5 Mei 2002
Sesde Sondag in Paastyd 5
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Handelinge 17:22-31.
Ander tekste: Psalm 66:8-20; 1 Petrus 3:13-22; Johannes 14:15-21.
INLEIDING
Die viering van Pase staan sentraal in die Christelike geloof. Die vyftig dae vanaf Paassondag tot Pinkstersondag
bepaal die res van die kerklike jaar soos elke Sondag die res van die week bepaal. Dit verkondig die kerk van
Christus se diepste hoop, naamlik dat God ’n Man uitgekies het wat doodgemaak is, maar weer uit die dood
opgewek is: Jesus Christus, ons verrese Heer. Die Handelingeteks en die Psalmteks is albei na-buite-toe-tekste
(kerk in die wêreld), terwyl die Evangelieteks en die Sendbriefteks albei na-binne-toe-tekste is, wat die gemeente
wil opbou. Die erediens gaan dus probeer om die kerk toe te rus vir sy getuienistaak na buite waar die wêreld
soekend is na die onbekende God.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Gemeente fokus op God
Kom ons luister in stilte, meditatief.
(Die gemeente fokus op die feit dat God in Jesus Christus uitgereik het na ons in ons verlorenheid (1 Pet 3:18). Ons
vra: Wie is die God wat ons saambring? Hy is nie ver van enigeen van ons af nie.)
Gemeente bevestig meditatief en sittend: Lied 519.
Votum
Liturg: Liewe gemeente, dit is Paastyd. Die Here het opgestaan!
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!
Seëngroet
Soos ons Here Jesus sy dissipels ná sy opstanding gegroet het, groet ek julle nou: "Vrede vir julle!"
Moontlikheid: Vra die mense om na mekaar toe te draai en mekaar te groet met die woorde: "Vrede vir jou!"
Paaskers
Dit is ’n pastorale oomblik. Vra iemand om die groot Paaskers in te dra. Sê elke keer in Paastyd min of meer
dieselfde by die aansteek van die Paaskers, byvoorbeeld: "Liewe broers en susters, ons betree die huis van die
Here met ’n week se ervarings van die lewe in die wêreld, maar God – die Bron van Lig en Lewe – bring deur sy
opstanding vir ons troos en oorwinning in ’n donker wêreld. Hy het gekom sodat ons hoop kan herleef. Ons fokus
in die aansteek van die Paaskers is om hierdie wete wakker te hou."
Sang
Lied 190; 191; 192; 66; 27.
Jong dissipels (kindertyd)
Die volgende gedig van Antjie Krog word by die doopvont gelees:
Ma
"Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
’n kaalvoetgedig –
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie."
Liturg sê: Dis volgende Sondag Moedersdag. Indien ons vir die Here ’n gedig sou skryf, soos hierdie kind vir
haar ma, om vir Hom jammer te sê omdat ons sy liefde nie verdien nie, hoe sal ons dit sê? Wat
sou ons skryf? Die Een in wie se Naam ons gedoop is, het soveel verwagtings van ons. En ons
slaag so min daarin om Hom werklik te behaag. (Gee tyd hiervoor in stilte.)
’n Gesin kan dan vorentoe kom en een lid kan die Petrusgedeelte lees. Daar kan getuig word wat 1 Petrus 3:21
(waar die ark op die water Noag en sy familie en die diere gered het – die doop) vir hulle beteken. Ten spyte van
ons foute kom God en vergewe ons en hou ons vas, sodat ons getroos kan weet: Ek/ons behoort aan Hom. Hy
staan Pa vir my/ons. Hy is soos die digter se ma vir my/ons die "breekwater teen die lewe".
Die liturg gee aan die gemeente die versekering: "Julle hoort hier – God hou julle vas. Al voel dit soms Hy "breek
my tente op". Dit dien alles tot ons heil."
Sang
Lied 231/NSG 61.
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed (epiklese)
Opsioneel: Die gemeente antwoord staande met Lied 272.
Die Bybel (maak iets daarvan om die Kanselbybel in die kerk in te dra tydens dié moment in die erediens)
Fokusteks
Handelinge 17:22-31.
Prediking
Geloofsbelydenis (Ps 66 verwerk, met presies dieselfde tema)
Liturg: Kom luister, alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het: Die lof kom God toe wat
my gebed nie afgewys en sy trou nie van my weerhou het nie. Ek sal u huis betree met brandoffers
en aan U die geloftes betaal wat ek gedoen het, wat ek afgelê het toe ek in nood was. Prys ons
God, alle volke, laat sy lof weerklink! Dit is Hy wat ons die lewe gee en nie toelaat dat ons struikel
nie!
Geloofsbelydenis
Gemeente (staande): "Ons glo in God die Vader …"
DIENS VAN DIE TAFEL
Gereedmaak van tafel
Nagmaalepiklese
Berig (1 Kor 11)
Instelling
Johannes 14:18-21: "Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie ..." kan hier gelees word as een van die tekste.
Hier word die troos baie naby gebring en hopelik geïntegreer. Christus is die bewys van die uitreikende liefde van
God.
Uitdeling
Kommunie
Hier kan ons God dank.
Dankgebed
Die gemeente bevestig dank staande: Lied 219:1, 2.
Die gemeente bly staan vir ’n tyd van spontane voorbidding.
Dankoffers
Dit is ’n baie ou gebruik dat die gemeente die offers na die nagmaaltafel toe bring.
UITSENDING
Bulletin met aankondigings
Voorbidding
Die voorbidding word gehanteer soos gewoonlik (drie persone bid vir die dorp, land en wêreld).
Johannes 14:21 sê duidelik wat die opdrag is en dat God ons seën, dat elkeen aan die tafel en deur die Woord as
dissipels van Jesus Christus gestempel is. Hulle is nie algemeen godsdienstige mense nie. Gaan dan heen ...
Sang
Die gemeente sing staande Lied 281:1-3.
Seën
Liturg: Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Gemeente: Hy is ons vrede.
Liturg: Wie in Hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
Gemeente: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid
Amen (gesing deur die gemeente).
Teks en konteks
In hierdie gedeelte word ’n saak aangeroer wat die afgelope dekade of wat geweldig relevant in Suid-Afrika geword
het, naamlik die vraag hoe die evangelie verkondig word in ’n multikulturele, multigodsdienstige opset. Dit sal
waarskynlik vir baie mense vertroostend wees om te sien dat dié vraagstuk reeds so oud soos die berge, ja, so oud
soos die evangelie self is.
Natuurlik is dit ook nie Paulus wat vir die eerste keer voor hierdie problematiek te staan gekom het nie. Reeds Israel
het Jahwe aanbid as ’n God te midde van die gode. In die Ou Testament praat God in die "vergadering van die gode".
PREEKSTUDIE - MATTEUS 17:16-34
Atene was min of meer tussen 478 en 431 vC op die kruin van haar mag en roem. Teen die tyd dat Paulus daar
rondgestap het, was die getuienis van die kultuurryke geskiedenis nog oral te sien. In hierdie stadium het die stad
maar sowat 5 000 inwoners gehad (vgl Haenchen).
Paulus onderskei in vers 18 twee groepe mense in sy gehoor, naamlik die Epikureërs en die Stoïsyne. Wanneer
Lukas sê: Party sê …, dink hy waarskynlik aan die Epikureërs met hulle materialisme en praktiese ateïsme. Vir hulle
was Paulus ’n babbelaar. Hulle het immers ’n lewensbeskouing gehuldig wat plesier (hdonh) as die belangrikste
lewensdoel daargestel het. Hulle was volgelinge van die Griekse wysgeer Epikurus en het geleer dat die hele wêreld
uit atome saamgestel is en dat alles, ook die siel van die mens, ontstaan uit ’n toevallige ontmoeting van hierdie
atome.
Die ander is waarskynlik die Stoïsyne. Hulle het ’n panteïstiese geloofsisteem gehad waarin die hoogste uitdrukking
van die natuur in die rede (logos) gevind is. Hierdie goddelike logos het die heelal deurtrek en besiel. Hulle het veral
groot klem gelê op ’n deugdelike lewe; alles is ondergeskik gestel aan die goeie; gesondheid, genot, lyding,
armoede, ensovoorts het die Stoïsyne koud gelaat. In die praktyk het die Stoïsyne groot waarde geheg aan die
belang van die redelike vermoëns van die mens, ver bo sy emosionele vermoëns.
Paulus word deur hierdie wysgere ’n "praatjiesmaker" genoem. De Villiers wys daarop dat die woord wat hulle vir
"praatjiesmaker" gebruik, verwys na die voëls wat graan of afvalkos oppik, en ook na mense wat die markplein
deursoek vir oorskietkos. Hierdie woord is ook gebruik vir mense wat stukkies kennis van ander versamel en dit
hulle eie gemaak het.
In vers 19 word daar gesê: "Hulle het hom na die Areopagus geneem …" Dit beteken waarskynlik dat Paulus voor
die Raad van die Areopagus gebring is. Dit was die legendariese Ateense hof wat die Areopagus genoem is omdat
hulle in die vroeë tyd op die Areopagus of die heuwel van Ares byeengekom het. Die hof se mag is later beperk,
maar hulle het veral hulle magte behou oor sake soos moord en morele kwessies. Dit het veral die hoogste gesag
gedra in godsdienstige sake en kon ook publieke redenaars aanstel om só ’n mate van beheer oor die publieke
debat uit te oefen. Die waarskynlikste scenario is dat hulle Paulus voor die Areopagus gebring het om daar ’n
uiteensetting van sy leer te gee.
Paulus begin sy gesprek voor die Areopagus deur die opmerking te maak dat hy kan sien dat hulle baie
"godsdienstig" is. Volgens F F Bruce kan Paulus se opmerking ook geïnterpreteer word asof hy sou sê dat die
Ateners baie bygelowig is.
Laasgenoemde suggestie vind dan weerklank in die verhaal van Diogenes Laertius wat vertel dat die Ateners tydens
’n groot pessiekte by Epimenides van Kreta om hulp aangeklop het. Hy het hulle aangeraai om skape op
verskillende plekke in die stad te offer, om terselfdertyd te dien as ’n soort herdenking van die altare wat aan
onbekende gode gewy is (vgl Bruce).
In sy gesprek begin Paulus deur aan te sluit by die selfverklaarde onkunde van die Ateners. Bruce wys daarop dat
hy baie behendig die Epikureërs se leer dat God niks van die mens nodig het en daarom nie deur mense gedien
kan word nie, asook die Stoïsyne se geloof dat God die bron van alle lewe is, kombineer. Paulus begin met ander
woorde met ’n soort retoriese tegniek wat hom soveel moontlik gemene grond met sy gehoor gee.
Die vertaling van vers 26 is problematies. Dit is nie nodig om hier op al die verskillende nuanses van moontlike
vertalings in te gaan nie. Belangrik is om daarop te wys dat Paulus nie besig is om hier ’n bloudruk aan te bied vir
die presiese aard en plek van die volkereverskeidenheid nie. Hy probeer eerder aantoon dat die verskeidenheid van
volke nie noodwendig lei tot verskeie gode nie (teenoor die antieke geloof dat elke volk of selfs elke stad sy ontstaan
aan ’n ander god te danke gehad het). Hy poneer dan die Ou-Testamentiese verkondiging dat één God die één
mensheid geskep het.
In vers 28 haal Paulus twee Griekse digters aan. Eerstens die frase "deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan
ons". Dit kom waarskynlik van die Griekse digter Epimenides. Teenoor Epimenides wat begin by die lewende mens
en van hieruit argumenteer tot by ’n lewende God, is die lering van Jesus presies die teenoorgestelde (vgl bv Luk
20:37 ev). Die tweede aanhaling, naamlik "ons stam van Hom ook af" is van Aratus. In hierdie aanhaling van hom
word die lof van Zeus besing.
Noordmans het ’n baie interessante preek oor hierdie gedeelte gemaak. Hy kies as uitgangspunt en teks verse 22-
23.
Sy invalshoek is die vrees wat leef by die meeste mense ten aansien van die dood. Ons probeer die vrees vir die
dood besweer deur ons godsdienstigheid.
Hy begin deur daarop te wys dat daar lank voor Paulus se toespraak voor die Areopagus ’n pessiekte in Atene
geheers het. In ’n poging om die gode te paai het iemand toe ’n aantal wit en swart skape na die stad geneem en
hulle daar losgelaat. Oral waar die skape gaan lê het, het die mense ’n altaar gebou en dit gewy aan die een of
ander onbekende god van die pes. Dít, sê Noordmans, is godsdienstigheid, ’n poging om die dood af te weer.
Voor die Areopagus begin Paulus sy toespraak deur te wys op hierdie altaar wat gewy is aan die onbekende god.
Alhoewel hy ontsteld is deur dít wat hy gesien het, wys hy niks van sy verontwaardiging nie. Hy kies die
godsdienstigheid as gemene grond, maar wys daarop dat godsdienstigheid nie genoeg is nie. Dikwels is dit selfs
afgodery. Afgodery met alles wat nie werklik God is nie. (Noordmans wys sy gemeente dan ook daarop dat ’n mens
nie alleen van beelde afgode maak nie. Jou geestelikheid, vroomheid, Bybelkennis, regsinnigheid, ens kan ook alles
afgode word.)
Werklike insig hierin bring ’n mens met reg by die vraag: Wie kan dan gered word? En hier word ook maar van twee
mense, Dionisius en Damaris, vertel wat onder Paulus se prediking tot geloof gekom het. Tereg wys Noordmans
dan daarop dat dit ’n moeilike stap is om van godsdienstigheid, van die afgodery van eie vroomheid, oor te gaan tot
die dien van God. Daar is baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle God soek. Maar dikwels dra hierdie
soeke ook maar net die skyn van erns.
"We beginnen nu het verschil te zien tussen de godsdienstigheid, die Paulus te Athene aantrof en het dienen van
God, dat hij predikt ... Het is de grootste verandering, die er in het mensenleven kan plaatshebben. Het is moeilijker
één ogenblik te bukken voor de wil van God, dan een heel leven lang erover te praten. De bekering uitstellen is ons
werk. De bekering zelf is Gods werk. Als we vragen: Wie kan dan zalig worden?, dan antwoord Jezus: Wat bij
mensen onmogelijk is, is mogelijk bij God (Lk 18:26vv). Dat is het grote lichtpunt in de wanhopige zaak van onze
godsdienstigheid ... Al zijn we ook nog zulke eerlijke twijfelaars, wat voor velen een eretitel schijnt te zijn, veel
waarheid winnen we er niet mee uit.
"Gelukkig kan God ons toch wel vinden … Hoe zou Hij ons niet kunnen vinden? – En Hij omringt ons niet alleen
met een zwijgende, angstwekkende tegenwoordigheid, maar met het woord zijner genade, met z’n
goedertierenheid, met de prediking van het Evangelie omringt Hij ons ... Dat is de grootste verrassing des Levens,
als de zoeker gevonden wordt. Als de God, die nergens is, blijkt bij mij te zijn, hier op deze plaats …"
Preekstudie
As ’n mens deesdae by enige groot boekwinkel instap, nie net hier nie maar op talle plekke in die wêreld, is jy
telkens verbaas om te sien hoe een afdeling die afgelope tien jaar of so astronomies gegroei het. Dit is die afdeling
oor spiritualiteit. Anders gestel, die boeke wat voorsien in mense se geestelike behoeftes.
Mind, body, spirit noem sommige boekwinkels hierdie afdeling, maar daar is net soveel onder Religion en ander
praat van Self-help.
Mense het die afgelope paar jaar nie minder godsdienstig geword nie, eerder meer. Paulus sou waarskynlik ook
vandag hier kon instap, na dit alles kyk en sê: Ek kan sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is.
Een van die bekendste boeke wat ons op die rak in die afdeling Godsdiens sal kry, is Neale Walsh se Conversations
with God. Die tweede een in sy reeks van Conversations begin met hierdie woorde in die erkennings vooraf: "Always
I want to place at the top of my list of acknowledgements That Which Is All Things, and which is the Source of all
things, including this book. Some of you choose to call that God, as do I, yet it matters not what name you give The
Source. It was, is, and always will be The Source Forever, and even forever more."
Fassinerend om te sien dat Paulus vandag nie alleen by die godsdienstigheid van die mense sou kon aansluit nie,
hy sou ook kon sê: Ek het ’n altaar – of dan ’n boek – gesien wat sê: Aan ’n onbekende god. Want wat is die Bron,
die Een Wat Alles Is, Die Ewige Bron, ensovoorts anders as ’n onbekende god?
Atene was destyds ’n soort wêreld op sigself. Amper soos Londen of New York. ’n Soort kultuursentrum van
tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is. Dit het ’n ryke verskeidenheid,
iets van die kreatiewe veelvoud van die skepping en die kultuur wat hieruit gegroei het, weerspieël. Dit was die soort
plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur. Soos Lukas dit hier stel: "Die Ateners
in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuut te sê
of te hoor nie."
Daar is één ding wat Paulus egter dadelik opmerk: Dis nie ’n kultuur waarin daar ’n gebrek aan godsdienstigheid is
nie. Wat die rede hiervoor is, is nie sonder meer duidelik uit die teks nie. Dit kan aan die een kant wees dat die hoë
blootstelling aan kultuur by die mense ’n soort geestelike sensitiwiteit geskep het.
Daar word vandag in ons kultuur baie gepraat van pluralisme en diversiteit. As ’n mens maar net luister na wat hier
van Atene gesê word, kom jy gou onder die indruk dat diversiteit geen moderne of postmoderne verskynsel is nie.
Dis al minstens 2 000 jaar oud. En as ’n mens die Ou Testament en die manier waarop daar oor God te midde van
die gode gepraat word ernstig opneem, as ’n mens bloot gaan kyk na die talle verwysings na die gode (amper 150),
dan weet jy dat godsdienstige diversiteit ’n stokou verskynsel is.
Dis nie die eerste keer in die geskiedenis dat mense gekonfronteer word met die erns van die keuse nie – dié keuse
wat in sekere sin jou hele lewe bepaal. Reeds Josua het die volk van Israel al voor hierdie keuse gestel: "Of, as julle
dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien
het … Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien" (Jos 24:15).
Nou is dit egter fassinerend om te sien hoe Paulus opgetree het te midde van so ’n diversiteit. Dit is duidelik dat hy
nie in die stad ingekom en gemaak het soos mense vandag nog maak nie. Dink maar net aan wat die Taliban in
Afganistan onlangs gedoen het toe die opdrag gegee is dat die eeue oue Boeddha-beelde wat uit rots gekap is,
vernietig moet word. Paulus het nie dadelik al die Christene gemobiliseer om al die beelde van die gode te kom
stukkend kap nie.
Of dink nader aan ons eie omgewing, waar mense dalk nie altyd so ver gaan nie, maar tog gou in enigiets wat lyk
na ’n vreemde godsdiens of god iets van die Bose raaksien. Of vandag op ’n probleemlose manier sommer die New
Age en die Bose gelykstel aan mekaar.
Paulus het nie Atene binnegestap, voor die Areopagus gaan staan en gesê nie: Ek kan sien hierdie stad is in die
greep van die Bose. Iets wat baie Christene vandag baie maklik doen.
’n Mens kan deur Conversations with God gaan blaai en jy sal niks boos daarin vind nie. Om die waarheid te sê,
daar is dalk selfs baie wonderlike dinge in hierdie boek waarmee ’n mens heelhartig kan saamstem. Dieselfde is
waarskynlik waar van baie van die gode en die godsdienste wat aan ons onbekend is.
Dit is egter nie al wat ’n mens moet raaksien in Paulus se hantering van hierdie saak nie. Aan die ander kant moet
ons ook daarop let dat hierdie teks begin met die woorde dat Paulus "baie verontwaardig geword het toe hy sien
hoe vol afgodsbeelde die stad is".
Wanneer hy egter met die Ateners begin praat, beteuel hy sy skok (Die Boodskap) of verontwaardiging op so ’n
manier dat ’n mens niks daarvan kan raaksien nie.
Hy begin naamlik deur aan te sluit by die beeld wat hy gedurende sy rondloop in die stad opgemerk het. ’n Beeld
waarop daar geskrywe staan: Aan ’n onbekende god. Dan vervolg hy met ’n uiters belangrike sin. "Nou ja, wat julle
aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle."
Wat beteken dit? Wat beteken hierdie verkondiging? In sekere sin lê die ontsluiting van die hele perikoop in hierdie
een enkele woord.
Daar is vandag by baie mense ’n ernstige soeke na God. Daar is baie mense, baie godsdienste wat op hierdie
ernstige soeke antwoorde probeer gee. Vanuit ’n wetenskaplike hoek, sê iemand nou die dag vir my, maak dit vir
hom geweldig baie sin om oor God as ’n soort energie te dink. Iemand anders sê dat God so Totaal Anders is dat
ons nie eens kan begin om te verstaan wie Hy is nie. Vanuit die beweging van moderne spiritualiteit is daar mense
wat beweer dat God êrens ’n deel van elkeen van ons is.
Dit alles is baie fassinerende gedagtes. Maar uiteindelik bly die onontkombare vraag: Selfs as dit alles waar is,
watter verskil maak dit aan ons? Is dit dan nie uiteindelik maar alles net baie interessante inligting nie? Soos om te
hoor dat forelle in die Noordsee elke jaar op dieselfde plek hulle eiers lê. Fassinerend, maar verder nutteloos in
soverre dit ’n verskil maak aan die keuses wat ons moet maak, die troos wat ons nodig het, die vrae oor die
betekenis van die lewe, ensovoorts.
In sowel die Jodedom as die Christendom het dit van die begin af nooit gegaan oor die soeke na die moontlike
Iemand agter die hele werklikheid nie. Van die eerste kennismaking met God het dit gegaan oor ’n God wat die
mens geroep het. Van ’n God wat nie deur Adam opgesoek is nie, maar ’n God wat vir Adam opgesoek en geroep
het: Adam, waar is jy?
Dit is dieselfde God wat met Abram gepraat het, wat vir Moses geroep het, wat vir Jesus Christus gestuur het. Van
die begin af maak die Bybel moeite daarmee om te wys dat deur die loop van die heilsgeskiedenis dit nie óns was
wat na God gesoek het nie, maar God wat ons gesoek, ons geroep en ons gevind het.
En die God wat ons gesoek het, is nie die onbekende god nie. Dit is die God met ’n Naam. Ek is wat Ek is; Jesus
Christus, Heilige Gees. Dit is die God van die hemel en die aarde. Die God van lewe en dood. Die lewende God.
En die lewende God openbaar Hom nie as interessante inligting nie. Die lewende God roep op tot bekering. Die
lewende God roep op tot verandering. Die lewende God is nie alleen die Ewige Stille Bron nie. Hy is die God wat
roep, wat smeek, wat teleurgestel kan word, die God wat verlos en ten slotte die God wat oor die lewendes en
dooies oordeel.
Kan die onbekende god, die beelde op die Areopagus, die gode wat ons leer ken uit die boeke oor mind, body en
spirit, oproep tot bekering en oordeel?
Maar meer as enigiets anders: Kan hierdie gode verkondig word? Paulus sê vir die Ateners: Hierdie God wat julle
aanbid, sonder om Hom te ken, Hom verkondig ek aan julle. Verkondig is nie vertel nie. Dit is die uitroep van ’n blye
tyding, dit is om bevrydende nuus te bring – en in hierdie sin is dit die konfrontasie met die keuse van die lewe of
die dood.
Die God wat ons verkondig, het ’n Naam. Daarom roep Hy ons by die naam. Elkeen van ons.
Die God wat ons verkondig, is ’n God wat die dood oorwin het. Daarom roep Hy ons op om aan die ou mens te
sterf.
Die God wat ons verkondig, is ’n lewende God. Daarom roep Hy ons tot die lewe. Daarom is Hy met niks anders
tevrede nie as met ons hele lewe.
Die God wat ons verkondig, is die God wat liefhet. Die God wat ons eerste liefgehad het. Daarom roep Hy ons op
om Hom lief te hê, met ons hart en siel en met al ons krag.
Die God wat ons verkondig, is die God wat Homself gegee het. Daarom is sy roep ’n roep tot volledige oorgawe.
En ten slotte, die God wat ons verkondig, is ons Vader in die hemel. Daarom roep Hy ons: Kom tuis, kom huis toe.
Die Een wat wag, is nie die onbekende nie. Hy is ons Vader in die hemel. Hy is ons Vriend, Jesus Christus.
Bibliografie
Bruce, F F. The acts of the apostles. Haenchen, E. The acts of the apostles. Noordmans, O. Verzamelde Werken
7. Pesch. Die Apostelgeschichte (Apg 13-28). De Villiers, J L. Die Handelinge van die apostels, Deel 2.