9 Mei 2002

Hemelvaart

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Handelinge: 1-11.

Ander tekste: Psalm 47; Lukas 24:44-53; Efesiërs 1:15-23.

INLEIDING

Primêre liturgiese kleure vir vandag is wit en goud (oorwinning en vreugde). Aanvullend kan rooi (Jesus se bloed

en die kleur vir Pinkstertyd) en pers (Lydenstyd) gebruik word. Visuele simbole soos ’n skoenlapper (die oudste

Paassimbool van nuwe lewe uit ’n oënskynlik grafdooie papie) of heliumgevulde ballonne in die liturgiese kleure wat

sal "opvaar", kan gebruik word vir ’n feesatmosfeer.

Christus se hemelvaart en Jesus se uitsprake in ons fokusteks waarborg vir ons die voortsetting van hierdie nuwe

lewe.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Voor die votum

Sing NJB 3 ("Al julle volke klap julle hande …") as toonsetting van vandag se Psalmteks.

Votum

Aan die hand van Lukas 24:49-53 (ander teks) kan die volgende votum in beurtspraak oorweeg word. Dit ondervang

die potensiële hooplose afskeidshartseer van "weggaan" met troos en hoopvolle "krag van bo", "seën", "aanbid",

"met groot blydskap" en "God geprys".

Liturg: Jesus is op ’n wolk weggeneem …

Gemeente: … Hy het die mense geseën ...

Liturg: … en hulle met krag van bo versterk.

Gemeente: Daarom aanbid ons Hom met groot blydskap ...

Liturg: … en prys ons sy heilige Naam.

Seëngroet

Aan die hand van Efesiërs 1:17, 20-22 (ander teks).

Jesus groet vanoggend elkeen van u vanuit sy hemelse gesagsposisie – hoog bo alle bose magte – met die wens

dat ons die Vader sal eer en die Gees persoonlik sal ken.

Lofprysing

SOM 27 en 25 ("Jesus, ons eer U …" en "Jesus bring vreugde …").

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed by die opening van die Woord

Skriflesing

Handelinge 1:1-11.

Prediking

Gebed

Sang

Gesang 182 en 183 ("Besing die lof van Jesus …" en "Heilige Jesus, Heer van die Here …").

UITSENDING

Seën

Gaan leef tot eer van God deur die verheerlikte Jesus Christus – en in die krag van die Heilige Gees – totdat Jesus

weer op die wolke verskyn.

Teks

Psalm 93 is een van die psalms waarin die koningskap van die Here besing word. Dit is daarom verwant aan Psalms

47 en 95-99, veral met Psalms 97 en 99 wat (in Hebreeus) met dieselfde woorde begin: "Die Here is Koning."

Die bewoording van Psalm 93 lyk op die oog af redelik eenvoudig, maar die vertolking is nie so eenvoudig nie.

Hoewel kommentatore saamstem dat hierdie psalm bedoel is as ’n loflied vir die tempelkultus, gaan die weë skerp

uiteen oor die funksie wat die lied binne die liturgie vervul het. ’n Mens kan Breuggemann (1989[3]:34) se

onderskeid tussen ontologie en liturgie gebruik om die verskillende vertolkings in samehang te bring: "… we are

here at the difficult point between an ontology which wants to assert what always is, and a dramatic claim which

wants to assert what is just now happening at this moment". ’n "Ontologiese" vertolking van Psalm 93 sal die klem

lê op die ewige werklikheid van God se koningskap (wat dan net in die liturgie geproklameer word). Die meer

liturgiese vertolking sien die Here se koningskap as iets wat op ’n dramatiese manier in die liturgie gerealiseer word

(sonder om daarmee die ontologiese aspek heeltemal te ontken).

Die skeiding van die weë word reeds gevind in die vertaling van die openingswoorde. Ons vertaling – en trouens

die meeste amptelike vertalings – gee dit weer met: "Die Here is Koning." Dit dui op ’n meer ontologiese verstaan

van hierdie woorde: Die Here was nog altyd Koning, is dit nou en sal altyd Koning bly. Verskeie verklaarders vertaal

egter: "Die Here het Koning geword." Die veronderstelling is dan dat die Here in die liturgie as ‘t ware sy troon bestyg

en die koningskap (opnuut?) op Hom neem. Volgens hierdie voorstelling is die liturgie nie bloot die erkenning van

’n bestaande feit nie; daar gebeur werklik iets in die liturgie, daar kom iets tot stand wat nie anders as deur die

liturgie tot stand kan kom nie.

Die meeste tradisionele verklarings van Psalm 93 lê meer in die ontologiese lyn. J Ridderbos is ’n goeie voorbeeld

hiervan. Volgens hom moet die woorde "Die Here is Koning" verstaan word as ’n algemene lofsang en nie as ’n

konkrete gebeure wat nou in die liturgie plaasvind nie. Die psalm verkondig dít wat oral en altyd waar is, ook

onafhanklik van die liturgie. Dahood pleit ook vir die vertaling: "Yahweh reigns." Hy meen dat die feit dat die

Godsnaam Jahwe eerste gestel word in dié woorde die klem wil laat val daarop dat die Here – en niemand anders

nie – Koning ís. Ander verklaarders wil die vooropstelling van die Here se Naam ook gebruik as argument teen die

vertaling: "Die Here het Koning geword." Hulle meen dat dié vertaling slegs moontlik sou wees indien die "koning

word" in die woordorde voor die Naam van die Here gestaan het. Tate (wat self ook die vertaling "Yahweh reigns"

gebruik, maar nie in ’n eksklusief ontologiese sin nie) meen myns insiens tereg dat dit onmoontlik is om op grond

van die woordorde uitsluitsel te gee oor die vertaling.

Die liturgiese verstaan van Psalm 93 gaan terug op Mowinckel se hipotese dat Israel ’n Nuwejaarsfees gehad het

waartydens die troonsbestyging van die Here liturgies geaktualiseer en gevier is. Daarom is dit by elke

Nuwejaarsfees opnuut waar dat die Here sy vyande oorwin en Koning gewórd het. Hierdie troonsbestyging van die

Here word dramaties opgevoer in die tempelliturgie met die akklamasie "Die Here het Koning geword" as ’n

liturgiese reaksie op die dramatiese voorstelling. Mowinckel se hipotese is ontleen aan soortgelyke liturgieë uit die

wêreld waarbinne die Ou Testament ontstaan het. Hoewel sy hipotese aan kritiek onderwerp is, het dit ’n sterk

invloed uitgeoefen op verskeie verklaarders. Só meen Weiser dat die liturgiese uitroep "Die Here het Koning

geword!" tuishoort by die jaarlikse Verbondsfees (ook met Nuwejaar): "With fervent emotion God’s assumption of

his kingship, accomplished in the cultic act, is celebrated as a present event ..." (Weiser, p 619). Lamparter aanvaar

ook die vertaling "Die Here het Koning geword" en die liturgiese vertolking daarvan in lyn met Mowinckel se

hipotese. Tog wil hy dit nie afspeel teen die ontologiese aanspraak dat die Here ewig Koning ís nie. Dit gaan vir hom

PREEKSTUDIE - PSALM 93

meer om die deurbraak van God se koningskap in die wêreld, waarin die Here sy vyande oorwin en sy heerskappy

openbaar. Ook Tate probeer om die dinamiese, dramatiese karakter van die uitroep "Die Here is Koning!" te

respekteer sonder om die ontologiese aanspraak dat die Here ewig regeer, te ontken. Hy meen die taal herinner

aan ’n oorwinningsviering van die Here as Stryder-Koning.

Die keuse wat gemaak word ten opsigte van die vertaling van die openingswoorde en die basiese aard van Psalm

93 raak ook die verdere interpretasie. Vers 1 se "Hy beklee Hom met majesteit" kan byvoorbeeld óf verstaan word

as beeldspraak vir die ewige heerlikheid van God (vgl Ridderbos) óf as beeldspraak waarin die Here vergelyk word

met ’n koning wat hom beklee in voorbereiding op sy troonbestyging. Die "riviere" van vers 3 (wat ook "seestrome"

sou kon beteken, vgl Jona 2:3) word deur Ridderbos veralgemenend beskou as simbool van die groot mag van die

natuur, wat wel vir die mens ontsagwekkend is, maar wat gering is voor die grootheid van God. Die vertolkers wat

die psalm liturgies vertolk, is egter meer geneig om hierin ’n aanduiding te sien van die mitiese stryd tussen God en

die oerwaters (as chaosmagte), hoewel hulle ook aandui dat daar ’n historisering van hierdie "waters" kan wees om

daarmee die historiese vyande van die Here aan te dui (vgl Lamparter wat wys op die ooreenkoms tussen die

beskrywing van die watervloed en dié van die nasies in Ps 2:1 ev).

Die interpretasiekeuse wat ek maak, veronderstel dat die teenstelling tussen ’n ontologiese en liturgiese vertolking

’n moderne problematiek weerspieël wat nie aan Psalm 93 opgedring moet word nie (Breuggemann wys self daarop

dat die liturgiese nie die ontologiese uitsluit of ontken nie). Vers 2 lê klem daarop dat die Here se troon "van ouds

af" vasstaan (sodat Weiser kan sê dat die Here se koningskap nie opgaan in die oomblik van kultiese viering nie).

Daarom meen ek dat die vertaling "Die Here is Koning" of "Die Here regeer" tog die voorkeur moet geniet. Die

kultiese akklamasie van God se Koningskap is juis daarop gerig om die grense van die kultiese byeenkoms te

deurbreek. Vers 1 gee aan die Here se Koningskap ’n kosmiese dimensie ("Die wêreld staan vas, dit wankel nie

…"). Psalm 93 werk, soos trouens die hele Bybel, met die werklikheid dat God se Koningskap nie ’n rustige,

onbestrede heerskappy is nie. God se Koningskap word weerspreek en verwerp. Ek meen daarom dat die

verklaring waarvolgens die waters van verse 3-4 sinspeel op die mitiese motief van die Here se oorwinning oor die

chaoswaters, maar ook op die Here se oorwinning oor sy vyande binne die geskiedenis, aanvaarbaar is. Selfs

Ridderbos gee toe dat bepaalde historiese gebeure (soos verlossing uit die hand van vyande) aan die uitroep "Die

Here is Koning!" ’n besonder dramatiese krag kon gee. Die verkondiging van Psalm 93 behoort nie op te gaan in

dogmatiese veralgemenings oor die soewereiniteit van God nie, maar moet juis die psalm verstaan as ’n uiting van

verwondering omdat God se heerskappy opnuut geseëvier het oor die vyandskap van die wêreld. Só gesien kry die

psalm ’n besliste eskatologiese klank (Weiser, veral, wil Psalm 93 ook eskatologies lees) en sal Christene dit

verstaan in die lig van die bede van die Ons Vader: " ... laat u koninkryk kom". Die troonsbestygingsfees bly vir my

te hipoteties om as verklaringsbeginsel te gebruik; maar dat die psalm getuig van vreugde oor ’n oorwinning waarin

die Here sy heerskappy laat blyk het, kan nie ontken word nie. Só gesien kan saam met Breuggemann (1989[3]:30)

gepraat word van die "evangelie", die goeie nuus van die Here se heerskappy.

Tate maak ’n boeiende koppeling tussen hierdie oorwinningsgedagte en die sabbat. Hy wys onder meer op 2

Samuel 7:1, waar die oorwinning van Dawid en sy bevestiging as koning beskryf word as die rus (sabbat) wat die

Here vir hom van al sy vyande gegee het. Psalm 93 se gebruik van skeppingsbeelde en van die vastheid van God

se heerskappy is ook "sabbatstaal": die taal van gelowiges wat ná aanvegting opnuut hulle rus vind in die wete dat

God weer oorwin het en weer sal oorwin. Hierdie sabbatsmotief kan na my oordeel sinvol in die prediking gebruik

word.

Die vertaling en verklaring van vers 5 loop ook uiteen. Die woord "verordeninge" (wat in die 1953-vertaling met

"getuienisse" weergegee word) word deur Dahood (na emendasie van die vokalisasie van die MT) weergegee met

"troonbestyging". Weiser, weer, meen dat "getuienisse" voorrang moet geniet en verstaan dit as die vertel van die

verbondsverhaal tydens die kultiese fees. Die meeste kommentatore meen egter dat "verordeninge" die beste

vertaling is en koppel die vastheid van die Here se verordeninge aan die vastheid van sy troon: dit is die aardse

gestalte wat God se heerskappy in die lewe van die volk aanneem. Oor die vraag of die "huis" verwys na die aardse

tempel of na God se hemelse paleis, loop die opvattings ook uiteen. Waarskynlik moet hier ook nie aan ’n volkome

teenstelling gedink word nie, maar indien aanvaar word dat die eerste deel van die vers verwys na die

"verordeninge", is dit voor die hand liggend om hier aan die tempel te dink. Die woorde "heiligheid versier u huis"

kan dan verwys na die heilige lewenswandel van die volk, maar dit is waarskynlik beter om, saam met Ridderbos,

te dink aan die teenwoordigheid van die Heilige in die tempel. God se heilige teenwoordigheid is die eintlike

skoonheid van die tempel.

Konteks

Die teks word hier gebruik vir verkondiging tydens die Hemelvaartdiens. Dit beteken dat die liturgiese herdenking

van Jesus se hemelvaart die onmiddellike konteks vorm vir die prediking. Die boeiende van Hemelvaart is dat dit

die één Christelike fees is wat – anders as Kersfees en Paasfees – feitlik geen weerklank in die sekulêre wêreld

vind nie. Die wêreld kon van Kersfees ’n sentimentele welwillendheidsfees maak; dit kon Paasfees tot ’n

Paaseierprettigheid omskep. Maar met Hemelvaart, so lyk dit my, kon die wêreld weinig uitrig, selfs nie dié wat

steeds (post-Christelik) geboei word deur die "historiese Jesus" nie. Hemelvaart, sê Van Ruler (sj[7]:109), word

maklik deur die moderne mens as ’n suiwer mite beskou. Selfs gelowige mense sal waarskynlik makliker die

betekenis van Kers- en Paasfees kan weergee as dié van Hemelvaart.

Tog raak Hemelvaart die kernbelydenis van die kerk: dat Jesus Christus as Here regeer aan die regterhand van

God. Persoonlik vind ek Van Ruler se reeds aangehaalde werk hieroor besonder boeiend. Ek gee sekere van sy

perspektiewe hier vry vertaal weer omdat ek meen dat dit die prediking kan verryk. Van Ruler wys daarop dat ons

bely dat Jesus ná sy hemelvaart sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader. Daarmee word op ’n

beeldryke manier uitgedruk dat die verhoogde Here deelneem aan die koninklike heerskappy van God in die wêreld.

Of, beter gestel: God regeer die wêreld deur die verhoogde Middelaar. Die Godsregering het die struktuur, die

gestalte en die aard van die Christusregering. Die hoogspanning van die Godsregering, skryf Van Ruler, gaan deur

die transformator van die middelaarswerk van Christus heen en word so gelei op die laagspanningsnetwerk van die

sondige, gevalle werklikheid van die skepping. Vir Van Ruler beteken dit onder meer dat God se regering die

stempel dra van die middelaarswerk van Christus: "Die middelaar draagt en verdraagt alle verschrikkelijkheid, alle

kwaad, alle leed, alle schuld van de wereld. Hij vouwt het toe. Hij legt de mantel van de liefde er overheen. Hij

verzoent het." Daarom gaan ook die almag van God deur die transformator van die middelaarswerk van Christus,

sodat in hierdie wêreld bykans gelyk word aan heilsmag en selfs aan onmag. Hierdie heerskappy van Christus

geskied nou reeds. Ons wag nie daarop nie. Christus heers lydend en strydend oor die wêreld. Wanneer Hy sy

oorwinning oor die bose magte volkome deurgevoer het, sal Hy die koninkryk aan die Vader oorgee (Van Ruler

sj[7]:115).

Hemelvaart gaan nie oor ’n tydlose, ewige waarheid nie. Dit gaan oor iets wat op ’n bepaalde tydstip in die

geskiedenis gebeur het, hoewel die betekenis daarvan nie uitgedruk kan word in die begrippe van ons gewone

geskiedskrywing nie. Dit was nie altyd waar dat Jesus Christus aan die regterhand van God gesit het nie. Daarvoor

moes die Seun van God mens word, aan die kruis sterf, begrawe word en opstaan en opvaar na die hemel. Tóé

eers is dit waar. Daar sit dus in Hemelvaart iets van die dramatiese karakter wat die liturgiese vertolking van Psalm

93 in die woorde "Die Here is Koning" soek: Op hierdie dag het ons Here die troon bestyg en sy Koningskap

opgeneem. Daarom moet Hemelvaart as evangelie verkondig word. Hier kan Breuggemann (1989[3]:35) met vrug

gelees word. Hy skryf oor die oorwinning van Jahwe: "It happened on the battlefield … but it is told here. And if it is

not told, it is not real, effective, or powerful. It happened elsewhere, but its effectiveness is in the moment of its

retelling. It is the moment of retelling that is the moment of dramatic actualization." Christus se Hemelvaart het

"elders" gebeur, maar dit word hier en nou oorvertel, en is daarom hier en nou ’n nuwe werklikheid. Ons is dikwels

geneig om die evangelie só plat te stryk met veralgemenings en abstraksies dat alle verrassing en verwondering

daarmee heen is. Die verkondiging van Hemelvaart moet daarom ingebed wees in ’n liturgie van viering waarin die

oorwinning "elders" hier en nou as ’n aktuele en wonderlike gebeure beleef word.

Die koningskap van Christus is ook die fondament van die kerk se etiese besinning. Etiek is vir die kerk ’n lewe in

gehoorsaamheid aan hierdie Koning. Etiek bestaan nie in die opstel van ’n klomp reëls en regulasies (asof ons

vanuit die evangelie van Hemelvaart ewe gemaklik kan oorspring na ’n wettiese stel regulasies) nie. Die Christelike

etiek is gewortel in ’n bepaalde verstaan van die werklikheid wat anders is as die sekulêre vertolking van die

werklikheid. Die werklikheid is vir die Christen nie ’n geslote kosmos wat regeer word deur die ysere wette van

oorsaak en gevolg, waarbinne die mens aan homself oorgelaat is om met sy rasionele insigte sy weg so goed

moontlik te probeer vind nie. Die werklikheid is dat Christus regeer aan die regterhand van die Vader en dat ons

deur geloof, onder leiding van sy Gees, ons weg deur die wêreld vind. Binne hierdie werklikheid maak ’n bepaalde

lewenswyse sin. Navolging van Christus is geen wettiese eis wat van buite af op ons afgedwing word nie; dit is

gewoon die enigste moontlike lewenstrategie in die lig van hoe die werklikheid inmekaarsteek.

Geloof in die evangelie van Hemelvaart kan daarom nie geskei word van gehoorsaamheid aan die Koning nie. Hier

kan met vrug aangesluit word by vers 5 van Psalm 93. ’n Boeiende moontlikheid is om die gedagte van "vastheid"

wat in Psalm 93 toegepas word op die wêreld, op God se troon en sy verordeninge te gebruik vir die prediking. Alle

mense soek vastigheid in die lewe – in hulleself, in ’n bepaalde sosiale orde, in ekonomiese welvaart. Ons ervaring

is egter dat die dinge waarin ons vastigheid soek nie vasstaan nie, maar wegwankel die oomblik dat ons daarop

steun. Ons ervaar die wêreld dikwels juis as ’n plek wat nie vasstaan nie. Die vastheid van die wêreld lê, volgens

Psalm 93, egter nie in die wêreld self nie, maar in die trou van God wat hemel en aarde gemaak het en wat sy

handewerk nie laat vaar nie. Die vastheid van die wêreld lê daarom in die vastheid van God se troon – wat bo die

chaosmagte uittroon (v 4) en wat telkens oor die chaosmagte oorwin. Hierdie vastheid van God se troon kan weer

nie losgemaak word van die vastheid van sy verordeninge nie. Geloof in die vastheid van God se troon kan daarom

nie losgemaak word van gehoorsaamheid aan die vastheid van sy verordeninge nie.

Vir Christene beteken hierdie gehoorsaamheid bo alles dat ons Christus bely as die enigste Naam in hemel en op

aarde waardeur daar vir ons verlossing kom – en daarom ook as die enigste Here wat ons gehoorsaam (vgl die

Barmen-verklaring). Geloof en gehoorsaamheid sal gelowiges dikwels ingooi in die warboel van vervolging en

verwarring, maar in hierdie warboel bly die troon van God en sy verordeninge vasstaan. Die Koningskap van

Christus kan dus nie bely word in die taal van sentimentele gerusstelling ("God is in his heaven and all is right with

the world") nie. Christus, sê Van Ruler, regeer lydend en strydend – en ons gehoorsaamheid aan Hom is daarom

ook lydend en strydend. Wat meer is, die werklikheid dat God se regering deur Christus die stempel van Christus

se liefdevolle middelaarswerk dra, bepaal ook die karakter van ons gehoorsaamheid. Die riglyne vir die geloofslewe

wat Romeine 12:9-21 bied, druk dit duidelik uit.

Hierdie perspektief is belangrik omdat ’n verkeerde verstaan van Christus se koningskap maklik kan lei tot ’n

ideologiese misbruik daarvan. Die kerk het meermale die Koningskap van Christus gebruik as ’n legitimasie van

kerklike magsmisbruik in die wêreld. Sommige politieke groepe was ook nie skaam om Christus se Koningskap in

te span vir eie gewin nie. Uys Krige se gedig Lied van die Fascistiese bomwerpers met sy ironiese refrein "Lewe

Christus die Koning!" gee hiervan ’n sprekende voorbeeld. Die koningskap van Christus word in ons tyd binne die

kerk gebruik om ’n kerklike militansie teenoor allerhande "euwels" en "bedreigings" aan te moedig, met ’n dikwels

amper ongelooflike onverdraagsaamheid en liefdeloosheid teenoor mense wat anders leef en dink as ons. Dit word

ook gebruik as regverdiging van ’n selfgesentreerde welvaartsteologie (ons is immers as "Koningskinders" net op

die beste geregtig!). Daarom is dit so belangrik dat ons in die verkondiging van Hemelvaart nie sal vergeet nie dat

Christus se Koningskap hier op aarde sigbaar geword het as ’n opskrif aan die kruis.

Dit is ook belangrik dat veral dié van ons wat in oorwegend wit, Afrikaanse gemeentes preek met die styl van Christus

se Koningskap sal erns maak wanneer ons oor die vastheid van God se troon en verordeninge praat. Die gedagte aan

vastheid kan ons amper vanself verlei tot ’n nostalgiese verlange na die vorige bedeling, toe "wet en orde" nog

gehandhaaf is. By sommige lidmate kan die opvatting bestaan dat ons toe nog ’n "Christelike" owerheid gehad het wat

teen misdaad en euwels soos pornografie opgetree het, dat die kerk toe nog invloed gehad het in die land. Tans staan

ons binne ’n liberaal-demokratiese bestel en word die kerk vir die gevoel van baie mense gemarginaliseer (vgl bv die

klagtes wat opgaan dat die kerk "stil" geword het). Dit kan daartoe lei dat mense reken die Koningskap van Christus

word tans minder erken in ons land as vroeër. Hierteenoor moet gesê word dat Christus tans steeds – soos vroeër –

lydend en strydend regeer en dat die kerk nou nog – soos vroeër – geroep word tot gehoorsame navolging van

Christus. Verder moet dit gestel word dat die kritiese vraag – toe, soos nou – is of die kerk werklik in sy navolging die

styl van Christus (of die gesindheid van Christus volgens Fil 2:5) vertoon. Dat ons – toe en nou – in gebreke bly hierin,

staan na my oordeel vas. Daar kan selfs, in die lig van die kerkgeskiedenis, gesê word dat ’n gemarginaliseerde kerk

navolging dikwels beter begryp as ’n sosiaal invloedryke kerk. In hierdie verband kan gewys word op die manier

waarop Hebreërs 13:12-14 oor navolging praat. Die feit dat dinge wat vir ons vroeër so vas en seker gelyk het so skielik

weggeval het, moet ons verder daartoe bring om te besef dat die vasthede waarvan Psalm 93 praat nie afhang van

ons politieke bestel of van die posisie van die kerk in die samelewing nie. Die goeie nuus van Hemelvaart is steeds

goeie nuus; beter nuus as wat die politieke beloftes van ons ou bestel of van die nuwe Suid-Afrika ooit kan wees.

Preekvoorstel

Ek gee hier net die hooflyn wat ek in ’n preek sou volg, sonder om die praktiese toepassing uit te werk – dít, meen

ek, moet elke prediker in sy eie situasie doen.

Vir die meeste mense in ons land was vandag waarskynlik maar ’n dag soos ander dae: Hulle het opgestaan, geëet,

gewerk, ontspan, gaan slaap. Baie mense het dalk nie eens mooi besef dat dit vandag Hemelvaart is nie, en as

hulle onthou het, sou dit ’n groot klomp van hulle min geskeel het. Hemelvaart is, sou jy kon sê, die kerk se

"onsigbare" feesdag. Christene kom in klompies in kerkgeboue bymekaar om te onthou, maar die grootste deel van

die wêreld heg nie waarde aan hierdie dag nie.

Wat moet ’n mens sê van dít wat ons vandag onthou? Jesus het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand

van God, bely ons. Op hierdie dag het Jesus as Koning sy troon bestyg, het Hy bewind aanvaar oor die wêreld én

oor die kerk. "Hy het die eerste plek in die heelal ingeneem," sê Kolossense 1:18. Gaan vertel jy dit vir die mense

daar buite, sal baie van hulle jou dalk uitlag. Hierdie wêreld lyk immers nie asof Jesus hier regeer nie. Die meeste

mense gaan hulle gang sonder om ooit oor Jesus te dink. Dalk kan jy nog sê dat Jesus oor die kerk regeer, maar

oor die wêreld? En selfs wat die kerk betref, is dit ’n ope vraag of die meeste mense bereid sal wees om te sê dat

Jesus hier regeer. Hierdie verskeurde, dikwels verwarde, meermaal verwronge besigheid wat ons "kerk" noem, lyk

vir baie mense nie juis asof dit onder goeie bestuur staan nie.

Tog is ons vandag bymekaar om te sê: Dis waar, Jesus hét opgevaar, Hy sit aan God se regterhand, Hy regeer. Hy

is regtig "eerste in die heelal". Sulke verregaande aansprake is ook nie nuut vir God se volk nie. Ons kry dit al in

die Ou Testament. Ons lees ’n soortgelyke aanspraak in Psalm 93. "Die Here is Koning!" begin hierdie lied. Nou

moet jy jou dit voorstel: ’n Klompie Israeliete is bymekaar in die tempel in Jerusalem. Nie een van die "hoogste"

kultuurvolke van hulle tyd nie. Lees jy die Ou Testament goed deur, kom jy agter hulle was ook maar ’n moeilike

klomp. Alle verskriklikhede wat mense kan aanvang, het hulle aangevang. Eintlik is daar net een ding wat hulle

onderskei van die ander volke. Hulle dien die Here as hulle God. Die ander nasies ken nie die Here nie. In hulle

beter oomblikke bely Israel selfs dat net die Here God is. En Hy is Koning. Nie net oor die tempel nie, nie net oor

Israel nie. Die Here is Koning oor die hele aarde.

Toe Israel nog ’n redelik sterk koninkryk was, kon hulle hierdie soort psalm dalk nog met oorgawe sing. Maar wat

van later, toe die koninkryk in twee geskeur het, toe die noordelike ryk eerloos ondergegaan het, toe die suidelike

ryk deur Babel platgevee is en in ballingskap weggevoer is? Enige Babiloniër sou in sy bier stik as hy gehoor het

dat die Here kastig Koning is oor die hele aarde. Blote logika sê tog vir jou dat Babel, en die gode van Babel, veel

sterker is as die Here van Israel. Tog het God se volk ook in ballingskap, en in die verwarde jare ná die ballingskap,

aanhou sing: "Die Here is Koning! Koning oor die hele aarde!"

Foei tog, sou ’n siniese mens kon sê, dit wys jou net: geloof is maar ’n manier om die harde werklikheid te ontken.

Geloof was hierdie verloorvolkie se manier om hulleself belangrik te maak: Ons verloor, maar ons Here is Koning!

Geloof is die kerk se manier om die verleentheid van sy magtelose posisie in die wêreld te verdoesel: Ons lyk

miskien nie na veel nie, maar ons Here is eerste in die heelal! So kan mense hulleself bluf … In antwoord op so ’n

spottende reaksie sou ’n mens kon sê dat dit darem merkwaardig is dat mense hulleself oor duisende jare kan bluf

– en met dié blufspel en al oorleef. Tog merkwaardig dat die Here van Israel steeds aanbid word, terwyl die gode

van die magtiges nou net dooie herinneringe is. Bloot dié werklikheid behoort ons sover te bring om weer ’n slag te

kyk na die aansprake van Psalm 93, en na die aanspraak van die Hemelvaartboodskap.

Psalm 93 kan in elk geval nie beskuldig word van ontkenning van die werklikheid nie. In verse 3-4 lees ons van die

gedruis van baie waters. Ons 1983-vertaling praat van "riviere", maar dis dalk beter om te vertaal met "seestrome".

Dié verse wil waarskynlik die beeld van die see in stormgeweld oproep, met die gedreun van die golwe en die

geweld van branders op rotse. Vir ons sal ’n stormsee al bang maak, veral as jy dalk in ’n klein bootjie op die golwe

rondgeslinger word. Maar vir die ou Israeliete – wat regte landrotte was en min liefde vir seevaart gehad het – was

die chaotiese watergeweld ’n oersimbool van alles wat God se goeie orde in hierdie wêreld bedreig en wil vernietig.

In die begin, vertel Genesis 1:1-2, was die aarde heeltemal onbewoonbaar en was dit donker op die diep waters.

Maar die Here het met ’n skeppingswoord oor dié chaoswaters oorwin, en dis hierdie eerste oorwinning wat Psalm

93 ook in herinnering roep: "… hoog bo die golwe van die see troon die Here in sy koninklike mag."

Psalm 93 is daarom nie ’n rustige lied wat vertel van ’n Koning wat ongesteurd op sy troon sit nie. God regeer oor

’n wêreld wat telkens weer deur die chaosmagte oorspoel word. Dit gebeur in Genesis 3, waar Noag en sy mense

hulpeloos ronddobber op die vloed totdat God die waters weer op hulle plek sit. Daarom speel water so ’n groot rol

in die verlossingsverhale van Israel: die waters van die Rietsee wat oopgaan voor die volk, die waters van die

Jordaan wat opdam sodat hulle kan deurloop. Elke keer verlos God sy volk deur die waters te oorwin. Daarom praat

Israel ook oor die volke wat teen God in opstand is, in taal wat herinner aan die stormseebeeld van Psalm 93. Die

wêreld, kan ’n mens sê, is ’n stormsee, en God se volk lyk maar soos die ark – ’n klompie mense wat hulpeloos

ronddobber in die malinge van die geskiedenis. Tog bely die volk van God: "Die Here is Koning!" Want hulle ervaar

hoe hulle die storms oorleef omdat God keer op keer oorwin.

Wanneer God se Seun mens word in Jesus hoor ons ook keer op keer van watergeweld. Een keer maak Jesus die

storms stil, sodat sy dissipels verwonderd vra: "Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom

gehoorsaam?" (Matt 8:27). ’n Ander keer loop Jesus op die stormsee, waarop die dissipels voor Hom kniel en bely:

"U is waarlik die Seun van God." Hierdie geloof van die dissipels word by breekpunt verby getoets wanneer Jesus

self in die storms verdrink op Golgota met die spotwoord "Koning van die Jode" aan sy kruis vasgespyker en die

vraag: "My God, waarom?" op sy lippe. Nog nooit van te vore en nooit daarna het dit só seker gelyk dat die stormsee

selfs vir God se troon te sterk was nie, dat die chaoswaters van mense se haat en geweld die troon van God

oorspoel het nie. Op Golgota word dit weer donker, donkerder selfs as wat dit in die begin op die diep waters was.

Maar dan gebeur daar iets: Jesus staan op uit die dood, Hy vaar op na die hemel, Hy gaan sit aan die regterhand

van God. Sy oorwinning oor die chaoswaters is vas en seker.

Stel julle voor: ’n Land staan onder die regering van ’n vyandige besettingsmag. Dit gaan swaar met die mense,

hulle lewe is elke dag in gevaar. Maar, op ’n dag, kom die goeie nuus: Die vyandige besettingsmag is elders, op ’n

slagveld ver van hulle af, beslissend verslaan. Dis net ’n kwessie van tyd dan sal die oorwinning ook hier by hulle

deurbreek en die juk van die vyand sal finaal afgewerp word. Die nuus van die verre oorwinning bring nou reeds die

sekerheid van vryheid en ’n nuwe lewe. Dís wat Psalm 93 is – dit bring vir die klompie Israeliete nog ’n slag die

goeie nuus van ’n oorwinning wat lank gelede, in die skeppingswerk van God, reeds gebeur het: God het oorwin

oor die mag van chaos. Hierdie oorwinningsnuus vier hulle met vreugde, want dit sê vir hulle dat God besig is om

daardie oorwinning deur te voer in hulle wêreld, dat Hy ook oor die mag van chaos sal oorwin. Ook al dobber hulle

hulpeloos rond op die stormsee het hulle hierdie anker, hierdie vastigheid: God is die Oorwinnaar, God is Koning.

Die evangelie van Jesus Christus is ook goeie nuus wat van ’n ver land uit ’n verre tyd na ons toe kom, maar wat

hier en nou vir ons sê: "Christus het oorwin, Hy het opgestaan, Hy sit aan God se regterhand." Ons kom hier in,

week ná week, jaar ná jaar, moeg gesukkel omdat die wêreld nog oorstroom is deur die stormwaters, omdat die

koninkryk van Christus steeds beset word deur die bose magte. Maar ons weet: Die troon van Christus staan stewig,

die oorwinning is reeds behaal. Ons kom bymekaar om te sing, om onsself daaraan te herinner dat die prentjie wat

ons meestal van die wêreld het as ’n godverlate, goddelose plek waarin gelowiges angstig rondploeter, heeltemal

vals is. Ons kom hier bymekaar om mekaar te help om die werklikheid weer in fokus te kry; sodat ons weer kan

besef dat ons elke dag leef onder die regering van Christus.

Ons mag net nie hiervan ’n goedkoop troos maak nie. Die lofprysing van Psalm 93 is nie net bedoel as ’n lekker

tempellied wat die volk so ’n bietjie beter kan laat voel oor die lewe nie. Hemelvaart is nie ’n fopmedisyne wat ons

help om ons ’n beter wêreld te verbeel nie. Psalm 93:5 sê: "U verordeninge staan baie vas." So vas soos God se

troon, só vas staan dit dat Hy van sy volk vra om Hom te gehoorsaam. So seker as wat Jesus sit aan die regterhand

van God, só seker het Hy die reg om gehoorsaamheid van ons te vra. Wanneer Paulus in Filippense 2 vertel hoe

Jesus Homself verneder het tot in die dieptes van die dood aan die kruis en hoe God Hom die Naam bo alle name

gegee het, sê die apostel vir die gemeente: "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus

was." Daar is ’n patroon in Jesus se lewe – die patroon van selfverloëning in radikale gehoorsaamheid aan God.

Dit is ook die patroon van sy regering oor ons; dit is ook die lewenspatroon wat Hy van ons vra.

Daarom moet ons nie daarop reken dat die koningskap van Christus sy navolgers in magsposisies sal plaas, dat

die kerk in die middelpunt van die samelewing sal staan en dat gelowiges invloedryke mense met status sal wees

nie. Die Koning wie se oorwinning ons herdenk, het die kruispad geloop en vra van ons om ons kruise op te neem

en Hom te volg, waar Hy ons ook al mag lei. Ons vashoupunt in hierdie wêreld is immers nie ons eie vermoëns of

ons sosiale posisie nie, maar sy troon en sy verordeninge. Gehoorsaamheid is ons eintlike loflied aan die Here as

Koning!