7 April 2002
Tweede Sondag in Paastyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Handelinge 2:14a, 22-32.
Ander tekste: Psalm 16; 1 Petrus 1:3-9; Johannes 20:19-31.
Tema: "Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou" (Hand 2:24b).
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Moment van sentrering
Indien die kerkgebou oor die fasiliteite beskik, kan die volgende teks wat uit 1 Petrus 1:3-4 kom voor die aanvang
van die diens op ’n skerm vertoon word:
"Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe
lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die
onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word."
Dit beteken dat daar nie voorafsang moet wees nie. Orrelspel of ’n gepaste CD met klokkespel moontlik deel
daarvan sal gepas wees. Die liturg hoef ook nie gedruk te voel om die teks uit te lê nie. Die Gees sal dit na sy belofte
doen. Dit sal selfs nie nodig wees om aan die mense te sê dat hulle na die woorde moet kyk nie, hulle sal dit vanself
doen. Laat hulle onder leiding van die Gees toe om self hieroor meditatief na te dink.
Die doel hiervan is om die gemeente voor die diens iets te laat onthou van die grootsheid en implikasies van die
opstanding en hulle in die milieu van die teenwoordige, opgestane Here Jesus te bring.
Votum
Verkieslik dieselfde as die vorige Sondag s’n (sien die riglyn oor Pase). Indien afwisseling verkies word, kan die
volgende moontlik gebruik word:
Liturg: Die Here is elke tree van die pad by my. Daarom kan ek niks oorkom nie. My lewe loop oor van
vreugde. Nie eens die dood kan my meer bang maak nie, want U sal nooit toelaat dat die kloue
van die dood my vir altyd vashou nie. U sal nooit u eie kind, u oogappel, daar in die doderyk laat
vergaan nie. U stap heeltyd saam met my op die pad wat na die lewe toe lei.
Gemeente: Ek is so bly daaroor. Amen.
Handelinge 2:25-28 uit Die Boodskap.
Seëngroet
God, ons Vader, en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede.
Aanbidding en lof
Lied 219:1-3.
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese
Here, ons God en Vader, U het Jesus weer lewendig gemaak. Maak ons vandag deur u Woord en Gees lewendig.
En neem ons in beskerming. Ons behoort aan U. Leer ons hoe om te lewe. Amen.
Skriflesing en Woordbediening
Lees Psalm 16, Handelinge 2:14a, 22-32 en 1 Petrus 1:3-9.
DIENS VAN DIE TAFEL
Belydenis van geloof
Apostoliese Geloofsbelydenis en sing daarna Gesang 245:4.
Nagmaalviering
Danksegging en voorbidding
Die liturg gaan voor in vrye gebed.
Offergawes
UITSENDING
Antwoordlied
Lied 414.
Seën
Liturg: Gaan die wêreld in met die woorde van ons Here Jesus: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur
het, stuur Ek julle ook.
Gemeente: Soos die dissipels sê ons: Ons het die Here gesien. My Here en my God!
Gemeente: (Sing enige van die getoonsette Amens.)
Tema
Lewe vir almal!
Fokusteks
Handelinge 2:33.
Preekstudie
1. Met die herinnering aan Paasfees twee weke gelede nog vars in die gemoed, sien die gemeente reeds uit na die
viering van Pinksterfees oor vier weke. Pinkster is dié fees wat die magtige, helende teenwoordigheid van God in
die lewe van gelowiges uit alle volke, nasies en tale deur die eeue onthou.
Met Pinkster dink ons veral terug aan daardie wonderbare gebeure in Jerusalem waarvan Handelinge 2 vertel, wat
’n dramatiese nuwe fase in die geskiedenis van die Christelike kerk sou inlei. In sekere sin kan ons sê dat dit die
geboorte-uur van die kerk was (hoewel in noue samehang met Jesus se kruisdood en opwekking).
Wat gebeur daar? In Handelinge 1:12-15 lees ons dat die dissipels ná Jesus se hemelvaart van die Olyfberg af
teruggaan na die bovertrek – nog vol verbasing en ontsag. Dalk het hulle gepraat oor Jesus se bediening, sy
woorde, sy wondertekens ("Onthou julle nog …?"). Belangrik is dat hulle daarvandaan gaan om op God te wag en
hulle voor te berei vir die gawe van die Gees wat Jesus beloof het (Hand 1:4, 8; Luk 24:49). En hoe word hulle nie
verras nie! Kort daarná – in hoofstuk 2 – lees ons van sowat 120 gelowiges wat bymekaar is vir die Pinksterfees
(die shavuoth, die fees van die weke of die eerste graanoes1, 50 dae ná die Paasfees. Later in die Ou-
Testamentiese tyd is die Pinksterfees gesien as ’n soort afsluiting van die Paasfees, waartydens ook die
verbondsluiting met God by Sinai onthou is).
PREEKSTUDIE - HANDELINGE 2:14a; 22-32
1 Pinksterfees, een van die drie groot feeste in Israel (tussen die Paas- en Loofhuttefees), was ’n vrolike fees waartydens die volk God se
sorg bely en gevier het: "Die land (en die hele aarde) behoort aan die Here – Hy gee son, reën, lewe."
Tydens die Pinksterfees in Handelinge 2 verskyn God, soos deur die lewe en bediening van Jesus, wéér aan mense
– weer eens op ’n vreemde en magtige manier maar, soos altyd, verrassend en nuut. God verskyn hierdie keer deur
die Heilige Gees. Soos vantevore gaan God se verskyning gepaard met natuurtekens van wind en vuur. Die reaksie
is dat die gelowiges – nou vol van dié Gees – in tale oor die groot dade van God begin praat. Die godsdienstige
Jode wat in Jerusalem gewoon het, erken later hierdie tale – met skok – as dié van die verskillende nasies regoor
die destyds bekende wêreld waar hulle vandaan gekom het. God se goeie nuus is werklik bedoel vir álmal.
2. Op ’n merkwaardige manier herinner dit alles aan die dramatiese gebeure by Sinai toe Jhwh ook op ’n berg
neergedaal het om die volk te ontmoet (Eks 19-24; vgl Hand 7:30-43). Ook hier gaan God se verskyning gepaard
met geweldige tekens – van vuur, weerlig en donderslae en ’n rookwolk, terwyl die berg skud. Ons lees dat die hele
volk van ontsag gebewe het en slegs op ’n afstand kon bly staan en luister terwyl God met Moses2 praat – selfs
nádat hulle hulle ter voorbereiding gereinig en verootmoedig het. En dán volg die wet, die verskillende bepalings
van die ooreenkoms met God in Eksodus 20 en verder. Deurslaggewend vir wat volg, is die inleidingswoorde van
die ooreenkoms: "Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, bevry het … Jy mag
naas My geen ander gode hê nie … want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My." Omdat dít van julle
waar is, kan julle soos verloste mense in my teenwoordigheid leef. In Eksodus 24 volg dan die verbondsluiting – en
word Israel "die volk van die Here", kry hulle ’n nuwe identiteit, ’n nuwe lewe. Juis God se teenwoordigheid by hulle
sou hulle onderskei van die nasies (33:16). Waar hulle waardig van dié ooreenkoms sou leef, as verteenwoordigers
van die heilige God, in gehoorsaamheid en onderwerping aan God, sou hulle lewe en seën bring, ook vir die nasies
rondom hulle.
Ons ken egter die res van Israel se verhaal: God se magtige dade teenoor die dikwelse ontrou van die volk …
Wanneer ons die verbondsluiting by Sinai verstaan, begryp ons beter wat in Handelinge 2 gebeur, wat niks minder
is nie as ’n verbondsvernuwing, ’n nuwe begin, waar God weer eens vir mense kom sê: Ek is die HERE, Ek wil julle
God wees, Ek nooi julle om in my teenwoordigheid te leef – sodat julle werklik kan lewe, en vir almal rondom julle
tot seën en verkwikking kan wees, ja, tot egte blywende hoop.
3. Terwyl almal nog van verbasing na hulle asem snak, staan Petrus3 en die ander apostels op om te verduidelik
wat daar aan die gang is. Ons kry Petrus se woorde in verse 14-40, die eerste van drie sulke toesprake van Petrus
in die boek Handelinge. Al drie het min of meer dieselfde struktuur, naamlik ’n inleiding (in aansluiting by die
konkrete omstandighede), getuienis oor Jesus en ’n uitnodiging tot lewensverandering.
Petrus verduidelik die wondergebeure op die Pinksterdag deur hulle eerstens aan die bekende woorde van die
profeet Joël te herinner: (In die laaste) dae sal Ek my Gees uitstort op álle mense – seuns én dogters, oud én jonk.
En hulle sal as profete optree, voeg hy by. Wat nou hier gebeur, sê Petrus, is ’n sigbare teken dat God sy woord
gehou en sy beloftes aan Israel vervul het. In ’n tweede deel (vv 22-36) gaan hy dan voort. En wat hier gebeur, maak
slegs sin wanneer dit in verband gebring word met Jesus se aardse bediening en sterwe, wat uitgeloop het op sy
opwekking en verhoging. (Let op die struktuur van die werkwoorde in vv 22-36 en 39-40 waardeur God se inisiatief
van genade beklemtoon word, in skerp kontras met Israel se verwerping van Jesus. Sien ook die parallel met Moses
in Hand 7:35-37.)4 Dit val ’n mens op dat meer as die helfte van Petrus se toespraak aan Jesus se opwekking gewy
word. Dit alles lei soos ’n crescendo na die groot klimaks in verse 33 en 36. Jesus is verhoog tot die ereposisie "aan
die regterhand van God". Aan Hóm is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Aan Hom het God alles
onderwerp – álle magte, énige vorm van gesag … (Ef 1:19-22). Hy is die Here!
Hierdie magsposisie, hierdie sigbare teken dat God sélf vir Jesus met gesag beklee het, stel Hom in staat om die
Heilige Gees uit te stort as eerstelinggerf, as waarborg dat alles wat God beloof het, betroubaar en geloofwaardig
is (dié Gees van die Allerhoogste wat volgens Luk 1:35 lewe in sy moeder gewek en Hom deur sy hele bediening
bekragtig het). Van hierdie ontsaglike wonder – die uitstorting van die Gees – sê Petrus, het julle almal op hierdie
dag ooggetuies geword. "Dít is wat julle nou sien en hoor," verduidelik hy in vers 33. En dan vat hy alles nóg ’n keer
saam in vers 36: "Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here
en Christus gemaak" – met die verdere implikasie in vers 39: "Dít is vir julle en julle kinders en vir almal wat daar
2 Dit is nie die eerste keer dat God in vuur aan Moses verskyn nie. Let weer eens op die struktuur van die epifanie in Eksodus 3 – God neem
die inisiatief, die brandende doringbos, gewyde grond en Moses se voorbereiding, waarná die verskyning en openbaarmaking van Jhwh
volg met "Ek is …" (vgl Hand 7:30-43).
3 En dit is nie meer dieselfde Petrus hierdie van (bv) Markus 8 en Johannes 18 nie. (Let op al die vrae en belydenisse rondom sowel Jesus
as Petrus se identiteit: In Markus 8:29-33 vra Jesus: "Wie sê julle is Ek?", en Petrus antwoord: "‘U is die Christus," en in Johannes 18:15-
18, 25-27 ontken Petrus sy verbintenis met Jesus: "Nee, ek is nie.") Ook h_ sou Jesus se teenwoordigheid op ’n besondere manier met
vuur assosieer – eers die vernietigende herinnering aan die koolvuur in die hoëpriester se agterplaas, en – let wel, ná die opstanding – die
reinigende, helende ervaring met Jesus by die koolvuur op die strand – Johannes 21 (let weer eens op Jesus se inisiatief). Eers daarná
word sy roeping bevestig met: "Laat my skape wei …"
4 Die tweede deel van Petrus se toespraak (vv 22-36) vorm volgens Krodel ’n interessante chiastiese struktuur wat verse 32-33 as middelstuk
beklemtoon: A – verkondiging (vv 22-24); B – aanhaling uit Psalm 16 ter stawing van Jesus se opwekking (vv 25-28); C – verduideliking (vv
29-31); D – opwekking en verhoging van Jesus, albei met gesaghebbende getuies (vv 32-33); C1 – verduideliking (v 34a); B1 – aanhaling
uit Psalm 110 ter stawing van Jesus se verhoging (vv 34b-35); A1 – verkondiging (v 36).
ver is." Vir álmal (vgl vv 17, 27). Dít is die gevolgtrekking van alles wat ’n mens oor Jesus kan sê: Hy is die Here
oor alles en almal, vir almal, die Christus, die verteenwoordiger van die lewende God. Met hierdie twee titels – Here
en Christus – word al die kollig op Pinksterdag op Jesus aan die regterhand van God geplaas. Al word die Heilige
Gees uitgestort, is Pinkster eintlik die fees van die verhoogde Here. Die Gees se taak is juis om ons in hierdie
ontsaglike waarheid te begelei.
4. Hoe reageer Petrus se gehoor hierop? Met: "Wat moet ons doen?" (v 37). Petrus antwoord nie met: "Laat die
Gees julle vervul nie," maar – in kontinuïteit met die profetiese tradisie – met: "Bekeer julle" (v 38). Draai julle gesigte
na die lewende God. Eien God se genade vir julle toe. En 3 000 mense kom tot geloof en word gedoop (teenoor
Eks 32:28). Die res van Handelinge en die kerkgeskiedenis vertel van God se magtige dade, van diep ontsag by
die omstanders (2:43), van die krag én ongeloof van Jesus se volgelinge (vgl Ananias en Saffira) ... Teenoor Sinai
sou ons kon vra: In hoe ’n mate het Pinkster geslaag?
5. En as voortsetting van die Lukas-Handelinge-verhaal, wat beteken dit vir óns vandag, in ons praktiese
lewensomstandighede, dat Jesus die Here is en aan die regterhand van God sit en die Gees vir ons gestuur het?
5.1 Uit die gedeelte wat ons saam gelees het, kan ons troos en bemoediging put uit minstens twee gevolge van
Jesus se posisie as Here en Christus. In vers 24 staan die merkwaardige woorde dat God Jesus uit die dood laat
opstaan het, omdat dit immers vir die dood onmoontlik was om Hom gevange te hou (letterlik: die dood was nie "by
magte" om Hom vas te hou nie). In die Bybel word die dood dikwels geteken as ’n soort versamelnaam van alles
wat mense bind of magteloos maak, wat oor hulle heers en hulle van vreugde en kreatiwiteit beroof. (1) Eerstens
verwys dit natuurlik na die laaste grens van alles wat ons op aarde is en doen, na die nietigheid en verganklikheid
van die menslike lewe. Selfs hierdie grens kon nie vir Jesus vashou nie – 1 Korintiërs 15:14, 17-28. (2) Maar die
dood verwys ook in die Nuwe Testament na die mag van die sonde – wat ons almal verslaaf en in ’n dodelike greep
vashou, sodat ons nie "by magte" is om God lief te hê en goed te doen nie (Rom 7).
Om as verloste mense in God se teenwoordigheid te leef beteken dat ons erns sal maak met dié dinge wat ons
menswees elke dag uitkalwer, wat ons doodmaak. (Dink maar aan hoe ons situasies van magteloosheid en
hopeloosheid in die omgangstaal beskryf: Ek is doodmoeg ... Iets het in my of in ons verhouding doodgegaan ...)
Hier sal die prediker die gemeente met sensitiwiteit moet begelei om elke moontlike mag voor die Here by die naam
te noem, een vir een – persoonlik of onpersoonlik, enige herinnering uit die verlede, enige letsel van pyn of geweld
wat hulle aangedoen is of wat hulle iemand anders aangedoen het, enigiets wat hulle verslaaf, ont-mens het, wat
hulle lewe van sin beroof, enigiets wat hulle beangs en depressief maak, wat die lewe van hulle weghou … En dan
is daar natuurlik ook nog die (dikwels op sigself goeie) dinge waaraan ons so hartstogtelik verknog is – ons vol
programme, ons ambisie, die Internet (die "gode" waaraan ons harte verknog is – Luther). Die goeie nuus is: Omdat
Jesus uit die dood opgewek is en aan die regterhand van God sit, omdat ons ’n Middelaar by God het wat aan ons
dink, wat ons naam en adres ken, wat vir ons bid, omdat God se Gees oor ons uitgestort is, is dit onmoontlik dat
hierdie dinge ons vir altyd kan vashou. Deur die krag van God se Gees kan ons daaruit opstaan, kan ons weer nuut
begin lewe.5 Dít is die feesvreugde van Pinkster waarheen ons op pad is.
Die Gees laat ons moed skep deur die tekens van God se magtige, helende teenwoordigheid in die wêreld te
herken: Gelowiges eien wél die krag van God toe en maak ’n verskil, siekes word genees, verhoudings wórd herstel,
oorloë wórd beëindig, politieke spanning wórd deur geduldige onderhandelings ontlont, die aarde wórd teen
besoedeling bewaar ... God is reeds besig om heel te maak wat deur die sonde aan flarde geskeur is. En dít is die
eintlike teken: Christus ís die HEER – te midde van en ten spyte van die magte. Hy is die Lam op die troon wat sê:
"Kyk, Ek maak alles nuut" (Op 21:5). Daaraan kan ons met kinderlike vertroue en verwondering vasklou.
5.2 Maar Handelinge 2 waarsku ons ook om nie moed te verloor wanneer dit lyk asof die chaosmagte die oorhand
het nie. Christus hét oorwin en heers oor hulle almal. Ons is van hulle almal vrygemaak. Ons hoef hulle nie te vrees
nie. Ons hoef nie (keuseloos) deur hulle gyselaar gehou te word nie. En dus méér gesag aan hulle toeken as wat
hulle verdien nie. Ons hét ’n keuse.
Pase en Pinkster herinner ons daaraan dat God sélf die LEWE is – met hoofletters gespel – in en deur Christus en
die Gees (Joh 10:10; 14:6, 26). Daarom kan ons as verloste mense, as verteenwoordigers van die lewende God,
môre – en elke dag – in die samelewing en in die wêreld gaan leef. Met ontsag en vrymoedigheid, vertroue en hoop,
met moed, vreugde en integriteit. Sodat daar lewe kan kom – vir álmal.
5 Die krag van God se Gees word juis dikwels in die Bybel op ’n dramatiese manier beskryf as God se vermoë om lewe te wek. Dink maar
aan Genesis 1 waar God lewe skep – uit niks, en aan die verhale van onvrugbare vroue (Sara, Hanna). God bring selfs lewe voort deur ’n
maagd. Een van die mees dramatiese voorbeelde is sekerlik Esegiël 37 – "Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe … Dan sal
julle besef dat Ek die Here is – v 14). Dit gaan elke keer om presies dieselfde saak en word dikwels saamgevat deur die uitdrukking: "Sou
iets vir God onmoontlik wees?" (Gen 18:14; Luk 1:37).
Bibliografie
Gaventa, B R 1988. Toward a theology of Acts: reading and rereading. Interpretation 42, pp 146-157. Krodel, G A
1986. Acts (Augsburg Commentary on the NT). Minneapolis: Augsburg. Smit, D J 1983. Handelinge 2:22-36, Woord
teen die Lig I/3, pp 65-73.