1 Korintiërs 1:10-18 (Lambert Jacobs)

24 Januarie 1999

Derde week van Epifanie

 

Ander tekste: Jes. 9:1-4; Ps. 27:1,4-9;  Matt. 4:12-23

Die liggaam van Jesus Christus op aarde behoort een te wees.  Verdeeldheid en onderlinge twis en jaloesie skeur die kerk uitmekaar.  Die eer van God is op die spel.  Daarom kom die opdrag tot ons: ‘Kinders van die Here, werk asseblief tog saam’!

Teks

 

Ná die baie positiewe seëngroet en danksegging verander die hele toonaard van die brief by vers 10 met die werkwoord parakalo.  Oor die parakalo-uitdrukkings in die Pauliniese briefkorpus is al uitvoerig geskryf (vgl. Jacobs 1994:185-188).  Dit kan baie nuttig wees om van hierdie werke in die hande te kry, juis omdat die werkwoord so 'n sleutelbetekenis het vir die verstaan van die perikoop en trouens vir ten minste die eerste vier hoofstukke van die brief.  'n Groep mense van Korinte het Paulus in Efese besoek (Chloë se mense) en redelik ontstellende feite oor die gemeente onder Paulus se aandag gebring.  Waarskynlik het die besoekers uit Korinte eers by Paulus uitgekom nadat 'n brief uit die gemeente hom bereik het.  Die nuus wat hulle hom meedeel, is egter van so 'n kritieke aard dat hy in sy brief heel eerste daaraan aandag gee.  Hy spreek vier sulke sake aan voordat hy in 7:1 op hulle brief begin antwoord (vgl. Fee 1987:46-47).

 

Daar is sprake van partyskappe in die gemeente.  Paulus gebruik skerp terme soos schísmata - verdeeldheid, érides - onenigheid, later in 3:3 ook zelos - jaloesie en éris - twis, om die situasie in Korinte te beskryf.  Hy doen 'nn beroep op hulle om eensgesindheid. Alhoewel die situasie in die gemeente sekerlik sterk optrede geregverdig het, pleit Paulus byna by hulle, en dit ook ‘in die Naam van ons Here Jesus Christus’ en hy spreek hulle ook as ‘broers’ aan.  In vers 13 stel Paulus drie sterk retoriese vrae.  Die feit dat hulle die kerk verdeel, hou eintlik in dat Christus in stukke gekap word!  Paulus of die ander leiers is tog nie vir hulle gekruisig nie.  Hoe kan hulle hulle dan rondom die leiers skaar?  Net so belaglik is dit om te veel waarde te heg aan die een wat jou gedoop het.  Jy is in die naam van Christus gedoop, nie van Paulus of Apollos of Sefas nie.

 

Paulus brei dan uit op die feit dat die een wat die doop bedien het, nie die een is oor wie dit gaan nie.   Die perikoop eindig met die eerste verwysing na sophía in die brief. (Hierna sal die woordgroep nog 25 keer net in hfste. 1-3 voorkom!)  Paulus beklemtoon dit nou reeds dat hy deur God gestuur is om te preek, en dat één saak die kern van sy prediking sou vorm - die kruis van Jesus Christus, nie menslike wysheid nie.

Konteks

'n Paar opmerkings behoort nog oor die probleem van partyskappe in die gemeente van Korinte gemaak te word.  Trouens, daar is talle geleerdes wat meen dat die verdeeldheid in die gemeente die spil is waarom die hele eerste Korintiërbrief draai. So sê Mitchell (1991:1) byvoorbeeld: ‘1 Corinthians is a single letter of unitary composition which contains a deliberative argument persuading the Christian community at Corinth to become reunified.  1 Corinthians is throughout an argument for ecclesial unity, as centered in the próthesis, or thesis statement of the argument, in 1:10' (my kursivering).

 

Die vier groepe wat in 1:12 genoem word rondom die name van Paulus, Apollos, Sefas en Christus het natuurlik al tot dik boeke aanleiding gegee.  Die groot landmerk in die debat was 'n artikel van F C Baur oor die Christuspartei in 1831, waarin hy aanvoer dat die probleem in Korinte eintlik maar 'n stryd tussen twee groepe was, 'n Paulus-groep wat in die heiden-Christendom sy beslag gekry het, en 'n Petrus-groep wat aan die Joods-partikularistiese eiegoed vasgehou het.  Baur se standpunte is uiteindelik as Hegeliaanse filosofie weerlê, maar die stof wat hy opgeskop het, het tot vandag toe nie regtig gaan lê nie (vgl. Lategan 1984:64-67).

 

Die prediker sou heelwat oor die groepe in Korinte in die meeste goeie kommentare kry (vgl. Conzelmann 1975:33-34; Dunn 1995:28-34).  Ons kan hier volstaan met 'n paar gedagtes.  Dit lyk nie asof daar van ernstige breuke tussen gemeentelede of gemeenteleiers sprake was nie (Fee 1987:47).  Lategan (1984:65-66) noem dit ’n ‘soort persoonlikheidskultus’ rondom die persoon en styl van die leiers in die vroeë kerk.

 

Die Paulus-groep het waarskynlik onder sy prediking tot geloof gekom, en het ten spyte van kritiek aan hom lojaal gebly.  Apollos was volgens alle aanduidings 'n intelligente jongman en 'n begaafde spreker (vgl. Hand 18:24).  Dit het 'n groep mense om hom geskaar.  Die Sefas-groep het een of ander verbintenis met Petrus gehad.  Daar is vermoedens dat hy dalk op 'n punt die gemeente besoek het.  Waarskynlik het dit meer om sy leiding in die grondlegging van die kerk gegaan. Die sg. Christus-groep het al tot baie bespiegelinge gelei.  Dalk was dit die mees verwaande groep wat gemeen het dat hulle nie eintlik enige menslike leiers nodig het nie.  Hulle is direk aan Christus verbonde.  Daar is selfs voorstelle dat die Christus-uitspraak nie op 'n vierde groep dui nie, maar 'n uitspraak van Paulus self teen die ander drie is, of dat dit 'n latere invoeging in die teks is, omdat dit in 3:22 ontbreek.

 

'n Volledige verklaring vir die groepvorming in die Korintegemeente sal ons waarskynlik nooit kry nie.  Dunn (1995:27) noem dit nie verniet ‘the longest running critical question regarding 1 Corinthians during the modern period’ nie.  Dit is genoeg vir ons om te weet dat daar 'n situasie ontstaan het wat nie bevorderlik was vir die groei van die kerk en die verkondiging van die Evangelie-boodskap nie.  Hierteen spreek Paulus hom duidelik uit en hy wy ten minste die eerste vier hoofstukke daaraan.  Die eenheid moet éérs herstel word voordat hy by ander probleemvrae kan uitkom.

Preekvoorstel

Kinders hou 'n ouer nederig!  Dit is nou die een feit waaroor alle ouers sal saamstem.  Jy begin net dink dat jou kind weet wanneer om asseblief en dankie te sê, en dan maak hy asof hy nog nooit die woorde gehoor het nie die oomblik as julle by ander mense kom.  Jy is seker jou kind eet die netjiesste in die dorp, en dan laat val sy haar bordjie eetgoed op jou vriendin se ligte mat.  Dan besef 'n mens net weer: Kinders bly kinders bly kinders!

 

Soos 'n kind egter groter word, verwag 'n mens al meer volwasse optrede van hom.  En as so 'n groterwordende kind dan steeds nog 'n kind se streke uithaal, word ons simpatie al minder.  Dít is basies die probleem waarmee Paulus spook as hy daar in Efese sit en allerhande negatiewe berigte oor die gemeente in Korinte bereik sy ore.  Hulle het onder Paulus se prediking tot geloof gekom, die evangelie leer ken, die pad van Christenskap begin loop.  Nou verwag Paulus dat daar al 'n bepaalde vlak van geloofsgroei moes gekom het, dat hulle al geestelik sterk as gemeente moes staan.

 

Maar die teendeel het in Korinte gebeur.  In plaas van kragtig hulle gemeente op te bou, is hulle besig om verdeeldheid te saai.  Die saak waaroor dit gaan is: Watter dominee preek die beste?  Groepe het in die gemeente begin vorm rondom die persoonlikhede van die geestelike leiers.  Paulus het die gemeente gestig, en 'n groot groep het hom derhalwe sterk ondersteun.  Nadat Paulus weg is uit die gemeente het Apollos vir 'n tyd daar gewerk, en dit blyk dat hy 'n meer begaafde prediker as Paulus was, sodat 'n groep hulle by hom geskaar het.  Nog 'n groep het gesê: Nee, Petrus (of Sefas soos hy ook genoem is) was die eintlike stigter van die kerk.  Nog 'n groep het skynbaar geredeneer dat hulle nie menslike leiers nodig het nie, maar sommer vir Christus direk as hulle partyleier nadergetrek.  Op dié manier is die liggaam van Christus in Korinte in verskillende rigtings uitmekaargetrek.

 

Hierdie perikoop sou deur 'n prediker na 'n eie situasie waar daar miskien verdeeldheid of toutrekkery voorkom en/of na die verdeeldheid tussen kerke in ons kerkfamilie en breër nog in die land deurgetrek kon word.  Ek haal graag 'n paragraaf aan van Fee (1987:47) waarin hy die Amerikaanse situasie beskryf: ‘The problem that Paul addresses at the outset of this letter is probably the best known of them all.  Moreover, because our own experience is of a church divided, and especially because we have also experienced painfully destructive quarrels within the church in various ways, we instinctively feel ourselves immediately in touch with their problem’.  Kan ons nie in Suid-Afrika hierop ‘Amen’ sê nie!

 

Binne die eie gemeentesituasie sou die lidmate hulleself kon afvra: ‘Hoe is dit met ons gesteld’?  Dalk nie heeltemal soos in Korinte nie, of dalk tog!  In die meeste gevestigde kerke het daar oor jare 'n tradisie gevestig dat die gemeente grootliks draai om die persoon en optrede van die predikant.  Vroeër jare was dit nog meer so.

Dit dateer veral uit 'n tyd toe die predikant saam met die onderwyser en die landdros en die dokter die enigste mense op die dorp met geleerdheid was.  Die posisie van die predikant het intussen in 'n groot mate verander, en tog geld baie van die verwagtings vandag nog.  Daarby is dit so dat waar daar meer as een predikant in 'n gemeente werk, hulle voortdurend teen mekaar opgeweeg en afgespeel word.  Dan is daar nog die verdere verskynsel van vorige predikante wie se spook so sterk in 'n gemeente kan loop dat die huidige leraar beswaarlik sy werk kan doen.  Hier moet die eie gemeente maar hand in eie boesem steek oor die verwagtings van en optrede teenoor leraars.  Dalk is daar mense wat net die eredienste bywoon waar die een dominee preek, ens.

 

Maar daar is ook ander moontlikhede.  Iemand is dalk nie beskikbaar as ouderling nie omdat sy grootste aartsvyand daar is, of ek kom nie by die vrouediens uit nie omdat na my mening die dorp se grootste skinderbek gereeld daar is.  Dan moet ons mooi dink oor die situasie in Korinte.  Dan gaan dit waarskynlik vir ons nog oor mense, en nie oor Jesus Christus en Hom as die Gekruisigde nie.  Maar in ons gespartel binne die NG Kerkfamilie (en ook binne ander ekumeniese verhoudinge) om 'n weg uit die verdeeldheid sou 1 Kor 1:10-17 beslis ook 'n rol kon/ moet speel.  Paulus se beroep, sy pleidooi om eensgesindheid (letterlik om uit een mond te praat) mag nie op dowe ore val nie.  Karl Barth se woorde beklemtoon die erns: Jede Kirchenspaltung ist als solches ein finsteres Rätsel, ein Skandal (Elke kerkverdeling is as sodanig  'n duistere raaisel, 'n skandaal.) (aangehaal deur Naudé 1997:168).

 

'n Paar reëls van Naudé (1997:172) haak aan by Paulus se verontwaardiging in hierdie perikoop (veral waar hy in vers 13 vra: Is Christus dan in stukke verdeel?) en behoort ook die belangrikheid van 'n ernstige strewe na eenheid in die kerk van Christus by lidmate aan te wakker: ‘Daar is siniese mense wat al sê die eenheid tussen voorheen strydende politici en sportliggame is 'n groter bron van hoop vir Suid-Afrika as die (nog ontwykende) eenheid onder die NG Kerkfamilie.  As dit kom by eenheid, is op byna alle terreine al sukses behaal: selfs die rolbalklubs vaar beter as die kerk.  Daar word gesê die hele poging is eintlik nou te laat, selfs oorbodig.  Dis 'n skande op die kerk.  Nee, moet ons sê, dis 'n skande op die evangelie.  Dis vir God Drie-enig skandalig’.

 

Sal dit nie 'n blye dag wees nie as lidmate in 'n gemeente onderling en die kerk van Christus op alle vlakke kan sê: ‘Ons is een in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging’ (vers 10).  Ons weet ons heil lê in Christus wat vir ons die verlossing bewerk het.  Daarom kyk ons nie langer vas in mense en hulle verskille nie.  Dit gaan vir ons ook nie langer oor menslike wysheid nie, maar oor ons gemeenskaplike verlossing in Jesus Christus. Fee (1987:66) dui aan die hand van ons teks 'n moontlike weg uit die huidige fragmentasie van kerke aan: ‘It probably lies less in structures and more in our readiness to recapture Paul’s focus here - on the preaching of the cross as the great divine contradiction to our merely human ways of doing things’.

 

Bibliografie

Baur, F C 1831. Die Christuspartei in der korintischen Gemeinde, der Gegensatz des paulinischen und petrinischen Christentums in der ältesten Kirche, der Apostel Petrus in Rom. Tübinger Zeitschrift für Theologie 4, 61-206;  Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress;  Dunn, J D G 1995. 1 Corinthians. Sheffield: Sheffield Academic Press;  Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans;  Jacobs, L D 1994. Bible translation in the 1990's: The possibilities of a pragmatic approach, in Mouton, J & Lategan, B C (eds.), The relevance of theology for the 1990's, 179-194. Pretoria: HSRC;  Lategan, B C 1984. 1 Korintiërs, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 57-79. Pretoria: NGKB  Mitchell, M M 1991. Paul and the rhetoric of reconciliation: An exegetical investigation             of the language and composition of 1 Corinthians. Tübingen: Mohr  Naudé, P J 1997. Daar is maar een doop ... Efesiërs 4:1-6, in Burger, C W, Müller, B A & Smit, D J (reds.), Woord teen die lig III/5: Riglyne vir prediking oor die eenheid van die kerk, 168-172. Kaapstad: Lux Verbi.