dit nie glo as iemand ons vertel van ‘n dooie persoon wat na ‘n paar dae weer lewendig geword het nie.  Ons wys ook nie die “opstanding van die vlees” summier af nie, want dit behoort tog tot die wese van ons Christelike geloof.  Dalk besef ons nie altyd wat vir ons op die spel staan as ons dit Sondag na Sondag so onbekommerd en vanselfsprekend in ons geloofsbelydenis nasê nie. 

Saam met almal wat hul geloof ernstig neem, wil ook die Heidelbergse Kategismus nie dat hierdie geloofsartikel nie sommer so by ons verbygaan nie, want dit is tog een van die grondstene van ons geloof.  Hoe raak die opstanding van Christus ons vandág?  Soos by die ander artikels wil die Kategismus ook van hierdie een weet: watter nut het dit vir ons?  In Nederlands word gevra: wat hélp die opstanding van Christus vir ons?

Op hierdie vraag gee die Kategismus die volgende antwoord: “Eerstens het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak.  Tweedens word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek.  Derdens is die opstanding van Christus vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding.” 

Die Kategismus sê dat die opstanding van Christus vir die gelowige van drieërlei nut is.  Die opstellers plaas dit voorop dat Christus deur sy opstanding vir ons die dood oorwin het.  Dit beteken dat die dood nie langer vir ons ‘n bedreiging hoef in te hou nie.  Christus het deur sy opstanding die dood verslaan!  Sy dodende mag is weggeneem.  Dit maak ons nog bang, maar dit kan ons nie meer kwaad aandoen nie.  Dit het geen skeidende mag meer nie. 

‘n Seeman het eenmaal aan sy mense geskryf en gesê: “As julle hoor dat ons boot gesink het en dat niemand gered is nie, moenie treur nie.  Die see waarin my liggaam versink, is maar net ‘n duik in die hand van my Heiland.  Uit hierdie hand kan niks my ruk nie.” 

Die eerste twee reëls van Gesang 138 lei soos volg: Jesus leef en ons met Hom – dood, wie sou vir jou nog bewe?  Die vierde vers van hierdie Gesang gaan dan verder: “Jesus leef, nou is die dood vir ons ‘n deurgang tot die lewe; wat ‘n rus in sterwensnood bied sy Woord die hart wat bewe!”

Die Kategismus sê dat Christus deur sy opstanding die dood vir ons oorwin het “sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak.”  Met ander woorde deur sy opstanding uit die dood skenk Christus aan ons die geregtigheid.  In Romeine 4:25 sê Paulus dat Christus “oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.”  Die opstanding van Christus is vir ons die bewys dat Christus vir ons die ou mens van sonde oorwin het en die opwekking van die nuwe mens van geregtigheid bewerk het.  Die opstanding van Christus is die versekering en waarborg dat God die offer van Christus volkome aanvaar het. 

Die dood, die laaste vyand is oorwin.  Dit is wonderlik om dit te weet.  Om iets te weet, beteken nie noodwendig dat dit jou anders laat optree nie.  Wat Christus deur sy opstanding vir ons gedoen het, wil Hy ook mét ons doen.  Daarom hoor ons dat ‘n verdere nut van sy opstanding is dat ons “nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek” word.  Dit impliseer dat ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge nou tot ‘n nuwe lewe opgewek word – deur sy krag.  Hierdie nuwe lewe is nou reeds moontlik deur die krag van Christus. 

Die Kategismus sê dat die opstanding van Christus aan ons ook nou die “betroubare waarborg” bied van wat ons in die toekoms gaan ontvang, naamlik ons “salige opstanding”. 

Paulus stel dit vir die Korintiërs duidelik dat indien jy die opstanding van Christus uit die evangelie wegneem, dan trek jy ‘n streep deur alles wat dit wou aanbied, dan het ons “tevergeefs tot geloof gekom”, dan het dit vir ons geen “nut” nie.  Die evangelie is in kort dat Christus gesterf het en op die derde dag opgewek is.  Alleen dan kom ons daardeur tot geloof en word ons daardeur gered.  Anders verloor die ontvang van die evangelie sy sin.  Dit verloor dan sy unieke waarde dat die geregtigheid vir ons verwerf, die dood vir ons oorwin, ons tot ‘n nuwe lewe opgewek is en ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding ontvang het.  Wat baat dit ‘n mens, sou ons kon sê, as iemand die wonderlikste religie en die beste etiek het, en uiteindelik tog sy lewe moet verloor? 

Matthias Claudius het eenmaal gesê: “Wie nie in Christus wil glo nie, moet sien kom klaar sonder Hom.  Jy en ek kan nie.  Ons het iemand nodig wat ons optel en vashou wanneer ons lewe, en wat sy hand onder ons kophou  wanneer ons moet sterwe.  Dit kan Christus doen, deur dit wat van Hom geskrywe staan, en ons ken niemand van wie ons dit eerder sou wou hê nie. 

Hermann Kohlbrügge het in sy afskeidsgroet die volgende opstandingsbelydenis uitgespreek: Hy het gesê dat as hy sterf en iemand vind eendag sy skedel dan moet daardie skedel nog aan hom iets soos die volgende verkondig: “Ek het geen oë nie, tog aanskou ek Hom.  Ek het geen harsings of verstand nie, tog omvat ek Hom.  Ek het geen lippe nie, tog kus ek Hom.  Ek het geen tong nie, tog loof ek Hom saam met julle almal wat sy Naam aanroep.  Ek is ‘n harde skedel, tog is ek heeltemal versmelt en geweek in sy liefde.  Ek lê hier buitekant die kerkhof, tog is ek binne in die paradys”. 

 

Bibliografie

Smit, D J 1 Korintiërs 15:12-20, in Woord teen die Lig, I/3, 103-113.  Smit, D J Geloof sien in die donker.  Kaapstad, 1998, 67-68.  Theron Flip, Die somer kom saggies.  Pretoria, 1996, 32-33.