6 JUNIE 2004

Drie-eenheidsondag feesdiens

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Romeine 5:1-5

Ander tekste: Spreuke 8:1-4; 22-31; Psalm 8; Johannes 16:12-15

Inleiding

Nadat in die eerste gedeelte van die kerkjaar (vanaf Advent tot Paastyd) op die betekenis van die lewe en werk van Christus gefokus is, en tydens Pinkster op die werk van die Heilige Gees, word daar op hierdie Sondag gefokus op die Drie-eenheid om daarmee te beklemtoon dat die groot heilsdade die werk van één God is.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

n Lied soos Lied 454:1-3 waarin die drie Persone van die Drie-eenheid agtereenvolgens besing word.

Aanvangswoord

Psalm 8:2

Seëngroet

Loflied

Psalm 8:1-5 (TT Cloete-omdigting), of vers 1-6 (Lina Spies-omdigting)

Geloofsbelydenis

Beklemtoon die drie Persone van die Drie-eenheid deur die Apostolicum soos volg met afwisseling van belydeniswoord en lied te hanteer:

Voorganger: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

Gemeente: Sing Lied 449:1, of Lied 451:1, of Lied 454:1

Voorganger: En (ek glo) in Jesus Christus en die wat reeds gesterf het.

Gemeente: Sing Lied 449:2, of Lied 451:2, of Lied 454:2

Voorganger: Ek glo in die Heilige Gees en n ewige lewe.

Gemeente: Sing Lied 449:3, of Lied 451:3, of Lied 454:3

Voorganger: Lees Artikel 6-18 van die Geloofsbelydenis van Athanasius (druk gerus die hele Geloofsbelydenis af sodat gemeentelede dit vir n slag onder oë kan kry)

Gemeente: Sing Lied 449:4

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed vir die opening van die Woord

Skriflesing uit die Ou Testament:

Spreuke 8:1-4, 22-31

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

Romeine 5:1-5

Skriflesing uit die Evangelies

Johannes 16:12-15

Prediking

 

DIENS VAN DIE TAFEL

Dit kan goed wees om vir hierdie feesgeleentheid die klassieke vorm van die Groot Nagmaalgebed te gebruik (beskikbaar in die Agenda van die Algemene Sinode van 1998).

Instellingswoorde

Uitdeling en gebruik van die brood en die wyn.

Lofprysing

Laat iemand die Totius-beryming van Psalm 8 voorlees (agter in die Liedboek beskikbaar).

Voorbidding

UITSENDING

Slotsang

Lied 450:1 en 2 (of enigeen van die ander liedere onder die rubriek "Drie-eenheidsondag" in die Liedboek

Seën

PREEKSTUDIE ROMEINE 5: 1-5 (11)

Teks

Die eksegese van die teks lewer nie veel probleme nie eerder die gelade aanbieding van die sentrale argument. In lang, ononderbroke sinne ontvou die logiese redevoering in gedagtespronge wat hygend op mekaar volg. So gelade is dit, dat dit n "klein kompendium van die hele Christelike lewe" genoem is. Die fokus van die preek sal uiteraard daarvan afhang waar ons die preekperikoop eindig: vers 5 of 11.

Hoofstuk 5 is n onderdeel van Paulus se bespreking van die vryspraak (regverdigmaking) as n geloofsvasgrype aan die verlossing, bewerk deur Jesus Christus (3:21-4:23). In 5:1-11 wat hierop volg, praat hy dan oor die uitwerking van hierdie Christologies gefundeerde vryspraak in die lewe van die Christen inderdaad n kompendium! Hierdie vryspraak bewerk n "splinternuwe verhouding met God" (Die Boodskap) wat die volgende gevolge vir die Christelike lewe inhou:

n vrede met God waarin die gelowige tot rus kom in die vastigheid van God se genadige toesegging van die heil: vers 1, 2a (Ridderbos noem dit die vastigheid van die heilsekerheid);

die verdere vastigheid aan die hoop gerig op die nuwe wêreld van God waarop ons wag (2, 4 8);

hierdie hoop "beskaam nie" (5a): ook te midde van swaarkry en teenstand (3) word die staal, die "egtheid van die geloof" (4) juis in die lyding bewys, deurdat dit volhardend, knaend vashou aan en vasgehou word deur die hoop;

in dit alles leef die geloof in die stortreën van God se liefde wat Hy uitgiet deur die Heilige Gees (5) n liefde bewys aan die kruis deur die voorkomende liefde van Christus vir sondaars: die basis van ons geloofslewe (6-10);

dit alles wek n onuitblusbare vreugde, nie net oor die gawes van die heil nie, maar oor die Gewer daarvan (11; ook 2 en 3).

Omdat hierdie verse so vol gelaai is, kan die fokus van preke oor die gedeelte op verskillende aspekte daarvan geplaas word: Wie daaroor uitvoerig wil nadink, kan die volledige bespreking van Burger oor verskeie preekmoontlikhede nalees.

Met die oog op Drie-eenheidsondag (Trinitatis) sou ek die fokus plaas op: die heilswerk van die drie-enige God bewerk n totaal nuwe verhouding met God wat rus in die volledige heilswerk van Christus; dit bewerk n kragdadige hoop op God se nuwe wêreld; in die geloof kan vasgehou word aan God se nuwe wêreld wat inbreek, ook te midde van teenspoed en hierdie nuwe wêreld gedy in die stortvloed van die liefde wat die Gees daaroor uitgiet.

Konteks

Trinitatis word in die liturgiese jaarorde voorafgegaan deur n konsentrasie op die koms en voltooide heilswerk van Christus (Advent tot Pase) en daarna op die werk van die Heilige Gees (Pinkster). Trinitatissondag lei daarna die koninkrykstyd in waarin gefokus word op die deurwerking van die heilshandeling van God drie-enig in die lewe van gelowiges, van die kerk en in die wêreld. n Mens sou die teologie van hierdie tydperk kon beskrywe as "deurbraak-teologie", waarin die werklikheid van die koninkryk "wat vir hom n pad opbreek" in die wêreld (Matt. 11:12) gevier word. Koninkryksprediking is dus letterlik baanbrekersprediking, waarin die allesnuutmakende karakter van God se versoeningsdaad in Christus gevier word: dit moet die hele liturgie van die erediens stempel.

Trinitatissondag herinner ons daaraan dat die drie-enige God energiekragte loslaat in hierdie wêreld, ooreenkomstig "die kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het", en hierdie krag "oefen Hy uit in ons wat glo" (Ef. 1:19-20). Daarom moet die energie van n onwrikbare geloof, die heilsekere toegang tot God en sy genade, die opstuwende krag van die hoop op n beter wêreld, selfs te midde van weerbarstige omstandighede, die helende krag van die liefde losgelaat word in die kerk en in die wêreld. Hieroor kan verder gelees word in die insiggewende boek van Coenie Burger, Die dinamika van n Christelike geloofsgemeenskap.

Hierdie deurbraak van die koninkryk moet plaasvind in n wêreld vol toekomsbedreiging en toekomsvrees (Moltmann). Ernstige en geldige vrae val hier oormekaar: Wat word van ons en ons kinders se toekoms? Watter loopbaanmoontlikhede is daar te midde van groeiende werkloosheid? Watter hoop is daar te midde van stelselmatige verarming, Vigs-pandemie, geweld, verkragting, ekologiese bedreiging in n wêreld wat op allerlei vorme van selfmoord afstuur? Jy kan die erns van die vrae ontvlug op allerlei kunsmatige wyses: groter ekonomiese en politieke beheer, beter beplanning en bestuur, of; in die soeke na tydelike genot en ontspanning, in dwelms ..., of; n mens kan die ander weg opgaan: in resignasie, pessimisme, met n sug in die onvermydelike agteruitgang van n verouderende wêreld berus, waar "hoop se laaste spore in wanhoop vergaan" (ou beryming van Psalm 130). Maar is op die uiteinde dit nie alles illusies, mooi maar barstende seepbelle wat in die woorde van Romeine 5:5a hoop is wat "beskaam", tot skande word nie?

Verder: Wat maak ons met die swaarkry, die leed en die pyn van n brose wêreld? Moet gelowiges ook saam met ander daarvan wegkyk, dit letterlik miskyk, weg kyk, wegdoen daarmee, met alle middels tot ons beskikking of skouerophalend sê: "Dit is soos die wêreld nou maar is"? Gelowiges se morele optrede word bepaal deur wat hulle sien en nie sien nie Wat word daarvan as ook gelowiges ander se nood, armoede, honger, vrees, nie meer raaksien nie? Ontstaan dan nie ook in die kerk se buurt n liefdelose wêreld waarin alle vorme van liefde koud word nie? Miskien omdat die prys daarvoor te groot word? Daarom word gelowiges so gou moeg, gefrustreerd en uitgeput, word die geloofshande en -knieë slap en word die vreugde gebore uit die hoop waarvan ons teks getuig, so gemis op die gelaat van gelowiges en die kerk.

Belangrik in die gestaltegewing van die hele liturgie en so ook die fokus van die preek, sal wees om die Drie-eenheid nie te sien as n stuk abstrakte teologiese dogma nie, maar as die basis van die Christelike lewenswandel en optrede in n ou wêreld wat na n nuwe wêreldorde smag.

Preekvoorstel

Op grond van ons samevatting hierbo stel ek voor dat op Trinitatissondag gefokus word op gelowiges en die kerk se toerusting tot draers van die hoop.

Inleidend kan gewys word op allerlei knellende vrae wat vreet aan die wortel van ons toekomsverwagting en die futiele pogings om hierdie vrae te ontvlug, of om in skouerophalende resignasie te verval pogings wat op die uiteinde soos seepbelle ontplof. Hierteenoor staan n trinitaries gefundeerde hoop wat "nie beskaam nie", omdat die staal van die geloof daarin ingebou is, die revolusie van die liefde daarin ontketen word tot verheerliking van God en tot vreugde in die geloofslewe (teks hierbo). Hoe ontplooi hierdie hoop in die kerk en in die wêreld?

Eerstens deurdat gelowiges trinitaries toegerus word tot die hoop. Die trinitariese energie, beskrywe in die teks, is juis die onderbou van die hoop, gee ruggraat aan die lewe van gelowiges. Die versoeningswerk van Christus gee die waarborg van n nuwe verhouding met God, n verhouding van vrede, van kindskap (vgl. Rom. 8:15-18), n vrye toegang tot die genade, tot al die seëninge van God. Op so n God kan n mens vertrou. Hy tel gelowiges op in sy genade sodat hulle vanuit sy genade ook met genade na ander kan kyk. Hy hou ons staande in die hoop om verwagtend te hoop op die "heerlikheid": die nuwe wêreld wat op ons wag.

Tweedens: Midde-in swaarkry en allerlei vorme van teenstand teen die deurbreek van God se nuwe wêreld, midde-in die hoop wat dreig om beskaam te word, word ons deur God drie-enig staande gehou. In omstandighede waarin hierdie vrede, hierdie opgewonde vreugde, oor die nuwe wêreld bedreig word, kan ons in die geloofsvertroue volhard, vas staan in die hoop. Staande in hierdie hoop word gelowiges opstandig, word hulle deel van God se avant garde, sy stormtroepe wat stry vir die koms van God se nuwe wêreld en sy geregtigheid (sien Matt. 6:33). Hulle word mense wat hulle "kragtig insit" vir die deurbraak van God se nuwe wêreld (Matt. 11:12), hulle word hoopvolle en dus hoopgewende mense in alle situasies van wanhoop.

Derdens: Daartoe word hulle bevry deur die liefde van God drie-enig wat die heilige Gees soos n reën in gelowiges se harte uitstort (5-10; vgl. 2 Kor. 5:14). Want om uit te hou in die hoop, om vas te staan daarin en daardeur opstandig te word, het ons baie liefde nodig niks minder as die trinitariese volheid van die liefde nie! Want die liefde verg dat gelowiges gewillig moet wees om te offer, om oop oë te hê en tyd te maak vir straatkinders, gemarginaliseerdes en maatskaplike uitsaksels, die prooi van allerlei vorme van geweld en in die proses draers van die hoop na die hopeloses te wees. Hierdie weg van die liefde is nie goedkoop nie dit is duur, daartoe moet gelowiges begenadig word.

Laastens: Hierdie bemagtiging deur die drie-enige God laat gelowiges hulle kop optel, laat neerslagtiges en hopeloses weer moed vat. Dit bring die vreugdelied op die lippe; dit laat die simfonie van God se nuwe skepping losbreek in die kerk en die wêreld (11). Die liturgie, veral die liedere van Trinitatissondag, moet in die erediens, die deurbraak van hierdie vreugde dien.

Bibliografie

Burger, C W Verdere riglyne vir lydensprediking in WtL 1/8, 205-212; Gollwitzer, H Wendung zum Leden, 190-198; Moltmann, J Die Sprache der Befreiung, 77-84 Ridderbos, H N CNT.