Ander tekste: Gen 12:1-4a; Ps 121; Joh 3:1-17
Romeine 4 as geheel word
bespreek in Woord teen die Lig I/5, 125-134).
Daar word dit hanteer as teks vir 'n moontlike dooppreek. Die fokus val op die geloof van Abraham (vgl
veral die twee preekvoorstelle op 133-134).
Beide preekvoorstelle sal ook aangepas kan word met die oog op die
lydenstyd. Hier word 'n ander voorstel
gedoen, waarin kontinuïteit gesoek word met die eerste Lydensondag se boodskap
oor Romeine 5:12-19 en gefokus word op
die leegheid van ons geloof.
Die volgende aspekte van
die teks moet dan in ag geneem word:
·
Paulus praat op twee maniere
oor Abraham as vader. In 4:1 gaan dit
om Abraham as die "stamvader" of "vader na die vlees" van
die Jode. In 4:16-17 gaan dit om
Abraham as "die vader van ons almal" (dus: van alle gelowiges). Paulus wil juis duidelik maak dat Abraham se
wesenlike betekenis daarin lê dat hy die vader van gelowiges is. Op hierdie wyse wil hy dus teenoor Joodse
roem in hulle fisiese afstamming van Abraham aandui dat vir God nie die fisiese
afstamming nie, maar die geloof in Christus wesenlik is.
·
Dit is dan ook belangrik om
die teenstelling tussen die Joodse sieninge van Abraham en Paulus se verstaan
duidelik te teken. Die teks wat Paulus
in 4:3 aanhaal (Gen 15:6) is deur Joodse skrifgeleerdes op 'n totaal ander wyse
vertolk. Vir hulle was Abraham se
geloof so 'n prysenswaardige prestasie dat dit hom tot geregtigheid gereken
is. Juis sy geloof het gemaak dat hy
nie as "goddelose" beskou kan word nie. Vir Paulus is Abraham se geloof nie 'n prestasie nie (4:4). Abraham het vertrou op God "wat die
goddelose vryspreek" (4:5).
Daarmee tel Paulus nie alleen die stamvader Abraham onder die
"goddeloses" nie, maar onderstreep hy dat dit alleen God se goedheid
is wat Abraham vrygespreek het. God
spreek immers nie gelowiges vry nie, maar goddeloses. Die betekenis van Abraham se geloof is nie dat Abraham goed is
nie, soos die Jode gedink het nie, maar wel dat Abraham se God goed is. Dit moet beklemtoon word, omdat baie lidmate
steeds dink aan geloof as die een "goeie werk" waardeur ons nog ons
redding verkry.
·
Dit sal vir die prediker die
moeite werd wees om verder in te gaan op die manier waarop Paulus oor
"roem" praat (4:2). Die
"nie by God nie!" is nie bedoel om te suggereer dat Abraham wel voor
mense sou kon roem nie, maar eerder om te beklemtoon dat voor God alle roem
uitgesluit is. "Roem" staan
vir die vertroue op jou eie werke, teenoor die dankbare vertroue op God. Daarom is roem uitgesluit deur die geloof
(Rom 3:27); geen mens het iets om op te roem voor God nie (1 Kor 1:29); dié wat
wil roem, moet in die Here roem (1 Kor 1:31; 2 Kor 10:17). Paulus sê ook dat hy liewer in sy swakheid
sal roem as in enige prestasie, sodat die krag van Christus sy beskutting kan
wees (2 Kor 12:9) en dat hy net in die kruis van Christus wil roem (Gal
6:14). Die subtiele maniere waarop ons
altyd weer iets in onsself soek om te roem, waarop ons soms terugval op ons
geloof as die een ding wat nog roem werd is, behoort dus aandag te kry in die
prediking.
·
In hierdie verband is vers 17
interessant. Jonker maak die opmerking
dat die verband tussen die eerste deel van die vers en die tweede nie heeltemal
duidelik is nie. Hy laat die woorde
"in die oë van God" (of, soos die 1933-vertaling dit het, "voor
die aangesig van God") teruggaan op die gelowige ontvang van die
belofte. Cranfield se vertolking lê
meer in lyn met die 1983-vertaling. Hy
laat die "voor die aangesig van God" slaan op die inhoud van die
belofte: "Abraham is father of us all in God's sight. This is how God sees him, whatever some Jews
may think, and it is God's view which matters." Die preekvoorstel sal by hierdie vertolking aansluit, omdat na my
mening die aard van geloof daardeur duidelik na vore gebring kan word.
·
Beker (1990:51-52) maak 'n
onderskeid tussen die Adam-tipologie in 5:12-19 en hierdie perikoop se
verkondiging dat Abraham die voorbeeld van geloof is: "Abraham typifies
the continuity of the history of salvation, while Adam typifies the dualistic,
apocalyptic theology of the two ages."
'n Bietjie verder sê hy: "Within this apocalyptic Adam typology
there is no room for a figure like Abraham, who already, according to Romans 4,
constitutes within the old age the seed or reality of the new age to come. Adam and Abraham cannot be integrated easily
into a "systematic" view of history, because both figures operate on
different tracks and levels of salvation-history in Paul's thought."
·
Terwyl toegegee kan word dat
die rol van Adam en dié van Abraham in Paulus se denke nie maklik
gesistematiseer kan word nie, kan die spanning tussen die twee perspektiewe
moontlik juis gebruik word om die aard van Abraham se geloof te tipeer. Paulus teken die inhoud van Abraham se
geloof immers in taal wat 'n duidelike apokaliptiese klank het. So is die inhoud van die belofte aan Abraham
"dat hy die wêreld as besitting sal ontvang" (4:13). Dié belofte wag nog op vervulling, soos blyk
uit die feit dat Paulus in 4:16 sê dat die belofte van krag bly vir sy hele
nageslag, "ook dié wat glo, soos Abraham geglo het", waarmee hy
duidelik die Christene in die oog het.
·
Verder beskryf Paulus die God
in Wie Abraham glo, so: "God wat die dooies lewend maak en dinge wat nie
bestaan nie, tot stand bring deur sy woord". Daar is goeie rede om by die laaste woorde nie net te dink aan
die skepping van die wêreld nie, maar ook aan die herskepping, soos die
"dooies lewend maak" ook aandui.
Ook hier blyk dus die invloed van die apokaliptiese voorstellinge, as 'n
mens Beker se tipering daarvan aanvaar (1990:21-36). In die taal van die preekskets oor Romeine 5:12-19 sou 'n mens
kon sê dat die impak van Christus se opstanding in die tyd nie net die toekoms
in ervaar word nie, maar eintlik ook terug in die verlede. Reeds Abraham is geruk deur die ontploffing! Sonder dat hy dit self behoorlik geweet het
(want Abraham self sou kwalik sy geloof in God omskryf in die taal van vers 17)
is hy in sy hardnekkige volharding gedra deur die Een wat sou kom.
·
Soos uit die preekvoorstel sal
blyk, meen ek dat die hele hoofstuk 4 eintlik ter sprake moet kom indien sinvol
gepreek moet word oor die verse wat die leesrooster aandui.
Iemand het gesê: "Niks is so dodelik soos 'n goeie voorbeeld
nie." En dis waar. Elkeen van ons wat as kind moes hoor:
"Hoekom is jy nie ook soos Boeta nie?
Boeta is altyd so gehoorsaam, so fluks, so..." wéét hoe ons
"Boeta" met ons hele hart gehaat het. Dalk is dit hoekom 'n mens na jou tienerjare nie veel erg het aan
Bybelkarakters nie. Hoe is ons nie
gepeper met hulle goeie voorbeelde nie!
Soos 'n Josef van ouds moet jy wegvlug vir verleidelike vrouens, het ons
as tienerseuns gehoor toe ons diepste behoefte was om tog maar iewers 'n
verleidelike vrou raak te loop. Soos
Daniël moet jy alleen kan staan as die ander verkeerde dinge doen, is ons
vertel toe ons maar een nood gehad het, en dis om in te wees by die groep.
Goeie voorbeelde maak 'n mens moedeloos oor jouself, veral as jy nie 'n
voorbeeldige soort mens is nie. En nou
lyk dit asof Paulus in Romeine 4 dieselfde soort speletjie speel. In ons Bybels kry jy daar die opskrif:
"Die voorbeeld van Abraham."
Lees jy verder, dan hoor jy dat Abraham 'n voorbeeld van geloof is. Wel, dis darem nie te erg nie, kan jy dalk
dink. Ek glo mos ook op my manier. Dalk kry ek die voorbeeld nog nagevolg! Maar dan pluk Paulus die mat onder ons voete
uit. Hy vertel ons hoe Abraham sowat
honderd jaar geword het. Sy liggaam was
al afgeleef en sy vrou heeltemal te oud om kinders te hê - maar hierdie man het
nog steeds geglo dat hy en sy vrou 'n kind sal hê!
Dis 'n voorbeeld wat jou knieë lam kan maak. Wie van ons sal dit regkry om dít te glo: dat 'n ou man en vrou
wat al eintlik by pensioen verby is, by die lewe self verby is, nog 'n kind kan
kry? Hier is al weer 'n voorbeeld wat
'n mens moedeloos maak oor jouself, wat jou laat voel jy het g'n geloof
nie. In elk geval nie soos Abraham s'n
nie. En nou sê Paulus juis ek moet soos
Abraham glo, dan word ek vrygespreek van my sonde. Dan is my saak met God reg... Wat se kans het ek dan nog? Op hierdie standaard sal my geloof mos nooit
kom nie!
Vat jy egter Paulus se storie van voor af, kom jy agter: Paulus speel nie
die goeie-voorbeeld-speletjie nie. In
vers 1 praat hy van Abraham as "ons stamvader". Hy is dus hier besig met die Joodse manier
van dink oor Abraham. Die Jode was nie
bietjie trots daarop om 'n stamvader soos Abraham te hê nie! Kyk, dit sê darem iets van jou as jy met so
'n afkoms kan spog, as jy so 'n supergelowige ou as voorsaat het.
In vers 3 haal Paulus dan vir Genesis 15:6 aan: "Abraham het in God
geglo en daarom het God hom vrygespreek."
Die Jode was self lief vir hierdie versie, en hulle het dit só verstaan:
Abraham se geloof was so sterk, so indrukwekkend, dat selfs God geïmponeer was
daardeur. Toe besluit God dat hierdie
Abraham darem verdien om vergewe te word.
So 'n geloof is mos iets werd!
Die Jode het op 'n tipies-menslike manier gedink oor God. Hulle het gereken God sit met 'n
weegskaal. Aan die een kant kom jou
goeie dade, aan die ander kant jou slegte dade. Die vraag is net: Wat reken God weeg die swaarste? As dit jou goeie dade is, is jou saak met
God reg, maar as jou slegte dade swaarder weeg, het jy probleme. Nou, Abraham se geloof was so groot dat dit
alleen al genoeg geweeg het om sy skaal na die regte kant te laat swaai. As dit waar sou wees, het ons probleme. Want wie van ons se geloof dra dieselfde
gewig as dié van Abraham? Ons is
dikwels so kleingelowig! En 'n klein
geloof sal mos so nooit as te nimmer ons sondeswaar skale laat regswaai nie!
Paulus is juis besig om teen hierdie manier te skryf. Daarom sê hy in vers 2 al: "As Abraham
op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy 'n rede gehad om te roem. Maar
nie by God nie!" Daarmee
bevestig hy net wat hy in 3:27 al gesê het: "Het ons nou iets uit onsself
om op te roem? Nee, dit is
uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof." Paulus sê: Geloof beteken dat jy weet jy het niks om oor te spog
nie. Geloof werk so dat jy selfs nie
oor jou geloof kan spog nie.
In 4:5 sê hy dan vir ons hoe die geloof eintlik lyk. Hy sê ons glo in Hom wat die goddelose vryspreek. In 3:23 het hy al geskryf: "Almal het gesondig en is ver van God
af..." Daardie "almal"
sluit Abraham in. Dit sluit, sê hy in
4:6, ook vir Dawid in. Dit sluit ál die
goeie voorbeelde in, Josef, Daniël, almal.
"Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader,
Abraham?" vra 4:1. Vers 5
antwoord: hy was ook maar goddeloos.
Soos ons elkeen. Hy het ook maar
niks gehad om op te roem nie. Selfs sy
geloof op sigself kan nie die skaal laat swaai nie; dit kan nie sy
goddeloosheid ongedaan maak nie. Ook sy
geloof is nie iets waarop Abraham kan staatmaak voor God nie. Wat bly dan oor
waarop Abraham kon staatmaak? Maar Één:
God self. In sy goddeloosheid kon hy
nog daarop reken dat God die goddelose vryspreek. Al was hy maar 'n doodgewone mens, kon hy nog staatmaak op die
lewende God. Al is jy sleg, kan jy jou
verlaat op die goedheid van God...
Geloof laat die skaal nie swaai nie; geloof is om God te vertrou om die
skaal opsy te skuif.
Dat dit die aard van Abraham se geloof was, is vir Paulus ook duidelik
uit sy lewe. In vers 17 haal hy Genesis
17:5 aan: "Ek het jou die vader van baie nasies gemaak." Dit het God vir Abraham gesê toe hy en Sara
nog kinderloos was, en al eintlik by kindkry verby was. Dan voeg Paulus daarby: "Dit is hy in
die oë van God..." God kyk na
Abraham, die ou man, die kinderlose, en sien in hom die vader van baie nasies. Abraham en Sara se huwelik hou eintlik geen
belofte van kinders meer in nie, maar God kyk nie na die belofte wat hulle
inhou nie; God kyk na die belofte wat Hy skenk. Abraham se moontlikhede word nie bepaal deur sy vermoë of leeftyd
nie, maar deur God se belofte.
"Dit is hy in die oë van God in wie hy geglo het..." Abraham glo God. Hy heg meer waarde aan wat God belowe as aan die belofteloosheid
van sy huwelik en sy en Sara se ouderdom.
Hy glo God, nie op grond van iets in homself nie, want daar is in homself
geen rede om die belofte te glo nie. Hy
glo God op grond van wie Gód is: "God wat dooies lewend maak en dinge wat
nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord." Daarom word Abraham in sy geloof verder ook gedra, nie deur wie
hy is nie, maar deur wie God is. Hy
word ouer en sy vrou word niks jonger nie, maar: "Hy het nie in ongeloof
begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en
het aan God die eer gegee. Hy was ook
ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het." (4:20-21)
Dit is geloof: om oortuig te word dat God bedoel wat Hy sê. Om oortuig te wees dat God sal doen wat Hy
belowe. Om volledig op God te
reken. As God sê dat Hy goddeloses
vryspreek, mag jy maar daarop reken. As
God belowe om jou Vader te wees wat in alles by jou bly, mag jy maar op Hom
staatmaak... nie omdat jy jy is nie, maar omdat Hy Hy is. God kom na die kinderlose Abraham en sê:
"Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak." Dit is hy in die oë van God, en hy glo dit -
en die geloof dra hom deur kinderlose jare.
God kom na my in my goddeloosheid en sê: "Ek spreek jou vry van jou
sonde omdat my Seun klaar die skuld gedra het.
Ek verklaar jou onskuldig."
Dit is ek in die oë van God, en ek mag dit glo - en die geloof kan my
dra deur my jare en jare se sukkel met myself en met die lewe. Want God is God, en Hy hou woord.
Ons is Adamskinders, het ons verlede week gesien, mense wat saam met Adam
geval het. Hierdie week leer ons dat
Adamskinders mag glo in die God wat gevalle mense weer optel. Eintlik het ons nog meer rede om te glo,
oneindig meer as Abraham. Want ons leef
na Christus se kruis en opstanding, ons glo dat God klaar goddeloses in
Christus opgetel het. Dit klink so maklik, nie waar nie? In 'n sin is dit. Die geloof is vreeslik eenvoudig. Jy moet maar reken daarop dat God regtig is soos die Woord sê Hy
is. Jy moet jouself verlaat daarop dat
Hy regtig goddeloses vryspreek, regtig anders kyk na jou as wat jy na jouself
kyk.
Maar in 'n sin is geloof ook moeilik.
Eintlik verskriklik moeilik. Dit
vra van ons om iets oor onsself te glo wat ons verkies om nie te glo nie: dat
ons goddeloses is. Dit sluit alle roem
in onsself uit. En dis plein sleg. Dat ek nie eers 'n ou ietsie hier in myself
kan oorhou om mee te spog voor God nie.
Dat ek nie eers my beste dade kan vasklou om daarmee vir God te sê:
"Kyk net, Here, so sleg is ek nou ook weer nie!" Dat ek selfs nie eers my geloof kan gebruik
om myself te laat mooier lyk voor God nie...
Wat maar net weer vir ons sê, soos ons verlede week gesien het: geloof
lig ons nie uit die ry van Adamskinders nie, maar laat ons juis besef hoe
volledig deel ons bly van die mensdom.
Dit is maar net God se genade wat ons stroop van alle roem in onsself en
ons elke keer weer terugbring op die punt waar ons weet: Ons kan net op God
reken, nie op onsself nie. So gesien
was God se pad met Abraham 'n genadepad - want eers toe daar geen kans was dat
Abraham kon reken hy het darem 'n bydraetjie gelewer om God se belofte waar te
maak nie, eers toe is Isak gebore...
Bibliografie
Burger, C W Romeine 4:1-25, in: Woord teen die Lig, I/5, 125-134. Beker, C J The Triumph of God. The Essence of Paul's Thought. Minneapolis, 1990.