PREEKSTUDIE HANDELINGE 19:1-7

Teks

Handelinge 19:1-7 is deel van die verhaal oor Paulus se besoek aan Efese (Hand 18:19-19:40) gedurende sy derde sendingreis (Johnson) vanaf Antiogië deur Klein-Asië na Europa (Hand 18:23-21:14). Hy ontmoet daar n groep gelowiges (Hand 19:1) en uit dié gesprek kom sentrale teologiese kwessies aan die orde. Met twee vrae trek Paulus die raamwerk vir die gesprek en word die fokus onmiddellik op drie sentrale kwessies geplaas, naamlik: die Heilige Gees, geloof en die doop. In die eerste vraag: "Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?" (v 2), bring Paulus die ontvangs van die Heilige Gees in verband met die gebeure toe dié groepie mense gelowig geword het. Die tweede vraag: "Watter soort doop het julle dan ontvang?" (v 3), suggereer n verband tussen die ontvang van die Gees en die doop (Bruce). Paulus open die weg vir n verdere gesprek waarin twee verskillende soorte doop vergelyk word; die doop van Johannes (v 3 en 4) en die doop in die Naam van die Here Jesus (v 5).

In dié ontmoeting gebeur nog vier dinge: (i) Paulus verduidelik die verskil tussen die doop van Johannes en die doop van die Een wat na Johannes kom; (ii) Die groepie gelowiges laat hulle in die Naam van die Here Jesus doop; (iii) Paulus lê hulle die hande op, en; (iv) Nadat die Heilige Gees op hulle kom, gebruik hulle ongewone tale en klanke, en verkondig (Gr eprophéteuon) hulle God se boodskap. Soos in Handelinge 8:15 en volgende verse kom die Heilige Gees ook hier op die gelowiges nadat hulle gedoop is. Die koms van die Gees gaan gepaard met glossolalie (Ook Hand 11:4; 10:44vv) en profesie (Bruce).

Die laaste dertien hoofstukke (16-28) van Handelinge word aan Paulus gewy (Johnson). In die breër konteks van Lukas (skrywer van Handelinge) se vertelling oor Paulus se bediening in Efese, ontmoet die leser verskillende persoonlikhede met wie Paulus en sy helpers te doen gekry het; (i) Apollos, n begaafde spreker met n deeglike kennis van die Skrif, het in die leer van die Here onderrig ontvang, met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer. Hy het egter net die doop van Johannes (Hand 18:24-25) geken; (ii) Die groepie gelowiges in Efese het niks van die Heilige Gees geweet nie, maar wel die doop van Johannes ontvang. Paulus oorreed hulle nogtans om hulself in die Naam van die Here Jesus te laat doop (Hand 19:1-5). Dit is volgens Bruce die enigste geval in die Nuwe Testament van her-doop; (iii) Rondgaande Jode wat bose geeste in die Naam van die Here Jesus besweer het (Hand 19:13); (iv) Persone wat gelowig geword en toe hulle towerpraktyke openlik bekend gemaak en bely het (Hand 19:18-19); (v) Aanhangers van Artemis het die Christene as gevolg van n botsing van ekonomiese en sosiale belange geopponeer (Hand 19:23-40).

Die groepie gelowiges waarop dié preekstudie fokus, word in vers 1 aangedui as "sommige dissipels" (Gr. tinas mathétas), waarskynlik dissipels van Jesus. Indien hulle dissipels van Johannes was, sou verwag word dat dit pertinent so gestel word. Hulle het moontlik hul kennis oor Jesus op soortgelyke wyse as Apollos ontvang, of van Apollos self (Hand 18:25). Dat Apollos goed bekend was met die verhaal van Jesus, maar onkundig oor die Christelike doop, dalk ook van die koms van die Heilige Gees (Hand 1:2), suggereer dat hy nie langs die weg van oorlewering wat in Handelinge beskryf word tot geloof gekom het nie, maar moontlik n mondelinge Galilese bron (Bruce).

Die verwysing na die Heilige Gees (pneuma hagion) in vers 2, het hier waarskynlik n spesiale betekenis. Dit dui moontlik op die Heilige Gees, soos dit op Pinksterdag in sigbare manifestasie uitgestort is. In vers 4 werp die grammatikale konstruksie ("hina" plus die werkwoord hina pisteusósin) die klem op die voorbereidende aard van Johannes die Doper se bediening. Hy het sy hoorders aangespoor om in die Een wat moet kom te glo (Bruce). Daarom beklemtoon Paulus in sy gesprek met die groepie gelowiges dat daar méér is as wat hulle reeds weet en glo.

Konteks

In die kerklike jaar is die fokus van die eerste Sondag na Epifanie tradisioneel op Jesus se doop deur Johannes die Doper. Jesus se doop openbaar sy gehoorsaamheid aan God, asook sy identifisering (solidariteit) met ons as sondaars, wat met God versoen is. Die Skriflesing uit Handelinge 19:1-7 beklemtoon die oorweldigende groei van God se nuwe skepping, naamlik die gemeenskap van gelowiges in Christus (Koester).

In Paulus se ontmoeting met die groepie gelowiges van Handelinge 19:1-7, ontdek hy by hulle n onvolledige geloof. Dié groepie dissipels wat hulle met Johannes se doop identifiseer het, weet nog niks van die Heilige Gees of van die Een wat na Johannes die Dopers moet kom nie. Paulus help dié groepie om oor te gaan vanaf die voorbereidende werk van Johannes die Doper, na die volheid van Christus se werk in hulle belang. Die belangrike vraag wat beantwoord moet word, is die vraag na die verskil tussen die doop van Johannes en dié van Jesus, om van daaruit met die uitbreiding van die evangelie voort te beweeg deur verkondiging, doop en die gawes van die Heilige Gees (Koester).

Die verskil tussen die boodskap van Johannes en dié van Jesus bestaan daarin dat Johannes aksent geplaas het op dreiging en oordeel, terwyl Jesus die klem geplaas het op genade. Die betekenis van die doop in die naam van Johannes en in die Naam van Jesus, staan direk in verband met die inhoud van hul bedieninge. Die onderskeid tussen dié twee vorme van doop kom aan die lig wanneer daar op die inhoud van Johannes en Jesus se prediking gefokus word. Daardeur word dit ook duidelik waarom Paulus oordeel dat die doop in die naam van Johannes nie tot n "volkome" Christenskap aanleiding kon gee nie. Hier word gekies om in die res van dié studie op die genade van God te fokus.

Daar is heel eenvoudig twee basiese fases in n mens se geloofslewe te onderskei; Eerstens, die besef dat jy as natuurlike mens in die oë van die Here sondig is, en sy oordeel verdien. Tweedens, wanneer jou geestesoë onder leiding van die Heilige Gees geopen word, en jy ontdek dat die genade van God in Jesus Christus, die oordeel wat jy verdien, weggeneem het. Dat God se genade in Jesus Christus groter as sy oordeel is! Die Heidelbergse Kategismus praat ook van "basiese fases". In antwoord op vraag 1 beklemtoon die Kategismus dat jou enigste troos in lewe en sterwe daarin bestaan dat ek aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Vraag 2 vra dan hoeveel dinge ek moet weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe. Die antwoord sê ek moet drie dinge (fases) weet: (i) Hoe groot my sonde en ellende is; (ii) Hoe ek van al my sonde en ellende verlos word, en; (iii) Hoe ek God vir so n verlossing dankbaar moet wees.

Die groepie wat die doop van Johannes ontvang het, was bewus van die Goddelike oordeel, maar nie van die genade in Christus en die vervulling met die Gees nie. Daarvan wou Paulus hulle bewus maak. Die een woord wat in die kerklike seisoen van Kersfees en Epifanie uitstaan, is die woord "genade". Die koms van Christus na die wêreld, die hoofkenmerk van sy boodskap, die wese van sy lewe, is Goddelike genade. God se genade is groter as die mens se sonde en onreg! Kon die groepie in Efese dié oorvloedige genade verstaan, vanuit hul onvolledige kennis van die evangelie van Christus?

Wyle dr. Manie Malan, in lewe predikant van die NG gemeente Kameeldrif in Pretoria, het in die Julie 1986-uitgawe van die tydskrif Swart op wit, die verhaal vertel van 'n tannie by wie hy betrokke was ten tye van haar afsterwe. Prof Flip Theron het dié verhaal by dr Malan se roudiens oorvertel.

Sy het as jong meisie tot bekering gekom, maar daarna een Oujaarsnag "in die sonde geval" en toe geglo dat daar vir haar geen genade meer is nie. Toe Manie haar ontmoet het was sy reeds 83 jaar oud. Hoewel sy by die biduur in die ouetehuis die klavier gespeel het, het sy self nie gedeel in die vreugde en vryheid van die evangelie nie.

Toe kry sy leukemie. Sy kon die dood nie in die oë kyk nie. Sy het geweet die dood is baie naby.., óók die oordeel... Sy het gesê dat sy bang is vir die dood omdat sy weet dinge tussen haar en God is nie reg nie.

Manie Malan skryf: "Toe het ek aan haar die evangelie verkondig. Die blye boodskap dat Jesus vir al haar skuld betaal het. Alles, end-uit. Dat Hy die dinge tussen haar en God reggemaak het. Dat Hy haar met God versoen het omdat Hy geweet het sy sal nie kan nie. Dat Hy haar al voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het en dat niks haar meer van sy liefde sal skei nie." Die Tannie het mooi gehoor. Haar vlugge verstand was nie afgemat soos haar liggaam nie. Sy het verstaan wat Manie besig was om vir haar te sê, maar sy kon dit nie glo nie.

"Meneer," het sy vir Manie gesê: "ek wens ek kon dit glo."

"Maar jy mág dit glo!" het Manie haar geantwoord. "God het my gestuur om dit vir jou te kom sê. Jy mág dit glo. Ek smeek jou om Christus ontwil, aanvaar die versoening wat Christus bewerkstellig het."

Die Tannie het weer geprewel dat sy wens sy kon hierdie boodskap glo.

Manie skryf verder: "Toe het ek oor die tralies van die wit kot gebuig, oor die mooi mens wat baie min dae oorgehad het om te lewe. Terwyl my trane onbeskaamd loop het ek gesê: `Tannie Groenewald, mag ek namens Tannie met die Here praat?'"

"Ja, Meneer," het sy gesê, "jy kan maar."

Toe het Manie met die Here gepraat: "Here, ek praat met U namens Tannie Groenewald. Sy het my volmag gegee om namens haar te praat. Here, sy glo. Sy glo dat Jesus Christus vir al haar sondes en skuld op Golgota gesterf het. En, baie dankie Here, dat U nie eens meer kan onthou wat daardie aand op die De Wets se plaas gebeur het nie."

Manie skryf: "Toe het sy geskreeu. Ek weet nie wat sy geroep het nie. So goed as wat ek die verhaal onthou, so min kan ek onthou wat sy uitgeroep het. Ek het dit onmiddellik vergeet, want dit was te skerp en te skokkend. Dit was iets soos: `Is dit waar!? God! Is dit waar!?'"

Die Bybel bevat talle wonderlike verhale waarin die genade van God beklemtoon word. Johannes 8:1-11 is één so n verhaal. Dit vertel hoe die skrifgeleerdes n vrou wat op owerspel betrap is, na Jesus gebring het. Volgens die Joodse wet moes die vrou die doodstraf kry, maar wat doen Jesus? Hy het die geleerdes se veroordeling aangehoor, maar iets op die grond geskryf. Toe hulle met hul beskuldigings aanhou, het Hy gesê: "Laat die een van julle wat n skoon gewete het, eerste n klip op haar gooi." Die slim aanklaers het een vir een verdwyn, totdat Jesus en die vrou alleen agtergebly het. Toe het Hy vir haar gesê dat sy kon gaan, maar nie weer moes sondig nie.

Hoe dikwels is ons persepsie van God nie een van oordeel en straf nie? Waarskynlik soos dié van die dissipels wat met die doop van Johannes geïdentifiseer het. Maar dis n onvolkome, onvolledige geloof. Moet ons ons kinders nie méér blootstel aan n genadige, liefdevolle, vergewensgesinde God nie? Hoe dikwels dreig ouers nie hulle kinders met Jesus nie? As hulle moedeloos gepraat is oor iets wat die kind verkeerd doen, word daar soms gesê dat liewe Jesus vir hom of haar gaan straf. Natuurlik moet n ouer sy of haar kind leer wat reg en verkeerd is, maar n mens moet versigtig wees om nie jou kind (voortdurend) te dreig met Jesus nie. Só kan n mens vrees vir God by jou kind skep. Iemand wat lank onder Boeddhiste sendingwerk gedoen het, het by geleentheid gesê dat Boeddhiste gelukkiger leef en in groter vrede sterf as Christene, omdat hulle godsdiens positiewer (genadiger?) gevul is as dié van Christene. Is dit waar van ons?

Ons ken die verhaal van die verlore seun (Luk 15:11-32). Hy het sy erfporsie roekeloos uitgeleef, maar sy fout besef en na sy vaderhuis teruggegaan. Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom gesien, want hy het vir sy seun gewag. Hy het na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Volgens Jesus was daar geen woord van oordeel of verwyt nie! Ten spyte van die veroordelende protes van die oudste seun dat sy broer sy erflating met prostitute deurgebring het, juig die vader oor n verlore kind wat terug is. Dié soort optrede sluit elke sweem van oordeel uit. Dít is die "volkome" geloof wat Paulus in Efese verkondig het!

Dikwels dink ons aan God as Iemand wat, by wyse van spreke, voortdurend deur sy teleskoop "in zoom" op ons lewe, net om n sonde of twee te soek. Dink eerder aan God as Iemand wat vir jou staan en wag soos die vader in die verhaal van die verlore seun. Sien Hom eerder as Iemand wat vir jou, by wyse van spreke, knip-oog en wink, omdat Hy jou wil vasdruk.

Lukas 4:16-30 vertel van Jesus wat terug is in sy geboortedorp. In die sinagoge ontvang Hy die Jesaja-rol van n amptenaar, blaai daarin en begin uit Jesaja 61:1-2 lees. Hy lees feitlik alles net soos dit daar staan, maar aan die einde laat Hy iets uit. Wat sou dit wees? In die OAV staan daar: "n dag van wraak van onse God". Volgens Lukas laat Jesus dié gedeelte weg. Hy breek kort voor die gedagte van straf en oordeel af! Die rabbis van dié tyd het die klem op die oordeel en straf van God laat val. Jesus verkondig daarenteen die genade van God. Is dít dalk die rede waarom die mense later vir Hom woedend was?

Lukas 7:22-23 bied n volledige prentjie hieroor. Jesus haal vryelik uit drie gedeeltes van Jesaja aan in sy boodskap aan Johannes (Jes 29:18-20; 35:3-6; 61:1-2). In al drie gedeeltes is sprake van die dag van oordeel en straf, maar in Jesus se boodskap aan Johannes die Doper, laat Hy weg! Kon dit blote toeval wees? Johannes het boodskappers na Jesus gestuur met die vraag: Is U die Een wat sou kom of moet ons n ander een verwag?" Dié vraag het moontlik uit Jesus se genadeverkondiging gespruit. In Johannes se prediking was die klem op oordeel, en miskien het hy n Messias met n soortgelyke boodskap verwag (vandaar die twyfel in Jesus). In Lukas 7:23 sê Jesus dan: "En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie." Anders gestel: Gelukkig is hy wat My nie kwalik neem dat Ek die oordeel wegneem en God se genade verkondig nie.

Ter wille van volledigheid word nog n Skrifgedeelte aangehaal om die oordeel in Johannes se boodskappe te bevestig. Matteus 3:7-12: "Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi"

Preekvoorstel

Dit maak beslis saak wat n mens glo, sê Koester. Totdat Paulus die groepie dissipels ontmoet het, het hulle God se genade maar net gedeeltelik gehoor en net n voorsmakie van ware dissipelskap gekry. Dikwels val mense vas by n onvolkome evangelie, en bly hulle in n toestand van geestelike armoede voortploeter. Paulus het die genade ontvang om in die oorvloed van Christus se verlossingswerk te leef, maar hy het ook die gawe ontvang om te sien wanneer mense nie die volle waarheid het nie. Daarom doen hy moeite met die groepie gelowiges in Efese. Hy verkondig aan hulle die volle evangelie, deur te begin by dié punt waar hulle op daardie stadium was.

Ek het al dikwels by bejaardes se sterfbed gestaan. Met hulle hand in myne het hulle gesê dat hulle baie bang is, vreesbevange is. Die rede vir hul vrees? Hulle het iewers in hul lewe sonde gedoen en is bang vir God. Ja, hulle het al dikwels vergifnis gevra, maar hulle twyfel nog (Die verhaal van Manie Malan kan ook hier vertel word). n Mens het begrip hiervoor, want elkeen van hulle het n heilige respek vir God gehad. Maar n mens kan iemand respekteer sonder om hom of haar te vrees. n Mens kan vir God respekteer sonder om vir Hom bang te wees. God se vergifnis is grensloos: "So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af." (Ps 103: 12).

Waar kom dié vrees-teologie tog vandaan? Hierdie vrees-godsdiens veroorsaak n onvolkome verhouding met God. God wil deur die geboorte en lewe van Christus vir ons in n "volkome" verhouding met Hom plaas, n verhouding waarin ons bewus kan word van die feit dat sy genade groter as sy oordeel is. Iemand het die verskil tussen genade en straf eendag só uitgedruk. Hy het gesê dat dominees nie mense uit die hel moet preek nie, maar liewer die hemel in. Hulle moenie mense bang maak met God en die hel nie, maar hulle eerder troos met die boodskap van genade waarop Epifanie die lig laat val!

Hiermee kan net die Heilige Gees jou help. Voor n mens die oorvloedige genade van God ontdek en aanvaar, is jou Christenskap, jou geloof, onvolledig! Dan leef jy by wyse van spreke nog onder die doop van Johannes. Dis eers wanneer n mens in die Naam van Jesus Christus gedoop is, en die beloftes van die genadeverbond vir jouself toegeëien het, dat jy werklik kan deel in die "volkome" verhouding wat God in Christus moontlik maak!

Bibliografie

Bruce, F.F. The new international commentary on the New Testament, The book of the Acts; Bruce, F.F. 1970. The Acts of the Apostles. The Tyndale Press; Johnson, L.T. 1986. The Writings of the New Testament. SCM Press Ltd.; Lindijer, C.H. De prediking van het Nieuwe Testament, Handelingen van de Apostelen ll; Soards, M. Dozeman, T. & McCabe, K. Year B, Advent/Christmas/Epiphany, Preaching the revised common lectionary, pp. 104-106.