1 Korintiërs 13:1-13 (Lambert Jacobs)

28 Januarie  2001

Vierdie Sondag na Epifanie

 

Ander tekste:            Jeremia1:4-10; Psalm 71:1-6; Lukas 4:21-30

 

Die grootste gawe wat God deur sy Gees aan sy kerk gee, is die liefde.  Ander gawes sal vir ‘n tyd ‘n prominente plek in die kerk kan vervul, maar die liefde is die grond van alles wat ons as gelowiges doen en sê.

Teks

Dit is uiters belangrik om 1 Korintiërs 13, Paulus se bekende lied oor die liefde, te lees teen die konteks waarbinne dit staan.  Kyk gerus maar weer na die indeling van hierdie perikoop binne die hoofgedeelte van  1 Korintiërs 12-14 waar die sake rondom die openbare erediens en die funksionering van die gawes van die Heilige Gees binne die gemeente aan die orde kom.  Daarom maak dit sin om hoofstuk 13 saam te lees met ten minste 12:31 en 14:1a.  Fee (1987:627) merk op: ‘Paul sets out to put their zeal for tongues within a broader ethical context that will ultimately disallow uninterpreted tongues in the assembly’.

Enkele verse van die perikoop het al aan die orde gekom in die Woord teen die lig-reeks, waar De Villiers (1996:184-193) dit in die bundel oor die Christelike deugde hanteer het.  In die Duitse preekbundels is          1 Korintiërs 13 ‘n gewilde keuse vir die Sondag wat as Estomihi bekend staan, dit is die sewende Sondag na Epifanie (vgl. die preeksketse van Traub 1973:128-137 en Jörns 1979:110-117).

12:31    Paulus sluit sy sterk betoog rondom die geestesgawes af met ‘n belofte: “Maar wag, kom ek wys nou vir julle wat is nog die heel beste ...”  En dan volg: Die lied van die liefde.

Die besondere stuk poësie val in drie hoofdele uiteen.

Verse 1-3:  Die noodsaaklikheid van die liefde.  Vir die Korintiërs het ware spiritualiteit beteken om in tale te kan praat, wysheid, kennis en selftrots te hê, maar sonder ‘n werklike besef van wat Christelike gedrag behels.  Nee, sê Paulus, dit hou heel eerste in dat ek vervul is met die Heilige Gees, wat sal beteken dat ek optree soos ‘n ‘geroepe heilige’ (1 Kor 1:2), en daarvan is die hoogste uitdrukking om in liefde te lewe.

Verse 4-7:  Die aard/karakter van die liefde – Hoe tree liefde op en wat doen die liefde nie?  Met ‘n reeks van 15 werkwoorde gaan Paulus voort om te beskryf hoe lyk hierdie liefde wat hy so pas as noodsaaklik vir Christelike gedrag voorgehou het.

Die skryfstyl verander ook hier van himnies na didakties (vgl. Conzelmann 1975:223).  Die kern van hierdie optrede is ‘n selfloosheid, dat die fokus begin wegskuif van myself en my eie belange na dié van ander.

In ‘n artikel oor die aard en betekenis van die begrip ‘liefde’ in die Nuwe Testament, meen Field (1995:11): ‘In the NT it is a theocentric word describing the Father’s nature (1 Jn 4:8), the Son’s example (Jn 15:12) and the Spirit’s fruit (Gal 5:22).  And the response it demands covers every aspect of human experience – disposition (1 Cor 13:4-7), thought life (Phil 2:1-5) and behaviour (1 Jn 3:18)’.

Verse 8-13:  Die permanensie van die liefde  – Die gawes is tydelik, maar die liefde het blywende waarde.  Die klem val eintlik hier op eersgenoemde, omdat die gawes vir die Korintiërs so belangrik was.  Hierdie paragraaf word omraam deur die feit dat die liefde ‘nooit vergaan nie’ (vers 8) en dat die liefde ‘bly’ (vers 13).  So verseël Paulus die feit dat die liefde vir altyd duur, terwyl alles anders mettertyd sal vergaan.

Hier word die styl veel meer polemies (vgl. Conzelmann 1975:225), soos die liefde teen die geestesgawes gestel word.  Die bekende triade van geloof – hoop – liefde word deur Paulus aangewend, ‘to represent them as the central, essential, and indefectible elements in Christianity’ (Barrett 1971:310).

14:1a  – Hierdie oproep funksioneer goed as grand finale vir die ode op die liefde.  Gegee dit alles wat gesê is oor die liefde, moet julle die liefde nastreef!

Konteks

Paulus se ‘afwyking’ rondom die Christelike liefde het twee lyne op die oog.  Eerstens wil hy die Korintiërs se denke rondom ware spiritualiteit in die regte rigting stuur.  Daarbenewens wil hy hulle klem op spreek in tale binne die raamwerk van die primêre saak in die christelike etiek plaas, die liefde, sodat hulle gretigheid vir die ‘spirituele’ op die opbou van die gemeente eerder as op ‘spiritualiteit’ as sodanig gerig kan word.

Die keurige styl en retoriek van hierdie hoofstuk het gelei tot talle besprekings oor die oorsprong van die teks.  Is dit dalk vir ‘n ander doeleinde geskryf, dalk selfs deur iemand anders, en net deur Paulus hier ingespan?  Die meeste uitleggers skryf dit egter wel aan Paulus toe.  Wat die spesifieke retoriese genre betref, loop die stemme ook uiteen, maar Furnish (1999:97) oordeel dat daar oor die funksie van die hoofstuk binne die groter geheel, min twyfel bestaan.  Hy stel dit soos volg: ‘Supplementing the metaphor of the body, it helps to prepare for the appeals and instructions which follow (chapter 14) by emphasizing that every spiritual gift is incomplete and of only passing significance, and that the one enduring reality, apart from which humanity cannot flourish, is love (agape).

In sy kommentaar waarsku Fee (1987:628) teen twee moontlike gevare wanneer ‘n mens 1 Korintiërs 13 in die hand neem: ‘First, because of the lyrical nature of this section, it is easy to think of love as an abstract quality.  That is precisely to miss Paul’s concern.  Love is primary for him because it has already been given concrete expression in the coming of Jesus Christ to die for the sins of the world.  Love is not an idea for Paul, not even a “motivating factor” for behavior.  It is behavior... Second, love is not set over against the gifts, precisely because it belongs in a different category altogether.  For Paul it is not “gifts to be sure, but better yet love”; rather, love is the way in which the gifts are to function’.

Furnish (1999:98) dui aan wat die ware oorsprong en aard van die liefde is waarvan Paulus praat.  Hy skryf: ‘It is this love, by which one is graced and claimed (“known”), that is the saving power of God revealed in the cross, and because it is constitutive of the new creation it is an eschatological power.  This, primarily, is the agape Paul is writing about in chapter 13: God’s love manifested in Christ, which is the eschatological power of God for salvation’.

Preekvoorstel

Die hoofstuk wat ons vandag saamgelees het, is sekerlik een van die mees geliefde en gelese gedeeltes in die Pauliniese briefkorpus, en met reg ook.  In die erediens sit waarskynlik heelwat mense wat 1 Korintiërs 13 as teksgedeelte by hulle troue gehad het.  Dit ís ‘n pragtige hoofstuk.  En tog het die geliefdheid van        1 Korintiërs 13 toegelaat dat dit heel dikwels heeltemal konteksloos gelees is, dat dit uit sy onmiddellike verband gehaal is, iewers op ‘n kaartjie of ‘n plakkaat gedruk is, en so op sigself bewonder is.  Om dit so te lees, maak natuurlik die inhoud nie minder waar nie, maar laat ‘n mens tog baie mis.  Paulus wil meer sê as net dat die gemeente mekaar moet liefhê.  Sy doel is om die Korintiërs se oordrewe jaag na spreek in tale binne ‘n breër etiese raamwerk te plaas.  Daarom maak dit sin om hoofstuk 13 saam te lees met ten minste 12:31 en 14:1a.

Nadat Paulus sy hele uiteensetting oor die verskeidenheid van geestesgawes binne die eenheid van die één liggaam deurdrenk deur die één Gees in hoofstuk 12 gegee het, eindig hy sy argument met ‘n oproep in vers 31: Lê julle toe op die beste genadegawes. En as ‘n mens dan omblaai na 1 Korintiërs 13, begin die hoofstuk met: Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is.  Dubbelpunt.  En dan volg die pragtige beskrywing van die liefde. En wanneer hoofstuk 14 dan begin, lees ons die opdrag: Julle moet die liefde nastreef.  Lê julle toe op die gawes van die Gees.

Ons weet nou dat God deur sy Gees aan elkeen van ons ‘n unieke stel genadegawes gegee het, en steeds gee, maar die besondere is dat God ook aan al sy kinders ‘n gemeenskaplike geskenk gee, naamlik sy liefde.  En dit is wat hierdie pragtige lied van die liefde so belangrik maak, dat Paulus daardeur wil onderstreep dat ons hier met die heel belangrikste van al die gawes te doen het.  Die liefde is God se heel belangrikste geskenk aan sy kerk.  Dit is selfs belangriker as die geloof wat berge kan beweeg.

Dit is baie belangrik dat die liefde nie net aan ‘n klein groepie bevoorregte Christene gegee is nie.  Nee, elke Christen, groot en klein, oud en jonk, ontvang dit uit die Gees se hand.  Die liefde waarmee die Heilige Gees elkeen se lewe versier, is natuurlik nie dieselfde as die tipe liefde wat die wêreld ken nie.  Die wêreldse liefde is maar ‘n selfsugtige spulletjie.  Dit wil net die heeltyd ontvang en inpalm.  In die wêreld het mense mekaar meestal net lief vanweë die voordele wat hulle vir mekaar kan inhou, soos hulle skoonheid, rykdom, gewildheid, status, en dies meer.  Hierteenoor is die Christelike liefde, die liefde wat die Gees in al sy kinders se harte uitstort, onselfsugtig.  Dit is uitwaarts, op die medemens gerig.  Dit vra nie: ‘Wat kan andere vir my bied?’ nie, maar eerder: ‘Hoe kan ek vir andere met die liefde van Christus dien?’

Paulus gee nie hier ‘n uitgewerkte definisie van die Christelike liefde nie, maar hy beskryf wel in verse 4-8 hoe hierdie liefde in aksie lyk.  So beweeg die liefde van die Gees ons byvoorbeeld om nie meer boek te hou van die kwaad wat andere ons aandoen nie.  Dit kan tog nie, want Christus het immers al ons eie sondes met sy groot uitveër, die kruis van Golgota, uitgevee.  Terselfdertyd is hierdie liefde nie verwaand, grootpraterig of afgunstig nie.  Dit laat ons nie net heeltyd oor onsself, oor al ons prestasies en doen en late praat nie.  Trouens, Paulus skryf in Filippense 2:3 dat die Christelike liefde ons beweeg om andere hoër te ag as onsself.

Stephan Joubert gebruik in ‘n boekie oor die Heilige Gees ‘n pragtige illustrasie.  Hy vertel: As mens op ‘n dag rustig deur ‘n mooi woud stap, raak jy gou-gou in vervoering oor die pragtige natuurskoon rondom jou.  Die een boom wil dan mooier wees as die ander, terwyl die blomme mekaar in skoonheid oortref.  Spoedig vergeet jy van alle ander  dinge en verlustig jou net in die natuurprag.  Net so laat die liefde van die Gees ons ook in God se woud, die wêreld rondom ons, stap.  Terwyl hierdie ou wêreld vir die meeste mense na ‘n tronk lyk, verstel die Heilige Gees ons visie sodat ons dit algaande as ‘n woud begin sien met die mense hierbinne as God se eie handewerke.  Weliswaar het die sonde groot skade aan baie van hulle aangerig, maar die Gees help ons om verby dit alles te kyk en hulle harte daaragter raak te sien.  In hierdie proses van fokus op andere, raak ons dan so betrokke by hulle en werk so ywerig in God se woud om die skade uit hul lewens te help verwyder dat ons nie nog tyd oor het om met onsself besig te wees nie.

Dit is nie aldag ewe maklik om met andere in die kerk en in die wêreld daarbuite oor die weg te kom nie.  Vanweë die krapmerke wat die sonde maar op menselewens laat, word ons onderlinge verhoudinge dikwels deur dinge soos haat, agterdog en jaloesie versuur.  Maar die Gees kom werk dit teë.  Hy gee sy liefde aan ons sodat ons kan begin om ‘n tweede kilometer saam met ons medemens op die lewenspad te stap.  Hy help ons om nie langer te wil vra: Wie is die grootste in die koninkryk van die hemele, soos die dissipels in Markus 9:34 nie, maar om eerder te sê: Hy moet meer word en ek minder (Joh 3:30).  Die Heilige Gees lei ons om die kerk en die wêreld al hoe meer deur God se oë te begin beskou en om met woord en daad in liefde na hulle uit te reik.

Ek sou tog net ‘n oomblik wou stilstaan by een van die fasette van die liefde, en wel dié een wat in vers 6 na vore kom:  Die liefde verbly hom nie oor die onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Soms hou liefde in dat ‘n waarheid wat dalk nie so mooi is nie, ontbloot moet word.  Hoe duidelik het ons dit nie die afgelope paar jaar in ons eie land se situasie gesien nie.  Soms gaan liefde van my vra om iemand te moet konfronteer met iets wat nie reg is nie.  En dan sê ons baie keer: Ag ek is self so ‘n groot sondaar!  Wie is ek nou om vir hom of haar iets te sê?  Maar dít is nie liefde nie, dit is om weg te kruip agter my sogenaamde swakheid.  Daarvoor roep die Bybel ons te duidelik op om my broer en suster wat in sonde val, in liefde en sagmoedigheid op te help.  Dit is nie net die dominee wie se werk dit is om van een huis tot ‘n ander te beweeg om mense op hulle sondes te wys nie.  Inteendeel, God het ons ook deur sy Gees se werking vir mekaar verantwoordelik gemaak.

Dit is al dikwels uitgewys dat Paulus in hierdie hoofstuk die heel beste beskrywing gee van Jesus se bediening.  Soveel so dat ‘n mens heel gemaklik Jesus se Naam telkens kon gebruik in plaas van die woord liefde, en liefde op so ‘n manier meer persoonlik maak.  Met ander woorde, ‘n mens sou kon sê: Jesus is geduldig, Jesus is vriendelik; Jesus is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, ens.

Dit is so waar, en tog sou ‘n mens nie Paulus se punt wou mis nie, dat hy hier vermaning op die oog het.  Daarom sou sy punt die beste geïllustreer kon word deur jou eie naam elke keer in te voeg.  Lambert handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, Lambert is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie, ens.  En skielik is dit nie so eenvoudig om dit te doen nie, want skielik raak dit nie so maklik om te kwalifiseer by elkeen van die beskrywings van die liefde nie.

En dit is dán dat 1 Korintiërs 13 ‘n ander gedaante begin aanneem, dat dit my oproep tot belydenis, dat dit my in alle nederigheid voor God laat buig en pleit om sy vergifnis, juis omdat ek nié geduldig, en vriendelik, en al dié goed is nie.  Liefde is dus sowel gawe as opdrag.  Dit word deur die Gees aan ons gegee, maar ons word ook opgeroep om liefde uit te leef.

Miskien moet ons weer gaan erns maak met die Heilige Gees se ‘liggaamsbouprogram’, waaraan ons die vorige twee Sondae aandag gegee het.  As ons begin besef dat Hy ons deel gemaak het van God se nuwe familie hier op aarde, sal ons begin uitreik na mekaar.  Dan sien ons onsself nie meer as konings en koninginne wat van die oggend tot die aand deur die kerk bedien moet word nie, maar dan staan ons uit ons leunstoele op en begin andere in liefde dien.  Dan sit ons ook nie langer net as toeskouers op die pawiljoen en kritiseer diegene wat wel aan die lewensbelangrike spel van die geloof deelneem nie.  Nee, dan staan ons op en kom neem ‘n slag ook self deel.

Op hierdie wyse, wanneer gelowiges een vir een in beweging kom, word die liggaam van Christus weer gesond en lewenskragtig en begin dit aan sy doel beantwoord, naamlik om ‘n venster op die onsienlike God se hart te wees.

 

Bibliografie

Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress; De Villiers, D E 1996. Om geduldig te wees:1 Korintiërs 13:4a, 7d, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig III/4: Riglyne vir prediking oor die christelike deugde, 184-193. Kaapstad: Lux Verbi; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Field, D H 1995. Love, in Atkinson, D J & Field, D H (eds.), New dictionary of Christian ethics and pastoral theology, 9-15. Leicester: IVP; Furnish, V P 1999. The theology of the first letter to the Corinthians. Cambridge: University Press; Jörns, K-P 1979. Estomihi: 1. Korinther 13. GPM 34, 110-117; Morris, L 1958. 1 Corinthians. Leicester: IVP; Traub, H 1973. Estomihi:   13. GPM 28, 128-137.