9 MEI 2004

VYFDE SONDAG VAN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Paastyd gebruik te word

Fokusteks: Handelinge 11:1-18

Ander tekste: Psalm 148; Openbaring 21:1–6; Johannes 13:31-35

Inleiding

Die opdrag tot die verkondiging van die evangelie, waarvan die boek Handelinge die verhaal is, kry praktiese neerslag wanneer die gemeente tot die insig kom dat mensgemaakte grense telkens deur die evangelie oorskry word. Die geneigdheid om die reikwydte van die boodskap te wil vashou en inperk, word hier radikaal deurkruis. Sodoende verkry die vandag se liturgie ’n sensitiwiteit vir "die ander".

Cantate: Sien vir die benaming van dié Sondag die basisliturgie vir Paastyd.

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord

Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, want Hy het magtige dade gedoen, deur sy krag en Goddelike mag het Hy oorwin. Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Hy te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

Seëngroet: Sien basisliturgie.

Loflied

Lied 148, 411/NSG 112

Terwyl die Paaskers aangesteek word, word Openbaring 21:3–5 gelees.

Diens van die Woord

Gebed by die opening van die Woord

Here onse God, ons dank U dat U ons byeengebring het in u teenwoordigheid om u liefde aan ons bekend te maak en om ons te wys wat u wil vir ons lewe is. Here, maak alle ander stemme in ons stil sodat ons net u Woord sal hoor. Open tog ons verstand en ons hart vir u waarheid deur die werking van die Heilige Gees. Laat ons harte nie u waarheid inperk en u liefde begrens nie en kom wys vir ons vanoggend hier opnuut u grenslose liefde. Amen.

Skriflesing

Handelinge 11:1-18

Voorbidding

Diens van die tafel

uitsending

Riglyn vir die lewe

Lees Johannes 13:31-35.

Antwoord

Lied 284

Slotsang

Lied 420, 419

Seën

Sang

Lied 317/NSG 355/356 of "Amen" (Kies enige van Lied 312-315.)

INLEIDING tot DIE HANDELINGE VAN DIE APOSTELS

Die boek Handelinge is tussen 70 en 100 n.C., iewers in die Mediterreense wêreld, geskryf. Ons weet nie met sekerheid wie Handelinge geskryf het nie. Volgens die tradisie is dit Lukas wat ook die Evangelie geskryf het, en moontlik `n medewerker van Paulus was (vgl. Filemon 24 en die "ons"-tekste, bv. Hand. 16:10). Oor die identiteit van Teofilus, wat in 1:1 as ontvanger van die geskrif gesuggereer word, is daar geen duidelikheid nie – miskien `n hooggeplaaste Romeinse amptenaar (Spencer)? Ander pogings om een homogene groep te vind as eerste addressante (bv. Joodse Christene, heidense Christene, rykes, armes), moes telkens daarteen stuit dat die eerste gehoor waarskynlik juis baie heterogeen was.

In Handelinge gebruik Lukas materiaal van ’n verskeidenheid vroeg-Christelike bronne, wat hy kunstig met diverse literêre tegnieke aanbied. Die storie het ’n oop einde, want dit word vandag nog in die kerk voortgesit. Dit is ’n storie wat die moeite werd is om in die kerk oor te vertel, omdat dit met tydlose kwessies in die kerk worstel, soos die verhouding tussen Christene en Jode, Christene en heidene, kerk en staat, probleme met gebed en die doel van prediking en lering in die kerk. Die nuus waaroor Handelinge berig, bly tot vandag nuus (Willimon)!

Verskillende benaderings word in kommentare en literatuur gevolg in die interpretasie van Handelinge. Vir lank was die histories-kritiese gesigshoek die dominante. Die soektog na hipotetiese bronne en ontstaansituasies het egter die interpretasie van die teks sodanig gekleur dat die verkondigingsintensie van die boek verlore begin gaan het. Vandag word groter klem geplaas op die narratiewe belewenis van die teks (Spencer).

Wat lees ons dus eintlik as ons Handelinge lees? As ons nie die vorm of genre verstaan nie, sal ons immers nie die funksie begryp nie en sal vele misverstande in die lees van die teks ontstaan. Talbert het voorgestel dat ons Handelinge moet lees as ’n geskrif soortgelyk aan die sogenaamde "kultiese biografie" in die Grieks-Romeinse wêreld. Sulke geskrifte het die vertellings van die lewe van ’n geloofsgemeenskap se stigter opgevolg met stories van sy opvolgers en dissipels. Lukas-Handelinge vertel dus die storie van Jesus as stigter van ’n nuwe gemeenskap, wat voorsiening maak vir die voortsetting van hierdie gemeenskap na sy vertrek. Die verhaal word dan op so ’n manier vertel dat die Twaalf en Paulus in hulle lewens, sleutelgebeure in die lewe van die aardse Jesus reproduseer. Die lewenstyl in die eerste Christen-geloofsgemeenskappe word so in die lewe van die historiese Jesus self begrond. Handelinge het dus ’n baie praktiese, homiletiese doel, naamlik om die storie van Christus en sy nuwe gemeenskap só oor te vertel dat die waardes van die stigter en sy onmiddellike opvolgers vandag nog nagevolg kan word. Die skrywer van Handelinge is dus nie besig met ’n chronologiese oorvertel van die verlede nie. Die verlede is bloot die platform waarvandaan hy in die hede preek. (Vandag verstaan historici in elk geval dat alle geskiedenis vanuit die subjektiewe vraagstellings van die navorser oorvertel word en dat sonder so ’n subjektiewe belang, historiografie niks meer as ’n stel onverwante data sonder betekenis sou wees nie.)

Wat is dus die doel van die boek Handelinge? Vele pogings is al aangewend om dit te omskryf:

1. Die titel "Handelinge van die apostels" help ons nie veel nie, omdat dit gou duidelik raak dat Handelinge nie regtig oor die optrede van al die apostels (die onmiddellike getuies van Jesus se opstanding) handel nie. Jakobus kry byvoorbeeld net een sin (12:2) en Johannes nie veel meer nie. Betekenisvolle deurbrake in die verspreiding van die evangelie word boonop nie toegeskryf aan die Twaalf nie, maar aan Stefanus, Filippus en anonieme persone in Ciprus en Sirene (11:20).

2. Sommige beveel aan dat die titel van die boek eerder moet lui: "Die Handelinge van die Heilige Gees". Dit is tog inderdaad die Gees wat die verspreiding van die evangelie tot die eindes van die aarde (1:8) aanblaas en Paulus se sendingreise van hawe tot hawe bestuur (16:6-7). Tog maak die skrywer geen skerp onderskeid tussen Christus en die Gees nie (16:7) en is dit juis die lewende Christus wat voortsit wat Hy begin het. Boonop word die Heilige Gees in groot dele van Handelinge glad nie genoem nie.

3. Wil Lukas dalk wys hoe die evangelie van Jerusalem af tot in Rome gekom het en tot in elke uithoek van die heidense wêreld? Inderdaad vorm dit ook deel van die intensie van die skrywer. Tog is die geografie hiervan nie die fokuspunt nie. Die werklike struikelblokke vir die evangelie was in elk geval nie geografiese grense nie, maar teologiese en ekonomiese grense.

4. Is Handelinge ’n reaksie op die politieke krisis tussen die Christendom en Rome? ’n Poging om die Christelike godsdiens as ’n erkende godsdiens soos Judaïsme in die Romeinse ryk te akkrediteer? Onwaarskynlik, want Lukas-Handelinge sou, sonder die nodige agtergrond, grootliks onverstaanbaar vir heidense Romeine gewees het. Dit is ook ondenkbaar dat ’n Romeinse burokraat soos Felix hom in hierdie soort geskrifte sou interesseer.

5. FC Baur het gemeen Handelinge probeer die onenigheid tussen die volgelinge van Petrus en Paulus oplos. Die groter splitsing was egter tussen Paulus en Jakobus – Petrus was maar net in die spervuur tussen die twee vasgevang.

6. Was Handelinge ’n herinterpretasie van die evangelie en ’n bemoediging omdat die gelowiges begin besef het dat die wederkoms toe nie so vinnig sou kom nie? Lukas het dit egter net gehad teen mense wat die datum van Christus se wederkoms wou vaspen. Verder wend hy geen poging aan om uit ’n "verleentheid" met ‘n uitgestelde wederkoms te kom nie. In Handelinge word ’n logiese opeenvolging van ’n epog van profetiese beloftes deur ’n epog van eskatologiese vervulling in die kerk veronderstel. In hierdie vervullingstyd is daar weer twee periodes: die sending aan die Jode (9:43) en die sending aan die heidene (11:18) – die bekering van Kornelius skei die twee periodes.

7. Verdedig Lukas-Handelinge dalk teen die gnostisisme? Lukas neem wel kennis van gnostiese tendense, maar daar is min aanduidings daarvan in die Evangelie volgens Lukas en omtrent niks in Handelinge nie.

Hierdie verskillende teorieë bevat sekerlik almal elemente van waarheid. Die probleem is dat ’n verhaal, so kompleks en ryk soos Handelinge, nie na een intensie gereduseer kan en mag word nie. Dit is "a narrative of what God is up to in Christ and in his church" (Willimon). Dis ‘n storie wat lewe en net so min as wat enige indiwidu se lewe tot een faktor gereduseer kan word, kan ons dit met Handelinge doen.

Die boek se eie doelstelling (1:1-5) moet dalk ernstiger geneem word: dit is kerugma, ’n verkondiging van wat gebeur het – nie soseer bekeringsprediking nie as kategetiese verkondiging, om die gelowiges daarmee te versterk. Nie net moes die kerk worstel met haar identiteit in die samelewings waarvan sy deel was nie, maar die gelowiges moes ook interne stryd verwerk (dissipels wat mekaar verdag maak, kontroversie oor die insluiting van heidene, ens.).

Hierdie verhaal gee hoop. Ons weet nie wie Teofilus was nie, maar eintlik is Teofilus elkeen van ons en elke gemeente wat vandag met teenstand van buite en stryd van binne worstel. Te midde van die worstelstryd waarin die kerk haar bevind, teken Handelinge ’n hoopvolle prent van ’n wêreld waarin God beloftes maak en dit hou! Die wêreld wat ons sien, is nie maar net die eerste-eeuse Romeinse Ryk of die Antieke Midde-Ooste nie, maar ’n uitbeelding van ’n wêreld wat ‘n alternatief bied op die wêreld waarin die keiser regeer en daar dood en haat tussen mense is. Vanuit hierdie prent word dissipels gevorm en toegerus om as geroepenes hieruit te gaan lewe en dit sodoende waar te leef!

PREEKSTUDIE – HANDELINGE 11:1-18

Teks en Konteks

Petrus word deur die Joodse gelowiges in Jerusalem tot orde geroep. Die gebeure in Sesarea het skokgolwe deur die Christelike kerk gestuur. Petrus het saam met die heidense Kornelius geëet, ’n offisier in diens van die Romeinse regering met onder meer die opdrag om Jode in toom te hou. Asof dit nie genoeg was nie, het hy ook die Woord van die Here aan hom verkondig, hom en sy huis gedoop, asook beweer dat die Gees oor hulle gekom het, soos oor die Joodse gelowiges. Voordat Petrus in Jerusalem kon aankom, het die gemeente in Jerusalem reeds met ontsteltenis van sy skandelike optrede verneem; dat die hooggeagte apostel en leier in die kerk, die suiwer weg verlaat en die evangelie platvloers gemaak het. Hy het dit sommer vir hulle, wat nie eens tot die Joodse gebruike bekeer was nie, beskikbaar gestel. Die gemeente van Jerusalem het hulleself as bewaker van die orde en dogma van die vroeë kerk beskou. Vir die Joodse gelowiges was hulle as Christene steeds deel van die Jodedom. Dat die evangelie nou deur Petrus buite die Joodse grense na die heidene toe gesleep word, is om die evangelie deur die modder te sleep. As dit nog `n geïsoleerde geval was, kon hulle dit oorgesien het, maar die gelowiges in Jerusalem het gevrees dat dit ’n toestroming van heidene tot die kerk kan veroorsaak (1-3). Petrus het ’n presedent geskep wat in die kiem gesmoor moes word.

Petrus word dus tot verantwoording geroep, hoewel die teks dit versag (sommige vertalings nog meer) deur aan te dui dat hy na Jerusalem wou gaan. Daar is `n versigtigheid om te erken dat daar ernstige verdeeldheid tussen die hoogste leierskap van die vroeë kerk is. Petrus moet egter weet dat die kerk nie die solo-poging van een apostel of leier wat aanspraak maak op `n ervaring van verligting en dan rond en bont heidene gaan doop, kan goedkeur nie! Dis of Petrus die reaksie verwag het, want hy gaan nie alleen Jerusalem toe nie. Hy bring ses manne uit Joppe saam as getuies (’n oormatige versterking, want twee getuies sou volgens die gemene reg van die tyd voldoende gewees het!) van alles wat hy hulle gaan vertel (12). Hierdie getuies moes self ook die skok en verbasing verwerk waarmee die gelowiges in Jerusalem nou worstel (10:45).

Onder die Joodse gelowiges weet ons dat daar selfs Fariseërs (15:5) en priesters (6:7) was, vir wie die teologie (soos reeds by Stefanus) van die verbygaande belang van die wet en die tempel, onaanvaarbaar sou wees. Dis waarskynlik hulle wat as die "besnydenis-groep" onder die Joodse gelowiges bekend gestaan het. As gelowiges was die bedoeling natuurlik nie boos nie. Die gedagte was om die geloofsgemeenskap suiwer en toegewyd te hou en die evangelie nie tot "goedkoop genade" te reduseer nie, sodat enigeen nou maar sonder selfprysgawe geriefshalwe by die geloofsgemeenskap sou kon aansluit.

Petrus verdedig nie met argumente nie, maar met ’n blote vertelling van die gebeure soos hy dit beleef het. Hy is inderdaad, soos Jesus voorspel het, gebring waar hy nie wil wees nie. Die Heilige Gees self breek die mure af wat die voortgang van die evangelie na die heidene stuit. Soos ’n mens ’n tonnel van twee kante af grawe, werk die Heilige Gees gelyktydig in Petrus en in Kornelius en bring hulle saam. Petrus gooi as ’t ware sy arms in die lug en plaas sy vertelling voor die gelowiges in Jerusalem met die houding: Hoe kon ek langer hierteen weerstand bied?

Sy vertelling verskil ietwat, maar nie wesenlik nie, van die vertelling in hoofstuk 10. Hy beklemtoon onder andere die duidelikheid en nabyheid van die visioen, om daarmee aan te dui hoe hy die appèl daarvan nie kon ontken nie. Uiteraard begin hy ook nie soos in hoofstuk 10 by die Kornelius-kant van die verhaal nie, maar by sy eie. In 11:15, meer as in 10:44, lê Petrus daarop klem dat die Heilige Gees nie gewag het dat hy klaar praat voordat Hy oor die heidene in Sesarea gekom het nie. Dit is byna of daar ’n heilige ongeduld by die Heilige Gees is om te waai waar Hy wil en nie te wag dat Petrus eers alles verduidelik nie! Hy verduidelik aan die kerk in Jerusalem dat ’n soortgelyke gebeure as die in Handelinge 1:5 plaasgevind het; ’n Pinkster oor die heidene! Petrus getuig hoe ’n belofte van Jesus self nou vir hom sin maak en by hom opgekom het, naamlik dat die gelowiges met die Heilige Gees gedoop sal word. Vir die apostels het dit op Pinksterdag in vervulling gegaan, maar vir Kornelius en die heidene daardie dag in Kornelius se huis. Petrus kon beswaarlik sy getuienis sterker begrond as in die voorspelling van Jesus self.

Vir die vierde keer in Handelinge wys Lukas hoe die kerk aan interne struweling blootgestel is (a. Ananias se oneerlikheid 5:2; b. Die teenstand van die Helleniste 6:1; c. Die poging om Simon om te koop 8:18, en nou, die kwessie oor wie lidmate van die kerk mag wees).

Lukas versag die weerstand van die kerk deur te sê dat dit die saameet met heidene was wat die heiliges in Jerusalem so ontstel het, terwyl dit eintlik die doop van onbesnedenes was wat die eintlike wortel van hulle woede teen Petrus was (vgl. Hand. 15). Maar die tafelgemeenskap dryf die leerstellige probleme op die spits. Of dit oor gewone saameet of die nagmaal handel, sê die teks nie, waarskynlik omdat die vroeë kerk nie soos ons ’n skerp onderskeid gemaak het tussen godsdienstige en nie-godsdienstige etes en tafelgemeenskap nie. Wie tot die tafel van die gelowiges en die tafel van Christus toegelaat mag word, is ’n kritieke vraag, want ten grondslag hiervan lê die hele identiteit en selfverstaan van die vroeg-Christelike geloofsgemeenskap.

Die gemeente in Jerusalem se stilte (tevredenheid) na Petrus se verduideliking is waarskynlik ’n gewyde, maar beslis ook geskokte stilte. Die skrikwekkende insig breek oplaas deur dat ’n nuwe, onbekende en beslissend ander hoofstuk in die sage van die kerk van Jesus Christus begin het: ook aan heidene word die geleentheid deur God gegee om tot inkeer te kom en die lewe te kry (18). Petrus se getuienis het ’n duidelike boodskap: Weerstaan die aanvaarding van heidense gelowiges en ons weerstaan God self!

Petrus en Kornelius word die verteenwoordigers van Israel en die nasies. Hulle onwaarskynlike ontmoeting word die ontmoeting van Jode en heidene in die hart van God!

Daar is ongelukkig minstens twee aanduidings dat die gemeente in Jerusalem wel die oorskryding van die grense na die heidene in beginsel op grond van Petrus se getuienis aanvaar het, maar dat dit ’n bitter pil was om te sluk en in die praktyk vir hulle veel langer geneem het om uit te leef, is seker. In die eerste plek word meer finale uitsluitsel oor die saak van die besnydenis, eers in Handelinge 15 by die eerste "sinode-vergadering" gegee. In die tweede plek weet ons dat Jakobus, die broer van die Here, nie een van die apostels nie, algaande die erkende leier van die kerk word en Petrus sedert die Kornelius-insident subtiel, maar stelselmatig op die agterbank geplaas word. Wanneer Petrus gevange geneem word, word sy leierskap klaarblyklik beëindig (vgl. 12:1e.v.; 12:17; 15:13). Dat Petrus as die leier van die apostels afgewyk het van die verstaan van die evangelie tot op daardie tydstip word aanvaar, maar dit word Petrus nie vergewe dat hy die boodskapper en bewerker van hierdie ingrypende en pynlike kopskuif was nie!

Preekvoorstel

Die preekvoorstel het drie punte: HA! AHA! AHHH ...

HA!

Petrus was by die gelowiges in Jerusalem in die moeilikheid. Hy sou moes kom "please explain". Wat was hierdie storie dat hy sommer rond en bont heidene begin doop? Het hy mal geword? Hy moenie dink hy is so belangrik dat hy sommer self besluite kan neem en doen wat hy wil nie!

Op dié stadium in die geskiedenis van die vroeë kerk is die evangelie nog net aan die Jode verkondig. Kornelius was egter `n Romein van hoë aansien, `n soldaat, aangestel oor `n garnisoen soldate wat die hawestad Sesarea moes bewaak, ook teen die Jode wat opstandig was teen hulle Romeinse regering. In die oë van die Jode, ook van Joodse Christene, was hy die onderdrukker van God se volk. Meer goddeloos kry jy nie. Dit was ondenkbaar dat heidene dieselfde seëninge as die uitverkore volk van God kon ontvang. Daarom was die Joodse gelowiges (daar was selfs eks-Fariseërs en eks-priesters onder die Joodse gelowiges) meesters daarvan om alles uit te wys wat nie-Joods is nie. Dinge waarmee die kerk van Christus haar dus nie moet bemoei nie, en waarmee God vanselfsprekend Hom ook nie sal bemoei nie.

Hulle, maar vroeër ook Petrus en beslis ook ons, het `n fyn neus om diegene uit te ruik wat nie "deel van ons" is nie. Ons, soos Petrus voor sy visioen, is vinnig om uit te roep: "Ha! (punt 1), daar is `n heiden!" "Ha, hy drink!" "Ha, hy’s te arm!" "Ha, hy’s te ryk!" "Ha, sy’s te charismaties en vertrou te veel op emosies!" "Ha, hy’s te NG, te tradisioneel en glo mos nie in die krag van die Gees nie!" So bou ons mure om die kerk sogenaamd suiwer te hou, maar wil eintlik daarmee die Gees van God binne-in toesluit, vir alleengebruik. Dit is egter nie moontlik om die Gees van God in die kerk toe te sluit nie. Die Gees waai waar Hy wil en ons pogings om Hom binne toe te sluit, kan net daartoe lei dat Hy uit die kerk uitgesluit sal wees.

Die kerk lei maklik aan die denkwyse dat God tog so bietjie meer hier by my is as wat hy by die ander is wat nie soos ek is nie. Daarom moet ek mure bou. Sê nou net God lek uit en dan verloor ek Hom? Hulle, die ander, gaan Hom van my af wegneem!

AHA!

Omdat Petrus deur die oortuiging van die Heilige Gees nie verder probeer het om hierdie mure en grense te bewaak nie, maar vir Kornelius as deel van die kerk aanvaar het, het hy nou die wind van voor gekry. Hoe kon hy anders?, vra Petrus, en vertel van die visioen wat hy op die dakstoep van Simon die leerlooier gehad het. Daarin het God vir hom gewys dat sy hart en arms veel ruimer is as wat Petrus ooit sou dink. Nooit nie, Here, het Petrus beswaar gemaak. In die naam van goeie Christenskap weier hy aanvanklik om die Here te gehoorsaam. Immers, wat se nuwigheid is dit nou dat ek die kosbare evangelie in die heidene se vuil stofstrate moet gaan verkondig? Here, wat se nuwigheid is dit nou weer dat U mense wat nie soos ek is nie, daardie "tipes", net so liefhet as vir my? Wat se nuwigheid is dit nou dat U deesdae in ander kerke ook werk?

Uiteindelik breek die insig tog deur. AHA! (punt 2), so dit is wie God eintlik is. Hy het almal lief. Petrus snap dat die Heilige Gees uit sy Joodse nate wil bars. Die Joodse Christene sit nog heerlik en bak in die Paassonnetjie – verbeel hulle nog die opstanding was net vir hulle – toe ruk die Gees soos `n orkaan die gordyne, vensters en deure uit. Die kerk moet die wêreld in en ophou broei. Die vreemdelinge moet Jesus sien.

3. AHHH …

En dan die satisfaksie (AHHH … punt 3). Dat God almal ewe liefhet, is nie slegte nuus nie. Dit is wonderlike nuus. Want nou hoef ek nie meer te baklei om Hom vir myself te hou nie. Ek kan voel hoe Hy deur my werk soos Hy ook deur ander werk. Ek hoef niks te verdedig nie. Ek mag maar al die mure tussen my en ander mense afbreek. Ek mag maar uit my gemaksone uitbeweeg. Daar anderkant die grense tussen my en mense wat nie my vriende is nie, nie my persoonlikheid het of my agtergrond deel nie, daar is ervarings om saam met God op te doen.

Hierin lê `n ontspanning wat `n mens kan sien by Petrus ingetree het, maar uiteindelik ná sy getuienis ook as `n "tevredenheid" by die gelowiges in Jerusalem (1:18) intree.

Dis lekker dat ek die Here nie hoef weg te hou van ander omdat ek bang is dat Hy dalk liewer sal raak vir hulle as vir my nie.

Dis lekker dat ek nie soos iemand anders hoef te wees voor die Here my kan gebruik nie.

Dis heerlik dat ander ook nie soos ek hoef te wees nie, want die Here het elkeen op `n eie, unieke manier lief.

Dis lekker om die mure tussen my en ander te kan afbreek, want dis nie meer nodig nie.

Die Gees van die lewende Christus leef nie in aanhouding nie. Daarom is dit tyd dat Petrus na Kornelius begin verlang. Dat die gelowiges in Jerusalem na die heidene begin verlang. Dat die kerk vandag ook na die wêreld begin verlang, en God nie vir haarself probeer hou nie. Dis tyd dat ek na my vyand sal begin verlang, of dat gelowiges van verskillende stand, geloofsbelewing, kerk, politieke oortuiging, ensovoorts, na mekaar sal verlang, omdat hulle besef dat God ook (soms veral) buite die grense is, wat ek vir Hom getrek het.

So is Handelinge 10 en 11 die verhaal van Petrus, manne van Joppe en die ganse gemeente van Jerusalem. Mense wat deur die vloedgolf en stormwind van die Gees van God van hulle voete af meegesleur word, teensinnig, skoppende en skreeuende. Soos Jona van ouds met gelowige verontwaardiging, oor die genade van God wat te groot is. God laat genadiglik nie sy kerk agter nie, maar neem hulle saam na daar waar Hy wil gaan nuut maak en mense die geleentheid wil gee om die lewe te kry (11:18).

Die vraag is: Hoe leerbaar is die kerk vandag? Die gelowiges in Jerusalem aanvaar die beginsel, maar die aanduidings wat ons het (sien bo), is dat hulle in die praktyk maar voortgeleef het soos voorheen. Die prediker sal tallose voorbeelde uit die eie gemeente en die denominasionele konteks kan vind vir goeie lippetaal en suiwer beginsels, maar weerstandige lewens.

Bibliografie

Spencer, F S Acts. Neil, W The Acts of the Apostles. New Century Bible; Polhill, J B Acts. The new American Commentary; Munck, J The Acts of the Apostles. The Anchor Bible; Nielsen, J T Handelingen I en II. Een praktische bijbelverklaring; Lindijer, C H Handelingen van de Apostelen I en II. De Prediking van het Nieuwe Testament; Bruce, F F Commentary on the Book of Acts. NICNT; Soards, M et al. Preaching the Revised Common Lectionary. Year C Lent/Easter; Lüthi, W Die Apostelgeschichte; Willimon, W H Acts. Interpretation.