9 februarie 2003

vyfde sondag na epifanie

liturgiese voorstel

Fokusteks: 1 Korintiërs 9:16-23

Ander tekste: Jesaja 40:21-31; Psalm 147; Markus 1:29-39

Inleiding

Ons handhaaf steeds die gedagte dat die gelowiges in die Sondae na Epifanie hulle eie lewe in die gemeente en hulle sending na die wêreld nuut moet ontdek. Die Nuwe Testamenttekste vir hierdie Sondag gaan voort met die lees van tekste uit 1 Korintiërs en Markus, met die Korintiërsteks as fokusteks.

Die Jesaja- en Markusteks vir hierdie Sondag lê, in die lig van epifanie heel naby mekaar. Die Jesajateks vier God se onbeperkte mag en bring n boodskap van verlossing in een van Israel se mees hopelose tye die ballingskap. Israel se klag in vers 27 vorm die kern van dit wat daar oor God in vers 21-26 en vers 28 gesê word. Vers 29-31 sê hoe God die verlossing in mense se lewens uitwerk.

Hierby sluit die gebeure in Markus 1:29-34 baie duidelik aan. Jesus genees die wat siek is en Hy gee om vir die wat na Hom toe kom. Die eerste gebeure vers 29-31 is die rondom die genesing van Petrus se skoonma. Die tweede, vers 32-34, vertel van genesings en duiweluitdrywings wat Jesus verrig. Onder die mees hopelose omstandighede bewerk God die verlossing deur sy Seun, Jesus Christus. Dit is die boodskap van Epifanie. Die Lig het gekom. Die laaste gebeure, vers 34-39, vertel van Jesus se afsondering in gebed voor die begin van sy preektog. Die gemeente moet opnuut ontdek wat haar taak is: om hierdie boodskap te verkondig.

Psalm 147:1-11, 20c is n loflied. Die psalm beweeg heen en weer tussen God se skeppende en verlossende krag, tussen die onmeetlike uitspansel (v 4-5) en sy verlossingsdade op aarde (v 2-3, 6). Vers 2-3 vertel van die terugkeer uit ballingskap terwyl vers 6 in meer algemene terme van God se verlossing vertel die Here laat die hulpeloses weer opstaan. Vers 8-9 vertel verder van God se skeppingsmag. Vers 11 sluit af en sê hoe mense moet leef: hulle moet God en die ander dien.

Hierdie lewe van die gelowiges word in die Korintiërs-teks verskerp. Ons lees in hierdie teks hoe Paulus al sy regte prysgee en geen beloning ontvang en verwag nie. Terwyl mens na die teks luister, kom jy agter hoe Paulus n instrument van die evangelie word ter wille van die redding van ander. Die vreugde om sonder vergoeding die evangelie te dien, is Paulus se beloning. Ons is vandag in die kerk nogal ingestel op ons regte. Ons het te min van Paulus se persoonlike nederigheid. Hoeveel van ons plaas regtig die evangelie en die gevoel van ander bokant onsself? As ek die houding inneem dat die evangelie eers vir my iets beteken voor dit vir jou iets beteken, het ek my lewe soos Christus reeds prysgegee.

Liturgiese voorstelle

Volg die liturgiese voorstelle van die Basisliturgie vir die Sondae na Epifanie. Die volgende is aanvullend:

Skuldbelydenis

Die teks uit Jesaja kan in die storielyn baie goed as skuldbelydenis en vryspraak gebruik word. In die skuldbelydenis kan die gemeente gelei word om spesifiek haar sonde van kortsigtigheid te bely. Dit kan byvoorbeeld soos volg hanteer word:

Voorganger: Die woorde van Israel in Jesaja 40:27 lê baie vlak op ons tong.

"Here, U sien my nie raak nie

en gee nie om wat van my word nie,

my reg gaan by U verby. "

Ons klag kan soos Israel sn n vroom klank hê, maar eintlik verberg dit n kleingeloof

wat nie kan sien (glo) dat God, ver bo mense se begrip, in die wêreld aan werk is nie.

Vers 21-31 gaan oor die kortsigtigheid van so n geloof.

Lees: Jesaja 40: 21-31

Kom ons bely vanoggend die kortsigtigheid van ons geloof voor die Here God.

Gemeente: "Here ons bely voor U dat ons kortsigtig is. Ons sien nie raak dat U ver bo ons

begrip in die wêreld aan die werk is nie. "

Liturg: God se antwoord hierop is: "Ek is onbeperk in my almag. Kyk vir n oomblik na die aarde as my skepping" (vers 21-24). En verder: "Ek kan in my grootheid met niemand vergelyk word nie(vers 25). Kyk vir n oomblik na die hemel en die sterre(vers 26)."

God is meer as net n optelsom van dit wat ons ervaar. Hy is vir ons mense onvatbaar en onvergelykbaar. Daarom kan ons op geen oomblik sê dat die Here ons nie raaksien nie of dat dit wat in ons lewens gebeur Hom skynbaar nie aangaan nie.

Geloofsbelydenis

Die geloofsbelydenis volg op die skuldbelydenis. Alternatiewe moontlikhede:

Die aanbeveling van die vorige week pas hier ook baie goed.

Vers 28, 29a kan ook in die plek van die geloofsbelydenis aangehaal of saam hardop gelees word. (Dit bevat ook dieselfde twee elemente, naamlik dat God die Skepper is, maar ook die Een wat verlos die vermoeides krag gee.)

 

PREEKSTUDIE 1 KORINTIëRS 9:16-23

Teks

Die perikoopindeling van die leesrooster (1 Kor 9:16-23) is nie n afgeronde eenheid nie. Die prediker behoort hoofstuk 9 in sy geheel in ag te neem met die oog op voorbereiding vir die prediking. 'n Onderverdeling is moontlik, maar verse 16-18 sluit direk by die voorafgaande aan, wat n skeiding tussen verse 15 en 16 kunsmatig maak. Binne die konteks van hoofstuk 9 kan verse 19-23 as fokusteks gebruik word, alhoewel verse 24-27 nie buite rekening gelaat behoort te word nie. Vir die preekstudie word die hoofstuk in sy geheel gebruik, met die fokus op verse 19-23.

Oppervlakkig lyk dit asof Paulus die onderwerp verander wanneer hy in 9:1 skielik oor sy apostelskap begin praat, na die bespreking van die eet van offervleis in hoofstuk 8. Eers in hoofstuk 10 keer hy na die bespreking van die offervleis-probleem terug. Enkele kommentatore voer selfs aan dat verskillende briewe met mekaar gekombineer is (hulle sien 'n kontradiksie tussen Paulus se houding teenoor offervleis in hoofstuk 8, enersyds en hoofstuk 10, andersyds). Daar is egter geen rede om só 'n breuk te veronderstel nie, alhoewel Paulus dikwels drastiese wendinge in sy beredenering het (Barrett).

Die tema van hoofstuk 9 is steeds die vryheid van die gelowige, maar vanuit die gesigspunt van Paulus se vryheid as apostel. In hoofstuk 8 het Paulus aangedui dat die gelowige se vryheid ook selfbeperking ter wille van ander kan inhou (die "sterk" gelowige is vry om afgodsoffervleis te eet, maar ook om dit ter wille van die swakker broer nie te eet nie). In hoofstuk 9 gaan dit ook om vryheid en vrywillige selfbeperking, maar vanuit 'n ander hoek. In die eerste deel verdedig Paulus sy apostelskap (wat klaarblyklik in Korinte aan voortdurende aanvalle onderworpe was) op grond daarvan dat Christus aan hom verskyn het (9:1) en dat die gemeente in Korinte die vrug van sy apostoliese arbeid is (9:1-2). Daarna gaan hy oor na 'n bespreking van die reg van die apostel op lewensonderhoud vanuit die gemeentes wat hy bedien (9:3-14) met 'n verskeidenheid argumente.

Hierdie argumente moes klaarblyklik 'n strydpunt tussen Paulus en sy teenstanders besleg. Die groot aantal argumente ("alledaagse waarhede"; die wet van Moses; die algemene gebruik van tempeldiens; 'n woord van die Here Jesus) ten gunste van die apostels se reg op lewensonderhoud, skep die indruk dat die teenstanders dié reg ontken het. Die werklikheid is egter anders. Paulus gebruik dié argumente om aan te toon dat hy, soos sy teenstanders, die reg op lewensonderhoud erken. Teologies stem hulle met mekaar ooreen (soos trouens ook in hoofstuk 8). Die vraag waarom dit gaan, is: Waarom het Paulus dan nie van hierdie reg gebruik gemaak nie? Blykbaar het sy teenstanders dit gebruik om sy apostelskap te bevraagteken. Hul argument was moontlik só: Is die feit dat Paulus nie aanspraak maak op die lewensonderhoud waarop 'n apostel geregtig is nie, nie dalk 'n teken dat hy self twyfel aan sy apostelskap nie?

Paulus vat sy beredenering saam deur die reg op lewensonderhoud te verdedig (9:14), maar sê dan in 'n emosioneel-belaaide sin (wat as 't ware struktureel uitmekaarval onder die druk van sy passie oor die saak) dat hy nie dié reg gebruik nie (9:15). Die rede daarvoor is dat hy die evangelieverkondiging nie as beroep gekies het nie, maar dat dit aan hom opgedwing is (9:16-17). Die woorde wat ons vertaling weergee met "omdat ek moet," is sterk taal. Paulus gebruik die Griekse woord "anangke" wat dui op lot, 'n noodsaak hom opgelê, waarin hy geen keuse het nie. In vers 17 gebruik hy die Griekse woord "oikonomian" (Afr "'n taak wat aan my toevertrou is"). Die woord is in 'n slawe-konteks gebruik vir die werk van die slaaf wat oor die huishouding aangestel is (Pop). In die lig van Paulus se vraag in 9:1: "Is ek nie vry nie?," ontstaan hier 'n paradoksale beeld van Christelike vryheid. Christelike vryheid bestaan juis daarin dat ek dit doen wat God my as noodsaak opgelê het; dat ek "slawediens" vir God verrig, ongeag of ek daarvoor vergoeding of erkenning ontvang. Vir Paulus lê sy vryheid teenoor mense in die besef dat hy besig is om te doen wat hy moet. Hy kan kies om sonder die erkenning en vergoeding waarmee mense hom aan hulle wil bind, klaar te kom. Daarom: "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie" (9:19)

'n Tweede aspek van Paulus se geloofsvryheid wat paradoksaal mag klink, sluit aan by die soort vryheid wat hy in hoofstuk 8 verdedig het. Vir Paulus beteken sy vryheid dat hy vry is om ander mense te dien (9:19). Hierdie diensbaarheid beteken nie dat hy ander slaafs navolg of homself as vloermat aanbied nie. Sy diensbaarheid het n doel: "om soveel mense as moontlik vir Christus te wen." Dit is die noodsaak wat God hom opgelê het, wat hom tot diensbaarheid dring. In sy diensbaarheid leef hy die vryheid wat God hom geskenk het, ten volle uit. Hiermee sê Paulus waar die "wins" van sy werk eintlik lê ('n begrip wat in die sakewêreld vir opbrengs of wins gangbaar was, maar ook in die Joodse proseliet-beweging gebruik is op die manier wat Paulus dit hier gebruik).

Paulus ontwikkel die perspektief op vryheid in verse 20-23 (fokuspunt van die studie). Vir die Jode het hy soos 'n Jood geword om Jode te wen. Paulus het ook na sy bekering in baie opsigte nie net 'n Jood gebly nie, maar ook die karaktertrekke van 'n Fariseër en rabbi vertoon. Sy Joods-wees was vir hom (anders as vir nie-Christen-Jode) 'n saak van keuse (Barrett). Paulus het in sy strewe om Jode te wen, die Jode ontmoet waar hulle is, homself in hulle leefwêreld begewe, en alles prysgegee wat van hom vir die Jode 'n "sta-in-de-weg" (Pop) kon maak. Barrett sê dat Joodsheid nie meer Paulus se "wese" uitgemaak het nie. Dit was nie meer vir hom 'n "moet" nie, maar 'n keuse. Die "moet" in sy lewe het in die noodsaak wat hom opgelê is om die evangelie te verkondig, gelê. Dié mense wat "onder die wet" staan (9:20) is ook 'n aanduiding van die Jode. Hier word Paulus se vryheid van sy Joodsheid sigbaar: Hy staan self nie meer onder die wet nie. Tog is hy bereid om homself onder die wet te stel ter wille daarvan om ook dié mense vir Christus te wen. Paulus is as Jood in staat om Joodse gebruike te beoefen, sonder om die Wet voor te hou as verlossingsweg. Hy het nie nodig om die Jode van hul wetlike praktyke te verlos nie, maar van hul vertroue op die Wet as n verlossingsweg (Conzelmann).

Die volgende groep wat Paulus noem, is "dié wat sonder die wet is" (nie-Jode). Ook hulle ontmoet hy in hul eie leefwêreld, al is hy self nie buite die wet van God nie, maar onder die wet van Christus. Hoe verstaan mens Paulus genuanseerde beskouing van die wet? Hy is nie onder die wet nie, ook nie buite die wet nie, maar wel onder die wet van Christus. Die vertaling "onder die wet van Christus," is dalk nie die beste vertaling vir die Grieks "ennomos Christou" nie. Vir Blomberg gaan dit beide om Christus se onderrig, én die wette van die Ou Testament soos dit in die lig van Christus se werk verstaan word. Conzelmann meen weer dat die "wet van Christus" hier gebruik word om Christus as die norm vir Paulus se optrede aan te dui. Na my oordeel bevredig Conzelmann se benadering meer: Christus se inkarnering van God se liefde vir die mens in elke nuwe situasie, is die norm vir Paulus se strewe om die evangelie van God se liefde in verskillende omstandighede tot verskillende groepe te laat spreek.

Daar is ook meningsverskil oor "die swakkes" van 9:22. Sommige meen dit dui op dieselfde groep as die swakkes van hoofstuk 8, dus n teruggryp na die onderwerp wat by 8:1 ingelei is. Ander meen dat die feit dat die swakkes hier vir Christus gewen word, terwyl die swakkes van hoofstuk 8 reeds gelowiges is, so 'n identifikasie uitsluit. Volgens hulle gaan dit om swakkes in die algemeen, enige mens wat in 'n posisie van swakheid verkeer. Kommentare wat die identifikasie met die swakkes in hoofstuk 8 handhaaf, meen dat die betekenis van wen hier verskuif. Paulus wil aandui dat hy deur sy meelewing met die swakkes, hulle vir 'n meer volwasse geloof in Christus wen, terwyl die optrede van die sterkes hulle opvoed tot hulle ondergang. Dit is nie vir die prediking so belangrik om 'n keuse te maak nie, omdat die beginsel van vereenselwiging dieselfde is as in vorige voorbeelde. In die lig van sy hele beredenering keer Paulus waarskynlik terug na die kwessie van hoofstuk 8; die optrede van die sterkes teenoor die swakkes. Dat hy hulle wat reeds glo wil "wen", moet moontlik verstaan word teen die agtergrond van 8:11.

In vers 23 vat Paulus sy besinning saam: "Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê." Conzelmann maak hieroor 'n negatiewe opmerking as hy sê dat Paulus se uitspraak n pragmatiese klank het. Deur sy optrede verseker Paul sy persoonlike verlossing. Ek dink nie Paulus sien sy apostolaat as 'n werk van verdienste nie. Die evangelie, die blye boodskap, moet na alle mense uitgedra word (Pop). Paulus is in sy verlossing 'n "moet" opgelê en as hy hierdie "moet" sou misken, sou hy in teenspraak met sy verlossing kom. Verlossing beteken immers bevryding en veronderstel 'n lewe in vryheid en lewe in vryheid beteken, aldus Paulus, dat jy doen wat God jou oplê om te doen.

Hoofstuk 9 sluit af met 'n metafoor wat dui op die noodsaak van dissipline vir die geloofslewe indien 'n mens die doel wat God jou opgelê het, wil bereik. Hoewel die kort gedeelte belangrik is vir ons verstaan van die verhouding tussen vryheid en dissipline, sou dit beter wees om 'n afsonderlike preek daaroor uit te werk. Die gedagte dat 'n mens jouself dinge ontsê juis om jou doel te bereik, is egter grondliggend aan die hele hoofstuk 9 (en eintlik ook hoofstuk 8).

Konteks

Die voor-die-hand-liggende preekmoontlikheid binne ons konteks is die vraag na die kontekstualisering van die evangelie vir ons tyd en omstandighede. Blomberg wy 'n kort bespreking hieraan, vanuit 'n behoudende evangeliese hoek, en gebruik voorbeelde uit die leefwêreld van beide Joodse en Palestynse gelowiges. Dié voorbeelde kan met vrug gebruik word om verskeidenheid en eenheid in die kerk te beklemtoon. Ons behoort egter te vra of ons nie te dikwels tipies Westerse vooroordele aan die evangelie koppel en so vir die verkondiging van die evangelie in 'n Afrika-konteks 'n "sta-in-de-weg" is nie. Christene trek te dikwels in eksklusiewe Christengroepe terug, skei hulself van nie-Christene af, en kry beswaarlik geleentheid om hul geloof met ander te deel. Die bediening aan gemarginaliseerde en uitgestote mense, is een wesenlike manier waarop die kerk Paulus se "alle dinge vir alle mense"-visie kan uitleef. (Blomberg) Indien 'n prediker hierdie rigting inslaan, moet die preek self deeglik vir die gemeente gekontekstualiseer word!

'n Tweede moontlikheid lê in aansluiting by hoofstuk 8, in die rigting van 'n preek oor die aard van Christelike vryheid en die karakter van ons etiese besluitneming op grond van ons vryheid. Mark Buchanan skryf oor die onderskeid tussen 'n etiek van vermyding en 'n etiek van betrokkenheid. Die etiek van vermyding is kenmerkend van die Fariseërs. Hulle het nie daarna gestreef om sondaars te red nie, maar te vermy. Daarteenoor is Jesus betrokke by sondaars; om te help, te genees, te red, en te herstel. Dit is wat die Griekse uitdrukking "ennomos Christou" wil sê: Om soos Christus betrokke te raak en nie jouself te probeer red deur afstand tussen jouself en ander mense te plaas nie. Betrokkenheid, sê Buchanan, is natuurlik 'n riskante saak maar die risikos van 'n etiek van vermyding is veel groter, want jy kan dalk net besig wees om Christus self te vermy. Paulus se gebruik van sy vryheid om homself diensbaar te stel aan alle mense is die vryheid om betrokke te raak, met al die risiko's wat daaraan verbonde is. Ten grondslag van Jesus se bediening was n heilige "moet". Alles wat Hy gedoen of weerstaan het, het rondom dié "moet" gewentel (Buchanan).

Preekvoorstel

In aansluiting by Buchanan se gedagtes, en in erkenning van die feit dat die preekstudie bedoel is vir die tyd ná Epifanie, fokus die preekvoorstel hieronder op die vraag na die kerk se identiteit ('n vraag wat spesifiek vir die Afrikaanse Gereformeerde kerke tans van groot belang is). Ek skryf die preek spesifiek vir die Ned Geref Kerk in die huidige situasie, met my eie gemeente se situasie ook daarby veronderstel. Elke prediker sal uiteraard die voorstel moet aanpas vir sy eie situasie.

Waarin lê die identiteit van ons gemeente? Wat is só deel van ons gemeente dat ons dit nie kan prysgee nie? As mens dié soort vraag vra, en mense sou ernstig daaroor nadink, moet jy 'n hele spul verskillende antwoorde verwag. Een sou dalk sê: Wel, ons is 'n Afrikaanse gemeente. Dit moet tog nie verander nie. Ons Afrikaanse mense het so baie verloor, ons moet darem nog ons eie kerk hê. Ander sou dalk sê: Ons is 'n gereformeerde gemeente. Wat presies met gereformeerd bedoel word, sou van mens tot mens verskil. Vir die een lê gereformeerd in ons teologie. Ander koppel gereformeerd aan 'n sekere styl; sober, redelik formeel selfs, met orrelmusiek en 'n gewyde atmosfeer in die erediens. Vir baie is dit ons identiteit; ons is rustig en ordelik, bo alles ordelik. Ander dwaal weer weg juis omdat hulle ook die identiteit van ons gemeente so sien, maar vir hulle beteken rustig en ordelik, vervelig, selfs dood.

Ons gemeente is baie dinge. Ons is Afrikaans. Ons is gereformeerd. Ons is ook middelklas, met lidmate meestal uit die hoër inkomstegroepe (gemeet teen die gemiddelde inkomste van Suid-Afrikaners). Ons is daarby nog meestal middeljarig en ouer; mense bo 35 vorm die grootse deel van die gemeente. Die vraag is: Is dié dinge deel van ons identiteit? Is dit wat ons moet wees? Of is dit maar net wat ons deur 'n sameloop van sosiale en historiese faktore tans is? As dié dinge ons identiteit is, wat ons voel ons moet wees, gaan ons bedreig voel die oomblik wat dinge anders raak. As daar op 'n Sondag 'n orkes in plaas van die orrel is, of 'n Engelse prediker in plaas van 'n Afrikaanse; as daar brandarm mense begin inkom, of mense van 'n ander kultuur of ras, of jongmense kom vat oor, dan voel ons bedreig. Ons voel bedreig deur mense wat anders is, raak bang as dinge verander. Dalk is dit 'n goeie manier om jou identiteit vas te stel, deur te vra oor watter dinge jy kwaad raak as iemand daaraan torring. Baie lidmate voel deesdae krapperig oor dinge waaraan getorring word.

Paulus was anders. Hy klink dikwels soos 'n manteldraaier, n verkleurmannetjie. Vir die Jode 'n Jood, vir die onder die wet soos een onder die wet, vir die sonder die wet soos een sonder die wet, vir die swakkes 'n swakke, vir almal alles Dis asof Paulus geen identiteit het nie, asof hy 'n kleurlose mannetjie is wat die een vermomming na die ander opsit in 'n poging om tog aanvaar te word. Ons ken almal sulke mense; vroom tussen die vromes en goddeloos tussen die goddeloses. Hulle praat regs tussen die regses en links tussen die linkses. Hulle breek hulself in 'n poging om almal tevrede te stel, en stel op die ou einde niemand tevrede nie. Want hulle het geen eie identiteit nie. Hulle dra die een masker na die ander, maar het geen eie gesig nie.

Dis kritiek wat mens soms hoor as die kerk verander op maniere wat iemand nie van hou nie. Die kerk probeer mense tevrede stel, kla die klaers, die kerk hardloop agter die mode aan, die kerk het geen identiteit meer nie. Maar al sou jy dit van die kerk kon sê, kan jy dit beslis nie van Paulus sê nie. Want al is hy alle dinge vir alle mense, bly Paulus in dit alles nog heeltemal homself. Daar is 'n klipharde stuk identiteit in dié apostel, een waaraan hy getrou bly. Sy identiteit is dit: Hy is geroep om die evangelie te verkondig en só mense te wen vir Christus. Oor dié roeping praat Paulus in kras taal. Hy sê die roeping is hom opgelê as 'n taak. Die woord wat hy in vers 16 gebruik, is die Griekse woord wat met "noodlot" vertaal word; 'n lot wat jou tref en wat jy nie kan vermy nie. God tref jou met 'n opdrag en jy kan nie anders nie, jy moet luister. Daarom sê Paulus in vers 16 dié taak is aan hom toevertrou, in taal uit die wêreld van slawerny. Hy is soos 'n slaaf wat verplig is om te doen wat hy beveel word. Hy het geen keuse nie. Hy verkondig die evangelie en hou aan om dit te doen. Dis die "moet" in Paulus se lewe, die ding wat hy eenvoudig moet doen, anders hou hy op om apostel Paulus te wees. Dis sy identiteit.

Vreemd dat hierdie "moet", slawetaak, lot, vir Paulus die fondament van sy vryheid is. Maar daar lê aan die hart van ware vryheid, altyd so 'n "moet". 'n Skrywer voel hy moet skryf, hy kan nie sonder sy skryfwerk nie. Vryheid vir hom is juis die vryheid om te kan skryf. Verbied jy hom om te skryf, is hy nie meer vry nie. Of, as ek iemand liefkry, rêrig liefkry, moet ek eenvoudig daardie liefde bewys. Vryheid is dan nie om te doen wat ek wil nie, maar om te doen wat die liefde vereis. Dis jou identiteit; wie jy moet wees om regtig jy te wees, om regtig vry te wees.

Paulus se identiteit lê in verkondiging van die evangelie. Die vryheid om dit te doen, is vir hom so kosbaar dat hy selfs afsien van die reg van 'n apostel om deur die gemeentes onderhou te word. Paulus werk liewer self vir sy geld, as tentmaker. Want as mense jou betaal, wil hulle jou dikwels besit. Hulle reken só: Paulus, ons weet jy voel jy moet die evangelie verkondig, maar ons betaal jou, en ons voel jy moet liewer meer tyd aan die eiendomskommissie bestee. Ons soek jou op die skoolkomitee. Ons wil hê jy moet jou boodskap so 'n bietjie aanpas dat dit beter by ons manier van dink inpas. Ons betaal jou immers. Vir dié soort logika sien Paulus glad nie kans nie. Hy maak tente eerder as om sy vryheid prys te gee. Sy identiteit is vir hom te kosbaar.

Maar omdat sy identiteit vir hom kosbaar is, kan hy homself diensbaar stel aan ander mense. Die mens wat seker is van wie hy of sy is, gee nie om om bediendewerk te doen nie. Wie se identiteit is om die evangelie te bring, sal nie omgee om vloere te skrop nie as dit maar net help dat die evangelie verkondig word. Paulus sê daarom dat hy vir die Jode soos 'n Jood word. Hy sal saam met hulle sinagoge toe gaan, hy sal sabbatsete saam met hulle eet, hy sal, as hy maar net met die evangelie by die Jode kan uitkom. En hy sal saam met die heidene varkvleis eet, en, as hy maar net met die evangelie by die heidene kan uitkom. Want, sê hy in vers 21, hy is gebind aan die "wet van Christus".

Jy sou ook kon sê Paulus se identiteit is dié van 'n man wat geen verpligting teenoor enige mens erken nie, maar wat homself totaal verplig voel teenoor Christus. Daarom is Christus vir hom die norm. Die Fariseërs het hulle identiteit omskryf deur hulleself af te grens van ander mense. Dank God ek is nie soos die ander nie! was hulle slagspreuk. Maar Christus se identiteit was om by ander betrokke te raak. Die Fariseërs het grense getrek om hulle identiteit te bepaal. Christus het grense oorgesteek en vir prostitute en tollenaars, sondaars en stukkende mense gesê en gewys: "Hier is Ek vir julle!" Wanneer Paulus vir almal alles word, doen hy wat Christus gedoen het. Paulus se identiteit is dus om navolger van Christus te wees en om ander mense te roep om Christus na te volg.

Die kerk, ons gemeente inkluis, kan geen ander identiteit hê nie. Die ander dinge wat waar is van ons Afrikaans, gereformeerd, middelklas, welvarend, noem maar op is bykomstighede. Want die identiteit van die kerk is dat ons kerk van Christus is. Dis dat ons onder die wet van Christus staan. Dis dat ons betrokke raak by stukkende, vuil, verlore mense. Dis wat ons moet doen, anders hou ons op om kerk te wees. Dis ons vryheid wat niemand van ons mag wegneem nie. Dis die doel waarvoor ons onsself diensbaar maak aan alle mense. En wanneer mense hulle geld, hulle dankoffers, wil gebruik as 'n argument waarom die kerk nie betrokke mag raak nie, nie ter wille van die evangelie alle dinge vir alle mense mag wees nie dan moet die kerk soos Paulus kan sê: Ons vryheid om kerk van Christus te wees, is vir ons belangriker as julle geld. Ons moet wees wie ons in Christus is!

Bibliografie

Barrett, C.K. 1968. A Commentary on the First Epistle to the Corinthians; Blomberg, C. 1994. 1 Corinthians. The NIV Application Commentary; Buchanan, M. 2001. Your God is too safe. Rediscovering the wonder of a God you can't control; Conzelmann, H. 1975. 1 Corinthians. Hermeneia; Pop, F.J. 1978. De Eerste Brief van Paulus aan de Corinthiers.