Ander tekste: Jes. 49:1-7; Ps
40:1-11; Joh. 1:29-42
Dit is
belangrik om te let op die plek van hierdie perikoop binne die struktuur van
die eerste Korintiërbrief. Dit sal
raadsaam wees om 'n paar artikels oor die antieke briefvorm in die hand te
neem. Du Toit (1984:5-12) gee 'n kort
maar baie bruikbare uitleg van die Pauliniese briefvorm, en Lategan
(1984:78-79) verduidelik spesifiek die uitleg van 1 Korintiërs.
Die
perikoop onder bespreking dek die eerste twee komponente van die tipiese
Paulusbrief, naamlik die briefaanhef
(1-3) en die danksegging (4-9). Die briefaanhef sluit in die vermelding van
die afsenders (in hierdie geval
Paulus en Sostenes), die geadresseerdes
van die brief (die gemeente van God in Korinte en ook wyer almal wat die Naam
van die Here aanroep) en die gebruiklike seëngroet
(genade en vrede ...).
Feitlik
alle briewe in die Grieks-Romeinse periode het begin met so 'n drievoudige
groetformule. Paulus sluit in sy briewe
by hierdie gebruik aan, maar vul dit telkens met 'n christelike inhoud. Paulus beklemtoon drie sake wanneer hy hom
aan die lesers in Korinte voorstel.
Eerstens is sy apostelskap deur goddelike roeping. Daarbenewens beklemtoon hy die goddelike
oorsprong van sy apostelskap deur te sê dat dit ‘deur die wil van God’ is. Derdens beskryf hy sy roeping as 'n ‘apostel
van Jesus Christus’.
In
retoriese studies het die dankseggingsgedeelte van die Pauliniese brief en
spesifiek van 1 Korintiërs al heelwat aandag gekry. As die gemeente van Korinte dan vir Paulus soveel hartseer en
probleme besorg het, hoe kan hy God met soveel oortuiging dank vir die goeie
dinge in die gemeente? Daarom is die
gedeelte 4-9 al as suiwer ironie getipeer, of dat Paulus maar net sy lesers
‘sagmaak’ vir wat kom.
Tog is die
inhoud van hierdie perikoop egte danksegging.
Die probleem lê immers nie by die gawes wat die Korintiërs van God
ontvang het nie, maar by hulle ingesteldheid daarteenoor. Daarom kan Paulus God opreg dank vir die
gawes wat Hy aan hulle gegee het, maar terselfdertyd is Paulus ook al besig om
die lyne op te stel vir die hoofbetoog in sy brief (vgl. Fee 1987:36).
Dit is vir Paulus belangrik om van die begin af te beklemtoon dat die gemeente in Korinte alles uit genade van God ontvang het deur die versoeningswerk van Jesus Christus, sodat hulle geen rede het om in hulleself te roem nie.
Aangesien
die volgende vier weke aan perikope in die eerste Korintiërbrief gewy gaan
word, behoort dit uiters waardevol te wees om 'n bietjie meer oor die stad Korinte
en sy mense na te lees. In die
prediking kan dan ook in die loop van die vier weke van die inligting aan die
gemeente deurgegee word. Die meeste
goeie kommentare het 'n inleidende gedeelte waarin agtergrondinligting oor die
situasie van die gemeente in Korinte gegee word. Goeie oorsigte kan gekry word in Barrett 1971:1-29; Conzelmann
1975:1-16; Dunn 1995:13-26; Fee 1987:1-20 en Lategan 1984:57-79.
'n Paar
hooflyne oor Korinte en die aanleidende oorsake tot die skryf van die eerste
Korintiërbrief behoort hier voldoende te wees.
Geografies was die stad Korinte uiters strategies geleë. Korinte was reg tussen twee hawens, Legaium
in die weste aan die Korintiese golf en Kengreë in die ooste aan die Saroniese
golf. Hierdie plasing het 'n paar
belangrike gevolge gehad. Daar was 'n
konstante stroom van handelsverkeer en ander besoekers deur die stad. Hierdie besoekers asook die inwoners het aan
die stad 'n besonder kosmopolitiese samestelling verleen. Afgesien van die Griekse inwoners was daar
ook 'n sterk Joodse gemeenskap, en boonop mense van oral oor die Romeinse Ryk.
Saam met
hulle aardse besittings het hierdie mense natuurlik ook hulle gode en
godsdienstige praktyke gebring.
Sinkretisme was dus in Korinte aan die orde van die dag. In dié gemeenskap was daar ook
moraliteitsprobleme. Soos wat enige gemeenskap waarin daar 'n hawe is, vandag
nog ervaar.
Paulus het
die gemeente waarskynlik in 50 n C gestig.
Hieroor kan inligting uit Hand 18:1-18 vir die gemeente deurgegee
word. Paulus skryf die brief rondom 55
n C vanuit Efese. 'n Paar faktore het
die skryf van hierdie brief noodsaaklik gemaak. 'n Afvaardiging (of meer) uit Korinte het Paulus in Efese besoek
en ontstellende nuus uit die gemeente gebring.
Daar het onderlinge twis en verdeeldheid ontstaan, daar is sprake van
ergerlike onsedelikheid, van die gemeentelede daag mekaar vir niks voor die
hof, en selfs by die nagmaal het daar wrywing gekom. Dan is daar ook sprake van 'n brief wat die Korintiërs aan Paulus
gerig het. Daarin het hulle vrae gestel
rondom die huwelik, die opstanding uit die dood, die eet van vleis wat aan
afgode geoffer is, die plek van die geestesgawes in die gemeentebyeenkomste, en
oor die kollekte vir die moedergemeente in Jerusalem. Op al hierdie sake probeer Paulus in die loop van die brief
antwoorde gee.
Uit bogaande kom ons agter dat 1 Korintiërs oor baie praktiese probleme handel. Lategan (1984:57) skryf: ‘Die situasie verander so vinnig dat Paulus as’t ware die gate moet toestop waar dit ontstaan, ad hoc-beslissings moet gee telkens wanneer nuwe probleme opduik’. Daarom is 'n sorgvuldige bestudering van hierdie brief vandag belangriker as ooit. Dunn (1995:11) onderstreep hierdie waarde van die brief as hy sê: ‘It takes the lid off a New Testament church in a way that no other writing does’.
Die
prediker sou kon afskop met 'n kort inleiding oor briewe skryf. Die kinders wat in die skool al geleer het
hoe om briewe te skryf, sal weet dat daar verskillende soorte briewe is. Die aanhef of begin van die brief is baie
belangrik. Daaruit kan 'n mens agterkom
aan wie die brief gerig is en waaroor dit gaan. 'n Mens skryf byvoorbeeld nie ‘Geagte Meneer’ bo-aan 'n brief vir
jou kêrel nie, net soos jy ook nie ‘Haai, ou Koos’ sal sê vir die besturende
direkteur van 'n firma waar jy vir werk aansoek doen nie. Dan is daar natuurlik dié soort brief waarin
'n student vir haar Pa geld vra. Dan
begin sy met allerhande mooi woorde oor hoe oulik hy is en hoe lief sy vir hom
is totdat hy mooi saggemaak is en sy met haar aanslag kan begin. Paulus was ook
nie sommer 'n groentjie as dit by die regte briefskryftegniek kom nie. Nee, hy was goed opgelei en uit elkeen van
sy briewe se begingedeeltes kan ons al heelwat agterkom oor dit wat hy aan die
gemeentes wou skryf. Net so is dit ook
met hierdie brief, wat Paulus waarskynlik so net voor Pinkster van 55 n C uit
Efese aan die gelowiges in Korinte geskryf het.
Paulus
skryf as 'n geroepe apostel, 'n gestuurde van die Here, aan 'n klomp geroepe
gelowiges. Maar al het die gemeente
onder sy prediking ontstaan, beteken dit nie dat dit sý gemeente is nie. Dat hulle in die Grieks heiliges en geheiligdes
genoem word, beteken ook nie dat die Korintiërs nou heel besondere mense is wat
verdien het om deur God geroep te word nie. Nee, Paulus se eerste gedagte is om vir God te loof en te dank,
want hy weet: Die feit dat hy 'n apostel is, hy wat die kerk van die Here met
mag en mening vervolg en probeer uitroei het, is absoluut net genade.
Net so was
dit ook met die Korintiese gelowiges.
Tot so onlangs as vyf jaar gelede was hulle nog heidene, het hulle aan
al die sondige praktyke deelgeneem wat daar in 'n besige hawestad beskikbaar
is. Maar God het dit alles kom
verander. In Christus Jesus en deur
middel van die prediking van Paulus het God begin om vir Homself mense in
Korinte af te sonder. Hierdie posisie
waarin hulle nou was, was 'n geskenk van God se kant af. Hy het van die begin af die inisiatief
geneem in hulle verlossing.
Wat daar in
die openingsverse van die eerste Korintiërbrief van Paulus en die gelowiges in
Korinte gesê word, geld natuurlik net so van die mense wat nou in die erediens
sit. Dat jy glo, is deel van God se
genadewerk met jou. Dat jy gedoop is,
is 'n geskenk. Ook dat jy aan die
Nagmaalstafel kan aansit. Dat jy op
daardie spesifieke kamp gegaan het waar jy die Here aangeneem het as jou
Verlosser; dat jy dié besondere boek gelees het wat jou so aangespreek het; dat
jy in 'n huis grootgeword het waar die kerk 'n belangrike rol gespeel, al
hierdie dinge is deel van God se genadewerk met jou. Conzelmann (1975:22) stel dit skerp: Holiness is received, not achieved.
Korinte was
ook nie sommer só 'n gemeente nie, begin Paulus sy brief. Nee, aan genadegawes het dit hulle nie
ontbreek nie. In vers 5 sonder Paulus twee gawes uit wat veral baie sterk in
die Korintiërs se gawebank gefigureer het, dié van logos en gnosis. Hulle was 'n klomp slim ouens. Dit was dan ook eintlik hierdie gemeente se
‘claim to fame’, die feit dat hulle so welsprekend en geleerd was. So spog elke
gemeente met 'n oorvloed geskenke uit die hand van die Here. As ons vanoggend 'n brief van die Here moes
ontvang, sou Hy ook kon sê dat dit ons nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek
nie. Hier kan die prediker uitbrei oor
die eie stel gawes wat in sy of haar tuisgemeente voorkom.
Maar as ons
nou die brief verder lees, is dit ongelooflik hoe juis hulle sterk punte die
Korintiërs se probleem geword het. God
het hulle geseën met die gawe van welsprekendheid, maar net hierna, van vers 10
af, lees ons hoe hulle die een dominee teen die ander afgespeel het omdat hy
nie so welsprekend was nie. Hulle is
geseën met kennis, maar in hfst. 8 moet Paulus vir hulle sê: ‘Kennis maak
verwaand’. Daar was niks verkeerd met
die gawes van die Korintiërs nie, net miskien met die klem wat aan sekere gawes
gegee is.
Die aanhef
van die brief eindig met 'n toekomsblik.
Hy wat hulle geroep het, sal hulle ook laat vasstaan tot die einde
toe. Die gawes in die gemeente wys juis
daarop dat die eindtyd nog nie aangebreek het nie. Die gawes is die manier waarop die Gees in die gemeente aan die
werk is, en dieselfde Gees sal hulle voorberei op die dag wanneer Jesus
Christus weer kom.
Die feit
dat ons saam met die gemeente in Korinte kan deel in Christus, deel aan sy seëninge
en genadegeskenke, wys vir ons op God se trou.
God se getrouheid is die permanente uitdrukking van sy liefde en die
finale grond vir Paulus se danksegging.
Hy sal ons enduit vashou tot by die wederkoms.
Barrett, C K 1971. The first epistle to the Corinthians. London: Black; Conzelmann, H 1975. 1 Corinthians. Philadelphia: Fortress; Dunn, J D G 1995. 1 Corinthians. Sheffield: Sheffield Academic Press; Du Toit, A B 1984. Oriënterende opmerkings oor die Pauliniese briefliteratuur, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 1-22. Pretoria: NGKB; Fee, G D 1987. The first epistle to the Corinthians. Grand Rapids: Eerdmans; Lategan, B C 1984. 1 Korintiërs, in Du Toit, A B (red.), Handleiding by die Nuwe Testament 5: Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie, 57-79. Pretoria: NGKB.