15 Junie 2003

TRINITEITSfeesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Romeine 8:12-17

Ander tekste: Jesaja 6:1-8; Psalm 29; Johannes 3:1-17

Inleiding

Deur die geloof in Jesus Christus (Joh 3:16), het die gemeente die genade-voorreg om sonder vrees vir oordeel (Joh 3:18; Rom 8:15; Jes 6:7) in die heilige teenwoordigheid van God te kom (Jes 6:3, 4) as ons liefdevolle Vader (Joh 3:16; Rom 8:15) en daarom beweeg die Heilige Gees ons tot aanbidding en lof en getuienis (Jes 6:8, 9).

GOD BRING ONS VOOR HOM

Gemeente van die Here, die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, het ons vanoggend weer hier saamgebring. Ons dink vir 'n oomblik in stilte hieroor na.

Na die stilte, lees die liturg (of iemand) Jesaja 6:6b drie keer voor. Gebruik drie kerse, afgesien van die Christuskers, wat in elke geval brand, om die Triniteit voor te stel en steek dit aan met die lees van die gedeelte.

Sang

(Beurtsang soos afgespreek) Lied 162/NSG 351

Aanvangswoord/Votum

Gebruik Psalm 29 in die geheel soos volg:

Voorganger: Psalm 29:1,2

Gemeente: Buig voor die Here by sy heilige verskyning. [keervers]

Hierna lees die voorganger vers 3-5; 6-8; 9-11 en na elke gedeelte antwoord die

gemeente met die keervers. Dit kan dus ook gedoen word in gemeentes waar die liturgie nie op skrif is nie.

Seëngroet

Liturg: Gemeente, ek groet u in Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Gemeente: (Draai na mekaar, gee mekaar die hand of groet mekaar soos die gemeente dit gemaklik hanteer) Ek groet jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Sang

Lied 454:1-3.

DIENS VAN DIE WOORD

Gemeente, die drie-enige God is hier en Hy praat nou met ons deur sy Woord.

Aankondiging van die Skrifgedeeltes wat gelees word.

Laat ons luister wat die Here deur die volgende Skrifgedeeltes vir ons sê.

Gebed om die opening van die Woord/Epiklese

Die gemeente sing Psalm /lied 119:18 twee keer as gebed.

Skriflesings

Voorleser 1: Romeine 8: 9-17

Gemeente: antwoord met Lied 449:1-4/ NSG 1

Voorleser 2: Johannes 3:1-17

 

Kindertyd

Die verhaal in die preekvoorstel van die twee Indiese seuns wat in die tronk beland het oor dobbel, kan die kinders vertel word en dien as inleiding tot die prediking.

Prediking

Romeine 8:9-17

Geloofsbelydenis as antwoord op die prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Die basisliturgie vir Koninkrykstyd word vir die diens van die tafel gevolg.

Danksegging

Ter wille van die oorgang van die tafel na die bulletin, is een of ander vorm van afsluiting/lof/dank hier gepas.

Voorbidding

Gemeentelede wat belang by van die sake het, word aangewys om voor te gaan.

UITSENDING

Toewyding

Die volgende trinitariese toewyding word voorgestel:

Voorganger: Johannes 3:16 [God die Vader]

Gemeente: Romeine 8:14 [God die Gees]

Voorganger: Johannes 3:17 [God die Seun]

Gemeente: Romeine 8:14 [God die Gees]

Sang

Lied 188:3/NSG 10 (Die "Vader, Seun en Gees" word daarin geloof).

Lied 453:1-3 is 'n goeie keuse as tyd nie 'n faktor is nie.

Voorganger: Die Here vra: 'Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?

Gemeente: Hier is ek! Stuur my! [ Verwerk Jes 6:8]

Seën

Sang

Sing een van die Amen-liedere 312-315/ NSG 355/356

 

PREEKSTUDIE Ė ROMEINE 8:12-17

Teks

Hierdie perikoop vorm deel van die groter geheel van Romeine 1-8 waarin die evangelie sistematies uiteengesit word. Romeine 1-8 word weer verdeel in verse 1-4 (God spreek skuldiges vry deur die geloof) en verse 5-8 (die nuwe lewe van vrygespreektes). Romeine 8:12-17 volg op die uiteensetting van die lewe deur die Gees en die lewe deur die sondige natuur (8:1-11). Paulus stel die ou lewe onder beheer van ons sonde en die nuwe lewe onder beheer van die Gees van Christus, teenoor mekaar: dood teenoor lewe en vrede (v 6), vyandskap teenoor gehoorsaamheid (verse 4 en 7). Romeine 8:1-11 wemel van indikatiewe, toeseggings, en 8:12-17 is die praktiese gevolgtrekking hiervan. Dit vorm ook die oorbrugging na die lewe van hoop wat vir die gelowiges wag (8:18-30). Romeine 8 eindig met die sogenaamde hooglied van die geloof (Otto Weber) (8:31-39). Althaus sê oor Romeine 8:31-39: Op die hooglande van die Nuwe Testament bevind hierdie gedeelte hom op die hoogste heuwel. Hierdie lied bou op alles wat Paulus gesê het oor die nuwe lewe deur God se genade en Gees.

Romeine 8:12 sluit by die voorafgaande gedeelte aan deur die gebruik van die woord "daarom." Die sondige natuur (liggaam) is die beskrywing van iemand wat in beheer van sy of haar eie lewe is. Dit dui op die verslawing aan drifte, angste en begeertes. Hieraan hoef ons nie meer toe te gee nie. Die Gees van Christus wat in ons woon maak hierdie verpligting tot niet. Om onder ín verpligting te staan, het nie die betekenis van "skuldenaar" nie, maar van ín verantwoordelikheid wat die nuwe mens deur die krag van die Gees van God teen die sondige natuur aanvaar.

Romeine 8:13: Dood en lewe word ook hier, soos in 8:1-11, teenoor mekaar gestel. Om te lewe onder beheer van die sondige natuur is ín pad wat op die dood uitloop. Dit gaan hier oor die handhawing van die lewe in die Gees teen versoeking. Konkreet beteken dit dat ons ín einde maak aan die praktyke van die sondige natuur. Die vlees dryf ons nie meer nie. Daarom is ons eindbestemming nie die dood nie, maar die lewe. Die mens is nie in staat om deur eie krag ín einde te maak aan die sondige natuur nie. Die mens het nie die vermoë om die dood en sonde te ontvlug nie. Dit gebeur "deur die Gees." Om deur die Gees (instrumentele datief) ín einde te maak aan die sondige praktyke, beteken nie dat ons die Gees as ín instrument of "tool" gebruik nie. Die nuwe mens "gebruik" nie die Gees nie: "The daily, hourly putting to death of the schemings and enterprises of the sinful flesh by means of the Spirit is a matter of being led, directed, impelled, controlled by the Spirit" (Cranfield).

Om ín einde te maak aan die "praktyke" van die sondige natuur, is ín goeie vertaling. Dit gaan nie hier oor ín asketiese lewenswyse nie. In die 4e en 5e eeue is hierdie gedeelte selfs gebruik om te sê dat Paulus so ín lewenswyse bepleit. Augustinus het Romeine 13 so verstaan. Hy wou nie meer eet as wat noodsaaklik is vir die instandhouding van die liggaam nie. Lekkerkerker benadruk dat daar wel plek is vir Christelike askese, maar dit gaan beslis nie hier oor die onthouding van bepaalde kossoorte nie. Dit gaan daaroor dat die bose begeertes ín mens so in beslag kan neem, dat jou uitsig op God se koninkryk verduister word. Hiervan moet ons afsien. Christelike askese het meer te doen met ín lewenswyse wat so uniek is dat mense uiteindelik saam met Christus ly omdat hulle aan Hom gehoorsaam is (8:17).

In Romeine 8:14 is Paulus geïnteresseerd om ín verhouding van kindskap aan die orde te stel. So benadruk hy die gedagte dat ons erfgename is. Käsemann en Barret lê baie nadruk daarop dat die goddelike kindskap ín eskatologiese realiteit is. Cranfield verskil heftig hiervan. Die teenwoordige tyd wat gedurig gebruik word (v 14 en 16) benadruk dat dit reeds ín werklikheid is.

Romeine 8:15: Die Gees is aan ons gegee. Dit is ín feit, ín toesegging. Die Griekse werkwoord "elabete" (ontvang) verwys waarskynlik na die begin van die Christelike lewe deur die doop. Daar is die Gees ontvang. Kindskap word met slawerny gekontrasteer (ook 6:12 ev). Die gees van slawerny is ín kombinasie van die elemente van dood, wet en sonde. Angs is die kenmerk van hierdie soort slawerny. Oor wat die oorsaak vir die angs is, verskil geleerdes. Sommige sien dit as ín vrees wat verband hou met die straf en ewige oordeel. Dit ín vrees wat verband hou met die feit dat ons geen hoop het nie. In hierdie angstige lewe is daar geen vertroue nie, maar bitterheid en wanhoop (Lekkerkerker). Daarom is die kontras vir Paulus tussen hulle wat geen hoop het nie en hulle wat hoop het. Luther sê weer dat hy God voor sy bekering gehaat het omdat hy soos ín tiran was. Die beeld van God is hierdie oorsaak van angs. Hoe dit ookal sy, word hierdie lewe van slawerny gekontrasteer met die gees van kindskap. Om kinders van God te wees, beteken om sonder vrees te leef. Ons vrees God, maar ons het geen angs nie. Omdat die Christen God vrees, ontsag vir Hom het, is hy en sy bevry van die angs wat alle ander skepsels wat gedryf word omdat hulle nie ín vaste bestemming het nie (Käsemann). Die Gees het ons weggelei van die slawerny en vrees. Hy het nie ons hoop beskaam nie. Hy is die Gees van aanneming to kinders.

Dat die angs met beide gedagtes hierbo verband hou, word in die verdere verse benadruk. Ons is bevry van ons wanhoop, maar ook van ín beeld van God as tiran. Ons noem Hom nou "Abba." Oor hierdie uitdrukking is daar baie onduidelikheid. Käsemann is onseker of Paulus hier van dieselfde tradisie as Mark 14:36 gebruik maak. Hy is ook nie seker of die gebruik van die term hier op die liefdevolle toewyding aan die Vader dui nie. Vir die beste verstaan van die begrip moet ons dit saam met die woord "roep" (kratzein) lees. Die LXX gebruik die begrip in Grieks (kratzein - roep) veertig maal vir dringende gebed. Dit kan dui op ín harde geroep soos in gebede of liedere (chants), ín ekstatiese geroep, of die geïnspireerde verkondiging van die Bybelse getuies. Waaroor die meeste geleerdes dit eens is, is dat ons nie die liturgiese konteks van die uitroep uit die oog moet verloor nie (soos maranata!). Dit kan beslis die gemeente se ekstatiese reaksie op die boodskap van die redding wees. Cranfield sê dat die Griekse word "kratzein" ten beste verstaan kan word in die betekenis van Ďn dringende en ernstige roep na God, nieteenstaande of dit hard of sag (selfs onuitgesproke), formeel of informeel, openbaar of privaat is (Vertaal).

Waarvan daar nie weggekom kan word nie, is dat die begrip ín bepaalde verhouding van kindskap uitdruk. Dit is iets wat in sy argument ook belangrik is. In ín wêreld wat vyandiggesind teenoor God is, gee die Gees aan die gemeenskap die gesamentlike verwondering om deur die genade van God te sê dat ons ín Vader het en ons sy kinders is. ín Saak wat hier belangrik is, is dat die indikatief van ons kindskap ook ín implisiete imperatief bevat. Cranfield sê dat die hele Christelike gehoorsame reaksie ingesluit is by hierdie uitroep. "The verse, in fact, states in principle everything that there is to say in the way of Christian ethics Ö For to address the true God by the name of Father with full sincerity and seriousness will involve seeking wholeheartedly to be and think and say and do that which is pleasing to Him and to avoid anything which displeases Him." Dit is die verpligting waarvan Paulus in 8:12 praat.

Die uitdrukking dat die Gees saam met ons Gees getuig dat ons kinders van God is (Rom 8:16), kan maklik só misverstaan word dat die getuienis iets is wat in elk geval in ons harte is en net deur die Gees aangehelp word. Dit is nie ín korrekte interpretasie nie. Dis nie iets wat die Gees net bekragtig omdat dit reeds daar is nie. Dit is iets wat geskenk word. Luther vertaal dit met: "Die Gees gee getuienis aan ons Gees." In die Grieks is dit "in" of "deur." Cranfield sê dat ons dit so moet verstaan dat die gesag wat ons die sekerheid gee dat ons kinders van God is, niemand minder is nie as die Gees self. Dit moenie geïdentifiseer word met die uitroep "Abba" nie. Sommige geleerdes vertaal dit met: "deurdat ons God Abba noem, praat die Gees in ons gees Ö" Nee, sê Cranfield. Die getuienis van die Gees in ons is eerder die waarborg van die uitroep "Abba", nie andersom nie.

In Romeine 8:17 vind ons die logiese gevolgtrekking van die feit dat ons kinders is, asook ín oorgang na Paulus se gedagtes oor die Christelike hoop (8:18-30). Die lewe wat gekenmerk word deur die inwoning van die Gees is ook ín lewe wat gekenmerk word deur die hoop. Hierdie lewe gaan gepaard met versugtinge. Mense wat die Gees in hulle het, is nie op die kruin van die golf nie. Volgens Käsemann praat Paulus saam met die sogenaamde geesdrywers, tot op ín punt. Die gemeente is ín gemeente in aanvegting. Ons deel in sy lyding. Ons sug (8:23), maar te midde van ons breekbaarheid en lyding, is ons seker van ons eindbestemming. Käsemann sê: "In all Paulís theology participation in coming glory does not mean that the cross can be dodged."

Dit is laastens belangrik om in te sien dat die "aangesien ons deel het aan sy lyding" nie ín voorwaardesin nie, maar ín feitstelling. Ja, deur die doop deel ons reeds in Jesus se dood en opstanding, maar daar is ook ín aktiewe deelname in hierdie heilswerklikhede. Dit gaan oor die lyding as gevolg van gehoorsaamheid aan Hom in ín wêreld wat Hom nie as Heer bely nie. Wie Christus volg, sal ly.

Konteks

Achtemeier verwys na die goeie insig wat getoon word deur hierdie teks ook op Triniteitsondag te gebruik. Hiermee begin die kerkjaar se tweede helfte. Triniteitsondag dui op die unieke Christelike verstaan van God wat deur sy teenwoordigheid die wêreld waarin Hy verskyn, deur sy misterieuse en uitdagende teenwoordigheid verander. Met verwysing na twee ander tekste wat dikwels op hierdie Sondag gebruik word, naamlik Jesaja 6 en Johannes 3, sê hy: "In this context, our verses in Romans 8 display the transformation from living a life dominated by flesh to a life led by Godís Spirit. Here the call for transformation which Isaiah feared would mean his own death, and which caused Nicodemus such perplexity, has become the reality of adoption as Godís own children, a reality demonstrated every time the Christian, whether as an individual or withing the worshipping community, addresses God as ĎFatherí."

Met die gawe van die Gees word die afstand tussen die "alreeds" en die "nog nie" oorbrug. Volgens die Skrif is die dominante taak van die Heilige Gees om die mens in die tussentyd te verseker dat die heil wat reeds in Christus sy deel is, in ín nog vollediger gestalte sy deel sal word (Ef 1:13,14). Die Gees het in sowel Galasiërs 4 as in Romeine 8 die taak om die geloof te onderhou (Ridderbos). Sowel Romeine 8:14-16 as Galasiërs 4:4-6 maak duidelik dat die Gees nie die grond van die kindskap is nie, maar eerder "the ground of our knowing that we are God's sons" (Ebeling).

Die versekerende karakter van die werk van die Gees is baie duidelik uit die verskillende begrippe wat die Nuwe Testament in die verband met die werking van die Heilige Gees gebruik. Wanneer die Heilige Gees in Romeine 8:23 as die eerste gawe van God aangedui word, het dit volgens Ridderbos dieselfde strekking as die Heilige Gees as waarborg. Beide terme het betrekking op dit wat nog op die kinders van God wag. Die aanneming tot kinders omvat die hede sowel as die toekoms. Parallel hiermee is die werk van die Gees ook op die hede sowel as op die toekoms gerig. Die aanduiding van die Gees as aparché (Rom 8:23 - eerste gawe) en arrabón (Ef 1:13 ev - waarborg) aksentueer sowel die alreeds en die nog nie van die werk van die Gees in verband met die alreeds en die nog nie van die kindskap. Hierdie twee beskrywende name "wil albei uitdrukking gee aan twee aspekte, aan versekerdheid én aan die voorlopigheid wat geleë is in die gawe van die Gees in die hede" (Coetzee). Die aparché dui, na analogie van die eerstelingoffer (wat ín teken daarvan was dat die hele oes aan die Here behoort) van die Ou Testament, op God se eerstelingoffer aan die mens. Net so is die aanduiding van Gees as arrabón "tegelyk 'n geborgde belofte (`ek sal alles betaalí), én 'n reeds teenwoordige werklikheid (Ďhier gee ek al die eerste deelí)" (Coetzee).

Die aksent van die Gees as waarborg wil ook aandui dat die mens reeds 'n deel van die volle heil ontvang het. Die mens se oë "is dus nie net weens gebrek (aan eskatologiese realiteit) op die toekoms gerig nie," sê König, "maar op grond van die heerlike ervaring van dit wat ons alreeds besit, wag ons reikhalsend op die volle heil." Elke keer wanneer die Skrif van die Heilige Gees as seël, waarborg of eerste gawe melding maak, funksioneer die Heilige Gees as 'n Gawe wat God aan sy kinders in die tussentyd gee om hulle te verseker dat Hy die volle heil aan hulle sal skenk.

Preekvoorstel

Die wêreld is vol angs. Wat gaan die toekoms inhou? Wat gaan met die ekonomie, my werk en my gesondheid gebeur? Wat van my kinders? Ons het baie angsvrae. Miskien beleef mense ook angs oor hulle sonde. Elke keer doen ons maar dieselfde dinge oor en oor. Ons beleef dikwels dat ons optree volgens ons ou sondige natuur (8:12,13). Dalk beleef ons angs oor die dood: gaan ek by God wees? Betty Midler sing: "Itís the heart afraid of dying that never learns to live." Ons angs is soos ín stok in die wiel van ons lewe.

Die vrees waarvan Paulus in hierdie gedeelte praat, hou verband met ons lewe as slawe van onsself. Die sondige natuur is die beskrywing van iemand wat in beheer van sy eie lewe is. Hy of sy verafgod eie mag. In die ou Jeugsangbundel het ons gesing: "self navigator, self my strateeg". Dis hoe mense is wat onder "verpligting" van hulle sondige natuur leef: "I'm the master of my fate, I'm the captain of my soul!" Ons verpligting teenoor die sondige natuur is verslawing aan drifte, angste en begeertes. Tillich sê dit is die misbruik van die feit dat hy skepsel van God is. Dit is die misbruik van al sy gawes in diens van sy grenslose begeertes en mag. Thomas Hobbes het gesê dat alle mense instinktief bevrees en beangs is. Daarom wil die mense hulself behou. Daarom is daar altyd ín magstryd: Die mense is ín wolf vir sy medemens! Emil Brunner sê ons sonde is soos die kilometers van ín kar. Dit word net meer en meer. Luther het ons sondigheid met die baard van ín man vergelyk. Vandag skeer ons dit af, maar môre is die stoppels weer daar.

As iemand aan ons die vraag sou vra wat in Zucknayer se hoofman van Kopernikus gevra word: "Wat het jy met jou lewe gemaak?", sal baie van ons ook seker antwoord: "ek het daarvan ín voetmatjie gemaak." Gabriel Smit verwoord hierdie angs: "In nagtelike ure kan vir ín oomblik my soms oorval; die waansinnige skrik dat God my nie meer duld nie; dat God Hom onherroeplik van my afwend. Want hoeveel keer het ek u verraai; laat ek my nie leer, deur u vermaan nie. U het reg om u van my af te keer. U hande wat altyd beskermend rondom my is, gaan weg. Die afgrond raak groot. U hande wyk. Ek val. Ek val. My hart verstok. Doodsweet oordek my. O God, my God, gaan nie weg van my. Niks kan ek sonder U."

Hoe kom ons klaar met die angs in ons lewe? Die bevryding van angs is ín gawe van die Heilige Gees van God. Paulus sê dit in Romeine 8:15. ín Mens kan jou dood werk Ö jy sal angstig bly. ín Mens kan jou dood ontspan Ö jy sal angstig bly. ín Mens kan jou dood drink Ö jy sal angstig bly. Ironies is die woorde van Martin Gutl wat die weerloosheid van die mens sonder God ontbloot: "Ek het God nie nodig nie! sê hulle, terwyl hulle pille nodig het en nie kan slaap nie." Paulus maak baie duidelik dat die Gees van God in Christene woon. Dit is nie een of ander ervaring of buitengewone belewing nie. Iemand wat Christus het, het ook die Gees (8:9). Hy maak baie duidelik dat die Gees wondere in mense se lewe verrig.

Hy vervang die vrees met vertroue sodat jy God jou Vader noem, al sê my eie gees dat ek verlore is en God my eintlik moet verwerp. Achtemeier begin sy kommentaar oor hierdie gedeelte met ín uitdrukking wat ons dikwels gebruik: "Hulle het ons soos familie behandel." God behandel ons nie net as familie nie, maar lyf ons in by sy familie. Die Gees verseker ons twyfelende gees, getuig in ons gees dat ons kinders van God is (8:16). Hy getuig kragtiger as ons gees dat ons kinders van God is. Die Lewende Bybel vertaal 8:16 met: "so sê die Heilige Gees self vir ons dat ons kinders van God is en ons eie gees stem daarmee saam!"

Die Gees vervang my angs oor sie slawerny aan myself en my eie drifte (8:16) met ín liefde vir God waarin ek dankbaar "Abba" uitroep saam met almal wat van hierdie vrees bevry is. Johan Cilliers het die baie mooi verhaal opgeteken van die kinders wat elke middag in die straat gespeel het. Een gesin se kinders het elke middag teen ín sekere tyd onrustiger geword. Wanneer hulle dan die boodskap van bo in die straat af hoor dat die pa op pad is, het hulle vinnig huis toe gegaan. Hoekom? Omdat hulle verskriklik bang vir hulle pa was. Net mense wat soos slawe in verhoudings met ander is, is bang vir die ander party. Kinders is nie regtig bang vir hulle pa of ma nie. Kinders behoort nie met vrees en verskrikking te lewe nie, maar met liefde. Hulle leef met die oortuiging dat hulle hul pa se kinders is vir wie hy baie lief is. So is mense in wie die Gees van Christus woon. Dis mense met die vaste oortuiging dat hulle ín Vader het (16). Hierdie Vader is vir hulle soos ín bevryder.

Die Gees vervang my onsekerheid met sekerheid dat ek erfporsie van die lewe het (8:17), al is die tydgees een van neerslagtigheid oor die toekoms. Die Gees verseker ons dat ons erfgename is van die lewe hierna (17). Hy skep hoop in ín mens se hart wat bo jou angs uitgaan (8:23-25). Ons is soos ín kind in ín donker kamer wat skielik wakker skrik en vind dat alles donker is. So ín kind roep dikwels angstig na sy of haar ma. Stadig maar seker sien hy die ligte aangaan Ö eers sy ouers sín, dan die gang sín, dan syne. Die duisternis en angs word verdryf wanneer sy ma hom optel en troos dat alles reg is Ö So is God.

Calvyn het gevra: "Met watter vertroue sou iemand God sy Vader kon noem? Wie sou so vermetel wees dat hy homself sou aanmatig dat hy kind van God is, indien ons nie in Christus tot kinders aangeneem is nie. Hoekom sê die Gees hierdie wonderlike dinge aan ons toe?" Paulus maak duidelik dat ons dit nie verdien het nie. Die Gees sê hierdie dinge aan ons toe omdat Christus die prys betaal het (8:3). Soms as 'n mens van vakansie af terugkom, ruik jou huis benoud en muwwerig. Dan is dit die lekkerste ding om die vensters oop te gooi sodat vars lug deur die huis kan waai. Dit voel mos na nuwe lewe! Die menswording van Jesus is die venster wat God oopgemaak het in ons bedompige wêreld. Die Gees is soos 'n vars wind wat deur ons lewens waai en vir ons nuwe lewe en nuwe hoop bring. Manie Malan het dikwels die Gees die sakdoek van God genoem. Hy vee die trane van onsekerheid en vrees van ons oë.

Dit die basis waarop ons God "Abba" noem (sien Gal 4:3-7). Saam met die geloofsgemeenskap is dit soos kinders van God reageer op die genade van God. Hierdie uitroep neem ons hele lewe in besit. Cranfield se gedagte dat die hierdie uitroep in beginsel alles sê wat daar oor die Christelike etiek gesê kan word, kan hier benut word. Die inwoning van die Heilige Gees bring ín radikale verandering in ons lewe. Paulus beskryf dit as verandering van regering: nie meer onder beheer van vlees, maar van die Gees. Hierdie gedagtes beklemtoon hy gedurig in Romeine 1-11 (sien 3:10-23; 5:12; 7:24). Om beheers te word deur die Gees is om God se wil te doen (Rom 12-16). Dan raak jou lewe raak ín offer (12:1,2). Jy gee jouself aan die gemeente (12:3-8) en betoon liefde aan almal (12:9-15:6).

Daar word ín verhaal vertel van twee Indiese seuns wat gevang is dat hulle gedobbel het. Die een was baie arm en die ander baie ryk. Hulle is tronk toe. Die ryk seun se pa het dadelik die boete betaal en hy is vrygelaat. Die arm seun se ma het dag en nag klere gemaak om die geld bymekaar te maak om haar seun uit die tronk te kry. Uiteindelik het sy dit na baie harde werk bymekaar gemaak en is haar seun vrygelaat. Die twee seuns het mekaar toe weer raakgeloop. Die ryk seun nooi die arm seun om weer saam met hom te dobbel. Die arm seun antwoord: "Jy kan dit doen, maar ek nie, want my vryheid het die bloed van my ma gekos."

Triniteitsondag sê: God het deur sy verskyning in die wêreld ín radikale verandering gebring in die lewe van die geloofsgemeenskap. As ons "Abba" uitroep, behoort die wêreld rondom ons ook die verandering te beleef!

Bibliografie

Achtemeier, P 1985. Romans. A Bible commentary for teaching and preaching; Barrett, C K, 1971. A commentary on the epistle to the Romans; Coetzee, J C 1984. Die Heilige Gees in die prediking van Paulus, in Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Die Pauliniese briewe: Inleiding en teologie. Redakteur: A B du Toit; Cranfield, C E B 1975. The epistle to the Romans, Vol I; Ebeling, G 1985. The truth of the Gospel. An exposition of Galatians; Käsemann, E 1980. Commentary on Romans; König, A 1980. Jesus die Laaste; Lekkerkerker, A F N 1978. De brief van Paulus aan de Romeinen I; Ridderbos, H 1978. Paulus. Ontwerp van zijn theologie.