15 September 2002
Sestiende Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Romeine 14:1-12.
Ander tekste: Psalm 114; Eksodus 14:19-31; Matteus 18:21-35.
Inleiding
Paulus spreek in Romeine 14 die kwessie van onderlinge veroordeling binne die gemeente aan. Hy pleit vir
verdraagsaamheid onder gelowiges wanneer dit oor middelmatige sake gaan – die "sterkes" in die geloof moenie
op die "swakkes" neersien nie en die "swakkes" moet eweneens nie die "sterkes" veroordeel en allerhande etikette
om hulle nekke hang nie. Ons sou die liturgie ’n koinoniale karakter kon gee.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Met die koinoniale aard van die liturgie in gedagte sou die volgende inleidingswoorde gebruik kon word:
Die Here wat gesê het: "Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!" (Ps 133:1) is hier in ons
midde en Hy nooi jou: "Kom …" (Jes 55:1).
Antwoord op seëngroet
My voorstel vir ’n lied wat op die seëngroet kan volg, is JSB 2 38:1, 2/NSG 351.
DIENS VAN DIE WOORD
In Kindertyd kan ’n mens die kwessie van geestelike vooroordeel aanspreek aan die hand van die gewone verskille
wat daar tussen mense is. Vra die kinders hoe hulle studeer. Sommige maak opsommings. Ander trek
geheuekaarte. Party hou van stilte. Ander kan nie leer sonder dat hulle na musiek luister nie. Sommige sit by ’n
lessenaar en ander lê op die mat en leer. Die punt is: mense se manier van leer verskil, en al wil ons dit hoe graag
doen, kan ons nie sê die een manier van leer is noodwendig beter as ’n ander nie. Dit is die eindresultaat wat sal
bepaal wat die beste leermetode was. Mense se belewing en uitlewing van hulle godsdiens verskil ook. Ons moenie
mekaar veroordeel en etiketteer nie.
Sang
SOM 36:1, 2/NSG 389 kan as oorgang tussen die preek en die nagmaal gesing word.
DIENS VAN DIE TAFEL
In die nagmaalberig kan daar klem geplaas word op die gemeenskapskarakter van die nagmaal: Waar ons by die
nagmaal dink aan die versoeningsoffer wat ons Here Jesus sy lewe gekos het, vier ons tegelykertyd ons
gemeenskap met die lewende Here. Die nagmaal verbind ons nie net met sy dood nie, maar help ons ook om in
gemeenskap met Hom te lewe. Deur die Heilige Gees is die lewende Christus in die nagmaal by ons teenwoordig.
Verder word ons deur dieselfde Gees ook weer met mekaar as lidmate van een liggaam, in broederlike liefde saam
verbind, soos die apostel sê: "Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal
deel aan die een brood."
UITSENDING
Lees van die wet
Vir die wetlesing stel ek voor dat daar aangesluit word by Matteus 18:21-35. Aanvaarding van mekaar en vergifnis
vir mekaar gaan hand aan hand.
Slotlied
Die lied waarmee afgesluit kan word, is Gesang 262:2, 5, 6/NSG 272:2, 5, 6.