25 APRIL 2004

DERDE SONDAG VAN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Paastyd gebruik te word

Fokusteks: Johannes 21:1-19

Ander tekste: Handelinge 9:1-20; Psalm 30; Openbaring 5:6-14

Inleiding

Die fokusteks van vandag speel weereens af kort na Jesus se opstanding uit die dood. Nadat Hy en sy dissipels saam geëet het, stuur Jesus vir Petrus met sy vrae aan hom. In sy sending word egter reeds geïnsinueer dat sy navolging sy lewe gaan kos. Ook die Handelinge teks vertel van iemand wat deur God gestuur word, naamlik Saulus se bekering. En in Openbaring 5 kry ons ín kykie op die hemelse liturgie, maar ook hier is dit juis die geslagte Lam wat waardig is. Hier is dus duidelik ín deurlopende tema wat beskryf sou kon word as die "koste van dissipelskap". Hierdie balans kan ook in die liturgie van vandag na vore gebring word, te wete die heerlikheid van navolging van die opgestane Christus, maar dit is ín duur navolging.

Misericordias Domini Ė sien vir die benaming van dié Sondag die basisliturgie vir Paastyd.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde.

Seëngroet

Antwoord

Die Paaskers

Iemand doen ín gebed by die Paaskers (sien basisliturgie), waarop die gemeente responsories antwoord.

Loflied

Lied 151-181/NSG 322; 352; 345; 343; 327; 44; 38; 160

Skuldbelydenis

Voorbeeld: Die voorganger begin die verhaal vertel van die prokureur in die rolprent Grand Canyon wat uit ín groot verkeersknoop probeer uitkom, maar dan al verder en al dieper in strate inbeweeg wat donkerder en meer verlate begin word. Totdat sy grootste nagmerrie waar word: sy duur motor gaan staan met hom in een van daardie strate waar die bendes die buurt beheer. Hulle kyk met begerige oë na sy mooi, duur motor, maar gelukkig kry hy nog kans om ín insleepdiens te laat kom om die kar weg te sleep. Voordat die insleepwa daar aankom, trek sowat vyf jong rampokkers ín al nouer kring om sy motor en om hom en dreig om hom fisieke leed aan te doen. Die insleeptrok kom net betyds daar aan en die bestuurder klim uit en haak solank die onklaar motor aan die wa. Die jonges protesteer! Dié man is immers besig om hulle aandete te bederf! Dan neem die bestuurder die leier eenkant toe en verduidelik vir hom in vyf sinne wat die dogmatiek ons leer van die sondeleer. Hy stel dit net in gewone taal, en ons haal aan: "Man," he says, "the world ainít supposed to work like this. Maybe you donít know that, but this ainít the way itís supposed to be. Iím supposed to be able to do my job without askiní you if I can. And that dude is supposed to be able to wait with his car without you rippiní him off. Everythingís supposed to be different than what it is here." Die voorganger kan dan voortgaan om te verduidelik dat dinge hierdie week ook nie gewerk het soos dit veronderstel was om te werk in die wêreld nie, en ook nie in ons lewens nie. Die voorganger kan nou ín oomblik van stilte skep waartydens miskien ín stuk (meditatiewe) instrumentale musiek (met klavier of viool) gespeel kan word met dissonante note in, wat pas by ons elkeen se ambivalente situasie binne in ons wêreld, byvoorbeeld Fernando Ortega, "Nearer my God to Thee".

 

 

DIENS VAN DIE WOORD

Skriflesings met response

Psalm 30.

Openbaring 5:6-14

Handelinge 9:1-20

Lied 189 "Halleluja".

Johannes 21:1-19

Vredesgroet

Sien basisliturgie.

Prediking

Gebed

Sang

Lied 411 "Kom, almal, laat jul stem verrys"/NSG 112. Gemeente sing dit as antwoord op die prediking.

DIENS VAN DIE TAFEL

Sien basisliturgie.

uitSENDING

Sien basisliturgie

Dankoffer

Seën

PREEKSTUDIE Ė JOHANNES 21:1-19

 Teks

Dit is redelik algemene kennis dat Bybelverklaarders van mening is dat hierdie teksdeel en ook die verse wat daarop volg, `n latere toevoeging tot die Johannesevangelie (wat reeds sinvol in 20:30-31 afgesluit het) is. Sommige is selfs van mening dat hierdie uitgebreide toevoeging "over de rand gaan", deur die oorspronklike boodskap van die evangelie te ver te rek. Ongeag hoe die gedeelte toegang tot die kanon gekry het, word dit vir die doel van die verkondiging van die Paasevangelie as egte openbaringsmateriaal aanvaar en as sodanig in dié kort studie hanteer.

Die geheelteks vertoon twee duidelike onderafdelings. Die eerste deel (1-14) word ingelei en afgesluit met die uitdruklike verklaring dat hierdie berig primêr handel oor die verskyning van die opgestane Christus aan sy dissipels. Dit is dus bedoel as `n "historiese" konkrete bevestiging van die opstanding van Jesus. `n Sober berig wat handel oor visvang, kos op die strand, saam eet en onmiskenbare erkenning van die lewende Here. Alhoewel hierdie teksdeel `n eenheidsvertelling binne die raam van vers 1 en 14 is, is daar tog drie duidelike momente in die opbouende vertelling te onderskei. Die eerste moment (1-6) vertel van die mislukte visvangonderneming wat deur vreemde inmenging in `n wonderlike sukses verander. Vers 7 is `n soort suggererende oorgang, met die vermoedende herkenning van die hooffiguur in hierdie wonderlike gebeure. Die tweede moment (8-11), waarin die voltooiing van die visvangs berig en die uitnodiging tot die ete aan die adres van die vissers gerig word. Die derde moment en hoogtepunt van die vertelling (12 en 13) vermeld wanneer die "Paasmaaltyd", saam met die opgestane Here, plaasvind en al die dissipels weet dat Hy leef en Heer is.

Met die beklemtoning van verskillende fyner nuanses en opmerkings in hierdie teksdeel, dui Müller (WTL I/9) aan dat hierdie onderafdeling volgens hom eintlik `n missionêre motief dra. Die opgestane Here verskyn aan sy dissipels, begelei hulle deur die visvangepisode en versterk hulle met die vis en brood sodat hulle gereed en bereid sal wees om voortaan draers van die Paasevangelie (dat Hy leef tot redding van alle mense) sal wees. Müller se perspektiewe en verwysings kan met vrug geraadpleeg word.

Die tweede onderafdeling van die geheelteks (15-19) handel oor die intense gesprek tussen Jesus en Simon Petrus. Die ete en herkenning is verby. Nou is dit tyd vir reguit praat. Die eintlik saakmakende rede vir dié ontmoeting kom nou aan die orde. Jesus het nie primêr aan hulle verskyn ter wille van meer vis in die net, of `n aangename ontbyt op die strand na `n harde nag se werk nie. Klaarblyklik wil Jesus veral oor een saak met sy dissipels, soos verteenwoordig deur Petrus, praat. Hy wil eerstehands verneem wat die diepste en enigste grond is vir hulle verbintenis aan en volgelingskap van Hom. Daarom die drie maal herhaalde vraag: Het jy my lief? Müller tipeer hierdie gesprek as draer van die pastorale motief van die verskyning. Want al is Petrus verteenwoordigend van die ander ses, asook al die ander latere volgelinge van Christus, is hy die primêr aangesprokene. Die man met die aanvanklike bravade opgevolg deur drie verloënings, moet nou drie maal verklaar dat hy regtig begryp waaroor dit ten diepste gaan. Of hy ten spyte van watter misstande en verkeerde sienings ook al in die verlede, finaal en seker begryp wat volgelingskap van die lewende Here behels.

In eksegetiese besprekings van die geliefde preekteks (dikwels sonder verwysing na v. 1-14) word soms gewag gemaak van die wisseling van die liefdesbegrippe (agape en philia); die opdrag om lammers, skape, te laat wei; Petrus wat hartseer word as die vraag `n derde keer gevra word en die effens misterieuse en dubbelsinnige slotuitsprake (18-19). Elkeen van hierdie aspekte kan met vrug in kommentare nagelees word vir moontlike verantwoordelike ontginning in `n preek.

 Konteks

Die interessante verskynsel waarop Müller ook pertinent wys, is dat die teksdeel dikwels gelees en geïnterpreteer word vanuit allegoriese, vergeestelikende of simboliese benaderings. Dit bring mee dat in die uitleg en ook verkondiging daar dikwels allerlei ekstrapolerende perspektiewe ter sprake gebring word. Solank daar gewaak word teen `n bepaalde leesbenadering wat op `n onverantwoordelike misbruik van die teksgegewens kan uitloop, is dit sekerlik moontlik om bepaalde fasette van die teks deur te trek na die korresponderende implikasies daarvan vir die kerk wat na die Paasgebeure lewe.

In die nadenke oor die teks is dit in die eerste plek nodig en belangrik om die wonderlike visvangs te verstaan in die lig van en in verband met ander soortgelyke wonders van Jesus tydens sy bediening voor sy kruisdood. Jesus het natuurwonders gedoen om as verteenwoordiger van God sy beheer en regering van die skepping te demonstreer en daarmee verwondering en vertroue by mense te laat posvat. Die feit dat Christus na sy opstanding op amper dieselfde wyse optree as byvoorbeeld met die wonderlike visvangs, waarvan Lukas 5:1-11 tydens die roeping van die dissipels berig, is betekenisvol. Daar het hy hulle vir die eerste keer geroep om Hom te volg en vissers van mense te word. Hier laat Hy hulle weereens op wonderbaarlike wyse baie visse vang en stuur hulle dan uiteindelik om sy skape op te pas en te laat wei.

`n Verdere dimensie wat aandag verdien, is die dissipels se huiwerende herkenning van die Heer. Hy het immers gekom om Homself aan hulle te openbaar, maar ook om hulle te help om met die werklikheid van sy opstanding en die troos van sy vergifnis, verder in die wêreld te lewe. Daarom is dit wesenlik dat hulle Hom sal herken en sal weet dat Hy regtig lewe en by hulle teenwoordig wil wees. Die reaksies op die herkenning van die Here is eintlik ook eg-menslik. Petrus wat klaarblyklik met `n erg skuldige gewete homself dinge gou aantrek en ontvlugtend in die see spring, en die ander wat saam eet maar skaam-bang nie wil praat nie, alhoewel hulle weet die Here by hulle is, is trou aan ons menslike aard. Dis immers nie verniet nie dat Rudolf Otto gesê het: "Die teenwoordigheid en erkenning van God is `n misterie van bewende fassinering." Wanneer die lewende opgestane Christus dan lyflik en persoonlik by hulle is, verstom dit die mees spraaksames tot beskaamde en tog seker ook verwonderende swye.

Of die eenvoudige maal van vis en brood op die strand `n soort heenwysing na die geestelike voeding van die nagmaal kan inhou en of dit eerder net die bevestiging van Jesus se besorgdheid oor die fisiese energievlakke van die hardwerkende vissers na `n nag op see is, is eweneens iets om oor na te dink. Schniedewind se nagmaalspreek waarin hy poog om die effek van die gebruik van die nagmaal op die alledaagse lewe van die gelowige te betrek en waarin hy ook van die teksgegewens ontgin, is vermeldenswaardig in die verband.

Baie aandag is al en behoort nog steeds aan die gesprek (15-19) tussen Jesus en Petrus gegee te word. Dat daar baie fyn nuanses en subtiele ondertone in die gesprek onderskei en aangedui sou kan word, is sekerlik moontlik. Tog moet die eenvoudige en helder gerigtheid daarvan nie afgeswak word nie. Jesus het sy dissipels en ook vir Petrus hartstogtelik lief. Hy wil op grond van sy liefde net weer aan hulle, by monde van Petrus, die geleentheid gee om hulle liefde vir Hom te bely. Die Carrs se perspektief in hulle kursus, Volk van die Pase, kan in dié opsig instemmend aangehaal word: "As hierdie gesprek die finale eksamen was om Petrus se gereedheid vir die bediening te bepaal, dan is dit fassinerend om op dit te let wat Christus hom nie vra nie. Christus vra hom nie wat hy glo of weet nie, Hy sê nie: "Petrus vertel my `n bietjie wat jy glo omtrent die inkarnasie, die versoeningsleer of die drie-eenheid nie." Jesus vra hom nie om die opinies van twee prominente teoloë hieroor te vergelyk nie. Christus stel ook nie vas hoe gehoorsaam Petrus was nie; Hy sê nie: ĎPetrus, kom ons kyk na jou verlede en jou morele lewe nie.í Nee, Christus vra eenvoudig drie keer aan Petrus of hy Hom liefhet of nie. Die basiese kwalifikasie vir die bediening is ons dankbare antwoord op God se vrymakende en vergewende liefde, soos Hy dit in die lewende en opgestane Christus aan ons openbaar. Niks anders nie! Die ware vraag wat aan ons as bedienaars en dissipels gevra word, is of ons regtig van harte lief is en omgee vir Jesus Christus en dit waarvoor Hy staan. En die instruksie van wat ons moet doen as ons Christus liefhet, is net so eenvoudig: Laat my skape wei. Ons moet onthou dat Christus se skape, God se skape, die voorwerpe van sy liefde, nie net kerklidmate is nie. Johannes 3:16 lees immers: `God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het Öí Die wêreld. Nie, God het net die kerk so liefgehad nie."

Preekvoorstel

As boodskap vir die derde Sondag na Pase sal `n preekvoorstel wat fokus op die dieperliggende motiewe van die opgestane Christus in sy uitreiking na sy volgelinge, seker nie te onvanpas wees nie. Daarom sal `n preek kan begin met die indringende en selfondersoekende vraag aan die gemeente dat elkeen teenwoordig asseblief `n nota vir hom of haarself moet maak, waarin hulle die diepste motiewe en gronde vir hulle eie Christenskap neerskryf (letterlik of net ideëel). Wanneer elkeen in die grootste mate van opregtheid vir hom/haarself verklaar het hoekom hulle ten diepste volgelinge van Jesus Christus is, kan die verkondiging fokus op wat die teks wil sê oor die redes/motiewe van die opgestane Christus, wanneer Hy as lewende Here hulle kom ontmoet.

Met toeligting en uitbreiding kan die volgende motiewe, sekerlik op `n manier as die ondervinding van die sewetal dissipels in hierdie ontmoeting, vanuit die teks verkondig word. Die opgestane Christus kom na sy dissipels, sy volgelinge, sy kerk toe, omdat Hy die volgende motiewe het:

Soms deur wonderbaarlike ingrype van sy kant, hulle sukkelende en worstelende omstandighede kan verander Ė die visvangs in redelik moedelose omstandighede suggereer iets hiervan.

Hulle te voed en te sterk met "geloofsvoedsel", wanneer hulle moeg en honger is en daar nog `n nuwe dag se verantwoordelikhede voorlê.

Hulle te laat besef dat Hy hulle nie kwalik neem vir foute en verloënings gister en eergister nie, maar graag die saak in die reine wil bring deur met hulle openhartig daaroor te praat. Hy doen dit selfs wanneer hulle letterlik in die see wil spring om van hulle skuld en skaamte weg te kom.

Hulle te laat besef dat Hy nog steeds in hulle glo. Dat Hy hulle graag nog wil gebruik en dat Hy redelik definitiewe opdragte en verantwoordelikhede vir hulle het om in sy Naam te gaan uitvoer, naamlik dat hulle sy liefde in die wêreld moet indra.

Hulle bo alles te laat besef dat Hy hulle verskriklik liefhet. Die hele gesprek met Petrus is nie bedoel as doelbewuste vermanende rehabilitasie nie, maar inderwaarheid eintlik `n omgekeerde verklaring van Christus se liefde vir Petrus. Daarom verklaar iemand stellig: "Daar is eintlik net een grond waarop Petrus kan sê: `Ja Here, U weet dat ek U liefhetí, en dit is die indringende en oorweldigende besef dat Christus hom as sukkelende verloënende sondaar ten spyte van sy gebreke, van harte lief het."

Hierdie motiewe van Christus is die Paasevangelie. Dit is die goeie nuus dat Christus opgestaan het en na sy mense toe kom om by herhaling seker te maak dat hulle die liefde van God vir hulle en vir die wêreld, goed verstaan. Dit is die troos van Pase, of liewer van die Christus van die Pase, wat veroorsaak dat sy mense te midde van hulle alledaagse "visvang-lewens" kan begryp dat hulle ten diepste eintlik die Volk van die Pase is, omdat die opgestane Here `n hele klomp redes het waarom Hy vir hulle kans sien en gereed is om met hulle in dié wêreld aan te gaan.