Ander
tekste: Johannes 10:22-30, Openbaring 7:9-17, Psalm
23
Die teks
volg ‘n redelike eenvoudige patroon. Tabita word voorgestel en sy word siek en
sterf. Petrus word geroep en hy kom by die rou-toneel. Sy word lewend gemaak.
Die effek hiervan in Joppe:
Tabita word
‘‘n gelowige vrou’ genoem … die enigste keer in die hele Bybel dat die vroulike
van dissipel gebruik word!
Die
uitnodiging “Kom tog gou oor na ons” vind ‘n refrein die roeping van Paulus na
Filippi. Dit is ‘n aanduiding van die Here se werking in so ‘n alledaagse saak
soos om iemand te laat kom.
Die kort,
menslike verhaaltjie van Tabita – ook Dorkas genoem – word geplaas na die
verhaal van Eneas en voor die verhaal van Kornelius. Die eienaardige is dat
Lukas in terme van ‘die Handelinge van die apostels’ na die goeie inleiding tot
Paulus eers weer terugval op ‘Petrus-stories’. Hoekom? Hoe funksioneer hierdie
verhaal binne die groter verhaal? Wat was Lukas se intensie? Lidda en Joppe val
geografies in Judea en hoort dus (logies gesproke) vroeër in Handeling. Sommige
reken dat Lukas dit nodig geag het om Petrus se goeie beeld (naas dié van
Paulus) by die lesers in stand te hou. Dit is immers ook deur Petrus dat die
eerste heiden tot bekering kom. Ander reken dat daar geen doelbewuste patroon
is nie en dat Eneas en Tabita losstaande verhale is.
Die
historiese kritiek en die wetenskapsvrae oor die presiese hoe, wat , waar en
wanneer van iemand wat lewend gemaak word lewer nie eintlik preekmateriaal nie
en lę onnodige struikelblokke in die weg van ‘n treffende boodskap. Om te
beweer dat die kerk letterlik die dooies moet opwek is ook nie die doel van dié
verhaal nie. Die verhaal het uiteraard duidelike raakvlakke met die opstanding
van Jesus. Na die vorige verhaal van ‘n verlamde (Eneas) wat kan loop, is
hierdie eintlik nog ‘n oortreffender storie. Dit gaan om die lewe, genesings en
opwekkings! Dit is die spoor wat die Opgestane Here in sy gemeente – die
‘mense van die weg’ – laat.
Hoekom is
daar soveel detail oor Tabita bekend en oorgelewer: Daar is besonder baie ‘persoonlike’ inligting oor Tabita: ‘n
Joodse naam, ‘n Griekse naam, hulp aan die armes, die mense wat op die toneel
besig is, die snikkende weduwees, die klere wat sy gemaak het ensovoorts?
Geneem Lukas se sensitiwiteit – meer as die ander Bybelskrywers – vir die armes
en die vroue lę daar myns insiens iets in die detail van die gedeelte.
Weduwees
was destyds arm … Tabita het nog vir die armes goed gedoen ook … Sy het met
haar handewerk die lewe vir die armes makliker (en mooier) gemaak. Haar dood is
vir hulle ook ‘n ingrypende dood – meer as net die dood van ‘n bekende! Die evangelie van die opstanding gee lewe.
Dit laat deur ‘n woord genesing en lewe kom! Dit gee weer hoop. Die dood is nie
meer die skrikwekkende dood nie… Die boodskap is veral vir die armes en die
weduwees. Waar Jesus kom, word lamheid en die dood oorwin.
In ‘n preek
sal ons verleë staan omdat ons nie sulke
wonders kan bewerkstellig nie. In plaas van die gedeelte te vermy, moet die
prediker met moed die plekke, tye, name en stories van Jesus wat by armes en
weduwees staan, noem. Waar in ons gesin, gemeente … land … sien ons dit?
Ek het eenmaal
op ‘n boekrak ‘n boektitel gesien wat lank by my sal bly. Ek dink dit was ‘n
boek oor die handelswęreld en het niks met godsdiens te doen gehad nie. Die
titel was: Small is beautiful.
Dikwels daarna het ek al situasies meegemaak en mense gesien waarvan ek presies
so voel: ‘Small is beautiful’. Die verhaaltjie van Tabita is so ‘n verhaal.
Dit is ‘n
klein los verhaaltjie:
Handelinge
is die verhaal van God se groot dade. Dit is die indruk wat Lukas die
dokter-skrywer by sy vriend Theofilus laat. In die boek gebeur groot ingrypende
dinge, soos Jesus se hemelvaart, die Gees se uitstorting, 3000 tot bekering,
die vervreemding tussen Joodse en Christen-gelowiges – wat uit die tempel
gedryf word, heidene wat begin glo en dan die invloedrykste sending-uitreike ooit!
Dit is die lewende God wat met groot kwashale besig is om die węreldtoneel
permanent te verander. Binne hierdie Groot Storie is daar ‘n klein los
storietjie wat eintlik nie so lekker inpas nie. Paulus is al op die toneel en
eintlik is alles reg vir die groot geestelike beweging na die heidene … en dan
glip daar twee storietjies in. Een van Eneas in Lidda en dié een van Tabita in
Joppe. Eneas was verlam en het geruime tyd (8jr) gelę. Tabita was siek en het
dood gegaan. In hierdie twee klein storietjies word vertel dat die
lewendmakende krag van God – in die Naam van Jesus – mense opwek, gesond en
lewend maak.
Tabita was
‘n klein mensie:
Sy was ‘n
weduwee. Om destyds ‘n vrou te wees was al erg genoeg. Hulle waardigheid is nie
geag nie en hulle is destyds misbruik en uitgebuit. In so ‘n węreld was die
vrou se redding geleë in die man aan wie sy behoort. Deur haar man het sy
erkenning, aansien, lewensreg en uiteraard ook besittings gehad. As ‘n vrou se
man sterf het sy al dié voorregte verloor. Tabita se man het gesterf, wat haar
klein gemaak het in haar kwesbaarheid en broosheid in ‘n erg-chauvinistiese
midde-oosterse węreld.
Tabita was
‘small’, maar ‘beautiful’:
Die Bybel
sę so. Haar mooiheid lę in sinsnedes soos ‘altyd besig’ , ‘besig om goed te doen’ ‘die armes te help’. Haar mooiheid lę in haar
barmhartigheid ten spyte van die feit dat sy self eintlik ‘n ontvanger van
barmhartigheid behoort te wees. Die Bybel help ons om ‘n prentjie te vorm van
hierdie vrou se mooiheid. Ons kan ‘n groot groep hartseer mense hoor wat
snikkend daar rondstaan terwyl hulle vertel van al die mooi kledingstukkies wat
sy al vir hulle gemaak het. ‘n Mens kan aflei dat sy een van die besondere
mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en
‘n Griekse naam, want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid
‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar
barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis
wat groot en belangrike mense nie kan regkry nie! Klein is inderdaad mooi!
Dit is
uiteindelik ‘n mooi storie, want die God
wat Hom ontferm oor Tabita en die ander armes is mooi. Dit is immers
mooi as iemand die kleintjies en hul nood raaksien. Vir Hom is mense wat
barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe aan Tabita –
sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak. God is nie
so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy nie die kleintjies wat
aan hom behoort vergeet. Die Here is nie net geďnteresseerd in die Paulusse,
Petrusse en Johannesse nie – maar ook in die Tabita’s, Dorkasse en vele
anonieme goed-doeners in die węreld. Inteendeel, ‘n mens kry die indruk dat Hy
juis in die kleintjies geďntresseerd is … dié wat mooi soos kinders kan word .
Ons is
vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot
syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg
van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein
dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here
gereken word. Die mooi storie is natuurlik bedoel as ‘n opstandingstorie. Omdat
Hy opgestaan het weet ons dat Hy graag lewe gee aan almal … en dat Hy dit doen
deur die Tabita’s, Dorkasse, Saries, Pieters, Xolile’s, Regina’s en die hele
liga van klein, maar mooi mense wat goed doen aan die armes.