14 Maart 2004

DeRDE SONDAG IN LYDENSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Lydenstyd gebruik te word

Fokusteks: 1 Korintiërs 10:1-13

Ander tekste: Jesaja 55:1-9; Psalm 63:1-8; Lukas 13:1-9

Tema

Deur God se Woord word ons dikwels opgeroep om te bekeer en ons opnuut toe te wy aan Hom. Dit is nodig aangesien daar baie versoekings in die wêreld is. Nietemin sal God nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, en wanneer versoekings wel kom, gee Hy ook die uitkoms. Die liturgie van vandag wil dan ook help om ons lewens opnuut op God te rig, ons lewens aan Hom te wy en ons geborgenheid in Christus opnuut te bevestig.

Oculi: Sien vir die benaming van dié Sondag, die basisliturgie vir Lydenstyd.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Oop gesprek

As God toelaat dat sy kinders versoek word, hoe kan ons dan sê dat Hy ’n goeie God is?

Loflied

Lied 121

Aanvangswoord

My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.

Seëngroet

"Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus,

deur die werking van die Heilige Gees!"

Antwoord

Doopherinnering

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Sien basisliturgie.

Skriflesing

1 Korintiërs 10:1-13

Kindertyd

Hongerdoek/Via Dolorosa

Prediking

Antwoord

DIENS VAN DIE TAFEL

Formulier

Gemeenskap

Nagmaalsepiklese

Sien basisliturgie.

Sang

Lied 303

Dankoffers

Vra as afwisseling 'n kind om die gebed na die offergawes te doen.

UITSENDING

Verootmoediging en genadetoesegging

Na aanleiding van Psalm 63

Voorganger: Ek soek U, o God my God

Gemeente: Ek dors na U, ek smag na U

Voorganger: Ek wil by U in die erediens wees

Gemeente: om U self hier te beleef.

Voorganger: U troue liefde vir my is meer werd as die lewe

Gemeente: daarom sal ek U prys.

Voorganger: Ek sal U my lewe lank loof

Gemeente: my hande ophef om u Naam te prys.

Voorganger: Soos elke keer wanneer ek die goeie dinge wat U vir ons gee geniet

Gemeente: sal ek u roem.

Voorganger: As ek aan U dink waar ek op my bed lê, oor U peins in die nag, dan weet ek:

Gemeente: U help my altyd en dan juig ek.

Voorganger: Ek bly altyd naby U,

Gemeente: U hand ondersteun my.

Voorganger: Die mense wat my ondergang soek,

Gemeente: Ag Here, sorteer hulle uit.

Voorganger: Laat die president en al die leiers in Suid-Afrika hulle in God verbly

Gemeente: laat elkeen wat op God vertrou Hom prys.

Sang

Lied 525:1, 3/NSG 154

Bulletin

Slotsang

Seën

"Die Here seën jou en beskerm jou, Hy sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees, en Hy sal al jou gebede verhoor en aan jou vrede gee!"

Sang

Lied 312/313/314/315 "Amen" of NSG 355/356

PREEKSTUDIE – 1 KORINTIËRS 10:1-13

Teks en konteks

Die eerste lesers van die Korintiërbrief is in alles ryklik geseën, sodanig dat dit by hulle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie (1:5, 7). Nog meer, as deurtrekte Helleniste, wat boonop in ’n hawestad woon waar hulle gereeld blootgestel is aan wêreldinvloede, het hulle `n besondere belangstelling in kennis en wysheid (gnósis en sofia). Boonop het hulle nou geestelikes (pneumatikoi) geraak. Hierdie geestelikheid het hulle wysheid en kennis superieur gemaak, so reken hulle. Dit is nie toeval dat die frase "As een van julle dink …/As iemand meen dat hy/sy …", op drie sleutelplekke in die brief voorkom nie (3:18; 8:2; 14:37), en dat dit telkens handel oor hoogmoed oor en misplaaste vertroue op, die drieslag van wysheid, kennis en geestelikheid.

Ons perikoop, volgens die meeste kommentare, behoort tot die middelste gedeelte van die brief (hfst. 8-10). In hierdie drie hoofstukke word drie verskillende sake wat met mekaar verband hou, bespreek: Kan gelowiges in die heidense tempels gaan voedsel eet wat aan die afgode geoffer is? (Deur Paulus veroordeel in 8:1-13; 10:1-22). Tweedens, kan gelowiges geofferde voedsel wat op die mark verkoop word, tuis en by vriende eet? (Paulus keur dit nie af nie – 10:23-11:1.) Derdens, bevraagteken die Korintiërs Paulus se gesag en vryheid in sy aanwysings oor die twee sake. In 9:1-27 verdedig hy sy apostoliese gesag.

Hulle redenasie is waarskynlik op die volgende aannames gebou: Almal het kennis (8:1, 10, 11); Daar is geen God, behalwe Een nie en daarom is daar geen afgode nie (8:4); Kos is tog vir God `n neutrale saak (6:13) – wat en waar ons eet beïnvloed nie ons verhouding tot God nie (8:8); Niks kan ons benadeel nie, want ons word beskerm deur die doop en die nagmaal (10:1-5, 21). Wat hulle eintlik vra, is: Waarom kan ons nie steeds saam met vriende in die tempels feesvier nie? (8:10). Paulus dring nie aan op sy regte as apostel nie en daarom bevraagteken ons ook sy apostelskap (9:3-7). Waar kry hy die gesag vandaan om voorskriftelik te wees?

Paulus se antwoord is dat liefde, en nie kennis nie, die grondslag van `n Christen se optrede is. Kennis skep hoogmoed (juis hulle probleem), maar liefde bou op. Ware kennis is nie soseer om te ken nie, maar juis om deur God geken te word. Ons liefde is die bewys dat God ons ken (8:1-3). Paulus se konklusie is dat Christelike vryheid om alle kos te eet, nie misbruik kan word nie. Liefde, vir die medegelowige is die norm vir Christelike lewe, nie vryheid nie (8:7-13).

Die Korintiërs se wanopvatting rakende die sakramente word deur Paulus bestry deur na die gebeure met die Godsvolk tydens die uittog, te verwys.

Hulle voorregte (verse 1-4)

Die volk het baie voorregte geniet: beskerming, leiding, onderhouding, vergifnis. Dit alles kon hulle in `n reeks merkwaardige gebeure tydens die uittog waarneem. Die volk het hulle in Moses laat doop (die mediumvorm ebaptisanto word verkies bo die passiewe); hulle is aan hom verbind, hulle het as `t ware vir hom gesê: "Ons gaan die see in op u belofte, ons verlaat ons op u, ons is vir u rekening, u is aanspreeklik vir wat met ons gebeur, ons vertrou u as leidsman ..." Op soortgelyke wyse het die Korintiërs na Christus opgesien toe hulle hulle in hom laat doop het.

Dit is duidelik dat Paulus besig is om die verwaande en aanmatigende gedrag van die Godsvolk onder Moses te vergelyk met die arrogansie en hoogmoed van sommige van die Korintiërs. Hulle is ook deur die doopwater, hulle het ook gemeenskaplike maaltye gehou, hulle geniet die voorregte van die gawes, maar loop die gevaar om die Gewer te vergeet. "They had become so absorbed with rights, that they were now presuming on the efficacy of their relationship with the Lord" (Prior).

Nie minder nie as 5 keer word die woord "almal" gebruik. Almal was onder die beskerming van die wolk, almal is deur die see, almal is in Moses gedoop, almal eet die buitengewone voedsel, almal drink dieselfde drank, almal … en tog kon hierdie tekens van God se genade hulle nie beskerm teen sy oordeel oor hulle afgodediens nie.

Hulle oortredings (verse 5-10)

Die Israeliete se ondervindings onder die beskermende wolk – veilig deur die see, aan die manna-tafel, by die rotsfontein – was soos die Christelike doop en die nagmaal van die Here, maar die gemeente moet waak om nie te sondig soos die Godsvolk van ouds nie.

Vers 6 gee `n algemene tipering van sonde as hunkering en heimwee na die verkeerde. Daarna volg vier voorbeelde van sondige optrede. Soos Israel voor die goue kalf, eet en drink die Korintiërs in die tempels voor die afgode en gee hulle aan uitspattighede oor (10:7). Soos by die goue kalf, het die volk baie plesier, maar dis `n afgodiese eet-en-drink. Die gevaar dat die eet-en-drink van geestelike voedsel ongemerk kan oorgaan in `n eet-en-drink waarvan Christus nie die middelpunt is nie, is dreigend (Smit). Die Korintiërs doen mee aan tempelprostitusie soos Israel by Sittim (10:8; vgl. 6:12-20). Om die slagspreuk van "alles is geoorloof" te gebruik, dit boonop los te maak van die liefde, is bloot om die sonde van die verlede te kontinueer onder die vaandel van vryheid.

Israel het God uitgetart met hulle klag dat Moses hulle uit Egipte na dors en slegte kos weggelei het. Die Korintiërs tart Christus met hulle hunkering na die feesmale in die tempels (10:9; vgl. 10:20-22). Dit gaan om `n mengsel van ongeduld, uittarting, uitdaging en `n onwil om te leef vanuit wat God gedoen het. Nie net word die gawes van die Gewer geskei nie, die Gewer word voorgeskryf wat H(h)y moet gee. Om God te versoek is om sy geduld uit te probeer deur wantroue, ongeloof, gebodsoortreding en wrewel (Smit).

Soos Israel in verset gekom het teen die leierskap van Moses, het die Korintiërs God se apostel en sy waarskuwing teen afgodery en onsedelikheid verwerp (10:10). Trouens, hulle twis, kla, stry oor leierskap en so ontstaan partyskappe en faksies. Die verband met die Korintiërs is duidelik. Met die verwysing na God se straf oor Israel, waarsku Paulus God se volk van die eindtyd, teen hulle selfvertroue. Hy roep hulle tot vertroue op God. "They were relying on God-given means of grace and God-given experiences, rather than on God himself in Christ" (Prior). Paulus het pas (9:24-27) die noodsaak van dissipline beklemtoon, die Korintiërs moet dieselfde doen.

Die gevolge (verse 5-10)

Die gevolge van hulle optrede word in dramatiese en tragiese frases beskryf: hulle is neergeslaan, drie en twintigduisend het geval, hulle het omgekom (let op die intensiewe vorme van die Griekse werkwoorde). Die optrede van die Godsvolk lei tot die een katastrofe (letterlik, vers 5) na die ander.

Die waarskuwing en die Goddelike "maar" (verse 11-12)

Die heils- en onheilsgeskiedenis is opgeskryf as tipe, prototipe, kopie, voorbeeld, foto, spieëlbeeld vir die gemeente – tot hulle voordeel, "to act as warning on the slippery slope into rejecting God and relying on self". Die tipe is "to drill sense into us", letterlik om nous in ons te plaas (nouthesian, 11) (Prior). Gesien die tyd waarin hulle leef, is die oproep nog dringender. Hulle/ons staan aan die einde van die tye, die sameloop van die eone, daardeur word die dringendheid groter.

Smit sê: "Pop beskryf die rol van die tipologie in hierdie vermaning op aangrypende wyse. Omdat tupos ook afdruk of afbeelding kan beteken, sê hy dat ons foto, in hierdie mense, lewensgroot in die Skrif voorkom. Ons herken in hulle wat ons geword het. Ons herken ook in hulle wat ons kan word: `God houdt ons hier een foto voor van wat wij zijn, en het is fijn om ernaar te kijken. Maar ook een foto van wat wij zullen zijn als wij in hetzelfde kwaad zou vervallen als zij ... Kijk er goed naar! Laten wij voorgoed de schrik te pakken krijgen voor de tweede foto van onszelf. Laat het nooit zover komen dat wij worden wat zij waren’."

Oor vers 12 as skopus skryf Calvyn: "Uit die voorgaande besluit die apostel dat ons nie so moet roem in ons begin of voortgaan (in die geloof) dat ons gerus moet slaap nie. Want die Korintiërs roem so op die feit dat hulle staan, dat hulle hulle swakheid vergeet en in baie sonde val. Dit was `n verkeerde vertroue waaroor die profete ook Israel bestraf het … Daar is twee soorte gerustheid. Die een steun op die beloftes van God, daarom kan die gelowige met `n godsalige gewete verseker weet dat God hom of haar nimmermeer sal verlaat nie, en terwyl die geloof op hierdie onverwelklike sekerheid geskoei is, kan hy onverskrokke die aanvegtinge, sonde en die duiwel trotseer; nogtans, gedagtig aan sy swakheid, sal so `n persoon homself met vrees en ootmoed op God rig en hom gehoorsaam. Dit is `n heilige gerustheid wat nie van geloof geskei kan word nie …

Daar is ook `n ander soort gerustheid wat uit on(bed)agsaamheid (onachtzaamheid) spruit, wanneer mense deur die teenswoordige gawes opgeblase raak, geen sorge het nie, maar in hulle huidige toestand berus asof hulle totaal buite gevaar van die aanvalle van die duiwel is. Dit is die soort gerustheid waarvan Paulus die Korintiërs terugroep omdat hy gesien het dat hulle tevrede met hulle dwase opvattings is. Maar, hy gebied hulle nie om met benoude harte aan die wil van God te twyfel nie, ook nie om in onsekerheid hulle saligheid probeer verwerf nie. In een woord: Paulus weerlê hier die onvastigheid wat op mense eerder as op God gefundeer is (Vry vertaal).

Die troos van vers 13 is tweërlei: As die versoeking/toets (peirasmos) oor hulle kom, kan op God gereken word; Hy is getrou. Eerstens het God belowe dat hulle nie bo hulle vermoë getoets sal word nie. Tweedens, sal Hy die uitkoms gee; letterlik die uitgang/ontsnaproete maak – `n duidelik sinspeling op Israel se exhodos. Daar is `n roete uit die versoeking/toets en boonop sal God hulle in staat stel om op die roete te volhard.

Preekvoorstel

Ons is almal bekend met die nut en gebruik van voor- en na-foto’s. Blaai maar deur enige tydskrif. Voor die dieet het sy so gelyk, na die dieet lyk sy nou so – merkwaardig! Kyk na die televisie. Op die linkerkant van die skerm is die badkamer liederlik. Op die regterkant lyk hy nou splinternuut, nadat die nuwe skoonmaakmiddel gebruik is – fantasties!

Ek het ook `n voor- en na-foto van myself laat neem. By die gimnasium waar ek veronderstel is om gereeld te oefen is `n promosie geloods: Laat jou inskryf, volg die oefenprogram, volg die dieet, verander jou lewenstyl, raak ontslae van `n paar ongesonde gewoontes en jy kom anderkant uit met `n nuwe liggaam. Alles natuurlik onder leiding van ‘n persoonlike afrigter, `n leidsman wat jou oor die x-aantal weke sal voorgaan, inspireer, bystaan, raadgee en moed inpraat. Wat `n voorreg! En, O ja, neem tog `n foto voor die program begin en een nadat jy klaar is.

Ek het my laat inskryf en laat fotografeer. Aanvanklik was die entoesiasme groot, maar mettertyd, soos dit met alle vlees gaan, het dit getaan – soggens laat geslaap, afgewyk van die voorgeskrewe eetgoed en drankies, hier en daar so `n bietjie begin kul, gesukkel om die ongesonde gewoontetjies af te skud, ensovoorts, ensovoorts. Kortom, ek het begin dink dat om net ingeskryf te wees, `n waarborg is vir die resultaat. Die resultaat was egter dat daar nie eintlik `n verskil was tussen die voor-foto en die na-foto nie. Ek het geleer dat die voorreg van die program nie die resultaat waarborg nie.

Buiten vir die verkwiste geld, is dit seker nie `n doodsonde nie. Behalwe as dit in die geloofslewe so gaan. Dan kan die gevolge katastrofies wees. Soos dit met Israel gegaan het. Aanvanklik ongelukkig oor hulle toestand in Egipte, entoesiasties agter Moses, die leidsman aan, op pad na beter omstandighede. Alles tel in hulle guns, in die oefenplek van die woestyn kry hulle die regte eetgoed, die beste drinkgoed, die regte program, het hulle `n persoonlike leidsman, moedinprater, aanspoorder. Hulle moet net volhard. Wat `n voorreg!

Maar helaas, soos dit met die vlees gaan, raak hulle nie ontslae van die slegte gewoontes nie, hunker hulle na die vorige eet- en drinkgoed, neem hulle bevoorregte posisie as vanselfsprekend aan. Ergste is, hulle begin kyk hoe ver hulle van die program kan afwyk sonder dat daar iets met hulle sal gebeur. Die resultaat is dat Israel se voor- en na-foto nie van mekaar verskil nie. En dieselfde is besig om met die Korintiërs te gebeur. Die parallel tussen Israel en Korinte kan aangetoon word.

Op hierdie Sondag, wat Oculi, oog-Sondag, genoem word, moet ons goed kyk. Die foto is immers daar vir ons instruksie. Ons wat staan, moet mooi kyk dat ons nie val nie. Op watter manier bedreig versoekinge ons? Smit beveel aan dat buiten om te beklemtoon dat kultus etiek veronderstel, dat doop roep om `n heilige lewenswandel met die gepaardgaande afwysing van selftevredenheid en selfversekerdheid, die prediker ook die profetiese verantwoordelikheid aan die dag sal lê en konkrete leiding gee oor waarin die heilige lewenswandel bestaan. Hy beveel aan dat die konkretisering so na as moontlik aan die voorbeelde van die perikoop gehou sal word om te waak teen die gevaar dat die prediker sy gunstelingsondes van elders af inlees. Sien ook sy gebruik van Kierkegaard se verhaal oor die ganse.

… en so voel dit vir ons, word ons bo ons kragte versoek. Mense wat hulle op die Here rig, op God vertrou, sy verwagting in Hom stel, die Here se paaie wil bewandel (Ps. 25), kan weet: "Hý is die een wat talle male die foto’s weer voor ons ophang, die spieëlbeeld van wat kan wees na ons laat terugkaats, sodat ons sal terugskrik en behoue bly. Hy is die een wat getrou bly en ons sal staande hou … wanneer ons nie in oormoed meen dat ons self kan staan nie. Selfs in ons allerergste aanvegtinge en die allerdonkerste oomblikke sal die God van die evangelie, die troue Voleinder van die beloftes, nog daar wees" (Smit).

Ons na-foto hoef nie soos ons voor-foto te lyk nie.

Bibliografie

Barrett, C K 1971. The First Epistle to the Corinthians. Black’s New testament commentaries; Calvyn, J 1972. Zendbrieven van Paulus. W A de Groot; Fee, G D 1987. The First epistle to the Corinthians. NICONT; Groenewald, E P 1967. Die Eerste brief aan die Korintiërs. NG Kerk Uitgewers; Grosheide, F W 1957. I Korinthe. Commentaar op het Nieuwe Testament; Jonker, W D 1982. Prediking in die lydenstyd, in Burger, C W, Müller, B A en Smit, D J (reds), Riglyne vir lydensprediking, 7-20. Woord teen die lig 1/2; Malan, FS 1991. Sinvol lewe vir ander … in Roberts, J H, Vorster, W S, Vorster, J N, Van der Watt, J G (reds), Teologie in konteks. Orion; Prior, D 1985. The message of 1 Corinthians: Life in the local church. The Bible speaks today; Smit, D J 1983. 1 Korintiërs 10:1-13 in Burger, C W, Müller, B A en Smit, D J (reds), Riglyne vir doopprediking. (Woord teen die lig 1/5); Soards, M, Dozeman, T, McCabe, K 1994. Preaching the Revised Common Lectionary: Year C Lent/Easter; Bosman, J 1985. Vierde Advent: Matteüs 1:18-24, in Van der Laan, Woord in beweging 1 – Advent tot Epifanie11, 36-47.