Ander tekste: Eks 17:1-7; Ps 95; Joh 4:5-42
Hier kan Woord teen die
Lig I/8, 205-212 geraadpleeg word.
Aanvullend kan die volgende gesê word:
a. Die regverdiging deur die
geloof alleen (waaroor dit in die verlede Sondag se preekskets gegaan het)
staan sentraal in dié perikoop: "God het ons dan nou vrygespreek omdat ons
glo." Hierdie preek kan daarom
gebruik word om aan te dui dat geloof nie maar 'n intellektuele instemming by
bepaalde waarhede is nie, maar werklik 'n lewensomvattende saak; so
lewensomvattend dat dit ook die donkerste kant van ons lewens raak.
b. Burger wys in WtL I/8, 208
daarop dat die gedeelte 'n rol gespeel het in die opvatting van 'n syllogismus mysticus. Volgens hierdie opvatting kan 'n mens tog in
jou eie hart ook die sekerheid kry van jou "egtheid van geloof". Die "redenasie" sal dan ongeveer
so verloop: "Omdat ek in swaarkry kon volhard, weet ek my geloof is eg en
dus is ek werklik 'n kind van God."
Die gevaar hiervan is dat die mens vir sy sekerheid weer terugverwys
word na homself eerder as na God se heilswerk in Christus. Dit sou in stryd wees met die lofprysende
vers 11! Die gedeelte moet dus nie so
uitgelê word dat mense op 'n wettiese wyse ingevra word na die kwaliteit van
hulle geloof nie.
c. Nogtans kan dit gebruik word
om duidelik te maak hoe die heil tog deur God se genade ingang vind in ons
alledaagse lewe. In God se hande word
ons swaarkry 'n leerskool in volharding; ons volharding word deur God gebruik
om ons geloof te suiwer; ons egtheid van geloof word deur God aangewend om die
hoop in ons te laat ontbrand - en die hoop beskaam nie. Die "ketting" moet so verkondig
word dat dit nie gesien word as 'n outomatiese oorsaak-gevolg-ketting nie, want
dan word God ook uiteindelik die direkte oorsaak van die swaarkry self! Dit gaan om die wonderlike manier waarop God
met ons werk, selfs in ons swaarkry.
Sonder God kan die "ketting" heel anders loop - van swaarkry na
tou opgooi na ongeloof na uitsigloosheid!
d. Daarom dat die
"ketting" nie by Paulus eindig in die subjektiewe sekerheid wat ek
verkry uit die egtheid van my geloof nie, maar wel by 'n daad van God:
"...die hoop beskaam nie, want God
het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons
gegee het." (vers 5) Hierdie
"uitstorting" van liefde is ook nie 'n mistieke ervaring nie, maar
word onmiddellik gekoppel aan die evangelie van genade: "Toe ons nog
magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses
gesterwe."
e. In aansluiting by die vorige preek kan daarop gelet word dat
Paulus steeds besondere moeite doen om ons te herinner dat ons in onsself in
die ry van Adamskinders tuishoort: ons was "magteloos" en
"goddeloos" (vers 6); "sondaars" (vers 8) en "vyande van
God" (vers 10). Tussen ons en hierdie
magteloosheid staan net die kruis en opstanding van Christus, waarin ons glo
deur die werk van die Heilige Gees.
Maar juis omdat ons daarin glo, het ons die hoop wat nie beskaam nie,
"dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word" (vers 9).
f. Dit is duidelik uit vers 10: "Aangesien ons, toe ons nog
vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel
vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal
word."
g. Eksistensieel moet die
"ketting" van 3-5 dan eintlik as 'n soort spiraal verstaan word,
waarin ons deur God al hoe dieper ingelei word in die werklikheid van ons
geloof en hoop. Elke keer as God met
ons deur die dieptes gaan, word ons teruggewerp op die geloof in wat Christus
gedoen het, sodat ons versterk word in ons hoop op dit wat Hy sal doen. Hier kan terugverwys word na die pad wat God
met Abraham geloop het om juis duidelik te maak dat daar vir geen mens enige
rede tot roem is nie. Hoe minder daar
uit my omstandighede iets blyk van die beloftes van God, en hoe minder krag ek
het om self te probeer om die belofte waar te maak, hoe meer word ek
teruggewerp op die belofte alleen, op God alleen.
h. 'n Preek oor hierdie gedeelte
sal beslis moet waak teen 'n romantisering van lyding, asof lyding op sigself
iets goeds is. Die interessante is dat
die woord wat vir "verheug" gebruik word in vers 3, dieselfde is as
die een wat in 4:2 met "roem" vertaal is. Cranfield sê hieroor: "...the exulting in tribulations to
which this verse refers is not an exulting in them as in something meritorious
on our part - this would of course be closely akin to the kauchasthai rejected in 3.27f." Dit gaan daarom dat ons roem in dit wat God
bereik met ons in ons swaarkry. Die
fokus van die preek moet dus val op dit wat God doen en nie op die lyding as
sodanig nie.
Swaarkry en lekkerkry is teenoorgesteldes - of só dink ons. In ons Skrifgedeelte lyk dit asof Paulus die
twee saamgooi: "Ons verheug ons ook in die swaarkry," sê hy. Klink asof hy skryf vir Sannie se
Sonskynhoekie, asof hy nie weet waarvan hy praat nie...
Vreugde en swaarkry? As jy dit
nog so algemeen stel, kan dit dalk gaan, maar sodra jy die swaarkry name gee,
raak dit moeiliker. Vreugde - en
kanker? Vreugde - en eensaamheid? Vreugde - en verwerping? Vreugde en - 'n mens huiwer om dit te sê -
dood? Weet hierdie Paulus ooit waarvan
hy praat?
Wel, van swaarkry weet Paulus nogal so wat. Sy storie laat 'n mens se hare rys. In 11:26-27 vertel hy ons iets van sy lewe, en dit was geen
luilekker bestaan nie! "Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was
gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van
heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare
onder vals broers. Daar was vir my
harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en
dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue."
Paulus is dus nie die soort ou wat met sy wit Mercedes van sy
skuldbulthuis af aangerol kom en vir daklose mense vertel presies hoe bevoorreg
hulle is om so swaar te kry nie en hoe dankbaar hulle teenoor God moet wees
nie. Hy skryf hierdie stuk oor swaarkry
met sy eie lewe. En hy sê hy is bly:
"Ons verheug ons ook in die swaarkry."
Nou moet ons darem raaksien dat hy sê "in" die swaarkry en nie
"oor" die swaarkry nie. Hy is
geen smartvraat wat "Lekker!" skree as die ellende aankom nie. Maar so in die swaarkry ken hy nog steeds
vreugde. Soos Handelinge 16:25 van hom
en Silas vertel: hulle sit om middernag, vasgeketting in die tronk, en hulle
sing tot lof van God.
Rêrige swaarkry is vir baie van ons presies dit: 'n tronk. Jy voel vasgevang daarin, jy kan nie
vorentoe of agtertoe dink nie. Jou
gedagtes draai net om een ding: jou swaarkry.
En uiteindelik draai jou gedagtes vas.
Jy wil liewer nie terugdink aan tye toe dit beter gegaan het nie, jy
sien nie kans om vorentoe te dink, om te droom oor dae anderkant die swaarkry
nie. Jy sit in ellende soos in 'n
tronksel en jy weet sowaar nie hoe Paulus in die tronk kon sing of in swaarkry
kon bly wees nie.
Dalk kon Paulus sing omdat hy geweet het die tronkmure sluit nie
heeltemal dig nie. Daar is twee
openinge in die tronkmuur: die een kyk terug en die ander kyk vorentoe. Die terugkyk-opening se naam is
"geloof" en die vorentoekyk-opening se naam is "hoop". En omdat die tronkmure hierdie twee openinge
het, kan Paulus die vars wind van God se Gees voel waai deur sy swaarkry. Hy weet God bly besig met hom, al kry hy ook
swaar. En dit maak hom bly.
Paulus begin met die terugkyk-opening: "God het ons dan nou
vrygespreek omdat ons glo." Soos
ons verlede week gesien het, beteken dit nie dat my geloof die manier is waarop
ek verdien dat God my vryspreek nie. Ek
verdien dit juis nié, en geloof is om dit te weet. Ek glo in die God wat mense vryspreek ook al verdien hulle dit
nie. Daarom word die vrede tussen my en
God nie bewerk deur my geloof nie, maar deur Jesus Christus. Geloof is om te vertrou op Hom alleen; om
weg te kyk van myself en my sonde en prestasies en staat te maak op dit wat
Christus vir my gedoen het.
Daarom skryf Paulus in vers 2: "Deur Hom het ons in die geloof ook
die vrye toegang verkry tot hierdie genade
waarin ons nou vasstaan." Geloof
is om maar te bly staan in die genade, om te weet dat jy nie voor God sou kon
staan as Hy jou nie so genadig was nie.
Dit is ook waaroor dit gaan van vers 6 af. Daar praat Paulus oor hoe ons sonder Christus was, en hy noem ons
sommer 'n paar lelike name: magteloos, goddeloos, sondaars, vyande van
God! Adamskinders! Was dit nie vir Christus wat sowaar vir
magteloses en goddeloses gesterf het nie, was dit nie vir Hom wat sy lewe vir
God se vyande gegee het nie, dan was daar vir ons Adamskinders geen hoop nie.
Maar Hy het dit gedoen. En die
Gees het ons so aangegryp met die goeie nuus dat Jesus dit vir ons gedoen het,
dat ons leer glo het. Daarom is ons nou
ook Abrahamskinders, mense wat nie staatmaak op hulleself nie, maar op God. Mense wat vasstaan in die genade...
Ook in swaarkry. Want swaarkry
kan jou so aan jouself oorgelaat laat voel, sonder God en sonder mense. Dan moet jy maar terugkyk in die
geloof. Dit is al een manier om uit jou
swaarkrytronk te sien. Kyk na wat God
gedoen het. Soos Paulus in Rom 8:32 sê:
"Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te
red. Sal Hy ons dan nie al die ander
dinge saam met Hom skenk nie?"
Anders gesê: God het sy Seun vir ons gegee - sal Hy ons dan nou alleen
los as ons swaarkry? Nog nooit! Ook in kanker, ook in eensaamheid, ook in
verwerping, ja, ook in die dood los God ons nié. Al voel ons soms só.
Daarom kan ons ook leer vorentoe kyk.
God is nog nie met ons klaar nie.
Dit is tog ondenkbaar dat Hy sy Seun sal laat sterf vir ons, net om
daarna ons lewe in swaarkry en dood te laat eindig. Die God wat sy genade aan ons gegee het in Christus, is nie Een
wat halwe werk doen nie. Daarom reken
Paulus daarop dat daar nog dinge op ons wag.
Hy hoop dit - en "hoop" het by hom nie die flou betekenis wat
dit by ons het nie. "Ag, ek hoop
maar dit sal beter gaan," sug ons in dowwe klanke wat maar te duidelik sê
dat ons nou nie eintlik veel beterskap verwag nie. Maar "hoop" is by Paulus om daarop te reken dat God sal
klaarmaak wat Hy in Christus se kruisdood en opstanding begin het. Daarom sê hy die hoop beskaam nie. Want God sal ons nie verleë laat nie.
Paulus sê selfs die hoop staan nog vaster as die geloof; die toekoms is
nog sekerder as dit wat God in die verlede gedoen het. "Aangesien ons nou vrygespreek is op
grond van sy versoeningsdood," sê vers 9, "staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God
gered sal word." En vers 10
onderstreep dit: "Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van
sy Seun met God versoen is, staan dit
soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun
gered sal word." As God genade
bewys het aan sy vyande, hoe sal Hy nie in die toekoms sy kinders genadig wees
nie?
Dit is die onderliggende vreugde wat by die gelowige bly in swaarkry, die
diep blydskap wat ons laat lofsing in die nag.
Deur Christus, in die geloof, is ons in God se goeie hande - en al kry
ons nou swaar, is daar nie 'n manier dat Hy ons sal laat los voordat Hy sy werk
in ons klaargemaak het nie.
Dit beteken nie dat die tronksel van swaarkry 'n soort wagkamer is waarin
ek passief sit en wag dat God se werk weer op dreef moet kom nie. Swaarkry is 'n plek waar God besig is om met
my te werk, skryf Paulus: "swaarkry kweek volharding, volharding kweek
egtheid van geloof, egtheid van geloof kweek hoop..." (4:3-4) Dat dit nie 'n outomatiese proses is nie,
weet ons maar te goed. Dis nie asof God
ons in 'n swaarkry-masjien gooi, flink 'n paar knoppies druk en dan wag dat ons
blinkwit van die hoop anderkant uitkom nie.
Swaarkry kán ook 'n tou-opgooi-mentaliteit kweek; as ons tou opgooi kán
ons geloof knak; as ons geloof knak kán ons hoop verloor.
Dit is net God wat die verskil maak.
Ons vertroue is nie op 'n soort "reinigingsproses" wat in
swaarkry opgesluit is nie; ons vertroue is hier, soos in ons hele lewe, op God
alleen. Maar dan werk Hy tog met
ons. Ons ervaar hoe Hy ons dra deur
swaarkry. Soos Hy Abraham deur die
kinderlose jare gedra het, soos Hy Paulus deur gevaar op gevaar gedra het, so
dra Hy ons. Hy doen dit so goed dat
selfs in ons bot harte uiteindelik die oortuiging groei: in God se hande kom ek
deur die dieptes. Ek leer volhard,
uithou en aanhou omdat die Here my God is.
Dit leer ek natuurlik nie sonder gevolge vir my geloof nie. Volharding, sê Paulus, kweek egtheid van
geloof. Dit beteken nie dat ek nou 'n
soort supergelowige, 'n eersteklas-Christen word nie. Dit beteken eerder dat ek nou al hoe meer die waarde daarvan
besef dat ek op God alleen vertrou. My
geloof word skoongemaak van al die reste van selfvoldaanheid. Ons hoor hoe dit gebeur in Paulus se eie
woorde. In 2 Korintiërs 1:9 vertel hy
hoe swaar hy gekry het: "Trouens, dit het gevoel asof die doodsvonnis
klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit
het gebeur sodat ons nie op onsself sou
vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe."
Volharding verdiep ons vertroue in God.
So word ons hoop versterk, want hoe dieper ons besef van God se
betroubaarheid is, hoe meer vertrou ons Hom.
Nie dat hierdie werk van God gladweg en in 'n reguit lyn met ons loop
nie. Partykeer gaan dit maar op die
rand van die afgrond langs. In 2
Korintiërs 1:8 lees ons dat Paulus ook maar gewanhoop het voor hy opnuut leer
vertrou het. Dit is seker ook nie om
dowe neute dat hy hier in vers 6, nadat hy gepraat het van die hoop wat nie
beskaam nie, teruggryp op die geloof dat Christus juis vir magteloses gesterf het nie.
Want dit gee weer hoop wanneer jy jou magteloosheid aan die lyf voel.
Tog kom daar, selfs so op die rand van die afgrond, iets van 'n
hardnekkige vreugde in ons tot stand; 'n vreugde, sê vers 11, oor God
self. Soms is God dan ook regtig al wat
jy nog het om oor bly te wees. Maar jy
weet: Hy is ook genoeg. Soos moeder
Theresa by geleentheid gesê het: "You won't learn that Jesus is all you
need until Jesus is all you have."
Bibliografie
Burger, C W Romeine 5:1-11, in: Woord teen die Lig I/8, 205-212.