1 Korintiërs 12:12-31 (Lambert Jacobs)

21 Januarie 2001

Derde Sondag na Epifanie

 

Tema van die erediens

Ek is ’n ‘ledemaat’ van hierdie deel van die liggaam van Christus

Die kerk is die liggaam van Christus.  Binne hierdie liggaam het elke liggaamsdeel ‘n eie, besondere funksie.  Elkeen se bydrae is noodsaaklik vir die gesonde werking van die liggaam as geheel.  Saam bou die verskillende lede die liggaam op om as eenheid te funksioneer tot eer van God.

Teks

In die Woord teen die lig-uitgawe met riglyne vir doopprediking word 1 Korintiërs 12:13 deur Combrink (1983:157-164) bespreek.  Hierdie postille bied heelwat insig oor die opbou van hoofstuk 12 en die betekenis van die liggaamsbeeld.

Om die punt van verskeidenheid in eenheid verder tuis te bring, gebruik Paulus ‘n bekende beeld uit die antieke en pas dit toe op die Korintiese situasie.

Verse 12-14:  Die ‘net Gees’ waarmee die perikoop in vers 12 begin, dui daarop dat wat hier volg, daarop gemik is om wat in die vorige perikoop (1-11) gesê is, verder te verduidelik.  Die metafoor van die kerk as liggaam van Christus is reeds genoem in 1 Korintiërs 10:17 en 11:29.

In die eerste onderdeel van die argument stel Paulus die basiese vertrekpunt van die liggaamsbeeld (dat dit een liggaam is) en sy dringendheid (dat dit baie dele het).  In sy uitbreiding van die metafoor val Paulus se klem nie op die feit dat die liggaam één is selfs al het hy baie dele nie, maar dat selfs al is die liggaam een, dit nie uit een deel bestaan nie, maar uit baie (vgl. Fee 1987:601).

Baie is al geskryf oor die twee parallelle sinne in vers 13: ‘Ons is almal met die een Gees gedoop” en “Ons is almal van die een Gees deurdrenk”  Fee (1987:605) is van oordeel dat beide sinne verwys na die gelowiges se gedeelde ervaring van bekering.  Combrink (1983:161) sluit ook aan by Ridderbos dat die doop juis op kenmerkende wyse by Paulus aangedui word met die ‘inlywing in die liggaam van Christus’.  Combrink (1983:161) vervolg: ‘Hierdie metaforiese “doop”, of inlywing in die liggaam van Christus deur die uitstorting van die Gees en sy gawes, dui op ‘n eskatologiese gebeure’.

Vir die Korintiërs, met hulle geskiedenis van interne struwelinge, is die konsekwensies van hierdie eenheid binne die liggaam van groot belang.  Daarom sê Barrett (1971:289) op hierdie punt: ‘His main intention is practical; the various national and social groups, and the dissident religious cliques at Corinth (1:11f), have all entered into the unity of the body of Christ, which they ought to express, and not deny, by means of their various gifts’.

Verse 15-20:  Paulus personifieer die liggaamsdele om die punt van verskeidenheid met elkeen se eie funksie tuis te bring.  Dit word veral beklemtoon deur die stel retoriese vrae in 17 en 19, dat alle lede nodig is voordat daar ‘n liggaam is en nie ‘n monster nie (vgl. Van der Watt 1988:116).

As Paulus sê dat die liggaam een is, beteken dit glad nie ‘eenvormigheid’ nie.  Hieroor sê Fee (1987:602) tereg: ‘That was the Corinthian error, to think that uniformity was a value, or that it represented true spirituality.  Paul’s concern is for their unity; but there is no such thing as true unity without diversity’.

Verse 21-26:  Hier kom Paulus terug op die personifiering van die liggaamsdele, maar nou om ‘n ander punt tuis te bring.  Daar behoort nie statusverskille tussen die verskillende lede van die liggaam te wees nie.  Almal het mekaar nodig en moet omsien na mekaar se welstand.

Dit dui daarop dat dit eintlik fisies onmoontlik is dat die een liggaamsdeel homself hoër kan ag as die ander.  Dit kán gewoon nie.  ‘It would be absurd’, meen Conzelmann (1975:213).

Barrett (1971:290) pas dit soos volg toe binne die Korintiese situasie: ‘That is, the Christian who has the gift of tongues cannot boast his independence of his brother who has the gift of prophecy; each needs the other.  Boasting (which Paul is never slow to condemn) is quite the wrong attitude’.

Fee (1987:612) merk op hoe die liggaamsdeel wat fisies hoër is (oog, kop), telkens vir die een wat laer is (hand, voete), sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom!’  Toegepas op die gemeente, stel Fee (1987:612) dit so: ‘Both the direction and content of what is said imply a view “from above”, where those who consider themselves at the top of the “hierarchy” of persons in the community suggest that they can get along without some others, who do not have their allegedly superior rank’.  Dit mag nie in die gemeente geduld word nie.

Verse 27-30(31):  Paulus sluit sy argumentasie af deur die liggaamsbeeld op die kerk van toepassing te maak, steeds met sy hoofdoel in gedagte, verskeidenheid te midde van die eenheid.

Nou word die verskillende ampte en funksies in die vroeë kerk genoem.  Nog ‘n stel retoriese vrae (Fee (1987:622) noem dit ‘a crescendo of rhetorical questions’) dui aan dat daar vir elkeen ‘n taak in die kerk is, dat almal nie dieselfde funksie kan vervul nie, en dat die een funksie ook nie belangriker is as die ander nie.

Opvallend is dat die profesie voorrang geniet bo die spreek in tale, met die oog op die opbou van die gemeente (vgl. Conzelmann 1975:215).  Die lesers in Korinte word uiteindelik opgeroep om hulle toe te lê  op die beste genadegawes, en as hulle omblaai om te sien wat Paulus as die ‘beste weg’ aandui, ... die ode op die liefde!

Konteks

Dit is maklik om te sien hoe in die kerk Paulus se fokus op verskeidenheid mettertyd geskuif het na ‘n fokus op eenheid.  Wat veral ontstellend is, is dat dit wat werklik vir Paulus die basis van eenheid is, naamlik ons gemeenskaplike lewe in die Gees, mettertyd die punt van soveel verdeeldheid geword het.  Twee punte kan beklemtoon word: As dit lyk of die werk van die Gees verdeeldheid saai, is dit beslis nie die Gees se skuld nie.  Dis ons eie gebrokenheid, selftrots en vooroordele.  En tweedens, tog is eenheid wel die resultaat van ons gemeenskaplike lewe in die Gees, en nie ons menslike toedoen nie.

Hierdie perikoop kan – en is ook al – met redelike gemak in die gemeente toegepas word. Tog is daar ook ‘n gevaar dat die prediker maar sy eie klemtone kan laat val, en nie Paulus s’n nie.  Vir Paulus gaan dit oor twee goed: Verskeidenheid binne die gemeente en omgee vir mekaar binne die gemeente.

Met die oog op die prediking van hierdie perikoop in die eie gemeente, kan die opmerking van Gandras (1976:300) van waarde wees: ‘Die Predigt unseres Textes von der Kirche als Leib Christi konkretisiert sich darin, daß wir die Gemeinde in ihrer Leiblichkeit ernst nehmen und sie als soche neu liebgewinnen – die Gemeinde wie sie ist, nicht wie wir sie konstruieren.  Auch die Gemeinde in Korinth war keine “Idealgemeinde”.  Gerade darum sagt ihr Paulus gegen ihre “Spaltungen” und gegen ihren “Persönlichkeitskult” zu, daß sie Leib Christi ist’.

Vir ‘n deeglike bespreking van die konsep ‘doop in/met die Heilige Gees’ kan Combrink (1983:160-161) gerus geraadpleeg word.  Hy konkludeer dat, in die lig van OT-verwysings, ‘kan die doop met die Heilige Gees dui op die begieting, deurdrenking met die Heilige Gees’ (160).

Preekvoorstel

In Paulus se tyd het daar ‘n baie snaakse ding in die stad Korinte gebeur, eintlik kan ons sê soort van ‘n mediese wonderwerk.  Op ‘n dag het ‘n klomp liggame wat sommer baie vreemd gelyk het, hulle verskyning gemaak. Party van hierdie liggame het net bestaan uit ‘n klomp oë; dan was daar weer ‘n klomp neuse bymekaar, asook ‘n groep arms, ore en hande.  Die skokkendste van alles was egter dat hierdie vreemde verskynsel van alle plekke in die kerk te siene was.

Wat was die rede vir hierdie fratsverskynsel in Korinte?  Wel, ‘n vinnige deurblaai van die eerste Korintiërbrief dui aan hoe sommige gemeentelede begin dink het dat die fokus in die kerk deurentyd op hulleself moet val, op al húlle indrukwekkende gawes en op die baie voortreflike dinge wat húlle vir die Here doen.  As gevolg hiervan het die soeklig algaande weg van God na individuele gelowiges begin verskuif wat vir hulleself sterstatus in die gemeente toegeëien het.  Op die ou end het hierdie toedrag van sake ‘n verskeurde kerk tot gevolg gehad, ‘n liggaam wat in duisende stukke geruk is met al die neuse op ‘n hoop, so ook al die bene, hande, voete en ore.

Natuurlik het Paulus met groot skok kennis geneem van dié situasie in die Korintegemeente.  En as hy sy pen opneem en hierdie brief skryf, reageer hy op die selfgesentreerdheid van sekere christene deur vir hulle op die nuutmakende werk van die Heilige Gees te wys.  Veral in hierdie teksgedeelte in 1 Korintiërs 12 stel hy die Heilige Gees aan hulle voor as God se ‘liggaamsbouer’.  Hy is die Een wat volgens Paulus daarin spesialiseer om liggame wat in die intensiewe eenheid lê, weer gesond te maak en van voor af aanmekaar te sit.

Die eerste faset van die Heilige Gees se ‘liggaamsbouprogram’ vir sy kerk behels die uitdeel van bepaalde geskenke aan ons, soos wat Paulus in die voorafgaande perikoop vertel het.  Ten einde ons toe te rus vir ons taak van Godsverheerliking en ons medegelowiges tot diens te wees, oorhandig die Gees aan elkeen van ons afsonderlik een of meer genadegawes.  Hierdie genadegawes op Paulus se lys sluit onder andere die sogenaamde ‘buitengewone’ dinge in, soos die doen van wonders en genesings, asook ‘gewone’ dinge, soos dienslewering, hulpverlening en onderrig.

As ‘n mens na die vier plekke in die Nuwe Testament kyk waar die gawes van die Gees ter sprake kom, naamlik in Romeine 12, 1 Korintiërs 12, Efesiërs 4 en 1 Petrus 4, dan blyk dit uit hierdie gedeeltes dat daar nie net één onveranderlike groep gawes bestaan nie.  Nee, die Heilige Gees deel deurentyd dié gawes aan sy kinders uit wat ons binne ons eie situasies nodig het om die fokus op God en andere te laat val.  Maar sou ons tog wel ietwat meer in besonderheid na die sogenaamde ‘gawelyste’ in hierdie teksgedeeltes kyk, blyk dit dat die klem deurgaans op die sogenaamde gewone gawes val.  Die gewone dinge in die gemeente, dienslewering, bemoediging en onderrig, ontvang die groot klem, nie die buitengewone dinge soos spreek in tale en wonderwerke nie.  Natuurlik is Paulus nie gekant teen buitengewone gawes nie. Maar hy besef dat hierdie gawes maklik tot openbare vertoon en selfgerigtheid kan aanleiding gee.  Mense kan gou-gou vergeet dat die Gees gawes aan hulle gee om God en andere mee te dien.  Daarom moet ons onsself telkens eerlik afvra waaroor dit vir my gaan, die eer van God of my eie eer.

Die tweede faset van die Heilige Gees se ‘liggaamsbouprogram’ behels dat Hy ons lei om die fokus weg van onsself na andere rondom ons in die kerk te verskuif. In vers 13 maak Paulus ‘n baie belangrike stelling oor die Gees, naamlik dat ons almal met die één Gees gedoop is.  Die Heilige Gees is aan die ganse kerk gegee.  Hy werk nie maar net in my eie lewe nie.  Nee, Hy verbind my van die eerste oomblik van my bekering af aan almal wat saam met my in Christus glo.  Hy open my oë om ander gelowiges rondom my te begin raaksien, om hulle gevoelens en behoeftes in ag te neem, vir hulle sorg te dra, hulle te bemoedig en vir hulle te bid.  Die Heilige Gees verander my met ander woorde van ‘n selfsugtige wese wat meen dat die ganse heelal om my en my eie behoeftes draai na iemand wat begin besef dat God en andere belangriker as ekself is.

Daarom is die liggaamsbeeld wat Paulus in 1 Korintiërs 12 gebruik om die werk van die Gees in die kerk te illustreer, so uiters effektief.  Binne elke liggaam kan daar maar net twee oë wees, en een neus.  Die voet kan nie sê: Omdat ek nou nie ‘n oog is nie, gaan ek ophou om deel van die liggaam te wees nie.  Nee, elke ledemaat, hoe onbenullig sy taak ookal mag lyk, hy of sy het ‘n bepaalde funksie om die liggaam reg te laat funksioneer.

In die kerk is daar ook ruimte vir ‘n groot verskeidenheid van persone, gawes en take.  Ons almal kan tog nie preek, of sing of onderrig gee of wat ookal nie.  As ek dus byvoorbeeld nie kan mooi sing nie, moet ek dankbaar wees vir die ander gelowiges wat wel hulle stemme kan aanwend om my en andere se geloof op te bou.  Terselfdertyd moet ek op my beurt my gawes gebruik om hulle te dien en te ondersteun.

Dit lyk asof ‘n mens dalk hier ‘n wegglipkans kan kry, want sien, Paulus beklemtoon mos dat ‘n mens nie selfgerig moet wees en die fokus op jouself laat val nie.  Dit is nou presies hoekom ek myself maar skaars hou.  Werk dit so?  Nee, beslis nie.  Want as ek daar in my klein hoekie sit en jy in joune, watter groter selfgerigtheid kan ‘n mens kry as juis dit!  Nee, die klem val op eenheid binne die verskeidenheid, één liggaam waarbinne verskillende onderdele elkeen hulle eie funksie verrig.

Ek kom bring ook my tyd en my sangstem en my tegniese vaardighede en my finansiële kundigheid en my organisasievermoë en my slag met kinders en saam dien ons die saak van die liggaam van Christus.

Hierdie besondere teksgedeelte wil vir ons oortuig dat die Heilige Gees ons lei om ander gelowiges raak te sien.  Hy beitel die selfsugtigheid uit ons harte uit en laat ons besef dat ons een van baie ledemate in die liggaam van Christus is.  Hy woon immers in ons almal se lewens en wil hê dat ons almal saam ‘n gesonde en lewenskragtige liggaam moet wees waar die verskillende ledemate in harmonie met mekaar leef en vir mekaar omgee.  Daarom kan ons nie Christus se liggaam na willekeur in stukke skeur omdat ons dink dat net ons die waarheid in pag het nie.  Ons moet ons oë begin oopmaak vir die leiding van die Heilige Gees sodat ons bedag kan word daarop om God en andere raak te sien.  Hy wil ‘n gesonde liggaam hê waarin Hy met vrymoedigheid kan woon en werk.  Laat ons dan nie struikelblokke in die Gees se pad na die herstel van Christus se liggaam hier op aarde lê nie.

Kom ons laat die Gees toe, in hierdie tyd waarin daar nuwe eise aan die kerk gestel word, om ons te gebruik tot bevordering van sy koninkryk.  Soos vers 31 sê: Lê julle toe op die beste genadegawes, ook in jou spesifieke gemeente!

 

Bibliografie

Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Combrink, H J B 1983. 1 Korintiërs 12:13, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig I/5: Riglyne vir doopprediking, 157-164. Kaapstad: NGKU; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress;  Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Furnish, V P 1999. The theology of the first letter to the Corinthians. Cambridge: University Press; Gandras, J 1976. 4. Sonntag nach Trinitatis: 1. Kor 12:12-27. GPM 30, 298-304; Morris, L 1958. 1 Corinthians. Leicester: IVP; Van der Watt, J G 1988. Wat maak ‘n Christen anders? Bybelstudie oor 1 Korintiërs in dagboekvorm. Wellington: Bybelkor.