1 Korintiërs 1:18-31 (Lambert Jacobs)

31 Januarie 1999

Vierde Sondag na Epifanie

 

Ander tekste: Miga 6:1-8;  Ps 15;  Matt. 5:1-12

Wat dwaas lyk vir die wêreld, is slim by God.  Daarom kan die wêreld nie God se reddingsplan begryp wat ingehou het dat sy Seun die vernederendste dood denkbaar aan die kruis gesterf het nie.

Teks en konteks

Die perikoop vorm deel van 'n groter tekseenheid wat strek van 1:18 tot 2:16 rondom die tema: ‘Die dwaasheid van God versus die wysheid van die wêreld’.  In die Woord teen die lig-uitgawe met bydraes rondom Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg is die perikoop uitvoerig behandel met 1:30 as teksvers en die spesifieke fokus op die begrip dikaiosúne (Nell 1993:251-260).  Hierdie postille is dan ook noodsaaklike leeswerk met die oog op die prediking.

 

Nadat Paulus in vers 17 die kontras tussen die wysheid van logos en die kruis opgestel het, beweeg hy nou na 'n reeks argumente wat hierdie kontras as verwysingspunt het.  Die perikoop val in twee hoofdele uiteen.  Fee (1987:67, 78) tipeer die twee dele soos volg:  * God’s folly - a crucified Messiah (1:18-25),  * God’s folly - the Corinthian believers (1:26-31).

Ek haal graag 'n gedeelte uit Fee (1987:67) aan waar hy die kern van ons perikoop uitstekend vasvat: ‘Thus he (Paul) says in effect, “So you think the gospel is a form of sophia?  How foolish can you get?  Look at its message; it is based on the story of a crucified Messiah.  Who in the name of wisdom would have dreamed that up?  Only God is so wise as to be so foolish” (1:18-25); “Furthermore, look at its recipients.  Yourselves!  Who in the name of wisdom would have chosen you to be the new people of God?” (1:26-31)’.

 

Die perikoop is van deurslaggewende belang vir die groter geheel (1:10-4:21) maar ook vir die hele eerste Korintiërbrief.  Daar is geleerdes wat van mening is dat Paulus hier op sy heel skerpste is.  Hy argumenteer, met die Ou Testament as basis, dat God nou deur die kruis bewerkstellig wat Hy nog altyd deur sy profete belowe het.  God het 'n einde gemaak aan menslike selfgenoegsaamheid soos wat dit na vore kom deur menslike wysheid en vermoëns.  Die evangelie is nie 'n nuwe sophia nie, dit is nie eens 'n goddelike sophia nie.  Die evangelie staan as die goddelike antitese tot menslike beoordeling.

 

Vanuit sy nuwe posisie in Christus beskryf Paulus die twee basiese groepe mense.  Vroeër was dit Jode en Grieke, nou is dit ‘ons wat gered word’ teenoor ‘dié wat verlore gaan’.  Hierdie nuwe verdeling is nie soseer gebaseer op die mense se reaksie op die boodskap van die kruis nie, as op die kruisgebeure en die opstanding self (Fee 1987:68-69).  Hierdie verlossingsgebeure is die keerpunt wat òf as dwaasheid òf as die krag van God beleef word.

 

Om sy standpunt verder uit te bou dat die evangelie wat hy verkondig nie langs die lyne van menslike verwagtinge beweeg nie, verskuif Paulus sy fokus van die inhoud van die boodskap (18-25) na die ontvangers self (26-31).  Hulle is nie vername mense nie, hulle was niks in die wêreld nie.  En tog het God hulle uitgekies, om hulle te red, maar ook om diegene wat wel iets was volgens menslike standaarde, skaam te maak.

 

Hier is dit belangrik om veral die hermeneutiese deel van Nell (1993:255-258) deeglik onder oë te kry.  Hy gee onder andere aandag aan die sosiologiese en sosio-historiese aspekte van ons perikoop.  Op die vraag: ‘Hoe tref dié perikoop en teksvers die kerk binne die Suider-afrikaanse konteks’, antwoord Nell (1993:257) onder meer: ‘Die doel van die prediking kan nié wees om die gemeente te probeer oortuig om 'n “kerk van armes” of 'n kerk van “minderbevoorregtes” te word nie.  Die eenvoudige rede daarvoor is dat 'n kerk nie 'n keuse het in sy samestelling en sosiale struktuur nie.  Wat wel problematies kan wees, is wanneer bepaalde sosiale kriteria as voorvereistes vir lidmaatskap gestel word’.

 

Die perikoop eindig op 'n besondere klimaks wanneer Jesus Christus beskryf word as die wysheid vir ons.  Raadpleeg hier beslis 'n paar kommentare om die impak van vers 30 volledig te kry.  Barrett (1971:61) beskryf die begrippe daar soos volg: ‘Wisdom does not simply arise out of speculative Judaism; righteousness is not simply a forensic counter, nor is holiness simply a technical religious term; each is a direct product of Christ’s self-offering for men, of the work of redemption wrought by God through him’.  Hierdeur word Christus se versoeningswerk sentraal in die fokus geplaas.

 

Die gepubliseerde preke is vir verskillende tye in die kerklike jaar geskryf.  Krusche (1981:80-86) gebruik dit vir die eerste Sondag na Epifanie; Peisker (1977:95-103) vir die sg. Estomihi (vyfde Sondag na Epifanie); Winkler (1980:285-291) op die vyfde Koninkryksondag; en Bauer (1980:168-174) op die sg. Gründonnerstag (net voor Goeie Vrydag).

 

Van der Merwe (1994:53-56) benut die teksgedeelte vir 'n preek op Goeie Vrydag en wys uit hoe Jesus eintlik van sy geboorte af nie die ‘regte lyne’ gevolg het nie.  Regdeur lyk Jesus se manier van doen na die ‘dwase’ alternatief, ook vandag nog.  Uiteindelik konkludeer Van der Merwe (1994:56): ‘Dit is die sin in die onsin van die kruis, dit is die wysheid van die oënskynlike dwaasheid.  Hierdie kruis alleen kan sin gee aan ons lewe en dit werklik die moeite werd maak’.

Preekvoorstel

Yuri Gargarin, die Russiese ruimtevaarder, het ná sy omvattende reise in die buitenste ruim met selfvertroue gesê: ‘Nou is ek seker dat God nie bestaan nie.  Ek het oral in die ruimte na Hom gesoek, en ek kon Hom nêrens kry nie’.  So was mense deur die eeue nog altyd op soek na God.  Op allerhande maniere het slim mense probeer bewys dat God bestaan òf dat Hy nie bestaan nie.

Paulus stel vir ons in vers 20 bekend aan die top-professore van sy tyd.  Hulle het almal na God gesoek:

* Die Griekse wysgere was baie slim mense wat vir jou presies kon vertel wie die gode             was en wat hulle gedoen het en hoe die wêreld in mekaar steek.  * Die Joodse skrifgeleerdes het pakke boekrolle gehad wat hulle uit hul koppe geken het, 'n duisternis wette wat jou sou help om God te ontdek en tevrede te stel.  * Die slim woordvoerders was spesiaal opgelei om eindeloos te kon redeneer oor elke denkbare ding op aarde.

 

Elkeen van hierdie mense was seker dat sy manier, sy wyse benadering die mense tot kennis van God sou bring.  Die Korintiërs was dan ook mense wat graag geroem het op hulle wysheid, op hoe slim hulle dan nou regtig is.  Die prediker kan 'n paar lyne deurtrek om te wys hoe mense vandag nog steeds op allerhande maniere soek na God.  Maar hierdie wysheid keer Paulus op sy kop.  In vers 21 sien ons dat God ander planne gehad het.  Ons lees daar: Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie.  Is dit dan verkeerd om kennis oor God te soek?  Nee, sekerlik nie.  Natuurlik kan en moet ek soveel moontlik kennis oor God en sy Woord insamel.  Nee, die wysheid waaroor Paulus dit hier het, gaan oor 'n lewenshouding, 'n ingesteldheid.  Wysheid is hier om eintlik beter te weet as God, om God te wil voorskryf.

 

Die Griekse wysgere en die Joodse skrifgeleerdes en die redevoerders van die tyd wou slimmer as God wees.  God se manier met die wêreld was vir hulle onsin.  Die Joodse skrifgeleerdes het al die beloftes oor 'n Messias in die Ou Testament geken.  Maar hulle het 'n magtige koning verwag wat hulle sou verlos van die Romeinse oorheersing.  Daarom lees ons dat hulle tekens gevra het.  Die Messias moes wondertekens doen.  Hy moes Homself bewys as dié een wat aan hulle verwagtings kon voldoen.  Toe kom die kruis!  En God sê vir die Jode: ‘Hier is julle Koning’!  Nee, dít kon hulle nie aanvaar nie.  Húlle Messias aan 'n kruishout.  Nooit!

 

Die Grieke het nie eens daaroor geredeneer nie.  Vir hulle was die hele konsep van 'n kruis sommer van die begin af onsin.  Hulle het alles in hulle filosofieë haarfyn uitgewerk.  Hierdie kruisstorie het nie in hulle plan ingepas nie en was daarom nie eens die moeite werd om oor te gesels nie. Hierop antwoord Paulus met 'n heel eenvoudige boodskap in vers 21: Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.  So eenvoudig, die prediking oor die kruisdood en opstanding van Jesus Christus moet verkondig word en dié wat dit hoor, moet dit glo en aanvaar.  Vir hulle is dit nie onsin nie, vir hulle is dit die kragtige werking van God.

 

Hier sou 'n paar voorbeelde kon dien om te illustreer hoe ons vandag ook nog slimmer as God wil wees, hoe ons baie keer vir ons 'n god skep wat in ons patroon pas.  Dit is dan 'n god wat my standpunt oor sake ondersteun, wat my politieke ideale deel, wat op my bevel moet reën gee of help in die eksamen of sorg dat ek werk kry.  Dit is ook 'n god wat nie veel van my verwag nie, wat glad nie omgee as ek my beloftes by belydenisaflegging en doop en huwelik en bevestiging as diaken of ouderling maar aflag nie.  Dit is 'n god wat al my besluite en wense goedkeur sonder om 'n oog te knip.  Om sy Seun aan die kruis van Golgota te laat sterf, was menslik gesproke beslis die mees onlogiese ding wat God kon doen.  Die Seun van God sterf op die mees vernederende manier denkbaar!  Dit kan tog nie.  Maar God is nie 'n patroongod wat in die hokkies van menslike verwagtings geliasseer kan word nie.  God openbaar sy eie patroon - Jesus Christus aan die kruis.

 

Die prediking oor die kruisgebeure is eintlik ook onlogies vir iemand wat dit teoreties wil uitwerk.  Daarom dat Paulus praat van die dwaasheid om te preek.  Maar as God se Woord suiwer verkondig word, is dit nie in die taal van menslike wysheid nie, maar dan is dit God se wysheid aan die woord.  En dan draai die aanhangers van menslike wysheid teleurgesteld weg voor die kruis, omdat hulle nie kan verstaan wat daar gebeur nie.

 

In vers 30 kry ons seker een van die kragtigste samevattings van wat Jesus Christus vir ons kom doen het (vgl. Nell 1993:258-260 vir mooi homiletiese lyne vanuit hierdie vers).  Hier lees ons ook van 'n wysheid, maar dié slag God se wysheid: Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is.  Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.

 

Dít is wysheid.  Dit is die werk van 'n God wat weet wat ons nodig het.  Die ware wysheid is Jesus Christus en deur God se genade kan ek ook deel in alles wat Christus bewerk het:

·        die vryspraak - Ek was skuldig, maar Hy het in my plek beskuldigde geword, sodat ek totaal vrygespreek is; 

·        die heiliging - God het my spesifiek afgesonder met 'n doel, om in totale oorgawe aan Hom te lewe ;

·        die verlossing - Ek is 'n vry mens, vry om God in gehoorsaamheid te dien.

 

Iewers in die preek (moontlik as slot) kan die volgende gedig dalk in 'n eie vertaling gelees word.  Ene William Agudelo, leerling van Ernesto Cardenal, het dit opgeteken onder die titel:

 

Aufruf an die Jungen meiner Generation

 

Legt eure Ohren an meinen Mund, Leute,

klein oder hoch

und ihr, die Jungen, die ihr es liebt,

blue jeans und dunkelrote Hemden zu tragen wie ich.

Ich bin nicht ein Prophet.

Ich bin nicht einmal ein Apostel.

Ich bin einer von euch.

Ihr seid meine Gefährten.

Jeder von euch ist mehr als Christi Kamerad:

er ist Christi Blut, Christi Knochen,

Christi Nerven, Christi Haut, Christi Seele.

Denkt nicht an jenes romantische Kitschbild,

auf dem er die Augen zum Himmel verdreht

mit gepflegtem Bart - als hätte er ihn mit Lack gewichst -

mit Lilienteint und fünf schon gepinselten Wunden.

Denkt nicht an das.

Dieser ist nicht euer Christus.

Dieser ist nicht mein Christus.

Dieser ist nicht unser Christus.

Der Christus von dem ich erzähle,

hat ausgewaschene blue jeans und legt einen

prima Rock auf seiner elektrischen Gitarre hin.

 

(aangehaal deur Peisker 1977:100).

Bibliografie

Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black;  Bauer, K-A 1980. Gründonnerstag: 1. Korinther 1,23-26. GPM 34, 168-174; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans;  Krusche, G 1981. 1. Sonntag nach Epiphanias: 1. Korinther 1,26-31. GPM 36, 80-86; Nell, I A 1993. 1 Kor 1:30, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), WtL III/3: Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg, 251-260. Kaapstad: Lux Verbi;  Peisker, C H 1977. Estomihi: 1. Korinther 1,18-25. GPM 32, 95-103;  Van der Merwe, C 1994. Goeie Vrydag: Die dwaasheid van die kruis. Lewende Woorde 2 (2), 53-56;  Winkler, E 1980. 5. Sonntag nach Trinitatis: 1. Korinther 1,18-25. GPM 34, 285-291.