Handelinge  8:26-40 (Fanie Herholdt)

21 MEI 2000

VYFDE Sondag in Paastyd

 

Ander tekste: Psalm 22:26-32; Johannes 15:1-8; 1 Johannes 4:7-21

God se liefde en sorg word telken prakties en konkreet gedemonstreer by hulpeloses en randfigure. Sy gehoorsame volgelinge deel in die voorreg om sy hande, voete en stem by sulkes te wees.

Teks en konteks

Handelinge is die opvolg van die verhaal van Jesus (Lukas-Evangelie). Die verhaal kan gesien word as die storie van die kerk, die storie van die voortgaande krag van die opgestane Jesus, of die verhaal van die mag van die verhoogde Christus aan die regterhand van die Vader, of die storie van die werking van die Gees of die storie van die Drie-enige se sending na die wêreld (Missio Dei). Enige van hierdie invalshoeke is legitiem vir die boek Handelinge, so ook vir Handelinge 8:26-40.

Handelinge 1:8 se belofte en opdrag bied die breë struktuur van die verhaal. Hoofstuk 1-2 bied die inleiding en die uitstorting van die Heilige Gees as die “geboorte-uur” van die kerk. Hoofstuk 2:14-8:3 beskryf die getuienis in Jerusalem.  Die groei en die probleme word so gerangskik dat alles eindig by ‘n hewige vervolging na Stefanus se steniging. Dit veroorsaak die verstrooiing van die gelowiges na Judea en Samaria. Tussen Petrus, wat die eerste gedeelte in Jerusalem oorheers, en Paulus wat later die evangelie na die uithoeke van die aarde dra, kry ons vir Filippus wat in Samaria werksaam is. Die eerste omstrede episode, rondom Simon die Towenaar, skep die indruk dat die “Samaria bediening” nog afhanklik is van Jerusalem.

Die strekking van die hele verhaal is egter dat nie Filippus of die Ethiopiër die protagonis van die  verhaal is nie, maar die Heilige Gees. Dit is die Gees (Engel) wat Filippus oproep om reg te maak (26), Die Gees gee hom die opdrag om by die wa te loop (29) en die Gees neem hom weg (29) na die doopgebeure.

Die Episode oor die Ethiopiër onderstreep dat “die rustelose Gees” (Willimon), die kerk neem oor nuwe geografiese en kulturele grense op pad na die “uithoeke van die aarde”. Die vrae en spekulasies oor die Ethiopiër loop uiteen. Sommige teken hom as ‘n tragiese, ongelukkige (ontmande!) en verwarde amptenaar. Sommige onderstreep weer die feit dat hy na Jerusalem toe is om te aanbid. Dit maak hom ‘n Joodse proseliet en/of een van die sogenaamde “godvresendes” in die boek Handelinge – soos byvoorbeeld ook Cornelius, die eerste “heiden-bekeerling”. Sommige wil hê dat hy gesien moet word soos die destydse Romeinse en Joodse inwoners hom sou sien … ‘n vername man (amptenaar van die koningin), met baie mag (min of meer ‘n Minister van finansies),  van ‘n invloedryke land en met sy swart vel sou hy geëer en bewonder gewees het as ‘n uitsonderlik en eksotiese mens wat (letterlik) van die uithoeke van die destydse wêreld gekom het.

Ons het al almal hartroerende preke gelees en gehoor oor aspekte en motiewe in dié verhaal. Sommige uitdrukkings het in die kerklike taal en liturgie byna klassiek geword, byvoorbeeld  wat verhinder dat ek gedoop word” – oor wie gedoop en ingelyf word by die kerk    

Verstaan u wat u lees” – oor die belangrikheid van hermeneutiek en Skrif uitlê  

“by hierdie Skrifgedeelte begin en … Jesus verkondig” – oor Christologiese prediking en Skrifuitleg. Byna soos met die Emmausgangers.

Dit was ‘n stil pad” en “Hy het sy reis met blydskap voortgesit” – oor mense  wie se sinlose lewe sinvol geword het. Liturgies kan dalk iets van die vreugde gemaak word!!

Preekvoorstel

In sekere kerklike kringe maak hulle sake vir hul lidmate hanteerbaar deur ‘n onderskeid te tref tussen “soekers” en “dieners” (seekers & ministers). Daarmee probeer hulle sê dat jy òf nog soekend is, òf gevind het en nou dienend werk in die koninkryk. In ons gelese gedeelte kry ons een mooi profiel van beide ‘n soeker en ‘n werker.

 

In die Ethiopiër sien ons sekere tipiese tekens van ‘n soeker. Soekers word voorberei. Die feit dat die Ethiopiër Jerusalem toe gegaan het om te aanbid maak van dié man ‘n soort “godvresende”. Alhoewel dit duidelik uit die hele verhaal blyk dat hierdie ritueel nie vir hom die vreugde en volheid gebied het nie, kan die voorbereidende werk van godsdienstige gewoontes en rituele nie onderskat word nie. Wat wel ‘n ernstiger probleem is, is wanneer die blootstelling aan godsdienstige gewoontes ‘n mens net genoeg kennis gee vir selfregverdiging en gewete-moord. 

 

Soekers vra vrae

As mense vrae vra omdat hulle werklik eerlike antwoorde soek, weet ons die Here het hulle voorberei en moet ons met groot geduld langs hulle gaan sit … al is dit moeilike vrae. Party vraerye irriteer ons egter, omdat dit ‘n “kat-en-muis-spelery” is om nie by die werklike saak uit te kom nie. Dit is veral waar as mense vrae optoor rondom randverskynsels in die Bybel. Dit is nie ‘n werklike soeker nie, maar net ‘n wees, omdat die krisis al die onbelangrike sake weggestroop het. Krisis-vrae het egter ook ‘n oppervlakkigheid, omdat dit soms net deel is van ‘n mens se behoefte om aan die pyn van die oomblik te ontsnap. Maar soekers vra vrae en ons moet gereed wees om te luister. Ons moet ook geduld hê met soekers.

Soekers word ook vinders

Dit is miskien die mooiste in die verhaal. Langs die weg van Bybeltekste, saam met ‘n belangstellende gelowige wat “vol was van die Gees”, raak ‘n mens gewillig om te leer (‘n “teachable spirit”) en omdat die insigte rondom wie Jesus is ‘n mens verander … lei dit tot aanvaarding in ‘n geloofsgemeenskap (doop) en vreugde op die reis. Ons sal nooit weet hoe lank dit was wat die Ethiopiër soekend was nie … dit maak ook nie werklik saak nie … om te vind, of eerder of gevind te word is die grootste vreugde.

 

In Filippus sien ons tipiese kenmerke wat hoort by ‘n lidmaat of gemeente wat dienend is. Dieners is sensitief vir die Gees. Die oorweldigende indruk van Filippus is dat hy “vol van die Gees” was en dat die Heilige Gees hom gelei het. Dit is nie vir ons ewe maklik om vandag te sê presies hoe hoor ‘n mens die Here se opdragte soos in hierdie storie nie. Ons moet darem ook onthou dat hierdie ‘n latere oorvertel van ‘n storie is. Dit is makliker om met ‘n latere terugblik die stem van die Gees te koppel aan ‘n episode met ‘n inspirerende einde. Ons sal egter nooit weet wat die einde is nie, as ons nie gehoorsaam is aan die moontlikheid dat dit God se Gees is wat ons lei nie. Dit vra vir sensitiwiteit en ‘n onderskeidingsvermoë wat net met herhaalde oefening ontwikkel word. Die vyand van hierdie sensitiwiteit is ‘n siniese ingesteldheid. (Siniese mense word nie maklik gehoorsame dieners nie – Filippus het dadelik gegaan … gehardloop .. !)

 

Dieners kan aansluiting vind by mense

Die storie teken vir ons ‘n Filippus wat met ‘n dringendheid hom voorberei en dat met ‘n groter dringendheid by sy taak wil uitkom … en dan kom hy met ‘n belangstellende vraag. Ek wil graag dié vraag verstaan as sy vermoë om aansluiting te vind … sy begeerte om te luister en aansluiting te vind eerder as die ooptrap van ‘n deur om ‘n evangelisasie-pakkie af te laai. Die ooreenkoms tussen Filippus en Jesus wat met die Emmausgangers saam loop is opvallend! Dit is asof die geneser Lukas weet dat ‘n rustige saamloop, saamry en wedersydse gesprek die weg is waarlangs die Gees by ‘n mens se gees uitkom om sy lewendmakende werk te doen.

 

Dieners ken die Skrifte en ken vir Jesus

Miskien is daar ook oor koeitjies-en-kalfies gesels, of oor die weer, of oor die politiek van Jerusalem en Ethiopië of oor Ethiopië se nasionale sportliga … maar die wesenlike wat vir ons oorvertel word is dat die lees en interpretasie van die Bybel die ruimte van die Gees se werksaamheid is. By Filippus is daar ook geen ander belang as om die Ethiopiër by Jesus (en nie by die nuutste argumente op die

mark) uit te bring.

Ons sal egter die punt van dié verhaal totaal mis as ons dink Lukas gee vir ons net ‘n interessante kykie of studie oor “soekers en dieners”. Ons moet die groter konteks sien waarbinne soekers en dieners hul lewe leef. God is in liefde op pad na al die nasies / mense / tale / lande / kulture ensovoorts en Hy soek mense op deur mense te gebruik Hy roep mense en skakel hulle in sy heilsplan in. Om deel te wees van hierdie beweging, beteken dat ‘n mens moet hoor en gehoorsaam binne jou eie konteks. Daar is miskien te veel gemeentes wat net ‘n warm en veilige ruimte wil skep waar lidmate onbedreigd kan terugsit en rus … verkieslik saam met mense wat “soos ons is” en nie eise stel nie … . Dié verhaal wat hier afspeel is anders … die kerk word gedreig, sy voortbestaan bedreigd en dan druk die Here hul nog oor nuwe grense! Hulle moet na nuwe geografiese gebiede … sonder die statussisteme van Jerusalem! Hulle moet oor taal en kultuur grense … want die Here het almal lief en Hy wil en sal by sy skepsel – hoe vreemd ookal vir jou eie wêreld – uitkom. Die hoofarakter in hierdie storie is dus nie die soeker of die diener nie, maar God se rustelose Gees … op soek na mense wat God soek.