1 Korintiërs 12:1-11 (Lambert Jacobs)

14 Januarie 2001

Tweede Sondag na Epifanie

 

Ander Tekste:  Jesaja 62:1-5; Psalm 36:5-10; Johannes 2:1-12

God gee aan sy gemeente ‘n verskeidenheid van geestesgawes waardeur hulle Hom moet verheerlik en die gemeente moet opbou.  Dit gebeur daar waar gelowiges, gelei deur die Heilige Gees, uitroep:  “Jesus is ons Here!”

Teks

Die Eerste Korintiërbrief word deur Lategan (1984:78-79) soos volg ingedeel:

1:1-3                         Aanhef: Afsenders, ontvangers, groete

1:4-9                         Danksegging

1:10-4:21                      Die probleem van partyskappe in die gemeente

5:1-6:20                      Reaksie op wanpraktyke in die gemeente

7:1-11:1                      Beantwoording van navrae uit die gemeente

11:2-14:40                      Die erediens en genadegawes

15:1-58                      Die opstanding van Christus en die gelowiges

16:1-18                      Laaste opmerkings en reëlings van Paulus

16:19-24                      Briefslot en seëngroet

 

Al die preektekste van die volgende drie weke kom uit die gedeelte waarin Paulus vrae rondom die erediens en die gawes wat die Gees gee, aanspreek.  Fee (1987:569) se opskrif by hierdie drie hoofstukke is dan ook tereg: ‘Spiritual gifts and spiritual people’. Hierdie konteks behoort regdeur in gedagte gehou te word.

In 1 Korintiërs 12:1-11 kom die verskille tussen Paulus en die gemeente in Korinte tot ‘n punt, veral rondom die vraag na wat ‘geestelik/Geesvervuld’ is.  Die lengte van Paulus se antwoord (hfste. 12-14) sowel as die aard van veral hoofstuk 14, dui daarop dat Paulus ook hier, soos in die res van die brief, regstellend optree en nie bloot inligting deurgee nie.

Verse 1-3:             Die perikoop begin soos elders in 1 Korintiërs met peri wat daarop dui dat hierdie bespreking ‘n antwoord is op ‘n navraag van die gemeente in Korinte.  Die presiese aard van die navraag vanuit Korinte is onbekend.  Groenewald (s j:155) meen dat die Korintiërs probleme ondervind het om te onderskei tussen die “uitinge van die gees van die afgode en die Gees van God”.  Die uitspraak, “Jesus is Here!” (v 3), was vir die vroeë Christene radikaal en dit wat hulle onderskei het van hulle eertydse heidense verlede.  Die punt wat Paulus maak, is dat net soos wat hulle vroeër meegevoer is na stom afgode, iemand wat nou met die Heilige Gees vervul is, gelei word om die klassieke Christelike belydenis te maak: “Jesus (die gekruisigde) is (deur sy opstanding) Here (van die hele skepping).”

Verse 4-6:  Die konsep van ‘eenheid in verskeidenheid’ wat betref die geestesgawes is gegrond in die goddelike Drie-eenheid self: ‘genadegawes – Gees’, ‘bedieninge - Here’ werkinge – God’.  In hierdie verband merk Furnish (1999:96) op: ‘These serve the rhetorical purpose of emphasizing that the varied gifts have one and the same divine source’.

Vers 7:  Belangrik is dat die Gees die gawes gee tot voordeel van almal, in belang van die gemeente.  Weer Furnish (1999:95): ‘What God intends, according to Paul, is “the benefit of all” (12:7)’.  Die gemeente moet opgebou word deur die benutting van die gawes wat die Gees gee.  So dek Paulus die tafel vir dit wat gaan volg in hoofstukke 13 en 14.  Die gawes is daar om die gemeente mee op te bou en nie uitsluitlik vir die doeleinde van die individuele gelowige nie.  Hierdie belangrike aspek word deur Hübner (1980:253) onderstreep: ‘Wie die Trias: “Geist” - “Herr” - “Gott” nicht drei göttliche Ursprünge aufspaltet, sondern die spätere Lehre von der Drei-einheit präludiert, so spalten die verschiedenen “Gnadengaben” die Gemeinde nicht auf, sondern konstituieren ihre Einheit’.

Verse 8-11:  Dan word ‘n lys van gawes ter illustrasie gegee.  Belangrik is dat die lys in hierdie paar verse nie noukeurig uitgewerk is nie, en ook nie volledig is nie.  Dit is bloot verteenwoordigend van die verskeidenheid van die Gees se manifestasies.  Paulus se gedagte is om ‘n redelik wye lys te voorsien sodat hulle kan wegkom van hulle fokus op een gawe, te wete die spreek in tale.  Die Gees word aan die een kant as oorsprong van die gawes aangedui, maar aan die ander kant ook as norm (pneuma) daarvan.

Die fokus bly op die één God wat deur die één Gees ‘n verskeidenheid van gawes uitdeel in belang van die gemeente.  Verskeidenheid, nie eenvormigheid nie, is essensieel vir ‘n gesonde gemeente.  Vers 11 onderstreep die feit dat God die gawes uit vrye wil, uit absolute genade gee.  Die feit dat die gelowige nie kan roem oor sy of haar gawes nie, word deur Hübner (1980:251) beklemtoon: ‘”Gnadengaben” sind nicht Besitz, Seinsqualität, Leistung des Menschen, der Gemeinde, der Kirche, sondern Gaben der “Gnade” Gottes.  Sie sind “Gnadengaben”.

Konteks

Die drie perikope fokus op die gawes wat die Heilige Gees aan die gemeente gee.  Dit is egter belangrik om die teks nie te oorvra nie en daarom is Furnish (1999:95-96) se opmerkings van belang om deurgaans in gedagte te hou: ‘Despite the importance that Paul attaches to the working of the Spirit, both in his ministry and in the believing community overall, there is no considered doctrine of the Spirit in 1 Corinthians.  There is also nothing in this letter to suggest that he has reflected on precisely how the Spirit or the Spirit’s working is related to God and Christ’.

Conzelmann (1975:204) wys daarop dat geen ander teksgedeelte in die Nuwe Testament ‘n duideliker blik verskaf op die gemeentelike lewe in die vroeë gemeentes, en veral ook juis die werksaamhede in die erediens, as juis hierdie drie hoofstukke in 1 Korintiërs nie.

Om die presiese blikpunt van hierdie perikoop vas te stel, kan die volgende aanhaling uit die kommentaar van Fee (1987:575) beslis van waarde wees: ‘When all of that has been sorted out, and especially in light of their special zeal for tongues, it seems most likely that Paul’s concern at the outset is singular: To insist that “inspired utterance” in itself does not mark what is truly “spiritual”, but the intelligible content of that utterance, content that is ultimately tested by the basic Christian confession of the lordship of Jesus Christ’.

Waar die openingsparagraaf (1-3) die werkinge van die Gees in die regte Christologiese perspektief plaas, plaas die res van die perikoop dit in die regte teologiese perspektief.  Alles - gawes, mense, kerk - het hulle oorsprong te danke aan die één God wat alle dinge in alle mense werk (6).

Preekvoorstel

Wat doen jy as jy sê jy is ‘n christen?  Jy bely daarmee: “Jesus is die Here!”  Paulus sê in vers 3 van die teksgedeelte, jy kan daardie belydenis net uitspreek deur die Heilige Gees.  Daarom sou ‘n moontlike tema vir die preek kon wees: Ek bely deur die Gees.  Dit is deur die werking van die Heilige Gees dat ek kan uitroep: “Jesus is die Here!  Jesus is mý Here!”

Vir ons hier in Suid-Afrika was dit oor die algemeen nog nie juis moeilik om só ‘n belydenis te maak nie.  Dit het my ook nie eintlik iets gekos nie.  My belydenis as Christen vra nie eintlik juis van my enige opoffering nie.  Niemand dank my af die oomblik as hulle hoor dat ek ‘n belydende christen is nie.

Maar vir die christene in die eerste eeu was dit meestal nie so eenvoudig nie.  Korinte was ‘n hawestad, trouens die stad was eintlik tussen twee hawens geleë.  ‘n Hawestad het gewoonlik ‘n hele klomp dinge wat met hom saamkom.  Een daarvan in Korinte se geval was die feit dat baie verskillende soorte mense na die stad gelok is, met natuurlik ook al die verskillende godsdienste.  Die stad het dus gewemel van tempels en beelde vir al die verskillende gode.

Maar Korinte was ook die hoofstad van die Romeinse provinsie Agaje.  As setel van die streek kan ‘n mens aanvaar dat die Romeinse owerheid gesteld was daarop dat dinge reg gedoen moes word.  So moes die keiser byvoorbeeld as god vereer word, iets wat vir die Christene natuurlik dwars in die krop gesteek het.  Akwila en Prisilla, Paulus se kollegas, was juis in Korinte omdat hulle pas vantevore uit Rome verban is deur keiser Klaudius.

Dus, as iemand in daardie tyd bereid was om te bely: “:Jesus is Here”, kan jy maar aanvaar dat dit nie vir hom of haar maar om’t ewe was nie.  O nee, dit het hom gekos, heel dikwels sy werk en lewensonderhoud, partykeer ook sy familiebande.  Die uitspraak, “Jesus is Here”, was dus vir hulle ‘n radikale geloofsbelydenis.  Daarmee het so iemand radikaal gebreek met sy vroeëre heidense verlede.  Sy hele lewe sou nou anders wees.

Die punt wat Paulus hier maak, is dat net soos wat hulle vroeër amper willoos meegevoer is na stom afgode, so word iemand wat nou met die Heilige Gees vervul is, gelei om die klassieke geloofsbelydenis te maak: Jesus die gekruisigde is deur sy opstanding en hemelvaart Here van die hele skepping.

As ek dan nou soos die mense van Korinte sover gebring word om te bely dat Jesus die Here is, het dit bepaalde implikasies vir my hele lewe.  Vroeër in die brief sien ons dat dit my deel maak van die gemeente as tempel van God en hoe dit ook implikasies het vir hoe ek my liggaam hanteer.

 

Nou sê Paulus dat my belydenis deur die Gees ook belangrik is vir my verstaan van die gawes wat God gee.  In die gemeente van Korinte was daar onderlinge verskille en verdeeldheid (vgl. 1 Kor 1:10).  Hulle het onder andere die dominees teen mekaar afgespeel.  ‘n Groot probleem in die gemeente was geestelike hoogmoed.  Hulle het graag geroem op hulle wysheid en kennis en welsprekendheid.

En nou het die gemeente boonop verskillende gawes van die Gees ontvang, en elkeen klop homself op die skouer en sê ék het die gawe wat vir die gemeente se welwese die belangrikste is.  Dit is skynbaar veral die gawe van tale wat in Korinte ‘n belangrike rol gespeel het.  Dit is dan ook die enigste van Paulus se briefadresse waar hierdie gawe so druk onder bespreking was.  In die ander briewe word dit beswaarlik genoem.

Nou kom Paulus en hy blaas hulle ballon so ‘n bietjie af.  Hy wys vir hulle op die verskeidenheid van gawes en hy doen dit op ‘n ongelooflike manier.  Kyk ‘n bietjie na verse 4-6.  Paulus knoop die verskeidenheid in gawes aan die verskeidenheid binne die goddelike Drie-eenheid.  Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ‘n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring.  Die konsep van eenheid in verskeidenheid wat betref die gawes in die gemeente is dus gegrond in die Drie-eenheid self.

Dit is baie belangrik dat ons die besondere eenheid in hierdie gedeelte moet raaksien.  Die Korintiërs het gedink, en net so is daar baie groepe in ons tyd wat so dink, dat omdat die Gees teenwoordig is in krag en gawes, hierdie krag en gawes die werklike getuienis is van die Gees se teenwoordigheid.  Met ander woorde, daar waar ons bepaalde kragtige gawes in aksie sien, daar kan ons seker wees is en werk die Heilige Gees.  Nie so vir Paulus nie!  Een Engelse skrywer stel dit goed: “The ultimate criterion of the spirit’s activity is the exaltation of Jesus as Lord.”  Die Gees werk daar waar Jesus verkondig word, daar waar Jesus as Here bely word, waar God se Naam grootgemaak word!  Dit is die uiteindelike kriterium vir die werk van die Gees, nie ‘fancy’ aktiwiteite nie, selfs al is ‘n mens ook dankbaar as hulle onder leiding van die Gees verrig word.Dus, my gawes en bedieninge moet so aangewend word, dat dit sê: “Jesus is die Here!”  Wanneer ek blomme rangskik vir die kerkgebou of koppies regsit vir die teedrink of die saal se geute skoonmaak of iets skryf vir die gemeenteblad of iemand in die hospitaal besoek of iemand bel sommer net om te hoor hoe dit gaan, of as ek by my selgroep of Bybelstudiegroep se byeenkoms is, oral moet ek deur my gawes en betrokkenheid uitroep: “Jesus is my Here!”  Want dit kan ook gebeur dat ek al daardie dinge en nog baie ander doen om ander redes, dalk sodat ék verheerlik kan word en nie die Here nie.  Dan moet ek myself dringend afvra: Is dit nog ‘n gawe van die Gees waarmee ek hier die Here se saak dien, of is ek maar op my eie aan die gang?

Baie keer word daar erg krities na die gereformeerde kerke gekyk omdat daar nie sulke buitengewone dinge in die byeenkomste gebeur nie.  Beskuldigings soos “Julle het nie die Gees nie!” of “Julle inhibeer die werking van die Gees!”, word dan gemaak.  En baie keer is dit juis hierdie aspek wat die klemverskille bring.  Wie word daardeur grootgemaak?  Is dit ‘n groot lawaai met weinig wol?  Of is dit werklik verkondiging van die belydenis van die gekruisigde Christus?  God werk deur sy Gees, sigbaar, daar waar sy Naam verkondig en sy koninkryk uitgebou word.

Die Heilige Gees is nie ‘n blindelingse meevoering nie.  Die Gees word deel van my denke.  Daarom kon Paulus ook vir die Romeine oproep in Romeine 12:2: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”  God neem my met Hom saam deur sy Gees op sy pad.  God het aan sy kerk alles gegee wat nodig is om kerk te wees in hierdie wêreld.  Ons moet net saam met die Heilige Gees op hierdie pad gaan, nie op ons eie pad nie.

Hierdie gedeelte is al deur die eeue heeltemal uiteenlopend geïnterpreteer.  Charismatiese ouens trek dié kant toe en die gereformeerdes weer ander kant toe.  Mag God tog gee dat ons nooit sal probeer om die Heilige Gees in ‘n kassie te sit oor hoe Hy moet optree en wat Hy kan en mag doen nie.  Mag vers 11 tog realiseer, dat die Gees sal doen wat Hy wil waar Hy wil.

Kom ons kyk ook nie in ons gemeente wie doen wat en wie se werk lyk die belangrikste of die mees prominente nie.  Nee, kom ons vra almal: Here, gee aan my die gawes om u voluit te kan eer!  Here, help my om deur dit wat ek doen en deur die gesindheid waarmee ek dit doen, U Naam groot te maak, dat my lewe en ons gemeente se lewe sal uitroep: “Jesus is die Here!  Jesus is ons Here!”

 

Bibliografie

Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress;  Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Furnish, V P 1999. The theology of the first letter to the Corinthians. Cambridge: University Press; Groenewald, E P s.j. Die eerste brief aan die Korinthiërs. Kaapstad-Pretoria: NGKU; Hübner, E 1980. 2. Pfingsttag: 1. Korinther 12:4-11. GPM 34, 250-257; Lategan, B C 1984. 1 Korintiërs, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 57-79. Pretoria: NGKB; Morris, L 1958. 1 Corinthians. Leicester: IVP.