26 Januarie 2003

derde sondag na epifanie

Liturgiese voorstel

Fokusteks: 1 Korintiërs 7:29-31

Ander tekste: Jona 3:1-5,10; Psalm 62; Markus 1:14-20

Agtergrond

Volgens baie geleerdes vind ons in ons fokusteks (1 Kor 7:29-31) die hart van die Christelike lewe soos Paulus dit verstaan. Nie een van die sake waaroor Paulus skryf is as sodanig verkeerd nie. Die liefde, die huwelik, alles is wonderlike gawes, maar omdat die tyd min is, moet gelowiges leef asof nie Hulle moet leef asof hulle niks aan die gawes het nie. Ons hele aardse werklikheid word volgens Paulus deur `n eskatologiese dringendheid onderlê, wat die alledaagse lewe in `n relativerende nuwe lig stel. Die dringendheid word ook deur Mark 1:14-20 ge-éggo wanneer Jesus mense oproep om hulle te bekeer in die lig van God se koninkryk wat naby gekom het. Die radikale nuwe perspektief waarin God mense se lewe stel, het in Jona 3:1-5 (10) `n besonderse dimensie, wanneer Jona se prediking lei tot die bekering van die hele stad Nineve. Dié tekste gelees in die lig van Epifanie beteken dat ons liturgie die atmosfeer van bekering, roeping en toewyding sal kommunikeer.

god vergader ons voor hom

Aanvangslied/Introïtuslied

"Vaste rots op wie ek bou" Lied 508:1,2 /NSG 44

Alternatiewe votums indien daar ter wille van die storielyn afgewyk word van die basisliturgie

Net by God vind ek rus,

want op Hom vertrou ek.

Net Hy is my rots en my redding,

my veilige vesting,

sodat ek stewig staan.

God is my redding en my krag.

Hy is my rots, my sterkte,

God is my toevlug.

Vertrou altyd op Hom, my volk,

stort julle hart voor Hom uit!

God is vir ons `n toevlug (Ps 62:6-9)

Aanbiddingslied

"Lei U ons, Lig" Lied 511:1,2 /NSG 30

diens van die water

Roep die kinders vorentoe en laat hulle om die doopvont kom sit. Lees vir hulle Jona 3:1-5 (10). Vertel vir hulle hoe sondig die stand Nineve was en hoe God gereed was om die hele stad te verwoes. Maar toe gebeur `n wonder. Jona verkondig God se oordeel aan die stad, en wonder bo wonder kom die stad tot bekering en laat hulle ou weë staan.

Die doop is die teken van God se oordeel en redding in Christus. God het gereed gestaan om ons net soos Nineve te verwoes. Maar God se oordeel en woede het op Christus neergekom. Christus is in ons plek gestraf en daarom is ons soos Nineve vrygespreek. Die doop is die teken dat God ons gespaar het en dat ons nou sy eiendom is.

Skuldbelydenis

Wys vir die kinders `n humoristiese prent van Jona in die vis en vra vir hulle hoe dit gebeur het dat Jona in die vis se maag beland het. Natuurlik was Jona nie onmiddellik gehoorsaam aan sy roeping nie (net soos Samuel laas week), maar ongehoorsaam. Na sy roeping het hy eerder probeer om van God weg te vlug. Hy het op `n skip beland en die nag het daar `n geweldige storm opgekom. Die ander matrose het Jona van die skip gegooi en God was hom genadig. Die vis het hom ingesluk en op die land uitgespoeg.

Dit gebeur ook heel dikwels dat God ons roep tot `n bepaalde taak, maar dat ons soos Jona nie gehoorsaam is nie. Soms is ons te bang ander kere te skaam.

Bely die feit dat ons dikwels te vas is in hierdie wêreld

en nie altyd God se roepstem gehoorsaam nie:

Sang

"Jesus, Rots vir my geslaan " Lied 239:/1,2,3 NSG 215

Toeëiening van genade (gebed)

Here, God

enige iemand wat die saak met U uitgemaak het

kan altyd weer na U terugkeer.

Daar is niks wat U nie weer kan heel maak nie.

Vergewe ons al ons ongehoorsaamheid.

Ons kan en wil nie u liefde verwerp nie.

Ons bid

herinner ons aan u naam,

sodat ons weer na U kan draai

wees ons vader en ons moeder

weer en weer

hou ons vas

en gee ons lewe

al verdien ons dit nie,

vandag en elke dag.

vir altyd en ewig.

Lofliedere

"Bring lof aan die Vader" Lied 205:1,2/NSG 4

"U goedheid, Heer" Lied 200:12/NSG 43

diens van die woord

Gebed om die opening van die Woord/epiklese

God, Gewer van lewe

U alleen weet hoe ons lewens waarlik kan geluk.

Leer ons in die stilte van u teenwoordigheid:

dié misterie met bewondering bedink:

hoe ons in ontmoeting met U

hoe ons onder die blik van u oë

en in u Woord

onsself erken

as u beeld en gelykenis.

Wys ons hoe om die dinge te laat gaan,

wat `n ontmoeting met U verhinder

en wat verhoed dat u Woord ons aanraak.

Wek deur u Woord

die beeld in ons op

wat U van ons droom

vandag en elke dag,

vir altyd en ewig. Amen

Skriflesing en prediking

diens van die tafel

Geloofsbelydenis

Nagmaalherinnering

Onder by die nagmaalstafel lees die liturg Markus 1:14-20 en sê:

Die brood en wyn is vir ons die tekens

dat God se koninkryk naby gekom het,

wanneer ons die tekens gebruik

draai ons ons hele lewe terug na Christus,

wanneer ons die tekens gebruik vier ons

ook ons roeping as dissipels van Christus.

Gebruik tekens

Sang

"Ons Vader" Lied 266/NSG 325

Voorbidding

Uitsending

Tien Woorde (as verbintenis en wegsending)

Kom ons verbind onsself as geroepe mense opnuut aan God en aan mekaar met die volgende belydenis: Sien voorstel by 19 Januarie 2003

Slotsang

"Jesus, U gaan voor" Lied 505:1-3/NSG 161

Seën

Gaan uit en wees vissers van mense:

Die genade van ons Here, Jesus Christus

Die liefde van God, ons Vader,

en die gemeenskap van die Heilige Gees

gaan saam met u. Amen

 

PREEKSTUDIE 1 KORINTIëRS 7:29-31

Teks

1 Korintiërs 7:29-31 is deel van n groter eenheid (7:1-40). Met vers 1 begin Paulus om te antwoord op sake wat die gemeente per brief van hom gevra het (ook 7:25; 8:1; 12:1; 16:1). Vers 1-16 handel oor getroudes, terwyl die tweede deel fokus op die vraag of n gelowige moet trou of nie. 1 Korintiërs 7:17-24 vorm n oorgang waarin die beginsel wat Paulus wil stel verduidelik word (Lategan): " elkeen moet in die omstandigheid bly wat die Here vir hom gegee het toe God hom geroep het" (vers 17, 20, 24, 26, 35, 40). Skematies kan Paulus se argument soos volg voorgestel word:

7:1-14

 

 

 

7:17-24 (skarnier)

 

 

7:25-40

In 1 Korintiërs 7:25-40 hanteer Paulus die vraag of ongetroudes n huwelik moet oorweeg. Moet n verloofde meisie met die huwelik aangaan of nie? Moet n weduwee weer trou of nie?

Die asketiese groep (sien konteks hieronder) in die gemeente raai die ongetroudes af om te trou. Vanweë hul negatiewe siening oor die liggaam, beskou hulle dit as verkeerd om te trou. Paulus benader die saak egter uit die hoek van die voleinding van die tyd (eskatologie) (verse 26, 29, 31). Binne die raamwerk beklemtoon verse 29-31 die tema dat almal so ver moontlik in die staat moet bly waarin hulle tans is. Die motivering vir die argument is die nabye eindtyd. Paulus moedig hulle aan om nie nou drastiese veranderinge in hulle lewe te oorweeg nie. Getroudes moenie skei nie en ongetroudes, asook verloofdes, moet indien moontlik (verse 32-37), nie trou nie. Die beginsel word ook uitgebrei na die sosiale, ekonomiese en godsdienstige dimensies van gelowiges se lewe. n Onbesnedene moet hom nie laat besny nie, n besnedene moet sy besnydenis nie ongedaan maak nie, n slaaf moet sy posisie aanvaar (Lategan) en hulle moenie deur wat hulle koop, besit word nie (vers 30).

Oor sekere frases in die perikoop bestaan daar meningsverskil onder geleerdes:

Die tyd is kort (vers 29). Dirkie Smit wys op n paar moontlike vertolkings. Paulus gebruik die Griekse woord "kairos" en nie "chronos" nie, met verwysing na die tyd. Daarmee is die klem nie op die uitgebreide chronologie van tyd nie, maar op die oomblik van finale beslissing ("fateful hour of the divine deliverance" Buttrick). In die verkorte tyd wat oorbly, moet gelowiges se aandag op geen wyse van God afgetrek word nie. Die uitdrukking wat in Afrikaans met "van nou af" (Gr. to loipon) vertaal is, wys vooruit na die toekoms. As gevolg van die verkorte tyd, moet dié wat getroud is, met n oog op die toekoms leef. Die uitdrukking moet ook in die lig van die groter konteks van verse 29 en 31 verstaan word. Die naderende koms van die Here vra onverdeelde en algehele toewyding aan die Here (Buttrick).

Konteks

Die dualisme (tweedeling) van siel en liggaam, het aanleiding gegee tot n geringskatting van die menslike liggaam. Die libertiniste (groep wat n vryblywende lewenshouding verkondig) het die siel in so n mate beklemtoon, dat die betekenis van die liggaam verwring is. Wat die liggaam doen, het volgens hulle geen invloed op die bestemming van die siel nie (1 Kor 6:12-20). Die liggaam kan vrylik gebruik word, aangesien dit niks met die mens se geestelike lewe te make het nie. Daarteenoor het die askete (groep wat hulle uit dié wêreld wil onttrek) die liggaam as n las beskou. Vir hulle is die liggaam n tronk vir die siel. Daaruit moet die siel bevry word (verse 1-40). Volgens Malan het sommige Christene die onthouding van alle seksuele omgang as geestelik beskou, selfs binne die huwelik (vers 1 en 5). Vandaar hulle versoek oor egskeiding vir lidmate wat probleme met onthouding het. Indien die huweliksmaat n ongelowige is, is egskeiding die aangewese weg.

Die voorstanders van n asketiese lewenshouding het verder gevra of n verloofde meisie of n weduwee, mag trou of nie (verse 25-40). Volgens hulle moes gelowiges hulle aan die wêreld onttrek. Paulus wys daarop dat Christene in die wêreld lewe. Hulle moet daarom die dinge van die wêreld gebruik, maar hul norme en lewensgedrag behoort nie deur die wêreld bepaal te word nie. Die Christen se lewe word deur n toekomsverwagting (eskatologie) gerig (Smit). Die teenswoordige en terugkerende Here is die bepalende faktor vir die Christen se lewensgedrag en hoe die wêreld uiteindelik daarna sal uitsien.

Hierdie intense verwagting van die nabye wederkoms hou tog die gevaar in dat gelowiges passief kan raak. Paulus sê deurgaans, hulle moet die bestaande orde (status quo) handhaaf, met die oog op die nabye wederkoms. Indien hierdie oproep verkeerd verstaan word, kan dit veroorsaak dat gelowiges die tyd nutteloos om wag. Paulus het by geleentheid n gemeente gemaan dat dié wat nie werk nie, ook nie mag eet nie. Die wag is nie n passiewe nie, maar n aktiewe wag. Gelowiges moet só wag, dat die Here die fokuspunt van hulle lewe is.

Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here Vers (32), so ook die ongetroude meisie (vers 34) om liggaam en gees aan Hom toegewyd te wees. In vers 35 spel Paulus dit uit: "in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here." Die gelowiges mag aan niks verslaaf wees of deur iets beheer word nie, nie sosiaal, ekonomies of selfs godsdienstig tradisioneel nie (bv besnydenis of onbesnedenheid nie). Durand (in Smit) is korrek as hy sê dat die toekomsverwagting nie slegs die liefde vir en intensiteit van lewe stempel nie, maar ook die aard en inhoud van die strukture self waarvolgens lewe georganiseer word. Die uitsig op die eindtyd het n dubbele funksie. Enersyds bevry dit die gelowige van n krampagtige verknogtheid aan die aanvaarde orde. Andersyds werp dit n nuwe perspektief op die wêreld. Die bestaande word gerelativeer, sodat Christene hul eie lewenswyse as voorlopig, onafgerond en onvoltooid insien. Ook die wêreld (kosmos) in die mees omvattende sin van die woord (natuur, kultuur, tegniek wetenskap, politiek, ekonomie, sosiaal): "Wat is, word blywend gerelativeer deur dit wat kan, moet en sal wees. Terselfdertyd word die Christelike hoop ten diepste gemotiveer deur dit wat nog voorlê, wat nog kom nie deur enige moontlikhede van menslike inspanning nie" (Smit).

Die riglyn wat Paulus gee is duidelik. Hoe gaan dit in die praktyk werk? Paulus sê dat gelowiges se lewe en gedrag deur hul toekomsverwagting bepaal word. Daardeur word alles geraak, sodat selfs die huwelik nie die alfa en omega is nie, ook nie die ekonomie, die sosiale lewe, of vryheidsstrewe nie. Om nie deur die huwelik besit te word, of daarin op te gaan nie. Om nie so in die wêreld op te gaan dat n mens alles daarin wil kry nie. Om nie in jou soeke na vryheid so opgeëis te word, dat n mens dink daar bestaan iets soos absolute vryheid nie. Dit bring n tweede orde vrae na vore: Wanneer word n mens deur iets beheer? Wanneer gaan jy in iets op? Wanneer besit iets jou? Hoe lyk n huwelik waar n man en vrou nie die een en al is nie?

 

Preekvoorstel

Paulus relativeer alles in die lig van die eskatologie: "Van nou af (Gr. to loipon) moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie" (v 29-31).

In Epifanie dink gelowiges nie net aan die Here wat verskyn het en hoe die verskynende Here die menslike gedrag en lewe rig en lei nie (vgl preekstudie 1 Kor 6:9-20), maar ook aan die Here wat weer gaan verskyn, en hoe Hy die gelowige se lewe hier en nou rig en lei. Om die begrip vir kinders verstaanbaar te maak, kan n gelowige se lewe met n 4x4-voertuig vergelyk word. Die agterwiele stoot die voertuig vorentoe, terwyl die voorwiele die voertuig vorentoe trek. Die Here wat verskyn het, stoot die lewe van die gelowige vorentoe. Voorheen was julle so, maar nou Julle is gewas, God het julle regverdig verklaar, God het julle nou gereinig (1Kor 6:11). Die Christen moet weet wat hy of sy in Christus is. Die terugkerende Here trek die gelowige vorentoe (1 Kor 7:29-31) om voluit vir die Here wat terugkom, te leef.

Die Here wat gou terugkom sit n gelowige in beweging en hou die gelowige aan die beweeg. Soos wat n 4x4-voertuig soms vasval tot op die onderstel en die voertuig bewegingloos laat, so het die filosofie wat in die Korinte-gemeente in die omloop was, die gemeente verlam. Die filosofie het aanleiding gegee daartoe dat sommige gemeentelede skriftelike navraag by Paulus gedoen het. Daar is mense wat sê jy moet nie trou nie, die huwelik is n tronk. Die huwelik lê jou aan bande soos wat jou liggaam jou aan bande lê. Jy is veronderstel om die vryheid wat Christus gebring het, te beleef. Net so moet jy jou ook nie verbind aan hierdie wêreld nie. Wie in die wêreld opgaan, word n gevangene van die wêreld wat jou jou vryheid ontneem.

Paulus antwoord hierop: Dit is nie verkeerd om te trou nie. Daar is egter n ander dringendheid wat daartoe lei dat mense nie nou groot skuiwe in die lewe moet maak nie. Hou dinge soos wat dit is (verse 17, 24, 26, 29vv). Die woorde van Paulus kan mense wel daartoe verlei, en dit het inderdaad ook by sommige gemeentes gebeur, om net te sit en wag vir die Here se koms; bewegingloos te sit, niks te doen nie en net te wag. Paulus het egter geen passiewe wag in gedagte nie.

Sy motivering om byvoorbeeld te wag met trou, is nie asketies bedoel nie, maar is eskatologies van aard. Die Here se koms is voor die deur. Trouens, die tyd is selfs verkort. Daarom moet hulle dinge eerder hou soos dit is, en gereedmaak vir sy koms. Deur nou te trou, kan jou aandag van God weggeneem word. Die huwelik bring sy eie verantwoordelikhede mee wat jou daarin opneem. Wat vir die huwelik geld, geld ook vir ander aktiwiteite. So lees vers 29: "Van nou af moet die wat getroud is wat bedroef is, die wat nou op n koopmanie is."

Die tyd is kort en sy koms bring mense voor n geweldige krisis te staan. Hulle kom te staan voor die verheerlikte Here. Die uur van God se finale beslissing (Gr. ho kairos) is voor die deur. Daarom is die tyd waarin die gemeente leef n krisistyd, wat skerp beslissings van gelowiges vra. Ons kan die tyd vergelyk met n pasiënt wat so pas van die dokter verneem het dat hy of sy aan n ongeneeslike siekte ly, en hoogstens vier weke oor het om te leef. Die dood oor vier weke, bring n stuk finaliteit mee, maar ook n tyd van besluite beslissingstyd. Is my testament in orde? Hoe lyk my banksake? Wat gaan van dié word wat agterbly? Hoe lyk my verhoudinge? n Mens kan nie in onvrede sterf nie. Sake moet afgehandel word.

So plaas hierdie terugkerende Here ons ook voor beslissings.

Hoe moet my huwelik dan lyk dat ek nie so opgaan in die huwelik, sodat ek nie gereed sal wees vir die Here nie? My huwelik mag nie so op my beslag lê dat dit nie ruimte laat vir God se werkinge in my lewe nie. Ek kan en mag nie die huwelik verafgod nie. Ek kan nie net leef vir my huwelik nie. Hier kan n mens voorbeelde soek waar die huwelik die belangrikste saak vir mense raak. Onlangs het n nuwe intrekker as rede gegee waarom hulle uit die besige Gauteng verhuis het, omdat hulle meer tyd in die huwelik vir mekaar wil maak. Hulle wil nêrens dien of betrokke raak nie. Die huwelik is hul hoogste prioriteit.

Net so kan ek nie leef vir hierdie wêreld nie. Die ekonomie van hierdie wêreld mag my nie besit nie. Hier kan ek nie met my geld hemel en aarde versit nie. Die wêreld, soos ons dit ken, gaan geheel en al anders lyk. Die wêreld word in sy gebroke staat ervaar en gaan n metamorfose ondergaan. Die wêreld, soos ons dit nou ken, gaan verby. Om al jou tyd, geld en energie in n verbygaande wêreld te belê, maak dit n baie swak belegging. Jesus het mos gesê dat hier is diefstal, mot en roes aan die orde van die dag. Moet nou nie uit die wêreld ontvlug nie. Die toekomsverwagting (eskatologie) moet die wêreld n ander gesig gee.

Vryheid bly hier ook maar net n droom. Daarom is die fanatiese soeke na vry wees nie hier te behaal nie. Die Here wat terugkeer, maak jou alleen waarlik vry.

Hierdie wag waarvan Paulus praat, is dus n aktiewe wag. n Mens kan dit vergelyk met die bruid wat haar op haar troudag gereed maak om in die kerk in die huwelik bevestig te word. Tot op die laaste oomblik maak sy haarself nog gereed. In die voorportaal word die rok nog vir oulaas reg getrek, die sluier afgerond voordat sy instap. Sy voel sy moes dalk dit of dat nog gedoen het. Sy vind nou uit dat hier iets is wat nog nie op sy plek is nie, daar skort ook iets. Sy sou dit nou anders wou hê. Niks is regtig heeltemal afgerond nie, elke ding het sy gebreke. So vind die gelowige dat die koms van die Here jou by die plek bring waar n mens besef alles is onvoltooid, onafgerond, voorlopig en vol gebreke. Dit is hierdie wete wat die gelowige in beweging sit, om uit sy of haar bewegingloosheid te kom, uit jou gemaksones en uit jou passiwiteit, want die Here kom!

Dit is beslissingstyd die Here se koms is hier. So trek die koms jou lewe na die finale ontmoeting met die Here van passiewe, na aktiewe wag.

Bibliografie

Brather, R.C. Translators guide; Buttrick, G.A. The Interpreters Bible; Conzelmann, H. Hermeneia; Groenewald, E.P. SBG; Grosheide. NICNT; Pop. F.J. PNT; Jacobs, L.D. 1993. WTL iii/3; Goppelt, L. 19981. Theology of the New Testament vol 2; Roberts, J.H. et al (red) 1991. Teologie in konteks; Smit, D.J. 1985. WTL 6.