16 MEI 2004

SESDE SONDAG VAN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Paastyd gebruik te word.

Fokusteks: Handelinge 16:9-15

Ander tekste: Psalm 67; Openbaring 21:10, 2222:5; Johannes 14:23-29

Inleiding

Die fokusteks se verhaal speel teen die agtergrond van die oënskynlike mislukking van Paulus se voortgesette sendingreise, af. Al lyk dit of alles gefaal het, gee God nuwe moontlikhede.

Rogate sien vir die benaming van dié Sondag die basisliturgie vir Paastyd.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Jubel dit uit en laat dit weerklink tot aan die uithoeke van die aarde; "God het Jesus uit die dood opgewek".

Seëngroet

Sien die basisliturgie.

Loflied

Lied 33:1,5 en 7

Paaskers

Terwyl die Paaskers aangesteek word, word Openbaring 22:5 gelees.

Diens van die Woord

Gebed by die opening van die Woord

Here Jesus, kom nou na ons toe deur die werking van u Heilige gees, sodat ons u woorde hoor en dit ter harte neem. Leer en herinner ons aan u nuwe moontlikhede. Ons vra dit omdat ons U liefhet en weet dat U ons eerste liefgehad het.

Skriflesing

Handelinge 16:9-15

Preek

Voorbidding

Diens van die tafel

Sien die basisliturgie.

uitsending

Slotsang

Lied 486; 488; 505/NSG 186;19;161

Seën

Mag God julle genadig wees en julle seën

Mag Hy tot julle redding verskyn

En sy reddende krag aan julle bekend maak.

Sang

Lied 317/NSG 355/356 of "Amen" (Kies enige van Lied 312-315.)

 

 

PREEKSTUDIE HANDELINGE 16:6-15

Teks

Saam met vele kommentatore beveel ons aan dat die perikoopindeling, anders as die voorstel van die Leesrooster (16:9-15), aangepas word om vers 6-8 in te sluit. Ter agtergrond dien 15:36-16:5. Paulus en Barnabas besluit om op hul spore terug te gaan en die gemeentes wat deur hulle verkondiging tot stand gekom het, weer te besoek en te bemoedig. `n Persoonlike verskil ontstaan egter tussen Paulus en Barnabas. Barnabas wil Johannes Markus weer saamneem, terwyl Paulus meen dat daar te veel op die spel is. Hy wil nie die risiko neem dat iemand wat hulle voorheen reeds teleurgestel het, weer die sending in die gedrang kan bring nie. Hulle weë skei. Die aangrypende is dat die Heilige Gees, hoofkarakter in Handelinge, selfs hierdie onderonsie gebruik om van een sendingreis twee te maak; Barnabas en Markus op een koers en Paulus en Silas op `n ander. In Listra sluit Timoteus ook by Paulus en Silas aan. As persoon van gemengde herkoms (Joodse ma, Griekse pa) is Timoteus n kragtige simbool van die evangelie wat uitreik na Jood en heiden. Paulus se besnydenis van Timoteus dien vreemd aan, gegewe die besluite van die gelowiges in Jerusalem (Hand. 11 en 15). Paulus maak skynbaar n dogmatiese toegewing "ter wille van die swakheid van sommige"? Lukas versterk in hierdie gedeelte sy sentrale tema, naamlik die uitbreiding van die evangelie in die hele wêreld, oor alle struikelblokke heen.

Vers 6-8 adem n gees van algehele frustrasie. Lukas maak dit duidelik dat Paulus se sending na Klein-Asië net nie aan die gang wil kom nie. Trouens, die indruk word gewek van n doellose rondmalery. Twee keer wil Paulus op n sekere trajek begin reis, twee keer word hy deur die Heilige Gees verhinder. Die uiteinde is dat hulle onverrigter sake deur Klein-Asië reis, sonder n idee waarheen volgende. Die verblyf in Troas word skynbaar gekenmerk deur ontnugtering en dit kan wees dat Troas aangedoen word met die oog op n afsien van die beoogde reis om gemeentes te bemoedig en na Antiogië toe terug te keer, sonder sukses. Die leiding van die Gees is hier negatiewe leiding. Hoewel niemand dus die voortgang van die evangelie kan stuit nie, kan God self blykbaar die planne van mense stuit. Soos Paulus op die pad na Damaskus, neem hy steeds verkeerde afdraaipaaie en moet God hom steeds in sy spore stuit. Die reis met God bly n uitdaging en n avontuur, met onverwagse kronkels en draaie.

Die eerste drie verse word egter skerp gekontrasteer met die volgende gedeelte. Die skynbare mislukkings is in skerp kontras met die duidelike leiding deur middel van n visioen, van n Masedoniese man wat Paulus (die evangelie) om hulp en hoop smeek. Interessant genoeg is dit nie dié keer, soos elders, n engel of die Here self wat in die visioen verskyn nie (vgl. 18:9 e.v.; 23:11; 27:23 e.v.). Die klem is op mense se ontvanklikheid vir die evangelie en die kerk se taak om oombliklik daarop te reageer. Die hulpeloosheid van die Masedoniese man is nie sonder ironie nie, synde verteenwoordiger van die Griekse intellek en die Romeinse mag!

Let op dat Lukas hier vanaf n derdepersoon-vertelling oorskakel na die eerstepersoon-meervoud, "ons". Dit kan n aanduiding wees dat Lukas hier by die geselskap aangesluit het met die oog op die besoek aan Filippi, wat aan hom bekend was. In elk geval het dit ook literêr die dramatiese effek dat die leser nog meer in hierdie verhaal betrek word en aanvoel dat die verhaal in n nuwe rat oorskakel. Die verhaal beweeg hiervandaan flink om die koms van die evangelie na Europa te vertel via die verhaal van Lydia, die eerste Europese bekeerling. Die bootreis na Griekeland vind klaarblyklik in perfekte omstandighede plaas (een dag, v.11, teenoor n langer reis terug). Hulle klim in Neapolis af en reis die ongeveer 15 km na Filippi. Filippi word as n Romeinse kolonie beskryf, n soort enklawe waar Romeinse oudsoldate afgetree het, en die inwoners Romeinse burgerreg gehad en Romeinse reg gegeld het. Die lewendige handel, ook in die purpermateriaal, is in ooreenstemming met die ligging van Filippi op n belangrike Oos-Wes-handelsroete dwarsoor Masedonië. Die feit dat Filippi n Romeinse kolonie was, het waarskynlik bygedra tot die vraag na purpermateriaal (die kleur van koninklikes en gewild onder Romeine).

Wanneer Paulus en sy geselskap in Filippi aankom, vertel Lukas (16:11-40) die verhale van drie ontmoetings wat verskillende gesigshoeke op die kragtige werking van die evangelie gee: Lydia die purperverkoopster, die slavin met die waarsêersgees en die tronkbewaarder. Die evangelie ontmasker wie werklik vry is en wie gebonde is. Ons perikoop eindig by die eerste van hierdie ontmoetings met Lydia.

Paulus se werkswyse in die meeste nuwe plekke waar hy gekom het, was om eers aansluiting te gaan vind by die Jode in die sinagoge. Die sinagoge sou om twee redes buite die stad gewees het, enersyds omdat dit vir die reinigingsrituele naby lopende water (hier die Gangitesrivier) sou wees, maar tweedens omdat ander godsdienste hulle godsdiensoefeninge buite die stadsgrense van n Romeinse koloniestad moes hou. Skynbaar was daar in Filippi nie die vereiste tien Joodse mans om n sinagoge op te maak nie, en tref Paulus by die rivier n klompie godvresende vroue aan (geen getal vroue kon opmaak vir die tekort aan selfs net een man nie). In alle opsigte ontmoet Paulus hier dus gemarginaliseerdes nie net is hulle vroue nie, maar hulle is fisies op die rand van die stad. n Masedoniese man roep Paulus oor om te kom help, maar n Masedoniese vrou is die eerste om die evangelie te hoor en te ontvang. Sy word die eerste Europese bekeerling. As iemand wat tog bepaalde welvaart en invloed gehad het, stel sy haar huis oop, nie net vir die sendelinge wat aan haar die boodskap gebring het nie, maar ook vir die groeiende gemeente en word sy n leier in die gemeente. Uit Paulus se brief aan die Filippense kan ons aflei hoe hierdie gemeente in getalle en geestelike volwassenheid gegroei het.

Die bekering van Lydia is om verskeie redes interessant:

Eerstens maak die verteller dit duidelik dat haar bekering die werk van God is en nie aan Paulus se vaardighede te danke is nie. Komende van Tiatira waar daar n Joodse kolonie was en sy waarskynlik al begin het om God te aanbid, was sy reeds deur God self voorberei vir die ontvangs van die evangelie by monde van Paulus.

Tweedens is Lydia n vrou, en dus van n laer sosiale status in die kultuur van die tyd. Die kontak met die vroue is egter vir die outeur in beide die evangelie en hier, n tema wat telkens uitgelig word. Jesus en sy evangelie het n besondere aantrekking na diegene wat in die oë van die wêreld van mindere belang is.

Derdens is Lydia n ryk vrou. Dit is vreemd, omdat Lukas juis in sy vertellings aan die armes en besittings as n groot geestelike gevaar teken, aandag gee. Hier balanseer Lukas egter, soos ook in sy vertellings van die bekering van die ryk Saggeus (Luk. 19). Selfs die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk. 10) dui juis aan dat die regte gebruik van besittings wondere in die koninkryk kan doen. Kornelius, die eerste heidense bekeerling, word ook deur Lukas as n filantroop geteken (Hand. 10:2) en nou demonstreer Lydia ook haar bekering deur hartlike gasvryheid.

Preekvoorstel

In die prediking van hierdie gedeelte is dit belangrik om die kontras tussen die twee helftes van die teks te beklemtoon. Paulus se tweede sendingreis begin nie sonder stampe en stote nie. Inteendeel, dis juis die opeenvolging van n reeks mislukkings, menslik gesproke. Sy volhardende soeke na leiding loop uit in die visioen van die Masedoniese man. As hy nie die oortuiging gehad het dat die mislukkings in die hande van die Heilige Gees iets kan word nie, sou daar geen visioen kon wees nie. Die tweede helfte kontrasteer met die eerste. Die winde waai reg en voor ons ons oë kan uitvee, is Paulus, Silas, Timoteus en dalk ook Lukas, self gaste in die huis van Lydia, die eerste Europese bekeerling.

Dit sal goed wees om dalk eers die breër agtergrond van die gedeelte (15:36-16:5) te skets en dan eers die Skrifgedeelte te lees. Die gedeelte sou verhalend onderbreek kon word om agtergrondinligting te gee en die spanningslyn van die verhaal te bou, of die verhaal sou oorvertel kan word in die eerste gedeelte van die preek. Die prediker sou voorts n keuse kon maak uit verskillende temas wat in hierdie gedeelte aan die orde kom en vir vandag se kerk relevant is. Voorbeelde is:

Hoe hanteer die kerk/gemeente mislukkings en teenstand? (Voorbeelde is sending- of gemeenskapsprojekte van die gemeente wat oënskynlik misluk het.)

Wat beteken gehoorsaamheid aan die leiding van die Heilige Gees vandag? Hoe is die kerk/gemeente vandag ingestel op die leiding van die Heilige Gees? (Waarheen wil God met ons gemeente?)

Wil die kerk/gemeente vandag net "bigger and better" wees, of verstaan ons dat die skynbaar onbenullige treetjies van gehoorsaamheid, groot golwe in die koninkryk kan maak?

Daar is oomblikke in die geskiedenis waar selfs die engele in die hemel waarskynlik hulle asems ophou en vra: Wat gaan nou gebeur? Gaan die regte besluite geneem word? Gaan God se plan nou misluk? Sulke oomblikke sien ons in Handelinge 16 se eerste verse. Paulus en sy geselskap het besluit dat wat die koninkryk van God nou nodig het, is dat hulle die gemeentes waar hulle was, weer moet besoek. Maar hulle kry die wind van voor. Twee keer verhinder die Heilige Gees hulle om die werk van die Here te doen. Hoe verstaan mens dit? Paulus-hulle maal rond in Klein-Asië soos n motor wat spin in modder. Hulle besluit later dat hulle seker maar misluk het en moet teruggaan na Antiogië, terug na die kaarte om van voor af te beplan. Presies hier maak hulle die fout. Hulle taak was nie om te beplan hoe die Koninkryk moet kom nie, maar om met gespanne aandag en konsentrasie te wag op die fluistering van die Heilige Gees wat hulle in nuwe rigtings stuur. Die visioen van die Masedoniese man is soos n klip wat onder die spinnende wiele van die vasgevalde motor ingeskuif word, sodat daar weer rigting kom. Uiteindelik hoor Paulus-hulle wat God se plan was om die evangelie selfs nog wyer te laat grondvat Europa toe.

Daar aangekom is Paulus-hulle se ontnugtering weer groot. In die stad Filippi is daar nie eers tien Joodse gelowige mans nie. Daars geen sinagoge nie. Waar begin `n mens? Het hulle weer misluk? Sal hulle maar weer omdraai en die pad terugneem huis toe? Tog is Paulus sensitief genoeg om te weet om nie altyd te soek vir die skares en die belangrikes om hom aan te hoor nie. By n paar vroue langs die water van die Gangitesrivier vind hulle vir Lydia iemand wat al in haar tuisdorp, Tiatira, begin het om God te aanbid en deur God self voorberei is om die evangelie van Jesus Christus te aanvaar. Ons ken Paulus se brief aan die Filippense wat getuig van die groei van die gemeente in Filippi onder leiding van hierdie godvresende vroue.

Die gemeente en gelowiges moet vandag in hierdie verhaal hoor:

1. Die Here laat dinge in sy koninkryk, gemeente en in my lewe, op sy tyd ryp word. As ek nie dadelik resultate sien nie, beteken dit nie daar is nie iets besig om agter die skerms te gebeur nie.

Stephen Covey gebruik die beeld van die Chinese bamboesboom. Die eerste jaar plant die Chinese die saad en gee dit water en bemesting, maar "niks" gebeur nie. Die tweede, derde en vierde jaar gebeur steeds niks. En dan, iewers in die vyfde jaar, skiet die plant op met 30 meter in 6 weke. Die plant het egter nie in 6 weke gegroei tot 30 meter nie, maar in 5 jaar, en met die nodige water en bemesting,

n Man kom eendag by sy vriend en sien hom ongeduldig op en af in sy studeerkamer loop. Hy vra hom wat makeer en kry die veelseggende antwoord, waarmee baie van ons dikwels kan identifiseer: "The problem is: I am in a hurry, and God is not!" Paulus-hulle se ervaring wys wel, "God is never in a hurry, but He is never too late!"

2. Mislukkings is God se geleenthede. Paulus-hulle het alle reg gehad om in pure moedeloosheid die terugtog Antiogië toe aan te pak. Dit wil lyk asof hulle sommer al begin terugreis het. Dit was nogtans hulle verwagting dat God iets sal doen, selfs met en deur hulle mislukkings en foute, wat hulle op hulle pos gehou het om die verrassings te sien wat die Heilige Gees wou gee.

3. Om geleenthede vir die koninkryk raak te sien, is n gawe wat ontvang word deur nie na die groot winste vir die koninkryk te kyk nie, maar juis deur die Heilige Gees gehelp word om geleenthede vir die evangelie te sien in skynbaar onbenullige en onwaarskynlike situasies, met die oortuiging dat dit in God se hande groot kan word.

Daar is klimatoloë wat die teoretiese oefening deurgegaan het om te "bewys" dat die geklap van die vlerke van `n skoenlapper in die Amasone, deur `n sneeubal-effek, kan lei tot `n orkaan wat woed aan die ander kant van die aardbol.

Om dit alles as gemeente van Jesus Christus te ervaar, moet ons dus leer om sensitief te wees vir die leiding van die Heilige Gees. Ons lewe in n samelewing met n kitskultuur. Benewens die kitskoffie, kitsbanke en kitsdoeke, het ons boonop kitskommunikasie. Ons is "connected" per sel, SMS, e-pos, of faks. Ons plaas n hoë premie op kommunikasie. Wat sê dit oor ons kommunikasie met God? Die verskil lê waarskynlik daarin dat ons hoegenaamd nie so n hoë premie op kommunikasie met God as op kommunikasie met mekaar stel nie. Dink net watter geestelike gesag sal daar uit ons straal as ons met dieselfde ywer met God kommunikeer as met mekaar. Die ooreenkoms lê daarin dat ons op dieselfde "kitsdiens" wil aandring en daarom, dikwels met die vroomste bedoelings, vinnig ons eie kop volg as God nie "beskikbaar" lyk nie.

Bibliografie

Spencer, F S Acts. Neil, W The Acts of the Apostles. New Century Bible; Polhill, J B Acts. The new American Commentary; Munck, J The Acts of the Apostles. The Anchor Bible; Nielsen, J T Handelingen I en II. Een praktische bijbelverklaring; Lindijer, C.H. Handelingen van de Apostelen I en II. De Prediking van het Nieuwe Testament; Bruce, F F Commentary on the Book of Acts. NICNT; Soards, M et al. Preaching the Revised Common Lectionary. Year C Lent/Easter; Lüthi, W Die Apostelgeschichte; Willimon, W H Acts. Interpretation; Hören und Fragen. Vol 6; Predigtstudien 1983/84 VI/I; 1989/90 VI/I; 1995/96 VI/I; 2001/2002 VI/I.