14 April 2002
Derde Sondag in Paastyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Handelinge 2:14a, 36-41.
INLEIDING
Vers 36 van die fokusteks lui soos volg:
"Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus
gemaak!"
Dat Jesus Here en Christus is, is deur die opstanding bewys. Hy, die opgestane Here Jesus, heers met reg oor die
dood én die lewe. Hierdie wete gee ons hoop en rig ons hele lewe. Hieraan wil die liturgievoorstel wat volg
uitdrukking gee.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Toetrede
Indien die gemeente oor ’n koor beskik, kan die koor gevra word om ’n Paaslied te sing wat aan die gemeente
bekend is (bv Ges 142, 147 of 155), met die gemeente wat moontlik ’n laaste strofe saamsing. ’n CD-snit met
Paasmusiek sou andersins ook goed gebruik kon word. Lied 414 van die nuwe Liedboek op die begeleidingsdisket
wat verlede jaar aan gemeentes gestuur is, is ook geskik om voor te speel.
Votum
Die votum wat by Paasfees gebruik is, is uiters geskik om vandag te gebruik, in die lig van die inleiding. Indien iets
anders verkies word, kan die volgende oorweeg word:
Liturg: Die Here is baie goed vir ons. Ons God vou ons soos ’n ma in haar liefde toe. Die Here beskerm
mense wat aan die einde van hulle kragte gekom het. Toe ons op ons swakste was, het Hy ons
gehelp. Daarom kan ons sê:
Gemeente: Ontspan. Wees rustig. Die Here is baie goed vir ons.
Psalm 116 uit Die Boodskap.
Seëngroet
God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede.
Lof en aanbidding
Psalm 116:1, 2, 3; Lied 419.
God se tien gebooie in eietydse gewaad
Die liturg lees die volgende:
Ek is die Here, jou God.
Jesus het jou deur sy kruis en opstanding vrygemaak van die slawerny van sonde. Daarom behoort jy aan My.
Lei daarom ’n lewe van dankbaarheid wat wys dat jy vrygemaak is.
1. Moenie by ander gode steun soek nie. Hulle laat jou vroeër of later in die steek.
2. Ek is altyd by jou teenwoordig. Daarom hoef jy nie allerlei stom beelde te maak om My teenwoordig te
probeer maak nie.
3. Moenie My beledig deur jou goddelose óf vrome gevloek nie.
4. Maak van Sondag ’n mooi en rustige dag. Die Here het op dié dag opgestaan.
5. Hou jou pa en ma se naam hoog. Hulle sal hulleself te kort doen ter wille van jou.
6. Respekteer ander mense lewe. Hulle het dit immers van My ontvang.
7. As jy getroud is, moet jy getrou bly aan jou man of vrou. Veg vir die geluk van jou lewensmaat.
8. Moenie vat wat aan iemand anders behoort nie.
9. Deur die woorde wat jy gebruik – in die openbaar of in die geheim – kan jy jou medemens maak of breek.
10. Moenie jaloers wees op die geluk en voorspoed van ander nie.
Skuldbelydenis en verootmoediging
Gemeente: Lied 25:4 in die Liedboek. (Dit is die ou Psalm 25.)
Liturg: Omdat ons glo, is ons saak met God nou reg. Hy is nie meer kwaad vir ons oor al ons sondes nie.
Daar is nou vrede tussen Hom en ons. Dit is natuurlik alles te danke aan ons Here Jesus Christus.
Hy het gesorg dat ons in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Christus het die deur van God
se genade wawyd oopgemaak vir ons. Nou kan ons feesvier. Ons weet immers dat daar ook vir
ons plek in God se nuwe wêreld is.
Romeine 5 uit Die Boodskap.
Belydenis van geloof
Gemeente sing: Lied 219:1.
Gemeente sê: Die Apostoliese Geloofsbelydenis.
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese: om die opening van die Woord
Ons Vader, U het vir ons Jesus gestuur. Die brood wat uit die hemel kom en die water wat ons geestelik heeltemal
versadig. Gee ons asseblief vandag van dié voedsel uit u Woord, sodat ons nooit weer geestelik honger en dors
word nie. Amen.
Skriflesing en Woordbediening
Lukas 24:13-35 en Handelinge 2:4a, 36-41.
DIENS VAN DIE TAFEL
Nagmaalviering
Voorbidding en danksegging
Offergawes
UITSENDING
Antwoordlied
Psalm 116:7, 8, 9, 10.
Seën
Julle is nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop nie. Julle is losgekoop met die kosbare bloed
van Christus. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom
is julle geloof en hoop op God gerig.
Gemeente: Lied 313.
Tema
Mense wat die opstanding in hulle verbeelding kan sien, is bereid om hulle verbeeldinglose lewe agter te laat en ’n
keuse te maak vir ’n nuwe soort lewe.
Teks
Dit is nie sonder rede nie dat die Skriflesing verse 14a en 36 insluit. Die gebeure van verse 37-41 sal mank gaan
aan diepte en betekenis as dit nie as reaksie op die voorafgaande toespraak van Petrus gelees word nie. Aan die
ander kant moet die prediker seker maak dat die fokus in die prediking wel val op die derde deel van Petrus se
toespraak, die paranetiese (voorskriftelike) oproep.
Dit is duidelik dat Petrus in sy Pinksterdagtoespraak besonder klem lê op die eindtydbeloftes wat die een ná die
ander in vervulling kom. Soos die profete voorspel het, het die "laaste dae" (v 17) aangebreek met die koms van
Jesus as die Christus. Vir die hoorders wat iets begin verstaan het van die nuwe era wat aan die realiseer was, het
die lewe ’n nuwe dringendheid verkry en bekering was die aangewese manier om hierop te reageer. Tog moet ons
nie in Petrus se oproep tot bekering ’n oorspanne toekomsverwagting inlees nie (vgl Schalk van Wyk). Dit was nie
omdat die geskiedenis nou ten einde geloop het dat die eerste Christene so dringend opgetree het nie. Dit was
eerder die beloftes wat met Jesus se dood en opstanding in vervulling gegaan het en waarvan die Gees wat
uitgestort is op Jesus se volgelinge, die eerste teken was.
In hierdie opspraakwekkende gebeure funksioneer vers 36 as die samevattende tese van Petrus se toespraak.
Wanneer Petrus verduidelik dat die opstandingsgebeure ’n hoogtepunt bereik in die verhoging van Jesus en
derhalwe aan Hom die mag en eer verseker om die Heilige Gees uit te stort, is hy terug by die aanvanklike
motivering vir sy toespraak. Dit is op hierdie punt van Petrus se vertelling dat die gehoor onvermydelik voor ’n besluit
te staan kom. Die reaksie van die gehoor en die paranetiese oproep tot bekering in verse 37-41 volg daarom
noodwendig op Petrus se stelling dat Jesus van Nasaret die Heer en Messias is. Dit is om dieselfde rede dat Jesus
die Heer en die Christus gemaak is, dat Petrus die belangstellendes in sy Naam vergifnis van sonde sowel as die
gawe van die Heilige Gees kan verseker (v 38).
Indien ons na van die ander toesprake in Handelinge kyk, lyk dit asof Lukas die opstandingsgebeure juis op só ’n
manier in die kern van apostelgetuienisse stel dat dit ’n appèl maak op die hoorders, by hulle ’n besluit afdwing en
’n oproep word om te verander. Sodoende word hierdie paranetiese oproepe telkens die "eintlike" doel van die
Handelingetoesprake oor Jesus as die opgestane Christus. Die inhoud van die oproepe is telkens "word behou" (v
40). Behoud of soteria is dié bepalende en beslissende faktor in Handelinge (vgl Dirkie Smit). Petrus se vertelling
bly dus nie net by verduidelikings nie, maar word ook ’n oproep om redding.
Wanneer Petrus die hoorders oproep tot bekering en behoud, mag dit wees dat Lukas hier dink aan die hoorders
wat inwoners van Jerusalem was en daarom skuld gedra het aan Jesus se dood. Wanneer God dan kies om Jesus
te verhoog, lê dit terselfdertyd die dieptepunt van die Jode se sonde, hulle verwerping van God se Seun en hulle
keuse vir die Messias bloot.
Die noem van die getal van 3 000 nuwe bekeerlinge is kenmerkend van Lukas se manier om aan te dui hoe die
Gees vanaf Pinksterdag die krag wat daar in die opstanding van Jesus Christus losgekom het, in die lewe van
gewone mense laat deurbreek. In ons fokusverhaal gaan dit oor die Jode in Jerusalem. Later sal Lukas al hoe meer
verhale insluit wat vertel van sosiaal verwerptes, uitlanders, buitelandse weermagoffisiere, kerkhaters en ander
heidene wat ook die opstandingskrag van die Gees leer ken.
Konteks
Petrus se oproep tot bekering en doop behoort nie vreemd vir die hoorders te geklink het nie. Johannes die Doper
se optrede was onder dié predikers wat bekend was vir sulke bekeringsdope in Judaïsme (vgl Mark 1:4). Jesus self
het ook mense daartoe opgeroep (4:17). Die oproep tot bekering was ’n integrale deel van die aankondiging van
die goeie nuus (vgl Hand 3:19; 8:22; 17:30; 20:21; 26:20).
Wanneer die doop hier genoem word, is dit die eerste keer dat ons kennismaak met die praktyk van die Christelike
doop. Die vanselfsprekende manier waarop Petrus dit sonder verduideliking aan die gehoor stel (en Lukas aan
latere lesers), laat sommige navorsers twyfel oor die egtheid van die teks. Dit is egter goed om in gedagte te hou
dat ook die dooppraktyk nie vreemd of nuut in die Judaïsme was nie. Hier op Pinksterdag was die doop die uiterlike
teken van bekering. In Handelinge word die doop deurgaans verbind aan sondevergifnis en die ontvangs van die
Gees as gawe (vgl 18:25; 19:3 ev).
PREEKSTUDIE - HANDELINGE 2:14a, 36-41
Petrus beklemtoon egter dat hierdie doop op Pinksterdag in die Naam van Jesus Christus geskied. Dit dui op die
nuwe vorm van gesag waaronder die nuwe gelowiges nou gaan leef. Die noem van die Naam om eiendomsreg aan
te dui, sluit aan by die Ou-Testamentiese gebruik van ’n naam. Die andersheid van die kerk se doop lê dus nie in
die vorm of uitdrukking van die ritueel nie, maar in die spesifieke Naam van Jesus Christus.
Vir ons kerkvader Calvyn was Petrus se appèl in vers 38 min of meer die samevatting van die hele evangelie. Vir
Calvyn was die krag van die Heilige Gees nie net in die wonder van verskillende tale wat op Pinksterdag gepraat is
nie, maar ook in die verandering wat gekom het in die lewe van mense wat na die verkondiging geluister het.
Met die twee gewilde trefwoorde, "doop" en "bekering", baie prominent in hierdie week se fokusteks, sou ’n prediker
sekerlik verlei kon voel om by een van hierdie twee begrippe as temas aan te sluit. Adrio König se bespreking van
dooptekste in sy boek Die doop as kinderdoop én grootdoop bied heelwat stof tot ’n gesprek oor so ’n tema. Die
vraag is egter of sowel die doop as bekering as afsonderlike temas reg laat geskied aan Lukas se beskrywing van
die voortgaande ontwikkeling wat begin in die Paas- en Pinkstergebeure en neerslag vind in die nuwe
geloofsgemeenskap van die kerk. Teen die gevaar in om ’n enkele begrip te oorlaai, wil Schalk van Wyk bekering
(metanoia) eerder in die enger sin verstaan as ’n verandering van gedagtes. Die gehoor moes verstaan dat hulle
wat Jesus gekruisig het, nou anders oor Hom moet begin dink.
Heelwat navorsers het hulle uitgelaat oor die vraag of Petrus, wanneer hy ook melding maak van die belofte "vir
almal wat daar ver is ...", die Jode in diaspora in gedagte het en of hy alreeds die heidene in die oog het. Alhoewel
sommige reeds wil inlees dat die heidene hierby inbegrepe is, maak Pieter de Villiers ’n goeie saak daarvoor uit dat
Lukas hier die inwoners, sowel as die diaspora-Jode wat na Jerusalem teruggekeer het, in gedagte het. Ook
wanneer Petrus verwys na die "ontaarde mense" (v 40) maak dit meer sin om dit te verstaan teen die Joods-
Jerusalemse agtergrond. Eerder as om te dink aan al die verlore sondaars van die wêreld verwys Petrus
waarskynlik na die Jode wat Jesus Christus gekruisig het (v 36). Hulle het die Messias verwerp en die enigste
manier om God se oordeel te ontkom, is om gered te word, behoue te bly – om Jesus as Messias in bekering en
doop te aanvaar.
Die noukeurigheid waarmee Lukas die rol en bydraes van die apostels en ander gelowiges beskryf in die
verskillende bekeringsverhale in Handelinge onderstreep die sleutelfunksie van die getuienis van mense. Die
mensgetuies word die onmisbare draer van die heilsgebeure in Jesus Christus. En so word die kerk in die
Apostoliese Geloofsbelydenis as eerste werk van die Heilige Gees bely.
Alhoewel die preek van Dirkie Smit (Woord teen die Lig I/3) die tema van vers 36 baie sterk uitbou wanneer hy
uitgaan van veral die woorde in vers 24, sou dit enige prediker goed doen om kennis te neem van die manier waarop
hy op ’n aktuele manier Jesus Christus vandag nog steeds as die enigste moontlikheid van werklike lewe verkondig.
Hierteenoor word alle ander vorme van soeke na behoud, lewe, geluk en sekuriteit afgewys as niks anders nie as
’n lewe in die mag van die dood.
Op sy beurt waarsku Schalk van Wyk predikers om nie die teks reglynig op hulle gemeentes van toepassing te maak
nie. "In die teks word mense aangespreek voordat hulle gemeentelede geword het – ons preek vir mense wat reeds
gemeentelede is, reeds gedoop is." Hy stel voor dat ons eerder met die teks "doen wat die dissipels gedoen het toe
hulle met die Gees gedoop is: die groot dade van God verkondig". Schalk van Wyk bied (Woord teen die Lig I/5) ’n
baie goeie voorbeeld van ’n preek wat presies dít wil doen.
Myns insiens behoort ’n preek wel die onherhaalbaarheid van die Pinksterdag as spesiale, eenmalige gebeure te
respekteer. Aan die ander kant wil ek ook nie die hele vraag na die entoesiastiese gehoorsaamheid van die skare
ignoreer nie. Hierin wil ek vir Fanie Herholdt volg wat aandui hoe Lukas van die gebeure in vroeë kerk vertel, juis
sodat ons dit later sal lees en daardeur net so opgewonde kan raak oor die evangelie van Jesus Christus en ook
op die punt kom om te sê: Ons wil ook! Ek wil glo dat daar tog ’n leidraad of twee oor gehoorsaamheid vir die kerk
in hierdie gebeure op te tel is.
Preekvoorstel
Die preekvoorstel wat volg, is miskien meer hermeneuties as homileties van aard en kan daarom nie net so gepreek
word nie. Dit is egter ’n poging om gedagteprikkels te wees met die oog op ’n preek.
By elke dominee of pastor wat preek, bly dit ’n diep begeerte om só te kan preek dat die mense agterna nie oor
Saterdagmiddag se rugby of die billikste selfoontariewe sal gesels nie, maar sal vra: "Wat moet ons doen? Wat
verwag God van ons? Hoe kan ons meer gehoorsaam wees?" Uiteindelik is dít die soort storie wat nie net elke
prediker nie maar ook elke lidmaat graag vertel oor die kerk. Die verhale van mense wat verander het. Mense wat
’n nuwe lewe leer ken het.
Wanneer ons dan die vraag ernstig vra – hoe klink ’n preek wat mense tot bekering bring? – wat sou ons sê? Dis
net die oorselfversekerdes onder ons wat ’n vinnige en eenvoudige antwoord hierop sal waag. Vir die ander van ons
kan dit dalk goed wees om ’n oomblik te huiwer. Walter Brueggemann (1989:84-90) merk op dat hy in sy
hoedanigheid as dosent tydens die opleiding van voornemende predikers na ’n magdom preke luister. Dié preke
probeer almal om mense sover te kry om na God se stem te luister. Dit is opvallend hoeveel van die preke God se
stem in terme van ’n klomp "moets en moenies" beskryf. Al wat dit egter regkry, is om ’n soort weerstand in hom op
te bou, sê Brueggemann. Wat hy as luisteraar nodig het, is nie meer advies nie, maar energie; nie meer informasie
nie, maar waagmoed en vrymoedigheid om te kan leef uit dít wat hy alreeds in die evangelie ontvang het.
Brueggemann verwys na Paul Ricoeur wanneer hy die punt maak dat gehoorsaamheid die gevolg is van verbeelding
("obedience follows imagination"). As ons prediking mense se lewens moet raak, moet ons prediking oop
wees vir die alternatiewe toekoms wat die evangelie in die vooruitsig stel, oop om die wêreld en onsself in die lig
van die kruis en die opstanding te sien.
Wanneer Petrus opstaan saam met die ander elf wat die nuwe koninkryk reeds gesien en ervaar het, vertel hy die
omstanders van hierdie nuwe tyd wat aangebreek het. Petrus interpreteer vir hulle die geskiedenis en toekoms.
Teen die agtergrond van die opstandings- en Pinkstergebeure het die lewe nuwe hoop gekry. Met die opstanding is
hierdie Jesus, wat eers verwerp is, aangewys as die eintlike Here en eintlike Christus (v 36). Mense in afwagting
op ’n Messias hoor dat Hy hier is. Mense sonder God kry die Gees as gawe. Jongmense en oumense, mans en
vroue, elkeen wat verlang na die koms van die Here, "sien" die uitkoms. Vir Joodse gelowiges kon dit net een ding
beteken: Die diep verlange dat die wanbalanse in hierdie lewe herstel sal word, gaan in vervulling. Die profetiese
hoop beskaam nie dat ’n leeu en ’n bees bymekaar lê (Jes 11), dat swaarde ploegskare en spiese snoeiskêre word
(Miga 4), dat ’n nuwe verbond tot stand kom waar almal die Tora ken en vergifnis ontvang (Jer 31), dat ’n nuwe
skaapwagter koning word en regverdig regeer (Eseg 34), dat geplant en gebou en die opbrengs geniet word (Jes
65). Dít is wat God belowe het en dit is waarna Israel al die eeue verlang – die herstel van die wanbalanse in die
wêreld. (Vgl die manier waarop die eerste gemeente hulle alledaagse lewe inrig in die beloftevolle teenwoordigheid
van die Gees.) Dít is wat Petrus raaksien en ervaar en dít is waaroor hy praat.
En die hoorders wat net Jerusalem se donkieverkeer, buitelandse soldateskoene, korrupte staatsamptenare en
futlose tempeladministrasie ken, begin geleidelik bewus word van ’n ander werklikheid, ’n alternatiewe soort lewe,
’n koninkryk van die Gees. Die hoorders se verbeelding word aangegryp deur ’n man met die Naam Jesus van
Nasaret. Iemand wat kort tevore nog daar in Jerusalem was en nou die Here en die Christus genoem word. ’n
Gekruisigde wat lewe!
Vir Petrus en die ander in die kerk word Pinksterdag ’n geloofservaring: Die wêreld en al sy bronne, die geskiedenis
en al sy gawes, die lewe met al sy vreugdes en hartseer, is God s’n. En in Jesus Christus en die uitstorting van sy
Gees het God geweier om Hom uit te hou uit die gang van die geskiedenis. Dit is die belofte wat elke gelowige
ontvang in die sakrament van die doop (v 38). Die belofte dat God nooit sy oorspronklike plan met die wêreld sal
laat vaar nie. Ook nie met die sondaarmense van hierdie wêreld nie (v 39). Die doop maak ons oë oop om helder
te kan sien dat die wêreld, ten spyte van mislukking en vernietiging, veilig in God se beloftes is.
Dit is wat 3 000 hoorders sien. Dit is wat hulle opgewonde maak. Hulle sien mense, gewone mense, Jerusaleminwoners
en Galileabesoekers wat anders geword het. Mense wat leef in die kragveld van die Gees van hierdie
gekruisigde Man van Nasaret. Mense wat leef met die oortuiging dat hulle vergeefdes is. Mense wat beloftes glo
wat geld vir hulle en hulle kinders en vir nog baie ander mense (v 39). En wanneer hulle dít sien, die nuwe moontlikheid,
die nuwe werklikheid, beweeg hulle paradigma spontaan. Dan beweeg hulle spontaan in die verandering in
en is bekering vanselfsprekend. Dan is die doop die inlywing in hierdie nuwe soort lewe in die Gees van Christus.
Die nuutgedooptes is steeds inwoners in dieselfde Jerusalem, steeds uitgelewer aan dieselfde Romeinse staatsdiens,
ervaar steeds ekonomiese druk – maar hulle het gekies om te begin leef volgens die waardes van die nuwe
koninkryk. Die Gees maak van hulle mense wat hulle nie voorheen was nie – toegewydes, meelewendes, mense
wat saam eet en saam aanbid, mense met nuwe moontlikhede.
Iets van hierdie nuwe uitsig wat mense in beweging bring, word geïllustreer in Tony Campolo se bekende storie oor
die "preekkompetisie" in sy tuisgemeente. Tony vertel dat hy dié dag na sy mening en die gemeente se hoorbare
reaksie glad nie sleg gevaar het nie. Die gehoor het hom behoorlik gedra met hulle "Preach, brother, preach!"-
opmerkings tussendeur. Die vroue se hande was gedurig in die lug met "Well ... Well!" Nadat Tony gaan sit en die
volgende prediker sukkelend hoor wegtrek het, was hy oortuig dat die kompetisie van die dag reeds beklink is. Die
gemeente het die ouerige prediker ’n indikasie begin gee deur saggies onderlangs te mompel: "Help him, Jesus,
help him, Jesus!"
Die gebrom het egter nie lank geduur nie. Op ’n punt sê die ouerige prediker afgemete: "Today is Friday, but Sunday
is comin’!" Die gemeente het begin stil word. En toe die man voortgaan en sê: "Dit was Vrydag ... Dit was Vrydag
en my Jesus het vir dood gehang aan ’n stuk hout – but that was Friday, and Sunday is comin’!" roep een van die
diakens uit: "Preach, brother, preach!"
Dit was ál wat die ouerige prediker nodig gehad het. Hy het effens harder en duideliker probeer: "Dit was Vrydag en
Maria het hartverskeurend gehuil. Die dissipels het in alle rigtings aan die hardloop gegaan, soos skape sonder ’n
herder. But that was Friday, and Sunday is comin’!" Die gemeente het die boodskap begin kry. Die vroue het hulle
hande stadig begin wuif: "Well ... well." Die mans het hom saggies aangemoedig: "Preach, brother, preach!" Die
prediker het sy volume verdubbel: "Dit was Vrydag. Die siniese toeskouers het na die wêreld gekyk en gesê: Soos
dinge in die verlede was, so sal dit in die toekoms ook wees. Jy kan niks verander in hierdie lewe nie. Maar daardie
siniese toeskouers het nie geweet dat dit maar net Vrydag was nie. Sunday is comin’!
"Dit was Vrydag, en op Vrydag het Pilatus gedink dat hy sy hande skoon kon was van sy verantwoordelikhede. Die
Fariseërs het gelag en mekaar in die ribbes gepomp en gedink dat hulle weer in beheer van sake was. Maar hulle
het nie geweet dat dit maar net Vrydag was nie. Sunday is comin’!"
Die prediker het hierdie een frase ’n halfuur lank volgehou. Later het dit ’n uur geword. ’n Uur en ’n kwart. ’n Volle
uur en ’n half. Oor en oor. Die gemeente was op hulle voete. Die hande het gewuif. Stemme het uitgeroep: "Preach,
brother, preach!" Die man het net volgehou: "It’s Friday, but Sunday is comin’! It’s Friday, but Sunday is comin’! It’s
Friday, but Sunday is comin’!" Teen die einde was sy preek slegs twee woorde lank: "It’s Friday!" Want die gemeente
het daarop met een stem teruggeskree: "BUT SUNDAY IS COMIN’!"
Dit was Vrydag in Suid-Afrika. Om ons was daar snikke en sugte. In ons was vrees en wanhoop. Maar dit was
Vrydag. Sondag is aan die kom! Die Here het opgestaan en sy Gees is in ons. Laat ons leef soos Pinkstermense.
Bibliografie
Kommentare: Bruce, F F (NICNT); Calvyn, J (CNTC); De Villiers, J L; Willimon, W (Interp.)
Aanvullend: Brueggemann, W. Finally domes the poet (pp 79 ev). Campolo, T. Let me tell you a story. De Villiers, P
G R. Jesus tussen opstanding en wederkoms (DTh-skripsie, US, 1976). Herholdt, S J. Woord teen die Lig I/9 (pp
83-87). Smit, Dirkie. Woord teen die Lig I/3 (pp 65 ev). Van Wyk, S W. Woord teen die Lig I/5 (pp 110 ev).