1 Korintiërs 12:3b-13 (Elna Mouton)

23 Mei 1999

PINKSTERFEES

 

Ander tekste: Hand 2:1-21; Num 11:24-30; Joh 20:19-23; Joh 7:37-39; Ps 104:24-34. 35b

 

Deur die opstanding van Christus oorlaai God ons met die gawes van die Gees – ter wille van die opbou, eenheid en getuienis van die gemeente.

Teks

Die fokusteks van hierdie week vorm deel van 1 Kor 12-14, wat ‘'n duidelik aanwysbare onderdeel van die eerste Korintiërbrief uitmaak, en waarin Paulus die besondere gawes van die Gees bespreek.  Die aanhef in 12:1 dui aan dat dié gesprek aansluit by sy antwoord aan die gemeente na aanleiding van vrae oor verskeie praktiese sake soos die huwelik en die eet van offervleis (hoofstukke 7-8).  In hoofstuk 12 gaan dit veral om die versoenende werking of vrug van die Heilige Gees, in hoofstuk 13 om die uitnemendheid van die liefde (as opsomming daarvan), en in hoofstuk 14 om die gawe om God se boodskap te verkondig – tot opbou, bemoediging en troos van die gemeente (let op die herhalende motiewe in 14:1,3-5,12,17,19,22,24,26,31,39).

 

Twee uiters belangrike aspekte van die Gees se werksaamheid kom in hoofstuk 12 na vore.  Eerstens: Dit is die Géés wat mense tot die geloofsoortuiging bring om te kan bely: ‘Jesus is die Here’ (1-3).  Tweedens skenk die drie-enige God (4-6) deur die Gees ‘'n verskeidenheid van genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge aan die gelowiges (4,7-13,28-31).  Hierdie gawes of deugde het slegs één doel, naamlik om die eenheid, die heil, en daarmee die diensbaarheid van die liggaam van Christus te versterk (12-27).  Hoewel dié liggaam uit ‘'n ryk verskeidenheid van lede met uiteenlopende kulturele en sosiale agtergronde bestaan (Jode én Grieke, slawe én vrymense), en met ‘'n verskeidenheid van gawes en funksies, is hul – omdat hul dieselfde Here het – as broers en susters ten nouste aan mekaar verbonde, op mekaar aangewys, en van mekaar se liefde en sorg afhanklik.  Trouens, God sélf het hul – deur Christus se versoeningswerk – in één gesin, in één liggaam saamgevoeg (Ef 2).  Waar mense van nature vyandig is teenoor mekaar, deur hul verskille bedreig en verdeel, doen God die wonder en maak dit wat menslik onmoontlik is, moontlik!  Deur die metaforiese ‘doop met die Gees’ (13) word gelowiges uit elke moontlike stam en stand en taal en volk en nasie in (2 Kor 5:17), ‘'n nuwe skepping, ‘'n gans nuwe mensheid ingelyf, en vir 'n nuwe lewe van diens toegerus.

 

Paulus se herhaalde klem op die onderlinge eenheid dui egter eerder op die tragiese werklikheid dat die teendeel van die gemeente in Korinte waar was (vgl 11:18-19).  Dié gemeente het tydens Paulus se tweede sendingreis tot stand gekom (Hand 10).  Korinte was ten tye die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje, 'n bloeiende hawestad, en bekend vir sy kultuurskatte, afgodsdienste en eiesoortige morele waardes.  Die onderliggende emosie van die brief is een van hartseer en pastorale besorgdheid oor die jong gemeente se selfverstaan en leefwyse.  Lynreg téénoor hul vroeëre blindelingse meevoering na die ‘stom afgode’ (12:2), téénoor die invloedryke Griekse verstaan van God as ontoeganklik, onbetrokke, veraf en vréémd, beklemtoon Paulus die werking van die één Gees van die lewende God wat ryk is aan liefde en onderlinge eenheid, wat 'n God is van verhoudinge, 'n sosiale God (Karl Rahner), 'n God wat tússen sy kinders woon, wat aktief betrokke is by die gange van die geskiedenis, wat belangstel in die lewe, dié God wat Jesus – en óns – uit die dood opgewek het (1 Kor 15;  Ef 1)!  Hierdie God roep die kerk om soortgelyk op te tree, om betrokke te wees – versorgend, helend, versoenend… 

Volgens die Noord-amerikaanse teoloog Margaret Mitchell, bekend vir haar werk in verband met oorredingsaspekte in 1 Kor, was die oorkoepelende doelwit van die brief (en veral hoofstukke 12-14) om harmonie, versoening, vrede, eenheid, heelheid, samehorigheid in die gemeente van Korinte te bewerkstellig.  Die brief wou hul oorreed om afstand te doen van die faksies, die partyskappe, die onenigheid, liefdelose selfsug en verdeeldheid onder hulle (1:10-17;  11:18-19).  Sy toon aan hoedat Paulus verskeie bekende metafore uit die politieke wêreld van die Grieke benut en vanuit die perspektief van Christus nuut vertolk.  Die klem in 1 Kor is op Gód wat die kerk só saamgestel het dat ‘daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar sou dra’ (12:25).  Dat die een persoon nie sigself bo die ander sou verhef, of minderwaardig sou voel teenoor die ander nie, maar dat álmal in liefde tot mekaar se ‘voordeel’ (12:7), tot mekaar se beswil sou funksioneer.

 

Hierdie soort eenheid was kennelik ook die bedoeling met die gawes van die Gees.  Hoofstukke 12-14 volg sekerlik nie toevallig op die herinnering aan die gemeente se basiese identiteit – hul gemeenskapservaring rondom die nagmaalstafel – nie (11:17-34).  En direk hierná in hoofstuk 15 volg Paulus se verduideliking oor die opstanding – die hart van die Christelike geloof wat alle gelowiges in Christus onherroeplik saambind.  Kortom: Die gawes van 1 Kor 12 was bedoel om die gemeente in Korinte in hul nuutgevonde geloof en selfverstaan te versterk, sodat hul as die één liggaam van Christus werklik diensbaar kon wees – aan mekaar as gelowiges, én teenoor 'n ongelowige wêreld (14:24-25).  God sélf skenk hierdie besondere vermoëns van wysheid, kennis, geloof, genesing, verkondiging van God se Woord, van onderskeiding en uitleg ten opsigte van vreemde tale (7-11) deur die Heilige Gees.  Hierdie Gees is dieselfde wonderbare Gees wat Christus se aardse bediening gekenmerk het, en dit nou in die gelowiges voortsit.  Net soos Jesus met die Gees gedoop, bekragtig, toegerus is (Mark 1:10-11), so word sy volgelinge óók met die Gees deurdrenk (1 Kor 12:13), begiet, gedoop, gevul.  (Vgl enkele Ou Testamentiese voorbeelde met betrekking tot die uitgieting van die Gees – Eseg 36:25-27;  Joël 2:28.)  Wat ookal die kerk se besondere behoeftes op 'n gegewe tydstip mag wees, God Drie-enig het daarvoor mildelik voorsien – in Christus, en in die magtige, skeppende, helende teenwoordigheid van die Gees, onder wie se liefdevolle gesag en heerskappy ons geroep word om te leef (vgl 1 Pet 5:6-7).  Die doopformulier vat hierdie werklikheid treffend saam: ‘Die doop in die Naam van God, die Heilige Gees verseker ons dat die Gees in ons as lede van die liggaam van Christus woon, ons al die weldade in Christus deelagtig wil maak, ons wil leer, troos en ewig by ons bly’.  Dít is die sekerheid wat gelowiges met vrymoedigheid, verwondering en vreugde op die Pinksterdag vier!

Konteks

1. In aansluiting by die Geloofsbelydenis van Nicea (381 NC) het die Christelike kerk deur die eeue nog altyd die besondere gawes, bedieninge of vrug van die Gees verstaan as die direkte voortsetting van God-se-heilswerk-in-Christus.  Vir Christene is die evangelie dat God sélf in Christus, en deur sy Gees en Woord lewe wek – mense verkies en roep, tot geloof bring, doop en tot sy eiendom beseël, elke dag nuwe hoop gee en toerus vir liefdediens…

 

Volgens dié klem is die werk van die Gees by uitsondering in die kerkgeskiedenis in verband gebring met ‘buitengewone’ of  skouspelagtige werkinge.  Dit is opvallend – en vir die verstaan van Pinkster deurslaggewend – dat die besondere gawes of vrug van die Gees in die Nuwe Testament altyd binne die breër verband van die opbou van die gemeente genoem word (Rom 12;  1 Kor 12;  Ef  4;  1 Pet 4;  Gal 5).  Die doel met dié gawes is om gelowiges se denke op Gód te rig, om ons oë oop te maak vir wat God in Christus gedoen het, en om ons telkens weer op ons knieë te laat val, tot aanbidding te bring oor die wonder van God se teenwoordigheid (1 Kor 14:25).  Enige prediking op Pinksterdag sal versigtig moet wees om nie hierdie fokus te vertroebel nie.

 

2. Dit is verder opvallend dat die struktuur van die evangelie (die ‘ou-ou tyding’ van die vorige punt) op 'n soortgelyke wyse in al drie die briewe weergegee word waaruit ons fokustekste die afgelope 6 weke gekom het (1 Pet, Ef en 1 Kor).  In al drie situasies (met uiteenlopende gehore) word die lesers se aandag gevestig op God se liefde en warmhartigheid, maar terselfdertyd op die uiters vreemde wyse waarop dit geopenbaar word, naamlik via die vernederende kruisdood van Jesus.  1 Kor beskryf dié boodskap as (onsin, gekheid vir die Grieke en vir dié wat verlore gaan (1:18,23),'n skandvlek en oneer vir die wêreld (1:25), en as, skande, 'n verleentheid, aanstoot, struikelblok vir die Jode (1:23).  Die unieke van dié vreemde verhaal is egter dat Christus se gehoorsaamheid aan God tot sy verheerliking en verhoging lei as Here en Hoof van die liggaam.  Diegene wat hierdie verhaal vir hulself toeëien as húl verhaal, húl identiteit, word dan geroep om óók in gehoorsaamheid aan God te leef, onder God se kragtige, versorgende hand – selfs al bring dit vernedering en lyding.

 

Nóg 'n ooreenkoms is dat al drie hierdie briewe die gawe of vrug van die liefde, van die onderlinge diens, sorg en onderdanigheid van die gelowiges beskryf as dié (enigste) wyse waarop hul die krag van God sou ervaar (1 Pet 4:7-11;  Ef 4:32-5:2,21;  1 Kor 13).  In al drie gevalle staan dié liefde ook direk in verband met die Gees se teenwoordigheid (1 Pet 1:2,11-12;  4:14;  Ef 4:30;  5:18).  En so sou 'n mens kon voortgaan, en parallelle aantoon regdeur die Bybel asook uit ons eie ervarings tot vandag toe.  Wat bevestig dat die wese van die evangelie – die verhaal van God se ontferming én liefdeseis tot gehoorsaamheid en diens – vir alle tye en omstandighede dieselfde bly.

Preekvoorstel

1.  Die fokusteks op hierdie Pinkstersondag sluit in meer as een opsig direk aan by ons studie van die 1 Petrus- en Efesiërbriewe, veral by 1 Pet  4:7-11 en verlede Sondag se preekstudie.  Die klem op die Heilige Gees vorm 'n nuwe hoogtepunt vanwaar ons steeds oor God se ontferming nadink.  Ook in 1 Kor 12 gaan dit dáárom dat God deur die krag van sy helende liefde 'n gemeente, 'n huisgesin, 'n liggaam, 'n koninklike priesterdom bymekaar bring…  Met die doel om te kan sê en te beleef: ‘Jesus Christus is die Here!’ (12:3).  Met die doel om God se verlossingsdade te verkondig, om mekaar én die wêreld met hierdie liefde te bedien!  1 Kor 12 handel spesifiek oor dié gawes, dié deugde, dié vaardighede, dié vrug wat die Gees aan gelowiges skenk om ‘goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God’ te wees (1 Pet 4:10-11).

 

Die gesindheid waarin gelowiges geroep word om die gawes te gebruik, word opgesom in Christus se selfgewende liefde – dié liefde wat geduldig is, vriendelik, nie sy eie belang soek nie, nie boekhou van die kwaad nie… (1 Pet 2:21-24;  1 Kor 13:4-7;  Gal 5:22).  Trouens, die verskillende vrugte van die Gees is net gesigte, gestaltes van dié een vrug: liefde (Smit).  Christus is daarom God se ‘allerbeste’ gawe aan die kerk (1 Kor 13:1;  Ef 1:22), God se enigste gawe aan die kerk (Rom 8:32), en Hý is onder alle omstandighede die fokus van die Gees se werksaamheid (Joh 14:26).  Nêrens word die veelkleurige verskeidenheid van God se liefde beter weerspieël as juis deur die interaksie binne die Goddelike Drie-eenheid nie – Vader, Seun en Gees in 'n verhouding van volkome harmonie tot mekaar.

 

Die prediking op Pinksterdag mag dus nie die klem op die gawes laat val ter wille van die gawes nie, maar op die doel van die gawes, naamlik om Gód te verheerlik, om die aandag te vestig op dié lewende God wat ‘alles in almal’ tot stand bring (6). 

 

2.  1 Kor 12 dien tegelykertyd as 'n ernstige waarskuwing om nie by die ryke volheid, die heelheid, die geïntegreerdheid van die liggaam van Christus verby te leef nie, of dit op watter sondige wyse ookal te verhinder nie.  Paulus wou juis by herhaling die gemeente in Korinte se oë daarvoor oopmaak dat hul nuwe identiteit, die sin van hul lewens, in die interaksie van verhoudinge geleë was – met die Drie-enige God, en met mekaar.  Juis in die Drie-eenheid van God sou hul die volmaakte voorbeeld vind vir hul eie eenheid-in-verskeidenheid!

 

Eintlik is hierdie 'n skokkende, onrusbarende beeld vir die kerk.  Want die kerk is nie 'n versameling eendersdenkende of gelyk-gesinde mense nie, maar 'n ‘teen-natuurlike’ liggaam waarby mense ingelyf word bloot op grond van God se genadige ontferming.  ‘Die gewéldige van die kerk is juis dat ons in 'n nuwe gemeenskap verenig word tot broers en susters van mense met wie ons van nature geen verbintenisse het of soms sou wou hê nie’ (Smit).  Nét die Gees kan ons leer om ons lewe in diens van God en ons naaste prys te gee, en ons selfsugtige strewe na selfhandhawing radikaal óm te keer...

 

3.  Die boodskap van Pinkster 1999 stel die Ned Geref Kerkfamilie in Suid-Afrika voor 'n dringende uitdaging en toets.  Terwyl daar nog soveel gebrek aan werklike gemeenskapsin tussen ons is - selfs bínne die gemeentes, met allerlei vorme van onversoendheid en vyandskap, van apartheid en afsydigheid onder ons self, hoe kan ons verwag om 'n verskil te maak in 'n stukkende en moreel-verwarde samelewing?  Ons kan daarom nie anders as om met droefheid na te dink oor elke moontlike verskil (kultuur, etnisiteit, taal, sosiale stand, geslag, of wat ookal) wat vir ons swaarder weeg as die één Gees en die één liggaam van Christus nie.  In die lig hiervan sal dit uiters gepas wees as die gemeente die erediens op hierdie dag kan afsluit deur hul onderlinge verbondenheid aan God en mekaar opreg te bely in die woorde van dié gedeeltes uit die Belhar-Belydenis wat spesifiek die bedoeling van 1 Kor 12 saamvat:

 

‘Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Ons glo dat hierdie eenheid van die volk van God op 'n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen;  daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee.

Ons glo dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie;  dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God; dat die ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk.

 

Daarom verwerp ons enige leer wat óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot 'n aparte kerkformasie; wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid; wat ontken dat 'n weiering om hierdie sigbare eenheid as 'n kosbare gawe na te jaag, sonde is; wat uitgesproke of onuitgesproke, voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

 

Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees. Jesus is die Heer! Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe die eer en heerlikheid in ewigheid.’

        

Geraadpleegde bronne, en aanbeveel vir verder leeswerk

WtL I/5, 157-164 (HJB Combrink);  WtL I/4, 142-157 (DJ Smit), alle WtL-bydraes oor Pinkster-prediking (I/3 en I/9) en die Eenheid van die kerk (III/5);  Die Kerkbode, 20 Febr 1998 (tov die Belydenis van Belhar);  WD Jonker, Die Gees van Christus;  MM Mitchell, Paul and the Rhetoric of Reconciliation: An Exegetical Investigation of the Language and Composition of 1 Corinthians (Westminster/John Knox);  Smit, D, Gesigte van die Liefde: Om te leef soos God se mense.