Handelinge 5:17-42 (Fanie Herholdt)

22 April 2001

Tweede sondag in paastyd

 

Ander tekste: Johannes 20:19-31, Openbaring 1:1-20, Psalm 150

 

Wie die Leidsman en Verlosser ken, praat met nuwe energie.

Teks

Handelinge 5:17–42 is deel van ‘n groter blok – wat eintlik in hoofstuk 3 begin met die genesing van die verlamde (Let op hoe die opwek van ‘n verlamde ‘n verband lę met die opstanding). ‘n Ondervraging en vervolging volg daarop. In terme van Handelinge 1:8 verhaal die perikoop die dinge – naas Pinkster – wat ‘in Jerusalem’ gebeur  en wat die pad voorberei na ‘Judea en Samaria’.

 

Die perikoop het verskillende onderdele.

Vers 17 – 21a:                Die Apostels word gevang, in die tronk gestop en deur ‘n Engel bevry met die opdrag om ‘die volle boodskap van hierdie nuwe lewe’ te verkondig.

Vers 21b – 32:                   Die Apostels word gehaal en ondervra/berispe omdat hulle die swyggebod ignoreer. Petrus en Johannes maak ‘n kort ‘toesprakie’.

Vers 33 – 40 :                       Die Raad reageer in woede, maar Gamaliël spreek die wyse woorde wat daartoe lei dat die apostels geslaan en laat los word.

Vers 41 – 41 :                       ‘n Samevattende slot sę dat die apostels bly was om so bevoorreg te wees om ter wille van Christus te ly … en dat hulle nie opgehou het om te verkondig dat Jesus die Christus is nie.

Die prediker sal kwalik aan al hierdie dele aandag kan gee en sal na alle waarskynlikheid ‘n keuse moet maak van waar hy/sy die swaarder aksent wil lę.

Konteks

Daar is verskillende lyne, patrone en ondertone wat ons kan help om tot ‘n besluit te kom oor ‘n spesifieke preek – met name ‘n preek in die PAASKRING

Volgens tradisie word daar nie ‘n Ou-Testamentiese gedeelte tydens Paastyd gelees nie, maar ‘n teksgedeelte uit Handelinge – omdat die Nuwe-Testamentiese kerk  DIE NUWE  VOLK VAN GOD is met wie Hy op pad is na sy NUWE WęRELD. Die opstanding maak hierdie nuwe lewe moontlik.

Lukas is ‘die verhaal van Jesus’ en Handelinge is ‘die verhaal van die liggaam van Christus’.   Eersgenoemde eindig by die opstanding en laasgenoemde is die voortgang van die geskiedenis van die verhoogde Here. Daar is wat hierdie perikoop betref, besondere parallelle tussen Jesus en die kerk.

Soos met Jesus ontstaan die probleme na aanleiding van genesings en ‘met watter gesag’

Soos met Jesus word die weerstand algaande al erger en meer blatant – hoewel daar ook ‘n deurlopende welwillendheid by die ‘volk’ is. Soos met Jesus se verhoor sien ons al die ‘ou tricks’ van ‘n heen-en-weer gestuur word tussen gesagsgroepe. Soos met Josef van Arimitea is daar ook ‘n uitsonderlike raadslid Gamaliël. Soos Pontius Pilatus openbaringswoorde kon uiter, doen Gamaliël dit ook (vers 39).

Die Boek Handelinge word verskillend gestruktureer, maar een van die bekendste is Handelinge 1: 8 se konsentriese sirkels van Jerusalem, Judea en Samaria  en die uithoeke van die aarde. Dié teks val in die gedeelte oor ‘‘n Jerusalem’. Die perikoop beskryf die weerstand van die offisiële maghebbers – die Joodse godsdiens/kultuur, versimboliseer in die tempel – teenoor die evangelie en krag van die opgestane Heer – sigbaar in die handelinge van die apostels. In hierdie proses word ontbloot hoe maghebbers is duidelik gemaak hoe die apostels reageer en wat/wie hulle aandryf verhelder waarom die evangelie nie in Jerusalem gebly het nie. Die bevryding uit die tronk – met geslote deure – lei die gedeelte in met ‘n opstandingsmotief.

Daar word dikwels verwys na die rol van die ‘toesprake’ in Handelinge as ‘n spesifieke genre, wat baie bewustelik ingespan word deur Lukas om hoogtepunte en draaipunte in sy verhaal uit te lig. (Sien WtL I/9, p 85-86). Vers 29 – 32 is so ‘n ‘toesprakie’. In die verskillende toesprake word ‘n interessante Christologie ontwikkel, onder andere aan die hand van titels wat vir Jesus gebruik word.  Hier is dit spesifiek Jesus as ‘Leidsman en Verlosser’.

Daar is baie sub-motiewe in die perikoop.

Die probleem rondom die tempel as openbaringsruimte … en die verskuiwing na huishoudings. Lees Woord teen die Lig 1/9, p 120-123.

Daar is die skouspelagtige ontsnapping uit die tronk, maar ook die minder aangename, want hoewel die apostels met hulle lewe daarvan afkom, verduur hulle lyding / letsels / ‘n kruis. Let op vers 18, 40, 41.  Hier word die patroon gevestig vir die latere ‘martelare van die kerk’.

Die sleutelwoorde van elders in die Handelingeboek – dat die evanglie ‘onverhinderd en met vrymoedigheid’ verkondig is, kry ‘n interessante gestalte in die gedeelte. Let op vers 20 , 21/  32a / 42 ! Lees Woord teen die Lig 1/9, p 127-130.

Dink oor die interessante verhouding (spel) tussen die maghebbers en die volk en die kerk wat binne hierdie pole volgelinge van die opgestane Here is. Wat sou dit beteken om God meer gehoorsaam te wees as mense? Dit word hier met groter oortuiging gesę as die vorige keer in 4:19.

 

‘n Preek uit die gedeelte kan uit enige van bogenoemde gekies word … afhangende van die gehoor en die prediker en hul verhouding. Die kerkjaar vra dat dit Paasprediking sal wees, en daarmee is die konteks gegee:

Persoonlik dink ek die vrugbaarste moontlikhede lę in die gesag en gehoorsaamheidskwessie en die vrymoedigheid van die apostels binne die spanningsvelde wat die opstanding skep. Die titels van die Jesus. God wat nie vanselfsprekend in die georganiseerde godsdiens woon nie … want dit kan ook tekens van die dood wees.

Omdat nommer 1 en 3 hierbo elders in Woord teen die Lig I/9 (verwysings hierbo) beskryf word, kies ek hier vir die tweede opsie, naamlik wie is Jesus?

Preekvoorstel

Koning, Herder, Meester, Brood van die Lewe, Verlosser, Die Kneg van die Here, Lig van die węreld, Rots, Lam van God, Raadsman, Vredevors, Immanuël, Jesus, Gekruisigde, Gesalfde, Seun van die mens, Eniggeborene, Sterke God, Rabbi, Koning van die Jode, Seun van God, Die Môrester …

 

Die vele name van Jesus Christus en die vele kante en gesigte van Hom van wie ons bely dat Hy ons Here is. Wie is Jesus? Wie is Jesus, regtig ? Op die boekrakke is die laaste paar jaar weer heelwat nuwe boeke wat aandag gee aan hierdie vraag. Gesoute kerkmense ontdek keer op keer nuwe kante aan Jesus, sodat een van die bekende boeke vandag die titel dra: The Jesus I never knew. (Yancey)

Die dissipels het destyds – veral in die evangelies – ook maar gesoek na wie Jesus werklik is. Soms, net soms, het hulle (Petrus) met ‘n duidelike belydenis gekom. Maar die indruk wat ons kry is dat hulle maar al soekende en gefassineerd Hom volg … onseker oor wie Hy is en waarom Hy gekruisig is en weer opgestaan het. Die dissipels is daarom ook maar tentatief in hulle navolging van Christus. Dink maar aan Petrus se verloëning en die ander se afwesigheid toe die moeilikheid naby was. Die hele prentjie verander wanneer ons in Handelinge kom.

‘n Lafhartige Petrus getuig teenoor ‘n skeptiese skare. Petrus en Johannes verdedig Jesus se Naam voor ‘n vyandige groep maghebbers en later ‘n onverskrokke Paulus wat na die uithoeke van die węreld gaan tot in Rome…seker oor wie Jesus is. In Handelinge word ‘n verhaal vertel van hoe die Christene met al meer oortuiging, vrymoedigheid en duidelikheid getuig en bely wie Jesus is. Selfs bly dat hulle vir Hom kon ly!

Lukas het dit opgeteken en interessant genoeg tussen die verhale deur elke nou en dan ‘n ‘toespraak’ ingevoeg. In hierdie ‘toesprake’ kry ‘n mens die kern-belydenis van die vroeë Christene. Elke keer word verskillende titels vir Jesus gebruik. In ons gelese gedeelte gaan dit oor die bevryding (uit die tronk) en die vrymoedige getuienis van die gelowiges ten spyte van toenemende weerstand. Die sleutel vir hierdie vrymoedigheid is opgesluit in die wyse waarop hulle Jesus ken en volg. Hy word hier beskryf as die ‘Leidsman en Verlosser’.

Die griekse woord vir ‘n Leidsman staan in verband met ander woordbetekenisse, soos:

Die begin …  die eerste een … die voorloper … die baanbreker … die pionier … die leier … die gesaghebber … die regeerder  (koning of prins) … die oorwinnaar … die voorste een in tyd, plek en gesag. Die titel is dikwels gebruik in ‘n militęre konteks waar iemand die voortou neem op pad na die oorwinning oor moeilikhede. Soms verwys dit ook na ‘n charismatiese persoon wat die voortou neem om ou gebruike en vaste patrone te oorkom. Dit is alles waar van Jesus en so ken die dissipels hom na sy opstanding. Die uitdrukking dat Hy aan die regterhand van die Vader is sou dieselfde kon beteken. Hy regeer en Hy bepaal die rigting.  Hy is ons Leidsman. In Handelinge 3:15 noem Petrus Hom spesifiek die Leidsman na die lewe … teenoor die maghebbers binne die sosiale en godsdienstige węreld. Hulle is skyn-leiers wat uiteindelik doodmaak, terwyl Jesus voor loop en die lewe bring. Dit is die konflik van hierdie gedeelte en dit verklaar waarom die volgelinge so vrymoedig kan wees.

Om ‘n dissipel en navolger te wees word verskillend beskryf: … soms word dit gekoppel aan ‘n mens se denke wat vernuwe … soms verwys dit na die emosionele vrese wat oorkom moet word, maar ten diepste gaan dit om die wil wat gehoorsaam. Die enigste manier om vrymoedigheid, bereidheid om met vreugde te ly, te volhard ten spyte van weerstand, dapperheid, onverskrokkenheid te kweek is om in jou wil gesterk te word. En daar is geen beter wyse om die wil te sterk nie as om ‘n leier te hę. Dit is die waarde van ‘n rolmodel, die geestelike krag, gesag en voorbeeld wat van so ‘n persoon uitstraal wat mense energie gee en motiveer … al is hulle bang en onseker van hulleself in moeilike omstandighede. ‘n Mens sien dit op sportgebied, militęre gebied en op politieke gebied.

Daar is die bekende verhaal van die dapper veggeneraal wat met 100 lojale manskappe bo-op ‘n berg vasgekeer is deur ‘n oormag van duisende. In plaas van ‘n kort eensydige geveg het die oormag toe gesante gestuur om die generaal te vra om oor te gee. Op sy beurt roep hy een van sy manskappe en gee die opdrag: Val in jou swaard … wat die manskap met oorgawe doen. Hy laat ook ‘n tweede manskap roep en gee die opdrag dat hy oor die krans moet spring … wat hy onmiddellik doen. Daarna rig die generaal hom tot die afvaardiging. Gaan sę vir julle bevelvoerder hier is nog 98 sulke manne! Onnodig om te sę dat die groep – met die generaal op die voorpunt – hulle weg met minimum verlies oopgeveg het na vryheid.

Die dissipels bely dat hulle Jesus ken as Leidsman. Vandaar hulle vrymoedigheid en energie ten spyte van bedreiging. Ken JY Hom? Ken jy HOM … as Leidsman. Volg Hom in sy spoor met dapperheid.