Ander
tekste: Jesaja
25:6-9; Psalm 118:1-2,14-24; Johannes 20:1-18
Handelinge
10:34-43 word ook in Woord teen die Lig
1/9, 88-97 as preek vir Paassondag behandel.
Dit is belangrik dat dit gelees word asook die inleidingsartikel in Woord teen die Lig 1/3, 7-32.
Die
geskiedenis van die kerk staan onder beheer van God. Die boek Handelinge gee ‘n beskrywing van die vroeë geskiedenis
van die kerk sodat ons daaruit kan leer dat dit God is wat aan sy kerk die
opdrag gee, toerus, bewaar, begelei en stuur.
In die boek
kom betreklik baie toesprake voor.
Eintlik gaan dit in die toesprake en die hele boek om die werksaamhede
van die verhoogde Christus deur sy apostels en dienaars, wie se taak dit was om
van Hom en sy opstanding te getuig (De Villiers). Handelinge 10:34-43 is Petrus se derde toespraak in dié
boek. Hy gee ‘n verduideliking van die
visioene wat hy sowel as Kornelius ontvang het, hoe hulle mekaar ontmoet het en
wat die doel daarvan was.
Die
Korneliusverhaal kondig ‘n geweldige verandering van denke met ingrypende
gevolge vir die gemeente aan. Dit is ‘n
radikale wending in die bestaan van die kerk.
Die wending het gekom omdat die gelowiges nog die hele tyd nie besef het
nie dat God ook die heidene gaan inlyf in sy kerk. God moes hulle tot hierdie besef bring. Hyself moes ingryp en hulle in hierdie nuwe denk- en
bestaansrigting stuur.
Handelinge
10:34-43 is net Petrus se toespraak en baie waarskynlik net die opsomming
daarvan. Dit is belangrik om te let op
wat die kernfeite is wat hy aangaande Jesus gee – die eerste (Christologiese)
preek oor Jesus, naamlik: (i) Jesus is
die evangelie van vrede wat God gestuur het; (ii) Jesus is Here van almal; (iii)
Jesus is met die Heilige Gees en met krag toegerus om die koninkryk van
God te laat kom; (iv) Jesus is deur
mense gekruisig maar deur God uit die dood opgewek; (v) Jesus gee aan sy kerk
die opdrag om getuies te wees van sy opstanding (vi) Jesus gee aan sy kerk die opdrag om te verkondig en te bevestig
dat Hy deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies; (vii) Jesus skenk vergifnis van sondes deur sy
Naam aan elkeen wat in Hom glo.
Daarin lê
egter ook feite oor God die Vader, die Heilige Gees, die kerk en sondevergifnis
opgesluit. Dit alles grond in die feit
dat Jesus gekruisig is, maar dat God Hom na drie dae uit die dood opgewek
het. Dit is waarvan die kerk moet
getuig – dat hierdie Jesus Here van almal is.
Jesus se dood en opstanding is God se groot ingrype in die wêreld. God self moet mense daarvan oortuig. En vir die Jode seker ewe so radikaal: God
maak nie onderskeid nie, maar neem uit enige volk mense aan om aan Hom te
behoort. Paasfees beteken dat die kerk
hierdie ‘bekering’, openbaring, verandering vier. Net die opstandingskrag van God kan hierdie wending by ‘n
gemeente bewerk.
Lukas
kondig Petrus se toespraak op so ‘n manier aan dat ons moet agterkom dat dit ‘n
belangrike toespraak is wat gaan volg.
Dit is ‘n belangrike gebeurtenis – die eerste keer dat die evangelie
deur ‘n apostel van Jesus Christus aan heidene, mense wat nie-Jode was,
verkondig word.
Petrus is
tans ten volle oortuig dat God geen aannemer van die persoon is nie – dat God
geen onderskeid maak tussen mense en volke nie, vgl. Deut 10:17; 1 Sam
16:17. Hy sien ‘nou’ in dat God se
partydigheid verder gaan as die volk Israel.
Hy skenk nie voorkeur aan besondere mense nie, ook die heidene mag tot
Hom kom om Hom te vereer en sy wil te doen.
De Villiers verduidelik die Griekse woord wat gebruik word om aan te dui
dat God nie onderskeid maak tussen mense nie, dat dit letterlik beteken: om iemand
se gesig op te lig. Dit is ‘n tipiese
Hebreeuse uitdrukking. Dan dui dit op
die oplig van ‘n persoon, wat eerbiedig voor ‘n ander neerkniel. Laasgenoemde kan die persoon wat kniel, se
gesig oplig uit erkenning of waardering, maar ook uit partydige
bevoorregting. God is nie partydig vir
sekere mense, of groepe mense nie.
Petrus besef dit ‘nou’ eers. God
het hom daardie nuutgevonde insig en oortuiging gegee. En dit open nuwe moontlikhede vir hom en die
gemeente.
God het
eers die woord, ‘evangelie van vrede’ aan Israel verkondig. Maar dit sou ook aan alle volke verkondig
word, want Jesus is ‘die Here van almal’ deur en sedert sy opstanding.
Petrus wys
daarop dat die gebeure in verband met Jesus ook by hulle bekend was. Hy gee ‘n verklaring en verduideliking van
belangrike aspekte van Jesus se werk.
Hy noem Hom ‘Jesus van Nasaret’, omdat Hy só aan Kornelius bekend sou
wees. Hy moes nou hoor dat Hy deur God
gestuur of afgesonder is – Hy is nie ‘n gewone mens nie, maar is deur God
‘gesalf’ met die Heilige Gees en Hy het krag gehad om die duiwel te weerstaan
en te oorwin, tekens en wonders te doen, want God wat Hom geroep het, het Hom
met krag toegerus vir sy taak en by Hom gebly.
Petrus-hulle
kan bevestig wat Jesus in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle was ooggetuies. Veral wat in Jerusalem met Hom gebeur het,
kan hulle beaam. Wat daar gebeur het,
is van uiterste belang vir die getuienistaak van die kerk. Dit is die sentrale tema van die
evangelie. Petrus-hulle kan eerstehands
getuienis gee van wat gebeur het: die Jode het Jesus doodgemaak deur Hom aan ‘n
kruis te hang.
Daar is ‘n
verdere baie belangrike feit wat Kornelius-hulle moes weet en waarvan hulle die
betekenis moes leer ken. Daarom
benadruk Petrus dit dat hierdie selfde Jesus wat die Jode aan die kruis laat
sterf het, deur God op die derde dag uit die dood opgewek is en aan hulle, die
apostels, sy uitverkore getuies, laat verskyn het – hulle het saam met Hom
geëet en gedrink na sy opstanding. Dit
het Hy gedoen om te toon dat Jesus nog ware mens was. Maar die boodskap van die opstanding is die boodskap wat
Kornelius-hulle en baie ander na hulle moet hoor. Dit verkondig dat die Here nie net die grense van die graf nie,
maar ook die grense van sy volk verskuif het. God het dit gedoen.
Petrus sê
vir Kornelius-hulle dat Jesus hul ‘n spesifieke opdrag gegee het, naamlik. dat
hulle aan die volk moet verkondig en bevestig dat Hy deur God aangestel is as
Regter oor lewendes en dooies. Eers
moes aan die Jode en die nie-Jode verkondig word dat hulle skuldig is aan die
dood van Christus.
Petrus
verwys samevattend na die boodskap van die profete. Jesus, die beloofde Messias, bring vergewing van sondes deur sy
Naam, dit wil sê deur alles wat Hy is en gedoen het, vir elkeen wat in Hom
glo. Alleen in Hom is vergewing
moontlik – selfs vir hulle wat Hom gekruisig het en vir heidene.
Noordmans
sê tereg dat Paasfees die grootste fees is wat ons kan vier. Dit is die groot Sondag waaraan al die ander
Sondae hul betekenis ontleen. Dit is die dag van die Here in die volste sin
van die woord. Hy sê die Paasevangelie
is die samevatting van die hele evangelie: “Die Heer het waarlik
opgestaan!” Paasfees moet gevier word. Paasfees is dramaties! Paasfees is die fees van die nuwe
begin! Paasfees maak ons opgewek oor
nuwe moontlikhede.
Maar om
Paasfees te vier, beteken ook om nuut na die Here se Woord te luister. Vanoggend kan ons dit wat ons in Handelinge
10 saamgelees het, soos volg saamvat : Jesus se opstanding bring nuwe insigte
en open nuwe lewensmoontlikhede met ingrypende implikasies vir sy gemeente met
die oog op die wêreld.
Dit alles
is die gevolg daarvan dat God met ons ‘n nuwe begin gemaak het – ‘n dramatiese
begin. Ons kan begryp dat die insig
waartoe die Here vir Petrus en die gemeente in Jerusalem gebring het, vir hulle
‘n nuwe denk- en bestaansrigting moes gewees het. Hulle het sekerlik nooit kon droom dat die dag sou aanbreek dat
ook nie-Jode ingesluit sou word in die volk van God nie. Vir eeue was die Jode al daaraan gewoond dat
net hulle die Here se volk was. Nou
binne die leeftyd van een geslag tree daar dramatiese gebeure vorendag. Jesus word in Nasaret gebore as die Seun van
God. Jesus word nie lank gespaar nie en
deur mense om die lewe gebring deur Hom aan ‘n kruis te hang. Maar na ‘n paar dae staan Hy op uit die
dood. Die Heilige Gees word uitgestort
op Pinksterdag. En dan skielik moes
hulle hoor dat die kerk nou oop was vir alle mense wat die Here in waarheid wil
aanbid.
Daarom kan
ons ook verstaan dat dit vir Petrus verskriklik moeilik moes wees om van Joppe
af na Sesarea te gaan om vir Kornelius te gaan sê dat God uit enige volk mense
aanneem. Hy moes teenoor Kornelius, ‘n
Romeinse soldaat, gaan sê dat hy dit voorheen nie geweet het nie. En dit moes ‘n dramatiese ingrype in sy lewe
wees, maar toe hy dit eers begryp, was dit asof die hele evangelie voor hom
oopgegaan het en hy dit in ‘n neutedop kon saamvat in sy toespraak by
Kornelius.
Ons weet
nie hoe lank dit vir Petrus geneem het om te verstaan wat die Gees vir Hom wou
sê nie. Ons word ook nie vertel watter
sieleworsteling dit by Petrus moes veroorsaak het nie. Dit is ook nie so belangrik om dit alles te
weet nie. Wat belangrik is om te weet,
is dat die Here ons van geloofswaarhede en van nuwe moontlikhede kan oortuig
wat teen ons natuurlike en geestelike lewenspatrone ingaan.
Die
opstanding van Jesus wil steeds nuwe moontlikhede vir die kerk en vir die
gemeente oopmaak. Die kerk is nie
volmaak nie – ook nie wat sy kennis aangaande die dinge van God betref
nie. Hoe onmoontlik dit vir ons mag
klink, maar daar is dinge wat die Here wil hê dat ons moet doen wat vir ons op
die oomblik moeilik voor te stel is.
Daar breek dan skielik vir ons ‘n lig deur sodat ons ons sê: “Waarlik,
ek begryp nou eers …”
Wat sê
Petrus vir Kornelius? Hy noem eintlik
net ‘n paar feite aangaande Jesus – meeste daarvan was aan Kornelius
bekend. Hy bevestig daarmee net die
evangelie aan Kornelius.
Vandag, op
Paasfees hoor ons niks nuuts oor Jesus nie.
Miskien begryp ons net vir die eerste keer Wie Hy is en wat Hy vir ons
kom doen het en wat die implikasies daarvan vir ons kerkwees, ons opdrag, in
die wêreld is.
Petrus sê
vir Kornelius dat Kornelius-hulle tog weet dat God aan Israel sy woord gestuur
het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. God het die woord, die evangelie, eers na
die volk Israel gestuur. Die woord was
‘n blye boodskap van vrede. Dit was die
vrede van die Messias, die vrede tussen God en mense, maar dit het ook die
vrede tussen mense onderling ingesluit.
En dit was deur Jesus Christus dat God dit aan die Jode verkondig
het. Maar dit sou ook aan alle ander
volke verkondig word, want Jesus is die Here van almal. Jesus is deur en sedert sy opstanding Here
van alle mense. Hy heers oor alle
mense. En hierdie heerskappy is deur sy
woord. Daarom moet sy woord aan alle
mense verkondig word, ook aan die nie-Jode.
Almal moet hoor dat Jesus die Here is!
Petrus
bring dit alles vir Kornelius mooi in die prentjie, want Kornelius weet tog wat
alles in die laaste tyd in die Joodse land gebeur het. Hy weet van die optrede van Jesus Christus
en alles wat met Hom gebeur het tot waar die Jode Jesus in Jerusalem om die
lewe gebring het deur Hom aan ‘n kruis te hang.
Klaarblyklik
het Kornelius nog nie van Jesus se opstanding gehoor nie. Dit is die nuwe boodskap wat Kornelius moes
hoor en daarom praat Petrus uitvoeriger oor die opstanding. God het bepaalde apostels gekies as getuies
wat die opstanding moet verkondig.
Maar saam
met die getuienis aangaande sy opstanding het Christus ook ‘n bepaalde opdrag
gegee, naamlik om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat
deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. Niemand is voor God verontskuldig nie en aan
die oordeel van Christus blootgestel.
Dit moet mense na Christus as Verlosser uitdryf. Almal val onder hierdie oordeel van hierdie
Regter wat opgewek is, ook om te oordeel.
Aan Hom is alle mag in hemel en op aarde gegee.
Dit is
immers die woord soos die profete voorspel het. Húlle het al verkondig dat Jesus vergewing van sondes gaan
bring. Alleen in sy Naam word mense se
sondes vergewe. Húlle het al gesê dat
vergifnis is vir almal wat in Hom glo.
Petrus besef dit nou eers: ook Kornelius is ingesluit; nie-Jode is
ingesluit; almal wat in Christus glo.
Daarom vier
ons vandag Paasfees. Die grootste fees
wat ‘n mens kan vier. Ons is opgewonde
wat die Here deur sy opstandingskrag in ons en deur ons wil doen – wat die
implikasies vir ons ook al mag wees.
I L de
Villiers skryf in sy bundel Manna oor die
duine ‘n ‘Gebed vir Paasmôre’ wat vir ons iets van hierdie vreugde en
opgewondenheid voortdra:
Verrese
Heiland
die
kerkklokke lui vanoggend anders.
Hulle is
Paasklokke.
Hulle lui
oor die vallei.
Hulle lui
oor die stad.
Hulle lui
oor die wêreld.
Die Here
het opgestaan!
Ja, Hy het
waarlik opgestaan!
Saam met
Christene oor die wêreld, al u kinders,
wil ek
aanbid, Oorwinnaar!
Saam met
die klokke wil ek juig
oor die
wonder van ‘n graf in ‘n tuin
wat
oopgegaan het om nooit weer toe te gaan nie.
Daar’s ‘n
pad getrap deur die dal van die dood.
U het dit
uitgetrap.
U het
bloedspore getrap.
Die pad
gaan deur die dood
na die
ewige lewe.
Ek gaan dié
pad volg as U my roep.
Ek het saam
met U opgestaan, Here Jesus.
Hierbinne
in my hart is dit al anders.
Ek was met
U in aanraking.
U het my
aangeraak.
Ek sal
nooit sterf nie.
Want U
leef!
U leef!
Ek juig oor
U, Here Jesus.
Ek juig
saam met die Paasklokke.
Ek juig in
die môre,
oor ‘n nuwe
môre
wanneer die
klokke nie sal ophou nie,
wat sal
môre bly
en nooit
aand word nie.
Amen.
Bibliografie
Burger, CW, Müller, BA & Smit, DT (reds): Woord teen die Lig I/9 88-97; De Villiers, J L: Die Handelinge van die Apostels, Deel 1, 221-226.