Ander tekste: Gen 2:15-17, 3:1-7; Ps 32, Mat 4:1-11
Romeine 5:12-21 word in
Woord teen die Lig I/8, pp 213-225 bespreek.
Hier word doelbewus 'n voorstel gemaak wat 'n aspek van die teksgedeelte
raak wat nie deur WtL gedek word nie.
Die bedoeling is dus om nog 'n moontlikheid naas dié van WtL te bied.
In die eerste gedeelte
van Romeine gaan dit vir Paulus veral om die regverdiging deur die geloof
alleen. Hy skryf oor die evangelie as
God se krag tot redding van elkeen wat glo (1:16). Daarna reageer hy teen die goddeloosheid van die mense sonder die
wet (1:18-32), sowel as teen die tevergeefse werke van die mense onder die wet
(2:1 ev). Sy polemiek teen die Joodse
wettisisme bring hom by Abraham as voorbeeld van iemand wat net deur die geloof
in God se belofte die vryspraak ontvang het (hoofstuk 4). Dit loop uit op die woorde: "God het
ons dan nou vrygespreek omdat ons glo," waardeur 5:1-11 ingelei word. Daar word gelowiges herinner aan
"hierdie genade waarin ons nou vasstaan" (5:2).
Romeine 5:11 moet dus as
'n dankbetuiging gesien word: in 'n wêreld wat oorheers word deur heidense
losbandigheid en Joodse wettisisme, het Christene deur Jesus Christus die
versoening ontvang. Op hierdie punt kan
maklik (ons menslike natuur synde wat dit is) by gelowiges 'n
"heilsegoïsme" intree.
Daarmee word bedoel dat alleen maar gefokus word op die kerk (as gemeenskap
van mense wat in die heil deel); of, nog erger, op individuele
heilsekerheid. Daarom kan die doel van
Romeine 5:12 ev gesien word as 'n korreksie op vrome selfsug. Per slot van rekening gaan dit nie vir God
alleen maar om my nie, of selfs om die kerk nie, maar om die wêreld, om die
mensdom. Christus se heilswerk het
universele implikasies!
Dit beteken dat die
kollektiewe aard van Paulus se siening van die mensdom in Rom 5:12 ev van
deurslaggewende belang is vir die verstaan van hierdie perikoop. Wanneer die mensdom gesien word as 'n klomp
losstaande individue wat elkeen vir sy eie lot verantwoordelik is sal Paulus se
bedoeling in hierdie gedeelte buite die gesigsveld bly. Dit is alleen wanneer die mensdom as eenheid
gesien word dat ook begryp kan word hoe Adam se val en Christus se
gehoorsaamheid implikasies vir die mensdom as geheel kan hê.
Die kwessie van
kollektiewe skuld en die eenheid van die mensdom word nie werklik indringend
aangespreek in WtL I/8 nie. Nogtans is
dit uiters aktueel, ook in die lig daarvan dat ons mense duidelik afwysend
staan teenoor enige gedagte dat ek mede-skuldig kan wees aan 'n oortreding wat
ek nie self gepleeg het nie. Ongelukkig
is ons verstaan hiervan dogmaties belas met bepaalde vraagstukke rakende die
erfsonde (wat onder meer 'n negatiewe waardering van seksualiteit as die wyse
waarop sonde "voortgeplant" word, insluit). Daar duik ook probleme op wanneer Adam nie meer noodwendig as
historiese persoon beskou word nie en die histories-letterlike verstaan van
Genesis 3 laat vaar word. Die prediker
wat te diep verstrik raak in hierdie tipe vrae sal nooit weer loskom om by die
eintlike boodskap uit te kom nie!
Die voorstel wat hier
gemaak word is dat die saak van oersonde en die kollektiewe skuld nie as
"dogmatiese beginsels" hanteer word nie. Die prediker moet eerder soek na beelde waarin die
lotsverbondenheid van die mensdom in sonde, skuld en dood na vore kom. Verder moet die prediker ook die implikasies
van hierdie lotsverbondenheid in ons eie tyd deurdink - en moet duidelik maak
dat ons as gelowiges nie buite daardie verbondenheid gebore word, lewe en sterf
nie.
Terselfdertyd kan die
hooffokus van die preek nié val op die oersonde en kollektiewe skuld nie. Dit behoort te val op die "veel
oorvloediger" genade waarvan 5:15 praat.
Die parallel tussen Adam en Christus (die optrede van een mens het
ingrypende betekenis vir alle mense) moet na vore kom, maar veel meer nog die
verskil: die vernietigende uitwerking wat uitgaan uit die optrede van Adam is
veel kleiner as die vernuwende uitwerking wat uitgaan van die werk van
Christus. Die genade wat die gelowige
ervaar in sy lotsverbondenheid met Christus oorwin oor die werklikheid van
sonde en dood - en uiteindelik sal ons "lewe en heerskappy voer"
(vers 17); uiteindelik sal Christus se gehoorsaamheid die totale oorhand kry
oor Adam se misdaad.
Oor hierdie saak kan
egter nie met 'n oppervlakkige optimisme gepraat word nie. Dit is glad nie voor die hand liggend dat
Christus se gehoorsaamheid die oorhand sal kry oor Adam se misdaad nie. Die teendeel lê eerder voor die hand; dit
lyk asof ons steeds saam met Adam die afgrond ingesleur word; eerder as dat ons
saam met Christus opstaan. Dié wat leef
uit Christus se oorwinning, is maar 'n klein handjievol teen dié wat leef uit
Adam se misdaad. Dit is alleen in die
geloof dat ons saam met Paulus kan bely dat die genade meer oorvloedig is as
sonde en dood.
Juis daarom is die breë
perspektief nodig ook vir ons persoonlike geloofslewe. Dit is alleen omdat ons insig het in God se
groot prentjie dat ons hoop kan hê vir die wêreld ten spyte van alles wat
daarin verkeerd is. Dit is alleen in
die lig van ons hoop vir die wêreld dat ons ook hoop het vir onsself, ten spyte
van die skade wat sonde en dood steeds in ons eie lewens doen.
Juis daarom mag ons nie
die betekenis van Christus beperk tot ons eie heilsekerheid nie; juis daarom
mag ons dit nie wegsluit binne die kerkmure nie.
"Jy in jou klein
hoekie, en ek in myn!" Só het ons
nog as kinders gesing, en so kyk ons dikwels nog steeds na die lewe. Ek is 'n mens op my eie, met my eie keuses
en eie foute, my eie smake en my eie drome; en, les bes, my eie geloof ook, wat
vir baie van ons 'n "privaat saak" is. En daar is jy, met jou keuses en foute en smake en drome en
geloof; en nog verder is daar "die ander" met hulle vreemde smake en
gelowe... Maar met hulle hoef ek nie te
veel te doen te hê nie.
So kyk ons dikwels na
die mensdom: 'n klomp losstaande enkelinge wat elkeen sy eie ding doen. Daarom is ek op my agterpote as iemand my
wil laat skuldig staan vir 'n ander se dade.
Ek luister met skok na dit wat vertel word oor wandade uit die
apartheidsera... maar, goddank, dit is ánder mense wat dit gedoen het! Ander mense het gevangenes gemartel, mense
doodgeskiet en wegsteekbegrafnisse in die oop veld gehou. Ek nié - en niemand moet probeer om my
daarvoor verantwoordelik te hou nie!
Ek hoor mense praat van
"kollektiewe skuld": dat ek as lid van 'n groep mede-verantwoordelik
is vir die wandade wat in die naam van die groep gepleeg is... Watse nuwe idee
is dit dan?
Wel, eintlik kom die idee al 'n ver ent. Vandag se idee van 'n "kollektiewe
skuld" is nog maar 'n vulletjie teen die gedagte wat Paulus in Rom 5:12-19
aan ons wil verkoop. Hy praat oor Adam
se sonde. Die storie ken ons maar te
goed - ons het as kinders al geleer hoe Adam en Eva eendag, lank, lank gelede
geëet het wat hulle nie moes nie.
As jy op 'n "Jy in
jou klein hoekie, en ek in myn!" manier dink oor die mensdom, kan jy oor
Adam se storie sê: "Sies vir jou!" en aangaan met jou lewe. Paulus maak vir ons duidelik dat ons juis
dit nie kan doen nie. Hy skryf:
"Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die
dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring..." (vers 12) Deur een mens se daad, tot alle mense... In
vers 15 herhaal hy die gedagte: "Deur die oortreding van een mens het baie
gesterf." En in vers 19 lui dit
só: "Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword
het..."
Paulus bedoel dit heel
letterlik: die dag toe Adam misluk het, het ons almal misluk. Sy val was ons almal se val, sy skuld ons
almal se skuld. Na Adam staan elkeen
van ons skuldig voor God... praat van kollektiewe skuld! Jy kan in jou klein hoekie wegkruip, ek kan
mooi praatjies maak in myn, maar sondaars is ons sondaars, skuldig is ons
skuldig - omdat ons Adamskinders is.
Daarom het ons ook nie 'n kans nie: soos Adam die doodstraf gekry het,
staan elke mens onder 'n doodsvonnis.
Hierdie harde oordeel spring 'n mens nie vry nie, in watter hoekies en
gate ons ook probeer skuil.
Hoe moet ons hierdie
besigheid probeer verstaan? Is dit 'n
biologiese kwessie: omdat die mensdom biologies in eenheid is, word sonde en
dood van geslag tot geslag oorgedra, as 't ware ingeteel? Of is dit 'n omgewingskwessie: deur Adam se
sonde het hy 'n omgewing geskep waar sy kinders nie anders kon as om ook te
sondig nie, sodat hulle weer omgewings vir hulle kinders geskep het waarin die
sonde floreer het, en so aan, en so aan?
Is my sondigheid en sterflikheid maar die produk van my genetiese of
sosiale erfenis?
As dit Paulus se
bedoeling was, kon ons hom al weer heel modern laat klink: genetiese en sosiale
faktore as oorsaak van alle mislukkings is mos heeltemal "in". Maar sy bedoeling lê eintlik op 'n ander
vlak. Paulus praat hier oor die manier
waarop God met ons mense werk. God het
ons nie gemaak as 'n klomp los lywe wat elkeen sy eie ding doen nie. God het die mensdom gemaak as 'n
eenheid. Ons het maar een oorsprong:
die skeppingsdaad waardeur God die mens gemaak het. Ons het maar een doel: gemaak om God se beeld, sy
verteenwoordiger te wees. Ons kan ons
doel nie een-een bereik nie, maar net as eenheid; daarom het God ons so nou aan
mekaar gebind. Ons is lotsverbonde -
wat een doen, raak almal.
Selfs in die deurmekaar
wêreld sien ons nog iets van hierdie lotsverbondenheid van mense. As 'n pa 'n drankprobleem het, maak dit die
hele gesin siek, ook die nugter gesinslede.
As 'n staatshoof oorlog verklaar, sterf jong manne wat dalk nie eers vír
die oorlog was nie. As iemand uitvind
hoe jy die atoom kan splits, as nog iemand 'n kernbom ontwerp, as 'n derde
gesiglose iemand se vinger die rooi knoppie druk, sterf baie, al skuil jy in
jou klein hoekie en ek in myn.
So iets, sê Paulus, het
in Adam gebeur. Die dag toe hy misluk,
het 'n bom gebars, 'n bom baie skadeliker as enige kernbom. Die skokgolwe van daardie bom ervaar ons nou
nog, die uitstraling daarvan maak ons nou nog siek, letterlik tot die dood
toe. Net: ons is nie maar slagoffers
van die Adamsbom nie. Daar vind iets
soos 'n kettingontploffing plaas. In
elkeen van ons laat die skokgolwe van die Adamsbom 'n verdere ontploffing
plaasvind, met groter en groter skade.
Uit die een oortreding het baie oortredings gevolg...
Sukkel jy om die storie
te sluk? Kyk maar om jou, en vra
jouself af waarom die wêreld so lyk.
Kyk 'n slag na 'n foto van Hirosjima na die atoombomontploffing, of na
die afgryslike foto's wat in die dodekampe van die Nazi's geneem is. Dit is mense wat sulke dinge doen, mense
soos ons.
Dit is iets wat ons as
Christene ook moet onthou. Ons bly deel
van hierdie mensdom, ons is Adamskinders.
In die gedeelte net voor Rom 5:12-19 praat Paulus oor die wonder van ons
verlossing. Hy sê ons kan bly wees,
omdat ons met God versoen is. Hy sê ons
kan seker wees dat ons as gelowiges van die straf van God gered sál word. Wonderlike dinge - maar dit gebeur so maklik
dat ons hierdie waarhede net betrek op onsself. Dat jy in jou klein hoekie, en ek in myn sit, elk met die
heerlike sekerheid dat ons geredde mense is...
En dan vergeet ons: ons
is nog steeds deel van die mensdom.
Lotsverbonde met ander mense. In
Romeine 8:10 sê Paulus: "Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan
julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde." Daardie menslike lot spring ons nie vry
nie. Ons redding sit ons nie so apart
dat ons met die pyn en krisisse van die mensdom niks meer te make het nie. Christene moet maar onthou dat ons ook ménse
is.
Juis daarom het ons 'n
boodskap vir mense! Kom ons kyk weer 'n
slag na die foto van Hirosjima: 'n leë, swartgebrande plat veld van
bouvalle. Sê nou maar jy kon 'n
lewensbom daar afgooi, 'n bom wat die mense uit die as laat herrys, wat die
geboue weer kon laat opspring, wat die bome kon laat groei en die gras weer
groen maak. Sê nou maar. Ons kan nie, want Adamskinders kan 'n
doodsbom maak, maar nie 'n lewensbom nie.
Net God kan 'n lewensbom
maak. En Hy hét. Dit is die eintlike boodskap van Romeine
5. "Deur die oortreding van een
mens het baie gesterf," staan dit in vers 15, "maar die genade van
God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom
het, is veel oorvloediger aan baie geskenk." Toe God se Seun mens geword het, in Betlehem, het die lewensbom
begin tik. Menslike bomeksperte het
gemeen hulle ontlont die lewensbom toe hulle Hom aan die kruis vasspyker. Al die tyd steek hulle toe die lont
aan. Want Jesus was besig om sy
"een daad van gehoorsaamheid" (vers 18) Adam se "een
oortreding" ongedaan te maak.
Die Sondag daarna het
die lewensbom ontplof toe Jesus deur die krag van die Gees uit die graf
kom. In die skokgolwe van daardie
ontploffing kom mense tot geloof, word hulle met God versoen. Adamskinders word God se kinders. Iets soos 'n kettingontploffing gebeur ook
hier: in elkeen wat glo, ontplof die lewe!
Die lewe van mense wat weet hulle is vrygespreek van skuld, al is hulle
Adamskinders. Adam se val en skuld bind
hulle nie meer nie, want hulle is getref deur die krag van Jesus se opstanding
en gehoorsaamheid.
Oor die krag van God se
lewensbom kan Paulus nie uitgepraat raak nie.
Die genade, sê hy, is "veel oorvloediger" as die oordeel. Adam het, tragies genoeg, veel bereik - met
een daad het hy die hele mensdom in ellende gedompel. Maar Jesus Christus, sê vers 17, het veel meer bereik:
"...dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het,
sal lewe en heerskappy voer." Die
lewensbom is uiteindelik sterker as die doodsbom.
Dit is geloofstaal
hierdie, die taal van 'n mens wat kan sê, in die woorde van Romeine 5:5, dat
die hoop nie beskaam nie. Want nou sien
ons dit nog nie. Nou lyk dit skokgolwe
van die doodsbom veel sterker oor die wêreld gaan as die uitstraling van die
lewensbom. Maar wat is geloof anders as
die oortuiging dat God se genade in my lewe gewen het teen die sonde; dat die
lewe wat God my gee, sterker is as die dood wat ek vir myself verdien het? En as God in my, selfs in my, kan oorwin,
waarom dan nie in jou nie? Waarom dan
nie in baie, baie mense nie? Want ek is
ook mos Adamskind, ook mens.
Die lotsverbondenheid
wat ons so pla as dit kom by sonde en skuld, is uiteindelik ook die kanaal wat
God gebruik om genade en vryspraak te laat vloei van mens tot mens. God se Gees laat die skokgolwe van die
opstanding deur die mensdom trek - totdat dit ook my bereik, en van my af
verder gaan. Dit kan ons pla dat God
ons so nou aan mekaar verbind het dat ons almal val toe Adam geval het. Maar watter troos om te weet dat Een in die
plek van Adam gekom het, dat ek kon opstaan omdat Hy opgestaan het... En dat ek
mag glo dat sy opstanding nog en nóg mense sal laat opstaan. As ons sing: "Jy in jou klein hoekie,
en ek in myn," droom ons dan nie te klein oor wat God sal doen nie?
Burger, C W Romeine 5:12-21, in: Woord teen die Lig, I/8, 213-225; Beker, C J The Triumph of God. The Essence of Paul's Thought. Minneapolis, 1990