In die Woord teen die lig-uitgawe met riglyne
vir doopprediking word 1 Korintiërs 12:13 deur Combrink (1983:157-164)
bespreek. Hierdie postille bied heelwat
insig oor die opbou van hoofstuk 12 en die betekenis van die liggaamsbeeld.
Om die punt
van verskeidenheid in eenheid verder tuis te bring, gebruik Paulus ‘n bekende
beeld uit die antieke en pas dit toe op die Korintiese situasie.
Verse 12-14: Die
‘net Gees’ waarmee die perikoop in vers 12 begin, dui daarop dat wat hier volg,
daarop gemik is om wat in die vorige perikoop (1-11) gesê is, verder te verduidelik. Die metafoor van die kerk as liggaam van
Christus is reeds genoem in 1 Korintiërs 10:17 en 11:29.
In die
eerste onderdeel van die argument stel Paulus die basiese vertrekpunt van die
liggaamsbeeld (dat dit een liggaam is) en sy dringendheid (dat dit baie dele
het). In sy uitbreiding van die
metafoor val Paulus se klem nie op die feit dat die liggaam één is selfs al het hy baie dele nie, maar dat selfs al is die liggaam een, dit nie uit
een deel bestaan nie, maar uit baie (vgl. Fee 1987:601).
Baie is al
geskryf oor die twee parallelle sinne in vers 13: ‘Ons is almal met die een
Gees gedoop” en “Ons is almal van die een Gees deurdrenk” Fee (1987:605) is van oordeel dat beide
sinne verwys na die gelowiges se gedeelde ervaring van bekering. Combrink
(1983:161) sluit ook aan by Ridderbos dat die doop juis op kenmerkende wyse by
Paulus aangedui word met die ‘inlywing in die liggaam van Christus’. Combrink (1983:161) vervolg: ‘Hierdie
metaforiese “doop”, of inlywing in die liggaam van Christus deur die
uitstorting van die Gees en sy gawes, dui op ‘n eskatologiese gebeure’.
Vir die
Korintiërs, met hulle geskiedenis van interne struwelinge, is die konsekwensies
van hierdie eenheid binne die liggaam van groot belang. Daarom sê Barrett (1971:289) op hierdie
punt: ‘His main intention is practical; the various national and social groups,
and the dissident religious cliques at Corinth (1:11f), have all entered into
the unity of the body of Christ, which they ought to express, and not deny, by
means of their various gifts’.
Verse 15-20:
Paulus personifieer die liggaamsdele om die punt van verskeidenheid met
elkeen se eie funksie tuis te bring.
Dit word veral beklemtoon deur die stel retoriese vrae in 17 en 19, dat
alle lede nodig is voordat daar ‘n liggaam is en nie ‘n monster nie (vgl. Van
der Watt 1988:116).
As Paulus
sê dat die liggaam een is, beteken dit glad nie ‘eenvormigheid’ nie. Hieroor sê Fee (1987:602) tereg: ‘That was
the Corinthian error, to think that uniformity was a value, or that it
represented true spirituality. Paul’s
concern is for their unity; but there is no such thing as true unity without
diversity’.
Verse 21-26:
Hier kom Paulus terug op die personifiering van die liggaamsdele, maar
nou om ‘n ander punt tuis te bring.
Daar behoort nie statusverskille tussen die verskillende lede van die
liggaam te wees nie. Almal het mekaar
nodig en moet omsien na mekaar se welstand.
Dit dui
daarop dat dit eintlik fisies onmoontlik is dat die een liggaamsdeel homself
hoër kan ag as die ander. Dit kán
gewoon nie. ‘It would be absurd’, meen
Conzelmann (1975:213).
Barrett
(1971:290) pas dit soos volg toe binne die Korintiese situasie: ‘That is, the
Christian who has the gift of tongues cannot boast his independence of his
brother who has the gift of prophecy; each needs the other. Boasting (which Paul is never slow to
condemn) is quite the wrong attitude’.
Fee
(1987:612) merk op hoe die liggaamsdeel wat fisies hoër is (oog, kop), telkens
vir die een wat laer is (hand, voete), sê: ‘Ek kan sonder jou klaarkom!’ Toegepas op die gemeente, stel Fee
(1987:612) dit so: ‘Both the direction and content of what is said imply a view
“from above”, where those who consider themselves at the top of the “hierarchy”
of persons in the community suggest that they can get along without some
others, who do not have their allegedly superior rank’. Dit mag nie in die gemeente geduld word nie.
Verse 27-30(31):
Paulus sluit sy argumentasie af deur die liggaamsbeeld op die kerk van
toepassing te maak, steeds met sy hoofdoel in gedagte, verskeidenheid te midde
van die eenheid.
Nou word
die verskillende ampte en funksies in die vroeë kerk genoem. Nog ‘n stel retoriese vrae (Fee (1987:622)
noem dit ‘a crescendo of rhetorical questions’) dui aan dat daar vir elkeen ‘n
taak in die kerk is, dat almal nie dieselfde funksie kan vervul nie, en dat die
een funksie ook nie belangriker is as die ander nie.
Opvallend
is dat die profesie voorrang geniet bo die spreek in tale, met die oog op die opbou van die gemeente (vgl. Conzelmann
1975:215). Die lesers in Korinte word
uiteindelik opgeroep om hulle toe te lê
op die beste genadegawes, en as hulle omblaai om te sien wat Paulus as
die ‘beste weg’ aandui, ... die ode op die liefde!
Dit is
maklik om te sien hoe in die kerk Paulus se fokus op verskeidenheid mettertyd
geskuif het na ‘n fokus op eenheid. Wat
veral ontstellend is, is dat dit wat werklik vir Paulus die basis van eenheid
is, naamlik ons gemeenskaplike lewe in die Gees, mettertyd die punt van soveel
verdeeldheid geword het. Twee punte kan
beklemtoon word: As dit lyk of die werk van die Gees verdeeldheid saai, is dit
beslis nie die Gees se skuld nie. Dis
ons eie gebrokenheid, selftrots en vooroordele. En tweedens, tog is eenheid wel die resultaat van ons
gemeenskaplike lewe in die Gees, en nie ons menslike toedoen nie.
Hierdie
perikoop kan – en is ook al – met redelike gemak in die gemeente toegepas word.
Tog is daar ook ‘n gevaar dat die prediker maar sy eie klemtone kan laat val,
en nie Paulus s’n nie. Vir Paulus gaan
dit oor twee goed: Verskeidenheid binne die gemeente en omgee vir mekaar binne
die gemeente.
Met die oog
op die prediking van hierdie perikoop in die eie gemeente, kan die opmerking
van Gandras (1976:300) van waarde wees: ‘Die Predigt unseres Textes von der Kirche
als Leib Christi konkretisiert sich darin, daß wir die Gemeinde in ihrer
Leiblichkeit ernst nehmen und sie als soche neu liebgewinnen – die Gemeinde wie
sie ist, nicht wie wir sie konstruieren.
Auch die Gemeinde in Korinth war keine “Idealgemeinde”. Gerade darum sagt ihr Paulus gegen ihre
“Spaltungen” und gegen ihren “Persönlichkeitskult” zu, daß sie Leib Christi
ist’.
Vir ‘n
deeglike bespreking van die konsep ‘doop in/met die Heilige Gees’ kan Combrink
(1983:160-161) gerus geraadpleeg word.
Hy konkludeer dat, in die lig van OT-verwysings, ‘kan die doop met die
Heilige Gees dui op die begieting, deurdrenking met die Heilige Gees’
(160).
In Paulus
se tyd het daar ‘n baie snaakse ding in die stad Korinte gebeur, eintlik kan
ons sê soort van ‘n mediese wonderwerk.
Op ‘n dag het ‘n klomp liggame wat sommer baie vreemd gelyk het, hulle
verskyning gemaak. Party van hierdie liggame het net bestaan uit ‘n klomp oë;
dan was daar weer ‘n klomp neuse bymekaar, asook ‘n groep arms, ore en
hande. Die skokkendste van alles was
egter dat hierdie vreemde verskynsel van alle plekke in die kerk te siene was.
Wat was die
rede vir hierdie fratsverskynsel in Korinte?
Wel, ‘n vinnige deurblaai van die eerste Korintiërbrief dui aan hoe
sommige gemeentelede begin dink het dat die fokus in die kerk deurentyd op
hulleself moet val, op al húlle indrukwekkende gawes en op die baie
voortreflike dinge wat húlle vir die Here doen. As gevolg hiervan het die soeklig algaande weg van God na
individuele gelowiges begin verskuif wat vir hulleself sterstatus in die
gemeente toegeëien het. Op die ou end
het hierdie toedrag van sake ‘n verskeurde kerk tot gevolg gehad, ‘n liggaam
wat in duisende stukke geruk is met al die neuse op ‘n hoop, so ook al die
bene, hande, voete en ore.
Natuurlik
het Paulus met groot skok kennis geneem van dié situasie in die
Korintegemeente. En as hy sy pen opneem
en hierdie brief skryf, reageer hy op die selfgesentreerdheid van sekere
christene deur vir hulle op die nuutmakende werk van die Heilige Gees te
wys. Veral in hierdie teksgedeelte in 1
Korintiërs 12 stel hy die Heilige Gees aan hulle voor as God se
‘liggaamsbouer’. Hy is die Een wat
volgens Paulus daarin spesialiseer om liggame wat in die intensiewe eenheid lê,
weer gesond te maak en van voor af aanmekaar te sit.
Die eerste
faset van die Heilige Gees se ‘liggaamsbouprogram’ vir sy kerk behels die
uitdeel van bepaalde geskenke aan ons, soos wat Paulus in die voorafgaande
perikoop vertel het. Ten einde ons toe
te rus vir ons taak van Godsverheerliking en ons medegelowiges tot diens te
wees, oorhandig die Gees aan elkeen van ons afsonderlik een of meer
genadegawes. Hierdie genadegawes op
Paulus se lys sluit onder andere die sogenaamde ‘buitengewone’ dinge in, soos
die doen van wonders en genesings, asook ‘gewone’ dinge, soos dienslewering,
hulpverlening en onderrig.
As ‘n mens
na die vier plekke in die Nuwe Testament kyk waar die gawes van die Gees ter
sprake kom, naamlik in Romeine 12, 1 Korintiërs 12, Efesiërs 4 en 1 Petrus 4,
dan blyk dit uit hierdie gedeeltes dat daar nie net één onveranderlike groep
gawes bestaan nie. Nee, die Heilige
Gees deel deurentyd dié gawes aan sy kinders uit wat ons binne ons eie
situasies nodig het om die fokus op God en andere te laat val. Maar sou ons tog wel ietwat meer in
besonderheid na die sogenaamde ‘gawelyste’ in hierdie teksgedeeltes kyk, blyk
dit dat die klem deurgaans op die sogenaamde gewone gawes val. Die gewone dinge in die gemeente,
dienslewering, bemoediging en onderrig, ontvang die groot klem, nie die
buitengewone dinge soos spreek in tale en wonderwerke nie. Natuurlik is Paulus nie gekant teen
buitengewone gawes nie. Maar hy besef dat hierdie gawes maklik tot openbare
vertoon en selfgerigtheid kan aanleiding gee.
Mense kan gou-gou vergeet dat die Gees gawes aan hulle gee om God en
andere mee te dien. Daarom moet ons
onsself telkens eerlik afvra waaroor dit vir my gaan, die eer van God of my eie
eer.
Die tweede
faset van die Heilige Gees se ‘liggaamsbouprogram’ behels dat Hy ons lei om die
fokus weg van onsself na andere rondom ons in die kerk te verskuif. In vers 13
maak Paulus ‘n baie belangrike stelling oor die Gees, naamlik dat ons almal met
die één Gees gedoop is. Die Heilige
Gees is aan die ganse kerk gegee. Hy
werk nie maar net in my eie lewe nie.
Nee, Hy verbind my van die eerste oomblik van my bekering af aan almal
wat saam met my in Christus glo. Hy
open my oë om ander gelowiges rondom my te begin raaksien, om hulle gevoelens
en behoeftes in ag te neem, vir hulle sorg te dra, hulle te bemoedig en vir
hulle te bid. Die Heilige Gees verander
my met ander woorde van ‘n selfsugtige wese wat meen dat die ganse heelal om my
en my eie behoeftes draai na iemand wat begin besef dat God en andere
belangriker as ekself is.
Daarom is
die liggaamsbeeld wat Paulus in 1 Korintiërs 12 gebruik om die werk van die
Gees in die kerk te illustreer, so uiters effektief. Binne elke liggaam kan daar maar net twee oë wees, en een neus. Die voet kan nie sê: Omdat ek nou nie ‘n oog
is nie, gaan ek ophou om deel van die liggaam te wees nie. Nee, elke ledemaat, hoe onbenullig sy taak
ookal mag lyk, hy of sy het ‘n bepaalde funksie om die liggaam reg te laat
funksioneer.
In die kerk
is daar ook ruimte vir ‘n groot verskeidenheid van persone, gawes en take. Ons almal kan tog nie preek, of sing of
onderrig gee of wat ookal nie. As ek
dus byvoorbeeld nie kan mooi sing nie, moet ek dankbaar wees vir die ander
gelowiges wat wel hulle stemme kan aanwend om my en andere se geloof op te
bou. Terselfdertyd moet ek op my beurt
my gawes gebruik om hulle te dien en te ondersteun.
Dit lyk
asof ‘n mens dalk hier ‘n wegglipkans kan kry, want sien, Paulus beklemtoon mos
dat ‘n mens nie selfgerig moet wees en die fokus op jouself laat val nie. Dit is nou presies hoekom ek myself maar
skaars hou. Werk dit so? Nee, beslis nie. Want as ek daar in my klein hoekie sit en jy in joune, watter
groter selfgerigtheid kan ‘n mens kry as juis dit! Nee, die klem val op eenheid binne die verskeidenheid, één
liggaam waarbinne verskillende onderdele elkeen hulle eie funksie verrig.
Ek kom
bring ook my tyd en my sangstem en my tegniese vaardighede en my finansiële
kundigheid en my organisasievermoë en my slag met kinders en saam dien ons die
saak van die liggaam van Christus.
Hierdie
besondere teksgedeelte wil vir ons oortuig dat die Heilige Gees ons lei om
ander gelowiges raak te sien. Hy beitel
die selfsugtigheid uit ons harte uit en laat ons besef dat ons een van baie
ledemate in die liggaam van Christus is.
Hy woon immers in ons almal se lewens en wil hê dat ons almal saam ‘n
gesonde en lewenskragtige liggaam moet wees waar die verskillende ledemate in
harmonie met mekaar leef en vir mekaar omgee.
Daarom kan ons nie Christus se liggaam na willekeur in stukke skeur
omdat ons dink dat net ons die waarheid in pag het nie. Ons moet ons oë begin oopmaak vir die
leiding van die Heilige Gees sodat ons bedag kan word daarop om God en andere
raak te sien. Hy wil ‘n gesonde liggaam
hê waarin Hy met vrymoedigheid kan woon en werk. Laat ons dan nie struikelblokke in die Gees se pad na die herstel
van Christus se liggaam hier op aarde lê nie.
Kom ons
laat die Gees toe, in hierdie tyd waarin daar nuwe eise aan die kerk gestel
word, om ons te gebruik tot bevordering van sy koninkryk. Soos vers 31 sê: Lê julle toe op die beste genadegawes, ook in jou spesifieke
gemeente!
Bibliografie
Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Combrink, H J B 1983. 1 Korintiërs 12:13, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig I/5: Riglyne vir doopprediking, 157-164. Kaapstad: NGKU; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Furnish, V P 1999. The theology of the first letter to the Corinthians. Cambridge: University Press; Gandras, J 1976. 4. Sonntag nach Trinitatis: 1. Kor 12:12-27. GPM 30, 298-304; Morris, L 1958. 1 Corinthians. Leicester: IVP; Van der Watt, J G 1988. Wat maak ‘n Christen anders? Bybelstudie oor 1 Korintiërs in dagboekvorm. Wellington: Bybelkor.