Ander tekste: Jes.
58:2-9a(9b-12); Ps 112:1-9(10); Matt.
5:13-20
Ons teksgedeelte is reeds vantevore in die Woord teen die lig-reeks hanteer in die bundel met Riglyne vir prediking oor die wandel met God
(Durand 1991:206-212). Van die
beklemtonings in hierdie postille sal kortliks aangeraak word. Hierdie perikoop is 'n gewilde keuse vir
Epifanie. Let daarop dat drie bydraes
tot die Göttinger Predigtmeditationen
almal 1 Kor 2 behandel het vir die tweede week van Epifanie (Peisker
1975:90-96; Schröer 1975:81-90; Nestle 1981:87-95). Die gedeelte kan ook met vrug vir Pinkster gebruik word (vgl.
Dudey 1982:247-252).
Die perikoop vorm die afronding van 'n groter geheel wat in 1:18 begin
het. Dieselfde temas kom deurlopend in
hierdie deel voor. Fee (1987:89) gee 'n
aanduiding van presies hoe ons teks in die groter prentjie inpas: ‘Thus, not
only the means (the cross) and the people (the church in Corinth), but also
the preacher (Paul) declare that God
is in the process of overturning the world’s systems’. Die fokus sou met die oog op die prediking
op verskillende punte in die hoofstuk kon val.
Durand (1991:206) neem verse 10-12 as invalshoek rondom die kennis van
God en meld ook dat dit hier uitsluitend te doen het met die gemeente. Ek haal 'n paar reëls aan: ‘Hierdie verse
begin met 'n hemin gar en 'n hemeis de wat 'n duidelike kontras inhou
tussen “ons” (die gemeente) en die ander (die wyses en die sterkes van hierdie
wêreld). Buite die gemeente is daar ook
kennis van God, maar dit is 'n oppervlakkige kennis wat uit die skepping
afgelei word en wat ten slotte slegs die veroordeling van die mens tot gevolg
het. In die gemeente egter gaan dit om
'n kennis wat te doen het met die “diepste geheimenisse” van God’.
Vir Paulus lê die klem op die krag van die Gees, krag wat lewens kan
verander. In verse 10-13 verduidelik
Paulus hoe die gelowiges ingelaat word op die geheim, naamlik deur die ontvangs
van die Heilige Gees. Slegs deur die
Gees is ware wysheid moontlik. Hieroor sê Fee (1987:98): ‘True wisdom is indeed
for those who are “spiritual”, for those who have the Spirit, who has revealed
what God has really accomplished in Christ’.
Durand (1991:207-212) se hermeneutiese en homiletiese dele is werklik
noodsaaklike leesstof. Hy besin
indringend oor 'n verskeidenheid vrae rondom die ken van God. Teenoor Karl
Jaspers wat beweer dat die ken van God en van sy wil nooit ons deel word nie,
stel Durand dit duidelik dat ons deur die Gees wat ons ontvang het, weet wat
God ons uit genade geskenk het. As
Paulus dan aan die begin van ons teksgedeelte vir die Korintiërs sê dat hy hom
voorgeneem het om met hulle oor niks anders as Jesus Christus, en Hom as die
Gekruisigde, te praat nie (vers 2), hoef hulle eintlik niks meer te weet
nie. Durand (1991:209) vervolg: ‘Méér
aangaande God, méér aangaande sy wil hoef hulle nie te weet nie. En dit is juis nie min nie. As ons Jesus sê, sê ons dadelik baie dinge
oor God en weet ons baie aangaande sy wil.
Hy maak God se hart aan ons bekend... Volgens Paulus is Christus
voldoende. Méér as Hy het ons nie nodig
nie’. Hierop sou die prediker nog kon
uitbrei.
'n Paar opmerkings behoort dalk gemaak te word oor een van die mees
bespreekte probleme rondom Paulus, en dit is sy ‘teenstanders’ in Korinte. Kommentatore is dit eens dat die ‘wysheid’
wat so druk bespreek word in die eerste drie hoofstukke beslis vanuit Korinte
moes gekom het. Conzelmann (1975:57) sê
hieroor: ‘It is clear that “wisdom” is a Corinthian topic. To be sure, it seems that in Corinth itself
it was rather gnosis that was the operative word. And the catchword “wisdom” was apparently introduced to Corinth
by Paul himself’.
Oor die tipe ‘gnostiek’ in Korinte is al baie geskryf (vgl. bv.
Schmithals 1971). Conzelmann (1975:15)
spreek die mening uit dat ons nie te presies moet probeer soek na die
oorspronge van die gedagtes waarmee Paulus in Korinte gekonfronteer word
nie. ‘Ideas of Jewish and Greek origin
(popular philosophy), such as could be picked up on the streets, traditional
views of Greek religion, products of the mysteries (initiations, ecstasies) -
all these are present and cannot be neatly separated. There are also isolated traces of the beginnings of the formation
of what later presented itself as “Gnosticism” ... The Corinthians could be described as proto-Gnostics (my
kursivering).
Van der Watt (1988:32-33) gee 'n goeie beeld (met oulike prentjies) wat
die essensie van hierdie hoofstuk goed vasvat en wat gemaklik in die prediking
(dalk met transparante) gebruik sou kon word.
Soos 'n radio op die regte golflengte ingestel moet wees, kan 'n mens
net geestelike dinge verstaan as jy reg ingestel is. ‘En net God se Gees kan die mens so instel. Op die geestelike golflengte hoor 'n mens
wat in die raadsale van God gebeur. Dan
maak dinge wat vir gewone mense nie sin maak nie skielik vir jou sin. Die Gees verduidelik dit vir jou. Dan kan jy as eenvoudige mens God se
gedagtes en wil ken en daarvolgens leef’!
'n Laaste woord van Fee (1987:110) kan verhelderend wees: ‘The Spirit of God becomes the link between God and humanity, the “quality” from God himself who makes the knowing possible’. En dan beaam Durand (1991:212): ‘Ten slotte sal daarop gewys moet word dat die ken van God en van sy wil gegrond is dáárin dat God óns ken, roep en verkies - en dat dít 'n totale lewensomkeer beteken en 'n bereidheid om die wil van God te doen’.
In Edward Hall se Chronicle van
1542 vertel hy 'n oulike storie wat as inleiding tot die preek gebruik kan
word. Toe die Engelse biskop Tonstall
vasbeslote was om die verspreiding van William Tyndale se eerste vertaling van
die Nuwe Testament in Engels te keer, het 'n handelaarsvriend van Tyndale al
die beskikbare kopieë van die boek aan die biskop verkoop al het hy geweet dat
dit verbrand sou word. Op dié manier is
al Tyndale se skuld betaal, nuwe drukke van die vertaling kon vinnig gemaak
word, en die verbranding van die boeke het Tyndale se werk geadverteer. So het
die biskop dus 'n helper geword in die saak wat hy wou vernietig. Hall skryf: The bishop thought that he had God by the toe, when indeed he had the
devil by the fist.
So wil ons ook graag baie keer slimmer as God probeer wees. Dit was nogal
'n probleem in die gemeente van Korinte.
Of liewer, hulle het nie eintlik gedink dat dit 'n probleem was
nie. Sien, hulle het baie geroem in
hulle groot wysheid en sodoende ook hulle geloof en hulle kerkwees op dié
manier hanteer. Hoe goed iemand kon
praat en redeneer was vir hulle die belangrikste. Daarom was hulle bv. ook verdeeld onder mekaar oor wie hulle
gunsteling dominee was, en Apollos, wat skynbaar die mees dinamiese prediker
was, was heelbo aan baie mense se lys (vgl. die studie oor 1 Kor 1:10-18).
As Paulus dan vir hulle hierdie brief uit Efese skryf, is dit nodig dat
hy 'n hele paar goed regstel. In die
eerste vier hoofstukke van die brief is die verdeeldheid in die gemeente ook
sommer eerste op sy agenda. 'n Vinnige
deurlees van die eerste paar hoofstukke van 1 Korintiërs sal genoeg wees om op
te tel hoeveel maal woorde soos kennis en wysheid en geleerdheid en
welsprekendheid hier voorkom. Dit is
wat die mense van Korinte wou hoor, eindelose redenasies en slim
argumente. Maar Paulus stel dit
duidelik wat sy doel as apostel is. Toe
hy na Korinte gekom het, het hy net één ding op die hart gehad, nie slim
redenasies nie, maar om te praat oor Jesus Christus, en dan spesifiek oor die
feit dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. Dít, sê Paulus, kan alle mense nie verstaan nie. Vir baie mense is Jesus se kruisdood die
vreemdste en mees onlogiese ding denkbaar.
Hoe kan iemand sy enigste seun wat niks verkeerds gedoen het nie,
opoffer vir 'n klomp sondaars en dan nog van hierdie dood as 'n oorwinning
praat? Dít en nog baie ander strydpunte
is baie keer op die markplein van Korinte gehoor.
Paulus haal sommer heel vinnig die wind uit die Korintiërs se seile deur
te sê dat al hulle redenasies vir hulle niks gaan oplewer nie. Die enigste manier hoe hulle geestelike
dinge sal verstaan, is deur die Gees van God.
Paulus se kruisevangelie oor Jesus Christus is wel wysheid, maar dit is
wysheid wat van God kom. Hierdie
wysheid kan net verstaan word deur mense wat daarvoor ryp is, sê Paulus in vers
6. Dit kan natuurlik maklik klink of
Paulus nou ook weer in gedagte het dat daar hoër en laer Christene is, maar dit
is glad nie waaroor dit hier gaan nie.
Die dinge van God kan ek net verstaan deur die Gees van God en God se
Gees kan net in my werk as ek my totaal leegmaak van myself. Ryp gelowiges is dus nie 'n hoër klas
gelowiges of 'n soort superchristen nie, maar gelowiges wat daarin geslaag het
om leeg te word van hulleself sodat die Gees van God hulle kan vul. Paulus maak dit duidelik dat ons nie
allerhande dinge moet doen of weet om die Heilige Gees te ontvang nie. Nee, in vers 16 stel hy dit duidelik: Ons het die Gees van Christus. 'n Mens
kry byna die idee dat God vir sy kinders ingelaat het op 'n geheim wat die
wêreld nie kan deel nie, deur sy Gees aan ons te gee. Daarom sê vers 14 ook: Die
mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van
God nie. Vir Hom is dit onsin.
'n Beeld sou hier nogal goed kan werk.
Enige kunstenaar wat van 'n handpop gebruik maak, sou ter illustrasie
gebruik kon word, maar ek het in die gemeente verwys na Cor en Leatitia Uys se
Maranataland-uitvoering wat redelik wyd bekend is en gereeld oor Radiokansel
gehoor word. Een van die Uys-egpaar se
grootste gunstelinge is die pop Lente. Sy is 'n dooie ding wat in 'n tas gebêre word. Sy is van lap en ander materiale gemaak, met
wimpers wat aan haar kop vasgeplak is.
As jy die pop net so in jou hand hou, is dit 'n lewelose, pap ding. Maar wanneer Leatitia agter haar stelling
inneem met die mikrofoon in haar een hand en sy wikkel haar ander hand in die
pop se lewelose lyfie in, dan verander die storie heeltemal. Skielik word Lente
'n lewendige, oulike, spitsvondige popmensie, wat klein en groot ure lank aan
die skaterlag kan hou. Die punt is:
Sonder Leatitia se hand en stem is Lente 'n lewelose pop, maar deur Leatitia
word sy 'n wonderlike werktuig vir die Here.
Met mense gaan dit net so, sê Paulus vir die Korintiërs. Op ons eie is ons niks nie, weet ons niks
nie, is ons tot niks in staat nie, Maar wanneer God sy Hand in ons lewelose
liggame kom steek, word ons skielik bruikbare, lewendige mense wat selfs die
wysheid van God kan baasraak. Dit is
hoe God se Gees werk. Die krag van God
se Gees kan mense se denke verander en 'n nuwe lewenswyse teweegbring. Dit is vir Paulus ook belangrik om vir die
mense van Korinte daarop te wys dat dieselfde vir die dominees geld. Daarom onderstreep hy sy eie swakheid. Hy sê in vers 3: Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle
toe gekom. Daarmee wil Paulus dit
duidelik stel dat hy nie op sy eie krag kan staatmaak nie. Hy kan net verkondig wat die Gees vir hom
gee, en hulle kan dit net verstaan as die Gees dit vir hulle gee. Ons krag lê nie in onsself nie. Ons geloof kan ook nie op mense gebou word
nie, maar net op die krag van God.
Die gemeente wat vergader is in die erediens moet dit hoor: Jý het die
Gees van Christus! Hierdie wonderlike
gawe het God aan jou gegee deur jou verlossing, jou bekering. Nou lê jou krag en wysheid nie meer in
jouself of in die vermoëns van enigiemand anders nie, maar in die kragtige
werking van die Gees. Jy is òf 'n lewelose, nuttelose pop, soos Lente, òf 'n
kragtige, nuttige werktuig in die hand van die Here God deur sy Gees se
werking. As slot vir die preek (of dalk
ter inleiding) kan die volgende treffende uittreksel uit Toon van den Heever se
gedig Die lof van verganklikheid
gelees word:
Die heelal waai
soos 'n wasem deur die tregter van 'n God
En die newels in
die engte word wat ons ‘die hede’ noem,
Waar die mens sy
klein toneeltjie speel en op sy rede roem,
Alvermoënd soos 'n
suigeling, alwetend soos 'n sot,
'n Hanswors vir
die Gode, 'n selftevrede sot (aangehaal deur Naudé 1991:278-279).
Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress: Dudey, I 1982. Pfingsten 1: 1. Korinther 2,12-16. GPM 36, 247-252; Durand, J J F 1991. 1 Korintiërs 2:10-12, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig III/2: Riglyne vir prediking oor die wandel met God, 206-212. Kaapstad: Lux Verbi; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Naudé, P J 1991. Eksodus 20:3, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), a.w., 270-279; Kaapstad: Lux Verbi; Nestle, D 1981. 2. Sonntag nach Epiphanias: 1. Korinther 2,1-10. GPM 36, 87-95; Peisker, C H 1975. 2. Sonntag nach Epiphanias: 1. Kor 2,(1-5)6-12. GPM 30, 90-96; Schmithals W 1971. Gnosticism in Corinth: An investigation of the letters to the Corinthians. Nashville: Abingdon; Schröer, H 1975. 2. Sonntag nach Epiphanias: 1. Kor 2,(1-5)6-11. GPM 30, 81-90; Van der Watt, J G 1988. Wat maak ‘n Christen anders? Bybelstudie oor 1 Korintiërs in dagboekvorm. Wellington: Bybelkor.