Handelinge 10:34-43 (Ian Nell)

10 Januarie 1999

Eerste Sondag na Epifanie

In hierdie toespraak van Petrus in die huis van Kornelius word dit duidelik hoedat die Heilige Gees die skeidingsmure tussen Jood en nie-Jood afbreek.  Die verhaal gee vir ons 'n voorsmaak van die koers wat die evangelie van nou af gaan inslaan – die evangelie aan alle mense uit alle nasies.

Teks en konteks

 

Herholdt behandel die teks in Woord teen die Lig I/9 vir gebruik op Paassondag.  Vir meer detail oor eksegetiese en hermeneutiese aangeleenthede kan sy studie geraadpleeg word.  Ek stip net die volgende aan:

Die strukturele opbou van die gedeelte sou in aansluiting by Herholdt soos volg in 7 tonele verdeel kon word. 

Die visioen van Kornelius (1-8);

Die visioen van Petrus (9-16);

Die ontmoeting met die diensknegte (17-23a);

Die ontmoeting met Kornelius (23b-33);

Petrus se verduidelikende toespraak (34-43);

      Petrus se nuwe beskouing oor God se onpartydigheid (34-35)

      Christologiese onderrig met verbinding aan OT-tekste (36-42)

      Getuienis van die profete (43)

Die uitstorting van die Gees en die doop (44-48);

Die legitimering in Jerusalem (11:1-18).

 

Uit die struktuur is dit duidelik dat hierdie “sendingtoespraak” van Petrus deel vorm van die verhaal van Kornelius.  Dit is ook Petrus se derde en laaste groot toespraak in Handelinge.  Herholdt, in aansluiting by Haenchen, wys hoedat hierdie verhaal 'n nuwe grondbeginsel vir die kerk neerlê. Twee onderliggende en terugkerende motiewe onderstreep die radikaliteit van hierdie grondbeginsel.  Eerstens word duidelik gemaak dat die Christengelowiges gekant was teen die inlywing van die heidene, al was hulle godvresende mense.  Tweedens word deurlopend beklemtoon dat die wending wat hier kom, 'n ingrype van God self is.

 

Die fokusteks vorm dus deel van hierdie groter verhaal en bestaan volgens Soards et al uit 'n aantal sleutel-momente waarvan die volgende vier uitgesonder word: 

·        In die eerste plek handel Petrus se uitspraak oor God se onpartydigheid.  Die mens se uiterlike voorkoms speel nie vir God 'n rol nie, want God meet die mens nie volgens menslike standaarde nie.  Ons leer God ken as Iemand wat veel meer geïnteresseerd is in mense se houding teenoor Hom: wat God dus van die mens verwag is eervolle respek en gehoorsaamheid aan sy wil.  Dit is in dié verband wat Kornelius God se guns en seën geniet.

·        Tweedens maak Petrus duidelik dat Jesus die krag van God demonstreer op grond van die feit dat Hy deur die Heilige Gees gedoop is en die werk van God kom doen het.  Dit is hierdie Jesus wat nou Here is oor almal – en daarom word alle nasies op grond van God se genade en onpartydigheid ingesluit.  Deur na Jesus te kyk vind ons met ander woorde die antwoorde oor God se wil vir die wêreld en vir ons lewens.

·        Derdens sien ons in verse 38-40 hoedat God se inisiatief en aksie in die Persoon van sy Seun voor menslike weerstand, rebellie en verwerping te staan kom.  Laasgenoemde word weer oorwin deur die opstanding van Jesus en sy verskyning aan verskillende mense.  Hierdie Christologiese fokus op die God-mens interaksie vorm as’t ware die raamwerk vir ons lewens.

·        Vierdens verduidelik Petrus dat Jesus vir sy dissipels die opdrag gee om getuies te wees van hierdie goeie nuus deur vir ander te vertel dat God vir Jesus aangestel het as Regter oor die lewendes en die dooies.

·        'n Belangrike perspektief wat deur Herholdt bygevoeg word, is die vraag of die Korneliusverhaal 'n bekeringsvertelling is of nie.  Hy haal vir Willimon aan wat opmerk dat die bekering in hierdie gedeelte eintlik wedersyds is.  Beide Kornelius (as verteenwoordiger van heidene) en Petrus (as verteenwoordiger van die kerk) beleef 'n bekering!  Die belangrike wending by Petrus bestaan in sy getuienis dat hy nou begryp dat dit in ooreenstemming is met God se aard dat nie-Jode volledig ingelyf kan word by die Christelike kerk.  Die insig dat volksverbande in die Christelike kerk gerelativeer word, bring bekering!  Herholdt beklemtoon dat bekering 'n proses is en dat die lewe van 'n Christen en die kerk voortdurende bekering behels op weg na nuwe en onbekende terreine waar slegs op die betroubaarheid van God gereken kan word.

 

In antwoord op die vraag hoe daar nou oor die gedeelte gepreek kan word, bied predikers verskillende moontlikhede.  Sommige maak gebruik van 'n uitgebreide oorvertelling van die gebeure met 'n moraliserende slot.  Ander beklemtoon 'n saak soos leierskap met Jesus as rolmodel, terwyl daar ook dikwels aangesluit word by die missionêre aspekte wat in die teks na vore kom.  Herholdt wys daarop dat die teks die kerk uitdaag en selfs teësinnig saam sleep tot gehoorsaamheid om saam met God op weg te gaan – 'n saak wat 'n bekering by die kerk meebring.

 

Smit (in Woord teen die Lig I/3:67) waarsku dat die prediker versigtig moet wees om van 'n “net-soos-so-ook”-metode in die preek gebruik te maak.  Dit is beter om te werk met 'n “omdat-daarom”-metode, met ander woorde:  Omdat Jesus opgestaan het, en omdat God leef en op weg is… sal Hy daarom ook vandag sy kerk roep, bevry en lei.

Preekvoorstel

Twee oorlogskepe was besig met maneuvers in swaar weer.  Die sig was besonder swak weens die mis en die kaptein het by die uitkykpos gebly om 'n ogie te hou.  Kort na skemer laat weet die wag aan die bakboord dat hy 'n lig waarneem wat blykbaar stilstaan.  Die kaptein besef dadelik dat die twee skepe op 'n botsing afstuur en laat weet vir die seiner om die ander skip in kennis te stel dat hulle 'n 20-grade aanpassing moet maak.  Die boodskap kom terug:  “Ek beveel jóú om 20 grade aan te pas.” Die kaptein laat nie op hom wag nie:  “Dit is die kaptein wat praat.  Verander rigting met 20 grade!” Die antwoord kom terug:  “Dit is die tweedeklas-seeman wat hier praat.  Dit is beter dat jy jou koers wysig met 20 grade.”  Woedend laat die kaptein weet:  “Ek is 'n oorlogskip.  Pas jou koers onmiddellik met 20 grade aan!” Die stem aan die ander kant antwoord:  “Ek…. is 'n vuurtoring.”

 

Op komiese wyse illustreer hierdie verhaaltjie van Stephen Covey dat omstandighede ons dikwels dwing om 'n aanpassing in ons denke te maak, anders kan die werklikheid ons dalk duur te staan kom.  Sommige noem hierdie tipe van aanpassings in ons lewens 'n verskuiwing in paradigma.  So 'n paradigma-verskuiwing funksioneer soos 'n nuwe lens waardeur alles nuut beskou word.  Dit impliseer ook nuwe gedrag.

 

Petrus se uitroep “Waarlik, ek begryp nou eers….” (vers 34) dui vir ons daarop dat daar by hom so 'n paradigma-verskuiwing plaasgevind het.  Sy bekeringservaring was 'n proses met 'n lang aanloop.  Die visioen wat Petrus ontvang het (verse 9-16), het reeds sy denkprosesse aan die gang gesit.  Die doek met die onrein diere moes vir hierdie Jood 'n eienaardige ervaring gewees het. Maar daardeur het God die saadjie gesaai.  Petrus het 'n kennisverandering ondergaan deurdat God vir hom tot nuwe insigte gebring het:  “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Die bekeringsproses het in aanvang geneem.  Die mate waartoe hierdie kennisverandering by hom geskied het, word nog duideliker later in die verhaal.  In Hand 10:28, wanneer Petrus in Kornelius se huis aan die woord is, getuig hy soos volg:  “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.”

 

Maar nuwe insigte, feite en kennis is nie genoegsaam vir bekering in die Bybelse sin van die woord nie.  Dit moet ook gepaard gaan met 'n gesindheidsverandering.  Dit sien ons wanneer Petrus die drie gaste wat Kornelius gestuur het in sy huis innooi en aan hulle huisvesting gee vir die nag (vers 23).  Die belangrike oortuigingswerk deur die Heilige Gees in Petrus se lewe, kan in dié verband nie onderskat word nie.

 

Wanneer 'n kennis- en gesindheidsverandering egter nie gepaard gaan met 'n gedragsverandering nie, is die bekeringsproses nog nie volledig nie.  Petrus se optrede getuig daarvan dat die Gees nie net 'n verandering in sy denke en gesindheid teweeg gebring het nie, maar dat hy ook gereed is om oor te gaan tot dade.  Ons lees in vers 23 dat Petrus die volgende dag saam met sy gaste vertrek na Seserea, gereed om sy oortuigings in dade om te sit.

 

Dit bring ons by ons preek-perikoop waar Petrus se bekeringservaring tot voltooiing kom.  In Kornelius se huis bely hy met oortuiging:  “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is… “ (verse 34-35).  Hy vat dit saam as hy in vers 36 sê:  “Hierdie Jesus is Here van almal.”  Daarmee erken hy onomwonde, in teenstelling met dit wat hy so lank geglo het, dat God nie die God van 'n groep is nie, dat God nie witbroodjies het nie, dat Hy vir niemand partydig is nie.

 

Petrus se gedragsverandering lei daartoe dat hy ook wil sien dat die groep waaraan hy behoort, se gedrag moet verander.  Omdat Jesus waarlik die Heer van almal is, moes sy Joodse volgelinge ook tot bekering kom om “almal” raak te sien , na hulle uit te reik en in te sluit.  Die gedragsverandering van die groep word duidelik wanneer ons, in die verse wat volg op die preek-perikoop, lees hoedat die Joodse gelowiges met verbasing die kragtige werking van die Heilige Gees waarneem.

 

Dit is duidelik dat Petrus se toespraak uiters aktueel is in die konkrete situasie waarin ons onsself in Suid-Afrika bevind.  In 'n land met chroniese en akute verdeeldheid volgens rasse-, kulturele, politieke, ekonomiese, kerklike en ander groeperings kan sy insig kwalik oorbeklemtoon word.  Die perspektief dat God nie 'n groeps-, stam- of partygodheid is nie is die manier waarop God sy kerk roep om Hom in vertroue en hoop hierin na te volg.  Dat dit in sommige gemeenskappe en gemeentes 'n pynlike en selfs teësinnige bekering is, kan egter nie ontken word nie.  Uit Petrus se verhaal word dit duidelik dat die oorsteek van groepsgrense aanvanklik nie as goeie nuus ervaar is nie.  Hy was gewis gewoond aan groepsdenke wat nie getwyfel het oor die feit dat sy mense God se voorkeurkinders is nie. 

 

Dit word natuurlik nog verder bemoeilik as mense hulself sien as 'n bedreigde minderheidsgroep wat moet veg om oorlewing en behoud van identiteit. In Petrus se omstandighede was tafelgemeenskap met die heidene 'n taamlike tameletjie.  Hulle reinheid was een van die pilare van die Joodse groepsidentiteit wat tot elke prys gehandhaaf moes word. Petrus beleef hoe hierdie hoekpilare van sy bekende wêreld inmekaartuimel.  Tog gaan hy gehoorsaam saam op weg met die lewende God wat in Jesus die Heer van almal is.  Ons sou wou vra wat was daar wat Petrus se “bekeringsproses” aangehelp het?  Wat was dit wat dit vir hom moontlik gemaak het om tot hierdie nuwe insig te kom?  In terme van die beeld wat ons aan die begin gebruik het:  Wat het daartoe aanleiding gegee dat Petrus besef het dat die aankomende lig nie 'n skip was nie, maar 'n vuurtoring?

 

Eerstens is dit duidelik uit die verhaal dat Petrus en Kornelius mekaar nodig gehad het en dat albei se bekering moontlik gemaak is deur hul blootstelling aan mekaar.  Die rol wat die Heilige Gees in dié verband speel, moet weereens beklemtoon word.  Die prediker kan selfs uit eie ervaring iets met die gemeente in dié verband deel.  'n Sekere gebeurtenis, ontmoeting, ervaring wat 'n lig laat opgaan het.  Maar nou is dit belangrik om te besef dat blootstelling op sigself nog nie 'n bekering waarborg nie.  Trouens dit kan selfs lei tot die verdieping van verskille en die bevestiging van vooroordele en wanpersepsies.  Dit is eers binne teologiese perspektief, met oë wat deur die Heilige Gees geopen is en wat lei tot geloof in God as die lewende Here van almal, dat hierdie blootstelling nuwe horisonne oopmaak.   Waar dit gebeur word dit vir ons as kerk en gemeente van die Here moontlik om 'n hoopvolle bydrae te maak.  En maak die krag van God se Gees dit moontlik om Hom vertrouend en gehoorsaam oor grense heen te volg.  So word gesprek en blootstelling aan mekaar die weg waarlangs die Here sy werk doen.

 

Tweedens wys ondervinding, bevestig deur die verhaal aan die begin van die preek, dat bekering as 'n nuwe begin, gewoonlik eers 'n werklikheid word as reaksie op 'n krisis.  Eers wanneer dit tot ons deurdring dat die lig wat ons waarneem gewis nie 'n skip is wat gaan wegdraai nie, maar 'n vuurtoring wat gaan bly staan, bring dit ons dikwels in beweging om aanpassings te maak.  Maar nou kan ons reaksie op so 'n krisis op twee maniere geskied.

 

Ons kan eerstens poog om die motore van die skip af te skakel, in 'n groep te versamel en te hoop en bid dat ons betyds tot stilstand gaan kom.  Op dié wyse maak ons as’t ware ons oë toe vir die krisis wat aan die kom is, vlug ons weg, vind ons sekuriteit in die veiligheid van die groep.  'n Tweede reaksie sou wees om die krisis as 'n positiewe moontlikheid te sien.  Om dit te benader as 'n hoopvolle geleentheid en elkeen aan die werk te spring om die nodige koerswysiging te bewerkstellig.  Dit beteken dat die krisis gelaai is met nuwe, bevrydende en hoopvolle moontlikhede.  Die boodskap van Jesus se koms na die aarde, wat 'n week of wat gelede feesvierend herdenk is, gee juis vir ons die energie wat nodig is aan die begin van 'n nuwe jaar.

 

Elna Mouton wys in 'n artikel in die Algemene Kerkbode (8 Mei 1998) hoedat hierdie oorgangstye of drumpel-ervarings diep vrae oor identiteit na die oppervlak laat kom.  Haar opmerkings kan ons help om Petrus (en die kerk) se bekering in die preek verder te konkretiseer: 

“Oorgangstye is gewoonlik ontwrigtend en pynlik, omdat dit gepaard gaan met afskeid, losmaak en risiko’s.  Met noodwendige aanpassings, met die herbeskrywing van rolle.  Maar juis omdat drumpeltye reeds die belofte van die nuwe lewe in sigself dra; kan dit 'n mens ook ánders laat kyk, nuwe kante van die werklikheid laat sien, jou verbeelding nuut aangryp.  En só vir God, jouself en ander laat herontdek!

Identiteit het uiteraard baie kante, wat mettertyd ontwikkel omdat dit grootliks met perspektief te make het.  Ons identiteit as Christene in Suid-Afrika – die somtotaal van wie ons is en graag wil wees – is onlosmaaklik verweef met die lief en leed van ons lewensverhale.  Ons stories verteenwoordig 'n netwerk van verhoudinge, gebeure en keuses sedert ons kinderjare.  Dit alles tesame met die omgewing waar ons grootgeword het – die morele wêreld waarmee ons ons leer assosieer het; die waardes, deugdes en slagspreuke wat daarin geld.  Só is ons ganse mens-wees – ons karakter, voorkeure en vooroordele, selfs ons humorsin en emosies – beslissend deur ons stories gevorm.  Uiteindelik werk ons stories soos 'n filter waardeur ons oor God nadink, en die Bybel verstaan.

Natuurlik kan dit ook andersom werk!  Naamlik dat God se verhaal, die Christelike verhaal, die lens word waardeur ons nuut na óns stories kyk.  Die verhaal van die Bybel is juis bedoel om al ons biografieë, ons kulture, herinneringe, vrese en drome op te neem in 'n splinternuwe verhaal, die betroubare verhaal van 'n nuwe mensheid in geloofsverbondenheid aan die drie-enige God. Waar ons bewustelik kies om ons eie geskiedenisse vanuit die gesigspunt van 'n almagtige God se helende liefde te vertolk, word God se verhaal óns verhaal, ons diepste identiteit.  Wie ons is, het dan alles te make met wie Gód is, en dat ons aan dié wonderbare God behoort.  Dan word die vreemde verhaal van 'n magtige koning wat heers deur te dien, van 'n skande-kruis, 'n oop graf en 'n oop hemel die kern van ons selfverstaan.  Die vraag is dus:  Wát sien ons, wáár fokus ons in die drumpeltyd?

Bekering beteken dus om nuut te begin, nuut te dink en te kyk as gevolg van die nuwe insig.  Die vraag is:  sien ons?  Besef ons dat “die Here my God” niemand anders is nie as “die Here van almal”?

 

Bibliografie: Herholdt, S J 1995. Handelinge 10:34-43, in Woord teen die Lig I/9.  Mouton, E 1998. Algemene Kerkbode (8 Mei). Soards, M et al 1992.  Preaching the Revised Common Lectionary. Year A, Advent, Christmas, Epiphany.