12 Mei 2002

Pinksterweek

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Handelinge 1:6-14.

Ander tekste: Psalm 68:1-10, 32-35; 1 Petrus 4:12-14; Johannes 17:1-11.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Votum

Psalm 68:35.

Seëngroet

Genade en vrede vir elkeen van julle

van Hom wat heers vanuit die hemel en

van Hom wat opgevaar het na die hemel en

van Hom wat uitgestort is oor sy kinders.

Skulderkenning en toevlug

SOM 44:1, 2 (melodie van Ges 192 kan gebruik word).

Geloofsbelydenis

Die Geloofsbelydenis van Athanasius, Artikels 35-39 (Handboek vir die erediens, p 271) kan gebruik word.

Lofprysing

Psalm 146:1, 8 en (direk daarna) Psalm 147:1, 2 (vra die gemeente om dit uit te jubel).

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

In Johannes 17:3 sê Jesus dat die ewige lewe daaruit bestaan dat God en Jesus Christus werklik geken sal word

as die enigste ware God. Bid in hierdie gebed dat die Heilige Gees deur die prediking die gemeente by so n

verstaan van die ewige lewe sal uitbring.

Skriflesing

Handelinge 1:6-14.

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Gebed

Ná Jesus se hemelvaart het die gelowiges teruggegaan na die bovertrek waar hulle eensgesind en volhardend gaan

bid het (Hand 1:13-14). Skep nou by die tafel ruim geleentheid vir gebedsgroepe, hardop gebede, stil gebede,

gonsgebede, enige gebede.

Bediening

Ná Jesus se hemelvaart leef ons deur die Gees (in Hom) en kan ons nie meer fisiek (konkreet) met Jesus

gemeenskap hê nie. Jesus het egter vir ons n manier gegee om suprafisies (simbolies) met Hom gemeenskap te

hê. Dit is deur die brood en die wyn.

(Bedien die simbole en stel dit in.)

UITSENDING

Sang

Gesang 202:1, 2, 3 en Gesang 222:1, 4 ("Here, hoe blymoedig " en "Bring aan die volke ").

Seën

Aan die hand van Johannes 17:11 en Handelinge 1:8 word n gebed van seën gebid:

"Heilige Vader, bewaar ons in u Naam, die Naam wat U ons gegee het, sodat ons net soos U een mag wees in die

uitvoering van die getuienistaak waarvoor ons van die Heilige Gees krag ontvang."

Teks

Die perikoopindeling wat aangegee en hier gevolg word, is Handelinge 1:6-14. n Mens sou egter ook sinvol kon

werk met verse 1-14, omdat dit in baie opsigte n eenheid vorm. Ander moontlike indelings is 1:1-8 of 1:1-11. n Mens

sou ook kon fokus op 1:9-11. Handelinge 1:1-8 word bespreek in Woord teen die Lig I/3, terwyl 1:9-11 bespreek

word in Woord teen die Lig I/9. Daardie besprekings word hier veronderstel.

As n mens die verse 6-14 as n eenheid gebruik vir die prediking, verleen dit n besonderse prominensie aan die

apostels se vraag in vers 6: "Is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?" Terwyl sommige

kommentatore meen dat hierdie vraag negatief beoordeel moet word as n uitdrukking van eng Joodsnasionalistiese

verwagtings, meen Lindijer myns insiens tereg dat dit nie daarom gaan nie. Die woord wat gebruik

word vir "weer oprig" of "herstel" is in die LXX gebruik vir die herstel van die Godsvolk ná die ballingskap en dui op

God se heilswerk vir sy volk. Die opstanding van Christus en die belofte van die Gees wat in vers 5 gegee is, asook

die opdrag om in Jerusalem te wag, kon by die dissipels die verwagting geskep het dat die koninkryk spoedig herstel

sou word. Ook Ehrhardt is van mening dat hierdie vraag primêr dui op n onmiddellike verwagting van die

eskatologiese voleinding. Hoewel kritiek op n eng, na binne gekeerde koninkryksvisie ongetwyfeld legitiem is, meen

ek dat dit nie korrek sou wees om dit in hierdie vraag in te lees nie. Jesus reageer in sy antwoord ook nie op die

"vir Israel" nie (wat bloot gesien kan word as n samevatting van die totale heilsverwagting van die ou verbond en

wat daarom ook nie noodwendig die nasies uitsluit nie). Jesus regeer op: "Is dit nou die tyd?" Daarom moet die teks

eerder uitgelê word met verwysing na ons mense se ongeduld met die "tydtafel" waarvolgens God sy beloftes

vervul. Wat die koninkryksbegrip betref, kan sinvol aangesluit word by die verkondiging van Psalm 93 met

Hemelvaart.

Jesus se antwoord is dat die "tyd en omstandighede" deur die Vader bepaal word. Die twee woorde wat hier vir tyd

gebruik word se betekenisse kan nie skerp onderskei word nie (Lindijer meen dat n mens van "tydperk" en "tydstip"

kan praat). Die punt is dat die tyd in God se hand is en dat die apostels hulle nie daaroor moet bekommer nie. Dit

beteken egter nie dat die apostels die voleinding passief moet afwag nie. Hulle aandag word gefokus op die taak

wat God hulle gegee het: om getuies te wees. n Mens sou kon sê dat ons hier een van die basiese dinge kry waarin

die kerk onderskeidingsvermoë nodig het. Die kerk het haar meermale aan hubris skuldig gemaak deur die koms

van die koninkryk as t ware uit God se hande te probeer neem en dit te probeer bewerkstellig, met ellendige

gevolge. Dit gebeur net so maklik dat die kerk die afwagting op die voleinding as passiwiteit verstaan en daarom

nie getrou is aan haar roeping nie.

Verklaarders is dit eens dat vers 8 van kardinale belang is vir die verstaan van Handelinge. Kee wys, in navolging

van Hubbard, op die ooreenkoms tussen die "commissioning" van die apostels en die Ou-Testamentiese

roepingsverhale. Die woorde "julle sal my getuies wees" moet dus nie net as n opdrag verstaan word nie, maar as

n roeping wat aan die apostels die volmag gee om te getuig. Hulle is getuies omdat hulle die opstanding beleef het

en ook omdat die Gees van die opgestane Heer hulle getuienis sal bevestig. n Getuie is iemand wat "die bij iets

aanwezig is geweest en erover berichten kan" (Lindijer). Hierdie getuienistaak word geteken as iets wat geografies

uitkring (n beweging wat ook verder in die boek Handelinge beklemtoon word). Die "uithoeke van die wêreld" moet

PREEKSTUDIE - HANDELINGE 1:6-14

volgens Lindijer egter nie net geografies verstaan word nie, maar kan verstaan word as n verwysing na die

heidense volke (vgl die "almal wat daar ver is" in Hand 2:39). Kee (p 105) maak n belangrike opmerking oor die

uitbeweeg van die getuienis vanaf Jerusalem: "... the Acts narratives traces that movement across religious,

geographical, ethnic, ritual, intellectual and social boundaries imposed by human perspectives and standards".

Hierdie grensoorskryding behoort in die prediking beklemtoon te word.

Die belofte van die Heilige Gees is beslissend vir ons verstaan van die kerk se getuienistaak. Kee praat van die

Gees as "the Agent for empowerment and guidance". Die verdere ontplooiing van die verhaal van Handelinge gee

n boeiende perspektief op die verhouding tussen die werk van die Gees en die werk van die kerk. Die gawe van

die Gees gaan aan die getuienistaak van die kerk vooraf. Dit is die Gees wat die apostels oor die eerste grens stuur:

uit die bokamer na openbare verkondiging. Hierdie eerste, beslissende uitstorting van die Gees, waardeur die kerk

as geheel toegerus word vir haar getuienistaak, word in die loop van Handelinge bevestig deur verdere uitstortings

waarin dieselfde tekens voorkom. Die opvallende is dat hierdie bevestigings telkens geskied wanneer die kerk n

bepaalde grens oorsteek: in Samaria (8:17); by Kornelius (10:44-46); in Efese (19:6). Kee (35) skryf tereg hieroor:

"Each successive stage of the outreach of the gospel to the wider world receives confirmation by the Spirit."

Oor die hemelvaart van Christus word met n groot nugterheid berig, sonder enige poging tot sensasionalisering. Dit

is opvallend dat "sien" in verse 9-11 beklemtoon word. Dit hang waarskynlik saam met die klem op die apostels as

getuies van die hemelvaart. Die wolk word meestal deur verklaarders verstaan as n aanduiding van die

teenwoordigheid van God. Jesus word onttrek aan die alledaagse ervaring van die apostels en opgeneem in die

heerlikheid van God (Lindijer). Ehrhardt meen dat die hemelvaart in Handelinge dieselfde rol speel as die

Kersverhaal in Lukas se Evangelie: Dis n gebeure in die geskiedenis wat egter nie in ons normale historiese

begrippe vertolk kan word nie, en dis die sleutel waarmee die verdere verloop van die verhaal verstaan moet word.

Daarom skryf Ehrhardt (p 13): "This means that we must not forget that St Luke puts Jesus Christ Himself in the

centre not only of his Gospel, but also of Acts." Handelinge laat nie die kruis agter in n triomfalisme oor die

opstanding, hemelvaart en Pinkster nie. Daar is eerder n doelbewuste deurtrek van die "patroon" van Christus se

lewe na die lewe van sy getuies (bv in die martelaarskap van Stefanus). Die oorwinning wat Christus in sy

opstanding en hemelvaart behaal het, word nie sigbaar in die goedkoop triomf van sy kerk op aarde nie, maar in

die geloofwaardige getuienis en kruisdra deur die kerk.

Herholdt (Woord teen die Lig I/9) wys, in navolging van Smelik, daarop dat die engele in Lukas se Evangelie

meermale as n korreksie vir die apostels optree. By die leë graf vra die engele: "Waarom soek julle die Lewende

by die dooies?" En hier vra hulle: "Waarom staan julle so na die hemel en kyk?" Dit is asof die apostels telkens

sukkel om die nuwe situasie te verstaan, sodat die engele hulle aandag daarop moet vestig en hulle só die toekoms

in moet help. Die belofte dat Jesus sal terugkeer, vestig die dissipels se aandag nie net op die toekoms nie, maar

ook op die wêreld as hulle as getuies se bestemming. Hieroor skryf Van Ruler (sj[7]:110-111): " wij moeten Jezus

niet achterna willen in zijn hemelvaart. Onze bestemming ligt niet in de hemel, maar op de aarde. De discipelen, die

de ten hemel varende Jezus staan na te staren, worden dan ook op de vingers getikt en de wereld ingestuurd. Daar

ligt hun roeping. Deze is apostolisch, niet hemels; horizontaal, niet verticaal."

Die terugkeer van die dissipels is daarom n terugkeer na die alledaagse wêreld. Hulle kom weer, soos hulle

gewoonte was, in die bokamer bymekaar. Daar bid hulle saam en begin hulle om hulle as geloofsgemeenskap te

organiseer. Soms word gesê dikwels met n negatiewe ondertoon dat Jesus die koninkryk verkondig het, maar

wat gekom het, is die kerk. Ons moet ook raaksien dat ons verhaal n reusesprong maak: van die amper

onvertelbare wonder van die opstanding en hemelvaart, na n klompie mense in n bokamer; van die wolk van

heerlikheid en die engele met hulle glansende klere na n groepie Galileërs wat iewers bymekaarkom om te bid. Tog

is dit nie n negatiewe ontwikkeling nie. Hier word iets nuuts sigbaar. Die dissipels, wat kort vantevore nog gestry

het oor wie die belangrikste in die koninkryk sal wees (Luk 22:24), is nou "eensgesind" bymekaar (v 14). Ook Jesus

se broers wat vroeër n kritiese afstand gehandhaaf het is deel van die groep. Waar die dissipels in Getsemane

geslaap het eerder as om te bid, volhard hulle nou in die gebed. Hulle is nie ooggetuies wat onaangeraak vertel wat

hulle gesien het nie. Hulle het iets met Jesus deurgemaak wat hulle verander het. Dit sê ook vir ons iets oor die

aard van getuienis: Dis geen objektiewe, feitelike verslag nie, dit is n oorvertelling van ervaring waarby jou hele

menswees op die spel is.

Handelinge wil dus ook vir ons duidelik maak dat die kerk nie maar die teleurstellende uitkoms van die hoë

koninkryksverwagtings van Jesus en sy apostels was nie. Jesus het bedoel dat die kerk tot stand moet kom. "The

world-wide proclamation of the gospel is seen in Acts not as a novelty introduced by the apostles after the death

and resurrection of Jesus, but as the fulfillment of the program announced to his disciples by the risen Lord. Indeed,

it was already launched in principle through the activities of Jesus ..." (Kee, p 30). Dit beteken nie dat ons verhaal

aanleiding mag gee tot n kerklike triomfalisme nie; wel dat dit die kerk wil inspireer tot getrouheid in haar

getuienistaak. Wanneer die kerk tot triomfalisme verlei word, is sy juis nie n getroue getuie van die gekruisigde en

opgestane Jesus nie.

Konteks

Baie lidmate van die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis beleef tans n mate van teleurstelling met die

kerk. Die redes hiervoor loop uiteen, maar die verlede van dié kerke (met die regverdiging van politieke apartheid

en die praktisering van kerklike apartheid) speel hierin n belangrike rol. Daar is ook mense wat wonder oor die

relevansie en integriteit van dié kerke binne ons huidige situasie. Ander lidmate, weer, beleef ons kerke as koud en

formalisties en gaan soek elders na groter warmte en meer belewing. Daar is ook mense wie se teleurstelling wyer

gaan as net hierdie drie kerke: Hulle is teleurgesteld in "die kerk" as geheel. Kritiek wat in dagblaaie gelees kan word

soos dat kerke op n "power trip" is spreek duidelik van hierdie teleurstelling. Die verskynsel dat mense wel

gelowig kan wees sonder die kerk kom toenemend voor. In n Christelike konteks neem dit dikwels die vorm aan

van n geloof in Jesus wat krities staan teenoor die gevestigde kerke. Die oordeel wat dan oor die kerk gemaak

word, is dat die kerk soos dit vandag is beslis nie Jesus se bedoeling kon gewees het nie. Ek meen dat n preek

oor Handelinge 1 as ontstaansverhaal van die kerk hierdie teleurstelling met die kerk ernstig moet opneem.

Die teleurstelling met die kerk is veral van belang met verwysing na die klem wat Handelinge 1:8 op getuienis lê.

Die kerk het die volmag ontvang om getuies van Christus te wees, maar het ook die verantwoordelikheid om

geloofwaardige getuies te wees. Wanneer die geloofwaardigheid van die kerk in gedrang kom, plaas dit n

vraagteken oor die getuienis wat ons lewer. Daarom, meen ek, is n besinning oor wat dit beteken om getuie te wees

van besonderse belang. Hier is drie sake van belang: dit waaroor ons getuig, die aard van getuienis, en die konteks

waarbinne ons getuig.

Die apostels het getuig oor dít wat hulle self ervaar het: die kruis, opstanding en hemelvaart van Christus. In die

uitleg van die teks is daarop gewys dat hierdie gebeure n baie direkte impak op hulle lewe gehad het. In die lig van

die verskriklike én die verrassende gebeure wat hulle met Jesus deurgemaak het, moes hulle noodwendig anders

dink oor God, hulleself en die wêreld. Hulle getuienis word gedra deur die impak van hierdie ommekeer in hulle

werklikheidservaring: "God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak" (Hand 236).

Gaandeweg en nie sonder stryd nie! het verandering ook deurgewerk in n ander soort geloofsgemeenskap,

waarin bestaande grense telkens deurbreek is. Juis dit het aan hulle getuienis keer op keer die karakter van

verrassing gegee: "Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie " sê Petrus in Handelinge 10:34.

Die bekeerlinge, wat nie self die verhaal van Jesus met sy apostels deurgemaak het nie, is deur die apostels se

getuienis ingebring in n verrassende, nuwe situasie. Die getuienis van die apostels het dus weerklank gevind in die

vroeë gemeentes se getuienis. "Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as t ware aan

die kruis kon sien hang!" skryf Paulus in Galasiërs 3:1. "Julle het immers self ondervind dat die Here goed is," sê 1

Petrus 2:3. Die getuienis van die kerk is gebou op die getuienis van die apostels. Dit is daarom nie n direkte

getuienis nie, maar word ontlok deur die apostoliese getuienis. Tog is dit nie daarom n blote kognitiewe herhaling

van die apostoliese getuienis, n aframmel van die heilsfeite nie. Dit is, net soos die apostoliese getuienis, n

getuienis van iets wat self ervaar is: die goedheid van die Here. Handelinge 1:8 sê duidelik dat dít die manier is

waarop Jesus die wêreld wil bereik: deur n ketting van getuienis wat begin by die apostels, maar deur die eeue tot

by die voleinding loop.

Die inhoud van die getuienis stempel ook die aard van die getuienis. n Getuie is in n weerlose posisie hy kan nie

bewys of dwingend beredeneer nie, hy kan net vertel. Hy het net homself en sy woord om te bied as mense hom

of sy woorde nie geloofwaardig vind nie, kan die getuie niks meer doen nie. Die "sprong" wat ons verhaal maak van

die Olyfberg en die hemelvaartgebeure na die gewone byeenkoms in die bokamer, weerspieël iets van die

weerloosheid van die apostels as getuies. Hulle het iets beleef wat nie in gewone menslike taal maklik oorvertel kan

word nie en wat nie binne die normale werklikheidsverwagting van die meeste mense val nie. Hulle moet hiervan

getuig aan mense wat dié dinge nie self ervaar het nie en wat hulle ook nie altyd as geloofwaardige getuies beskou

nie (soos die konfrontasie met die "establishment figure" in Handelinge telkens bewys). Later sou Paulus hierdie

verleentheid van die getuies só verwoord: " ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit n aanstoot

en vir die ander is dit onsin " (1 Kor 1:23).

Na my mening is een van die beste perspektiewe op wat getuienis beteken David Bosch se A spirituality of the road.

Bosch (1979:41-42) maak die punt dat die getuie nie n blote passiewe werktuig is wat self onaangeraak is deur die

getuienis nie. Hy wys daarop dat die Bybelse beeld vir ons getuienis nie dié van n instrument of n kanaal is nie,

maar dié van die loot (Joh 15): "A channel remains unaffected by what flows through it, but a branch has, first of all,

to absorb the nutritive power which comes to it from the roots and trunk. It has to make this a part of itself, and allow

itself to be affected and renewed and transformed by that power. Only after having assimilated such energy can the

branch impart it to the fruit. The branch is, therefore, itself involved the process of transmitting nourishment."

Die vraag vir hedendaagse gelowiges moet wees: Waar ervaar ons dít waarvan ons getuig? Hierdie vraag is van

dringende belang omdat spesifiek die gereformeerde kerke n neiging gehad het om sedert die ortodoksie die

eksistensiële betoog van getuienis te verruil vir n rasionele betoog van teologiese argumentasie. Daar is probeer

om die "heilsfeite" só aan te bied dat hulle n rasionele oortuigingskrag sou besit. Dit was nie meer genoeg om te

vertel nie. Die nadeel hiervan kom veral in die prediking en kategese na vore: n sterk kognitief-georiënteerde betoog

wat dikwels nie getuig van n eksistensiële betrokkenheid nie het meermale hier botoon gevoer. Die hoorders moes

die "heilsfeite" aanleer, maar moes dit dan agterna "toe-eien" en "toepas" in hulle eie lewe. Die probleem is dat ons

in tyd en ruimte "in die uithoeke van die wêreld" woon ten opsigte van die apostoliese getuienis. In die

oordragproses het dit vir ons in baie opsigte n veraf-verhaal geword, in sommige opsigte te vreemd om heeltemal

te glo; in ander opsigte te bekend en vanselfsprekend deel van ons wêreld om ons nog te verras. Vir die apostels

het dít waarvan hulle getuig het hulle wêreldbeeld beslissend bepaal; vir ons is dit n bekende boodskap wat ons

iewers in ons bestaande wêreldbeeld probeer inpas. Dit is belangrik dat ons n basiese aspek van getuienis sal

herwin: dat ons praat oor dit wat ons deurgemaak het.

Die primêre plek wat Handelinge aandui waar gelowiges iets deurmaak met God is na my oordeel in die

geloofsgemeenskap. Die nuwe in die apostels se situasie is die "eensgesind volhard in die gebed" waarvan 1:14

praat. Die Gees word met krag op die geloofsgemeenskap uitgestort (vgl die afwisseling van "almal" en "elkeen" in

Hand 2:1-13). Dit is die Gees wat krag gee aan die apostoliese getuienis en wat daardie getuienis bevestig. Dit is

die Gees wat gelowiges intrek in die ervaring van die heil en wat aan gelowiges n getuienis gee wat, op grond van

die apostoliese getuienis, vertel van dít wat die gemeente met die Here deurmaak. Dit is die Gees wat die gemeente

verander om "aan die beeld van Christus gelyk te word" (2 Kor 3:18), sodat die gemeente "die gesindheid van

Christus" weerspieël (Fil 2:5). Dit is daarom belangrik dat die werk van die Gees nie individualisties verstaan word

nie, maar gesien word as n werk in en deur die geloofsgemeenskap. Dit is egter net so belangrik dat hieruit geen

kerklike triomfalisme afgelei word nie en ook geen na binne gekeerde gemeentevroomheid nie. Christus was by

uitstek die Een wat bestaande grense deurbreek het en die Gees lei die kerk ook telkens om bestaande grense te

deurbreek. Die gemeente se direkte ervaring van die "nuwe" wat Christus gebring het en wat die Gees verwesenlik

in die geloofs-gemeenskap hang juis hiermee saam: "Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met

die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk" (1 Kor

12:13).

Die geloofwaardigheid van die kerk word dus nie deur sy verlede bepaal nie (die apostels se jongste verlede in Hand

1 was immers haglik). Dit word bepaal deur ons gehoorsaamheid aan die getuienisopdrag wat die Here aan ons

gegee het. Ons oorvertel van die apostoliese getuienis kan egter nie losgemaak word van die vraag of ons werklik

oop is om die grense oor te steek waaroor die Here ons wil lei nie. Die Gees, lyk dit my, bewerk groei maar op een

manier: deur ons uit ons gemaksone te neem tot in n nuwe situasie. Groei is immers per definisie om in te beweeg

waar jy nog nie was nie. Ons belydenis dat ons glo aan n apostoliese kerk is dubbelsinnig en daarom juis

betekenisvol: Dit beteken dat die kerk gebou is op die getuienis van die apostels, maar dit beteken ook dat die kerk

soos die apostels gestuur word in telkens nuwe situasies. Wanneer die kerk vasklou aan die bestaande en die

bekende, of selfs n ekspert word in die trek en instandhouding van grense wat mense weghou van mekaar.

Preekvoorstel

Ek weet nie of julle dit al ervaar het nie, maar n mens kan soms ontstellend vinnig val van verrukking na verveling,

van ontroering na roetine. Jy sit miskien in die erediens en die wonder gebeur wat soms tog nog gebeur: Die

Woord werk met jou. Dis asof alles anders lyk: God, die wêreld, jy self. Maar netnou klim jy in die motor en voor jy

by die huis kom, is jy terug in die alledaagse. Julle stry oor wie eerste watter deel van die koerant gaan lees. Jy

bekommer jou oor die aandeleprys of die misdaadstatistiek. Netnou nog was julle as t ware op n ander stasie; nou

is julle weer gewone mense wat mekaar irriteer, wat moet skottelgoed was en die asblik uitgooi. In die roetine

vervaag die ontroering, sodat jy dit teen Maandagmôre skaars nog kan onthou.

n Mens sou seker kon wens dat dit anders moet wees. Sommige mense probeer die verrukking n soort permanente

blyplek maak. Dis die kloosterlogika: die gedagte dat jy jou op die een of ander manier moet onttrek aan hierdie

wêreld met sy sleur, sodat jy die hele tyd oop kan wees vir die verrukking van n besondere ervaring. Maar dis nie

die evangeliese logika nie. Ons het gelees hoe die dissipels n werklik verruklike ervaring gehad het, toe Jesus aan

hulle ontruk is. Eintlik was dit maar die spitspunt van n klomp ervarings wat enige gewone mens se verstand te

bowe sou gaan. Hulle het die verskrikking van Jesus se arrestasie en sy kruis beleef. Hulle moes toesien hoe Jesus

begrawe word. Verslae het hulle gesug: "Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos" (Luk 24:21). En toe

die verrassing: Jesus leef! Daarna kom die verrukking: Jesus word voor hulle oë omvou deur die wolk van God se

heerlikheid, Hy word uit hulle midde weggeruk na die troon van God.

Stip staan hulle na die hemel en kyk. Eintlik moes hulle nogal n vreemde prentjie gemaak het, dié klomp mense

wat oopmond-verslae staan en boontoe kyk. Maar as jy verrukking ervaar, maak dit nie saak hoe jy lyk nie. Jesus

is hemel toe, maar daarmee is die wonderlikheid nog nie verby nie. By hulle staan skielik twee manne in helder, wit

klere, twee engele. Hierdie twee manne ruk die dissipels behoorlik in die bek. "Waarom staan julle so na die hemel

en kyk?" Die dissipels moet maar weer afkyk; hulle word afgebring aarde toe. Wat nou? Die verrukking is verby; die

lewe stap aan. Terug Jerusalem toe gaan hulle, terug na die bokamer waar hulle gewoond was om saam te kom.

Uit die wêreld van verrukking, na die vale, alledaagse wêreld van hulle wegkruipkamertjie iewers in die groot stad.

Netnou nog was hulle die verbaasde aanskouers van die troonsbestyging van die Seun van God; nou is hulle n

groepie wat moet oorleef in n vyandige wêreld wat van Jesus niks wil weet nie.

Een keer vantevore het drie van hulle n ervaring met Jesus gehad wat hulle hierop moes voorberei het. Petrushulle

was saam met Jesus op die berg toe Jesus skielik omstraal is van n hemelse glans, in die geselskap van n

skitterende Moses en Elia. Dit was vir Petrus só wonderlik dat hy opsluit net daar wou bly en boonop nog hutte vir

Jesus-hulle wou bou. "Dit is goed dat ons hier is!" Maar Petrus het verkeerd verstaan: Verrukking was vir n oomblik.

Hy moes afkom aarde toe, Jesus wou afkom aarde toe. Jesus is verheerlik sodat Moses en Elia met Hom kon praat

oor sy "uittog" in Jerusalem, oor sy lyding en kruisdood (Luk 9:31). Ná verheerliking volg die verskriklikste

vernedering. Ná die dissipels se verrukking oor Jesus se hemelvaart volg daar die terugkeer na Jerusalem, n

terugkeer wat in baie opsigte ook nie anders was as n vernedering nie.

Dit het die dissipels nie verwag nie. Hulle het gereken hulle verstaan nou uiteindelik wat Jesus se plan was: ná die

kruis, ná die graf, ná die opstanding sou Hy tog seker die koninkryk weer vir Israel oprig! Hulle het eers nie verstaan

dat die kruis nodig is nie. Hulle het eers gereken daar is n direkte roete van die verheerliking op die berg na n

heerlike posisie in Jesus se koninkryk. Maar nou weet hulle: Die pad na die koninkryk loop deur Jesus se kruis en

graf. Daarom vra hulle met klaarblyklike ongeduld: "Here, is dit nou die tyd?" Waarop Jesus hulle tydsvraag van die

tafel vee en hulle ferm wys op hulle verantwoordelikheid: "Julle sal my getuies wees." Die pad na die koninkryk loop

nie net deur Jesus se kruis en graf nie; dit loop ook deur hulle oorvertel van die verhaal van kruis, graf, opstanding

en hemelvaart. Die wonder wat hulle beleef het, moet hulle nou gaan vertel. En die oorvertel van die wonder gaan

glad nie altyd n wonderlike ervaring wees nie.

Om te getuig is om te vertel wat jy deurgemaak het. En dis ten beste van tye maar n moeilike ding. Elkeen wat al

in n hof getuig het, weet dit. Jy vertel dinge soos jy dit onthou. Daarna begin hulle jou peper met vraag op vraag.

Het jy regtig? Is jy seker? Hulle trek jou woord in twyfel en hulle probeer jou sover bring om self daaraan te twyfel.

Jy voel blootgestel, asof jy skielik sonder klere voor die mense staan. Ander getuies vertel die storie op n manier

wat jou soos n leuenaar laat lyk. Soms het jy geen manier om te bewys dat jy reg is nie. Jy het net jou woord, en

vir sommige mense is jou woord nie goed genoeg nie. As jy getuig oor dinge wat min of meer "feite" is, gaan dit dalk

nog aan, maar die ergste is as jy iewers probeer getuienis aflê oor hoe jy iets beleef het. Om terug te kom na die

voorbeeld waarmee ek begin het: die keer toe die Woord met jou gewerk het in die kerk. Dalk roer dit jou só dat jy

vir iemand daarvan wil vertel. Jy sê dit vir jou huismense. Dan sê die een sy dink die dominee het simpel gepreek

en die ander een sê dit was vervelig, en jy sit verleë. Jy kan maar net vertel wat jy beleef het, en jy kan niemand

dwing om met jou saam te stem nie.

"Julle sal my getuies wees," sê Jesus vir die dissipels. Hulle moet teruggaan, Jerusalem in, en vir die mense sê:

"Hierdie Jesus wat julle gekruisig het, hierdie probleem wat julle gedink het julle uit die pad gekry het, Hy leef! Ons

het Hom gesien!" En as die mense sê: "Waar is Hy nou?" moet jy sê: "Wel, Hy is eintlik weg, hemel toe, Hy regeer

nou aan God se regterhand." In jou hart weet jy al wat die slim mense van Jerusalem sal sê: "Komaan! n Bekveldse

timmerman uit Galilea, n lastige, kastige messias wat ons deur die Romeine laat kruisig het en julle sê Hy sit aan

God se regterhand? Julle moet gek wees!" En daar staan jy. Jy kan maar net vertel wat jy gesien het en jy hét dit

gesien; jy kan dit nooit vergeet nie. Maar jy kan ook niemand dwing om jou te glo nie. As hulle jou mal noem en jou

opsluit, as hulle besluit jy is n gevaar vir die samelewing en hulle wil jou ook doodmaak, kan jy niks daaraan doen

nie. Jy moet maar vertel wat jy beleef het. Want Jesus het gesê: "Julle sal my getuies wees."

Wat dit nog moeiliker maak, is wáár Jesus sê hulle getuies sal wees. In die eerste plek in Jerusalem, en dis al erg

genoeg. Die stad wat Jesus gekruisig het, sal kwalik sy dissipels met ope arms ontvang as dié kom vertel dat Jesus

nou regeer. Samaria is ook nie pret nie; dis nie die soort plek waar n ordentlike Jood sou tuisvoel nie. Maar die

uiteindes van die aarde? Hoe op aarde moet hulle daar kom? En vir watter soort mense moet hulle daar die verhaal

van Jesus oorvertel? Hoe moeilik die vraag vir hulle sou wees, lees ons verder in Handelinge: hoe teensinnig hulle

by die heidene uitgekom het, hoe langtand hulle moes leer om heidene as broers en susters te aanvaar

Getuiewees is blykbaar nie die soort werk waarin jy kan kies vir wie en hoe jy dit doen nie. Jy kan nie met die verhaal

knus in jou eie groepie, waar dit vir jou gemaklik en lekker is, bly sit nie. Jesus wil sy storie wyd en ver laat loop

en die apostels moet die vertelwerk doen!

En hulle het dit gedoen. In Jerusalem, al het dit tronkstraf en marteling en selfs die dood beteken. In Samaria. Tot

aan die uiteindes van die aarde. Nêrens was dit maklik nie, maar hulle het aangehou. Later sou Paulus, die

laatkommer onder die apostels, skryf: "Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee

asof ons mense is wat tot die dood veroordeel is. Ons het n skouspel geword vir die wêreld " (1 Kor 4:9). Die kerk

is gebou op hulle getuienis. Daar is n kerk omdat hulle nie stilgebly het nie, maar die storie vertel het, dikwels met

hulle eie lewens betaal het om die storie te kon vertel. Wat n mens moet laat wonder: Hoe het hulle dit reggekry?

Want dit was nie eintlik in hulle aard nie; daarvan getuig hulle patetiese vertoning toe Jesus gekruisig is maar te

goed.

Die antwoord lê kort en klaar in die belofte wat Jesus maak: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor

julle kom " Dis hoekom hulle nie hemel toe moet kyk asof Jesus se weggaan n verrukking is waaraan hulle moet

probeer vasklou nie. Hulle moet terug, die alledaagse wêreld in, want dít is waar hulle die storie moet vertel en dit

is ook waar die Gees vir hulle wag. In die bokamer, waar hulle volgens gewoonte bymekaar is, word die Gees

uitgestort. Hy maak hulle getuies in Jerusalem. Hy sorg dat hulle in Samaria kom. Hy sleep hulle behoorlik oor die

grens van Joodse meerderwaardigheid na die heidene toe. Elke keer wanneer hulle uit hulle veilige hokkies klim,

sorg die Gees dat hulle merkbaar sal weet Hy werk ook hier, in die nuwe, vreemde, ongemaklike situasie. Die

oomblikke van verrukking en ontroering is wonderlik, maar dis nie die eintlike avontuur van die evangelie nie. Die

eintlike avontuur is wanneer die getuies met die storie van Jesus, in die krag van die Gees, in die alledaagse wêreld

ingaan en dinge doen waarvoor hulle nie kans sien nie, op plekke waar hulle liewer nie sou wou wees nie. Dáár laat

die Gees dinge gebeur!

Daarom is dit so n droewige storie as ons angsvallig wegkruip agter kerkmure, as die storie van Jesus net hier vertel

word en nie meer in die wêreld nie. Dis so droewig as ons vasklou aan ons grense en ons gemaksones, as ons vir

mekaar vertel dat dit tog "natuurlik" is dat soort soort soek, ook in die kerk. Mense kla baie oor die kerk, ook oor die

doodsheid van die kerk, en soek allerhande rate om die kerk op te kikker, van orkeste en verhoë tot by kerse en

kruise. Dikwels probeer ons met hierdie dinge n soort verrukking verseker in ons eredienste maar ons deins terug

vir die eintlike avontuur waarop Jesus ons wil stuur om sy storie, wat ook ons storie saam met Hom is, te vertel

vir wie ook al wil luister, op al die plekke waarheen Hy ons wil neem. Om Hom hierin op sy Woord te neem sal dalk

nie verruklik wees nie; dit kan selfs verskriklik wees maar een ding is seker as ek Handelinge reg lees: Dit sal

nooit vervelig wees nie. Kom ons neem Hom dan op sy Woord: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees

oor julle kom, en julle sal my getuies wees "

Bibliografie

Kee, H W 1990. Good News to the ends of the earth. The Theology of Acts. Philadelphia. Ehrhardt, A 1969. The

Acts of the apostles. Ten Lectures. Manchester. Lindijer, C H 1975. Handelingen van de Apostelen I PNT. Nijkerk.

Bosch, D A 1979. A spirituality of the road Scottdale.