Ander tekste: Miga 6:1-8; Ps 15;
Matt. 5:1-12
Die perikoop vorm deel van 'n groter tekseenheid wat strek van 1:18 tot
2:16 rondom die tema: ‘Die dwaasheid van God versus die wysheid van die
wêreld’. In die Woord teen die lig-uitgawe met bydraes rondom Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg is die perikoop
uitvoerig behandel met 1:30 as teksvers en die spesifieke fokus op die begrip dikaiosúne (Nell 1993:251-260). Hierdie postille is dan ook noodsaaklike
leeswerk met die oog op die prediking.
Nadat Paulus in vers 17 die kontras tussen die wysheid van logos en die kruis opgestel het, beweeg
hy nou na 'n reeks argumente wat hierdie kontras as verwysingspunt het. Die perikoop val in twee hoofdele
uiteen. Fee (1987:67, 78) tipeer die
twee dele soos volg: * God’s folly - a crucified Messiah
(1:18-25), * God’s folly - the Corinthian believers (1:26-31).
Ek haal graag 'n gedeelte uit Fee (1987:67) aan waar hy die kern van ons
perikoop uitstekend vasvat: ‘Thus he (Paul) says in effect, “So you think the
gospel is a form of sophia? How foolish can you get? Look at its message; it is based on the story of a crucified Messiah. Who in the name of wisdom would have dreamed
that up? Only God is so wise as to be
so foolish” (1:18-25); “Furthermore, look at its recipients.
Yourselves! Who in the name of
wisdom would have chosen you to be the new people of God?” (1:26-31)’.
Die perikoop is van deurslaggewende belang vir die groter geheel
(1:10-4:21) maar ook vir die hele eerste Korintiërbrief. Daar is geleerdes wat van mening is dat
Paulus hier op sy heel skerpste is. Hy
argumenteer, met die Ou Testament as basis, dat God nou deur die kruis bewerkstellig
wat Hy nog altyd deur sy profete belowe het.
God het 'n einde gemaak aan menslike selfgenoegsaamheid soos wat dit na
vore kom deur menslike wysheid en vermoëns.
Die evangelie is nie 'n nuwe sophia
nie, dit is nie eens 'n goddelike sophia
nie. Die evangelie staan as die
goddelike antitese tot menslike beoordeling.
Vanuit sy nuwe posisie in Christus beskryf Paulus die twee basiese groepe
mense. Vroeër was dit Jode en Grieke,
nou is dit ‘ons wat gered word’ teenoor ‘dié wat verlore gaan’. Hierdie nuwe verdeling is nie soseer
gebaseer op die mense se reaksie op
die boodskap van die kruis nie, as op die kruisgebeure en die opstanding self (Fee 1987:68-69). Hierdie verlossingsgebeure is die keerpunt
wat òf as dwaasheid òf as die krag van God beleef word.
Om sy standpunt verder uit te bou dat die evangelie wat hy verkondig nie
langs die lyne van menslike verwagtinge beweeg nie, verskuif Paulus sy fokus
van die inhoud van die boodskap
(18-25) na die ontvangers self
(26-31). Hulle is nie vername mense nie, hulle was niks in die wêreld
nie. En tog het God hulle uitgekies, om
hulle te red, maar ook om diegene wat wel iets was volgens menslike standaarde,
skaam te maak.
Hier is dit belangrik om veral die hermeneutiese deel van Nell
(1993:255-258) deeglik onder oë te kry.
Hy gee onder andere aandag aan die sosiologiese en sosio-historiese
aspekte van ons perikoop. Op die vraag:
‘Hoe tref dié perikoop en teksvers die kerk binne die Suider-afrikaanse
konteks’, antwoord Nell (1993:257) onder meer: ‘Die doel van die prediking kan
nié wees om die gemeente te probeer oortuig om 'n “kerk van armes” of 'n kerk
van “minderbevoorregtes” te word nie.
Die eenvoudige rede daarvoor is dat 'n kerk nie 'n keuse het in sy
samestelling en sosiale struktuur nie.
Wat wel problematies kan wees, is wanneer bepaalde sosiale kriteria as
voorvereistes vir lidmaatskap gestel word’.
Die perikoop eindig op 'n besondere klimaks wanneer Jesus Christus
beskryf word as die wysheid vir
ons. Raadpleeg hier beslis 'n paar
kommentare om die impak van vers 30 volledig te kry. Barrett (1971:61) beskryf die begrippe daar soos volg: ‘Wisdom does not simply arise out of
speculative Judaism; righteousness is
not simply a forensic counter, nor is holiness
simply a technical religious term; each is a direct product of Christ’s
self-offering for men, of the work of redemption
wrought by God through him’. Hierdeur
word Christus se versoeningswerk sentraal in die fokus geplaas.
Die gepubliseerde preke is vir verskillende tye in die kerklike jaar
geskryf. Krusche (1981:80-86) gebruik
dit vir die eerste Sondag na Epifanie; Peisker (1977:95-103) vir die sg. Estomihi (vyfde Sondag na Epifanie);
Winkler (1980:285-291) op die vyfde Koninkryksondag; en Bauer (1980:168-174) op
die sg. Gründonnerstag (net voor
Goeie Vrydag).
Van der Merwe (1994:53-56) benut die teksgedeelte vir 'n preek op Goeie Vrydag en wys uit hoe Jesus eintlik van sy geboorte af nie die ‘regte lyne’ gevolg het nie. Regdeur lyk Jesus se manier van doen na die ‘dwase’ alternatief, ook vandag nog. Uiteindelik konkludeer Van der Merwe (1994:56): ‘Dit is die sin in die onsin van die kruis, dit is die wysheid van die oënskynlike dwaasheid. Hierdie kruis alleen kan sin gee aan ons lewe en dit werklik die moeite werd maak’.
Yuri Gargarin, die Russiese ruimtevaarder, het ná sy omvattende reise in
die buitenste ruim met selfvertroue gesê: ‘Nou is ek seker dat God nie bestaan
nie. Ek het oral in die ruimte na Hom
gesoek, en ek kon Hom nêrens kry nie’.
So was mense deur die eeue nog altyd op soek na God. Op allerhande maniere het slim mense probeer
bewys dat God bestaan òf dat Hy nie bestaan nie.
Paulus stel vir ons in vers 20 bekend aan die top-professore van sy
tyd. Hulle het almal na God gesoek:
* Die Griekse wysgere was baie slim mense wat vir jou presies kon vertel
wie die gode was en wat hulle
gedoen het en hoe die wêreld in mekaar steek.
* Die Joodse skrifgeleerdes het pakke boekrolle gehad wat hulle uit hul
koppe geken het, 'n duisternis wette wat jou sou help om God te ontdek en
tevrede te stel. * Die slim
woordvoerders was spesiaal opgelei om eindeloos te kon redeneer oor elke
denkbare ding op aarde.
Elkeen van hierdie mense was seker dat sy manier, sy wyse benadering die
mense tot kennis van God sou bring. Die
Korintiërs was dan ook mense wat graag geroem het op hulle wysheid, op hoe slim
hulle dan nou regtig is. Die prediker
kan 'n paar lyne deurtrek om te wys hoe mense vandag nog steeds op allerhande
maniere soek na God. Maar hierdie
wysheid keer Paulus op sy kop. In vers
21 sien ons dat God ander planne gehad het.
Ons lees daar: Dit was die
bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis
van God sou kom nie. Is dit dan
verkeerd om kennis oor God te soek?
Nee, sekerlik nie. Natuurlik kan
en moet ek soveel moontlik kennis oor God en sy Woord insamel. Nee, die wysheid waaroor Paulus dit hier
het, gaan oor 'n lewenshouding, 'n ingesteldheid. Wysheid is hier om eintlik beter te weet as God, om God te wil
voorskryf.
Die Griekse wysgere en die Joodse skrifgeleerdes en die redevoerders van
die tyd wou slimmer as God wees. God se
manier met die wêreld was vir hulle onsin.
Die Joodse skrifgeleerdes het al die beloftes oor 'n Messias in die Ou
Testament geken. Maar hulle het 'n
magtige koning verwag wat hulle sou verlos van die Romeinse oorheersing. Daarom lees ons dat hulle tekens gevra
het. Die Messias moes wondertekens
doen. Hy moes Homself bewys as dié een
wat aan hulle verwagtings kon voldoen.
Toe kom die kruis! En God sê vir
die Jode: ‘Hier is julle Koning’! Nee,
dít kon hulle nie aanvaar nie. Húlle
Messias aan 'n kruishout. Nooit!
Die Grieke het nie eens daaroor geredeneer nie. Vir hulle was die hele konsep van 'n kruis sommer van die begin
af onsin. Hulle het alles in hulle
filosofieë haarfyn uitgewerk. Hierdie
kruisstorie het nie in hulle plan ingepas nie en was daarom nie eens die moeite
werd om oor te gesels nie. Hierop antwoord Paulus met 'n heel eenvoudige
boodskap in vers 21: Daarom het God in sy
goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red
wat glo. So eenvoudig, die
prediking oor die kruisdood en opstanding van Jesus Christus moet verkondig
word en dié wat dit hoor, moet dit glo en aanvaar. Vir hulle is dit nie onsin nie, vir hulle is dit die kragtige
werking van God.
Hier sou 'n paar voorbeelde kon dien om te illustreer hoe ons vandag ook
nog slimmer as God wil wees, hoe ons baie keer vir ons 'n god skep wat in ons
patroon pas. Dit is dan 'n god wat my
standpunt oor sake ondersteun, wat my politieke ideale deel, wat op my bevel
moet reën gee of help in die eksamen of sorg dat ek werk kry. Dit is ook 'n god wat nie veel van my verwag
nie, wat glad nie omgee as ek my beloftes by belydenisaflegging en doop en
huwelik en bevestiging as diaken of ouderling maar aflag nie. Dit is 'n god wat al my besluite en wense
goedkeur sonder om 'n oog te knip. Om
sy Seun aan die kruis van Golgota te laat sterf, was menslik gesproke beslis
die mees onlogiese ding wat God kon doen.
Die Seun van God sterf op die mees vernederende manier denkbaar! Dit kan tog nie. Maar God is nie 'n patroongod wat in die hokkies van menslike
verwagtings geliasseer kan word nie.
God openbaar sy eie patroon - Jesus Christus aan die kruis.
Die prediking oor die kruisgebeure is eintlik ook onlogies vir iemand wat
dit teoreties wil uitwerk. Daarom dat
Paulus praat van die dwaasheid om te preek.
Maar as God se Woord suiwer verkondig word, is dit nie in die taal van
menslike wysheid nie, maar dan is dit God se wysheid aan die woord. En dan draai die aanhangers van menslike
wysheid teleurgesteld weg voor die kruis, omdat hulle nie kan verstaan wat daar
gebeur nie.
In vers 30 kry ons seker een van die kragtigste samevattings van wat
Jesus Christus vir ons kom doen het (vgl. Nell 1993:258-260 vir mooi
homiletiese lyne vanuit hierdie vers).
Hier lees ons ook van 'n wysheid, maar dié slag God se wysheid: Aan God is dit te danke dat julle met
Christus Jesus verenig is. Hy het vir
ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die
verlossing.
Dít is wysheid. Dit is die werk
van 'n God wat weet wat ons nodig het.
Die ware wysheid is Jesus Christus en deur God se genade kan ek ook deel
in alles wat Christus bewerk het:
·
die vryspraak
- Ek was skuldig, maar Hy het in my plek beskuldigde geword, sodat ek totaal
vrygespreek is;
·
die heiliging
- God het my spesifiek afgesonder met 'n doel, om in totale oorgawe aan Hom te
lewe ;
·
die verlossing
- Ek is 'n vry mens, vry om God in gehoorsaamheid te dien.
Iewers in die preek (moontlik as slot) kan die volgende gedig dalk in 'n
eie vertaling gelees word. Ene William
Agudelo, leerling van Ernesto Cardenal, het dit opgeteken onder die titel:
Legt eure Ohren an
meinen Mund, Leute,
klein oder hoch
und ihr, die
Jungen, die ihr es liebt,
blue jeans und
dunkelrote Hemden zu tragen wie ich.
Ich bin nicht ein
Prophet.
Ich bin nicht
einmal ein Apostel.
Ich bin einer von
euch.
Ihr seid meine
Gefährten.
Jeder von euch ist
mehr als Christi Kamerad:
er ist Christi
Blut, Christi Knochen,
Christi Nerven,
Christi Haut, Christi Seele.
Denkt nicht an
jenes romantische Kitschbild,
auf dem er die
Augen zum Himmel verdreht
mit gepflegtem
Bart - als hätte er ihn mit Lack gewichst -
mit Lilienteint
und fünf schon gepinselten Wunden.
Denkt nicht an
das.
Dieser ist nicht
euer Christus.
Dieser ist nicht
mein Christus.
Dieser ist nicht
unser Christus.
Der Christus von
dem ich erzähle,
hat ausgewaschene
blue jeans und legt einen
prima Rock auf
seiner elektrischen Gitarre hin.
(aangehaal deur Peisker 1977:100).
Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Bauer, K-A 1980. Gründonnerstag: 1. Korinther 1,23-26. GPM 34, 168-174; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Krusche, G 1981. 1. Sonntag nach Epiphanias: 1. Korinther 1,26-31. GPM 36, 80-86; Nell, I A 1993. 1 Kor 1:30, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), WtL III/3: Riglyne vir prediking oor regverdiging en reg, 251-260. Kaapstad: Lux Verbi; Peisker, C H 1977. Estomihi: 1. Korinther 1,18-25. GPM 32, 95-103; Van der Merwe, C 1994. Goeie Vrydag: Die dwaasheid van die kruis. Lewende Woorde 2 (2), 53-56; Winkler, E 1980. 5. Sonntag nach Trinitatis: 1. Korinther 1,18-25. GPM 34, 285-291.