Tema: Die Gees laat bang, stemlose mense
praat
“New life –
sudden, unmerited, irresistible new life! That is the reality that the
Pentecost narrative in Acts 2 broadcasts, and the text transmits the story in
the most expansive way imaginable” (Breuggemann et al, p 347).
Onverwagse,
onverdiende en onweerstaanbaar nuwe
lewe is inderdaad waaroor die teks gaan. In net vier verse beskryf Lukas die
skielike uitstorting van die Heilige Gees.
Die dissipels is op die dag van die Pinksterfees bymekaar. Skielik is daar die geluid van ‘n geweldige
stormwind en sien hulle iets soos vuur wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle kom. Daarna lees
ons van die taal-wonder. Die groot
verskeidenheid Jode (‘uit al nasies
onder die son’) wat vir die fees bymekaar is, hoor elkeen in hulle eie
moedertaal hoe gewone Galileërs praat oor die groot dinge wat God gedoen het.
Die mense is verras, verbaas en uit die veld geslaan. So onverwags en nuut is die gebeurtenis dat
party van die bystanders alleen tot een gevolgtrekking kon kom: Hulle is dronk!
Petrus, die
man wat vroeër vir Jesus verloën het, staan egter saam met die ander elf
apostels op en maak duidelik dat die hulle nie dronk is nie. Hy maak dan met
die verwysing na die profeet Joël dit duidelik dat wat hier gebeur is dit
waaroor die Skrifte praat. Die Gees kom
op alle mense – ook die wat ons nie verwag ontvangers van die Gees sal wees
nie. Jongmense en oumense sal kan nuut sien en praat.
In hierdie
verse in Handelinge 2 lees ons hoe mense
nuut word – nuut sien, nuut
praat en nuut hoor. Hierdie nuutheid kom skielik en bring mense in beweging. Handelinge maak dit duidelik dat hierdie
ervaring van nuutheid en beweging nie bloot
met die geesdrif van die dissipels saamhang nie. Nee, dit is ‘n nuutheid en drif wat
ontspring as gevolg van die ontvangs van die gawe van die Gees.
Dit is
duidelik dat hierdie gedeelte as gevolg
van die historiese situasie dui op gebruik by Pinkstersondag. Dit is wel tog belangrik om die perikoop nie
van die res van hoofstuk 2 los te maak nie.
Die onderskeie perikope in die hoofstuk is deeglik in die Woord teen die
Lig-reeks deur onderskeidelik De Villiers
(Hand 2:1-13, WtL 1/3), Herholdt
(Hand 2: 14-21, WtL 1/9); Du Toit (Hand 2: 46-47, WtL 1/4);
Smit (Hand 2:22-36, WtL 1/3) en Van Wyk (Hand 2:37-42, WtL 1/5) bespreek.
Die dag van
die Pinksterfees is so genoem omdat dit die vyftigste (Grieks: pentekostos) dag
na die Pasga was. Onder die Hebreeus-sprekende mense is dit bekend as die ‘fees van
die weke’ (vgl. Ex 34:22a; Deut 16:12) en ook as die ‘dag van die eerste
vrugte’ (Num 28:26). Dit was dit dag waarop begin is om die eerste vrugte van
die oes vir God as offer te bring. Die Pinksterfees was een van die drie groot pelgrimfeeste van antieke Israel (sien byvoorbeeld Paulus
se gretigheid in Handelinge 20:16 om in
Jerusalem vir die fees te wees). Na die
vernietiging van die tempel in 70
n.C., het die fees later ‘n herdenking
van die ontvangs van die wet by Sinai
geword (sien die kommentare
hieroor).
Die meeste
eksegete wys daarop dat ons moet waak
om nie in allerlei historiese vrae oor die aard van die gebeure op die
eerste Pinksterdag verstrik te raak nie.
Vrae soos: “Hoe kon drieduisend
mense in die huis gekom
het?”, “Hoe kon hulle almal vir Petrus gehoor het?” ensovoorts kan die
diepste teologiese betekenis van hierdie gedeelte versluier. Die
teks wil dit duidelik maak dat die Gees van God die mense aangeraak het en hulle met krag vervul
het. As dit oor een saak handel, dan
handel dit oor die Gees wat nuwe lewe in mense se lewens inblaas en hulle
saamsnoer. Dikwels word oor Pinkster
as die geboorte-uur van die kerk gepraat. Of dit heeltemal waar is, word
dikwels oor gedebatteer. Die Pinksterfees kan
immers nie van die Paas-gebeure en hemelvaart (vgl. Luk. 24) losgemaak
word nie. Nogtans lê die diepste
geheim van die kerk in die koms van die Gees.
Die Handelinge van die apostels (of eerder die handelinge van die Gees
deur die apostels) gaan oor die geloofsgemeenskap en die God van hierdie
gemeenskap. Soos Willimon dit stel:
‘Acts cares little for the trials and psychic make-up of individual
personalities, because this is a literature in service of a community. The community is the centre of Acts, with
the God of the community being the chief actor in the drama.’ (Willimon, 29).
Pinkster gaan oor ‘n nuwe begin. Dit gaan oor die inbeweeg van nuwe
mense in ‘n nuwe dimensie, situasie en
tyd. Dit is dus meer ‘n tyd van ‘n begin as van ‘n voleinding.
Of dalk eerder: dit is die begin van die voleinding. In hierdie
sin kan ‘n mens moontlik selfs sê dat iets van Pinkster beslag
kry in elke Sondag, deurdat Sondag iets van die element
van ‘n nuwe begin inhou. Die
Joodse denker Franz Rosenzweig
maak in sy boek The
Star of Redemption (Die Stern der
Erlösung) die fyn waarneming dat die Sondag ‘n ‘festival of the beginning’. Hy skryf verder: ‘The
Christian is the eternal beginner; completion
is not for him: all’s well thats
well begun. That is the eternal youth of the Christian; every Christian lives his Christianity every
day as though it were his first’ (359).
Die
Gees is belowe (vgl. Joh 14-16;
Hand 1:8). Hierdie belofte
word met Pinkster gerealiseer wanneer die Gees nuwe lewe bring.
‘New life for the church! New life for
individuals within the church! New life through the
Spirit of God! This is the meaning of Pentecost’ (Brueggemann et al, 348).
Dié nuwe
lewe word uitgestort op almal. Die
nuwe lewe kry gestalte in ‘n nuwe taal.
‘n Taal-wonder vind plaas.
Die eerste gawe was ‘n
spraak-gawe. Die eerste vrugte van die
gawe van die Gees, is die gawe van
verkondiging (vgl. Willimon, 30). Hierdie spraak-gawe strek universeel – geen
nasie is uitgesluit nie. Die Duitse
sistematiese teoloog Michael Welker maak in sy boek God the Spirit (in ‘n interessante hoofstuk oor (‘The Outpouring
of the Spirit’) die opmerking dat die
wonder van Pinkster nie in die buitengewone, onbegryplike eienskappe van die
Pinksterverhaal (soos die geluid uit die hemel en die verdeelde vuurtonge) lê
nie, maar in die onverwagte
verstaanbaarheid daarvan deur die toehoorders en die gemeenskaplike
kapasiteit om in die lig van dit wat hulle verstaan te handel. Saam met
die spraak-wonder gaan dus ‘n hoor-wonder. Uiteenlopende mense hoor op so ‘n manier dat die hoor hulle
saambind. Dit is die moeite werd om
Welker breedvoerig hieroor aan te haal:
‘Without dissolving the variety
and complexity of their backgrounds … an unbelievable
commonality of experience and of understanding occurs. And this difference between the experience of plural
inaccessibility to each other and of enduring
foreignness, and unfamiliarity, on the one hand, and utter commonality of the capacity to understand, on the other
hand – that is what is truly spectacular and shocking about the Pentecost
event’ (233).
Die wonder
van Pinkster is ‘n wonder van praat, hoor
en handel met onverwagse nuutheid.
Die Gees
maak dat Petrus met nuwe krag preek.
Ons kan sê dat die Gees die groot vertaler is. Die Gees bring die NOU in verband met die verlede. Daarom maak Petrus die verband met die
profesie in Joël. Daar is die waagmoed
om te sê te sê dat wat nou hier (met Pinksterdag) gebeur is dit wat daar (in die Skrifte) oor gepraat word
(in Engels: ‘this is that’). Die Gees bring die gawe om te kan
interpreteer, om te ver-tolk. Hierdie
beweging van die Gees vorm ook die hart van die Christelike verkondiging. Die
beweging is ook nie net van die NOU na die Skrif nie, maar ook van die Skrif na
die NOU! Dit is die eerste effek van die Gees dat vertaling plaasvind. So
word daar brûe gebou tussen mens en mens en tussen taal en taal. Mense kan God se woord spreek, omdat die
Gees self dit vertaal sodat elkeen dit by wyse van spreke in sy eie moedertaal
hoor.
In Petrus
se toespraak op Pinksterdag maak hy die bekende verwysing na Joël. Wat egter belangrik is, is nie die blote
herhaling van hierdie woorde nie. Die
wyse waarop Petrus hierdie teks gebruik wys heen na die diepste bedoeling van
Pinkster. In die boek Joël is die uitstorting van die Gees ‘n teken van
vernietiging en dood. In Petrus se mond
word hierdie oordeelswoorde omgebuig in ‘n boodskap van nuwe lewe. Die Gees bring nie dood en vernietiging nie,
maar nuwe lewe. Mense van wie ‘n mens
dit nie sou verwag nie, word tolke van hierdie nuwe lewe.
Die
nuutheid wat die Gees bring, kry daarin neerslag dat die Heilige Gees soms die
Skepper-Gees genoem word. ‘n Mens voel
die parallel aan tussen die Skepper-Gees van nuwe lewe in Handelinge 2 en die
in Genesis 2:7 . Hierdie skeppende werking kry liturgiese neerslag wanneer die
kerk met versugting bid en sing: Veni
Creator Spiritus – Kom Skeppergees (vgl. die mooi Veni Creator Spiritus-liedere van die Taize-geloofsgemeenskap).
In die
poging om die teks in die konteks van vandag te plaas, kan dit nuttig wees om
te let op ‘n aantal preke en meditasies oor hierdie gedeelte. Soos wat ‘n mens kan verwag is daar heelwat
preke oor die Pinkstergebeure. ‘n Paar
word uitgelig:
In
Noordmans se Versamelde werke (vol. 7), is daar ‘n viertal preekmeditasies oor
Handelinge 2:1-14. In ‘n eerste
meditasie wys Noordmans daarop dat
Pinkster ‘n fees van die vervulling is.
Jesus is die een wat gesê dat hy gekom het om die wet en die profete te
vervul. In Pinkster begin hierdie
vervulling in werking tree. Nadat Jesus
alles op aarde volbring het, is die mense waarvoor hy gesterf en opgestaan het
nog steeds in sonde en ellende. Op
Pinksterfees vaar die evangelie soos op die vleuels van ‘n stormwind aarde
toe. Sedert Pinkster sweef die Gees van
God soos in die Genesis-verhaal weer op die water, maar nou nie om visse en
voëls tot lewe te roep nie, maar om in die harte van mense geloof, hoop en
liefde te werk. As ons die Heilige Gees nie ontvang nie, is ons inderdaad
sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef 2:11).
Die werk
van die Heilige Gees is verborge. In
die veld kan elkeen ‘n stormwind hoor en die eerste dissipels kon Jesus se
lering hoor. Maar wie, vra Noordmans,
kan die beweging van die Gees onderskei? Wie sal daarop reageer? Ten spyte van die verborge manier waarop die
Gees werk, kom die Gees na mense soos ons – kom werk die Gees in ons harte.
Voorts hoort
die Heilige Gees en die volkere hoort byeen.
Elkeen verstaan die Heilige Gees. Dit is ‘n wonderlike seën: God kan tot elke mens spreek. As ons na die natuur en ook die Skrif kyk is
daar so baie dinge wat ons nie verstaan nie. Ons is immers nie elkeen ‘n
Lorentz of ‘ n Einstein, of ‘n Skrifgeleerde nie. Maar die Gees is nie bloot deur menslike genialiteit toeganklik
nie. Die Gees kom ons gedagtes binne en lei dit. Die Gees kom ons hart binne en troos ons. Ons het tog nodig om te verstaan en verstaan
te word. Die Gees help ons om te
verstaan. Dit is ‘n wonderlike gawe –
alle vrede en rus hang daarmee saam.
Dalk kan ‘n
aantal kort aanhalings uit die ander drie meditasies van Noordmans die
verbeelding prikkel:
“Op
Pinkster sien ons skielik die dissipels van Jesus in ‘n heel ander lig. Let op die onderskeid tussen Paasfees en
Pinkster. Tydens Paasfees is daar
onsekerheid, vrees en verstrooiing by die dissipels. Die Herder is daar wel, maar die skape is verstrooid. Met Pinkster het die skape self herders
geword.”
“Pinkster
beteken dat ons lewens na bo – na die hemel oop is”
“Jesus
spreek so tot ons dat Hy ons woorde tot ‘n voertuig van sy Gees en evangelie
kies. Die woorde wat ons daagliks gebruik kom vul die Gees om
op so ‘n manier dat dit ‘n blye woord word. Woorde wat bedreiging inhou word
woorde van belofte. Die woord ‘sonde’ word nou: vergewing. ‘Dood’ heet nou: opstanding. As Jesus tot ons spreek, vind in elke taal sodanige
vertaling plaas. Dit is die uitstorting van die Heilige Gees”.
Miskotte:
In 1938
preek die Nederlandse teoloog K H Miskotte op Pinksterdag ‘n preek met
Handelinge 1:17 en 1 Korintiërs
13:13 as teksverse:
Op
Pinksterdag doen die mense ‘n vreemde ding – hulle spreek in vreemde tale. Hulle praat in vervoering op ‘n manier wat
ander ook meevoer. Sommige konkludeer dat hulle dronk moet wees. Petrus wys daarop dat daar wel ‘n geestelike
dronkenskap is – ‘n vervoering wat die gewone grense van die denke en die
sintuie deurbreek. Seuns en dogters sal
profeteer.
Wat is
profeteer? Is dit blote entoesiasme? Nee, profeteer is om van God te spreek
vanuit ‘n nuwe, deurleefde kennis. Dit
is geensins vanselfsprekendheid dat ons as mense van God kan spreek nie, want
God is tog die Gans Andere. Van al die
tekens op Pinksterdag is die taal-wonder daarom die gewigtigste van al die
tekens van die uitstorting van die Heilige Gees.
Die Heilige
Gees is die mag wat profeteer moontlik maak.
Miskotte
wys voorts op die verborge werking van die Gees. Die Heilige Gees bly self op die agtergrond. Die Gees is die inspireerder van die kerk,
maar kan nêrens vasgepen word nie. Deur
die werking van hierdie Gees vind die wonder plaas dat gewone mense (seuns en
dogters en ou mense) oor die grense van hulle eie begrip meegesleur word. Die swakhede en beperking van die menslike
spreker word oorwin. Hierdie profesie sal weerklink deur die geskiedenis van
ons angstige, bedreigde wêreld heen tot die ‘laaste dae’. Ten spyte van
gasmaskers en bomaanvalle sal daar geprofeteer word. Mense sal met hulle spot, maar die profesie sal voortgaan.
Wat is die
inhoud van die profesie? In ‘n sin is
dit onuitspreeklik ryk en wyd. Die
ganse Skrif is daarin opgesluit. Tog
kan ons sê: die inhoud van die profesie
is verwagting – ‘n verwagting van geloof, hoop en liefde. Woorde soos geloof,
hoop en liefde is woorde waaroor ook ander stemme oor praat. Soos die mense wat op ‘n humanistiese
wyse hoop, geloof en liefde vaag maak,
sodat dit inhou wat hulle in elk geval glo.
Of diegene wat dink dit is naïewe woorde van hulle wat nie tred hou met
die werklikheid van die krag van mag nie.
Geloof,
hoop en liefde is egter daarteenoor Pinksterwoorde wat die Heilige Gees op ons
lippe lê. Dit is nie vae woorde
nie. Die geloof is die geloof in Jesus
Christus; die hoop is die hoop op sy
koms en vernuwing; die liefde is die liefde tot die liggaam, tot die
huisgenote van die geloof.
Na Pinkster
ontdek ons dat onsself nie instaat is
tot geloof, hoop en liefde nie, behalwe
deur die Heilige Gees nie.
Nou kom ons
by die geheim van Pinksterdag. Daar
staan nie in die Bybel dat jy moet glo en dan sal mense ook glo nie. Of dat jy
moet hoop dat sal daar hoop wees nie. Of dat jy moet liefhê dan sal daar liefde
wees nie. Nee, Een (dit is, Jesus
Christus) het geglo te midde van die diepste Godverlatenheid; Een het gehoop toe dit gelyk het of alle
hoop verlore is. Een leef liefde uit
waar die hele wêreld in die gifgas van veragting gestik het. In Hom is geloof, hoop en liefde bewaar en
opgespaar. En ons geloof, hoop en
liefde is ‘n deelhê en ‘n deelneem deur die Heilige Gees aan die geloof, hoop
en liefde wat daar in Jesus Christus is.
Hierdie geloof, hoop en liefde van ons is daarom ‘n wonder.
Miskotte
sluit sy preek af met die versugting:
“Mag elkeen van ons leer van profeteer. Mag ons van hierdie heilige
dinge spreek. God gee sy Gees aan elkeen wat te midde van matheid en moegheid
oprys en teen menslike ervaring in sê:
En nou bly geloof, hoop en liefde”.
Will
Willimon het ‘n preek met die titel The
Prevailing Spirit op Pinksterdag 1998 gehou (op die internet
beskikbaar: www.chapel.duke.edu).
Hy begin
met ‘n aanhaling van John McIntyre wat na Pinkster as die ‘wholehearted
expression of the almost unlimited imagination of God’ verwys.
Tydens
Pinkster vier ons die triomf van die Gees.
Die Gees seëvier oor al ons verskille – verskille van nasionaliteit,
taal, klas, ras, geslag.
Ons sien
hierdie triomf in Handelinge 2.
Dit gaan
nie tydens Pinkster oor die triomf van die menslike gees nie. Die Heilige Gees triomfeer soms selfs
genadiglik oor ons menslike gees.
Pinkster
was ‘n Joodse fees. Die eerste kerk het
uit Jode bestaan. Die eerste beloftes was duidelik beloftes vir die Jode. Tog
lees ons dat kort na Pinkster Petrus ‘n visie gehad het oor onreinheid. Die gevolg: die evangelie versprei ook onder
die sogenaamde ‘onreines’. Die Heilige
Gees seëvier.
Vyftienhonderd
jaar later, was daar wydverspreide korrupsie en magsmisbruik in die kerk. ‘n
Monnik in Duitsland met die naam van Martin Luther roep die kerk terug na die
Bybel. Die Heilige Gees seëvier.
Agtiende
eeuse Engeland gaan deur die trauma van verstedeliking en
industrialisasie. Die kerk lyk ver
verwyderd van hierdie realiteite.
‘n Priester met die naam van John
Wesley beleef hoe sy hart vreemd warm word en ‘n dramatiese herlewing
volg. Die Heilige Gees triomfeer.
Willimon
noem nog ‘n aantal voorbeelde uit die kerkgeskiedenis en wys hoe te Gees
te midde van menslike swakhede
triomfeer. Ons is daarom nie sonder hoop nie. Die Heilige Gees lei nog steeds die
kerk: ‘Just when we get all settled
down, comfortable with present arrangements, our pews bolt securely to the
floor, all fixed and immobile, there comes a rush of wind, or a still small voice, a breath of
fresh air, tongues of fire and …
the Holy Spirit prevails!’
Die
Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas
begin ‘n artikel oor narratiewe teologie (en ter ere aan Hans Frei) met ‘n
Pinksterpreek wat Genesis 11:9; Handelinge 2:1-21 en Johannes 15:26-16:11 as
Skriflesing neem.
Tydens
Pinkster vier ons die geboorte van die kerk.
Die wind van die Gees skep ‘n
nuwe nasie wat nie uitgelewer is aan die beperkinge van die verlede nie. So kry ons deel aan ‘n nuwe tyd – God se tyd.
Ons glo dat
God met Pinkster ongedaan gemaak het wat by Babel gebeur het.
Die probleem van Babel was nie menslike
kreatiwiteit nie, die probleem was
eerder dat mense nie besef het dat
hulle bestaan en talente ‘n gawe van God is nie. ‘n Versplintering vind daarom
plaas. God bedoel die versplintering as
‘n gawe om die mense iets van egte nederigheid te leer. Maar die mense aanvaar
nie hierdie gawe nie, en gebruik die versplintering om hulle eie klub te
versterk en ander te dwing om hulle taal te praat. Dus word oorlog by Babel gebore. Die moord van Kain op Abel kring wyer uit.
Dit is teen
die agtergrond van Babel dat ons Pinkster kan verstaan. ‘n Nuwe verstaan word moontlik gemaak. Die
wond van Babel word geheel. Die vreugde
van die heling maak mense ekstaties.
Hulle word bevry van die eindelose sirkel van haat en wraak. Daar is ‘n vreugde van eenheid.
Daar is ‘n
nuwe tyd en ‘n nuwe taal. Die nuwe taal
is nie een of ander universele taal
wat niemand praat nie en wat die realiteit van ander ontken nie.
Nee, ‘at Pentecost God created a new
language, but it
was a language that is more than
words. It is instead a community whose
memory of its saviour creates the miracle if being a people whose very
differences contributes to their unity’ (53).
Ons noem hierdie
nuwe skepping kerk. Die kerk moet die
storie van God vertel en
beliggaam. Deur die uitleef van die
verhaal word die kerk, soos Israel, ‘peculiarly a people who live by our
remembering the history of God’s redemption of the world’.
Die kerk
het ‘n storie om te vertel, om uit te leef.
‘
‘(T)he
church has a story to tell in which God is the main character. But the church
cannot tell the story without
becoming part of the tale’ (54).
En verder:
‘(I)t is our belief that what
God did at Pentecost he continues to do to renew and sustain the presence of
the church so that the world might know there is an alternative to Babel’ (54).
Ons het nie
net ‘n alternatief vir die taal en tyd
van die wêreld nie, ons is
die alternatief: ‘We do not have a story to tell but in the telling we
are the story being told’ (54).
In ‘n
liedjie met die titel ‘Woorde’ (op die
CD Die vierdie horison) sing die Afrikaanse sanger Koos
du Plessis soos volg:
“goeiemôre
goeiemiddag goeienaand
baie dankie
vir die wonderlike aand
veels geluk
en bly te kenne vat die hand
simpatie
want ek voel saam met jou vanaand
dis alle
woorde net leë woorde
op vals
akkoorde
en almal sing dit …
alle
sterkte en onthou daar’s krag na kruis
kom weer
kuier en sê groete by die huis
ons hou
almal duimvas kom tog veilig tuis
doen jou
plig en eendag sal jy almal wys
dis alles
woorde net leë woorde …”
Woorde word
inderdaad soos Koos du Plessis sing, maklik leeg en afgesaag. Dit verloor gou
hulle krag en nuutheid. Soms tref die leegheid
van ons eie woorde ons. Ons voel die
onegtheid daarvan aan of raak bewus van die kompromieë wat daarin opgesluit is.
Ons taal en ons woorde verklap baie van onsself. Die filosowe praat van die taal as die huis waarin ons bly. Soms kom ons onder die indruk dat ons
taal-huis redelik bouvallig daar uitsien.
Dikwels
weerspieël ons woorde en manier van praat ons onvermoë om anders te leef. Ons wil nie so gou kwaad raak nie. Ons wil
nie ons eggenoot of kinders so kwes met
ons woorde nie. Ons wil nie goedkoop
klink as ons troos nie. Ons wil graag wyser raad gee as iemand ons om hulp vra.
Soos minder
ander dinge konfronteer ons onbeholpenheid met woorde ons met ons beperkinge.
Ons teks
praat van ‘n wonderwerk. Daar is ‘n geweldige stormwind en vuur. Ongelooflik.
Maar dit lyk of daar iets nog meer ongelooflik is. Mense – gewone mense – praat op ‘n ander manier. Hulle is
geesdriftig en meegevoer. En nog ‘n groter wonder: mense hoor hoe eenvoudige
mense in hulle eie moedertaal met hulle praat.
Die woorde wat dié mense se mond verlaat bereik hulle ore as bekende en
lewegewende klanke.
Dit is iets
onverwags en verrassend.
Die Gees
laat mense nuut praat.
Te midde
van alledaagsheid en voorspelbaarheid breek iets nuuts mense se lewens binne.
Dit transformeer hulle. Dit bevestig
vir ons vandag: werklike nuutheid is moontlik.
Ons leef in
‘n tyd wat mense te midde van die
geweldige reklamewaarde van die woord NUUT
nie werklik glo in nuutheid nie.
Ons verwag
nie dat ander mense of onsself kan verander nie.
Ons leef
daarom vewagtingloos. Dalk lê hierin ‘n
diep rede vir die neerslagtigheid wat ons so stelselmatig bekruip. Of vir die traagheid van die kerk om iets anders te wees as ‘n volkskerk wat maar net dinge doen
soos dit in die verlede gedoen is.
Kan God dan
regtig iets nuuts doen – met my, my bure
of ons as gemeente?
As ons dit
toe-eien en daaruit probeer leef, volg nog vrae: Wie sal na ons
luister? Is ons nie te ongeloofwaardig nie? Klink ons woorde nie vir onsself dikwels
leeg as ons praat oor liefde, hoop, geduld, geloof, moraliteit, spiritualiteit
of watter sake ook al nie. Hoe sal
ander daardeur vernuwe word?
Hoe kan God
ons as feilbare en dikwels sprakelose mense gebruik om sy Woord te bring tot ‘n wêreld wat elke dag duisende
woorde hoor uit bekwame monde?
Dit is in die lig van hierdie vrae wat as kerk
ons geboortedag moet herroep. Ons moet
onthou dat ons bestaan ‘n wonderwerk is.
Ons taalvaardigheid is ‘n gawe.
Hoekom? Omdat God op ‘n misterieuse wyse ons woorde neem en dit dra. God spreek sy woord deur en dikwels ook ten
spyte van ons dialek.
God stuur
ons na die wêreld, maar voordat God sy kerk na die wêreld stuur, stuur Hy eers sy Gees na die kerk. Hierdie Gees is
die groot vertaler. Dié Gees maak
skynbaar leë woorde tot woorde van lewe.
Dit buig afgesaagde woorde om tot woorde wat opnuut tref en
verander. Dít is die wonder van
Pinkster.
Die
Duitse teoloog Helmut Thielicke gebruik
iewers die beeld van ‘n katedraal se vensters om die werking van die Gees te beskryf. As ‘n mens na die
glasvensters van ‘n katedraal van buite kyk lyk dit koud, grys en leweloos.
Stap jy egter die katedraal binne, lyk die vensters heel anders. Jy
sien die sonlig daardeur skyn en die kleure kom tot lewe en so verkry
die gebrandskilderde vensters die krag om ons met ‘n kleurryke ligglans te
oorrompel. Thielicke merk dan op dat
die Heilige Gees die een is wat ons by
wyse van spreke in die katedraal inlei.
Dit lei ons uit die koue en gryse leweloosheid uit na die wêreld van God
se lig en nuutheid.
Dalk is die
groot wonder van Pinkster dat die Gees ons gewone woorde en lewens gebruik as
medewerkers om mense te begelei op die reis van donker en leweloosheid na lig
en vreugde.
Bibliografie
Kommentare: Bruce (NICNT); Johnson, L T (Sacred Pagina);
Pesch, R (EKK); Willimon, W
(Interpretation).
Aanvullend: Brueggemann, W et al, Text for Preaching: A Lectionary Commentary Based on the NRSV – Year B, 346-349; Burger, C W, Muller, B A, Smit, D J (reds), Woord teen die lig 1/3, 90-99); Burger, C W, Muller, B A, Smit, D J (reds), Woord teen die lig 1/9, 147-154; Hauerwas, S, Christian Existence Today, 47-54; Lüthi, W, Die Apostelgeschichte, 30-46; Miskotte, K H, Preken en meditaties (Verzameld werk 3), 19-39; Noordmans, O, Verzamelde Werken 7, 344-353; Thielicke, H, Christ and the Meaning of Life, 56-58; Welker, M, God the Spirit, 228-239.